Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеVoor sy weg is na The Gables toe het Ria vir Bill geskryf om hom te sê dat sy nie nou terugkom stad toe nie. Haar toekomsplanne is onseker, het sy geskryf, en sy dink dit sal goed wees as hy vir sy vrou gaan kuier en weer met haar gesels. Miskien kan hulle tog tot ’n vergelyk kom, al is dit net om die kinders se ontwil. Maar wat ook al gebeur, sy sal nie met hom trou nie en sy dink dit sal beter wees as hulle mekaar so min moontlik sien wanneer sy terugkom.
Dit was nie ’n maklike brief om te skryf nie, maar sy het agterna verlig gevoel. Sy het geweet sy doen die regte ding en dit was voorlopig genoeg.
Emily sou die volgende oggend saam met Paul dorp toe gaan en het belowe om die brief te pos.
Paul het Ria nog dieselfde middag na The Gables toe geneem. Sy het haar tikmasjien en notaboeke saamgeneem in die hoop dat sy ’n bietjie werk gedoen sou kry.
Daar het ’n warm wind gewaai en stofwolkies het plek-plek in die veld uitgeslaan. Dit was ’n vaal, troostelose soort dag. Ria was tam van die hitte en min slaap en boonop terneergedruk oor haar konfrontasie met Paul. Emily was die hele oggend in die kombuis besig om vrugte in te lê en konfyt te kook, en Ria het nie kans gekry om met haar daaroor te gesels nie. Mona het nie vir middagete tafel toe gekom nie en Ria het gewonder of haar hoofpyn erger was.
Sy het later vir Katy in die gang gekry en gevra of Mona siek is.
“Miss Mona het kwaai hoofpyn en is ontsteld,” sê Katy koud. “Miss Mona is nie sterk nie; dinge krap haar maklik om.” En neus in die lug het sy weggestap.
Paul het sy gewone gang gegaan, maar hy het so ongenaakbaar gelyk dat Ria maar liewer uit sy pad gebly het. Dit was heel duidelik ’n goeie tyd om by die familie op The Gables te gaan kuier.
Hulle het min gepraat op pad soontoe. Paul was afgetrokke en Ria het gewonder of hy ander bekommernisse ook het. Maar sy het dit nie gewaag om te vra nie.
Ria was een keer vantevore op The Gables vir ’n kort kuiertjie, maar sy het vandag weer met ongeveinsde bewondering na die groot wit gewelhuis met sy wye, koel stoepe en ontwerperstuin gekyk. Deinende groen grasperke, sag soos fluweel, ’n blou, geteëlde swembad, ’n goed versorgde tennisbaan, beddings vol struike en blomme, skilderagtige bruggies en stroompies, groot ou koeltebome … Dit was soos ’n prentjie uit ’n boek – te mooi om waar te wees.
Van binne was dit ’n droomhuis: ruim, sonnige vertrekke met ou meubels, mooi skilderye en tapisserieë en dik Persiese tapyte waarin jou voete wegsak. Bokant die kaggel in die studeerkamer het ’n versameling gewere gehang wat seker ’n fortuin gekos het. Ria se slaapkamer was wit en blou en haar badkamer het dieselfde kleurskema gehad. Alles was deftiger en meer gesofistikeerd as op Towerwater.
Daar was min huise en tuine in Johannesburg se spogbuurte wat The Gables in weelde sou oortref. En tog, as sy kon kies, kies sy Towerwater met sy eenvoud en grasie.
Hugo Theron, die eienaar van The Gables, was sowat vyf-en-vyftig en ’n groot, effens gesette man met die selfvertroue wat geld en status bring. Hy was opgewek en vol grappies en het Ria dadelik op haar gemak laat voel. Sy het van hom gehou, maar tog was daar iets aan hom wat haar gehinder het. Presies wat, kon sy nie sê nie.
Sy vrou, Mildred, was ’n paar jaar jonger as hy. Sy was ’n aanvallige blondine, kunstig grimeer en seker van haarself. Sy het ’n harde mond, dink Ria. Onder die uiterlike sjarme is daar ’n vrou wat gewoond is om haar sin in alles te kry, ’n vrou wat nie veel tyd of simpatie vir gewone mense of minderbevoorregtes het nie. Sy het ’n blougroen syrok aan wat pas asof dit vir haar geskep is – en miskien is dit. Ria is bly sy het ’n paar van haar mooiste rokke ingepak.
Hulle het uit die fynste en mooiste porselein tee gedrink en daarna het Paul en Hugo studeerkamer toe gegaan om ’n rukkie oor boerderysake te gesels.
“Wil jy nie vir ete bly nie, Paul?” vra Mildred toe hy later kom groet. “Ek het ’n paar mense uit die dorp genooi om Ria te kom ontmoet – dokter Walters-hulle, die nuwe landdros en sy vrou en nog ’n paar ander. Joy Marsh kom ook. Jy sal baie welkom wees.”
Maar Paul wil nie bly nie.
“Laat my weet wanneer ek jou moet kom haal,” sê hy vir Ria. ’n Vlugtige handdruk, ’n beleefde glimlaggie, en hy en Hugo stap saam uit na sy motor toe. Ria het hom met ’n gevoel van teleurstelling sien gaan. Hy kon gerus maar gebly het.
“Ek het regtig niks meer geduld met Paul nie,” sê Mildred vies. “Hy begrawe hom daar op Towerwater met daardie twee vroumense. Dis genoeg om enigiemand die kluts te laat kwytraak. Ek het hom aan minstens ’n halfdosyn meisies voorgestel en moeite gedoen om hulle hier na The Gables toe te nooi, maar hy stel net nie belang nie. Dié Joy Marsh van wie ek netnou gepraat het, is ons bure se dogter en baie oulik, maar Paul wil van niks weet nie. Haar oë is te na aan mekaar of iets. Bid jou aan! Ou Josua Marsh is seker ’n halfmiljoen rand werd – en hy vind fout met haar oë. Nou hoor ek Tillie du Plessis kuier heeldag daar op Towerwater. Dink jy Paul is verlief op haar?”
“Ek het nie die vaagste benul nie,” sê Ria haastig. “Ek het haar nog net een of twee keer gesien. Sy kom bespreek gewoonlik haar boerderyprobleme met Paul.”
“Dis baie slim van haar,” sê Mildred. “Dalk kry sy so reg wat niemand anders blykbaar kan regkry nie.”
Ria antwoord nie en ná ’n rukkie sê Mildred weer: “Ek het oom George destyds baie kwalik geneem toe hy met Emily getroud is. Dit was nie reg teenoor sy kinders en sy familie nie. Wat hom besiel het om so iets te doen, sal niemand seker ooit weet nie. Hy het haar oral saam met hom geneem en verwag dat die familie haar soos ’n gelyke in hulle huise ontvang. En daar sit Paul-hulle vandag nog met haar opgeskeep.”
“Emily is ’n opgeleide verpleegster – sy masseer Mona dikwels wanneer sy pyn het – en sy is bekwaam en hardwerkend. Die hele huishouding rus op haar skouers. Ek dink Paul en Mona sal verlore wees as sy moet weggaan.”
“Dan sal Paul ten minste verplig wees om weer te trou. En die arme Mona – wat ’n patetiese figuur, nè? So neuroties en verbitterd. Ek het al baie vir Paul gesê om haar na ’n inrigting toe te stuur waar sy behoorlike psigiatriese behandeling kan kry. Dis wat sy eintlik kortkom. Maar natuurlik, Paul sal dit nooit doen nie.” Sy haal haar skouers op. “Maar hulle moet maar hulle eie heil uitwerk.”
Ria wens sy kan Mildred vertel van die skilderye wat in Mona se werkkamer weggesteek is, maar sy durf nie.
“Het jy Paul se oorlede vrou, Winnie, ook geken?” vra Ria huiwerig. Sy wil nie Towerwater se mense agter hulle rug bespreek nie, maar daar is nog so baie wat sy graag wil weet.
Mildred knik. “Sy was ’n baie mooi meisie. Haar ma is dood toe sy klein was en sy het by haar ouma grootgeword, maar haar mense was glo heeltemal welgesteld. Sy was van die begin af nie baie gelukkig op Towerwater nie. Mona was jaloers op haar en hulle het gedurig vasgesit. Winnie het ’n baba verwag en daarop aangedring dat Paul vir Mona wegstuur van Towerwater af, maar hy wou dit blykbaar nie doen nie. Dit was natuurlik ’n onmoontlike situasie vir die arme kind en niemand was verbaas toe sy later ’n senuwee-instorting kry nie. Sy het in ’n donderstorm in die rivier verdrink – goedsmoeds met haar motor deur die vol rivier probeer jaag. Daar is mense wat sê sy het selfmoord gepleeg. Ander dink dat sy en Mona weer rusie gemaak het en dat sy uit blinde woede die motor gegryp en haar nie aan die weer gesteur het nie. Die polisie was dae lank op Towerwater, maar die geheim is nooit opgelos nie. Tot vandag toe weet niemand presies wat gebeur het nie.”
Ria dink aan wat Katy haar vertel het en ril asof iemand oor haar graf loop. Weet niemand anders dan van die boodskap wat Winnie gekry het dat Paul in die veld seergekry het en dat sy hom moet kom haal nie? Watter geheim bewaar Towerwater se mense? Wie beskerm hulle?
“Kom ons gaan swem,” sê Mildred. “Die ander sal netnou hier wees.”
Die water was verfrissend en Ria het lui ’n paar lengtes geswem en toe by Mildred op die gras gaan lê.
Die ander gaste het later opgedaag en gou hulle pad na die swembad gevind. Joy Marsh was ’n oulike blondine met ’n vol rooi mond en ’n mooi goudgetinte vel. Haar kunstige grimering het ’n mens skaars laat agterkom dat haar oë klein was en te naby mekaar sit.
Drankies is by die swembad bedien en die eerste sterre het al verskyn voor hulle binnetoe is om reg te maak vir aandete.
Ria het ’n wit rok aangetrek, haar rooibruin hare opgesteek en die lang maansteenoorkrabbetjies aangesit wat sy by haar ma geërf het. Sy het geweet sy lyk mooi, en sy het die waardering in die ander gaste se oë gelees. Tog het dit gevoel asof daar iets kortkom.
Die tafel was met die mooiste glas, silwer en porselein gedek, die kos was keurig en die wyne van die beste. Hulle is deur bediendes in spierwit uniforms bedien en ’n mens kon sien dat hulle hul werk ken. Partytjies soos die een van vanaand is blykbaar maar deel van die lewe op The Gables.
Die gaste was in ’n goeie bui en die geselskap opgewek en vol kwinkslae. Ria moes later vertel van die boek wat sy wil skryf, maar ná ’n paar ligte, spottende opmerkings het sy die gesprek in ’n ander rigting gestuur.
Ek is jammer Paul is nie ook hier nie, het sy gedink. Ek sou graag wou sien hoe hy in sulke geselskap inpas. Daar op Towerwater is sy woord wet en kry ’n mens die indruk van ’n man met innerlike krag, maar hoe sal hy hom tussen buitestanders laat geld?
Hulle het oor alles gesels – die jongste letterkunde, die politiek, boerdery – en Ria het die aand baie geniet. Sy het opgelet dat haar gasheer heelwat drink en dat Mildred een of twee keer afkeurend na sy rooi, natgeswete gesig kyk, maar hy was verdiep in ’n gesprek met José Walters, die dokter se mooi, terglustige vrou, en het hom nie aan haar gesteur nie.
Eers teen middernag het die gaste aanstaltes begin maak om huis toe te gaan. José en die landdros se vrou is nie saam met die ander weg nie. Hulle kuier die naweek op The Gables en hulle mans sou die volgende dag ná werk weer uitkom plaas toe.
Ria word die volgende oggend vroeg wakker. Die huis is nog doodstil, maar sy is wawyd wakker. Sy trek haar swembroek aan en saggies, om nie die slapende mense te steur nie, glip sy by ’n sydeur uit. Die tuin is nog vol skaduwees, maar die spreiers op die grasperke spuit al en die tuinier is besig om te skoffel.
Tot haar verbasing tref sy vir Hugo by die swembad aan. Sy was seker dat hy ook nog besig is om die vorige aand se roes af te slaap. In die helder oggendlig lyk hy moeg en ouer as sy vyf-en-vyftig jaar. Daar is sakkies onder sy oë, sy gesig het ’n gryserige kleur en die spiere van sy liggaam hang slap. Dis moeilik om te glo dat die man wat so oud en moeg hier langs die swembad sit, hulle vrolike gasheer van die vorige aand is. Hy kyk verras op toe sy nader kom en sy kan sien hoe hy homself probeer regruk.
“Goeiemôre,” groet hy. “Dis ’n verrassing. Ek het gedink stedelinge slaap tot die son daar gunter in die lug sit.”
“Moenie glo nie,” sê sy. “Ons is almal werkende mense.” Sy kyk met ’n glimlaggie na hom. “Staan Oom elke oggend so vroeg op?”
“Ek het my hele lewe lank vroeg opgestaan – die son vang my nie in die bed nie. Wel, Ria, wat dink jy van The Gables? Mooier as Towerwater, nè?”
“Ek dink dis ’n wonderlike plaas. Julle is seker baie trots daarop. Wat meer kan ’n mens begeer as so ’n huis en tuin en plaas?”
Hy kyk na haar, dan haal hy sy skouers op. “Ja, die lewe het verander. Ons het ryk geword – ons besit duisende morg grond, ’n paleis van ’n huis, ’n halfdosyn trekkers en blink motors – maar ek dink ons was baie gelukkiger toe ons net ’n paar pennies ’n pond vir ons wol gekry het en gedurig moes mooipraat met die bankbestuurder. Die lewe is nou so gekompliseerd en boerdery het so ’n gespesialiseerde besigheid geword dat jy net nie meer tyd het om terug te sit en die lewe te geniet nie. Ek het drie voormanne wat my plase bestuur en vir my boer, want ek dien in so baie liggame dat ek nie tyd het om dit self te doen nie. Ek haat die stad en tog is ek meer in Pretoria, Kaapstad en Port Elizabeth as op my plaas. Boonop hang daar so ’n groot vraagteken oor die toekoms dat jy liewer nie aan die dag van môre wil dink nie. Jy gaan maar net saam met die stroom en spartel en spook om bo te bly. Dis net partymaal as jy nugter is en die wêreld stil is om jou, dat jy wonder waar dit alles heengaan.”
Hy klink bedruk en Ria weet vir ’n oomblik nie wat om te sê nie. Dan sê sy sag: “Vertel my van Oom se kinders. Ek sou hulle graag wou ontmoet.”
“Elinor en Jack kom Aprilmaand huis toe – ek hoop jy is dan nog hier in ons wêreld. Buks boer by Somerset-Oos. Dis op die oomblik baie droog daar, maar sy skure is vol lusern en hy het geen rede tot kommer nie. Maar my kinders is saf – hulle is lui en gemaksugtig. Hulle ma het hulle bederf; hulle het nooit swaargekry of harde werk geken nie. En wat my die meeste hinder, is hulle materialisme. Geld is al wat tel; dis die maatstaf waarmee alles gemeet word.”
Ria skud haar kop en sê saggies: “Dis ’n klagte wat ek gedurig hoor: vandag se kinders is saf; hulle het te maklik grootgeword. Maar ek dink julle onderskat hulle. As dit nodig is, sal hulle genoeg murg in hulle pype hê.”
Sy staan op, gooi haar handdoek af en duik in die koel blou water in. Toe sy weer sien, is Hugo langs haar, en hulle swem saam ’n paar lengtes. Hy swem goed, maar sy kan aan sy asemhaling hoor hy kry swaar. Toe hulle uit die swembad klim, is hy heeltemal uitasem.
“Jy sal dit seker nie glo as jy my so hoor blaas nie,” hyg hy, “maar ek het op my dag vir W.P. vleuel gespeel. Nou ja, die jare stap aan.”
Toe hulle huis toe stap, sê hy: “Trek gou aan, dan kom drink jy saam met my koffie in my studeerkamer. Ek wil vir jou my gewere wys. Die ander mense sal nog lank slaap.”
Sy het sy gewere bewonder en gesien hoe sy oë glinster terwyl hy haar van sy jagtogte vertel. Juliemaand gaan hy weer op ’n safari na die Caprivi waar hy hoop om ’n olifant te skiet. So het almal hulle drome. Sou Mildred ook nog droom? wonder sy.
Die middag het daar ’n klomp jong mense opgedaag om tennis te speel en te swem, en die aand het hulle vleis gebraai en op een van die groot stoepe gedans.
Ria het goed gedans en was gedurig in aanvraag, maar sy het later weggeglip om haar te verfris. Sy gaan nie dadelik terug na die oop stoep waar hulle dans nie, maar stap deur die eetkamer na een van die ander stoepe om ’n bietjie asem te skep. Die geur van die rankrose teen die pilare vul die lug, en te midde van die vrolikheid wat hier op The Gables heers, is daar ’n tikkie verlange in haar hart. Na Bill, haar familie of Towerwater se mense? Of sommer net na ’n eie gesin, ’n eie huis?
Sy wonder wat die mense op Towerwater vanaand doen en hoe dit met hulle gaan. Later, wanneer hulle nie meer so ontsteld is nie, wil sy weer met Paul gesels en hom probeer oorreed dat hulle ’n uitstalling van Mona se skilderye reël. Dit sal so baie vir haar beteken.
Sy hoor stemme in die eetkamer agter haar en ’n man en vrou kom uit op die halfdonker stoep. Sy herken José Walters se rooi rok en sien die man by haar is Hugo Theron. Sy staan half versteek agter die wit pilaar en hulle sien haar nie raak nie. ’n Oomblik aarsel sy, onseker wat om te doen. Miskien gaan hulle gou weer weg. Maar hulle gaan nie weg nie. Hugo sit sy arm om José se middel en sy vly haar met ’n laggie teen hom aan. Hy laat sak sy kop en soen haar, en ’n lang oomblik is dit stil op die stoep.
Dan roep iemand in die eetkamer agter hulle. José maak haar vinnig los uit Hugo se omhelsing en verdwyn in een van die ander vertrekke wat op die stoep uitloop. Hugo steek ’n sigaret op en neem ’n paar diep teue. Dan gooi hy die sigaret weg en stap ewe kalm weer terug na sy gaste toe.
Alles het so vinnig gebeur dat dit vir Ria voel of sy gedroom het. Maar sy weet sy het nie gedroom nie en daar is ’n naar gevoel op haar maag. As dit haar eie pa was wat sy so op heterdaad betrap het, sou sy nie meer geskok gewees het nie. En wat die ergste is, sy is seker dis nie die eerste keer nie. Hoe durf hy sê sy seuns is saf as hy self geen integriteit het nie?
Dan dink sy aan Bill, en aan Bill se vrou. Sy voel klein en beskaamd. Watter reg het sy om ander te oordeel?
Die laaste gaste is Maandagoggend weg en Ria het ’n sug van verligting geslaak. Dalk sal sy nou kans kry om te skryf. Maar Hugo moes die oggend na sy buurman, Josua Marsh, toe gaan en Mildred het gereël dat hulle saamgaan. Ria het toe maar alle gedagte aan werk laat vaar.
Hugo en Mildred sou die Woensdag Port Elizabeth toe gaan waar Hugo ’n vergadering moes bywoon. Hulle het aangehou dat Ria saam met hulle moet gaan – hulle kon met die terugkom by Buks aangaan – maar Ria was haastig om haar jeugverhaal klaar te maak en het die uitnodiging van die hand gewys.
Van Towerwater se mense het sy niks gehoor nie. Is hulle so bly om van haar ontslae te wees? het sy ’n bietjie hartseer gewonder. Hoe kan sy teruggaan as hulle so teenoor haar voel? Maar aangesien sy graag die volgende dag wou teruggaan, het sy maar haar trots in haar sak gesteek en self gebel.
Emily het die foon beantwoord en was bly om te hoor sy kom die volgende dag terug. As Mildred-hulle haar nie kon bring nie, moes sy net laat weet, dan sou sy of Paul haar kom haal. Emily se stem was hartlik en Ria het die foon gerusgesteld neergesit. Sy hoop die hele onaangenaamheid het oorgewaai teen die tyd dat sy terug is op Towerwater. In die toekoms sal sy versigtiger wees.
Mildred en Hugo het haar die volgende middag Towerwater toe geneem en saam met die familie koffie gedrink. Almal was bly om Ria weer te sien; selfs Mona was baie vriendelik. Hulle het oor koeitjies en kalfies gesels, oor die droogte en Hugo se vergadering in Port Elizabeth, maar dit was duidelik dat dit ’n blote hoflikheidsbesoek was. Daar was – veral tussen die vroue – nie veel hartlikheid nie. Hoe kon dit ook anders? In geaardheid en uitkyk op die lewe het hulle hemelsbreed verskil.
Nadat Mildred en Hugo weg is, stap Ria na die populierbos toe. Die aarde is dor en sy sien die populiere begin verkleur. Gaan die reën nooit kom nie? ’n Lang ruk sit sy daar in die bos en droom, bly om weer terug op Towerwater te wees. En wat haar die gelukkigste van alles maak, is dat dit lyk of die mense bly is om haar weer terug te hê.
Toe sy weer by die huis kom, sit Paul op die stoep. Die son is reeds onder en die blougrys skemering lê op die rante. Paul het net gebad en geskeer, en sy gesonde bruin vel blink teen sy oopnekhemp. Hy nooi haar om te sit en gaan haal vir hulle elkeen ’n glasie sjerrie.
“Welkom terug op Towerwater. Ons het jou gemis.”
Sy glimlag. “Dankie, dis lekker om weer terug te wees.”
Hy steek vir hulle elkeen ’n sigaret op en ’n rukkie rook hulle in stilte. Sy is bewus van sy sterk, aantreklike persoonlikheid en wonder opnuut wat die geheim van Towerwater en sy mense is.
“Wel, nig Ria,” sê hy eindelik, “hoe geval The Gables jou?”
“Ek dink dis ’n ongelooflike plek, ’n droomplaas. ’n Mens vergeet daar amper van die droogte en die bruin, verskroeide veld. Daar was die hele tyd mense – interessant, maar ’n bietjie uitputtend op die lang duur. Ek het natuurlik nie ’n steek werk gedoen nie.”
“En hier het nog werk vir jou gekom – die proewe van daardie boek wat herdruk word.”
“Ek sal dan maar net soggens ’n bietjie vroeër moet opstaan. Ek begin nou vasbrand.” Sy kyk nuuskierig na hom en vra versigtig: “Gaan jy nooit na Mildred se partytjies op The Gables toe nie, Paul?”
“Vroeër het ek dikwels gegaan. Ons het gereeld Saterdae tennis gespeel en vleis gebraai, maar die partytjies het my later begin verveel.”
“Jy kon gerus maar nou die aand gebly en my hand vasgehou het,” sê sy liggies. “Al die vreemde mense …”
“As ek gedink het dit was nodig, sou ek gebly het,” sê hy. In stilte dink sy oor sy woorde, nie seker of sy dit as ’n kompliment moet beskou of nie.
“Joy was ook daar,” sê sy ná ’n rukkie. Toe hy nie antwoord nie, sê sy tergend: “Sy is ’n oulike meisie, dink jy nie so nie?”
“Baie oulik. Maar nie my tipe nie.”
“Wat is jou tipe?” vra sy met ’n glimlag. Hy antwoord nie dadelik nie en sy hou haar asem op. Het sy weer ’n flater begaan?
Ná ’n rukkie sê hy egter: “Ek het haar nog nooit probeer opsom nie, maar ek sal nou probeer. Ek hou van ’n mooi meisie, maar nie popmooi nie. ’n Mooiheid wat eintlik van binne kom. Ek hou van ’n meisie met karakter en ’n eie persoonlikheid. ’n Meisie wat in enige geselskap tuis is, maar ook nie bang is om alleen te wees nie. Is dit genoeg?”
Liggies sê sy: “Jy vra nie veel nie, nè? Waarom gaan soek jy nie dié ideale meisie van jou nie? Of wag jy dat sy na jou toe moet kom?”
Weer is hy stil, en sy sien die skaduwee op sy gesig en in sy oë. In spanning wag sy. Dan sê hy sag: “Ek sal haar nie gaan soek nie en as sy self Towerwater toe kom, sal sy maar net weer moet weggaan.”
Haar hart klop so hard, sy is bang hy kan dit hoor. “Waarom?” vra sy.
Hy kyk lank na haar. “Omdat ek nooit met haar kan trou nie,” sê hy saaklik. Roerloos wag sy – sal dit nou kom? – maar hy skud net sy kop. “As jy lank genoeg op Towerwater bly, vertel ek jou miskien eendag die verhaal. Dan sal jy verstaan waarom ek nie met Joy of enigiemand anders kan trou nie.”
Ria is die volgende middag saam met die familie na een van die naburige plase vir die maandelikse biduur. Toe hulle daar kom, is daar reeds ’n hele klompie mense op die stoep en in die sitkamer. Baie van hulle het Ria nog nie vantevore ontmoet nie, maar almal groet haar vriendelik, nuuskierig oor die skryfsterniggie van die Therons wat ’n boek oor haar Donkerfontein-familie kom skryf.
Oom Pieter en tannie Cora is ook daar en Ria sluit dadelik by hulle aan. Daar is ’n paar dinge wat sy graag met oom Pieter wil bespreek en hulle reël dat sy die volgende week vir ’n dag of twee Dankbaarheid toe gaan.
Dit was Ria se eerste ervaring van ’n plaasbiduur en die eenvoudige diens het ’n groot indruk op haar gemaak. Hulle het nie net gebid vir die reën wat hulle so bitter nodig het nie, maar ook vir almal wat siek is en hulp nodig het, vir verdraagsaamheid en goeie buurmanskap, en vir die leiers van die land.
Ná die biduur het almal koffie gedrink en koek en melktert geëet. Die mans het gesels oor boerdery en politiek en die vrouens het gekuier. Gesterk deur die samekoms en die wete dat nie een van hulle alleen staan met sy probleme nie, is hulle terug huis toe.
Saterdag is sy saam na ’n troue op ’n plaas in die distrik. Die paartjie was nog bitter jonk, maar so verlief en seker van hulle geluk dat Ria ’n knop in haar keel gekry het. Sy was ook eens op ’n tyd so vol vertroue in die toekoms.
Later is daar vleis gebraai en die jong mense het in die groot sitkamer gedans. Ria het gesien dat oom Dawie Rusoord die middag lank met Emily gesels en sy het gewonder wat hulle so ernstig bespreek.
Mona het dit blykbaar ook opgelet. Toe hulle later op pad terug is, merk sy ’n bietjie smalend op dat dit lyk of oom Dawie Rusoord weer besig is om vrou te soek. “Tipies wewenaar,” sê sy koud. “Sy vrou is skaars ses maande gelede dood en hy soek al weer.”
In die donkerte is Emily se stem rustig en sag. “Dis seker maar eensaam vir hom so alleen daar op die plaas. ’n Man is nie gemaak om alleen te bly nie.”
“Wel, ek hoop nie jy gaan so verspot wees om met hom te trou nie.”
Die skerp stem sny deur Ria. Dis Mona se ou laai om haar frustrasies op Emily uit te haal.
“Laat staan vir Emily, Mona. Sy is oud genoeg om haar eie sake te reël,” sê Paul streng.
Dit gebeur selde dat Paul so met Mona praat en sy trek haarself vies terug in haar hoek van die motor.
In stilte ry hulle verder. Die maanlig verleen ’n vreemde skoonheid aan die dorre velde en verdiep die verlange in Ria se hart. Die troue het hulle almal omgekrap, dink sy. Vir Paul, vir Mona, vir haarself en vir Emily ook. Die stralende jong paartjie het hulle almal herinner aan hulle eie eensaamheid en gemis.
Op Towerwater het die lewe soos gewoonlik voortgegaan. Sy het geskryf, gelees, gestap, gedink en gedroom, en die dae was te kort vir alles wat sy wou doen. Saans het hulle gesels of gelees, of Paul het klavier gespeel en Mona het vir hulle gesing. Halftien het Ria of Emily gaan tee maak, daarna is almal kamer toe. Soms het Ria nog ’n uur of twee gelees of geskryf, maar sy was gewoonlik moeg ná die dag se bedrywighede en het meestal dadelik ingesluimer en geslaap tot Emily haar die volgende oggend met ’n koppie koffie kom wakker maak.
Mona was buitengewoon vriendelik teenoor Ria. Sy het haar nie probeer vermy soos Ria half verwag het nie, maar haar geselskap meer dikwels opgesoek. Ria was bly daaroor en dit het haar voorneme versterk om op die regte tyd met Paul oor ’n uitstalling van Mona se skilderye te praat.
Mona het haar graag uitgevra oor die kunsgalerye in Johannesburg en Europa en gretig geluister na alles wat Ria vertel.
“Dink jy regtig ek het talent?” het sy eendag huiwerig gevra.
“Ek dink jy het groot talent, Mona. Maar as jy my nie glo nie, kan ek ’n paar van jou skilderye vir daardie vriend van my stuur. Hy sal jou sy eerlike opinie gee.”
“Ek sal met Paul praat en hoor wat hy dink,” het sy gesê.
“Ek sal met Paul praat,” sê Ria. Mona kyk onseker na haar en sy glimlag. “Ek belowe jou ek sal nie weer met hom rusie maak nie.”
“Goed,” sê Mona. “Maar dan moet jy vir my ’n guns doen. Ek wil jou graag skilder, Ria,” sê sy gretig. “Sal jy vir my sit?”
“Baie graag,” sê Ria, geraak deur die versoek.
Mona knik en die blou oë is blink en mooi. “Jy moet daardie wit rok met die blou fluweellyfband aantrek,” sê sy. “Ek wil sommer dadelik begin.”
Ria het dieselfde dag nog met Paul gesels en hy het dadelik ingestem om die skilderye te verpak en weg te stuur.
“Ek hoop net jy is reg, Ria, dat sy werklik talent het,” sê hy. “Sy het al soveel teleurstellings gehad en haar skilderwerk beteken so baie vir haar. Ek sal myself nooit vergewe as ek haar dié plesier ook nog ontneem nie.”
“Ons ontneem haar niks nie,” sê Ria ferm. “As my vriend nie dink dat sy buitengewoon talentvol is nie, is ons presies net waar ons was.”
Wanneer sy geskilder het, was Mona ’n ander mens. Sy was opgewek en het blykbaar van haar frustrasies vergeet. Sy het gesing in die huis en haar helder laggie het dikwels spontaan opgeklink. En terwyl sy haar gadeslaan en luister na die mooi, warm stem, het Ria gedink aan ’n reël uit ’n liedjie wat Mona so graag sing, ’n liedjie wat deel van haar Ierse erfenis is: In the lilt of Irish laughter you can hear the angels sing. Hoe anders kon haar lewe nie gewees het nie.
Paul was besig maar altyd vriendelik en hulpvaardig. Hulle het nooit weer melding gemaak van hulle gesprek daardie skemeraand op die stoep nie, maar Ria het dit nie vergeet nie. Sy het graag met hom gesels – oor mense, boeke en die politiek – en sy nugter siening en begrip van sake het haar dikwels verras. Hy het ’n goeie verstand, dink sy, dis jammer dat hy hom hier op Towerwater begrawe. Eendag, as hy haar van Winnie vertel, sal sy miskien verstaan.
Die weer het geleidelik verander. Vlieswolke het verskyn, vogtiger lug het begin instroom en daar was berigte van reën. Die boere se harte was vol hoop. Dis nog nie te laat nie. As hulle nou goeie reëns kry, is die hele wêreld reg.
Ria het twee dae lank op Dankbaarheid gaan kuier om met oom Pieter te gesels. Sy het baie van hom en sy vrou gehou en die kuier besonder geniet. Hulle is die boerearistokrate, het sy gedink: eerbare, beginselvaste mense wat die nuwe geslag met sy skynbare onverskilligheid met onrus en onbegrip bejeën. Hulle lewe stil, in dieselfde huis waar hulle meer as sestig jaar gelede saam begin het, omring deur die kosbare dinge wat hulle gedurende hulle lewe versamel het. Die eenvoudige middagete – koue skaapnek, beetslaai en vars soetsuurdeegbrood wat tannie Cora self gebak het – het haar onwillekeurig laat dink aan die weelde en oorvloed van The Gables.
Sy het lank met oom Pieter se kleinseun en sy vrou gesels en van hulle ook gehou. Klein Pieter was inderdaad dol oor motors – ten spyte van die feit dat hy reeds twee groot ongelukke gemaak het – en hulle was rusteloos en gemaksugtig, maar hy het haar baie herinner aan ’n lewendige jong perd wat uitgelate oor die veld draf en kort-kort agterop skop van pure pret en plesier. Pieter is lief vir Dankbaarheid en trots op sy voorsate en hulle prestasies. Laat hom hom maar uitbaljaar, het sy gedink. Die dag sal gou genoeg kom dat hy op sy beurt bekommerd is oor die vreemde gewoontes van sy kinders en kleinkinders.
Die aand sit Ria ná die huisgodsdiens ’n rukkie buite op die stoep by oom Pieter terwyl tannie Cora nog binne doenig is.
“Ek dink die reën is naby,” sê oom Pieter. “Ek voel dit in my ou bene. En hoor hoe lustig kwaak die paddas weer vanaand.”
Ek hoop hy is reg, dink Ria. Dit sal wonderlik wees om weer die reën te sien en te voel en te hoor.
Dit is die volgende oggend nog skemerdonker toe Ria wakker word. Sy lê stil en luister terwyl sy wonder wat haar wakker gemaak het. Dan hoor sy dit – twee bewerige ou stemme wat sing: “Rus my siel, u God is koning.”
Sy staan vinnig op, trek haar kamerjas aan, borsel haar hare en stap saggies eetkamer toe waar oom Pieter-hulle met oggendgodsdiens besig is. Hulle sit aan weerskante van die tafel en tannie Cora se hand rus vertroulik in haar man s’n. Oom Pieter kyk op, sien haar in die deur staan en wys vir haar om te kom sit. Hy lees ’n stukkie uit Job en doen ’n eenvoudige gebed. Dan klink Ria se helder stem saam met dié van die twee bejaardes op: “Prys die Heer met blye galme, o, my siel, daar’s ryke stof.”
Toe die son se eerste strale oor die rante kom, sit hulle drie saam om die tafel, besig om koffie en beskuit te geniet. Wat die toekoms ook al mag oplewer, dink Ria weer, ek sal altyd bly wees ek het Donkerfontein toe gekom om met my familie kennis te maak.
Klein Pieter en sy vrou het haar die middag terug Towerwater toe geneem. Hy ry soos die duiwel, het oom Pieter gesê, maar sy dink nie dis so erg nie. Hy ry vinnig, maar hy is ’n goeie bestuurder en ken sy motor. Op sy beurt bekla hy sy lot teenoor Ria.
“Ek wens Oupa en Ouma wil nou op die dorp gaan woon. Oupa maak dit vir my baie moeilik. Hy is kritiseer my gedurig en is agterdogtig oor elke nuwe voorstel wat ek maak.”
“Wees maar geduldig,” sê sy vir hom. “Ek dink oom Pieter is ’n wonderlike man. En onthou, hy was lank die alleenheerser op Dankbaarheid. Dis nie maklik om terug te staan en die leisels aan iemand anders – al is dit ook jou eie kleinseun – af te staan nie. Wees maar geduldig en wees bly vir die tyd wat jy nog saam met hom het.”
“Ek het nooit so daaraan gedink nie,” sê hy nadenkend. “Ek sal onthou.”
Op Towerwater wag daar ’n telegram van Bill. Hy is op pad na ’n uitgewerskongres in Port Elizabeth en wil op pad soontoe vir haar kom kuier.