Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Op Towerwater het Ria se brief ’n hele opskudding veroorsaak. ’n Buurman het die Maandagoggend hulle pos uit die dorp gebring. Paul was op die lande besig en sy suster, Mona, het die briewe, koerante en tydskrifte vinnig deurgekyk, gretig om te sien of die pos enige verrassings oplewer. Sy kyk fronsend na Ria se brief en lê dit dan eenkant.

“’n Brief vir Paul uit Johannesburg,” sê sy vir haar stiefma. “Dis ’n vrou se handskrif. Wie sou dit wees, wonder ek?”

Emily Theron kyk op van die koerant wat sy deurblaai, getref deur die klank in Mona se stem. Afkeuring? Agterdog? “Seker maar ’n bedelbrief, of so iets,” sê sy kalm.

“’n Troukaartjie van die Grovés,” kondig Mona aan. “Hildegarde trou twintig Maart.” Sy gooi die troukaartjie ergerlik opsy. “Twee blote kinders. Hildegarde is agttien jaar oud en Piet Erwee nog nie mondig nie. Hoe kan die Grovés so iets toelaat?”

“Hulle is ’n bietjie jonk, ja, maar Piet boer al die laaste twee jaar alleen op Jakkalsfontein en ek kan my indink hy is haastig om te trou. Dis ook nie ’n halsoorkop affêre nie – die Grovés en die Erwees is al jare lank huisvriende en daar is geen rede waarom dit nie sal uitwerk nie.”

“Jy sal ook vir die duiwel self voorspraak maak,” sê Mona ongeduldig.

Emily Theron antwoord nie. Daar is seker ’n rede vir die kind se buierigheid, dink sy. Miskien het sy pyn, miskien beny sy diep in haar hart vir Hildegarde wat trou met die man wat sy liefhet, ’n voorreg wat haar nooit beskore sal wees nie.

Sy kyk na Mona en haar oë is sag. Daar is dae dat Mona haar geduld kwaai beproef, maar as sy dink aan die moeilike jare wat hulle saam deurgemaak het, aan die pyn en teleurstelling wat Mona van kleins af ken, versag haar hart altyd weer.

Mona is nou agt-en-dertig, maar sy lyk baie ouer. Die vaal hare waaruit alle lig en lewe lank reeds verdwyn het, is so geknip dat dit met die minimum moeite netjies gehou kan word, en die lang rok en lomp skoene sal jare by enige vrou se ouderdom voeg. Daar is skoonheid in die suiwer lyne van haar gesig en die mooi blou oë, maar bitterheid en selfbejammering het haar van almal vervreem wat hulle vriendskap vir haar sou wou gee.

Emily onthou nog goed toe sy Mona die eerste keer gesien het. Mona was omtrent vyf jaar oud, ’n fraai dogtertjie met pragtige blou oë en diepgoue hare, toe Emily se pa as bywoner Towerwater toe gekom het. Mona het die dag ’n blou syrokkie aangehad en Emily het gedink sy lyk soos ’n prinsessie uit een van die sprokies. Emily was destyds vyftien en sy het graag naweke en vakansies wanneer sy tuis was met Mona en klein Paultjie gespeel en na hulle gekyk. Die swaar depressie wat haar pa en so baie ander boere se ondergang was, het liggies oor Towerwater gegaan. Daar was seker ook nie kontantgeld nie en daar was seker ook dikwels bekommernis en onrus – die droogte het daar ook geknel – maar in die mooi huis met sy groot, skaduryke tuin het daar geluk en vrede geheers. Almal wat op Towerwater gekom het, het dit dadelik aangevoel.

George Theron en sy vrou was albei besonder gaaf teenoor die bywoner se dogter en sy was altyd welkom in hulle huis. Eileen Theron was ’n begaafde vrou en het mooi gesing en klavier gespeel. Dit was vir Emily ’n voorreg om soms hulle huislikheid en geluk te deel.

Dit was George Theron wat daarop aangedring het dat Emily matriek maak en wat haar later op eie koste weggestuur het sodat sy haar as verpleegster kon bekwaam.

Het hy miskien toe al ’n voorgevoel gehad van die beproewings wat vir hom en sy gesin gewag het? Van die rol wat die bywoner se dogter in sy lewe en sy kinders se lewens sou speel? Sy glo nie. As ’n mens so gelukkig is soos wat hulle was, dink jy nie dat die dag van môre miskien verdriet kan bring nie.

Mona was agt en Paul vyf toe Eileen Theron met die geboorte van haar derde kind oorlede is. George Theron het nog nie van die verpletterende slag herstel nie, toe ’n tweede ramp hom tref. Mona het polio gekry en was maande lank ernstig siek in die hospitaal. Sy het wonderbaarlik herstel, afgesien van ’n mank been wat sy oorgehou het. Maar sy het net die volgende jaar rumatiekkoors gekry en daarna was sy jare lank ’n semi-invalide. Sy het nooit heeltemal herstel nie. Haar hande en ander ledemate het vertrek van die siekte en teen die tyd dat sy twintig was, het sy al ’n wêreld se smart en pyn ervaar. Haar kinderjare was verby en die toekoms het maar min hoop op geluk ingehou. Is dit ’n wonder dat sy so hard en bitter geword het?

Emily het haar verpleegkursus voltooi en ’n aanstelling by die Volkshospitaal in Kaapstad gekry. Maar sy het nooit Kaap toe gegaan nie. In stede daarvan het sy met George Theron getrou en haar intrek in die mooi, ruim huis op Towerwater geneem. Die huwelik het groot opspraak verwek. George Theron was meer as twintig jaar ouer as sy bruid en een van die vooraanstaande boere in die distrik. Sy huwelik was onverklaarbaar vir familie en vriende.

“Ek het nooit gedink ek sal weer trou nie,” het George destyds vir haar gesê, “maar ek kan nie langer so aangaan nie. My kinders – my dogter veral – het ’n vrou se liefde en sorg nodig, en ek weet jy sal dit vir hulle kan gee. Ek besef dis nie ’n maklike ding wat ek vir jou vra nie. Jy is jonk, jy het moontlik ander planne vir die toekoms. Maar ek het jou nodig hier op Towerwater en ek belowe jou, jy sal nooit spyt wees as jy met my trou nie.”

Sy het ja gesê en het inderdaad nooit rede gehad om haar besluit te berou nie. Inteendeel. Behalwe die materiële voordele wat die huwelik vir haar en haar ouers meegebring het, het sy oneindig baie geleer in die jare wat sy saam met George op Towerwater gewoon het.

Dit was nie altyd maklik nie. Mona was veeleisend en dit het lank geduur voor die res van George se familie haar aanvaar het. Sy het self besef dat sy nooit Eileen se plek kon inneem nie, maar sy was jonk en sterk en sy het al haar kragte ingespan om vir George ’n goeie vrou te wees en hom en sy kinders so gelukkig moontlik te maak.

Hulle was vyftien jaar getroud toe George aan hartversaking oorlede is. Die grootste gedeelte van sy boedel het na sy kinders gegaan, maar hy het in sy testament ruim voorsiening vir haar gemaak.

Emily was maar vyf-en-dertig – jonk genoeg om weer ’n nuwe lewe te begin. Maar hulle pa se skielike dood het die kinders diep getref en sy kon nie daaraan dink om op daardie tydstip weg te gaan nie.

’n Paar jaar later is Paul getroud en Emily het begin regmaak om op die dorp te gaan woon. Paul het haar egter gevra om aan te bly totdat Winnie, sy vrou, in staat was om die huishouding waar te neem.

’n Jaar later het nog ’n tragedie hom op Towerwater afgespeel. Tydens ’n hewige donderstorm het Winnie, wat toe hoog swanger was, deur ’n vol drif probeer ry. Die motor het omgeslaan en sy het verdrink.

So is Emily deur die jare en die noodlot op Towerwater vasgevang. Meer as twaalf jaar het al weer verbygegaan sedert George se dood en sy woon nog steeds saam met Paul en Mona op die plaas. Soms wonder sy of sy ooit sal weggaan.

Sy skrik wakker uit haar bepeinsing toe Paul inkom. Hy groet en stap reguit na die pos wat op die tafel lê.

Hoe jammer dat Paul nie weer getrou het nie, dink Emily. Hy is nog jonk, aantreklik en welgesteld. As hy wil, kan hy kies en keur onder die mooiste en oulikste meisies in die distrik. Is dit omdat hy Winnie ná al die jare nog nie kan vergeet nie? Of is dit om Mona se ontwil, uit jammerte vir sy suster wat al so swaargekry het? Mona aanbid Paul, hy is die spil waarom haar lewe draai, en Paul onthou seker ook nog hoe ongelukkig Mona destyds was toe hy Winnie Towerwater toe gebring het. Maar moet Paul dan sy eie lewe ter wille van Mona opoffer?

“Hier is ’n brief vir jou,” sê Mona. “Ek sien dit kom van ’n vrou af. Wie ken jy in Johannesburg?”

“Seker maar een van my baie meisies,” sê Paul liggies terwyl hy die koevert oopskeur. Hy lees dit stilswyend.

Liewe oom Paul, of moet ek sê, neef Paul? Of dalk mnr. Theron?

Ek weet regtig nie. Die telefoongids waarin ek u naam en adres gekry het, het nie verdere besonderhede verstrek nie.

Ek is Ria de Wet, ek woon in Johannesburg, ek is ’n skryfster, en ek is verlangs familie van die Therons van Donkerfontein. My ma, Maria Theron, was ’n dogter van Karl Theron wat jare lank prokureur op Pietersburg was. Sy het ’n paar keer saam met Oupa op Towerwater gekuier en sy het ons dikwels vertel van die mense, ons mense, wat hulle meer as ’n eeu gelede daar gevestig het en vandag nog daar woon.

Nou kom ek by die punt. Ek wil graag kom kennis maak met my ma se mense – nie net met dié wat vandag nog leef nie, maar ook met dié wat al lankal dood is. Ek stel veral belang in die geskiedenis van my oorgroottante, Sophia Maria, en as ek die nodige inligting kan insamel, wil ek graag ’n boek oor haar skryf sodat haar verhaal vir die nageslag bewaar kan bly.

Ek wil my nie opdring aan die familie nie en sal voorlopig in die hotel op Donkerfontein bly, maar ek hoop ek sal die kans kry om al die ou familieplase te besoek sodat ek die nodige agtergrond en atmosfeer vir my verhaal kan kry. Ek hoop om binne ’n week Donkerfontein toe te kom.

Met vriendelike groete

Ria de Wet

“Wat makeer?” vra Mona, wat haar broer fyn dopgehou het terwyl hy lees. “Van wie kom die brief?”

Paul kyk fronsend na hulle. “Ria de Wet. Het julle al van haar gehoor? Sy sê sy is ’n skryfster.”

“Ria de Wet? Natuurlik het ek al van haar gehoor,” sê Mona. “Sy skryf jeug- en liefdesverhale en daar was onlangs ook ’n vervolgverhaal van haar in een van die tydskrifte. Wat wil sy hê?”

“Sy sê sy is familie van ons en wil kom kuier.” Mona en Emily gaap hom verbaas aan en hy gooi die brief met ’n glimlag op Mona se skoot. “Lees self wat sy skryf.”

Saam lees Emily en Mona Ria se brief.

“Dis nou ’n lekker verrassing,” sê Emily. “Ek hoop jy gaan haar nooi om hier op Towerwater te kom kuier, Paul.”

“Waarom op Towerwater?” vra Mona skerp. “Waarom kan sy nie by die ander familie gaan bly nie?”

Emily kyk na haar stiefdogter se strak gesig en sê sag: “Ek is seker die ander familie sal maar te gretig wees om haar te ontvang. Ek het maar net gedink dit sal ’n goeie idee wees as sy hierheen kom aangesien sy aan Paul geskryf het en Towerwater die oorspronklike familieplaas is.”

“Jy weet ek hou nie van vreemde mense nie,” sê Mona koud.

“Ek weet. Maar dink hoe interessant dit sal wees om ’n bekende skryfster hier by ons op Towerwater te hê en haar te help om stof vir haar boek in te samel. Miskien kan sy jou ook raad gee met jou skilderwerk.”

“Jy weet ek laat niemand toe om my skilderye te sien nie. Ek het jou verbied om met enigiemand daaroor te praat.”

“Ek het dit nog nooit met iemand bespreek nie,” sê Emily bedees. “Maar ek dink nietemin so ’n kuier sal ons almal goed doen. Dit sal vir ’n bietjie opwinding sorg en ons iets anders gee om oor te praat as die droogte en die hitte.”

“As dit vir jou te stil is hier op Towerwater kan jy altyd op die dorp gaan woon,” sê Mona snipperig.

Emily antwoord nie. Sy weet Mona sal die eerste een wees wat dit hand en tand beveg as sy so ’n voorstel maak.

“Ek het glad nie beswaar dat sy Towerwater toe kom nie,” sê Paul onverwags.

Emily kyk verras op. Hulle lewe die afgelope jare so stil en afgesonder hier op Towerwater, sy het nie verwag hy sal bereid wees om ’n vreemdeling te ontvang nie.

Paul glimlag effens asof hy haar gedagtes kan lees en sê: “Jy is reg, ’n bietjie opwinding sal ons almal goed doen. Maar ek dink sy moet liewer later kom. Dis nou so droog en warm; sy sal net ’n verkeerde indruk van die Karoo kry.”

Emily knik instemmend. “Aprilmaand sal beter wees. Teen daardie tyd het dit hopelik al gereën en sal Towerwater op sy mooiste wees.”

Mona staan op. “Ek sien nie waarom ons ons die ergernis van ’n wildvreemde vrou op die hals moet haal nie. Ek waarsku julle, dit sal net moeilikheid afgee.” Styf en ontevrede stap sy met haar effens mank stappie by die vertrek uit.

’n Rukkie is dit stil. Dan sê Paul: “As Mona so oor die saak voel, is dit miskien beter dat juffrou De Wet maar liewer na die ander familie toe gaan. Waarom sal ’n mens haar nou onnodig omkrap?”

“Moenie jou aan Mona steur nie. Dit sal haar goed doen om ’n bietjie uit haar dop te kruip. En dit sal jou ook goed doen.” Op ’n skielike impuls sê sy: “Ek wens jy wil weer trou, Paul. Het jy al gedink wat word van Towerwater as jy sonder ’n erfgenaam sterf?”

“Ek het baie neefs. Ek sal een van hulle my erfgenaam maak as dit nodig is.”

“Dis nie dieselfde as jou eie vlees en bloed nie.” Sy aarsel, dan vra sy sag: “Is dit oor Mona dat jy nie weer trou nie?” Hy antwoord nie en sy vervolg: “Ek weet jy het jou pa belowe om ná sy dood na haar te kyk, maar ek is baie seker hy het nie bedoel jy moet jou eie lewe daarvoor opoffer nie. Paul, as dit oor Mona is, oor die dinge wat gebeur het – ek is mos ook daar. Ek sal vir my ’n huis op die dorp koop en Mona en ek sal daar gaan woon.”

“Al sou ek weer trou, is daar genoeg plek vir ons almal op Towerwater. Maar ek sal dink oor wat jy gesê het, Emily. Ek belowe jou, ek sal dit ernstig oorweeg.”

Sy sien die glinstering in sy oë en sug. “Dis jou lewe, Paul, jy kan daarmee maak wat jy wil. Onthou net, die goeie jare gaan verby en jy sal hulle nooit weer terugkry nie. As ’n mens die dag oud is, is kinders en kleinkinders ’n groot troos in die lewe. Gun jy nie vir my ook daardie troos nie?”

Paul glimlag effens. “Hulle kan ook, soos jy self weet, ’n bron van baie ergernis en bekommernis wees. Dink maar aan Dankbaarheid se mense. En dink maar aan jouself, Emily. Dink net aan al die sonde en ergernis wat Mona en ek jou al besorg het. Hoe anders sou jou lewe nie gewees het as jy nie met Towerwater se mense deurmekaar geraak het nie.”

“As ek vandag weer moes kies, sou ek presies dieselfde keuse maak. Jou pa was ’n wonderlike man en die jare hier op Towerwater was ryk, vol jare. Ek sal hulle vir niks ter wêreld verruil nie. Maar natuurlik bekommer ek my oor jou en Mona. Wat sal van julle word as ek die dag nie meer daar is om na julle te kyk nie?”

“Moenie jou bekommer nie, jy sal ons albei oorleef. Of maak jy planne om weg te gaan? Emily, jy het nie trouplanne nie, het jy? Is dit waarom oom Dirk Rusoord die laaste tyd skielik so geïnteresseerd in my skape is?”

“Moenie laf wees nie,” sê sy kalm, maar sy bloos liggies. Paul se raaiskoot is miskien nader aan die waarheid as wat hy vermoed.

Die aand ná ete begin Paul in die boekrakke rondsoek.

“Wat soek jy?” vra Mona.

“Iets om te lees. Het jy nie miskien van Ria de Wet se boeke nie, Mona?”

“Ek het van haar boeke, maar jy sal nie daarvan hou nie.”

“Waarom nie?”

“Sy skryf liefdesverhale en jeugboeke. Jy stel tog nie daarin belang nie.”

“Hou jy daarvan?”

Sy haal haar skouers op. “Nie sleg nie. Emily hou baie van haar stories.”

“Ek wil graag een van hulle lees,” sê Paul. “Ek is nuuskierig om te sien hoe sy skryf.”

Sonder ’n woord staan Mona op en haal ’n boek uit die boekrak. Paul het ’n paar telefoonoproepe gemaak en toe die boek opgetel. Emily het later vir hulle tee gemaak en toe sy en Mona ’n uur later kamer toe gaan, het Paul nog gesit en lees.

Emily en Paul is die volgende oggend alleen aan die ontbyttafel. Mona het die nag sleg geslaap en Katy, haar persoonlike bediende, het vir haar ontbyt kamer toe geneem.

“Jy het gisteraand laat kom slaap,” sê Emily vir haar stiefseun. “Is dit Ria de Wet se boek wat jou wakker gehou het?”

“Die boek lees vlot. Ek het dit toe maar klaar gemaak.”

“Wat dink jy daarvan?”

“Dit is goed geskryf, maar ’n bietjie te romanties en idealisties na my smaak. Die werklike lewe is nie so nie.”

“Daar is tye dat ’n mens ’n bietjie wil wegkom van die werklike lewe, dat jy ontspanning soek. Ek kry dit in die lees van ’n mooi liefdesverhaal.”

“Dis ’n ontvlugting van die werklikheid,” sê hy tergend.

“En die speurverhale wat jy so graag lees? Is dit nie ook maar ’n ontvlugting van die werklikheid nie?”

“Dis darem nie al wat ek lees nie,” sê hy glimlaggend. “Maar jy is reg, ons hardloop maar almal weg van die werklikheid. Dis soveel makliker.”

Sy skud haar kop. “Gesels maar met jou niggie wanneer sy kom. Sy kan haarself beter verdedig as ek. Het jy al besluit wat jy vir haar gaan skryf?”

“My kleinniggie, bedoel jy – haar oupa en my oupa was broers. Nee, ek het nog niks besluit nie. Ek moet vanoggend Dankbaarheid toe gaan en ek sal die saak met oom Pieter-hulle bespreek. Hulle het al die ou briewe en dokumente.”

“Sy kan nie by oom Pieter-hulle gaan bly nie. Jy weet die dokter het gesê hy moet hom stil hou en tannie Cora het haar hande vol net om na hom te kyk. Oom Tommie-hulle het ook siekte en die kinders is almal te bedrywig. Dis ’n gedurige gekom en gaan; sy sal moeilik in sulke omstandighede kan werk.”

Sy is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Ek is baie seker Mildred sal haar graag op The Gables ontvang, maar ek … Ag, ek wil nie graag hê sy moet soontoe gaan nie. O, ek weet dis die spogplaas van die distrik met daardie wonderlike huis en tuin, maar met al die veranderings het daar iets van die egte ou boereatmosfeer verdwyn. En dit is tog seker wat Ria de Wet soek.”

“Miskien moet ons haar maar in die hotel laat bly,” stel hy voor. Sy kyk verontwaardig na hom, maar sien dan die glinstering in sy oë en glimlag. “Terloops,” vervolg hy, “het jy enige idee hoe oud dié Ria is?”

“Ek is nie seker nie, maar ek dink ek het êrens gelees dat sy getroud is en kinders op skool en universiteit het.”

“So?” sê Paul verbaas en hy lyk vir ’n oomblik teleurgesteld. “As ek moes raai, sou ek gesê het sy is ’n stokkerige oujongnooi wat maar baie min van die werklike lewe af weet en nou ontvlugting in soetsappige liefdesverhale soek.”

“Haar stories is nie soetsappig nie,” sê sy verontwaardig. “Ek hou van haar karakters – ’n mens is jammer om aan die einde van die boek van hulle afskeid te neem.” Sy aarsel, dan sê sy: “Dis natuurlik vir jou om te besluit, Paul, maar ek weet wat jou pa sou gedoen het as hy vandag nog gelewe het.”

Paul het nie geantwoord nie, maar toe hy die middag terugkom van Dankbaarheid af sê hy vir Emily en Mona: “Ek het toe nig Ria se brief vir oom Pieter en tannie Cora gewys. Hulle was baie opgewonde – hulle voel al lankal dat die ou gegewens aangeteken behoort te word. Oom Pieter sal haar natuurlik baie kan help. Behalwe die briewe en dokumente wat hy besit, ken hy die hele geskiedenis van die Theron-familie. Sy vertellings sal nie net een boek nie, maar baie boeke kan vul.”

“Het julle toe besluit waar sy gaan bly?” vra Emily met ’n vroom gesig.

“Voorlopig op Towerwater. Het ons dan nie so besluit nie?” vra hy. “Later kan sy by die ander familie rondkuier as sy lus het. Maar oom Pieter dink ook ons moet haar vra om later te kom wanneer dit hopelik gereën het en die wêreld ’n bietjie groener is. Ek sal sommer dadelik vir haar skryf.”

“Ek dink nie daar is nog tyd om te skryf nie. Wanneer is haar brief gestuur? Verlede Woensdag? En sy sê sy hoop om binne ’n week te kom.”

“Gits, ek het nie daaraan gedink nie. Dan moet ek maar môreoggend vroeg ’n telegram stuur en hoop dat dit betyds by haar uitkom.” Hy kyk na Mona, wat stilswyend na die gesprek geluister het, en sê met ’n glimlaggie: “Ons sal vir haar ’n partytjie gee as sy kom – ’n vleisbraaiery of so iets – sodat sy al die familie kan ontmoet. Daar was lank laas ’n partytjie op Towerwater.”

“Jy weet ek hou nie van partytjies nie,” sê Mona.

“Ek ook nie, maar as die niggie uit die Transvaal kom kuier, weet ons darem hoe om haar te laat tuis voel, of hoe?”

Mona haal haar skouers op. “Al dié opwinding oor ’n simpel skryfster. Sy sal net haar neus vir ons kom optrek.”

Paul antwoord nie. Hy weet Mona hou nie van vreemdelinge nie, maar hy het half gehoop die besoek van die onbekende niggie sal haar ’n slag van haarself en haar eie probleme laat vergeet. Maar as sy reeds bevooroordeeld teen hulle kuiergas is nog voordat sy haar ontmoet het, sal dit maar moeilik gaan.

’n Rukkie later hoor hy egter ’n gesprek tussen Mona en tannie Mieta Theron van Jacobshoogte, wat gebel het om alles van die kuiergas te hoor.

“Nee dankie, Tannie,” hoor hy Mona sê, “alles is gereël, sy kom op Towerwater bly. Ja, natuurlik sal ons vir Tannie-hulle laat weet wanneer sy kom. Paul sê ons sal ’n partytjie hier op die plaas gee sodat die familie haar kan ontmoet. Maar dit sal eers in April wees.”

Die telefoon het aanhoudend gelui en Emily en Mona het beurte gemaak om te antwoord. Ewe verontwaardig kom Mona later by Paul en sê: “Weet jy wat sê Aunt Mildred? Sy stel voor dat ons die partytjie op The Gables hou. Sy sê sy is gewoond om te onthaal en dit sal nie vir haar moeite wees nie.”

“So?” vra Paul. “En wat het jy vir haar gesê?”

“Ek het vir haar gesê baie dankie, maar Ria de Wet is ons gas en ons wil graag die partytjie op Towerwater hou. Dit mag hier nie so deftig wees soos by The Gables nie, maar Towerwater bly nog die oorspronklike familieplaas.”

Paul skud sy kop. “Die sentiment is reg, maar die woorde ’n bietjie kras. Kon jy dit nie ietwat sagter gestel het nie?”

’n Glimlaggie flits oor die strak wit gesig en ondeund sê sy: “Moenie jou bekommer nie, broer – Aunt Mildred en ek verstaan mekaar.”

Paul kyk sy suster agterna en daar is jammerte op sy gesig. ’n Oomblik het hy die skim gesien van die vrou wat Mona in ander, gelukkiger omstandighede kon gewees het.

Hy tel Ria se brief van die tafel af op en lees dit weer deur. Dis so ’n gawe, spontane brief, hy het dadelik aangetrokke gevoel tot die skryfster. Hy het die beeld gekry van ’n lewenslustige meisie met so ’n tikkie parmantigheid, en die nuus dat sy ’n middeljarige vrou is met volgroeide kinders het hom half teleurgestel, waarom weet hy self nie.

Paul het die telegram die volgende oggend gestuur en Ria de Wet daarmee voorlopig uit sy gedagtes gesit. Net ná ontbyt is hy weer terug na die lusernlande waar die werkers besig was om water te lei. Dis ’n skroeiwarm dag en die son brand uit ’n wolklose hemel op die dorre aarde neer. Dis reeds begin Maart en daar is nog geen teken van die reën wat hulle so bitter nodig het nie. Hy weet hy is gelukkiger as baie van die ander boere – hy het nog ’n bietjie water in die leidam, maar ook net genoeg om die lusern twee, hoogstens drie keer nat te lei. Sy vee is nog in ’n redelik goeie kondisie, maar met die winter om die draai, die damme leeg en die veld kaalgevreet, is daar rede tot kommer. As dit nie binne die volgende twee, drie weke reën nie, sal hy ook met die hande in die hare sit.

Terwyl hy by die lusernlande besig is, kom sy buurvrou, Tillie du Plessis, daar aan. Tillie se man het die vorige jaar met ’n trekker verongeluk en aangesien sy net twee dogters het wat op kosskool is, het almal verwag dat sy Rietspruit sou verkoop en met haar kinders op die dorp sou gaan woon. Tot almal se verbasing het sy egter besluit om op die plaas te bly en self te boer. Met ploegtyd het die bure almal ingespring en haar gehelp, en wanneer sy raad of hulp nodig gehad het, het sy gewoonlik na Paul of een van die ander bure toe gegaan.

Almal het haar moed en deursettingsvermoë bewonder en haar graag gehelp.

Sou daar iets skort? wonder Paul terwyl hy na die motor toe stap. Tillie groet hom egter glimlaggend. Sy het haar dorpsklere aan en die motor lê agter vol pakkies. Tillie is ’n aantreklike, energieke vrou van omtrent vyf-en-dertig, stewig gebou, met pikswart hare en oë. Sy is bruingebrand deur die son en die wind, maar haar vel is glad en haar hare goed versorg.

“Ek kom net jou raad vra, buurman. Emily het gesê ek sal jou hier kry. Ek het toe sommer vir jou ’n fles tee saamgebring.”

“Dankie, dit sal lekker smaak. Ek hoop jy gaan my geselskap hou.”

“Graag.” Sy kyk na die groen lusernlande wat voor hulle lê en sê verlangend: “Maggies, maar dit lyk mooi. Ek wens dit het op Rietspruit gestaan.“

“Ek is gelukkig dat ek nog leiwater het. Maar die dam is feitlik leeg. As dit nie gou reën nie …” Hy voltooi nie die sin nie, maar dis ook nie nodig nie.

“Dit moet net reën,” sê Tillie amper uitdagend. “Die reën kan mos nie sommer net wegbly nie.”

In die skaduwee van ’n doringboom skink Paul vir hulle elkeen ’n bekertjie tee. Hulle gesels hiervan en daarvan, dan sê hy: “Jy het gesê jy wil my raad vra?”

“Ja. Oom Koos Blinkpoort wil ’n klompie van my skape koop. Ek wil nie graag nou verkoop nie: die vee het heelwat kondisie verloor en ek sal nie veel vir hulle kry nie. Aan die ander kant, die veld is kaalgevreet en as die reën te lank wegbly en ons kry skielik koue weer, vrek die hele klomp dalk. Is ’n halwe eier nie beter as ’n leë dop nie?”

Paul kyk op na die harde blou hemel asof hy daar die antwoord op sy buurvrou se vraag soek. Maar daar is niks nie: nie ’n wolkie op die horison nie, nie ’n windjie wat roer nie. Net ’n enkele aasvoël wat soos ’n onheilsprofeet stadig om en om hoog bo in die lug sirkel.

Hy skud sy kop. “Ek sou sê wag nog so ’n bietjie. Ons kry gewoonlik Maartmaand goeie reëns en dan is jou kop deur.”

“Dis my gevoel ook. Maar ek wou graag hoor wat jy sê,” sê Tillie. “O, en ek hoor julle kry ’n belangrike kuiergas – ek het nie geweet julle het sulke hoë familie nie.”

“Ons het self nie geweet nie.”

“’n Ouerige dame, sê Emily. Ken glad nie die Karoo nie en nou wil sy ’n boek oor ons kom skryf. Die kunstenaars is darem maar almal ’n bietjie mal. Nou ja, laat maar weet as julle hulp nodig het.”

’n Dapper mens, dink Paul toe Tillie wegry, met meer durf en ondernemingsgees as baie mans. Beslis heelwat meer as haar oorlede man. Maar al is sy ook hoe dapper en hardwerkend, dis nie vir ’n vrou maklik om ’n plaas soos Rietspruit alleen te bestuur nie. Sy sal seker weer trou en hy hoop sy sal dieselfde gesonde verstand gebruik wanneer sy ’n tweede man kies as wanneer sy haar saketransaksies doen.

Hy self stel glad nie belang nie. Rietspruit is ’n mooi plaas, Tillie is ’n gawe vrou, die verlede is verby en gedaan en hy is seker ’n gek om so ’n kans deur sy vingers te laat glip, maar hy kan hom Tillie net nie as sy vrou op Towerwater voorstel nie.

Twee dae later sit hy en Emily die oggend weer aan die ontbyttafel toe die telefoon lui. Paul, wat ’n hooflynoproep te wagte is, staan op om te antwoord. Maar die sentrale sê die oproep kom van Donkerfontein en hy moet ’n rukkie wag. Dan sê ’n vreemde vrouestem: “Ek wil asseblief met meneer Paul Theron praat.”

“Dis Paul Theron wat praat. Wat kan ek vir u doen?”

“Goeiemôre, meneer Theron. Dis … dis Ria de Wet hier.” Hy antwoord nie dadelik nie en haastig vervolg sy: “Ek het vir u uit Johannesburg geskryf.”

“Ria de Wet?” ’n Oomblik is hy dronkgeslaan. “Het u nie my telegram gekry nie?”

“Ek het, maar my reëlings was reeds getref en ek kon onmoontlik op die nippertjie weer my planne verander.”

“Ek verstaan,” sê hy droogweg.

Styf sê sy: “Ek is jammer as dit vir u ongeleë is …”

“Waarvandaan praat u?” vra hy saaklik.

“Van die hotel af. Die trein was laat en ons het omtrent twaalfuur gisternag eers hier gekom. Ek … dis heeltemal gerieflik hier; ek wou maar net laat weet ek is hier.”

Haar stem klink meteens ’n bietjie onseker en Paul glimlag. Die hotel is ten beste maar swak, in hierdie weer sal dit onhoudbaar wees.

“Jy kan nie in die hotel bly nie, nig Ria,” sê hy saaklik. “Pak maar weer jou goed in, ek kom haal jou so gou ek kan. Ek hoop om so teen elfuur daar te wees.”

’n Uur later is hy op pad. Op Towerwater is Emily en die bediendes druk besig om alles reg te kry vir die onverwagte gas.

Sal ons van haar hou? wonder Paul. En net so belangrik, sal sy van ons hou? Sal sy teleurgesteld wees as sy uiteindelik haar ma se familie ontmoet en uitvind hulle is ook maar net gewone mense?

By die hotel loop hy Solly Jacobs, die eienaar, raak. Solly het op Donkerfontein grootgeword en hy en Paul het saam skoolgegaan. Die jare het Solly goed behandel: buiten die hotel besit hy ook die plaaslike bioskoop en heelwat eiendom op die dorp.

“Ek kom haal net my niggie,” sê Paul nadat hulle gegroet het.

Solly glimlag. “Ek sou haar graag nog ’n dag of twee hier in die hotel wou hou – dit sal goed wees vir besigheid – maar sy sal natuurlik gelukkiger wees by haar familie op Towerwater. Maar kom, juffrou De Wet wag in die sitkamer.”

In plaas van die middeljarige vrou wat Paul verwag het, sit daar ’n aantreklike jong vrou deur ’n tydskrif en blaai.

“Juffrou De Wet, meneer Theron het gekom,” kondig Solly aan.

Ria kyk op en haar oë rek effens. Paul Theron is lank met swart hare en diepblou oë wat ondersoekend op haar rus. Sy houding is dié van ’n man wat gewoond is daaraan om bevele te gee en sy gesig is streng, byna onvriendelik. Ek is ’n indringer hier op Donkerfontein, dink sy terwyl sy opstaan. Ek is nie welkom hier nie.

Op sy beurt bestudeer Paul ook die jong vrou voor hom. Sy het ’n groen linnerok aan, haar roesbruin hare is in ’n mooi rol gekam en haar gesig is kunstig grimeer. ’n Tipiese stadsmeisie, dink hy. Hoe sal sy ooit inpas by hulle lewe op die plaas?

Effens aarselend steek Ria haar hand uit. “Aangename kennis, neef Paul.”

Paul neem haar hand en kyk ’n oomblik af na haar. Hy sien nou dat sy bleek is met donker skaduwees onder haar oë. Hy skud sy kop en ’n effense glimlag versag onverwags sy gesig.

“Nee, nig Ria, in die Karoo groet ons nie familie so nie. Kom, ek sal jou wys.” Hy trek haar nader en soen haar tot haar verleentheid liggies op die mond.

In die motor is hulle stil, elkeen besig met sy eie gedagtes. Ria voel ongemaklik en sy wens sy was terug in Johannesburg. Sy dink aan wat Solly Jacobs haar van Towerwater se mense vertel het – ’n eensame wewenaar wat nie die tragedie van sy vrou se dood kan vergeet nie, ’n sieklike, verbitterde oujongnooisuster en ’n stiefma wat nie hulle sosiale gelyke is nie. Dit klink allesbehalwe bemoedigend.

“Hulle woon maar stil daar op Towerwater,” het die eienaar van die hotel gesê. “’n Pragtige ou plaas – een van die oudste en mooiste in die distrik – maar dis of daar die afgelope jare ’n vloek daarop rus. Besoekers is nie baie welkom op Towerwater nie.”

Sy sal net ’n dag of twee bly, dink sy, dan sal sy ’n verskoning maak om weg te kom. En tog, ten spyte van alles wat sy gehoor het, interesseer Paul Theron haar en voel sy vreemd aangetrokke tot hom.

“Ek hoop jy het dit nie te sleg getref by die hotel nie,” sê hy plegtig en beleefd.

“Dit was heeltemal gerieflik, dankie,” sê sy koel.

“Verstommend! Dit was ’n besonder warm nag en Solly se slaapkamertjies …”

“Dit was ’n bietjie warm,” sê sy haastig, asof sy liewer nie daaraan herinner wil word nie.

“Muskiete?”

Spot hy nou met haar?

“Dit was verskriklik,” sê sy koud. “Ek het nog nooit so iets teëgekom nie. Boonop was ek die hele nag siek – blykbaar het ek iets geëet wat my naar gemaak het. Maar dis my verdiende loon, nie waar nie? Jy het my mos gewaarsku.”

Hy antwoord nie en styf sê sy: “Ek is jammer as my kuier ongeleë is, maar ek is nie van plan om lank te bly nie.”

“Ek het nooit gesê dis ongeleë nie, nig Ria. Dis vir ons ’n eer en ’n voorreg om ons niggie uit die Transvaal te ontvang. Dis net dat ons graag die Karoo op sy beste vir jou wou gewys het. Nie so vaal en droog en lelik nie.”

Sy is ’n rukkie stil, dan sê sy: “Ek het gekom om met my ma se mense kennis te maak en ek sou graag hulle wêreld in al sy buie wil leer ken – nie net wanneer die veld blom en die damme vol water is nie. So sal ek hulle waarskynlik die gouste leer ken en verstaan.”

Tryna du Toit-omnibus 4

Подняться наверх