Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 5
Hoofstuk 2
ОглавлениеDeur die breë, halfdonker gang stap Lydia saam met die twee mans na die eetkamer waar die lig helder en verwelkomend brand. ’n Oomblik moet sy haar oë knip teen die onverwagte helderheid. Dan, as sy aan die lig gewoond raak, sien sy ’n ruim, gesellige vertrek met ’n groot klipkaggel in die muur. Die lang geelhouttafel en die geelhoutbuffet teen die muur glim soos goud in die helder lig en naby die kaggel is daar ’n riempiesbank en twee gemaklike riempiestoele met helder geweefde kussings. Lydia dink dat die vertrek seker veral in die winter die bymekaarkomplek van die familie is. As die gordyne toegetrek is en die houtstompe gloei in daardie heerlike ou kaggel, sal ’n mens voel jy is veilig teen die koue en die donkerte daar buite.
“Laat ek jou aan tant Susie voorstel,” sê Frans Naudé saaklik langs haar, en effens verskrik kyk Lydia om. Sy was so verdiep in haar waarneming van die vertrek dat sy nooit die klein, verkrimpte ou vroutjie gesien het wat op ’n regop stoel naby die tafel sit en brei nie. Sy is al oud, seker diep in die sewentig, dink Lydia, maar ten spyte van die rimpels en die spierwit hare waarop ’n fraai kantmussie pryk, is die blou oë nog helder en vol belangstelling.
Lydia neem die klein, benerige handjie in hare en is bewus van tant Susie se vriendelike, nuuskierige blik.
“Jy is seker moeg, my kind,” sê sy terwyl sy haar breiwerk neersit. “Kom dat ek jou na jou kamer toe neem.”
“Slaap tant Bettie al?” vra Sam vir haar en tant Susie knik.
“Ja, my kind. Dokter was vroeg vanaand hier en het haar ’n inspuiting gegee. Sy het die hele dag weer baie pyn gehad.”
Terwyl sy agter tant Susie aan in die breë, donker gang afstap, wonder Lydia waar die ou tannie met haar mooi wit hare en aristokratiese voorkoms in die prentjie pas. Dis vreemd dat haar reisgenoot, wat blykbaar alles van die familie en hulle geskiedenis weet, niks van tant Susie gesê het nie.
Tant Susie neem haar na ’n kamer waar haar tas reeds op haar wag. “Hier is jou kamer, kind. Jy moet maar vra as jy nog iets nodig het. Die badkamer is net om die hoek. Die koffie is klaar. Kom maar gerus sodra jy gereed is.” Daarop draai sy om en verdwyn weer soos ’n skaduwee in die donker gang.
Lydia kyk nuuskierig om haar: dit is ’n ruim, lugtige kamer met vensters na die ooste en suide. Oudergewoonte stap sy na die bed om dit te betas – sy verwag nie om ’n binne-veermatras hier op Poortjie te vind nie, maar die matras is in elk geval nie hol nie en die lakens en deken is spierwit. Die lekker wit bed sal egter nog ’n rukkie moet wag. Sy het nie as gas Poortjie toe gekom nie, maar om te werk.
Lydia was haar hande en kam haar hare. Sy is inderdaad doodmoeg en flou van die honger. Dit was ’n lang, vermoeiende dag. Sy stap terug na die eetkamer waar sy net die twee mans aantref. Iemand het intussen ’n spierwit kleedjie oor die geelhouttafel gegooi, en toebroodjies, koue vleis en koffie wag reeds op haar.
Terwyl sy eet, bestudeer sy ongemerk haar gasheer, die ander aspiranterfgenaam – die een wat volgens Sam nie reg of seggenskap op die plaas het nie omdat hy nie ’n Serfontein is nie.
Frans Naudé is ouer as wat sy verwag het, seker by die dertig jaar. Hy is lank en skraal gebou – van die taai, seningrige soort – en sy gesig en arms is bruin verbrand van die son en wind. Hy is nie so aantreklik soos Sam met sy reëlmatige gelaatstrekke, donker oë en blonde hare nie, maar sy dink dat hy in geen opsig vir Sam Serfontein hoef terug te staan nie.
Skielik draai hy sy kop, asof hy bewus geword het van haar blik, en ’n oomblik kyk sy in die koel grysblou oë voor sy effens verleë weer haar aandag by die kos in haar bord bepaal.
Sam stoot sy koppie opsy en steek ’n sigaret op – sonder om haar toestemming te vra en sonder om vir sy gasheer ook aan te bied. “Waar is Mercia?” vra hy.
“Sy slaap al. Sy het ’n slegte verkoue opgedoen en is vroeg bed toe.”
Frans Naudé se stem is kalm en gelyk, maar Lydia is tog bewus van die effense gevoel van spanning in die vertrek.
Sam lag. “Die arme Mercia verveel haar natuurlik morsdood. Ek wonder hoe lank sy dit nog hier sal uithou.” Hy stoot sy stoel agteruit en staan op. “Nou ja, mense, ek moet spore maak. Laat my dadelik weet as daar enige verandering is.”
Terwyl Frans ’n flits in die kombuis gaan haal, bedank Lydia vir Sam omdat hy haar so laat in die aand plaas toe bring, maar hy glimlag net.
“Dis nie moeite nie – dis ’n plesier,” sê hy. Tergend voeg hy by: “Eendag rol jy miskien weer vir my ’n klip uit die pad. Nou ja, tot siens, nursie, en hou maar die blink kant bo. Ek is bly hier is nou iemand om tant Bettie te versorg. En hou maar jou oë oop …”
Hy breek skielik af toe Frans weer terug in die kamer kom en met ’n laaste “tot siens” stap hy saam met hom na buite. ’n Rukkie later hoor sy hoe hy met ’n vaart wegry.
Toe Frans Naudé ’n paar minute later in die eetkamer kom, staan sy nog daar langs die tafel. ’n Oomblik kyk hy haar ondersoekend aan, dan vra hy beleefd: “Het jy nog iets nodig?”
“Ek is reg om te begin. Sal jy my asseblief na die pasiënt se kamer toe neem?”
Maar hy skud sy kop. “Jy het ’n lang, vermoeiende dag gehad en het ’n goeie nag se rus nodig. Jy kan môre begin.”
“Ek voel heeltemal uitgerus. Sal jy my asseblief na die pasiënt toe neem?”
Haar stem is koel en beslis, en ’n oomblik betrag hy haar in stilte. Dan sê hy sagter: “Kyk, ons verwag nie dat jy vier-en-twintig uur per dag diens moet doen nie. Maar daaroor kan ons môre gesels. Gaan slaap nou maar, ek sal die pasiënt sewe-uur môreoggend aan jou oorhandig. Dokter het vir tant Bettie ’n inspuiting gegee en ek verwag dat sy ’n rustige nag sal hê. As ek jou hulp nodig het, sal ek jou kom roep.”
Sy stem is vriendelik maar ferm en sy besef dat dit kinderagtig sal wees om verder te argumenteer. Buitendien is sy doodmoeg, al sal sy dit nooit teenoor die koel, selfversekerde Frans Naudé erken nie. ’n Goeie nagrus sal haar seker die wêreld se goed doen.
Sy is met die beste voornemens kamer toe, maar het die nag maar sleg geslaap. Miskien was sy oormoeg, of miskien was dit die vreemde omgewing wat haar rusteloos gemaak het. Eers kon sy glad nie aan die slaap raak nie en toe sy eindelik insluimer, is haar rus versteur deur drome waarin haar pa, Tertius, Sam, Frans Naudé en ’n afskuwelike ou heks almal betrokke was. Toe die huishulp sesuur die volgende oggend aan die deur raak om vir haar koffie te bring, is sy dadelik helder wakker.
Nadat sy ’n koue stort geneem en haar wit uniform aangetrek het, het sy heelwat beter gevoel. Sy pak haar klere uit en maak haar bed op. Dan, gereed om te gaan, bekyk sy haarself ’n oomblik krities in die spieël. Die donker, kortgeknipte hare is sonder glans, daar is skaduwees onder haar oë, en sy wens dat sy nie so bleek was nie. Terwyl sy lipstiffie aansit, dink sy dat die meisie met die hol wange en groot oë net ’n skim is van die meisie wat eens op ’n tyd vir Tertius liefgehad het. Hy sal haar seker skaars herken as hy haar nou moet sien.
Ongeduldig draai sy van die spieël af weg en stap na die sitkamer waar Frans Naudé reeds vir haar wag.
“Goeiemôre,” sê hy, en sy is bewus van sy koel, ondersoekende blik. “Goed geslaap?”
“Nie te wonderlik nie, dankie,” antwoord sy kalm. “Hoe gaan dit vanoggend met die pasiënt?”
“Ek is jammer jy het sleg geslaap, ek hoop nie dit was uit pure moedswilligheid nie! Soos ek verwag het, het tant Bettie ’n betreklik rustige nag gehad en voel sy vanoggend effens beter.” Dan vra hy onverwags: “Was jy onlangs siek?”
Sy kyk hom effens verbaas aan. “Ek het ’n tydjie gelede griep gehad, maar ek is nou weer heeltemal gesond, dankie.”
Hy glimlag effens.
“Aangesien hier reeds twee pasiënte is, sal ek verplig wees om jou woord daarvoor te neem.”
“Twee pasiënte?”
“Mercia se verkoue is vanoggend erger en omdat haar keel ook seer is, het ek gesê sy moet in die bed bly. As jy wil, kan jy haar gaan groet voor ek jou na tant Bettie toe neem.”
Sy knik instemmend. Sy is nuuskierig om die derde aspiranterfgenaam te ontmoet: Jakob se dogter, wat van die drie seker die sterkste aanspraakmaker op Poortjie is.
Mercia Serfontein is ’n blonde meisie van sowat twintig, en selfs met haar deurmekaar boskasie en ’n rooierige neus en waterige blou oë skep sy ’n aantreklike prentjie in die bed.
Lydia glimlag vriendelik toe Frans hulle aan mekaar voorstel en lê haar hand liggies op die jong meisie se voorkop. “Hoe voel jy?” vra sy simpatiek.
“Ek voel vrot,” antwoord Mercia effens hees. “Dit voel asof een van Frans se trekkers oor my geloop het.”
“Sodra ek met tant Bettie klaar is, sal ek jou kom was en gemaklik maak,” belowe Lydia terwyl sy die blonde krulle saggies terugstoot.
Belangstellend kyk Mercia na die verpleegster in haar wit uniform, en Frans sien die blou oë rek effens. Sy het blykbaar ook nie verwag dat die verpleegster so jonk en aantreklik sou wees nie.
“Wat dink jy, sal ek die dokter laat kom?” vra Frans toe hulle weer in die gang kom. Hy klink bekommerd en sy wonder of hy oor die meisie self bekommerd is en of dit maar net is dat hy nie nog ’n pasiënt op sy hande wil hê nie. Die situasie raak steeds interessanter, dink sy.
Gerusstellend sê sy: “Dis moontlik net griep, maar die dokter kan haar gerus ’n inspuiting vir die seer keel gee. Sy het beslis koors.”
“Goed, ek sal hom vra om nog vanoggend te kom.”
Tant Bettie se kamer is aan die einde van die gang, net langs Lydia s’n. Die deur is half toe en net voordat hulle ingaan, kyk Frans ’n oomblik aarselend na haar, asof hy nog iets vir haar wil sê. Maar dan verander hy van plan en stoot haar saggies voor hom by die kamer in.
Die slaapkamer is groot en ruim, soos al die vertrekke in die huis, maar in teenstelling met die ander kamers is dit baie eenvoudig, byna karig gemeubileer. Op ’n groot ysterkatel in die middel van die kamer lê tant Bettie Serfontein, ’n kort, effens lywige vrou met lang gryswit hare wat sy in twee vlegsels dra, skerp donker oë en ’n effens blas vel. Afgesien van die hoë kleur op haar wangbene lyk sy nie juis siek nie, maar toe Lydia nader kom, sien sy die sweet wat op haar voorkop pêrel en die blou skynsel van haar lippe.
Tant Bettie se blik is skerp, maar nie onvriendelik nie.
“Dag, suster,” sê sy en haar stem is byna net so diep soos ’n man s’n. “Jy lyk ’n bietjie jonk en tengerig. Ek hoop nie die werk sal te veel vir jou wees nie.”
Lydia neem haar hand in albei hare. “Ek is vier-en-twintig en so taai soos ’n ratel. Ek verpleeg al ses jaar lank en die werk was nog nooit vir my te veel nie. Tevrede?”
’n Glimlaggie flits oor die stroewe ou gesig. “Jy ken nog nie vir Bettie Serfontein nie, kind,” waarsku sy. “Hoe heet jy?”
“My naam is Lydia Vorster.”
’n Oomblik nog kyk tant Bettie haar ondersoekend aan, dan draai sy haar kop na Frans: “As Mercia siek is, moet jy maar die dokter laat kom. Jammer hy het nie sommer gistermiddag na haar ook gekyk nie.”
Lydia se vingers is op die moeë, fladderende pols. “Tant Bettie moenie so baie praat nie, anders sê u weer voor vanaand les op. Solank Frans die dokter gaan bel, kan ek u was en ’n bietjie gerieflik maak.”
Sonder ’n woord draai Frans Naudé om en stap by die kamer uit. ’n Rukkie betrag tant Bettie die jong meisie in stilte terwyl sy in die kamer rond werskaf, dan sê sy droogweg: “Frans is nie gewoonlik so bedees nie. Sou dit die wit uniform wees?”
Lydia glimlag effens, maar antwoord nie. Sy was haar pasiënt, borsel haar hare en vleg dit weer, en trek die bed skoon oor. Ten spyte van die feit dat sy so vinnig moontlik werk, is tant Bettie uitgeput toe sy met haar klaar is.
Later kom Frans terug en help haar om tant Bettie regop teen die kussings te laat sit sodat sy gemakliker kan asemhaal. Lydia besef dat sy die pasiënt nooit alleen sal kan behartig nie.
Sy was pas klaar met tant Bettie toe sy ’n sagte klop aan die deur hoor. Aarselend kom tant Susie die kamer binne. Sy groet saggies en kom tot by die voetenent van die bed. Stilswyend kyk sy na tant Bettie, wat nou met geslote oë teen die kussings lê en hyg na asem. Na ’n rukkie maak tant Bettie haar oë oop, asof sy bewus geword het van nog iemand in die kamer, en sy knik effens.
“Môre, Bettie,” sê tant Susie skugter, soos een wat bang is sy hinder. “Hoe gaan dit vanmôre?”
“Beter,” fluister sy. “Net moeg.”
“Sal ek vir tant Bettie ’n pilletjie gee?” vra Frans, wat nog langs die bed staan, en sy knik weer. Lydia kyk hoe hy ’n klein bruin pilletjie in die palm van sy hand uitskud en dit saam met ’n bietjie water vir tant Bettie gee. Sy dink dat hy vir ’n man wat die grootste gedeelte van sy dag buite in die veld deurbring, besonder handig is in die siekekamer.
Sy draai na tant Susie, wat nog aarselend by die voetenent van die bed staan, en sê sag: “As tante wil, kan u ’n rukkie by tant Bettie sit, maar sonder om te praat, terwyl ek gou vir Mercia gaan was en regmaak.”
Tant Susie se gesig verhelder, asof dit vir haar ’n groot voorreg sal wees, maar Frans sê vriendelik maar beslis: “Ek het nou niks te doen nie. Ek sal self ’n rukkie hier sit. Tant Susie kan gerus gaan kyk dat die ontbyt klaarkom.”
Tant Susie se gesig val en sonder ’n woord draai sy van die bed af weg. Waarom het hy dit gedoen? wonder Lydia toe sy saam met tant Susie uitstap. Dis byna asof hy onwillig of bang is om tant Susie alleen by die sieke te laat.
“Hulle wil my nooit toelaat om by haar te sit nie,” kla tant Susie toe hulle in die gang kom, byna asof sy Lydia se gedagtes kan lees. Sy lyk so bedruk dat Lydia haar jammer kry. ’n Oomblik lê sy haar arm vertroostend om die skraal, effens geboë skouers.
Lydia klop aan Mercia se deur en gaan binne. Die meisie is warm en koorsig, en hoewel sy dink dat dit net griep is, is Lydia tog bly dat Frans die dokter ontbied het.
“My keel voel soos ’n rasper en my lyf is so seer dat ek skaars kan roer,” bekla Mercia haar lot.
“Ek weet, dis ’n nare siekte. Ek het self onlangs deurgeloop. Die beste is om maar net doodstil in die bed te lê tot dit weer beter gaan. Frans het die dokter gebel – hy sal later vanoggend kom.”
Sy spons die warm jong liggaam af, borsel die klam blonde hare en maak Mercia verder gemaklik. Die kontras tussen die twee pasiënte, die een oud en moeg en afgeleef, die ander jonk en mooi, tref haar onwillekeurig. En meteens wonder sy of die jong meisie bereid sal wees om tant Bettie se plek op Poortjie in te neem noudat haar dae van heerskappy hier op die plaas getel is.
“Dankie, dis beter,” fluister Mercia. Lydia gee haar twee pille en trek die gordyne toe.
“Ek bring vir jou ’n koppie tee, dan moet jy probeer slaap.”
“Ek sal. Ek is doodmoeg. Ek het vannag nie ’n oog toegemaak nie. Jy moet asseblief net vir tant Susie hier uit my kamer weghou. Die ou vrou werk op my senuwees.”
“Ek sal sê jy wil slaap,” paai Lydia, maar heimlik is sy ’n bietjie geskok. Om van tant Susie sommerso as “die ou vrou” te praat, klink darem nie mooi nie.
Sy stap kombuis toe om vir Mercia tee te maak en vir tant Bettie ’n bietjie pap in te skep. ’n Huishulp is besig voor die stoof en met openlike nuuskierigheid bekyk sy die meisie in haar spierwit verpleegstersuniform.
“Môre, juffrou, ek is Sabina,” groet sy, en Lydia glimlag vriendelik. Sy hou dadelik van haar gesig.
Lydia soek ’n skinkbord en neem dit eetkamer toe om dit vir die pasiënt reg te maak. In een van die riempiestoele naby die venster sit tant Susie en brei. Sy kyk op toe Lydia inkom en knik vriendelik, haar ontevredenheid van so pas blykbaar vergete. Sy het ’n blou katoenrokkie aan, die glimmende wit hare is netjies gekam en die kantmussie wat daarop pryk, is onberispelik skoon. Met die blinkblou ogies wat die wêreld om haar so belangstellend betrag, lyk sy vir Lydia nes ’n nuuskierige voëltjie.
Toe Lydia by tant Bettie se kamer kom, sit Frans nog by haar. Hy staan op, neem die skinkbord by haar en sit dit op die tafeltjie voor die bed neer. “Ek sê dan maar tot siens, tant Bettie; ek wil net na ontbyt land toe gaan. Die werkers is besig om te skoffel en aangesien tant Bettie in goeie hande is, sal ek seker nie voor vanmiddag terugkom nie.”
Tant Bettie se oë dwaal verlangend na die oop venster en die blou somerdag daar buite. “Jy sê die mielies is mooi, Frans.”
“Pragtig. Na die mooi reëns het hulle eenvoudig opgeskiet. Tant Bettie moet gou gesond word sodat ek vir tante kan gaan wys.”
“Dink jy ek sal weer gesond word, Frans?” vra sy en daar is ’n vreemde intonasie in haar stem.
“Natuurlik,” antwoord hy en sy stem is warm en gerusstellend. “Hoe dan anders?” Hy tik haar liggies op die skouer en draai na Lydia. “Jonas weet waar ek is as jy my nodig het. Ek ry met die bakkie sodat ek dadelik sal kan terugkom. Dokter het belowe om later vanoggend te kom. Ek hoop dat jy die twee pasiënte intussen alleen kan behartig.”
Lydia sit die skinkbord oor tant Bettie se bene. “Ek sal regkom. En ek kan altyd tant Susie se hulp inroep as dit nodig is.”
“Ek dink jy moet liewer nie toelaat dat tant Susie vandag in die kamer kom nie. Tant Bettie het rus nodig en moet so stil moontlik gehou word.”
Sy stem is koel en beslis, en Lydia voel dat sy ’n kleurtjie kry.
“Goed,” sê sy stil, en sonder ’n woord verder draai hy om en stap by die kamer uit.
Toe Lydia ’n kwartier later in die eetkamer kom, is hy reeds weg. Met ’n vreemde gevoel van verligting neem sy haar plek aan tafel in. Sy voel glad nie op haar gemak in Frans Naudé se geselskap nie en neem haar voor om nie in onnodige argumente met hom gewikkel te raak nie, maar hom sover moontlik te vermy.
Tant Susie het klaar geëet, maar vertoef nog in die eetkamer. Sy vra weer na tant Bettie en bied aan om by haar te gaan sit as Lydia miskien ander werk het wat sy moet doen.
“Tant Bettie is baie moeg en mag nie vandag geselskap hê nie,” sê Lydia vriendelik dog beslis, en teleurgesteld draai tant Susie weg.
“Ek wil maar net help,” sê sy hartseer. “Ek sal haar nie hinder of ontstel nie.”
“Ek weet,” sê Lydia taktvol. “Maar ek moet die dokter se bevele uitvoer, anders kom ek in die moeilikheid.”
Tant Susie knik bedruk en om haar gedagtes ’n bietjie af te lei, vra Lydia: “Is tante familie van tant Bettie?”
Dadelik verhelder die ou gesig en gretig verduidelik sy: “Ons is eie niggies, my kind. My oorlede pa en oom Jakob – dis Bettie se pa – was eie broers en het saam hier op Poortjie grootgeword. Daarom voel ek dat daar op my oudag vir my ook hier op Poortjie in die groot, leë huis ’n plekkie behoort te wees.”
Lydia kyk haar verras aan – hier is nog ’n aanspraakmaker van wie sy nie eens geweet het nie – en tydsamer vervolg tant Susie: “Ek het tot onlangs by my dogter op die dorp gewoon, maar die kinders word groot en die huis het vir ons almal te klein geword. Nou wil hulle my na ’n tehuis vir oumense stuur. Ek het gedink aangesien Bettie my nodig het, kom bly ek dan maar liewer hier op Poortjie.”
“Hoe lank is u al hier op Poortjie?” vra Lydia stadig.
“Ek het omtrent ’n maand gelede gekom – kort nadat Bettie die kwaai hartaanval gehad het. Frans wou my na ’n paar dae weer terugstuur, maar toe Mercia kom, het hy gesê ek kan maar voorlopig as chaperone aanbly.”
“En weet tant Bettie van u planne om hier aan te bly?”
“Ek weet nie, my kind. Ek het nog maar min kans gehad om alleen met haar te gesels – dis of Frans-hulle my opsetlik uit haar kamer probeer hou. Maar sodra sy beter is, sal ek haar sê. Ek het nie die minste plan om my laaste jare in ’n ouetehuis deur te bring nie.”
“So ’n ouetehuis is glad nie so sleg nie,” probeer Lydia paai. “Ek ken ’n ou dame wat al jare in een woon en sy is baie gelukkig daar. Sy sê sy bly liewer daar as saam met haar kinders.”
“Nee, my kind. Ek sal dit nooit in so ’n plek uithou nie. Ek is my hele lewe lank gewoond om te doen wat ek wil en buitendien hou ek ook nie van oumense nie. Ek dink hulle kan tog so vervelig wees.”
Lydia onderdruk ’n glimlag. Besef tant Susie dan nie daar is ’n baie sterk moontlikheid dat Bettie Serfontein nie weer uit haar siekbed sal opstaan nie? Maar sy sê niks nie.
Na ’n rukkie sê tant Susie: “Dié Sam is tog ’n liewe seun. Hy is die enigste een wat tyd het om na ’n ou tannie se klagtes te luister. Hy het my belowe dat hy sal sorg dat ek nooit na ’n tehuis toe hoef te gaan nie. Dink jy nie dis lief van hom nie?”
“Dis gaaf van hom,” sê Lydia. Sy het Sam Serfontein blykbaar te haastig geoordeel.
“Hy behoort natuurlik Poortjie te erf – as die enigste oorblywende Serfontein-man dink ek dit is sy regmatige erfenis. En as ek die geleentheid kry, sal ek dit beslis vir Bettie sê.” ’n Rukkie brei sy in stilte, dan vervolg sy: “Sal dit nie wonderlik wees as Sam Poortjie erf nie? Dan sal ek weet ek is veilig en hoef ek nooit weer bang of eensaam te wees nie.”
Lydia stoot haar stoel agteruit en lê haar hand in die verbygaan vir ’n oomblik op tant Susie se skouer. “Moenie so bekommerd lyk nie, ek is seker alles sal regkom. Vir wie brei tante die mooi sokkies?” vra sy dan op heeltemal ’n ander toon.
“Ek wou dit vir Sam vir Kersfees maak, maar die jig in my arm pla my die laaste tyd so baie en ek kon dit nie betyds klaarkry nie. Hy weet darem daarvan, en sodra dit klaar is, sal ek dit vir hom gee.”
“Sal ons nie vir dokter iets vir die arm vra nie?” stel Lydia voor terwyl sy saggies oor die seer skouer vryf. “Hy kom netnou weer plaas toe.”
“Nee, dankie, my kind,” sê sy heftig en die blou oë lyk skielik onrustig. “Ek wil niks met dokters te doen hê nie.”
Lydia kyk haar effens verbaas aan – tant Susie klink regtig ontsteld – dan glimlag sy gerusstellend: “Niemand sal u dwing om die dokter te sien as u nie wil nie, tante.”
“Dis wat jy dink – dis wat Ellie Swart ook gedink het. Toe sy nog dink die dokter behandel haar vir asma, toe het hy klaar die sertifikaat geteken en was sy in die malhuis. En glo my, sy was net so min mal soos ek of jy. ’n Bietjie neulerig en vergeetagtig soos oumense soms kan word, maar by haar volle positiewe. Ja, dis wat die kinders doen as hulle van jou ontslae wil raak,” eindig sy bitter. Moeisaam staan sy uit haar stoel op. “Ek sal dan maar by Mercia gaan sit. Sy voel seker maar ’n bietjie eensaam. As ’n mens siek is, verlang jy altyd huis toe.”
“Mercia slaap, tante,” keer Lydia haastig. “En ek sou u aanraai om liewer uit haar kamer te bly. Griep is baie aansteeklik en ons het op die oomblik genoeg pasiënte.”
“Het sy griep? Ek het nie geweet nie. Dan sal ek maar liewer wegbly – ek het gedink dis net verkoue. Ek sal dan maar vanoggend vir Sabina gaan help appelkose skil – as ek nie daar ook in die pad sal wees nie.”
Lydia het gehoop dat sy op die stil, rustige ou plaas nie net haar kragte nie, maar ook haar verlore gemoedsrus en geesdrif vir die lewe sou herwin. Nou blyk dit dat die lewe op die plaas glad nie so eenvoudig sal wees nie. Wel, sy het nie enige plan of begeerte om haar met ander mense se sake in te meng nie. Sy het weggevlug van haar eie hartseer; sy wil nie met ander mense s’n belas wees nie. Sy wil net rus hê, en vrede vir haar gemoed. Sy sal haar pasiënt na die beste van haar vermoë verpleeg en basta met die ander. Dit gaan haar nie die minste aan wie eendag vir Poortjie erf, en of tant Susie die res van haar dae in ’n ouetehuis moet deurbring nie.
Die veraf gerinkel van ’n klokkie dring meteens tot haar deur en sy skud die gevoel van bedruktheid wat haar oorval het, van haar af. Doelbewus stap sy met die lang, breë gang af om te hoor wat haar pasiënt nodig het.