Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Ria het Danie vroeg die volgende oggend gebel en hom van haar planne vertel.

“Dit klink interessant,” sê hy. “Ek is ook al jare lank lus om eendag by ons familie in die Karoo te gaan kuier. Nou spring jy my voor. Wanneer wil jy gaan?”

“Sommer dadelik. Sodra my planne agtermekaar is.”

“So gou? Wanneer het jy dit besluit?”

“Gisteraand.” Liggies sê sy: “Ek het jou amper vannag gebel. Ek wou sommer met jou gesels.”

Daar is stilte.

“Wat makeer, Ria?” vra hy op heeltemal ’n ander toon. “Jy is nie aan die weghardloop nie, is jy?”

“Miskien is ek,” sê sy liggies. “Miskien is ek maar net verveeld en op soek na nuwe afleiding. Jy weet mos ons skrywers is nie soos ander, gewone mense nie.”

“Bog,” sê hy. ’n Rukkie is dit stil terwyl hy die saak oordink, dan sê hy saaklik: “Is jy vanmiddag ná vyf tuis? Ek wil graag so ’n bietjie meer van jou planne hoor.”

“Dis nie nodig dat jy Johannesburg toe kom daarvoor nie. Ek kan jou alles oor die foon vertel.”

“Ek wil jou graag sien voor jy weggaan. En ’n mens gesels nie so lekker oor die foon nie. Of hoe?”

“Ek wil jou baie graag sien. Maar ek weet hoe besig jy is …”

“Nooit te besig as jy my nodig het nie.”

“Ek het nie gesê ek het jou nodig nie,” protesteer sy flou, maar hy lag net.

“Ek sal kom. Sien jou vyfuur.”

Ria sit die telefoon met ’n gevoel van verligting neer. Sy wil graag met Danie gesels en hoor wat hy sê.

Sy het gebad en was besig om roosterbrood en tee te maak toe die voordeurklokkie lui. Dis haar buurvrou, Mabel Stark. Haar middeljarige gesig is wit, haar blou oë verskrik, en die diepgoue hare waarop sy gewoonlik so gesteld is, hang ongekam oor haar skouers.

“Wat makeer, Mevrou?” vra Ria haastig sonder om te groet. “Kan ek help?”

“Het jy gehoor wat gebeur het?” Mevrou Stark klink effens uitasem. “Issie Geldenhuis is nou net met die ambulans hospitaal toe. Selfmoord probeer pleeg. Sy het glo ’n hele bottel slaappille gedrink.”

Ria staar haar aan. Sy ken Issie, of ten minste, sy het gedink sy ken Issie. Issie woon op die vierde verdieping van die gebou, net onder haar. Sy is ’n jaar of twee ouer as sy en ’n snelskriftikster by ’n groot prokureursfirma in die stad. ’n Aangename meisie, stil en op haar plek, wat haar nooit met haar bure se sake bemoei nie. Wat sou Issie besiel het om so iets te doen?

“Wanneer het dit gebeur?”

Mevrou Stark haal haar skouers op. “Gisteraand of vannag – niemand weet nie. Petrus het haar vanoggend gekry toe hy die woonstel gaan skoonmaak het. Hy het eers gedink sy slaap, maar het blykbaar onraad bemerk en die opsigter gaan roep. Ou dokter Crous was gelukkig nog nie weg nie en hy het dadelik die ambulans ontbied. Maar hy het blykbaar nie veel hoop nie.”

Ria ruik skielik die roosterbrood wat in die kombuis agter haar brand. “Kom in,” nooi sy vir mevrou Stark terwyl sy kombuis toe hardloop. “Kom drink ’n koppie tee saam met my. Dit sal ons albei goed doen.”

Terwyl hulle tee drink, gesels hulle oor Issie.

“’n Mens wonder wat kon gebeur het,” mymer mevrou Stark. “So ’n stil, kleurlose meisie – die regte Sondagskoolonderwyseres-tipe, het ek altyd gedink. Dit het gelyk of botter nie in haar mond sou smelt nie. Maar hoe sê die spreekwoord? Stille waters, diepe grond, onder draai die duiwel rond.”

“Ek dink net hoe diep ongelukkig sy moes gewees het, miskien maande al, en niemand van ons het iets vermoed nie.”

“Dis mos maar die lewe, ons hou almal die blink kant bo. Ons gaan vrolik aan tot daar eendag iets gebeur wat ons dwing om stil te staan en ons lewe weer in oënskou te neem. Dis dan dat die werklikheid net te veel vir jou word. Dis soos daardie jong paartjie wat hulleself tien dae gelede geskiet het – ons weet nou nog nie waarom nie. Maar ons kan darem nie kla nie, nè? In so ’n woonstelgebou gebeur daar altyd iets. Daar is nie ’n gebrek aan drama en opwinding nie.”

Nie ’n gebrek aan drama en opwinding nie! dink Ria toe mevrou Stark weg is. Ons woon jare lank saam in dieselfde woonstelgebou, sien mekaar gereeld, groet mekaar, wissel soms ’n paar woordjies, maar dis al. Hoe min weet ons van die heimlike vrese en verlangens, die hartseer en eensaamheid in mekaar se harte.

Sy het van Issie gehou en graag met haar gesels, en hulle het ook af en toe saam geëet. Sy het nooit gedink Issie is ongelukkig nie. Maar ’n mens besluit nie sommer een aand jy is moeg vir die lewe en wil ’n einde daaraan maak nie. Jy moet daartoe gedryf word deur dinge buite jou beheer.

Issie het min vriende gehad en nooit oor haar familie gepraat nie. Daar was ’n ouerige man wat gereeld vir haar kom kuier het, maar Ria het hom nooit ontmoet nie. Hy was geskei van sy vrou, het Issie gesê. Sy het altyd gedink Issie hou baie van die man, maar as sy haar met hom terg of probeer uitvra het, het Issie net haar kop geskud en gesê: “Ons is goeie vriende, dis al.” Sou die man iets te doen hê met haar selfmoordpoging?

Hoe sê mevrou Stark? “Ons gaan vrolik aan tot daar eendag iets gebeur wat ons dwing om stil te staan.” Sy het nooit soveel insig van Mabel Stark verwag nie. Sy het altyd gedink sy is leeg en oppervlakkig en net gesteld op haar uiterlike, veral op die mooi goue hare waaraan sy soveel aandag en geld bestee. Nou begin sy wonder hoeveel sy eintlik van Mabel Stark weet.

Die res van die dag het sy hard gewerk; daar was baie om te doen. Danie het kort ná vyfuur gekom. Hy was vyf jaar ouer as Ria en heelwat blonder as sy suster, maar daar was ’n sterk familietrek tussen hulle. Hy het moeg en warm gelyk en Ria het haar arms impulsief om sy nek gegooi en haar gesig ’n oomblik teen sy bors gedruk.

“Hallo, boet. Dis lekker om jou weer te sien. Trek uit jou baadjie en maak jouself tuis. Wat kan ek vir jou bring – ’n koeldrank of ’n koppie koffie?”

’n Rukkie later sit hulle op die balkon, elkeen met ’n koppie koffie. Daar is ’n bank wolke in die weste en ’n verstikkende hitte hang oor die stad. Ria vra na Danie se vrou, Greta, en hulle kinders, en vertel hom dan van Issie Geldenhuis wat nog steeds in ’n bedenklike toestand in die hospitaal lê.

“Arme mens,” sê hy simpatiek. “Het sy nie familie of vriende nie?”

“Niemand van wie ek weet nie – behalwe die ouerige man van wie ek jou vertel het. En ek weet nie eens wat sy naam is nie.”

“Weet jy aan watter kerk sy behoort?”

“Ek weet nie,” erken Ria. “Sy behoort nie aan ons gemeente nie – ten minste, ek het haar nog nie in die kerk gesien nie.”

“Wanneer was jy laas in die kerk, Ria?” vra hy. “Die naweek toe jy by ons in Pretoria gekuier het drie weke gelede?” Sy kyk na hom, half verleë, half ergerlik, en sagter sê hy: “Ek wil my nie in jou sake inmeng nie, Ria. Ek wil net herhaal wat ek, en ander, al so dikwels gesê het: ’n mens moet ankers in die lewe hê vir die dag dat die storms jou oorval. En die sekerste anker van almal bly maar jou godsdiens en jou kerk. Maar ek het nie veertig myl ver gery om vir jou te preek nie. Vertel my van jou planne. Jy sê jy wil Karoo toe gaan om Ma se mense te ontmoet en ’n boek oor hulle te skryf?”

“Ek wil oorgroottante Sophia Maria se storie vertel as ek die nodige inligting kan kry. Ek het gedink daar is miskien briewe of dagboeke, of dokumente …” Sy haal haar skouers op. “In elk geval, al kom daar ook niks van nie, wil ek graag Ma se mense leer ken.”

“Ek dink dis ’n blink gedagte – ek wens ek kon saam met jou gaan. Hoe lank is jy van plan om weg te bly?”

“Ek weet nie. Dit hang alles af van hoe vriendelik die mense is en of hulle my sal toelaat om in hulle verlede rond te snuffel. Ek sal voorlopig in die hotel gaan bly, maar ek hoop hulle sal my nooi om ’n tyd lank by hulle op die plaas te kuier sodat ek behalwe die inligting ook ’n bietjie atmosfeer kan kry. Ek weet hulle sê vandat die Karooboere ryk geword het, is hulle nie meer so gasvry soos voorheen nie, maar ek glo dit nie. Waarom sal hulle anders wees noudat hulle welvarend geword het? Die plase het sulke mooi name – Towerwater, Jonkmanshoop, Dankbaarheid – en ek is seker die mense wat daar woon, is net so gaaf as wat die name mooi is.”

“Ek hoop om jou ontwil so. Moet net nie te veel verwag, of te teleurgesteld wees as jou planne skeefloop nie. Jy is per slot van sake maar net verlangs familie – die huidige geslag onthou Ma seker nie eens nie. Onthou, sy het nooit daar gewoon nie, maar net vakansietye saam met oupa Theron daar gaan kuier. Dis ook moontlik dat hulle nie ’n gesnuffel in die verlede – soos jy dit noem – sal verwelkom nie. ’n Mens snuffel dalk dinge uit wat hulle liewer nie wou geweet het nie.”

Sy glimlag effens. “Dis alles moontlik, maar ek wil tog probeer. Ek droom al baie jare van so ’n pelgrimstog na die plek waar ons voorvaders gewoon het en ek is seker ek sal nie teleurgesteld wees nie. In elk geval, ek het vandag vir die familie geskryf. Ek het ’n Kaaplandse foongids by ons opsigter gekry en gesien daar woon ’n Paul Theron op Towerwater. Ek het gesê ek kom Donkerfontein toe en dat ek graag, indien dit moontlik is, stof wil insamel vir ’n boek oor Sophia Maria.”

“En wat gaan jy doen as hy nie jou brief beantwoord nie?”

“Ek gaan in elk geval – sodra ek my planne agtermekaar het. Hulle kan my nie belet om in die hotel te bly nie en ek het gedink as ek eers daar is, sal hulle verplig wees om my te sien.”

Danie glimlag. “Ek hoop jy kry wat jy soek. Maar nou wil ek eers weet wat jou so skielik laat besluit het om Karoo toe te gaan. Toe ek jou laas gesien het, was jy besig met ’n jeugverhaal waarvoor jou uitgewers reeds wag. Waarom maak jy nie eers die boek klaar voordat jy iets nuuts aanpak nie?”

“Ek het weke laas aan die tikmasjien geraak – ek is totaal sonder inspirasie of die lus om te skryf. Ek … ek het gevoel ek wil sommer net wegkom. ’n Nuwe omgewing en nuwe gesigte gee my dalk nuwe inspirasie.”

Danie kyk ondersoekend na haar. Dan sê hy sag: “Dis nie al rede nie, is dit, Ria? Jy is nie gelukkig nie – daar is iets wat jou pla. Wil jy my nie in jou vertroue neem nie?”

Sy aarsel ’n oomblik, dan stap sy na haar lessenaar toe en haal Cynthia Retief se brief uit. “Lees dit,” sê sy.

Sonder ’n woord neem Danie die brief en lees dit. Sy gesig is streng toe hy na haar opkyk. “Wat beteken dit, Ria?”

Sy verbleek effens voor die beskuldiging in sy stem en oë en sê stil: “Moenie so haastig oordeel nie. Wag eers tot jy my kant van die saak ook gehoor het.”

“Ek wil dit graag hoor.”

“Ek ken Bill Retief al baie jare, vandat ek begin skryf het. Hy het altyd belang gestel in my werk en my baie gehelp. Ons het gereeld saam geëet of tee gedrink, en hy het my ’n paar keer hier by die woonstel kom sien wanneer daar iets was wat ons moes bespreek. Ons was goeie vriende, niks meer nie. Daar was nooit enige sprake van ’n verhouding nie. Ek het besef Bill en sy vrou is nie gelukkig nie, maar ek het gedink dis hulle saak en het niks met my te doen nie.”

“Is jy seker julle vriendskap het nie bygedra tot die verwydering tussen hulle nie?”

“Ek het nooit so daaraan gedink nie – dalk omdat ek nie wou nie en tevrede was om sake hulle gang te laat gaan. Ek het ook nie besef hoe afhanklik ek van Bill se vriendskap geword het nie. Tot gister, toe hy my vertel het dat dinge tussen hom en sy vrou ’n krisispunt bereik het en dat sy vir ’n proeftyd weggaan. Hy het reguit gesê dat hulle huwelik wat hom betref ’n mislukking is en dat hy nie glo sy vrou sal weer terugkom na hom toe nie.”

“Dis nie al wat hy gesê het nie, is dit?” vra Danie toe sy stilbly.

“Nee,” erken sy onwillig. “Hy … hy het ook gesê dat hy … dat hy baie van my hou en dat hy hoop ons sal mekaar beter leer ken terwyl sy vrou weg is.”

Sy bloos effens vir die uitdrukking in haar broer se oë en sê verdedigend: “Dit klink nou miskien naïef soos ek dit vertel, maar ek … ek het my morsdood geskrik. Ek … ek het geen beswaar om met ’n geskeide man te trou nie, maar ek het geen begeerte om die oorsaak van die egskeiding te wees of daarby betrokke te wees nie. Ek het net gevoel ek wil so gou moontlik wegkom uit die stad sodat ek tyd kan hê om kalm oor sake te dink en uit te vind hoe ek regtig oor Bill voel. Dis toe dat ek daaraan gedink het om Karoo toe te gaan.”

“En dié brief?”

“Ek het dit gisteraand op pad teater toe in my posbus gekry, maar ek het dit eers later gelees, nadat ek teruggekom het. Bill het my laat verstaan Cynthia voel ook soos hy – dat dit nog net die kinders is wat hulle bymekaar hou. Wel, ek weet nou hoe sake staan en dit het my net nog meer vasberade gemaak om weg te kom.”

“Is jy verlief op Bill Retief, Ria?”

“Ek weet nie,” sê sy ongelukkig. “Dis … dis wat ek wil gaan uitvind. As … as Bill en Cynthia in elk geval later besluit om te skei …”

“Jy sal gek wees om ooit met Bill Retief te trou. Dis net ’n swakkeling wat so optree, ’n man sonder pligsbesef of eergevoel. Dink jy regtig jy sal ooit gelukkig wees saam met so ’n man?”

“Is ons nie maar almal swakkelinge op soek na ’n bietjie liefde en geluk in die lewe nie?”

“Geluk is nie die belangrikste ding in die lewe nie. ’n Mens moet met jouself en jou gewete kan saamleef. Dit is die belangrikste ding. Jy het een maal ’n fout gemaak en duur daarvoor betaal. Het jy nog nie jou les geleer nie?”

“Daardie ander vrou met wie Okkie getrou het, het gevat wat sy wou hê. Dink jy sy het al een oomblik berou gehad daaroor?”

“Ek ken nie daardie ander vrou nie, maar ek ken jou. Wat vir haar geld, geld nie noodwendig vir jou nie. Ek weet die lewe het jou diep seergemaak, maar ek glo eerlik dat jy ’n beter en sterker mens anderkant uitgekom het. Jy wil nie nou weer alles afbreek wat jy so swaar opgebou het nie, wil jy?”

Sy antwoord nie, en sagter sê hy: “Ek wil graag hê jy moet weer trou, maar dan moet dit met ’n man wees wat in alle opsigte jou gelyke is. En as dit dan moet gebeur dat jy nie so ’n man raakloop nie, het jy nog baie om voor dankbaar te wees. Daar is altyd kompensasies. Jy het jou skryftalent en jou liefde vir boeke, musiek en die teater. Dié dinge kan ’n mens se lewe vol en interessant maak.”

“Jy klink nou soos oubaas Krogh, die Duitser,” sê sy met ’n effense glimlag. “Hy het eendag vir my gesê as alles soos ’n kaartehuis om jou ineenstort, gaan sit jy nie en bekla jou lot nie. Jy gaan eenvoudig op ’n nuwe ontdekkingsreis. Dis wat ek probeer doen.”

“Hy klink na ’n merkwaardige man. Ek sal hom graag eendag wil ontmoet. Ek dink dis baie verstandig van jou om ’n rukkie weg te gaan en ek hoop jy sal daar in die Karoo nie net stof vir ’n goeie storie kry nie, maar ook vrede in jou hart. Gaan jy met die trein of die motor?”

“Ek dink met die trein – ek wil dit liewer nie met my motortjie op so ’n lang pad waag nie.”

Hy haal ’n koevert uit sy sak en gee dit vir haar. “Ek weet nie hoe jou geldsake staan nie, maar hier is ’n klein bydrae tot die vakansie.”

Sy maak die koevert oop en haal geldnote daaruit. Sy kyk na hom en trane glinster op haar wimpers.

“Dankie, boet, maar dis net ’n lening.”

“Dis nie ’n lening nie, dis ’n present. Ek hoop jy sal gereeld vir my skryf en my vertel van die mense en van tant Sophia Maria. Dis mos sy wat vir ’n weddenskap alleen met die koets na ’n naburige dorp gery het, nie waar nie?”

“Die einste een. Sy het blykbaar baie talente gehad – sy het ook baie mooi gesing en toneel gespeel. Sy was drie maal getroud, maar het nooit kinders gehad nie. Haar derde man, ’n sogenaamde Engelse lord, het later weggeloop met ’n klomp van haar geld en juwele.”

“Dan het sy ook maar moeilikheid met die mansmense gehad,” sê hy glimlaggend. Ernstiger vervolg hy: “Geniet die kuier, Ria, maar ek wil jou ’n laaste stukkie raad gee. Onthou, die mense daar op die platteland is konserwatiewer as die mense in die stede. Moet hulle nou nie onnodig skok met jou kleredrag en gewoontes nie.”

Ria lag. “Jy bedoel nou my langbroek, my sigarette en my rooi naels en mooimaakgoed? My liewe broer, ek durf nie my lesers teleurstel nie. Ek kom van die bose stad af, is ’n geskeide vrou en het so pas ’n intrige met ’n getroude man gehad – is dit nie al genoeg om my te verdoem nie? Laat ek die mense tog iets gee om oor te praat!”

Sy sien dat sy hom seergemaak het en sê sagter: “Ek is jammer, boetie, jy weet ek spot sommer. Ek belowe jou ek sal nie uit my pad gaan om die familie te skok nie, maar ek is wat ek is, en ek is nie van plan om my anders voor te doen nie. In elk geval, ek dink jy onderskat die platteland en die familie. Ek is seker hulle is glad nie so eng en bekrompe soos jy dink nie.”

“Ek het nie gesê hulle is eng en bekrompe nie. Dis net – hoe sal ek dit stel? – dat ’n mens soms uit respek vir ander liewer nie dinge doen wat jy weet aanstoot sal gee nie. Maar gaan jou gang, jy sal tog nie na my luister nie. Sê baie groete vir die familie – ek hoop om ook eendag met hulle te kom kennis maak. Terloops, weet Pa van jou planne?”

“Ek sal vir hom skryf dat ek Donkerfontein toe gaan om stof vir ’n verhaal te soek. Ek is ook nie van plan om vir Albert meer as dit te sê nie. Ek kan dink wat sy reaksie sal wees as ek vir hom die hele storie moet vertel.”

Sy kyk na hom en glimlag effens. “Ek het geweet jy sal verstaan, al keur jy dit nie goed nie, en dat jy my goeie raad sal gee. Nie dat ek belowe om dit te volg nie. Ons sal maar sien wat die toekoms inhou.”

“Ek is seker as jy tyd gehad het om nugter oor die hele saak te dink, sal jy self besef wat die regte ding is om te doen. Wat word van al jou leerlinge terwyl jy weg is?”

“Ek het ’n vriendin wat maar te gretig is om hulle te neem. Haar man is siek en in die hospitaal. Die ekstra inkomste sal baie welkom wees vir hulle. Al een wat ek regtig sal mis, is oubaas Krogh. Ek is seker ek het baie meer van hom geleer as wat ek hom ooit kon leer.”

Danie wou nie vir ete bly nie; Greta en die kinders het vir hom gewag. Sy het bo van die balkon af vir hom tot siens gewuif en daar was ’n warm gevoel in haar hart. Sy is bly sy het Danie in haar vertroue geneem, dis of die las in haar hart klaar so ’n bietjie ligter is.

Later die aand het mevrou Stark haar kom sê dat Issie oorlede is. Die dokters het die hele dag geveg om haar lewe te red, maar tevergeefs.

Issie is dood! Ria het die ouer vrou geskok aangestaar en daar was ’n naar gevoel op die krop van haar maag.

“Waarom het sy dit gedoen?”

Mevrou Stark haal haar skouers op. “Ek hoor nou hulle sê die man wat altyd vir haar kom kuier het, is getroud – dat hy glad nie geskei is nie. Maar ons sal seker nooit weet wat in haar kop aangegaan het nie. As sy maar net een van ons in haar vertroue geneem het.”

Arme mens, dink Ria. Het eensaamheid, ’n hunkering na ’n bietjie warmte en liefde, haar in ’n situasie laat beland waarvoor sy nie opgewasse was nie en waaruit net ’n botteltjie slaappille haar kon red? Sy dink aan haar vriendskap met Bill Retief – ’n mooi woord, vriendskap, dink sy wrang, dit bedek so baie sondes – en sy wonder hoe dit moontlik is dat sy nooit die afgrond voor haar voete gesien het nie.

Van haar balkon af kyk sy na die wolkekrabbers om haar. Dié tyd van die aand is die meeste vensters verlig en dis ’n goue sprokieswêreld van lig en lewe. Hoeveel van die mense agter daardie verligte vensters is werklik gelukkig? dink sy. Geluk is nie die belangrikste ding nie, het Danie gesê. Jy moet met jouself kan saamleef. Is dit waarom sy snags nie meer kon slaap nie, waarom haar werk nie wou vorder nie, waarom sy die laaste tyd so rusteloos en gespanne is? Omdat sy diep in haar hart geweet het sy doen verkeerd?

Weerlig slaan skielik in die weste uit en sy hoor die gerammel van donderweer bo die geraas van die stad. Dalk kom daar uiteindelik verligting van die hitte.

Sy het tot laat gewerk om haar laaie en kaste op te ruim en die woonstel skoon te maak. Sy het ’n paar dringende briewe geskryf – een aan Cynthia, een aan Bill en een aan haar pa om hom van haar planne te vertel – en toe gestort, twee slaappille gedrink en in die bed geklim. Sy wou nie vannag wakker lê nie.

Toe sy die volgende oggend wakker word, was die strate nat en die lug vars en skoon. Sy het so diep geslaap dat sy nie eens die reën gehoor het nie.

Twee dae later is Ria saam met Mabel Stark en die opsigter na Issie se begrafnis toe. Daar was maar net ’n handjie vol mense. ’n Broer wat in Kaapstad woon, is opgespoor en kon die begrafnis bywoon, maar van Issie se vriend was daar geen teken nie. Op haar kis het daar ’n pragtige gerf roosknoppe gelê. Daar was nie ’n kaartjie by nie en Ria het vermoed dit kom van hom af.

’n Gerf roosknoppe om dankie te sê en … tot siens.

Die opsigter het Ria en Mabel Stark en Issie se broer genooi om ná die begrafnis te kom tee drink sodat hulle kon besluit wat met haar meubels en ander besittings gedoen moes word. Ernest Geldenhuis was ’n klein, skraal mannetjie, vaal en sonder veel persoonlikheid. Hy het senuweeagtig voorgekom en was dankbaar vir hulle hulp.

“Ek kan dit nog nie glo nie,” het hy gesê. “Sy het ’n goeie salaris verdien. Sover ek weet, het sy nie finansiële probleme gehad nie. Maar Issie was van jongs af anders – ’n mens het nooit geweet wat in haar kop aangaan nie. Ons het ons ma vroeg verloor en toe my pa weer getroud is, het sy by ’n suster van my ma gaan woon. Sy was nie gelukkig daar nie, maar daar was nêrens anders waarheen sy kon gaan nie. Nadat sy begin werk het, het sy nooit weer teruggegaan nie.”

Nadat hulle tee gedrink het, is hulle saam met Ernest Geldenhuis na Issie se woonstel toe. Die woonstel was netjies, elke ding op sy plek. Dit was asof Issie net weg was en enige oomblik kon terugkom. Hulle het hom gehelp om haar klere uit te soek. Die meeste sou na ’n liefdadigheidsorganisasie toe gaan en hy sou reël dat die paar meubelstukke na ’n tweedehandse handelaar geneem word.

Die volgende dag is Ernest Geldenhuis terug Kaap toe, en nog dieselfde middag is Issie se woonstel verhuur. ’n Week of twee en Issie Geldenhuis sal nog net ’n herinnering wees. En die man wat vir haar die roosknoppe gestuur het – sou hy nog soms aan haar dink of is haar dood miskien vir hom ook ’n verligting?

Bill het die volgende oggend gebel. Hy het haar brief gekry en wou met haar gesels.

“Waaroor wil jy gesels, Bill?” vra sy ontsteld, maar tog bly dat hy gebel het. “Ek het mos vir jou geskryf …”

“Ek weet wat jy geskryf het. Jy het geskryf jy gaan weg om materiaal vir ’n boek in te samel en weet nie wanneer jy terugkom nie.”

“Dis reg. Glo jy my nie?”

“Ek glo jou, maar ek wil weet wat gaan aan. Ria, ek moet jou sien voor jy weggaan.”

“Liewer nie, Bill. Ek hoop om binne ’n dag of twee te vertrek en ek het nog ’n duisend dinge om te doen.”

“Ek sal jou nie lank ophou nie. Asseblief, dis belangrik. Sal jy vanmiddag ná vyf tuis wees?”

Sy aarsel ’n oomblik, dan sê sy: “Ek sal hier wees.”

Sy sit die telefoon ontsteld neer. Sy sou verkies het om Bill nie weer te sien voor sy weggaan nie, maar sy is hom seker ’n verduideliking verskuldig.

Bill het gekom en hulle het ’n rukkie gesels.

“Is dit na aanleiding van wat ek nou die middag vir jou gesê het – van my en Cynthia – dat jy besluit het om weg te gaan?” het hy haar reguit gevra.

“Dit is, ja,” het sy net so reguit geantwoord. “Ek voel skuldig en ongelukkig as ek dink ons vriendskap het bygedra tot die verwydering tussen julle.”

“Ek het jou gesê ons vriendskap het niks daarmee te doen nie. Ek verstaan jou nie, Ria, ek het gedink jy hou van my ook.”

“Ek hou van jou, Bill, ek hou baie van jou,” het sy eerlik geantwoord. “Jou ondersteuning het deur die jare baie vir my beteken en ek het jou geselskap geniet. Maar ek het myself nooit afgevra waarheen dit alles lei nie. Dit was makliker en lekkerder om maar net met die stroom saam te dryf. Die nuus dat Cynthia jou verlaat, het my uit my droom laat wakker skrik en my gedwing om my eie lewe weer in oënskou te neem. Ek voel nou net dat ek ’n rukkie uit die stad wil wegkom. Ek wil tyd hê om na te dink oor dinge en weer helderheid in my gemoed te kry. Ek beplan al jare lank om Karoo toe te gaan om vir my ma se mense te gaan kuier en inligting te kry vir ’n storie wat ek wil skryf. Ek dink dis nou die ideale tyd om te gaan.”

“As jy so oor die saak voel, het ek niks verder te sê nie,” sê hy koud. “Laat my net weet waarheen ek die proewe van Blom van die Berge moet stuur. Hulle sal binne ’n week of twee gereed wees.”

Daarmee het hy tot siens gesê en vertrek.

Ek is jammer Bill is kwaad, het sy gedink, maar miskien is dit ook maar beter so. Dis ook beter as hy nie weet hoe baie sy van hom gehou het nie … en nog altyd hou.

Hy het haar tot haar verligting nie weer gebel nie, maar toe sy twee aande later op die stasie kom om haar trein te haal, was Bill daar om vir haar tot siens te sê.

“Hoe op aarde het jy geweet ek gaan vanaand weg?” het sy verbaas gevra, maar hy het net geglimlag. Hy het vir haar tydskrifte gebring, en ’n groot doos sjokolade met die komplimente van die uitgewers.

“Ek kon darem nie toelaat dat jy weggaan sonder dat ek jou weer sien nie,” het hy sag gesê net voor die trein vertrek. “Ek wou net vir jou sê: noudat ek tyd gehad het om ’n bietjie na te dink, dink ek dis miskien ’n goeie idee dat jy weggaan. Gaan soek vir ons ’n lekker storie en wanneer jy terugkom, gesels ons weer. En as jy tyd het, skryf so af en toe vir my.”

Hy het haar nader getrek en liggies op die wang gesoen.

Ria was bly toe die trein uiteindelik die donker nag inry. Hy was so gaaf, so sjarmant en bedagsaam, dat sy opnuut vertwyfeld voel.

Agter haar verdwyn die stad se liggies. Nog net die goue gloed lê teen die naghemel. Uit haar handsak haal sy ’n telegram wat sy net voor eenuur die middag gekry het. Vir die soveelste keer lees sy wat daarin staan:

KAROO BITTER DROOG EN WARM. KOM LIEWER APRILMAAND. GROETE. PAUL THERON.

Ek is jammer, Paul Theron, dink sy half geamuseerd, half vererg, maar hier kom ek. Al my reëlings was getref en ek kon onmoontlik op die laaste nippertjie al my planne verander.

Tryna du Toit-omnibus 4

Подняться наверх