Читать книгу Jukstaposisie - T.T. Cloete - Страница 11
Rotsode
ОглавлениеD.J. Opperman
Onderdanig gereed sit
hy by sy tafel verplig
hoe weet hy deur wie om oor dit
wat hom voorgesê word te dig.
Hy is ’n tweehelftegesig
hy is ’n Janus ’n skisognatis
waarvan een profiel plooiig en ernstig
die ander een glad glimmend en profaan is.
Hy hoor van alkante
voorwoordsels, hy’t vanaf die inferno tot
in die hemele na die voorbeeld van Dante
afgeluister tot in die buurt van God.
Nader oor geslagte
het ’n gewone dorp gewis
en seker sy gevoel en gedagte
en sy wil gemaak wat dit is,
die plek se snob en sy stakker
het hom help vorm, wie weet sý of hý miskien,
die onderdorp so goed as die Heilige Akker
en al die mense tot by Mohadien
trots en brutaal, nederig en verag
of gelief, geniaal
en onnosel, sag
of hard, mooi en lelik, verhewe of banaal.
Die digter is ook ’n dief, hy steel
van elke liggaam en elke gesig
en siel iets, van wie hulle nie heel
en bymekaar hou nie roof hy iets vir ’n gedig.
Maar hy is ook ’n verleë
afhanklike – deurdat daar so baie was
rondom hom is aan hom veel gegee
vir ’n gratias en ’n gratias.