Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 4
Hoofstuk 1
ОглавлениеDit is ’n skroeiwarm dag teen die begin van Januarie. Lydia Vorster, wat al die hele dag saam met drie ander vrouens en twee woelige kleuters in ’n benoude tweedeklaskompartement ingehok sit, dink dat dit seker die langste dag is wat sy nog beleef het.
Die trein is reeds ure laat, maar kruip ewe tydsaam tussen die Hoëveldse rantjies deur asof dit hom nie die minste skeel of hy vandag of môre of volgende week eers by sy bestemming aankom nie. Die vrouens praat nie veel nie. Almal is moeg en tam en slegs bewus van die somerson wat so genadeloos op die aarde neerbrand, en die ure wat so traag verbyskuif.
Net Kassie en Emmie, die twee kleuters, is onvermoeid. Hulle is nie ’n oomblik stil nie. Hulle klouter in die kompartement rond, val oor almal se voete, en eet en babbel en maak rusie vandat hulle vanoggend in Johannesburg saam met hulle ouma opgeklim het.
Lydia kyk na die bejaarde vrou wat teenoor haar sit en sien hoe moeg en warm sy lyk. Die grys hare is deurmekaar, die donkerblou linnepak vertrap en verkreukel, en daar lê ’n swart roetmerk oor haar regterwang. Vir haar was die dag seker eindeloos lank, maar sy het deurentyd liefdevol en geduldig gebly.
Die trein ruk skielik en Kassie, wat iets onder die bank gesoek het, kry ’n onverwagte stamp teen sy kop. Dit was ’n harde stamp en hy begin huil. In sy haas om by sy ouma te kom, val hy amper oor juffrou Krog se voete en Lydia sien die flikkering van ergernis wat oor die vrou se gesig gaan toe sy Kassie se vuil handjies van haar grys stofjas losmaak. Impulsief steek sy haar hand na die seuntjie toe uit.
“Kom, Kassie, kom sit by tannie, dan vertel ek vir jou ’n storie.” Maar Kassie hardloop na sy ouma toe, wat hom in haar arms toevou.
“Ek is jammer, mense,” sê sy. “Hulle is nog klein – julle moet hulle asseblief maar oorsien.”
Die lippe van juffrou Krog – ’n onderwyseres van Johannesburg wat by haar broer in die Breyten-Ermelo-distrik gaan kuier – sluit vaster opmekaar. Dit lyk of haar hande jeuk om die twee klein woelwaters, wat hulle nog die hele dag lank glad nie aan hulle ouma se sagte vermanings steur nie, ’n pak slae te gee. Haar dissipline op skool is seker onverbeterlik, dink Lydia. Sal sy ook eendag wanneer sy oud word so ’n suurknol wees – ’n verbitterde mens in wie se are die warm rooi bloed van die lewe lankal in asyn verander het? Die vader weet, sy voel nou al party dae so.
Sy vang skielik die ou dame se oog en glimlag bemoedigend. “Ons is amper by Breyten,” sê sy. “En dan is dit nie meer baie ver nie.”
’n Skoolmeisie, Corrie Gouws, wat ook saam met hulle reis, kyk verskrik op van die liefdesverhaal wat sy lees. “Is ons al by Breyten?” vra sy verbaas, en onrustig gly haar blik oor die landskap wat by die venster verbyskuif. Dan verslap sy effens. “Nog minstens twintig minute,” sê sy beslis, soos iemand wat reeds dikwels vantevore hierlangs gery het. Dan voeg sy giggelend by: “Maar ek sal seker moet begin regmaak. As Pa my so moet sien …”
Corrie is ’n groot, plomp dogter van sestien. Haar gesig is vol puisies en die rooisel wat sy opgeplak het, laat haar net opgetakel lyk. Lydia wens sy het die moed om vir Corrie te sê dat koue water en ’n gesonde dieet baie beter resultate sal afwerp. Die meisie het die grootste gedeelte van die dag in die gangetjie gestaan en gesels met ’n jong man in die kompartement langsaan, totdat hy ’n uur gelede afgeklim het. Toe het sy haarself weer in die een hoek van die kompartement onttrek, geheel en al verdiep in haar boek terwyl sy aanhoudend sjokolade en koekies en ander lekkernye verorber.
Corrie staan op en verdwyn weer in die gang, en Lydia sien die vlugtige meegevoel in die ouer vrou se donker oë. Sy oordeel nie net na die uiterlike soos juffrou Krog, wat Corrie nog die hele dag met koel minagting behandel, nie. Sy is bewus van die hunkering in die jong meisiehart na die mooi en onbereikbare dinge van die lewe, ’n hunkering wat sy agter ’n opgetakelde uiterlike en lawwe giggeltjie verberg.
Kassie gly skielik van sy ouma se skoot af en kom aarselend na Lydia toe. Sy gesiggie is nog bevlek van trane en die roet van die trein, maar die blou ogies lag al weer.
“Vertel vir my ’n storie,” sê hy skaam.
Sy tel hom op haar skoot en Emmie, wat besig was om die treinvenster met haar sakdoek blink te vryf, kom ook onseker nader. Lydia maak plek vir haar op die bank langs haar, en afwagtend kyk die twee na haar.
“Ek sal vir julle die storie van die drie varkies vertel,” begin sy. Uit ervaring weet sy dat alle kinders van dié geliefde storie hou.
Aandagtig luister die kinders, maar geleidelik het die helder jong stem sagter geword, en voor die einde van die tweede storie was Kassie reeds aan die slaap. Emmie het nog ’n rukkie uitgehou, maar in die middel van Doringrosie het sy skielik ’n lang gaap gegee en haar blonde koppie teen Lydia se arm gelê. ’n Paar oomblikke later is sy ook vas aan die slaap.
Hulle ouma glimlag dankbaar.
“Is hy nie te swaar vir jou nie, my kind?” fluister sy, maar Lydia skud net haar kop.
Corrie kom weer terug, haar gesig skoongewas en haar hare netjies gekam, en ’n paar minute later hou die trein by Breyten stil. Juffrou Krog se broer is daar met sy motor om haar te kom haal, en Lydia is bewus van ’n gevoel van jammerte vir haar. Wat sou haar so ’n kille, ongenaakbare oujongnooi gemaak het?
Daar is niemand om Corrie te ontmoet nie, en met haar tas in haar hand slenter sy na ’n spoorweghuisie wat regoor die stasie staan. Toe sy naby die huis kom, gaan die voordeur oop en twee klein, effens verwaarloosde kaalvoetseuntjies storm op haar af en neem die tas by haar. Daar is nie ’n teken van ’n blomtuin nie. Agter die huisie groei ’n lappie mielies en voor die deur druk die gras en onkruid tot teen die voorstoepie aan. Foei tog, dink Lydia toe die trein weer begin beweeg: dit is dan die werklikheid wat Corrie probeer ontvlug en waarna sy telkens weer moet terugkom.
Die son sak in die weste en die groen bulte van die Hoëveld is met goud bedek. Oor alles lê daar die diep stilte van die naderende nag, en effens onrustig wonder Lydia wat aan die einde van haar reis op haar wag. Dis die eerste keer dat sy in hierdie area kom; die mense na wie toe sy gaan, is volslae vreemdelinge.
Gesus deur die sagte geskommel van die trein slaap Kassie en Emmie nog rustig, en Lydia dink dat hulle ouma haar hande in die komende dae vol sal hê met die twee woelwaters. Boonop het sy nog die bekommernis van haar dogter wat siek lê in die hospitaal. Gelukkig dat die kinders ’n ouma het wat intussen vir hulle kan sorg.
Teer kyk sy af na die slapende seuntjie in haar arms en sy wonder of sy ooit die voorreg sal hê om ’n eie kind so vas te hou. Sal sy ooit weer ’n man kan liefhê en vertrou soos sy Tertius liefgehad en vertrou het? Sy twyfel. Tertius se hartelose bedrog het haar vertroue geskok, nie net in hom nie, maar in die ganse mensdom. As die liefde so vals is, wil sy niks verder daarmee te doen hê nie. Sy sal vervulling in haar werk soek.
Skielik verrys juffrou Krog se beeld weer voor haar oë en dis of daar ’n rilling deur haar gaan. Sal sy ook mettertyd so ’n eensame, verbitterde mens word?
Sy kyk op en vind die ouer vrou se oë op haar gerig.
“Dit was lief van jou om my so te help, my kind.”
Lydia skud haar kop en sê saggies: “Ek hou van kinders. Dis nie moeite nie.”
Die ouer vrou kyk ondersoekend na haar. Die jong meisie met die groot groenbruin oë, die lang swart wimpers wat so opvallend is in die bleek, skraal gesiggie en die mooi, gevoelige mond, het haar belangstelling gewek. Onverwags sê sy: “Jy sê jy gaan op Poortjie kuier? Is jy familie van die Serfonteins?”
“Ek ken hulle glad nie,” erken Lydia. “Ek is ’n verpleegster. Ek gaan om die ou dame op te pas.” Deels omdat sy graag wil weet, deels om die ouer vrou se gedagtes van haar eie probleme af te lei, vra Lydia: “Ken u hulle?”
“Almal ken die Serfonteins. En noudat tant Bettie Serfontein op haar sterfbed lê, wonder almal natuurlik wie Poortjie gaan erf.”
“Het sy nie kinders nie?”
“Tant Bettie is ’n oujongnooi. Sy was nooit getroud nie. Sy boer al jare lank alleen op Poortjie, met slegs die hulp van ’n voorman of bestuurder. Sy is ’n bekende figuur op Ermelo en ek is seker daar is baie wat haar sal mis as sy die dag nie meer daar is nie.”
“Dit klink of sy ’n interessante mens is. En ek het so ’n gevoel dat sy en Poortjie ’n interessante storie het.”
Die ouer vrou glimlag effens. “Jy is reg, my kind, en aangesien jy ’n tyd lank saam met die mense gaan woon, sal ek jou die storie vertel. Poortjie is een van die oudste plase in die distrik. Dit het aan tant Bettie se pa, oom Jakob Serfontein, behoort. Die oubaas was twee keer getroud. Tant Bettie en ’n seun, Jakob, is uit die eerste huwelik gebore en later is daar nog ’n seun, Erns, gebore. Nie een van die twee seuns het veel trek vir boerdery gehad nie en tot die oubaas se bittere teleurstelling het albei verkies om ander loopbane te volg.
“Die boere het destyds maar baie swaargekry. Oom Jakob het self geworstel om kop bo water te hou en niemand het die seuns eintlik verkwalik omdat hulle ’n ander heenkome wou soek nie. Oom Jakob het egter nog altyd gehoop dat een van hulle later, wanneer die boerdery te veel word vir sy kragte, terug huis toe sou kom.
“Dit was vir hom ’n kwaai slag toe sy oudste seun, Jakob, na ’n kort siekbed in Johannesburg aan longontsteking oorlede is. Hy het Erns weer gevra om sy werk in die stad te laat staan en terug plaas toe te kom, maar Erns het geweier. Selfs toe sy pa kort daarna self aan beroerte beswyk het, het hy nog geweier om plaas toe te kom. Hy het daarop aangedring dat tant Bettie die plaas verkoop sodat hy sy deel van die erfenis in kontant kan kry. Toe tant Bettie nie wou instem nie, het dit op ’n yslike rusie tussen hulle uitgeloop.
“Die uiteinde van die saak was dat tant Bettie besluit het om die ander erfgename uit te betaal en Poortjie self met die hulp van ’n voorman te bestuur. Dit het beteken dat sy swaar verbande op die plaas moes neem, maar Erns het vrede daarmee gehad. Solank hy net sy geld kry, was hy tevrede. Vir tant Bettie, wat die plaas hartstogtelik liefgehad het, was dit moeilike jare, maar sy het haar plek soos ’n man vol gestaan en geleidelik het dit beter gegaan. Sy het baie welvarend geword.
“Jong Jakob se vrou en dogtertjie – daar was ongelukkig nie ’n seun nie – het intussen weggetrek Boland toe, waar die vrou later weer getroud is. Daarna het tant Bettie jare lank nie weer een van hulle gesien nie, maar sy het tog in kontak met hulle gebly en later aangebied om die dogter universiteit toe te stuur.”
“En is daar nog ander erfgename behalwe Erns en die dogter?” vra Lydia.
“Erns is intussen oorlede. Daar is sy seun, Sam, en aangesien hy die enigste Serfontein-man is wat oorbly, sal tant Bettie dalk bereid wees om die verlede te vergeet en die plaas aan hom te bemaak. En dan is daar ook nog Frans Naudé, die voorman se seun. Hy was ’n skrander seun en na matriek het tant Bettie aangebied om hom vir twee jaar na ’n landboukollege te stuur op voorwaarde dat hy haar op die plaas sal kom help. Toe die pa weens swak gesondheid verplig was om dorp toe te trek, kon die seun sy plek op die plaas inneem.”
“Dit was gelukkig vir tant Bettie.”
“Ja, dit was. Die afgelope tien jaar neem Frans die boerdery vir tant Bettie waar en onder sy hande het die plaas gebloei en vooruitgegaan. Poortjie se waarde het intussen verdubbel en vervierdubbel. Tant Bettie het nog ’n plaas in die Bosveld aangekoop vir winterweiding en was verplig om nog ’n voorman te kry om Frans met die boerdery te help. Die afgelope tyd is daar sprake dat daar goud is in daardie deel van die wêreld – maar selfs sonder goud is Poortjie vandag ’n ryk erfenis.”
“Ek sien,” sê Lydia. “En hoeveel aspiranterfgename is daar nou op die plaas?”
“Hulle is almal in die omgewing. Jakob se dogter, Mercia, het omtrent ’n maand gelede gekom, kort nadat tant Bettie haar eerste ernstige hartaanval gehad het. Sam is mede-eienaar van ’n garage op die dorp. Frans Naudé woon natuurlik al baie lank op die plaas, die laaste tien jaar – vandat sy ouers weggetrek het – by tant Bettie in die huis.”
In stilte bepeins Lydia die verhaal en sy wonder of haar verblyf op Poortjie so stil en rustig sal verloop as wat dokter Theron voorspel het.
“Al wat ek nie kan verstaan nie,” sê die ouer vrou na ’n rukkie nuuskierig, “is waarom hulle ’n verpleegster uit Johannesburg vir tant Bettie moes laat kom.”
“Verpleegsters is op die oomblik maar skaars,” sê Lydia met ’n halwe glimlaggie, “en met die Kersvakansie is baie van hulle met verlof. Ons ou huisdokter, wat ’n goeie vriend van my pa was, het ’n broer wat dokter is op Ermelo. Hy het by hom gehoor dat die Serfonteins ’n verpleegster soek om tant Bettie op te pas. Ek het ’n tydjie gelede kwaai griep gehad en die dokter het gedink die verandering sal my goed doen.”
“Lewe jou ouers nie meer nie?” vra haar medereisiger besorg, en sy sien die skaduwee wat oor die jong gesig val.
“My ma is lankal oorlede en my pa is aan die begin van die jaar in ’n motorongeluk dood.”
“My arme kind. En jy is nog so jonk!”
“Ek is vier-en-twintig, oud genoeg om na myself te kyk.”
Die ouer vrou antwoord nie, en verdiep in haar gedagtes tuur Lydia na die verdonkerde veld terwyl sy dink dat haar pa se dood maar net die begin was van die ongeluk wat haar getref het. Haar pa was ’n prokureur, en na sy dood het hulle ontdek dat hy trustgeld gebruik het om mee te spekuleer. Hoewel sy vennote die saak geheim probeer hou het, het dit tog uitgelek. Sy glo nie vir ’n oomblik dat haar pa die geld probeer verduister het nie – hy was lief om ’n bietjie te spekuleer en die dood het hom net onvoorbereid gevang. Sy het dadelik die huis waarin sy grootgeword het in die mark gesit, en saam met die geld van haar pa se lewensversekering kon sy gelukkig die trustgeld terugbetaal.
Nadat sy die skuld betaal het, het daar baie min vir haar oorgebly, maar daaroor het sy haar nie bekommer nie. Sy was jonk en sterk en kon vir haarself sorg – en buitendien het sy nog vir Tertius gehad. Solank Tertius daar was, het sy vir alles kans gesien.
Maar Tertius, die jong dokter aan wie sy verloof was en met wie sy aan die einde van die jaar sou trou, het besluit dat haar goeie naam te veel skade gely het, en hy het die verlowing verbreek.
Dit was vir haar ’n verpletterende slag, veral so gou na haar pa se dood. Gelukkig het sy haar werk gehad om haar gedagtes af te lei, maar dit was asof iets hier binne-in haar doodgegaan het, asof sy alle dryfkrag en lus vir die lewe verloor het. Aan die begin van Oktober het sy griep gekry wat later in longontsteking ontwikkel het, en sy was byna drie weke lank in die bed. Dokter Theron was baie bekommerd oor haar en het haar ten strengste verbied om weer terug hospitaal toe te gaan voor hy sy toestemming gee. Dit was hy wat haar feitlik gedwing het om na Poortjie toe te gaan.
“Die werk sal nie swaar wees nie,” het hy belowe. “En die verandering en gesonde plaaslug sal jou goed doen. Ek wil sien dat jy spekvet en met rooi wange terugkom na ons toe.”
Dokter Theron het al die reëlings vir haar getref, en sy het alles sonder teëstribbeling aanvaar. Die nuus van Tertius se verlowing aan die dogter van een van sy oudprofessore het haar opnuut verbitterd en hartseer gemaak, en sy was eintlik ook maar te dankbaar om weg te kom uit die stad waar sy enige dag vir Tertius kon raakloop.
Het sy hom nog lief? wonder sy nou terwyl die trein die donker nag tegemoetstoom. Sy dink nie so nie. Dis tog nie moontlik om ’n man tegelykertyd lief te hê en te verag nie. Maar saam met haar liefde vir hom het baie dinge doodgegaan wat goed en mooi in die lewe was.
Die trein ruk onverwags en Emmie word wakker. Haar gebabbel maak Kassie ook wakker, en sy help om hulle te was en netjies te maak voordat hulle afklim.
“Ek hoop tannie se dogter sal gou gesond word,” sê sy nadat sy op die stasie gehelp het om hulle tasse aan te gee. “As daar ’n kans is, kom ek vir u kuier.”
Die oubaas wat hulle ontmoet – heel duidelik Kassie en Emmie se oupa – bedank haar vir haar hulp, en met ’n skielike gevoel van verlatenheid kyk sy hoe hy met sy vrou en twee kleinkinders oor die brug in die donkerte verdwyn.
Terwyl sy onseker op die perron staan en rondkyk, kom ’n jong man na haar toe aangestap.
“Juffrou Vorster?” vra hy en sy knik. Hy is ’n aantreklike man van iets in die dertig, taamlik kort, maar breed en sterk gebou. Hy groet haar vriendelik, en sy is bewus van sy donker, nuuskierige blik.
“Ek is Sam Serfontein, ’n broerskind van tant Bettie,” stel hy homself voor. “Frans was hier om jou te kom haal, maar die trein is alewig laat en hy moes teruggaan plaas toe. Frans verbeel hom Poortjie sal vergaan as hy nie daar is om persoonlik na alles te kyk nie.”
Sy kyk op in sy glimlaggende gesig en dink: dit is dan Sam Serfontein. Erns se seun, aspiranterfgenaam van Poortjie en mede-eienaar van ’n garage op die dorp.
“Is Frans ook ’n familielid?” vra sy onskuldig op ’n skielike impuls, en Sam Serfontein snork verontwaardig.
“Frans Naudé is glad nie familie van die Serfonteins nie. Hy is maar net tant Bettie se bestuurder, maar te oordeel na sy houding sou jy sweer Poortjie behoort aan hom en aan hom alleen. Net die een tas?” vra hy, en sy knik weer.
Al geselsend lei hy haar oor die brug na ’n groot swart motor wat daar naby staan.
“Hoe gaan dit met die pasiënt?” vra sy toe sy langs hom in die motor sit en hy wegry.
Hy haal sy skouers op. “Dit gaan nou weer beter, maar ek twyfel of tant Bettie weer sal opstaan. Sy is amper sewentig en haar hart is die afgelope jare nie sterk nie.” Lydia bly stil en hy vervolg: “Jy is jonger as wat ek verwag het, maar miskien sal dit help om die atmosfeer op Poortjie ’n bietjie op te vrolik. ’n Man kan dit die laaste tyd nie eens waag om te glimlag nie. Waar ’n plaas soos Poortjie op die spel is, is dit verstandiger om maar in jou pasoppens te bly.”
Sy stem is lig en sy glimlag effens in die donkerte, maar dis tog ’n nare gedagte dat die klomp soos aasvoëls sit en wag dat Bettie Serfontein doodgaan.
“Is Poortjie ’n mooi plaas?” vra sy sag. “Onthou, ek is ’n vreemdeling hier.”
Sam is maar te gereed om sy hart aan haar uit te stort. “Een van die beste in die distrik,” sê hy met nadruk. “En daar is ook nie ’n sent skuld op die plaas nie. Nou is daar ook nog sprake van goud in die distrik …”
Lydia luister terwyl hy uitwei oor Poortjie se aantreklikhede, en sy kan die versoeking nie weerstaan om te probeer uitvind wat hy dink van sy kanse om te erf nie.
“Ek verstaan tant Bettie was ongetroud. Wie is haar erfgenaam?”
“Dis wat ons almal graag wil weet, maar vervlaks of die ou heks – ekskuus, ek het dit nie so bedoel nie – maar vervlaks of tant Bettie wil praat! Na regte behoort die plaas na tant Bettie se dood na my toe te kom. Poortjie is die ou familie-plaas van die Serfonteins en ek is die enigste Serfontein-man wat vandag oorbly.”
“Het tant Bettie geen ander familie nie?” vra sy onskuldig, en effens suur antwoord hy: “Daar is natuurlik nog Mercia, oom Jakob se dogter, ook. Sy is ook ’n broerskind van tant Bettie. Maar sy is ’n vroumens en weet niks van boerdery af nie. ’n Paar duisend rand sal ’n baie gepaste erflating vir haar wees.”
“En tant Bettie weier om te sê wie haar erfgenaam is?”
“Sy lê soos ’n sfinks in die bed, kamtig dodelik siek.”
Dit was na tienuur toe hulle op die plaas aankom. Nuuskierig loer Lydia om haar rond, maar in die donkerte kan sy net die donker skaduwee van die huis onderskei, met die nog donkerder silhoeëtte van die hoë bome wat daaragter staan. Moeg en stram klim sy uit die motor, dankbaar vir die vriendelike lig wat nou uit die oop voordeur stroom. Meteens storm twee honde blaffend om die huis, en verskrik bly sy in haar spore staan.
Dan hoor sy ’n gebiedende stem: “Nero! Kaptein! Kom hier!”
Dadelik gehoorsaam die honde, en ’n man stap hulle uit die donkerte tegemoet.
“Jy moet die honde vasmaak, Frans. Ek sê jou hulle is gevaarlik,” brom Sam ergerlik. “Lydia, dis Frans Naudé, tant Bettie se bestuurder en regterhand.”
Dis te donker om die man se gesig te sien, maar sy hand sluit vas om hare en kalm antwoord hy: “Ek is jammer as jy geskrik het. Die honde het maar net kom kyk wie so laat op die plaas aankom. Maar kom in. Jy is teen dié tyd seker doodmoeg en flou van die honger. Kom, Sam, kom drink eers gou ’n koppie koffie voor jy teruggaan.”
“Ja, dankie, ek sal graag ’n bietjie koffie drink,” sê Sam koel.
Frans Naudé tel haar tas op, en hulle drie stap saam na die groot wit huis wat Lydia die volgende weke haar tuiste gaan maak.