Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Laat die middag, so ’n rukkie voor die storm, het Sam daar aangekom. Hy het ’n doos sjokolade en ’n boek vir Mercia gebring, en ’n yslike bottel reukwater vir tant Bettie. Hy het ’n rukkie by tant Bettie in die kamer gesit, maar sy het meestal met toe oë gelê. Toe Lydia met haar aandete inkom, het hy dadelik verskoning gemaak en verlig uitgeglip. Sy het al opgemerk dat Sam glad nie op sy gemak in die siekekamer is nie.

“Hier is die aandete, tante,” sê Lydia. “Ek hoop u gaan vanaand alles eet.”

Tant Bettie maak haar oë oop, dadelik helder wakker, en Lydia vermoed dat sy maar net gemaak het of sy slaap omdat sy nie lus was om met Sam te gesels nie. Dit is ’n ou laai van haar om van onwelkome besoekers ontslae te raak. Sonder veel belangstelling loer tant Bettie na die skinkbord kos, dan kyk sy na die lug wat so vinnig verdonker.

“Het Frans nog nie gekom nie?”

“Ek het hom nie gesien nie, maar hy sal seker nou-nou hier wees. Daar kom ’n yslike storm op.”

Tant Bettie proe aan die eier en drink ’n paar slukkies melk, dan stoot sy die skinkbord opsy. Op Lydia se vraende blik skud sy net haar kop. Sonder om iets te sê, tel Lydia die skinkbord op en dra dit terug kombuis toe. Sy het al geleer om nie onnodig met tant Bettie te argumenteer nie.

Terwyl sy Mercia se aandete regkry, loer sy kort-kort na die donker lug. Effens onrustig wonder sy waar Frans so laat bly. Skielik waai die agterdeur oop en haastig kom hy by die kombuis in en druk die deur agter hom toe. Sy hare is verwaaid en sy oë blink en helder. Hy lyk jonk en sterk en lewenslustig.

“Ek sien ons het kuiermense,” sê hy.

“Net familie,” betig sy hom en hy grinnik effens. “Hoe gaan dit met die siek koei?”

“’n Bietjie beter, dankie.” Hy kom by die tafel staan en kyk na die skinkbord wat sy voorberei het. “Ek hoop hier is vir ’n honger man ook kos.”

“Honger mans val nie onder my sorg nie,” sê sy liggies. Sy kyk vlugtig op in die heldergrys oë, dan tel sy die skinkbord op en sê saaklik: “Tant Bettie het al ’n paar keer na jou gevra.”

“Ek gaan dadelik na haar toe. Ek moet net eers van die stof en sweet ontslae raak. Jammer, maar ek kan nie die skinkbord vir jou dra nie, my hande is vuil.”

Sy knik net en stap voor hom by die kombuis uit, ’n bietjie verras oor sy skielike genaakbaarheid. In Mercia se slaapkamerdeur aarsel sy ’n oomblik terwyl sy die toneeltjie voor haar verbaas aanskou. Sam sit voor Mercia se bed, haar een hand liggies in albei syne, terwyl Mercia tergend in sy gesig opkyk.

Mercia moet oppas, flits dit deur Lydia se brein. Sam Serfontein is nie ’n man met wie jy speel nie.

Mercia kyk op en sien haar in die deur staan. Sy bloos en trek haastig haar hand uit Sam s’n. Sam spring op en wil die skinkbord by Lydia neem, maar net op daardie oomblik flits die weerlig verblindend, byna onmiddellik gevolg deur ’n donderende slag. Mercia gil verskrik en pluk die komberse oor haar kop. ’n Oomblik staan Lydia en Sam asof hulle vasgenael is, en in die diep stilte wat op die slag volg, hoor hulle die eerste haelkorrels op die dak val. Haastig stop Lydia die skinkbord in Sam se hande en hardloop na tant Bettie se kamer toe. So ’n kwaai slag is genoeg om haar pasiënt ’n hartaanval te gee.

Tant Bettie sit regop teen die kussings, ’n bietjie bleek, maar andersins nie juis ontsteld nie. Lydia stap na die bed toe en lê haar vingers liggies op haar pols terwyl sy gerusstellend glimlag. Skielik steek Frans sy kop om die deur. ’n Oomblik kyk hy ondersoekend na hulle, dan stap hy nader.

“Wie het so geskree?” vra hy bokant die geraas van die hael wat op die dak dreun.

“Mercia.”

Tant Susie, spierwit geskrik, die blou oë wyd oopgesper en vol vrees, strompel by die kamer in. “O, henetjie tog,” kerm sy. “Dis seker die einde.”

Frans sit sy arm om haar en wil haar uitneem, maar tant Bettie keer hom.

“Laat haar maar hier bly, Frans. Gaan kyk of Mercia reg is.”

Frans help tant Susie tot by die stoel en bewend sak sy daarin neer. Sy bedek haar gesig met haar hande en wieg hulpeloos heen en weer terwyl sy aanhoudend kerm dat haar laaste dag gekom het. Daar is meteens nog ’n slag, byna so hard soos die vorige een, en oorverdowend stort hael en reën op die dak neer. Frans kyk onseker na Lydia, dan neem hy haar aan haar arm en stoot haar in die rigting van die deur.

“Mercia,” skree hy in haar oor. “Ek sal hier bly.”

’n Vreemde toneel begroet haar in Mercia se kamer. Mercia lê met haar kop onder die kussings terwyl Sam hulpeloos voor die bed sit. Hy spring verlig op toe Lydia inkom en vee die sweet van sy voorkop af. Voor sy kan praat, kom Sabina, asvaal geskrik, by die kamer ingestorm.

“Kom kyk, kom kyk,” skree sy en beduie met haar hande.

Haastig hardloop hulle albei agter haar aan. In die eetkamer het die hael reeds twee van die groot ruite stukkend geslaan, en reën en hael spat oor die vloer.

Gelukkig het die storm net so skielik verbygetrek as wat dit gekom het, maar dit het ’n hele ruk geduur voor hulle heeltemal tot verhaal gekom het. Toe sy later in die eetkamer kom nadat sy tant Susie met ’n kalmeerdrankie in die bed gesit het, is Sam besig om vir hom ’n stywe dop brandewyn te skink. Hy vee nog altyd sweet van sy voorkop af.

Hy glimlag verskonend toe hy haar sien. “Ek het hartkloppings,” sê hy. “Een siek vroumens is al erg genoeg – drie is meer as wat ’n gewone man van vlees en bloed kan behartig.”

“Jy het jou drankie verdien,” sê sy glimlaggend. “Jy is seker ook al dood van die honger. Ek is nou klaar, dan sal ek gaan kyk wat van ons aandete oorgebly het.”

Dit is byna nege-uur voor sy en Sam en Frans uiteindelik om die kombuistafel gaan sit om te eet. Die oorspronklike ete het in die opwinding van die storm tot houtskool verbrand en Sabina is huis toe toe die storm bedaar het om te sien hoe haar gesin gevaar het. Maar Lydia het vir hulle roosterbrood en roereier en ’n groot kan koffie gemaak en hulle het heerlik gesmul. Daarna het sy en Sam nog ’n rukkie gesels terwyl Frans eers weer na die siek koei gaan kyk het.

Onvermydelik kom die kwessie van Poortjie weer ter sprake.

“Tant Bettie is baie beter, nie waar nie?” vra Sam terloops.

“Baie beter as toe ek hier gekom het,” erken sy.

“Dink jy sy gaan weer gesond word?” vra hy reguit.

Sy kyk vlugtig na hom, dan sê sy stadig. “Dis moeilik om te sê. Met dié soort hartkwaal weet ’n mens nooit. Dis die een dag op en die ander dag af. Dis moontlik dat sy kan herstel, maar sy sal die res van haar lewe ’n halwe invalide wees. Aan die ander kant” – sy aarsel en kyk op in sy oë wat stip op haar gerig is – “aan die ander kant kan die volgende hartaanval noodlottig wees.”

“Ek sien.” Hy is ’n rukkie stil, dan vervolg hy skertsend: “Tant Bettie is van die taai ou soort. Ek sal nie verbaas wees as sy ons nog almal oorleef nie.”

“In hierdie dae van maanvlugte en waterstofbomme is dit heeltemal moontlik,” glimlag sy. Hy glimlag ook vlugtig, dan word sy gesig weer ernstig.

“Het sy al ooit met jou gepraat? Oor Poortjie, bedoel ek.”

“Waarom sal tant Bettie met my oor Poortjie praat?” vra sy verbaas. “Sy was in elk geval nog te siek om veel te praat – oor Poortjie of oor enigiets anders.”

Sam glimlag innemend, glad nie van stryk gebring nie. “Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek is nie haastig vir die ou lady om dood te gaan nie. Maar sy is oud en sieklik en netnou word sy nog kinds ook, soos tant Susie. Poortjie het nog al die jare aan die Serfonteins behoort en dis te verstane dat ek graag wil weet wat ná haar dood van die plaas gaan word.”

Lydia antwoord nie en effens bedruk vervolg hy: “Tant Bettie se houding is natuurlik dat my pa sy rug op Poortjie gedraai het en dat hy sy deel van die erfenis – wat destyds skaars tweeduisend pond bedra het – reeds weg het. Tweeduisend pond! Poortjie is vandag seker tweehonderd-en-vyftigduisend pond werd. Sy kan my mos nie kwalik neem omdat my pa nie wou kom boer nie.”

“Dis ’n benarde posisie om in te wees,” erken Lydia. Sy is moeg en vaak en wens Sam wil huis toe gaan sodat sy kan gaan slaap.

“Sodra tant Bettie beter is, wil ek weer probeer om met haar te gesels. Miskien, noudat sy besef die einde kom nader …”

Lydia skud haar kop. “Ek twyfel of dit sal help. Tant Bettie sal doen wat sy wil.”

Sam se gesig verdonker. “Sy kan doen wat sy wil, maar as sy Poortjie aan Frans bemaak, sal ek die testament tot in die hooggeregshof beveg. Vyf jaar gelede het sy gesê Frans is nie haar erfgenaam nie, en as sy intussen haar testament in sy guns verander het, sal dit net wees omdat hy druk op haar uitgeoefen het.”

“Vir wie het sy so gesê?” vra Lydia, skielik helder wakker. Dié storie het sy nog nie gehoor nie.

Sam kyk fronsend na haar, dan sê hy half onwillig: “Frans het ’n meisie gehad – oom Jacob van Langvlei se dogter. Hy is vandag ’n ryk man, maar destyds het hy ook maar noustrop getrek. In elk geval, toe die vryery na ’n punt toe gaan, het hy vir tant Bettie kom kuier en haar prontuit gevra wat Frans se vooruitsigte is en of hy haar erfgenaam is.”

Lydia kyk hom ongelowig aan. “En wat het tant Bettie gesê?”

“Sy het gesê Frans is haar bestuurder en nie haar erfgenaam nie. Sy het gesê Frans se vooruitsigte is net wat enige ander jong bestuurder s’n is wat sy werk goed doen. Met ander woorde, dit hang net van homself af.”

“En toe?” fluister Lydia skaars hoorbaar.

“Dit was natuurlik die end van die vryery: die oom het kans gesien om sy dogter aan die erfgenaam af te staan, maar nie aan die bestuurder nie. Die oom het ook nie die storie vir homself gehou nie – miskien daarom dat ou Fransie nog nie weer die moed bymekaargeskraap het om vir hom ’n meisie aan te skaf nie. Nou ja, as tant Bettie vyf jaar gelede so gesê het …”

“Waar is die meisie nou?” vra Lydia.

“Sy is twee jaar gelede met ’n onderwyser getroud – hulle woon op die dorp. ’n Doodgoeie kêrel, maar ek dink sy sou beter gevaar het as sy met tant Bettie se bestuurder getrou het.”

Sy staan op, moeg en skielik weer bedruk. Sam staan ook op en rek hom uit.

“Nou ja, die pad is nat en ek sal miskien nog ’n draai moet ry om by die huis te kom. Hou maar jou ore oop en as jy intussen vir ’n ou ’n goeie woord kan doen …”

Sy skud haar kop en sê glimlaggend: “Ek het gekom om tant Bettie te verpleeg, nie om my met familiesake te bemoei nie.”

Hy kyk af na haar en dink dat sy ’n aantreklike meisie is ten spyte van die bleek gesig en diep skaduwees onder die mooi, donker oë. Gewoonlik hou hy van hulle so ’n bietjie molliger, en ’n bietjie astranter ook, maar daar is iets in die meisie wat van die eerste dag af sy aandag getrek het. Is sy regtig so stil en gedwee, of is dit ’n geval van stille waters, diepe grond? Soms kry hy die gevoel dat sy stilletjies vir hom lag, maar hy verbeel hom dit natuurlik. Hy steek sy hand uit om haar nader te trek, maar toe hy Frans se voetstappe agter hom in die deur hoor, laat sak hy sy hand.

Frans vee sy voete af en kom in. ’n Oomblik rus sy blik op die jong verpleegster, wat nog langs die tafel staan.

“Jy is net betyds,” sê Sam. “Ek was net besig om te groet.”

“So sien ek,” sê Frans koel en Lydia wonder wat hy nou eintlik sien.

Sam kyk vlugtig na haar: “Stap jy saam?”

Dis heerlik buite en Lydia trek die koel, klam naglug diep in haar longe in. Die maan het ’n oomblik deur die wolke gebreek en sy lig val bleek en spookagtig oor die nat, deurdrenkte wêreld. Die paddas kwaak lustig en van ver af kom die gedruis van die spruit wat afkom. Alles lyk so rustig en vreedsaam dat dit moeilik is om te glo ’n vernietigende storm het net ’n paar uur vantevore oor die werf getrek.

Sam groet, skielik haastig om te ry, en in stilte stap Lydia en Frans saam terug huis toe. Lydia dink aan die aand wat verby is en is dankbaar dat haar pasiënt te midde van al die opwinding so kalm gebly het. Selfs die vooruitsig dat die hael miskien die hele mielie-oes platgeslaan het, het haar blykbaar nie baie ontstel nie. Dan dink sy aan wat Sam haar van Frans Naudé vertel het, en jammerte vir hom wel in haar op. Dit moes vir hom ’n groot vernedering gewees het, een wat hy nie maklik sal vergeet nie. Dit het seker moed gekos om hier op Poortjie aan te bly.

Toe hulle by die huis instap, sê Frans: “Ek het nog ’n bietjie kantoorwerk om te doen; dit sal my seker ’n uur of twee besig hou. Gaan slaap jy solank, dan sal ek die voornag na tant Bettie kyk. Indien dit nodig is, kom ek jou later roep; so nie slaap ek sommer op die divan in haar kamer.”

Lydia knik net, te moeg om teë te praat. Sy besef dat hy seker net so moeg soos sy is, maar aangesien hy in elk geval werk het om te doen, kan sy net sowel ’n bietjie noodsaaklike slaap inkry.

Sy bad gou en toe sy tussen die koel lakens inkruip, begin dit weer saggies te reën. Behaaglik stoot sy haar bene uit en vroetel met haar kop in die kussing totdat sy gemaklik lê. Met die salige gedagte dat sy miskien vir ’n verandering die nag sal kan deurslaap, sluit sy haar oë en raak byna onmiddellik aan die slaap.

Dit het vir haar gevoel asof sy skaars haar oë toegemaak het toe ’n sagte klop aan haar deur haar uit ’n diep slaap wek. Sy klim uit die bed, dadelik helder wakker, trek haar kamerjas aan en stap na die deur waar Frans op haar wag. Die gang is donker, afgesien van die ligkol wat sy flits maak.

Sy stem is sag en gedemp. “Tant Bettie is baie rusteloos; sy wil hê jy moet vir haar ’n inspuiting kom gee.”

Sy stryk haar hare met haar hande plat, dan stap sy voor hom uit na tant Bettie se kamer. Tant Bettie lê hoog teen die kussings en selfs in die gedempte lig sien Lydia die blos op haar wange. Die donker oë is blink en onrustig en die pols onder Lydia se vingers klop swak en onreëlmatig. Saggies streel sy die klam hare van die geswete voorkop af terwyl sy bestraffend sê: “Tant Bettie moes my lankal geroep het. Tante weet mos die inspuiting bring altyd verligting.”

Frans help haar om die inspuiting te gee, dan gaan hy kombuis toe om vir hulle tee te maak. Lydia gaan voor die bed sit en sien dankbaar dat tant Bettie se kleur beter is en dat sy geleidelik ontspan. Toe Frans die tee bring, het tant Bettie reeds ingesluimer, maar na ’n rukkie maak sy weer haar oë oop.

“Jy sê die hele oes is weggeslaan, Frans?”

“Nee, ek twyfel of ons veel skade gekry het. Ek dink die storm het links verbygetrek.”

Tant Bettie knik effens en sluit weer haar oë. Na ’n rukkie sê sy lomerig. “Julle moenie onrustig wees nie. Die oes is veilig in die skuur gebêre.”

Lydia en Frans kyk na mekaar, onseker of sy yl en of sy van dieper dinge praat. Haar asemhaling word rustiger, en later lyk dit of sy slaap.

Teen twee-uur het Frans gaan slaap en teen drie-uur het Lydia haar kussings gaan haal en op die divan kom lê. Die res van die nag het redelik rustig verbygegaan.

Vyfuur het sy opgestaan en gou gestort en aangetrek en vir tant Bettie, wat reeds wakker was, koffie gaan maak. Sy was net besig om vir hulle elkeen ’n koppie in die kombuis te skink toe sy voetstappe op die stoep hoor. Sy kyk verbaas op toe Frans inkom. Sy het gedink hy slaap nog, maar hy was seker na die mielielande toe om vas te stel hoe groot die skade is.

“Goeiemôre,” groet sy. “Ek hoop nie die skade is te groot nie.”

Hy groet kortaf, en sy dink hy lyk moeg en bedruk. “Dis erg genoeg, maar ’n deel daarvan kan miskien weer herstel.”

Sy skink vir hom ’n koppie koffie in en gee dit vir hom aan. “Ek is jammer. Jy het so hard gewerk.”

Hy kyk haar verbaas aan, dan haal hy sy skouers op. “Dis maar die beloop van die lewe. Die skade is gedaan en dit help nie om verder daaroor te sanik nie.”

“Gaan jy vir tant Bettie sê?”

“Ek dink so – sy sal tog uitvind. Ek glo nie sy sal haar veel ontstel nie – ons het al erger storms as dit op Poortjie gehad. Is dit haar koffie? Kan ek dit vir haar neem?”

Sy neem haar koffie en gaan drink dit buite op die stoep.

Die nuwe dag is tintelend en skoon na die storm. In die ooste is die lug ’n sagte pienk; in die denne naby die huis weerklink die helder oggendlied van die voëls. Dat so ’n mooi oggend op ’n nag van soveel geweld kan volg, is haas ondenkbaar. En tog, oral is daar nog tekens van die storm: die blomme wat platgeslaan is, die stukkende vensters, die bome wat van hulle blare gestroop is. Maar in die bome sing die voëls en oor die rantjies kom die nuwe dag. Die lewe gaan aan, ten spyte van die storm wat so breek en verwoes.

Sy loer by tant Bettie se kamer in, maar sy en Frans is nog besig om te gesels, en stil draai sy weg. Mercia en tant Susie slaap albei nog vas en sy besluit om ’n entjie te gaan stap. ’n Wandeling deur die klam veld sal seker help om die laaste spinnerakke weg te waai.

Sy was besig om vir haar pasiënte ontbyt voor te berei toe tant Susie skuifelend by die kombuis inkom. Die mussie hang windskeef en Lydia sien dat die mooi blou oë vanoggend dof en glansloos is.

“Goeiemôre, tant Susie,” groet sy vrolik. “Lekker geslaap?”

“Nie te lekker nie, my kind. Ek het die hele nag sulke nare drome gehad. Dit was ook so ’n aaklige storm.”

“Toe maar,” sê Lydia troostend, soos ’n mens vir ’n kind sal sê, “die storm is verby en dis ’n lieflike oggend. En raai net wat is hier vir ontbyt: lewer en niertjies en heerlike vars karringmelk.”

Maar tant Susie, wat gewoonlik baie lief is vir haar kos en tot Sabina se groot ergernis heeldag in die potte loer, stel vanoggend nie veel belang in ontbyt nie. Na ’n rukkie stap sy weer mistroostig daar weg. Later, nadat Lydia haar pasiënte versorg het, kry sy haar in die blomtuin waar sy besig is om die blomme wat die hael en wind gebreek het, af te pluk.

“Kyk net hoe het die hael hulle geslaan,” sê sy aan Lydia.

“Hulle sal weer regkom,” troos Lydia.

Maar tant Susie hoor nie. Daar is ’n veraf glans in haar oë en na ’n rukkie neem sy Lydia se hand en sê vertroulik: “Ek het ook so ’n mooi groot huis met ’n pragtige groot tuin gehad. My man was so lief vir rose, en die mense het almal gesê ons tuin is die mooiste in die hele dorp. Rose en angeliere en josefslelies. Ek het elke dag arms vol gepluk en vir die bure en vriende gestuur. En in die lente het die katjiepieringboom naby die somerhuisie geblom, en dan het die hele wêreld na katjiepiering geruik. En die eerste blom het my man altyd afgepluk en vir my gebring. Toe my man nog geleef het …”

“Toe my man nog geleef het …” Lydia ken die verhaal. Sy het al meermale daarna geluister. Dis soos die refrein van ’n lied wat oor en oor herhaal word. Toe my man nog geleef het, toe was die lewe so anders as wat dit vandag is. Toe het sy elke dag arms vol blomme weggegee … Maar nou is sy oud en moeg en gedaan, en party dae so ’n bietjie kinds, en al wat sy nog oorhet, is die herinneringe aan die goeie ou dae. Nou is sy net in almal se pad; niemand het haar meer nodig nie. En haar groot vrees in die lewe is dat hulle haar na ’n ouetehuis sal stuur waar sy haar laaste dae tussen vreemdes sal moet deurbring.

Sy neem tant Susie se arm en stap terug huis toe met haar. “Kom, ons moet gaan eet,” gesels sy opgewek in ’n poging om tant Susie uit haar mymeringe te wek. “Daar is lewer en niertjies en vars karringmelk …”

Sonder teëstribbeling het tant Susie haar na die huis laat teruglei.

Na ontbyt het Mercia ’n bietjie opgestaan, maar voor die dag halfpad om was, het die pyn tant Bettie weer vasgevat. Frans was vroeg die middag verplig om die dokter na Poortjie te ontbied. Later die middag, toe daar nog geen tekens van verbetering was nie, het Frans vir Sam ook gebel, en binne ’n halfuur was hy op die plaas. Daardie aand het tant Bettie nog ’n kwaai hartaanval gehad, en Lydia en Frans en die dokter, met tant Susie soos ’n bleek skaduwee op die agtergrond, het byna die hele nag langs haar bed gewaak. Sam het in die voornag probeer help, maar hy was so lomp en onbeholpe en klaarblyklik uit sy element dat Lydia hom jammer gekry en uit die kamer gestuur het.

By tye was tant Bettie se pols so swak dat Lydia getwyfel het of sy ooit die oggend sal sien, maar teen dagbreek het die ergste pyn bedaar en het sy in ’n rustelose slaap geval.

Geluidloos glip Lydia by die kamer uit om vir hulle koffie te gaan maak, maar in die eetkamer steek sy skielik vas. Op die rusbank lê Sam sonder baadjie en sonder sy skoene, vas aan die slaap, met ’n berg sigaretstompies in die asbakkie wat op die vloer voor die rusbank staan. ’n Oomblik kyk sy af na die slapende man met die blonde krul wat oor sy voorkop val. Jammerte wel in haar op – nie net vir hom nie, maar vir almal wat betrokke is in hierdie vreemde drama van lewe en dood. En sy wonder of hulle almal so getrou by tant Bettie se bed sou gewaak het as sy net ’n arm, eenvoudige ou vrou was – as Poortjie nie by die saak betrokke was nie.

In die kombuis sit sy water op en steek die primus aan. Dan gaan sit sy by die tafel en laat haar kop ’n paar oomblikke moeg op haar arms rus. Verskrik spring sy op toe iemand onverwags aan haar skouer raak, en sy glimlag half verleë toe sy agterkom dat dit net tant Susie is. Sy het gedink – wat het sy gedink? Dat dit ’n spook is wat haar hier in die halfskemer kombuis bekruip?

Tant Susie kom tot naby haar. Sy kyk vinnig om, asof sy bang is iemand het haar agtervolg, dan vra sy fluisterend: “Is sy beter? Gaan sy gesond word?”

“Sy is baie beter,” sê Lydia gerusstellend. “Dokter het haar ’n inspuiting gegee en sy slaap nou. Dokter gaan nou huis toe en tante kan gerus ook maar gaan slaap.”

Tant Susie skud haar kop.

“Ek is bang om te gaan slaap. My kind, hier gaan snaakse dinge aan op Poortjie, dinge waarvan jy niks weet nie …”

Lydia kyk na die klein, verkrimpte ou vroutjie, en ’n koue rilling gaan langs haar rug af.

“Watse dinge?” vra sy en sy fluister ook sonder dat sy dit bedoel.

“Snaakse dinge …”

Haastige voetstappe klink in die gang en die volgende oomblik staan Frans in die deur. ’n Oomblik rus sy blik op die twee vrouens, dan sê hy koel maar nie onvriendelik nie: “Tant Susie, dis tyd dat tante bed toe gaan. Gaan trek solank uit, dan bring ek vir tante ’n koppie koffie.”

Sonder ’n woord draai tant Susie om en stap kamer toe. Al skuifelend in haar rooi pantoffeltjies stap sy die gang af, en eers toe dit stil word, draai Frans na Lydia.

“Dokter soek na jou.”

Kritiseer hy haar omdat sy weggeloop het? wonder sy. Haar stem is koel en gelyk toe sy antwoord: “Ek het net kom koffie maak.”

“Ek sal die koffie maak,” sê hy. Sy draai om, maar hy roep haar terug. “Net ’n oomblik, daar is iets wat ek aan jou wil sê. Ek moes al eerder met jou gepraat het, maar dit het so druk gegaan … Dis oor tant Susie. Haar dogter het gebel om te sê hulle sal haar kom haal as sy lastig is. Ek besef dat jy jou hande vol het en dat dit onredelik is om te verwag dat jy nog met tant Susie ook opgeskeep moet sit. Ek dink dit sal die beste wees as sy maar so gou moontlik teruggaan.”

Lydia kyk hom onseker aan. “Gaan hulle haar wegstuur – na ’n tehuis toe, bedoel ek?”

“Ek weet nie – ek glo nie,” sê hy effens ongeduldig. “Hulle het in elk geval niks gesê nie.”

Nog aarsel Lydia. Dan hoor sy weer tant Susie fluisterend sê: “Hier gaan snaakse dinge aan,” en in die vroeë oggendlug ril sy weer soos een wat koud kry.

Dan sê sy beslis: “Laat haar maar gerus nog ’n rukkie bly. Sy hinder my nie.”

Tryna du Toit-omnibus 6

Подняться наверх