Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 4 - Tryna du Toit - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Ria het die volgende oggend vroeg wakker geword en in die halfskemer lê en luister na die ongewone geluide wat haar gewek het. Buite kondig voëls die nuwe dag uitbundig aan, amper asof hulle haar spesiaal hier op Towerwater wil verwelkom. Die huis is stil – die mense slaap seker nog – en sy kan rustig lê en haar gedagtes vrye teuels gee terwyl sy die indrukke van die afgelope vier-en-twintig uur uitsorteer.

Wel, sy het reeds met die eerste Therons kennis gemaak en drie meer uiteenlopende persoonlikhede kan ’n mens jou nouliks voorstel. Sy hou van Emily, dink sy. Sy is nie ’n mooi vrou in die eng sin van die woord nie, veral nie aan vandag se standaarde gemeet nie. Sy is groot en grof gebou met ’n donker vel, ligblou oë en reguit, donker hare wat sy in ’n bolla styf teen haar kop dra, maar daar is iets sags en moois in haar gesig wat ’n mens dadelik tref. Sy het besonder mooi hande – sterk, gevoelige hande wat seker vir niks verkeerd staan nie. Sy mag op sosiale gebied nie haar stiefkinders se gelyke wees nie, maar wat karakter en waardigheid betref, hoef sy vir niemand terug te staan nie. Daarby het sy duidelik ’n warm hart en ’n diep lojaliteit teenoor haar oorlede man en sy kinders.

Mona Theron is ’n totaal ander saak. Hoewel sy reeds digby die veertig is – en veel ouer lyk – het sy in werklikheid nooit grootgeword nie. ’n Eensame, verbitterde, agterdogtige mens wat nie ’n goeie woord vir enigiemand behalwe haar eie, wonderlike broer het nie. Dis duidelik dat sy Paul aanbid, dat alles wat hy doen reg is in haar oë. In gelukkiger omstandighede sou sy ’n beeldskone vrou gewees het – die tekens is nog daar in die suiwer vorm van haar gesig en die fyn neus, mooi gevormde wenkbroue en besondere blou oë, maar siekte, pyn en verbittering het haar van daardie skoonheid beroof. Sommige mense word gelouter deur siekte, maar van Mona het dit ’n harde, selfsugtige mens gemaak.

En dan Paul Theron, die baas van Towerwater en die spil waarom alles draai. Paul is die onbekende faktor in hierdie huishouding. Hy is so trots soos sy suster, maar sagter en meer gekompliseerd. Waarom het hy nie weer getrou nie? wonder Ria. Hy is ’n aantreklike man in die fleur van sy lewe en die eienaar van ’n mooi ou familieplaas. Het hy nie behoefte aan ’n vrou nie, wil hy nie seuns en dogters hê wat dié wonderlike erfenis met hom kan deel nie? Wil hy die res van sy lewe so saam met sy suster en stiefma slyt?

Dan is daar Towerwater, die oorspronklike familieplaas van die Therons. Wat sy ook al verwag het, die werklikheid het haar verwagtings ver oortref. Die pad van Donkerfontein na die plaas was lank, warm en stowwerig, en die veld so kaal en bruin soos in die hartjie van die winter. Sy het nog siek en naar gevoel en hoe verder hulle gery het, hoe meer het haar moed haar begewe. En toe, skielik, was hulle daar.

In die fel strale van die middagson, teen die agtergrond van ronde klipkoppies en veraf berge, het die ou opstal met sy sierlike wit gewels en groen luike gelê en droom, omring deur goed versorgde grasperke en groot, skaduryke bome.

“Welkom op Towerwater,” het Paul Theron langs haar gesê en daar was liefde en trots in sy mooi diep stem. “Ek hoop jy sal gelukkig saam met ons hier bly.”

Was hy net hoflik of het hy die woorde opreg bedoel?

Binne was die huis koel en rustig, met spieëlgladde vloere en kosbare ou meubels, tapyte en skilderye. ’n Huis gebou vir liefde en geluk. Hoe kan daar ooit ’n vloek op so ’n huis rus?

Sy moes weer ingesluimer het, want toe sy weer wakker skrik, skyn die son en staan Emily met ’n skinkbord koffie en beskuit voor haar bed.

“Goed geslaap?” vra sy vriendelik. “Ek hoop jy voel beter vanoggend.”

“Ek het heerlik geslaap, dankie, en ek voel piekfyn. Is dit koffie? Dit ruik heerlik. En regte, egte boerebeskuit.”

“Slaap gerus weer,” sê Emily met ’n glimlaggie vir Ria se spontane woorde. “Ons eet nooit voor negeuur ontbyt nie.”

Ria was egter uitgerus en gretig om meer van die plaas te sien. Sy het die vorige middag nog te pap en siek gevoel om veel meer as die blomtuin te besigtig.

Terwyl sy die koffie drink, bestudeer sy haar ruim, sonnige kamer. Die mooi hemelbed met sy spierwit, gestyfde kap het dadelik haar hart gesteel. Dis van stinkhout, soos die spieëltafel en hangkas. Op die wastafel is daar ’n Royal Doulton-kom-en-bekerstel in ’n lieflike roospatroon. Sy het een maal vantevore so ’n beker gesien: een van haar vriendinne het dit op ’n uitverkoping gekoop en haar man was ’n week lank vir haar kwaad toe hy hoor wat sy daarvoor betaal het. Ria dink aan die pragtige silwer wat sy gesien het – ou kandelare, ’n tee- en koffiestel, ander snuisterye – en sy wonder of die mense op Towerwater weet watter kosbaarhede hulle besit.

Ná ’n vinnige stort trek sy ’n langbroek aan – hoe gouer die mense aan haar kleredrag gewoond raak, hoe beter – en ’n kortmoubloes en plat, gemaklike skoene. Sy bind haar roesbruin hare met ’n blou strik in haar nek vas en sit koraalrooi lipstiffie aan wat ’n bietjie kleur aan haar bleek gesig gee. Sy is gereed vir wat die dag mag bring.

So ’n entjie van die huis af, weggesteek tussen die kliprantjies, is die waterval waarna Towerwater vernoem is en sy besluit om daarheen te stap. Die rivierloop wat na die waterval lei, is droog en sanderig, en dis moeilik om te glo dat dit ooit ’n bruisende rivier kan wees. Sy kom by ’n pragtige, natuurlike krans, hoog en regaf, en hoewel daar seker maande laas ’n druppel water geval het, sien sy onder haar ’n diep, donker kolk water. Selfs in die vroeë oggend lyk dit vreemd onheilspellend. Sy sal nie graag in ’n donker nag alleen hier wil rondloop nie.

“Goeiemôre,” sê ’n stem vlak agter haar en sy skrik. Haastig lê Paul Theron ’n hand op haar skouer en trek haar terug van die rand van die krans waar sy gestaan en droom het.

“Ek is jammer, ek het nie bedoel om jou te laat skrik nie,” sê hy. “Ek hoop jy voel vanoggend beter.”

“Ek is weer reg, dankie. Swem jy ooit in daardie gat?”

“Dikwels. Maar net ’n goeie swemmer kan dit waag. Sover menseheugenis strek, het hulle nog nooit die bodem gekry nie.”

Ria kyk na die donkergroen water en ril. Sy het nie verniet ’n voorgevoel van onheil gehad nie.

“Die waterval is op sy mooiste in die somer wanneer die rivier afkom. Wanneer die wind die water terugdruk oor die rotse, maak dit ’n sproei, ’n wasigheid soos ’n bruid se sluier, wat veral op ’n maanligaand ’n onvergeetlike gesig is. Hy aarsel, dan vervolg hy: “Volgens oorlewering is daar ’n gees wat soms op maanligaande hier by die waterval verskyn, gewoonlik wanneer een van die Theron-familie in gevaar verkeer of gaan sterf.”

Sy kyk na hom om te sien of hy ernstig is, maar sy oë is peinsend op die donker water gevestig. Dis of hy vir ’n oomblik van haar teenwoordigheid vergeet het.

“Het jy al die gees gesien?” vra sy agterdogtig.

Hy glimlag effens. “Op ’n maanligaand sien ’n mens soms vreemde dinge, maar of dit altyd werklikheid is of maar net ’n skim van jou verbeelding kan niemand sê nie. Ek het jou maar net van die legende vertel.”

Maar sy wil nog meer weet. “Wie is die gees? Weet julle?”

“Volgens die oumense is sy ’n mooi jong meisie wat op trou gestaan het, maar haar verloofde is kort voor die troue deur rondloper-Boesmans vermoor. Sy was rasend van verdriet en het een maanligaand in haar trourok hier by die waterval verdrink. Haar lyk is nooit gevind nie. Maar stap saam, dan gaan wys ek jou hoe dit onder lyk.”

Saam klim hulle teen die steil wal langs die krans af. In die krans is daar ’n diep grot wat met die eeue deur die wind en die malende vloedwaters uitgekalwe is.

“Hier bêre ons maklik ’n duisend skaap in buitengewoon koue weer,” sê Paul. “Ons kry dikwels kapok in hierdie wêreld. Veral wanneer die skape net geskeer is of as die lammers nog jonk is, is hulle nie bestand teen die koue en reën nie. Maar kom ons stap verder.”

Terwyl hulle stap, wys hy haar hoe hulle die rivier opgedam het sodat hulle soveel moontlik van die kosbare water kan opvang en vir besproeiing kan gebruik. Hy wys haar ’n pragtige klofie vol varings – groen, klam en koel, selfs op ’n warm somerdag. Wanneer die aronskelke in die lente blom, moet dit ’n lieflike gesig wees.

“My pa het my van jongs af geleer dat waar jy die natuur help, gee die natuur aan jou terug. Maar waar jy afbreek of verwaarloos, help die natuur net so fluks om af te breek,” sê Paul.

’n Groot populierbos is aan die een kant van die rivierbedding aangeplant en hulle gaan sit op ’n plat klip om ’n rukkie te rus. Dis stil in die bos, ’n wonderlike, diep stilte wat haar omvou. Johannesburg met sy rustelose gewoel en gejaag is baie ver weg, ’n ander wêreld. ’n Bosduif begin saggies koer en sy hoor die gekap-kap-kap van ’n houtkapper verder af in die bos.

“Die voëls het my vanoggend wakker gesing,” sê sy vir Paul. “Dit het baie lank laas gebeur. Maar ek het nie ’n piet-my-vrou gehoor nie.”

“Die piet-my-vrou is reeds weg – die reën het te lank na sy sin weggebly. Nog net ’n rukkie, dan vertrek die swaeltjies ook. Dan kom die winter.”

Sy dink aan die kaal, verskroeide veld en die leë damme, en dis nie moeilik om sy gedagtegang te volg nie.

Dan glimlag hy meteens en sê: “Wie weet, miskien bring jy vir ons die reën wat ons so nodig het.”

“Ek hoop so.” Sy aarsel, dan sê sy: “Neef Paul, ek het iets op die hart. Kan ek maar reguit praat?”

Hy kyk na haar en die blou oë – dieselfde oë as sy suster, net warmer – is ondersoekend. “Wat wil jy sê, niggie?”

“Ek wil net sê, dis vriendelik van julle om my hier op Towerwater te ontvang, maar ek wil nie van julle gasvryheid misbruik maak nie.”

“Dis vir ons ’n eer en ’n plesier om jou hier op Towerwater te hê en ek hoop jy gaan lank by ons kuier.”

“Spot jy nou met my?”

“Ek spot nie. Ons is trots op ons skryfsterniggie. Ons wil jou graag help om die inligting vir jou boek te kry. Het Emily jou gesê ek neem jou vanoggend Dankbaarheid toe om met oom Pieter-hulle kennis te maak? Hy is al een van die ou garde wat nog oorbly – hy word binnekort ses-en-tagtig – en hy is die een wat jou die beste sal kan help. Hy ken die geskiedenis van die Theron-familie beter as enigiemand anders en hy besit heelwat dokumente en briewe uit die ou dae.”

“Dit klink wonderlik, baie dankie. Woon hy en sy vrou alleen op Dankbaarheid?”

“Hy en tannie Cora woon in die ou huis. Sy oudste seun, Carel, is ’n paar jaar gelede oorlede en oom Pieter se kleinseun, ook Pieter, woon nou in die groot huis en neem die boerdery waar.”

“Wie is daar nog wat ek moet ontmoet?”

Hy vertel haar kortliks van die ander Therons – oom Hugo en Aunt Mildred wat op The Gables woon, oom Tommie en tannie Mieta van Jacobshoogte, en al die ander familie wat sy nog sal ontmoet. Hy gee net die breë trekke, die res sal sy self moet invul.

“Ek sien uit daarna om hulle almal te ontmoet,” sê sy. “Wie woon nou op Jonkmanshoop?”

“Jonkmanshoop bestaan nie meer nie. Oom Hugo-hulle het dit jare gelede verdoop na The Gables.”

Ria kyk hom verbaas aan. “Is dit moontlik? En julle het dit toegelaat?”

Hy haal sy skouers op. “Oom Pieter was diep gegrief, maar Aunt Mildred wou dit so hê en dit was die einde van die saak.”

“’n Sterk persoonlikheid, dié Aunt Mildred?”

Hy grinnik effens en daar is ’n glinstering in die blou oë. “Nogal – haar familie besit ’n hele paar plase in Colesberg se wêreld en is skatryk. Hulle boer met skape en teel resiesperde.”

“Ek sal onthou. En oom Tommie-hulle?”

“Tannie Mieta het jare gelede ’n ernstige senuwee-instorting gehad en was lank in ’n inrigting. Hulle enigste seun is in die veld deur die weerlig doodgeslaan en sy het nooit heeltemal van die skok herstel nie.”

Ria kyk peinsend op in die koel groen blare bokant haar kop. Hoe het Mabel Stark gesê? “Ons kan nie kla nie, hier in die woonstelgebou is nie ’n gebrek aan drama en opwinding nie.” Dit wil voorkom asof sy hier ook genoeg drama en opwinding sal teëkom.

Sy wys met haar hand na die blou berge wat suidwaarts lê. “Wat is die naam van daardie berge?”

“Dis die Sneeuberge. Spitsberg, die hoogste kruin, is oor die seweduisend voet. Op ’n helder dag het jy ’n wonderlike uitsig oor die valleie en vlaktes.”

“Kan ’n mens tot bo klim?”

“Maklik. Spitsberg vorm deel van die grens tussen ons en Jacobshoogte – dis oom Tommie-hulle – en as seuns het ons dikwels daar bo op die kruin gaan vleis braai. Ek klim dit nou nog gereeld drie, vier keer per jaar uit. Ek hou van die klim en ons moet gereeld gaan kyk hoe dit daar lyk. Daar is baie droë hout op die berg en ons moet oppas vir brande. So ’n bergbrand is gevaarlik en moeilik om onder beheer te kry. In my pa se dae het hulle eenkeer twee dae en twee nagte aanmekaar vuurgeslaan. En hulle was net almal terug by die huis toe begin die brand weer.”

“As jy weer eendag die berg uitklim, sal jy my saamneem?” vra Ria.

“As jy seker is jy kan tot daar klim,” sê hy, maar hy glimlag.

In stilte stap hulle terug huis toe. Daar is nog baie vrae wat sy wil vra, maar vir een oggend is dit seker genoeg. Toe hulle by die huis kom, sê hy: “As jy ’n stil plekkie soek om te werk, is my studeerkamer tot jou beskikking. Kom, ek sal jou wys.”

Sy stap saam met hom na ’n vertrek wat op die stoep uitgaan. Dis ruim, met groot vensters na die ooste en noorde. Daar is ’n groot stinkhoutlessenaar en ’n paar gemaklike leerstoele. Bokant die kaggel hang ’n halfdosyn gewere en daar is ’n mooi gebreide springbokvel op die blink vloer, maar wat haar dadelik tref, is die rakke en rakke vol boeke.

“Maak jouself tuis,” sê hy. “Ek wil net met een van die werksmense gaan praat.”

Sy kyk met belangstelling na die gevulde boekrakke. Buiten tydskrifte en boeke oor boerdery is daar ’n ryk verskeidenheid, ook die jongste boeke van belang in Engels en Afrikaans. Selfs digbundels en dramas. Sy sien ook monsters wol in plastieksakkies, ’n versameling halfedelgesteentes en talle silwer bekers, almal blink gepoets. Dis die vertrek van ’n wakker, belese, denkende boer met ’n wye belangstelling in die lewe.

Daar hang ’n olieverfskildery van Paul teen die muur en sy stap nader om daarna te kyk. Dis ’n uitstekende werk, met simpatie en insig geskilder. Mooi sonder om sentimenteel te wees.

Ria hoor ’n geluid agter haar en draai om. Dis Mona wat by die studeerkamer ingekom het. Sy het ’n blou, geruite rok aan wat die diepblou van haar oë beklemtoon en haar hare is netjies geborsel. Haar gesig is stil en geslote.

“Goeiemôre. Ek bewonder net die skildery van Paul. Wie het dit geskilder?”

“Een van Paul se vriende. Skilder jy ook?”

“Nee, maar ek stel baie belang in die skilderkuns. Okkie, die man met wie ek getroud was, was ’n skilder en ek het baie by hom geleer. Stel jy ook belang?”

Mona haal haar skouers op. “Waarom is jy van jou man geskei?” vra sy.

Die woorde is sonder simpatie, en ’n oomblik aarsel Ria. Dan sê sy stil: “Waarom skei ’n mens gewoonlik? Omdat jy besef dat jy ’n fout gemaak het, dat julle nooit saam gelukkig kan wees nie.”

“Waar is jou gewese man nou? Sien jy hom ooit?”

“Hy is weer getroud, kort nadat ons geskei is, en ek het hom nooit weer gesien nie. Hy was jare lank in die buiteland. Later het ek gehoor hy woon in Durban. Ek het geen idee waar hy nou is nie.”

“Paul se vrou het verdrink – dit was ’n groot tragedie. Hy sal nooit weer trou nie.”

Ria antwoord nie. Wat kan sy in elk geval sê?

Dan vra Mona: “En jy, Ria, is jy nie van plan om weer te trou nie?”

Ria kyk’n oomblik na haar, dan sê sy met ’n glimlag: “Ek het nie hierheen gekom om ’n man te soek nie, Mona. As ek wil trou, kan ek. Ek het baie mansvriende in die stad. Maar my lewe is vol en besig, en ek is doodgelukkig soos ek is. Daar is op die oomblik iemand van wie ek baie hou en miskien trou ek met hom wanneer ek teruggaan. Ek dink nog daaroor.”

Sy sien die verligting op Mona se gesig en draai vererg weg. Dink die vrou sowaar sy het Towerwater toe gekom het om haar liewe broer van haar af te rokkel?

Toe hulle opstaan van die ontbyttafel sê Paul: “Ons ry oor ’n uur Dankbaarheid toe. Die mense verwag ons vir tee.” Hy kyk na Ria en vervolg: “Jy lyk baie mooi, nig Ria, maar jy moet liewer ander klere aantrek vir ons kuier op Dankbaarheid. En moet liewer nie voor oom Pieter en tannie Cora rook nie.”

Ria bloos verleë en voel gekrenk. Natuurlik was sy van plan om ander klere aan te trek. Dis nie nodig vir Paul Theron om aan haar voor te skryf wat om aan te trek nie.

Katy, Mona se bediende, is in haar kamer besig om af te stof.

“Ek het die klere uitgepak en opgehang,” sê sy. “Die onderklere het ek in die laaikas weggepak. Die kissie met die juwele het ek in die hangkas gebêre. Miss Ria het baie mooi goed – ’n mens kan sommer sien jy het goeie smaak.”

Ria wil haar eers vererg vir die vrou se voorbarigheid – sy het geen reg om in haar klere en juwele te krap nie – maar dan bedwing sy haar. Dalk wou sy net hulpvaardig wees en sy wil nie onnodig vyande maak nie.

“Dankie, Katy,” sê sy so vriendelik as wat sy kan. “Ek was van plan om dit nou te kom doen. Wat het jy met my boeke en papiere gemaak? Onthou tog asseblief dat julle nooit van my papiere en goed mag weggooi nie. Wanneer ek daarmee klaar is, sal ek dit self opskeur en in die snippermandjie gooi.”

“Ek sal sorg dat niemand daaraan raak nie. Miss Mona sê vir my Miss Ria skryf boeke – ek dink dit is ’n wonderlike gawe. En kom Miss Ria nou ’n boek oor Towerwater skryf?”

“Ek het gekom om met my familie kennis te maak. Miskien, as ek die nodige inligting kan kry, skryf ek nog ’n boek oor hulle.”

“Ek woon al twintig jaar lank hier op Towerwater. Ek kan Miss Ria baie van die mense vertel. Die ou master – dis nou Master Paul se pa – was ’n goeie man en het sy werksmense goed behandel. Hy het vir ons ’n kerkie gebou en ’n skool vir ons kinders, en hy het selfs ’n onderwyser gekry om hulle te leer.”

“Wat het van die kerkie geword?” vra Ria.

“Ons gebruik dit nog gereeld. En ons mense woon nog steeds in die huise wat hy vir ons gebou het. Maar Master Paul sal dit seker nog alles vir Miss Ria gaan wys.”

“Ek sal dit graag wil sien,” sê Ria. Sy haal haar dosie met naelpolitoer uit die kas en begin die rooi naellak sorgvuldig van haar naels verwyder.

’n Rukkie stof Katy in stilte af terwyl sy Ria tersluiks dophou. Ná ’n rukkie sê sy: “Ek het Miss Winnie – dis Master Paul se oorlede vrou – ook geken. Ek was die dag hier toe sy verdrink het. Daar was ’n verskriklike storm in die berge daardie dag. Ek het nog nie vantevore so iets gesien nie. Ek het haar nog probeer keer toe sy wou ry – sy het ’n kind verwag en moes haarself stil hou – maar sy wou nie luister nie. Sy het volgehou sy het ’n boodskap gekry dat Master Paul in die veld seergekry het en dat sy hom moet gaan haal.”

Ria kyk op na die vrou. Sy wil nie luister nie, maar sy kan haarself nie help nie.

“Dit het toe nog nie hier by ons gereën nie – dit het later gekom, emmers en emmers en emmers vol reën – maar die rivier het reeds afgekom en die motor het omgeslaan en sy het verdrink. Die snaaksste van alles was dat daar nooit so ’n boodskap was nie. Master Paul was die hele tyd by die waterval besig om ’n klompie ooie met hulle jong lammers in die grot in te vat. Toe hy by die huis kom en hoor wat gebeur het, is hy dadelik agter haar aan, maar dit was toe al te laat. Hy en die bure het die hele nag in die reën na haar gesoek, maar hulle het haar lyk eers die volgende dag gekry.”

“Die arme mense,” sê Ria sag. “Wat ’n tragedie.”

“Ons het almal geweet iets gaan gebeur. Ou Mof, Geelbooi se pa, is met die helm gebore en hy het twee keer daardie week ’n gedaante by die waterval gesien. Hy het Master Paul daarvan vertel, maar dié het gesê hy glo nie aan spoke nie en Mof het seker maar weer te diep in die bottel gekyk.”

Sy haal haar skouers op: “Jy kan sê wat jy wil, maar dit was ’n voorbode – ek is seker daarvan.” Sy steek die stoflap in haar sak, kyk ’n oomblik na Ria en sê dan weer: “Die mense op Towerwater praat nie graag van hierdie dinge nie, daarom het ek dit maar gedoen. Miss Winnie was nog jonk, sy was maar twintig jaar oud toe sy getroud is, en sy kon Miss Mona nie verdra nie. Miss Winnie was ’n bietjie snaaks – sy het aan haar senuwees gely – en sy kon met tye vreeslik skree en te kere gaan. Sy wou gehad het Master Paul moet vir Miss Mona wegstuur – sy het gesê sy is bang haar kind sal gebreklik wees soos Miss Mona – maar hy wou dit natuurlik nie doen nie. Towerwater is net soveel Miss Mona se huis as syne. En enigiemand wat Miss Mona iets aandoen, sal gestraf word.”

Daarmee draai Katy om en stap by die kamer uit. Ria sit roerloos, diep ontsteld. Dis of daar skielik ’n koue wind oor haar waai en sy is bewus van ’n gevoel van onheil. Was daar ’n waarskuwing of bedekte dreigement in Katy se laaste woorde?

’n Lang ruk sit sy daar in die stoel en dink en droom, dan trek sy haar skryfblok nader. Sy het lus om met haar broer Danie te gesels en hom te vertel van alles wat sy hier gesien en aangetref het. Darem nie heeltemal alles nie – beslis nie die storie wat Katy haar nou net vertel het nie. Danie sal dink sy is besig om te fantaseer.

Sy skryf so lekker dat sy byna haar tyd verspeel en sy moet gou maak om betyds klaar te wees. ’n Oomblik kyk sy na haarself in die hangkas se groot spieël. Sy het ’n wit broderie anglaise-rokkie aan met moue wat tot by die elmboë strek en ’n breë blou fluweellint om die middel. Haar roesbruin hare is in ’n netjiese rol gekam, haar lippe ’n sagte pienk. Geen oogskaduwee of ander grimering nie. Sy knik goedkeurend; selfs Paul Theron sal nie fout met haar kan vind nie.

Sy kry hom in die studeerkamer, besig om koerant te lees. Sy merk dat hy ook netjies lyk in ’n grys pak met ’n mooi das. Sy stap tot voor hom en sê: “Tevrede?”

Hy kyk op, maar antwoord nie. Sy hou haar hande na hom uit sodat hy kan sien dat sy selfs die rooi naellak met ’n stemmiger kleur vervang het.

“Ek het ’n skoon sakdoek ook,” sê sy en wys dit vir hom. “Is daar miskien nog iets wat ek vergeet het?”

’n Lang oomblik kyk hy na haar. Daar is nie ’n sweem van ’n glimlag op sy gesig nie. “Jy lyk baie mooi,” sê hy dan. “’n Prentjie van onskuld. Ek hoop nie jy sal die rol te moeilik vind nie.”

Sy wil haar vererg, maar dan glimlag sy liefies terwyl sy haar sakdoek na hom uithou. “Ek hoop nie die parfuum is te gesofistikeerd vir Dankbaarheid se mense nie,” sê sy beleefd.

Ewe ernstig ruik hy daaraan, dan skud hy sy kop. “Ek dink dis net reg. So ’n tikkie sofistikasie is net genoeg om ’n mens te laat wonder of die meisie regtig so onskuldig is soos wat sy lyk.”

Sy kyk agterdogtig na hom, maar sien dan die glinstering diep agter in sy oë en ontspan. Hy staan op, tel die motorsleutels van die lessenaar af op en vervolg: “Ek wou jou nie kwaad maak toe ek vanoggend gesê het jy moet ander klere aantrek nie. Ek het dit om jou eie ontwil voorgestel. Oom Pieter is oud en konserwatief, en as hy om die een of ander rede ’n hekel in die stadsniggie kry, kan jy maar net sowel huis toe gaan. Jy sal niks uit hom kry nie. Aan die ander kant, as hy van jou hou, sal hy enigiets vir jou doen.”

“Ek was self van plan om ander klere aan te trek,” sê sy styf.

Hy glimlag. “Nou waarom is jy dan vies?”

Sy hoor Mona se skuifelgang buite die deur en draai om. Mona het nog haar blou, geruite rok aan, maar sy dra nou ’n wit hoedjie en wit handskoene en hou ’n wit handsakkie met albei hande vas. Sy kyk na Ria en daar is ’n vreemde uitdrukking op haar gesig – sy lyk soos een wat helder oordag spoke sien. Soos in ’n droom kom sy nader en saggies, byna liefkosend, raak sy aan Ria se wit rok en die blou fluweellint.

“Dis ’n mooi rok,” sê sy spontaan. “Ek hou van die lint.” Skielik is dit of sy tot besinning kom. Sy trek haar hand terug en vra koud: “Sit jy nie ’n hoed op nie?”

Ria kyk vraend na Paul. “Moet ek?”

“Dis nie nodig nie,” sê hy bruusk. “Is Emily reg? Kom ons ry.”

Oom Pieter en tannie Cora het hulle op die koel stoep van Dankbaarheid se ou huis ingewag. Die huis is wit gepleister en het groen luike en ’n veranda reg rondom. Tweehonderd tree verder staan die sonnige, moderne huis waar oom Pieter se kleinseun met sy gesin woon.

Oom Pieter is ’n lang, skraal man met spierwit hare en ’n fyn, edel gesig. Hy lyk broos en tengerig, asof die eerste harde wind hom kan wegwaai, maar sy blou oë is helder en wakker. Dis vir Ria of sy ondersoekende blik tot in haar diepste wese deurdring. Tannie Cora is ’n paar jaar jonger, met ’n sagter, vriendelike gesig, maar ook sy het daardie amper deurskynende broosheid wat met hoë ouderdom kom.

“Jy trek op die Therons,” sê oom Pieter terwyl hy haar hand met albei syne druk. “Jy lyk na jou ma en sy was die ewebeeld van my suster Mattie. Maar waarom kom jy nou eers, kind? Waarom het jy nie lankal gekom om met jou familie kennis te maak nie?”

“Ek wil al baie lankal kom, oom Pieter,” sê sy met ’n glimlaggie. “Ek is regtig bly ek is uiteindelik hier.”

Terwyl hulle tee drink, vra hy haar uit oor haar familie. Hy verneem na haar pa en na haar broers en hulle gesinne, dan sê hy: “En jy, my kind, jy is tog seker ook getroud? Vertel my van jouself.”

“Ek het nie ’n gesin nie, oom Pieter, behalwe my pa en my broers,” sê sy huiwerig. Stil vervolg sy: “Ek is jare gelede van my man geskei en woon alleen in ’n voëlhokkie in een van daardie wolkekrabbers in Johannesburg. Nou skryf ek maar om myself besig en aan die lewe te hou.”

Hy kyk lank na haar. “Dis ’n wonderlike gawe,” sê hy dan sag. “So is daar altyd kompensasies. En nou wil jy ’n boek oor ons kom skryf?”

Ria lag. “Ek sal dit nie waag nie. Nee, oom Pieter, ek het gekom om met my familie kennis te maak. Maar ek is baie geïnteresseerd in ons voorsate en as ek genoeg gegewens kan kry, wil ek graag ’n boek oor hulle skryf. Daar is veral een, groottante Sophia Maria …”

Hy knik en die blou oë glinster van genot. “’n Kleurryke en interessante mens, daardie Sophia Maria. Drink net jou tee, dan kom jy saam met my studeerkamer toe.”

Terwyl hulle nog besig is om tee te drink, kom oom Pieter se kleinseun, Pieter, ook daar aan om met die stadsniggie kennis te maak. Hy is nog jonk, seker so drie-, vier-en-twintig, dink Ria, en is ’n sterkgeboude man met breë skouers.

“Waar is Peggy?” vra Emily belangstellend.

“Op die dorp, soos gewoonlik,” sê Pieter skouerophalend.

“Sy het vanoggend ’n vergadering,” verduidelik tannie Cora paaiend. “Sy bring sommer vanmiddag die kinders huis toe.”

“Wanneer sy klaar tennis gespeel het,” sê Pieter. “Nou ja, ek kan haar seker nie kwalik neem nie. Sy verlang na die kinders en dis maar stil hier op die plaas.”

Hy draai na Paul en sê: “Ek is bly jy het gekom. Ek wil graag hê jy moet ’n bietjie na my skape kom kyk. Ek is bekommerd oor daardie jong rammetjies wat ek ’n paar maande gelede gekoop het.”

Paul stap saam met Pieter weg en ná ’n rukkie verdwyn Emily, Mona en tannie Cora ook. Oom Pieter nooi Ria om saam met hom studeerkamer toe te gaan. Die vertrek is klein, eenvoudiger as Paul se studeerkamer op Towerwater, maar ook hier is die rakke vol boeke en tydskrifte. Teen die muur hang ou familieportrette en die geraamde foto’s van kampioenmerinoramme.

Oom Pieter nooi haar om te sit. Daar lê ’n mooi rooshoutkissie op die lessenaar en sy wonder opgewonde of die kosbare briewe en dokumente daarin gebêre is.

Hulle gesels oor haar skryfplanne en oom Pieter sê: “Dis asof jy in antwoord op my gebede kom, kind. Ek voel lankal dat hierdie dinge neergeskryf moet word, anders is dit vir die nageslag verlore. Dis ’n interessante geskiedenis, die geskiedenis van die Therons wat hulle op Donkerfontein gevestig het. Paul Theron, ons ou voorsaat, was ’n buitengewone man met ’n sterk persoonlikheid. Hy was diep godsdienstig en die leier van die gemeenskap. Aan die begin het hulle baie ontberings gehad; hulle het veral baie las gehad van Boesmans wat gedurig geplunder en gemoor het. Baie boere het moedeloos geword en tou opgegooi en weggetrek, maar die Therons – die Therons van vanmelewe – was taai, koppige mense en hulle het gebly waar hulle was en gehelp om die wêreld mak te maak.”

Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy peinsend: “Ek is bekommerd as ek aan die toekoms dink. Vandag se jong mense is anders; hulle het te maklik grootgeword. Hulle is bang vir swaarkry en vlug na die stede waar hulle ’n maklike heenkome sal vind. Die dinge waarvoor hulle voorouers met bloed en sweet geveg het, vertrap hulle onder hulle voete. Dis of hulle geen besef het van die erns van die lewe nie. My kleinseun, die een wat jy netnou ontmoet het, is dol oor rugby en motorkarre, en tussen die twee kry hy maar min tyd vir die boerdery. Hy speel nog steeds rugby en in die wintermaande is hy maar selde naweke tuis. Kort-kort koop hy ’n nuwe motor, en die nuwe een is altyd sterker en vinniger as die vorige een. Sy vrou is verveeld op die plaas en bring die meeste van haar tyd in die dorp deur. Waar gaan dit alles heen?”

“Elke geslag het sy eie lewenswyse, oom Pieter,” sê Ria saggies, paaiend. “Ek is seker onder daardie Therons van vanmelewe was daar ook lafaards. Vandag se jong mense is anders – ek weet, ek is ook een van hulle – maar hulle lewe in ’n ander wêreld. Hulle hoef nie meer te veg vir hulle bestaan nie; daar is nie meer straftogte teen die Boesmans nie; hulle soek en vind avontuur op ander maniere. Maar diep in hulle harte brand dieselfde vuur wat in hulle voorvaders se harte gebrand het.”

Oom Pieter skud sy kop. “Tannie Cora sê ook ek is verniet ontsteld – die kinders is nog jonk en die tyd sal wysheid en besinning bring. Ek twyfel lankal. Pieter is agt-en-twintig jaar oud. Ja, ek weet hy lyk jonger, maar hy het nog nooit ’n dag swaargekry nie. Dis tyd dat hy en sy vrou hulle pligte en verantwoordelikhede besef. Ek kyk hulle maar so deur – die nakomelinge van daardie stoere ou voorvader – en nêrens sien ek een wat sy gelyke is nie. Ek het baie van Paul verwag, maar hy het my ook teleurgestel. Sedert sy vrou se dood het hy hom feitlik aan die samelewing onttrek. Hy woon soos ’n kluisenaar saam met sy suster en stiefma daar op Towerwater. Dink hy nie aan die toekoms nie? Waar is die kinders wat eendag die ou familieplaas moet erf? Hugo is totaal verengels; hy het Jonkmanshoop na The Gables verdoop – The Gables, bid jou aan! Watse naam is dit? Sy kinders het hy na Engelse skole en universiteite gestuur – hulle kan vandag skaars hulle eie taal behoorlik praat. Maar wag, die dokter het gesê ek mag my nie ontstel nie. Dis maar goed jy wil nie ’n boek skryf oor die huidige geslag van die Therons nie, dit sou maar bra oninteressante leesstof uitgemaak het.

“In daardie houtkissie sal jy briewe en ou geskrifte en portrette kry. Bestudeer hulle, ek is seker jy sal hulle baie interessant vind. Ek sal jou boeke gee om te lees en jou help sover ek kan om die ou geslag weer te laat leef. Miskien sal hulle geskiedenis ’n aanmoediging wees vir vandag se jong mense wat besig is om hulle erfenis vir ’n pot lensiesop te verruil.”

Ria staan op en stap na die lessenaar waarop die kissie staan. Met hande wat effens bewe van opwinding sluit sy dit oop en lig die deksel versigtig op. Met blink oë kyk sy na die kosbare inhoud van die kissie.

“Dankie, oom Pieter,” sê sy sag, na aan trane. “Dis vir my ’n wonderlike voorreg om toegang tot hierdie briewe en geskrifte te kan kry. Ek hoop ek sal daarin die inspirasie kry om ’n mooi verhaal te kan skryf.”

“Jy sal. Ek het ’n gevoel dat jou koms na Towerwater van baie groot betekenis vir ons almal gaan wees, dat die Liewe Heer jou met ’n doel hierheen gebring het. Presies wat daardie doel is, sal net die tyd ons kan leer.”

Sondagmiddag het die familie op Towerwater kom koffie drink om met die skryfsterniggie uit die stad kennis te maak. The Gables se mense was in die Kaap en oom Tommie se vrou was siek en hulle kon nie kom nie, maar oom Pieter-hulle was almal daar, en ’n hele paar van die familie wat op die dorp woon. Almal was gretig om ná soveel jare weer op Towerwater te kuier.

“Ek is bly jy het gekom,” het ’n oujongnooitante vertroulik vir Ria gefluister. “Ek was laas met Winnie se begrafnis hier en dis byna agt jaar gelede. ’n Mens het net gevoel jy is nie meer welkom hier op Towerwater nie. Ek hoop dinge sal van nou af anders wees. Ek is seker jy is met ’n doel hierheen gebring.”

Oom Pieter het ook so gesê, dink Ria effens onrustig. Sy het hierheen gekom om met die familie kennis te maak en gegewens vir ’n verhaal te kry. Sy het geen begeerte om betrokke te raak by Towerwater se mense en hulle tragiese geskiedenis nie. Sy het self genoeg probleme; sy wil nie nog met ander mense se probleme opgesaal sit nie.

En tog hou die wêreld hier vir haar ’n groot bekoring in. Wat die toekoms ook al mag inhou, sal sy nooit jammer wees sy het Towerwater toe gekom nie.

Tryna du Toit-omnibus 4

Подняться наверх