Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

Tant Bettie het geleidelik herstel. Sowat ’n week nadat sy die nag die hartaanval gehad het, was sy soveel beter dat sy vir die eerste keer sedert Lydia gekom het, ’n halfuur in die groot stoel voor die venster kon sit. Daarna het sy elke oggend ’n rukkie in die stoel gesit en oor Poortjie se groen bulte en vlaktes gekyk, maar sy het gou moeg geword en was gewoonlik weer verlig om terug in die bed te kom.

“Dink jy dis die storm wat die hartaanval veroorsaak het?” het Mercia vir Lydia gevra. “Dit was mos dieselfde nag.”

Maar Lydia het net haar kop geskud.

“Ek weet nie, Mercia – niemand weet nie. Dis moontlik dat die skok van die storm aanleiding daartoe kon gegee het. Aan die ander kant kon sy ’n hartaanval gekry het, al was daar nie ’n storm nie. Met ’n hartpasiënt weet ’n mens nooit nie – jy moet altyd op jou hoede wees.”

Tant Susie het ook taamlik gou oor die skok van die storm gekom, en sy was weer die sagte, liewe tant Susie wat heeldag in Sabina se potte geloer het en tog so graag in die huis en siekekamer wou help. Die blou oë was weer helder en vol belangstelling in alles wat om haar aangaan en Lydia het aanvaar dat die “snaakse dinge” waarvan sy daardie nag gepraat het, maar net ’n skim van haar verbeelding was. Tant Susie het dit in elk geval nie weer opgehaal nie en Lydia het gedink dis veiliger om nie eerste die onderwerp aan te roer nie. Dalk sal tant Susie nie eens weet waarvan sy praat nie.

Sondag het Sam weer vir die dag kom kuier. Nadat hulle tee gedrink het, het hy aangebied om ’n rukkie by tant Bettie te sit en Lydia het die aanbod glimlaggend aanvaar. Sam dink seker dis vanoggend sy kans om tant Bettie te pols.

“Tant Bettie lyk baie beter vanoggend – sommer piekfyn,” sê hy hartlik terwyl Lydia nog in die kamer besig is. “Ons het nou die aand gedink …” Hy breek effens verleë af en tant Bettie glimlag suur.

“… dat julle uiteindelik van my ontslae is,” voltooi sy die sin wat hy nie klaargemaak het nie. “Nee, Sam, julle sal nog ’n rukkie moet wag. Ek is nog nie gereed om te gaan nie.”

Sam lag, maar die laggie klink ’n bietjie te hard en geforseerd.

“Ek is bly tant Bettie voel al weer lus vir grappies. Daar is juis ’n sakie wat ek wil bespreek sodra tante sterk genoeg voel …”

“Jy bedoel seker die sakie van my testament,” val sy hom droogweg in die rede. Lydia sien hoe rooi Sam se nek word.

“Tant Bettie moet my nou nie verkeerd verstaan nie,” sê hy paaiend. “Afgesien van Mercia is ek die enigste oorblywende Serfontein en ek voel dis my plig om tant Bettie met raad en hulp by te staan. Ek verwag dat tant Bettie nog baie jare sal lewe. Maar dis net goed om voorbereid te wees. En dis soveel makliker as die testament en alles in orde is.”

“Dink jy my sake is nie in orde nie, Sam?” vra sy stil. ’n Oomblik kyk hy haar stilswyend aan.

“Maar tant Bettie het dan altyd gesê …”

“Dat ek nie haastig is nie. Maar ek besef dat daar miskien nie meer so baie tyd is nie. Ek het jou raad aanvaar en onlangs ’n splinternuwe testament laat opstel.”

Sam kyk haar onseker aan.

“Wil tante dit met my bespreek?”

Daar is ’n flikkering in tant Bettie se donker oë.

“Nee. Ek het alles baie goed oorweeg en ek dink dis ’n baie regverdige testament.”

Sam sluk ’n paar keer.

“Waar is die testament? Ek bedoel …”

“Ek het dit veilig weggebêre,” antwoord sy en weer is daar die flikkering in die donker oë.

Lydia kom nader.

“Tyd vir die bruin pilletjie, tant Bettie.”

Gehoorsaam sluk tant Bettie die pil met ’n bietjie water. Lydia stoot die kussing gemakliker agter haar skouers in, trek die ligte wolkomberse oor haar bene reg en draai dan na Sam. Met ’n glimlag om haar woorde te versag sê sy: “Moet my pasiënt asseblief nie te veel vermoei nie. Ek sal buite in die tuin wees as julle my nodig het. Roep my asseblief dadelik as tant Bettie wil teruggaan bed toe.”

“Ek sal oppas,” belowe hy en sy dink hy lyk ’n bietjie bedruk.

Terwyl sy wegstap, hoor sy tant Bettie sê: “Om weer tot die testament terug te kom, jy ken die hele ou geskiedenis net so goed soos ek. Wat sou jy gedoen het as jy vandag in my skoene gestaan het?”

Sy is ’n gruwelike ou vrou, dink Lydia terwyl sy die deur saggies agter haar toetrek. Gister het sy gehoor hoe sy dieselfde vraag in feitlik dieselfde woorde vir Mercia vra, tot groot verleentheid van die jong meisie, wat haar slegs stamelend kon verseker dat as sy Poortjie erf, sy self op die plaas sal kom woon en net so goed daarna sal kyk as wat tant Bettie dit self gedoen het. Lydia wens nou dat sy Sam se antwoord kan hoor, maar sy raai dat dit in dieselfde trant sal wees.

Mercia sit buite op die grasperk onder die groot denneboom langs die huis en teken, en Lydia stap na haar toe. Mercia teken en skilder graag en sy het al ’n paar mooi waterverfskilderye gemaak in die twee maande wat sy op die plaas is. Sy het gelukkig gou van haar griepaanval herstel, maar sy was nog buierig en kon by die geringste provokasie in trane uitbars.

Mercia is besig om die toneel voor haar op papier te probeer vaslê: die ronde dammetjie met die weerspieëling van die eende wat daaroor gly en die groen vyebome wat koel daaroor hang. Aan die een kant staan ’n ou wilger en droom en verder regs staan ’n windpomp en kreun soos hy sporadiese pogings aanwend om water uit die aarde te haal en in die dam te stort. Spierwit wolke wieg saggies in die blou lug verby, aangedryf deur ’n onsigbare windjie. Oor alles hang die rus en vreedsaamheid van ’n stil Sondagoggend. Met ’n behaaglike suggie vly Lydia haar op die reisdeken langs Mercia neer.

“Waar is Sam?” vra Mercia dadelik.

“Hy sit by tant Bettie.”

“Dink jy dit is verstandig? Hy krap haar net om. Nes hy haar sien, begin hy oor die testament lol.”

Lydia lê met toe oë.

“Tant Bettie geniet dit. Buitendien moet Sam darem ook ’n kans kry om sy saak te stel.”

Mercia kyk haar agterdogtig aan.

“Ek verstaan jou nie.”

“Jy en Frans kry heeldag kans om met tant Bettie te gesels. Sam kom net af en toe hier en dan is sy meestal te siek om te gesels.”

“Dit klink of jy aan Sam se kant is,” sê Mercia.

“Ek sê maar net hy moet ook ’n kans kry.”

“Sam stel glad nie belang in die plaas nie! Hy wil net die geld hê. Hy maak of hy baie van my hou en dra heeldag vir my sjokolade en parfuum aan, maar ek weet baie goed dit gaan nie oor my nie.”

“Dit het nie vir my gelyk of sy belangstelling onwelkom is nie,” sê Lydia half skertsend, half ernstig.

Mercia haal haar skouers op.

“Dis van pure verveling en ’n mens wil tog ook nie onvriendelik wees nie. En ek het gedink … miskien …” Sy bly stil, dan sê sy: “Sam is my neef.” Sy bly weer ’n rukkie stil en vervolg: “Buitendien wil ek ook niks met ’n getroude man te doen hê nie.”

Lydia se oë vlieg oop en verras lig sy haar op haar elmboog.

“Sam ’n getroude man? En waar is sy vrou?”

“Sy het hom laat staan kort nadat hulle getroud is, maar ek weet nie of hulle geskei is nie.”

“Nou toe nou,” sê Lydia en sak weer stadig terug op die reisdeken.

’n Rukkie is dit stil tussen hulle. Dan sê Mercia: “Tant Bettie is ’n regverdige mens – ek is seker sy sal doen wat reg is – maar ek hoop nie sy sal Poortjie aan Sam nalaat nie. Hy sal dit binne ’n jaar deur sy vingers laat glip.”

Lydia glimlag. Mercia het iets van haar tant Bettie se nugter, saaklike uitkyk op die lewe en sy het blykbaar geen illusies wat haar neef betref nie. Sy tel van Mercia se sketse op en kyk daarna. Selfs haar ongeoefende oog kan sien dat die tekeninge belofte inhou.

“By wie het jy les geneem?” vra sy.

“Ek was drie jaar op kunsskool in die Kaap. Ek het ook al heelwat illustrasiewerk vir tydskrifte gedoen.”

“Ek hou van jou tekeninge. Jou benadering is vars en … anders. Selfs ’n gewone verpleegster soos ek kan hulle verstaan.”

“Ek teken graag,” sê Mercia glimlaggend.

“Jy het beslis talent. As jy nou Parys en Italië toe kon gaan om verder te studeer …”

Mercia se hele gesig verhelder.

“O, ek wil dolgraag gaan, maar Ma-hulle lag my uit as ek net in daardie rigting praat. Hulle dink dis maar net speletjies, ’n stokperdjie tot ek eendag trou. Maar ek sal hulle wys. Ek gaan eendag ’n beroemde kunstenares word.”

“As jy Poortjie erf, sal jy jou drome moet vergeet. ’n Boervrou sal seker nie veel tyd hê om te skilder nie.”

Mercia kyk agterdogtig na haar, maar Lydia is besig om deur haar een sketsboek te blaai.

“Poortjie kom natuurlik eerste,” sê sy beslis.

“En die donderweer?” vra Lydia ondeund.

“Ek sal daaraan ook gewoond word.”

Belangstellend blaai Lydia deur die sketsboek. Tussen die tekeninge is daar ’n paar sketse van Sabina en een van tant Bettie wat baie goed is.

“Jou portrette is uitstekend, Mercia. Dit is seker lekker om dit te kan doen.”

“Ook baie lonend.” Sy blaai vlugtig deur die boek waarin sy besig is om te teken en haal ’n skets daaruit wat sy aan Lydia oorhandig. “Wat dink jy hiervan? Frans wou nie vir my poseer nie en ek het die tekening uit my kop gedoen.”

Stil bestudeer Lydia die skets. Dit ís Frans Naudé, sonder enige twyfel. Die mooi gevormde voorkop, die sterk gelaatstrekke – sy het alles getrou weergegee. Maar sy het ook iets van die man se siel in die skets, ’n sagtheid en teerheid van uitdrukking wat hy nie dikwels in sy daaglikse optrede verraai nie. Sy het al gesien dat hy so na tant Bettie kyk as hy besig is om haar te help.

Mercia is verlief op hom, dink sy skielik, en sy is bewus van ’n vreemde gewaarwording, half pyn, half jaloesie, wat in haar opwel. Die gedagte het al vantevore by haar opgekom dat Mercia nie onverskillig staan teenoor haar tante se bestuurder nie, maar noudat sy hierdie skets gesien het, twyfel sy nie meer nie.

En Frans? wonder sy. Het hy Mercia lief? Sy weet nie, maar al het hy haar nie lief nie – en waarom sal hy haar nie liefhê nie, sy is jonk en mooi genoeg vir enige man se smaak – is hy seker bewus van die voordele wat ’n huwelik met tant Bettie se broerskind vir hom inhou.

’n Oomblik sluit sy weer haar oë en die herinnering aan ’n ander man se trouloosheid verjaag die rustigheid van die helder someroggend en laat voel haar opnuut verbitterd en vernederd.

“Wel, wat dink jy daarvan?” onderbreek Mercia half ongeduldig haar gedagtegang.

“Ek dink dis baie goed,” sê sy stil. “Het hy dit al gesien?”

“Nee, nog nie,” antwoord Mercia en neem die skets uit Lydia se hande, byna asof sy jaloers is om dit selfs ’n oomblik uit haar besit te laat gaan. “Ek het dit maar vanoggend klaargemaak.”

Skielik sien sy dat Frans uit die tuin na hulle aangestap kom en haastig druk sy die skets tussen die ander in. Frans groet toe hy by hulle kom en op Mercia se uitnodiging kom hy by hulle op die reisdeken sit.

Mercia giggel effens senuweeagtig en sê: “Ek het na jou gesoek, Frans. Waar kom jy nou so skielik vandaan?”

“Ek was by die kraal. Een van ons melkkoeie het vannag gekalf. Waarom het jy na my gesoek?”

“Ek wou jou sê dat Sam hier is. Hy het glo vir die dag gekom.”

“Hy is baie welkom, nie waar nie?” sê hy lakonies. Hy tel die klompie sketse op waaronder syne ook is en haastig steek Mercia haar hand uit om dit terug te neem. “Wat makeer? Mag ek nie daarna kyk nie?” vra hy effens verbaas en Mercia bloos verleë. Dan glimlag sy.

“Jy kan maar kyk, as jy belowe dat jy nie kwaad sal wees vir my nie.”

“Waarom sal ek kwaad wees?” vra hy, reeds besig om deur die sketse te blaai. Van onder haar lang wimpers hou Lydia die twee ongemerk dop.

“Die een van ou Katryn se dogter is uitstekend en ek hou baie van die een van tant Bettie. Ek begin so stadigaan besef dat ons ’n jong kunstenares in ons midde het.”

“Jy sal eendag nog baie jammer wees dat jy vir my sketse gelag het,” sê Mercia, maar sy hou hom die hele tyd gespanne dop.

“Ek het nog nooit vir jou gelag nie,” sê hy kalm. Dan, op heeltemal ’n ander toon: “Wanneer het jy dit gedoen?”

Daar is ’n frons tussen sy wenkbroue en sy stem klink ontevrede. Mercia bloos vuurrooi onder sy beskuldigende blik.

“Ek het dit vanoggend klaargemaak,” sê sy onwillig. “Wat makeer? Hou jy nie daarvan nie?”

“Dit kan seker gaan. Maar ek het jou gesê …” Hy bly stil en haal sy skouers op. “Dit maak seker nie saak nie.”

Hy het haar nie lief nie, dink Lydia. As hy haar liefgehad het, sou hy haar nooit so afgehaal het nie, en dit nogal voor iemand anders.

Mercia begin haar goed opraap en Lydia kan sien dat sy baie na aan trane is. Sy gryp die skets uit Frans se hand en maak asof sy dit wil opskeur, maar Lydia sit haastig regop en sit haar hand op Mercia se arm. Koel sê sy: “Moenie kinderagtig wees nie, dis ’n uitstekende skets. Maak dit klaar en gee dit vir tant Bettie. Ek is seker sy sal daarvan hou.”

“Weet jy, dis ’n plan,” sê Mercia en lag effens histeries. “Ek sal vir tant Bettie ’n skets van elk van die drie aspirant-erfgename maak, dan kan ons dit om haar bed hang soos engeltjies wat wag hou.”

Frans vang haar hand in syne vas.

“Ag kom, ’n mens is nie so gou op jou perdjie nie. Ek het nie bedoel om jou seer te maak nie. Dis ’n baie mooi skets en as jy dit vir my sal gee, sal ek dit laat raam en in my studeerkamer ophang.”

“Ek gooi dit liewer in die vuur,” sê Mercia driftig en bars skielik in trane uit. Na ’n rukkie glimlag sy egter. “As julle my sal verskoon, gaan ek nou my gesig was en dan gaan ek ook ’n rukkie by tant Bettie sit. ’n Mens weet nooit wat Sam haar intussen alles wysmaak nie.”

Fronsend kyk Frans haar agterna, dan sug hy effens. “Wat het ek nou weer aangevang? Sy is deesdae ook so prikkelbaar.”

Hy lyk omgekrap en Lydia glimlag effens.

“Sy is ’n kunstenaar, fynbesnaard en gevoelig, en sy het nog nie heeltemal van die griep herstel nie. Buitendien is sy ’n bietjie eensaam en verveeld …”

“Niemand dwing haar om hier te bly nie,” sê hy kortaf. Sy antwoord nie, en na ’n rukkie vervolg hy: “Ek bedoel nie om onsimpatiek te wees nie. Dis net …”

Hy bly stil en effens gespanne wag sy dat hy voortgaan. Toe hy egter nie verder praat nie, sê sy half skertsend: “Dis net dat jy genoeg moeilikhede het en nie nog vir histeriese vroumense ook lus het nie?”

Hy glimlag onwillig.

“Nee, dis nie wat ek bedoel het nie. Ek besef Mercia is eensaam en verveeld, maar daar is niks wat ek aan die saak kan doen nie. Ek het voorgestel dat sy huis toe gaan – sy kan altyd later weer kom – maar sy wil nie daarvan hoor nie. Maar ek voel verantwoordelik vir haar en ek is ’n bietjie bekommerd …” Hy kyk onseker na haar, dan vra hy reguit: “Dink jy sy hou regtig so baie van Sam of is dit maar sommer net …?”

Sy antwoord nie dadelik nie. Weet hy dat Mercia op hom verlief is en vermoed hy dat sy besig is om met Sam te flankeer om hom jaloers te maak? Of is hy bang dat die aantreklike en ervare Sam sy jong niggie sal oorrompel en so heeltemal ’n nuwe wending aan sake gee? Bloed is dikker as water, sê hulle. Maar waarom trou hy dan nie self met Mercia nie? Het hy haar nie lief nie of is hy te trots om toenadering te soek, bang vir ’n herhaling van wat vyf jaar gelede gebeur het? Op stuk van sake is hy nog tant Bettie se bestuurder.

Sy kyk na hom en vind sy blik op haar gerig.

“Wel? Of wil jy liewer nie die vraag beantwoord nie?”

Sy haal haar skouers op en sê liggies: “Ek dink nie sy hou so baie van hom nie – sy is maar net verveeld. Noudat tant Bettie beter is en Mercia vryer kan rondbeweeg, sal dit seker beter gaan.” Sy aarsel ’n oomblik, dan vervolg sy: “Ek wou juis met jou praat. Noudat tant Bettie soveel beter is, het ek gewonder of julle my dienste nog baie langer nodig sal hê.”

Hy kyk haar onthuts aan.

“Maar natuurlik het ons jou nog hier nodig. Ek weet nie hoe ons ooit weer sonder jou sal klaarkom nie. Ek het van dokter Theron verstaan dat jy bereid was om vir ’n onbepaalde tyd Poortjie toe te kom – dat jy graag ’n tyd lank uit die stad wou wegkom. Ek besef natuurlik dat jy baie hard gewerk het. Ek het probeer help waar ek kon, maar Mercia se siekte het ’n dubbele las op jou skouers geplaas, en dan is tant Susie ook nog daar. Ek weet sy is dikwels lastig en onredelik …”

Hy lyk so bekommerd dat sy hom jammer kry.

“Ek kla nie oor die werk nie. Ek het jou gesê ek verwelkom harde werk.”

Hy kyk haar ondersoekend aan.

“As dit ’n kwessie van betaling is – geld kan nooit vergoed vir wat jy die afgelope weke vir ons beteken het nie – maar ek sal jou met graagte dubbel betaal as jy net op Poortjie sal bly.”

Sy skud haar kop verleë.

“Dis nie ’n kwessie van geld nie. Ek sal graag bly solank julle my hier nodig het. Maar ek weet hoe gou en maklik die koste van so ’n siekte kan oploop, en ek het maar net gedink … aangesien tant Bettie soveel beter is …”

Hy sug verlig.

“Dan is die saak afgehandel – ons gesels nie verder daaroor nie. Tant Bettie is beter, maar jy weet net so goed soos ek dat sy nog lank nie buite gevaar is nie en dat die geringste terugslag noodlottig kan wees.”

“Sy het wonderlik herstel. Ek het eerlik nie gedink sy sal weer opstaan nie.”

Hy kyk peinsend na die dammetjie met die eende, wat nou in die diep skaduwee van die wilger rus, dan sê hy stil: “Tant Bettie het die afgelope maande baie agteruitgegaan – ek twyfel of sy weer gesond sal word. Dokter sê haar hart is in ’n treurige toestand.” Hy kyk onseker na haar en vervolg: “Hy het my gewaarsku dat tant Bettie tydens een van haar hartaanvalle kan beswyk – of dat sy eendag sommer stil in haar slaap kan gaan.”

“Aan die ander kant kan dit nog maande duur. En intussen raak almal se senuwees al hoe meer gespanne.”

“Wie se senuwees?” vra hy.

Sy haal haar skouers op.

“Jy is blykbaar die enigste een wat jou nie oor jou erfenis bekommer nie. Ek het al gewonder of dit is omdat tant Bettie jou in haar vertroue geneem het en jy reeds weet wie Poortjie na haar dood sal erf.”

Die vriendelikheid verdwyn uit sy gesig en koel antwoord hy: “Dis ’n familiesaak wat ek nie met jou of enigiemand wil bespreek nie.”

Sy glimlag effens verleë, maar haar oë glinster. Gedwee sê sy: “Ja, Frans. Goed, Frans.”

Hy kyk agterdogtig na haar. Die lang wimpers is neergeslaan, maar die skaduwee van ’n glimlag speel om haar mondhoeke. Sy gesig versag effens en onverwags sê hy: “Ten spyte van die min slaap en harde werk lyk jy al baie beter as die aand toe jy op Poortjie aangekom het.”

“Het ek so sleg gelyk?”

“Klein en bleek en moeg en verwese – soos ’n skoolmeisie wat die eerste keer alleen van die huis af weggegaan het.”

Sy is bewus van die harde hamerslae van haar hart.

“Daarom dat jy my bed toe gestuur het?” vra sy liggies. “Wel, ek dink dis tyd vir tant Bettie om terug te gaan bed toe.”

Sy wil opstaan, maar hy sit sy hand liggies op haar arm.

“Net ’n oomblik. Jy het baie mooi oë, net jammer dat hulle so selde lag. Ek hoop dat jy my eendag wanneer ons mekaar beter ken, sal vertel wat gebeur het en wie die persoon is wat jou so seergemaak het.”

Hy trek haar langs hom op, dan tel hy die reisdeken op en skud dit uit. In stilte stap Lydia saam met hom terug huis toe, te verbaas om ’n woord te sê.

Toe hulle met die stoeptrap opklim, draai hy weer na haar toe.

“Jy hoef nie bang te wees nie, ek is nie besig om op jou verlief te raak nie.”

Sy stem klink tergend, maar sy waag dit nie om na hom te kyk nie.

“Dit is ’n verligting,” sê sy koel en stap vinnig voor hom uit.

Tryna du Toit-omnibus 6

Подняться наверх