Читать книгу Tryna du Toit-omnibus 6 - Tryna du Toit - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Lydia was sowat ’n week op die plaas toe die dokter weer op ’n oggend onverwags daar aankom. Tant Bettie het regop teen die kussings gesit en Lydia was besig om vir haar uit die koerant voor te lees. Haar kleur was beter en haar asemhaling makliker, en die dokter het goedkeurend geglimlag. Terwyl hy tant Bettie ondersoek, het Lydia gou uitgeglip kombuis toe om vir hom ’n koppie koffie te gaan maak en toe sy terugkom, sit hy en tant Bettie oor landsake en gesels.

“Sy is beslis beter,” sê hy later aan Lydia toe sy saam met hom motor toe stap. “Maar dit kan net ’n tydelike opflikkering wees. Julle sal haar nog ’n tyd lank baie mooi moet oppas. Sy mag haarself glad nie vermoei nie, maar sodra sy sterker voel, wil ek hê sy moet elke dag ’n uur of twee in die stoel sit, anders word sy te swak. Jou ander pasiënt kan môre ’n bietjie opstaan en behoort binne ’n paar dae weer op die been te wees.”

Hy kyk ondersoekend na haar en vervolg effens besorg: “Jy lyk self nie te goed nie. My broer het vir my gesê jy was siek. Hy het gedink die rus en verandering sal jou goed doen, maar ek is bevrees as dit so aangaan …”

Sy glimlag effens.

“Dit hét die week ’n bietjie dol gegaan, maar as Mercia eers weer op die been is en my af en toe kan aflos, sal dit heeltemal ’n ander storie wees. My siekte is in elk geval iets van die verlede. U hoef u nie oor my te bekommer nie, dokter.”

“Ek bekommer my tog ’n bietjie. Ek het so half vir Piet belowe dat ek ’n ogie oor jou sal hou.”

Sy vriendelikheid bring ’n knop in haar keel en sy kyk weg. Dan sê sy sag: “Ek sal nooit dokter Theron se goedheid tydens my pa se dood en daarna vergeet nie. Maar dis tyd dat ek weer op my eie voete staan. As ’n mens besig is, het jy nie tyd om aan jou eie moeilikhede te dink nie. U is verniet bekommerd. Ek is seker dit sal nou heelwat rustiger gaan.”

Hy kyk af na haar asof hy nog nie heeltemal tevrede is nie, en Lydia glimlag. Die dokter sien egter dat die mooi groenbruin oë nie saamlag nie en hy probeer onthou wat sy broer vir hom gesê het: dat sy haar pa in tragiese omstandighede verloor het en self siek was, en hy verbeel hom dat sy broer ook van ’n liefdesteleurstelling gepraat het. Nou ja, dié dinge gebeur heeldag en as ’n verpleegster het sy al geleer dat daar in die meeste mense se lewens donker dae ook kom, maar dat die lewe voortgaan ten spyte daarvan. En sy lyk soos iemand wat haar nie maklik van stryk sal laat bring nie.

Hy glimlag onverwags en steek sy hand uit om haar te groet.

“Nou ja, sterkte dan, en moenie aarsel om my te laat roep as julle my nodig het nie. Oor ’n paar dae kom kyk ek weer hoe jou pasiënt vorder. Intussen weet jy wat om te doen.”

Lydia staan die dokter se motor peinsend en agternakyk. Die somerson brand warm op haar neer en op die horison sien sy haelwit donderwolke wat stadig in die blou lug klim. Miskien reën dit nog vanmiddag. Die weer was die afgelope dae besonder drukkend en sy het gehoor Frans sê aan tant Bettie dat die mielies al weer reën nodig het. Al lê sy hulpeloos in die bed, stel tant Bettie nog net so intens belang in die boerdery en Frans moet haar gereeld op hoogte van sake hou.

Lydia draai om en stap stadig terug huis toe. Dis of daar skielik ’n skaduwee oor die helder somerdag geval het. Net die noem van dokter Theron se naam was genoeg om weer die ou herinneringe wakker te maak. Sy besef opnuut dat die gebeure van die afgelope jaar diep spore gelaat het, dieper as wat sy aan die begin gedink het. Effens radeloos wonder sy of Tertius se harteloosheid ’n skaduwee oor die res van haar lewe sal werp. Daar is tye wat sy daarin slaag om te vergeet, en dan kan die noem van ’n naam, die geur van ’n blom of die hoor van ’n bekende wysie weer al die ou pyn en hartseer terugbring. Dis nie dat sy hom wíl onthou nie, dis net dat dit so bitter swaar is om te vergeet.

Toe sy met die stoeptrap opklim, kom Frans haastig aangestap. “Is dokter al weg?” vra hy dadelik. “Ek wou graag ’n bietjie met hom gesels het.”

“Hy is nou net weg. Ek het jou nie so vroeg terug verwag nie.”

“Ek het net gou teruggekom om na ’n siek koei te kyk. Wat sê dokter van tant Bettie?”

Sy vertel hom en hy luister aandagtig. “Dit sal gaaf wees as sy elke dag ’n bietjie kan opstaan – sy is al baie moeg vir die bed,” is sy enigste kommentaar. “En wat sê dokter van Mercia?”

“Sy kan môre opstaan.”

Hy kyk haar ondersoekend aan, getref deur haar bleekheid en die donker skaduwees onder haar oë. Effens verskonend sê hy: “Ek is bevrees die afgelope week was ’n bietjie kwaai. Ek hoop dit sal nou beter gaan. Ongelukkig was ek self so besig …”

“Dis nie nodig om verskoning te maak nie,” val sy hom effens ongeduldig in die rede. “Ek weet nie waarom almal so bekommerd oor my is nie. Ek het onlangs kwaai griep gehad, maar kan nie onthou wanneer ek voor dit laas siek was nie. Buitendien hou ek daarvan om te werk: as ’n mens besig is, het jy nie tyd om aan allerhande dinge te dink nie.”

“Ek sien,” sê hy. “Ek sal nie verder beswaar maak nie. Sê asseblief vir tant Bettie ek moes dadelik teruggaan. En moet niks oor die koei sê nie: sy sal haar onnodig ontstel. As ek nie betyds terug is vir middagete nie, kan julle maar vir my kos bêre.”

Lydia stap die huis binne, haar gedagtes nou by die man wat haar so pas verlaat het. Na ’n week saam op Poortjie weet sy nog nie veel meer van hom as die dag toe sy hier aangekom het nie. In die siekekamer is hy ’n steunpilaar, altyd kalm en onverstoord, selfs wanneer dinge verkeerd loop. Dit is vir Lydia of sy blote teenwoordigheid tant Bettie rustiger maak. Hoewel hy bedags van vroeg tot laat op die lande besig is, bly hy gewoonlik saans tot twaalfuur, eenuur by tant Bettie sodat sy – Lydia – rus kan kry. En al kla hy nooit dat hy moeg is nie, is die tekens van spanning en vermoeienis op sy gesig tog merkbaar vir Lydia se geoefende oog.

In die gang kom tant Susie haar fladderend tegemoet. Sy het ’n blou rok aan – sy dra graag blou, miskien omdat dit die mooi blou van haar oë beklemtoon – met ’n wit voorskoot daaroor, en die wit mussie sit so ’n bietjie skeef oor die een oor. “Wat sê die dokter?” vra sy effens onrustig.

Lydia stoot die kantmussie reg en klop haar gerusstellend op die skouer. “Hy sê dit gaan beter, maar sy moet nog baie stil gehou word. Oor ’n dag of twee kan sy miskien ’n bietjie in die stoel sit.”

Tant Susie se gesig verhelder. “Die Vader het my gebede verhoor!”

“Sy is nog glad nie buite gevaar nie,” waarsku Lydia. “Maar daar is hoop dat sy weer beter sal word.”

In die verbygaan loer Lydia by Mercia se kamer in. “Dokter sê jy kan môre opstaan,” glimlag sy. Mercia glimlag terug. Sy is nog ’n bietjie bleek en moeg, maar in die blou bedjakkie en met die blou lint in haar hare lyk sy soos ’n prentjie.

“Dis tyd dat ek opstaan en jou kom help. Is Frans hier? Ek verbeel my ek het sy stem gehoor.”

“Hy was vir ’n oomblik hier – hy wou die dokter sien, maar dié was reeds weg en hy is toe dadelik weer terug land toe.”

Mercia lyk teleurgesteld. “Hy is ook altyd so besig. Sal hy terug wees vir middagete?”

“Ek glo nie. Hy het gesê ons moet sy kos bêre as hy laat is. Is daar miskien iets wat ek vir jou kan doen, Mercia?”

“Niks nie, dankie. Ek is net moeg en verveeld.”

“Sal ek tant Susie vra om ’n rukkie by jou te kom sit?”

“Nee, dankie! Ek sal maar probeer om te slaap terwyl daar niks anders is om te doen nie. Tensy jy lus het om ’n bietjie by my te kuier,” eindig sy met ’n glimlag.

“Ek kan nie. Ek het belowe om vir tant Bettie uit die koerant voor te lees. Later miskien.”

Tant Bettie lê versonke in haar gedagtes terwyl sy met onsiende oë na buite staar. Lydia stap na haar toe en neem een van die sterk, breë hande in hare. “Dokter sê tant Bettie kan een van die dae ’n bietjie in die stoel sit. Is dit nie gaaf nie?”

Tant Bettie kyk na haar, maar die somber uitdrukking op haar gesig verander nie. “Is Frans weer weg?”

“Hy moes dadelik weer teruggaan. Hoe lyk dit my tant Bettie is nie eens bly oor die goeie nuus nie?”

“Ek is dankbaar, my kind. Dis heerlik om vir ’n verandering geen pyn te hê nie. Verder as dit wil ek liewer nie dink nie.”

“Ag, kom, tant Bettie mag nie nou neerslagtig word nie. Sal ek nog ’n bietjie uit die koerant voorlees of wil u liewer na ’n mooi storie luister?”

“Bring maar die koerant, my kind. Jy kan daardie hoofartikel klaarmaak.”

Lydia neem die koerant en begin lees, maar dis vir haar gou duidelik dat tant Bettie se aandag nie by die koerant is nie en na ’n rukkie sit sy dit neer. Sy tel haar naaldwerk op wat altyd byderhand lê en begin daaraan werk. Dit is ’n teekleedjie wat in kruissteek uitgewerk word wat sy maande gelede vir haar bruidsuitset gekoop het. Met alles wat gebeur het, het dit onder in een van haar tasse bly lê totdat sy dit ’n paar weke gelede uitgehaal het om vir een van haar verpleegstervriendinne te gee wat gaan trou. Maar die mooi patroon het haar belangstelling geprikkel en sy het besluit om die kleedjie eers klaar te maak voor sy dit gee.

Sy en Elsie het omtrent dieselfde tyd verloof geraak, dink sy nou terwyl sy werk. Maar Elsie het dit gelukkiger as sy getref. Vir Elsie wag daar ’n gelukkige toekoms saam met die man van haar hart, en van haar eie drome het daar niks oorgebly nie.

Sy kyk skielik op en vind tant Bettie se oë peinsend op haar gerig. “Dis ’n mooi kleedjie. Dis seker deel van jou uitset.”

“Nee, tant Bettie. Ek maak dit vir ’n vriendin wat aan die einde van die maand gaan trou.”

Na ’n rukkie sê tant Bettie weer: “As ’n meisie vier-en-twintig is, is dit tyd dat sy aan haar eie uitset begin dink.”

“Daar is geen haas nie, tante,” antwoord Lydia so kalm as wat sy kan. “Ek het nie trouplanne nie.”

“Miskien nie nou dadelik nie, maar dit sal kom – so seker as wat ek hier lê.”

“Ek dink nie so nie. Ek het geen begeerte om te trou nie.”

“As ’n meisie so praat, is sy teleurgesteld in die lewe.”

“En aangesien ek nie meer so danig jonk is nie, moet ek natuurlik teleurgesteld in die lewe wees,” probeer Lydia skertsend sê. “Tant Bettie, ek dink nie dis goed dat u so baie gesels nie – netnou begin die hart weer met sy kaperjolle. Probeer liewer om ’n bietjie te slaap.”

Tant Bettie glimlag. “Ek is nie nou lus om te slaap nie, my kind. Wil jy nie vir my iets van jouself en jou ouers vertel nie? Ek belowe om doodstil te lê en luister.”

Lydia kyk haar verbaas aan, maar tant Bettie is blykbaar heeltemal ernstig.

Nadat sy aan die gedagte gewoond geraak het, begin Lydia gesels, eers aarselend en onseker, maar later gaan dit makliker. Toe sy eers begin praat, is dit asof sy nie weer kan ophou nie. Sy vertel tant Bettie alles: die bietjie wat sy van haar ma onthou, hoe lief en goed haar pa vir haar was, wat ’n verskriklike skok sy skielike dood vir haar was, en van die trustgeld hy gebruik het om mee te spekuleer. Nadat sy haar dit alles vertel het, was dit nie so swaar om haar ook van Tertius te vertel nie.

“Miskien was dit lafhartig van my,” eindig sy, “maar daar was ’n tyd toe ek so siek was dat ek gevoel het daar is niks meer om voor te lewe nie, dat ek gewens het dat ek saam met my pa in daardie motorongeluk gesterf het. As dit nie vir dokter Theron was nie, weet ek nie wat van my sou geword het nie. Hy het twee, drie maal per dag in die hospitaal vir my kom kuier en vir my blomme en boeke gebring – my eie pa kon nie meer vir my gedoen het nie. En dit was hy wat later aangedring het dat ek Poortjie toe moet kom om u te verpleeg sodat ek kan wegkom uit die omgewing waar ek soveel deurgemaak het.”

Tant Bettie, wat stilswyend geluister het, knik begrypend. “Arme kind! Jy het dit inderdaad ongelukkig getref. Is dit waarom jy sê jy wil nooit trou nie?”

“Hoe kan ek ooit weer ’n man vertrou?”

“Omdat een man jou gemeen en harteloos behandel het, wil dit nie sê alle ander mans is noodwendig ook soos hy nie.”

“Ek weet. Maar as ’n mens een keer ontnugter is, glo jy nie die volgende keer weer so maklik nie.”

Tant Bettie is ’n rukkie stil, dan sê sy sag: “As ’n mens so oud soos ek is, my kind, en jy kyk terug op die pad waarlangs jy gekom het, besef jy dat baie van die dinge wat vir jou onbegryplik was, tog maar vir die beste gebeur het. Die feit dat daardie man jou so gruwelik in die steek gelaat het, juis op die tydstip toe jy sy liefde en bystand die nodigste gehad het, wys maar net dat daar nie veel in hom steek nie. Jy sal miskien nog eendag dankbaar wees dat jy hom betyds gesien het soos hy werklik is.”

“My verstand sê ook vir my so,” sê Lydia met ’n skewe glimlaggie. “Dit gaan net so moeilik om my hart te oortuig.”

“Waar is hy nou? Het jy hom onlangs weer gesien?”

“Ek het hom een of twee keer in die hospitaal raakgeloop – hy was verlede jaar huisdokter daar. Waar hy nou is en wat sy planne is, weet ek nie.”

“Het jy hom nog lief?” vra tant Bettie sag en die donker oë is skerp en deurdringend.

Lydia aarsel, dan sê sy eerlik: “Ek weet nie. Ek dink nie so nie. Hy het in elk geval ’n ander meisie en ek het gehoor dat hulle verloof is, of binnekort verloof gaan raak.”

Sy tel die kleedjie van haar skoot af op en hou dit omhoog. “Dié kleedjie was deel van my uitset,” sê sy vir tant Bettie. “Ons sou aan die einde van die jaar trou. Tertius was ’n goeie student en baie ambisieus. Ek het dikwels gewonder waarom hy nou juis op my verlief geraak het. Daar was so baie ander meisies wat mooier en slimmer as ek was. Miskien het hy gedink dat my pa ryker is as wat hy in werklikheid was en dat ek as die enigste dogter later alles sou erf. Hy wou baie graag oorsee gaan om verder te studeer – dalk het hy gedink my pa sou kon help. Maar toe die rampe my tref …”

Sy byt op haar onderlip in ’n poging om haar selfbeheer te herwin en na ’n rukkie vervolg sy kalmer, sonder bitterheid: “Miskien oordeel ek hom verkeerd. In elk geval, ons het nou lank genoeg oor hom en my moeilikhede gesels. Nou gaan ek vir tant Bettie ’n pilletjie gee en dan moet u probeer slaap. Dit het my goed gedoen om my hart ’n slag uit te praat. Ek hoop net ek het u nie te veel vermoei nie.”

“Ek is glad nie moeg nie,” sê tant Bettie. Sy sluk die pil egter gehoorsaam, en Lydia help haar om gemakliker te lê. Dan tel Lydia die kleedjie op en gaan sit weer in die stoel voor die bed.

’n Rukkie is dit stil in die kamer. Tant Bettie lê met geslote oë, en effens onrustig wonder Lydia of die vertelling haar nie onnodig vermoei het nie. Sy behoort van beter te weet. Onverwags maak tant Bettie haar oë oop, en dis vir Lydia of daar ’n glimlag in die donker dieptes skuil. Haar stem is sag toe sy sê: “Ek is bly jy het na Poortjie toe gekom, my kind. Hier sal jy weer sterk en gesond word.”

Lydia knik net en voel die prikkeling van trane agter haar ooglede. ’n Rukkie is dit weer stil in die kamer, dan hoor sy aan tant Bettie se asemhaling dat sy slaap. Sy laat die naaldwerk in haar skoot val en lê haar kop met ’n suggie agteroor teen die leuning. Dit was ’n verligting om haar hart uit te praat, maar sy moet oppas dat dit nie weer gebeur nie. Sy het nog nooit veel geduld of simpatie gehad met iemand wat gedurig met sy hart op sy mou rondloop en ander met ’n lang relaas van al sy beproewings verveel nie. Maar sy besef nou dat sy ’n behoefte gehad het daaraan om te praat en dis of sy reeds ’n bietjie sterker voel.

Miskien het tant Bettie gelyk. Miskien sal sy nog hier op Poortjie genesing vind. Die beeld van ’n man met mooi, donker oë en ’n skraal, intelligente gesig verrys skielik voor haar oë, en die gedagte dat hy haar so gou kon vergeet, so gou weer by ’n ander meisie troos kon kry, laat haar ’n oomblik ineenkrimp van pyn. Dan skuif sy alle gedagtes aan Tertius de Lange beslis opsy, sit haar naaldwerk neer en stap saggies by die kamer uit. In die verbygaan kyk sy by Mercia se kamer in.

“Kom in, ek slaap nie,” sê Mercia dadelik. “Ek dink sommer.”

“En wat lê jy so ernstig en dink?” vra Lydia glimlaggend terwyl sy by die voetenent van die bed staan.

“Ek het aan Poortjie gedink, en sommer aan baie ander dinge. Is jy besig?”

“Tant Bettie slaap en ek het op die oomblik niks om te doen nie.”

“Kom sit dan hier by my – ek wil jou iets vra.” Gehoorsaam gaan sit Lydia op die stoel voor die bed en met ’n skamerige glimlag vra Mercia: “Was jy al ooit verlief?”

“Baie kere,” antwoord Lydia liggies. “Te veel om op te noem. Ek dink ek was vyftien toe ek op my musiekonderwyser verlief geraak het – hopeloos verlief …”

Effens ongeduldig val Mercia haar in die rede. “Ek praat nie nou van kalwerliefde nie – ek praat van regte liefde.”

Lydia kyk haar ondersoekend aan.

“Waarom vra jy?”

“Bloot uit nuuskierigheid. Is dit iets wat geleidelik kom – of weet ’n mens sommer dadelik?”

Lydia kyk af na haar hande wat in haar skoot lê en sy dink aan die tyd toe sy Tertius se ring gedra het en gedink het sy is die gelukkigste meisie op aarde. Stadig kyk sy weer op.

“Ek sou sê dit hang van omstandighede af: vir die een mens tref dit soos weerlig, vir die ander een kom dit geleidelik.”

Mercia glimlag. “Was jy al ooit regtig verlief?” herhaal sy.

“Ja, ek was – verlief en verloof. In my geval het dit soos weerlig gekom en ek dink my verstand was ’n lang ruk daarna so beneweld dat ek nie behoorlik kon dink nie. Hy was ’n mediese student – hy is nou ’n dokter – en in sy wit oorjas het hy soos ’n filmster gelyk. Ek was nie die enigste een wat op hom verlief was nie.” Sy bly ’n oomblik stil en vervolg liggies: “Die verlowing is ses maande gelede verbreek en hy het sedertdien vir hom ’n ander meisie aangeskaf.”

“Ek is jammer,” sê Mercia verleë. “Ek het nie besef …”

“Daar is niks om oor jammer te wees nie,” sê Lydia kalm. “Dis nie ’n geheim nie – ’n mens praat maar net nie heeldag daaroor nie. En nou moet ek eers loop. Ek het Sabina belowe dat ek die nagereg sal kom maak: gestoofde pere met ’n broskors daaroor en van Poortjie se heerlike vars room.”

Kop in die lug stap sy by die kamer uit en sy dink: dit gaan beter. Ek kan al daaroor praat sonder om in trane uit te bars. En om die geleentheid te vier, gaan sy nou vir hulle ’n peertert bak wat hulle nie gou sal vergeet nie: so lig soos ’n veer, goudbruin en so bros dat dit in die mond smelt.

Tryna du Toit-omnibus 6

Подняться наверх