Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 9
Hoofstuk 6
ОглавлениеLydia staan voor die spieël en bekyk haarself ondersoekend. Sy het ’n groen linnerok aan met wit sandale, en sy wonder of dit is omdat sy vir ’n verandering uit die wit uniform kon klim dat sy so lughartig en opgewonde voel. Frans het een van die buurvrouens gevra om die oggend by tant Bettie te kom sit sodat sy met ’n geruste hart kan saamgaan. Sy is vandag presies vyf weke op die plaas en dit is die heel eerste keer dat sy die uniform uittrek en haar pasiënt vir langer as ’n uur of twee aan die sorg van iemand buite die familie toevertrou.
Tant Bettie se toestand bly onveranderd. Party dae is sy soveel beter dat sy ’n hele ruk in die groot stoel voor die venster kan sit en selfs besoek kan ontvang; ander dae is sy te moeg om op te staan en lê sy die meeste van die tyd met toe oë, sonder om veel notisie te neem van wat om haar gebeur. Frans se kuiers is al wat haar dan laat opflikker, en stilswyend, haar donker oë stip op hom gerig, luister sy terwyl hy verslag doen van die dag se werksaamhede op die plaas. Fouché, die assistentbestuurder wat met sy gesin in ’n kliphuis ’n entjie van die hoofhuis af woon, het elke oggend kom hoor hoe dit gaan, en af en toe, wanneer sy ’n goeie nag gehad het, het tant Bettie hom vir ’n paar minute kamer toe laat kom. Gewoonlik was sy egter tevrede om alles aan Frans oor te laat.
Mercia het elke dag ’n paar uur by tant Bettie gesit en lees of teken sodat Lydia ’n entjie kon gaan stap of agterstallige slaap kon inhaal, maar op Frans se instruksie kon hulle tant Susie nie alleen by tant Bettie los nie.
Af en toe het Lydia tant Susie wel toegelaat om ’n bietjie met haar pasiënt te gesels, maar haar gebabbel het tant Bettie gou vermoei en dan was Lydia verplig om haar op die een of ander voorwendsel uit te stuur.
Behalwe dat hy haar blykbaar nie in die siekekamer vertrou nie, was Frans geduldig met tant Susie, maar Mercia het haar sover moontlik vermy.
“Ek wens Frans wil die ou skepsel huis toe stuur,” het sy net die vorige dag weer teenoor Lydia gekla. “Wanneer sy met daardie hol blou oë na my kyk, kry ek skoon die ritteltit. Ek kry al glad nagmerries. Ek het nou die nag gedroom ’n spook jaag my oor die bulte en ek was yskoud en papnat gesweet toe ek wakker skrik.”
“En tant Susie was die spook?”
“Wel, sy het net sulke hol oë soos tant Susie gehad,” het sy gesê en Lydia het geglimlag. “Jy kan maar lag, hoor, maar ek is doodernstig.”
“Jy verbeel jou dinge,” het Lydia saggies gesê. “Dis net party dae as sy nie lekker voel nie dat haar oë so ’n bietjie snaaks lyk.”
Mercia het haar skouers opgetrek.
“Sy haat my.”
“Ag, Mercia! Waarom sal sy jou haat?”
“Sy wil hê Sam moet Poortjie erf.”
“Poortjie begin op jou senuwees werk,” het Lydia effens skerp geantwoord, maar sy het aan die dag gedink toe tant Susie haar vertel het dat Sam gesê het dat as hy Poortjie erf, sy die res van haar lewe hier kan woon. Nuuskierig vra sy: “Het jy al met Frans daaroor gepraat?”
“Ek het. Hy sê tant Bettie wil hê sy moet voorlopig bly. Maar ek is seker dat as jy met hom praat en vir hom sê jy dink sy moet liewer weggaan …”
“Nee, Mercia. Sy hinder my nie en ek dink jy moet ook maar probeer om die beste van die saak te maak. Gesels af en toe met haar, wys haar jou tekeninge, vra haar om vir jou te sit – jy kan ’n skets van haar maak …”
“Sy is so vervelig,” het Mercia weer skouerophalend gesê. “Sy het my seker al dosyne kere vertel van haar groot huis, haar roostuin en die katjiepieringboom.”
Lydia het ondersoekend na haar gekyk, toe sê sy sag: “Het jy al daaraan gedink dat daar ’n tyd was toe tant Susie net so mooi en jonk soos jy was? Toe sy haar man en haar kinders en haar vriende gehad het en haar lewe vol en gelukkig was? Nou is sy oud en eensaam en in almal se pad, en het sy net haar herinneringe. Kan jy haar kwalik neem dat sy heeldag terughunker na die ou dae? En het jy al daaraan gedink dat die dag sal kom dat jy ook oud en eensaam en alleen sal wees – in almal se pad en nêrens meer welkom nie?”
Mercia het haar onthuts aangekyk en toe verleë weggedraai. “Nee, ek het nog nooit daaraan gedink nie. Wat ’n aaklige gedagte!”
“’n Mens wil liewer nie daaraan dink nie, nè? Maar dis nou maar eenmaal die lewe se beloop, en ’n vriendelike woordjie vandag kan miskien oor vyftig jaar terugkom om jou eie eensame ou hart te verwarm.”
Haar stem was lig en half skertsend, en Mercia het onwillig geglimlag. Maar later het Lydia gesien dat sy ’n rukkie met tant Susie in die tuin gesels. Sy hoop hulle gesprek sal help om die verhouding tussen hulle te verbeter.
Sy trek ’n kam deur haar hare en dink dat die weke op die plaas haar goed gedoen het. Haar donker hare is weer glansend en vol lewe. Daar is weer kleur in haar wange en die groenbruin oë is helder. Geestelik sowel as liggaamlik voel sy sterker en beter – net die gedagte dat sy weer sal moet teruggaan stad toe, na die hartseer wat sy daar ondervind het, maak haar nog soms ongelukkig. Sy dink so min moontlik aan Tertius en hoop maar net dat sy hom nooit weer hoef te sien nie. Tertius se plan was altyd om na sy hospitaaljaar platteland toe te gaan, en sy hoop hy sal lankal getroud en weg wees teen die tyd dat sy terug stad toe gaan. Miskien sal sy dan weer rigting in die lewe vind.
Sy tel die lipstiffie op en sien hoe donker en somber haar oë weer is. Skielik dink sy aan die Sondagoggend byna twee weke gelede toe Frans vir haar gesê het dat sy mooi oë het, net jammer hulle lag so min. Dieselfde oggend het hy haar half ernstig, half skertsend verseker dat hy nie besig is om op haar verlief te raak nie. Sedert daardie oggend was hy weer die ou Frans, beleefd en hulpvaardig sonder om hom op te dring – die een na wie almal met hulle probleme gaan. Soos die dae verbygegaan en sy hom beter leer ken het, het haar respek vir hom toegeneem.
Sy koel, saaklike houding het haar belangstelling geprikkel en sy kon goed verstaan dat ’n jong meisie soos Mercia halsoorkop verlief kan raak op hom. Hy was egter blykbaar onbewus van Mercia se bewondering. Sover sy kon oordeel was sy houding teenoor haar deurgaans dié van ’n ouer broer teenoor ’n ietwat bedorwe jonger sussie. Sy het soms gesien dat tant Bettie die twee stilletjies dophou en dan gewonder wat in haar pasiënt se gedagtes omgaan.
Sy tel haar wit handsak en handskoene van die bed af op en stap na die siekekamer toe om vir tant Bettie tot siens te sê.
Tant Bettie, wat vanoggend veiligheidshalwe in die bed bly, kyk goedkeurend na haar.
“Jy lyk al klaar beter. Ek het jou gesê jy sal hier op Poortjie gesond word.” Haar breë hand rus ’n oomblik op die jong verpleegster s’n en die stroewe gesig versag effens. “Geniet die uitstappie, hoor, en moenie jou oor my bekommer nie. Buurvrou sal na my kyk. As jy geld nodig het, vra maar net vir Frans. En herinner hom tog daaraan dat hy vir Mercia ook geld moet gee.”
Met ’n ligte tred stap Lydia by die kamer uit en met die lang gang af. Sy sien dat die motor reeds voor die hekkie wag.
By die studeerkamer aarsel sy. Frans, wat ’n netjiese grys pak met ’n mooi blougrys das aanhet, sit voor sy lessenaar met die telefoon in sy hand. Aan die frons op sy gesig kan sy dadelik sien dat hy ontevrede is.
Hy kyk op, sien haar in die deur staan en wys vir haar om in te kom. Dan sê hy beslis: “Nee, meneer Malan. Ek is jammer, ek kan jou nie help nie. As jy vir hom nog geld wil voorskiet, doen jy dit op jou eie verantwoordelikheid. Ek kan geen aanspreeklikheid aanvaar nie. Ja, ek besef dat dit jou in ’n moeilike posisie plaas, maar ek kan ongelukkig niks daaraan doen nie … Ja, ek kom vanoggend dorp toe – ek was van plan om by die bank aan te kom … Goed, ons kan die saak dan verder bespreek.”
Hy sit die telefoon neer en staar ’n oomblik fronsend voor hom uit. Dan stoot hy sy stoel agteruit en staan op. Hy kyk na haar en die ontevredenheid verdwyn uit sy gesig en oë.
“Gereed om te gaan?” vra hy. Hy sluit ’n lessenaarlaai oop en haal ’n koevert uit wat hy vir haar gee. “Vyf weke se salaris plus ’n klein bonus. Die bonus is tant Bettie se voorstel, so dit sal nie help om teë te praat nie.”
Sy kyk na die koevert in haar hande, dan vou sy dit stadig op en sit dit in haar handsak.
“Dankie, Frans. Maar dit moet asseblief nie weer gebeur nie. Ek geniet die werk en wil nie enige ekstra betaling hê nie.”
Hy glimlag effens. “Dis maar net ’n blyk van ons waardering. Soos ek al vir jou gesê het: ek weet nie wat ons in hierdie weke sonder jou sou gedoen het nie. Maar kom, ons moet ry. Waar is Mercia?”
Hulle hoor Mercia se voetstappe in die gang en die volgende oomblik staan sy ook in die studeerkamer. Sy het ’n blou, geblomde rok aan en lyk jonk en mooi en opgewek.
“Haai, Frans, jy moet vir my geld gee, jong. Ek het ’n paar dingetjies nodig en ek is bankrot.”
Frans haal sy sakboekie uit: “Hoeveel wil jy hê?” vra hy glimlaggend. “Vyf pond? Tien pond?”
“Maak dit maar tien – ek moet verf koop en my ma verjaar volgende week. Ek moet vir haar ’n present koop.”
Sonder ’n woord oorhandig Frans die geld aan Mercia, en Lydia onthou skielik weer sy gesprek oor die telefoon. Dit was natuurlik Sam wat geld by die bank wou leen, arme Sam wat blykbaar gedurig geld nodig het.
Hulle is net na halftien daar weg. Mercia, wat voor tussen Lydia en Frans gesit het, was in ’n opgewekte bui en haar vrolike geskerts het die myle laat verbyvlieg.
“Frans,” vra sy skielik net voor hulle die dorpsgrense bereik, “dink jy daar is goud op Poortjie?”
Frans kyk vlugtig na haar, maar antwoord nie dadelik nie. Dan sê hy: “Ek weet nie, Mercia. Daar is praatjies van goud in hierdie wêreld, maar dis nog bloot gissings. ’n Mens kan net met geologiese opnames en deur toetsgate te boor, vasstel wat die posisie is.”
“Is daar al sulke opnames op Poortjie gedoen?”
“Nee. Tant Bettie het nog altyd geweier om prospekteerders op Poortjie toe te laat.” Hy glimlag effens. “Dink jy daar is ’n kans dat ek Poortjie sal erf?”
Mercia lyk verleë. Dan sê sy: “Ek dink jou kanse is net so goed soos myne. Maar veronderstel ek erf Poortjie – wat sou jy my aanraai om te doen?”
Sonder om na haar te kyk, sê Frans: “Dit sou afhang van wat jy die graagste wil hê: vir Poortjie of rykdom!”
“Ek wil natuurlik liewer vir Poortjie hê. Maar ’n mens kan miskien later gedwing word om te verkoop. Ek bedoel … as daar regtig goud is.”
“Dis natuurlik moontlik, maar ek glo nie daar sal binne die volgende paar jaar veel gebeur nie.”
“Sam dink nie so nie. Hy sê daar is ’n meneer Meyer wat graag ’n opsie op Poortjie wil neem – hy is bereid om ’n paar duisend pond daarvoor te betaal.”
“Ek ken dié meneer Meyer,” sê Frans koel. “Hy was al baie kere op Poortjie, totdat tant Bettie hom die plaas belet het. En ek waarsku jou, as jy wil hê tant Bettie moet jou dadelik onterf, moet jy dat sy agterkom dat jy enige kontak met hom gehad het.”
Sy kyk hom onthuts aan. “Maar ek het nie, Frans! Ek sê maar net vir jou wat Sam gesê het.”
“Ek waarsku jou maar net. En pas veral op dat jy nie enige dokumente, van watter aard ook al, teken sonder om eers met my te praat nie.”
“Ek is nie ’n bobbejaan nie, hoor,” sê sy gesteurd.
“Kom ons praat dan oor iets anders. Dit is Lydia se afdag en ek is seker sy is al baie moeg van die gedurige geklets oor Poortjie.”
Lydia glimlag effens.
“Ek is nog glad nie moeg daarvoor nie. Ek dink Poortjie is ’n wonderlike ou plaas en ek dink dit sal ’n groot jammerte wees as daar hier in die omtrek goud gevind word.”
“Die meeste boere voel so oor die saak. Die grond is vir hulle meer werd as die goud,” sê Frans ’n bietjie kortaf.
Hulle ry die hoofstraat in en nadat Frans gereël het om hulle elfuur vir tee te ontmoet, laai hy hulle by een van die groot winkels af en ry weg. Die twee meisies het rondgestap en inkopies gedoen, en die uur was om voor hulle dit besef het. Toe hulle by die kafee kom, het Frans reeds vir hulle gewag.
Hy neem hulle na ’n tafel naby die venster, en Lydia kyk verras op na die jong meisie wat dadelik nader kom om hulle te bedien. Ten spyte van die donkerblou oorrok en die wit gestyfde voorskootjie en kantkappie het sy haar dadelik herken.
“Hallo, Corrie,” glimlag sy toe die meisie by hulle kom. “Onthou jy my nog? Ons het in dieselfde kompartement gereis. Onthou jy die dag toe dit so warm was?”
Corrie glimlag en Lydia dink dis jammer dat haar gesig so vol puisies is: in die netjiese uniform is sy andersins ’n aantreklike meisie.
“Ek onthou,” sê sy. Sy wys met haar vinger in die rigting van ’n tafel daar naby en vervolg: “Daar sit nog drie van ons medereisigers. Jy sal hulle seker onthou.”
Lydia kyk in die rigting wat sy aandui en vind mevrou Steyn se oë glimlaggend op haar gerig. By haar aan tafel sit Kassie en Emmie, besig om roomys te eet.
“Dis mevrou Steyn en Kassie en Emmie!” sê sy verras. “Verskoon my net ’n oomblik, ek wil hulle graag gaan groet.”
Mevrou Steyn groet haar hartlik.
“Ek het baie aan jou gedink, my kind, en gewonder hoe dit met jou gaan. My man en ek wou al vir tant Bettie kom kuier het, maar die kleinspan het intussen waterpokkies gehad. Jy lyk goed, baie beter as toe jy hier gekom het. Jy het ’n bietjie gewig opgetel en jy lyk nie meer so moeg en gespanne nie.”
“Ek is nou perdfris,” erken sy glimlaggend. Sy verneem na mevrou Steyn se dogter en sien hoe die vriendelike blou oë versomber.
“Dit wil nog nie goed gaan nie, my kind. Sy het verlede week uit die hospitaal gekom, maar sy bly nog dodelik swak. Kotie, my skoonseun, het belowe om haar na ons toe te bring sodra sy ’n bietjie sterker is.”
Hulle gesels nog ’n bietjie en mevrou Steyn nooi haar om vir ’n naweek by hulle te kom kuier voor sy terug stad toe gaan.
“Ek sal graag kom,” belowe Lydia. “Sodra hulle my op Poortjie kan spaar.”
Sy stap terug na Frans en Mercia, wat reeds besig is om tee te drink. In antwoord op Mercia se nuuskierige blik vertel sy hulle kortliks van haar eerste ontmoeting met die Steyns.
“Dit was die langste en warmste dag wat ek nog ooit beleef het,” sê sy en haar oë vonkel as sy aan daardie halfvergete dag dink. “Ons was ses stuks saamgehok in ’n tweedeklaskompartement: twee woelige kleuters en hulle bekommerde ouma, ’n skooldogter op soek na avontuur; ’n stokkerige oujongnooi – so ’n regte ou suurknol – en ek, ’n selfbejammerende verpleegster, ook goed op pad om net so ’n ou suurknol te word. Wat ’n kombinasie, nè?”
“Dit klink vir my maar bra vervelig,” sê Mercia. “Ek dink dis aaklig om tweedeklas te ry.”
Frans glimlag effens: “Ek hoop dit sal in alle opsigte ’n lekkerder reis wees wanneer jy moet teruggaan.”
Sy kyk na hom en die blik in sy oë, half tergend, half spottend, laat haar verleë wegkyk.
“Ek was nie besig om myself te bejammer nie,” sê sy koel.
“Ek het dit nie vir ’n oomblik gedink nie,” antwoord hy ongestoord.
Hulle drink hulle tee verder in stilte, dan sê Frans aan Lydia: “Ek het dokter in die apteek raakgeloop. Hy wil graag hê jy moet na sy spreekkamer toe kom. Hy sê hy het nuwe pille gekry wat hy vir tant Bettie wil gee. Nou kom, as julle klaar is, moet ons gaan. Ek het nog heelwat om te doen.”
Toe hulle buite kom, bied Frans aan om haar gou na die dokter se spreekkamer toe te neem. Nadat sy belowe het om Mercia, wat nog inkopies wil doen, ’n rukkie later by een van die winkels te kry, is hulle daar weg.
“Kom jy nie saam in nie?” vra sy toe Frans voor die spreekkamer stilhou, maar hy skud sy kop.
“Ek sal moet roer om klaar te kry. Jy kan my maar later vertel wat dokter sê. Ek kry julle halfeen by die kafee.”
Die dokter was met ’n pasiënt besig en sy moes ’n paar minute wag. Die wagkamer is koel en rustig, en die effense geur van antiseptiese middels voer haar gedagtes dadelik terug na die hospitaal waar sy soveel jare gewerk het en waar sy Tertius leer ken en liefkry het. Sal sy ooit weer in ’n hospitaal of ’n dokter se spreekkamer kan kom sonder om aan Tertius de Lange te dink?
Sy kyk op toe sy haar naam hoor en sien die dokter in die deur van sy spreekkamer staan. Haastig staan sy op en gaan na hom toe.
Hy vra na tant Bettie, wat hy ’n paar dae tevore gesien het. Dan stap hy na ’n muurkassie toe en haal ’n bottel daaruit. Terwyl hy ’n klompie pille uittel, sê hy: “Ek is nie tevrede met haar vordering nie. Om die waarheid te sê, daar is die laaste ruk eerder agteruitgang as vordering. Ek wil graag dié pille probeer – dis iets nuuts en ek hoor dat hulle in sekere gevalle verbasende resultate lewer. Wanneer sy pyn het of rusteloos is, of baie moeg is, kan jy haar een pil gee, maar nie meer as drie of vier gedurende vier-en-twintig uur
nie.”
“En die inspuitings?”
“Die inspuitings hou jy vir noodgevalle – wanneer die pille nie help nie of wanneer ’n aanval dreig.”
Sy knik instemmend terwyl sy die dosie by hom neem. Dit is teleurstellende nuus dat tant Bettie nie haar vordering handhaaf nie, maar sy was dit tog te wagte.
“Dan is daar nog iets,” sê die dokter en sy stem klink ongewoon ernstig. “My vrou is al geruime tyd nie gesond nie en ek het belowe om haar vir ’n lekker lang vakansie see toe te neem. Ons hoop om oor twee weke te gaan.”
“Ek is jammer om dit te hoor,” sê Lydia stadig. “Ek bedoel dat mevrou Theron siek is. Maar ek is seker die vakansie sal u albei goed doen. “Sy kyk na hom en glimlag effens. “Ek weet net nie wat tant Bettie sal sê nie!”
“Gelukkig kan ek, wat tant Bettie betref, met ’n geruste gemoed weggaan. Ek laat haar in goeie hande.”
“’n Verpleegster is nie dieselfde as ’n dokter nie. Kom hier iemand in u plek?”
“Ek het ’n jong dokter gekry wat voorlopig vir drie maande kom. Ek oorweeg dit al lankal om ’n assistent te kry – ek word oud en die werk word meer in plaas van minder. As hy my geval en die werk en voorwaardes geval hom, dink ek dis nou die aangewese tyd om hulp te kry.”
“Ek hoop dokter hou van hom,” sê sy glimlaggend. “Ek dink dis lankal tyd dat u hulp kry. Maar ek hoop ons sien u weer voor u weggaan?”
“Natuurlik. Ek is nuuskierig om te weet wat die uitwerking van die pille is en sal oor ’n dag of twee self kom kyk hoe dit met tant Bettie gaan.” Hy stap saam met haar na buite en toe hy groet, sê hy: “Ek is bly om te sien jy lyk soveel beter. Die verandering het jou goed gedoen.”
“Poortjie is ’n wonderlike plaas,” sê sy saggies. “As my pasiënt ook net gesond wil word!”
Hy klop haar op die skouer.
“Hou maar moed. Groter wonders as dit het al gebeur. Pas haar net goed op – meer kan jy nie doen nie.”
Peinsend stap sy daar weg. Die Februarie-son brand op haar neer, en sy wens dat sy al terug op die plaas is. Sy voel skielik vreemd onrustig oor tant Bettie.
Dis nog vroeg en sy stap by ’n boekwinkel in om ’n paar boeke en tydskrifte te koop. Sy vertoef langer daar as wat sy beplan het en moet haar haas om Mercia betyds by die winkel te kry.
Mercia wag reeds vir haar, maar Sam is by haar en die twee is so druk in gesprek dat hulle haar nie sien voor sy by hulle is nie. Daar is ’n bekommerde uitdrukking op Sam se gesig en Lydia dink dat Mercia ’n bietjie ongemaklik lyk.
Toe Lydia by hulle kom, sê Mercia skouerophalend aan Sam: “Ek weet nie. Ek sal daaroor moet dink. Maar ek sê jou eerlik, ek hou nie daarvan nie.” Sy kyk op, sien Lydia en glimlag verlig: “A, hier is jy! Ek het begin wonder wat van jou geword het.”
Sam groet en gesels nog ’n paar oomblikke. Dan, nadat hy belowe het om die naweek weer te kom kuier, maak hy verskoning en stap weg.
“Ek is bly jy het gekom,” sê Mercia. “Ek het nie geweet wat om te doen nie.” Sy kyk vlugtig rond, dan neem sy Lydia aan die arm en fluister vertroulik: “Sam wil hê ek moet vir hom borg teken by die bank. Hy sê hy het dringend geld nodig en die bank sal dit vir hom gee as ek of Frans vir hom borg sal teken.”
“Frans het jou vanoggend gewaarsku om niks te teken nie,” herinner Lydia haar.
“Ek weet, maar ek is jammer vir Sam. Al erf hy nie vir Poortjie nie, sal hy seker ’n klomp geld van tant Bettie kry. Maar tensy ek of Frans teken, wil die bank hom nie nou ’n pennie gee nie.”
“As hy die geld so dringend nodig het, waarom vra hy nie vir tant Bettie nie?” sê Lydia koel.
“Dit sal hy nooit doen nie. Sam is reeds bang tant Bettie het iets teen hom. Om nou by haar oor geld te gaan lol, sal dinge net vererger.”
“Wel, dis jou saak,” sê Lydia. “Maar as ek jy was, sou ek niks doen sonder om Frans se raad te vra nie.”
“Ek sien nie waarom nie,” sê die meisie koppig. “Frans is maar net tant Bettie se bestuurder.”
Lydia antwoord nie. Sy het haar lankal voorgeneem om haar so min moontlik met die familie se sake te bemoei. As Mercia dink dat sy Frans se belangstelling sal aanwakker deur moedswillig te wees, moet sy gerus maar probeer.
Mercia was teen halfeen nog nie heeltemal klaar met haar inkopies nie, en met haar pakkies onder haar arm stap Lydia solank na die kafee waar hulle afgespreek het om Frans te ontmoet. Hy was egter nog nie daar nie, en op ’n skielike ingewing stap sy in om vir tant Susie ’n doos sjokolade te koop. Toe sy weer buite kom, bly dat sy op die laaste nippertjie onthou het om vir tant Susie ’n present te koop, hou die motor net voor die deur stil.
Frans klim uit en kom haar tegemoet. Hy neem haar pakkies by haar en stel voor dat hulle solank vir Mercia in die motor wag. Terwyl hulle wag, vertel sy hom van dokter Theron se planne en hy luister fronsend.
“Ek gun hom die vakansie,” sê hy uiteindelik. “Net jammer dat dit op dié tydstip kom. Ek hoop maar die nuus sal tant Bettie nie ontstel nie.”
Sy haal haar skouers liggies op. “Ons sal maar die beste van die saak moet maak. Het jy darem jou sake klaargekry?”
Hy draai na haar en die frons verdwyn van sy gesig. “Gelukkig, ja – die belangrikste, altans.” Hy kyk na haar waar sy langs hom sit, haar hande rustig op haar skoot gevou, dan sê hy onverwags: “In die groen rok lyk jy nie ’n dag ouer as Mercia nie.”
Sy glimlag effens. “Ek is bly jy hou van my rok,” sê sy sedig.
“Dis nie wat ek gesê of bedoel het nie,” sê hy koel.
Sy kyk na hom en sy oë, half tergend, half spottend, laat haar skielik jonk en verleë voel. Dis sy wat eerste wegkyk.
Meteens steek hy sy hand in sy sak. “Byna vergeet ek: hier is ’n brief vir jou.”
“’n Brief vir my?” vra sy verbaas, baie dankbaar vir die afleiding. Wie sal nou aan haar skryf? Die enigste mens aan wie sy geskryf het en wat haar adres ken, is dokter Theron. Haar gesig verhelder en bly sê sy: “Dit is seker van dokter Theron. Verskoon my, asseblief – ek wil graag sien wat hy skryf.”
Sy skeur die brief oop en begin gretig lees. Sy lees ’n rukkie in stilte, dan frommel sy die brief skielik ontsteld op. “Nee!” sê sy soos iemand wat ’n hou wil afweer. Frans sien hoe bleek sy geword het.
“Wat makeer? Het jy slegte nuus gekry?”
Sy hoor hom blykbaar nie eens nie. Met bewende hande maak sy die brief glad en haastig lees sy weer wat daar geskryf staan. Dan vou sy dit stadig op en byna asof sy nie weet wat sy doen nie, begin sy dit in klein flentertjies skeur.
Hy sit sy hand oor albei hare en skud haar effens. “Wat makeer, Lydia?” vra hy, nou ook ontsteld.
Sy skud haar kop. “Ek kan nie langer hier bly nie, Frans. Ek moet dadelik weggaan.”
Hy kyk haar ongelowig aan. “Jy kan nie nou weggaan nie. Wat van tant Bettie?”
Sy kyk na hom en die oë wat ’n rukkie gelede nog so helder was, is nou donker. “Ek is jammer, Frans, maar dis vir my onmoontlik om langer te bly. Jy sien” – sy byt ’n oomblik op haar bewende lip, dan vervolg sy meer beheers – “jy sien, die nuwe dokter wat hiernatoe kom – dokter Theron se assistent – is Tertius de Lange, die man aan wie ek verloof was.”
Hy kyk ’n lang oomblik na haar, dan laat los hy haar hande en sit effens weg van haar. “Ek verstaan,” sê hy. “Ons sal jou natuurlik nie hou as jy wil gaan nie.”
Sy sien Mercia oorkant die straat aankom en probeer haarself regruk. “Sê asseblief niks vir Mercia nie,” sê sy haastig. “Ek sal later weer met jou praat.”
Sonder ’n woord klim hy uit die motor om Mercia met haar pakkies te help.