Читать книгу Skepsel - Willem Anker - Страница 10
BEENDERE 2
ОглавлениеSvalbard is uit haar winterslaap wakker geskud. Bo my dreun ’n helikopter. Die toergidse is met hulle honde die wit wildernis in. Die burgers op hul sneeumobiele skeer oor die ysgrond. Die Noorweegse soldate ry rond in groot voertuie met sneeuwiele; troepe loop in rye met flitse deur die sneeu wat tot by hulle knieë kom, soos ’n neonkam deur die vallei. Almal is op soek na Howard.
Ek sit op ’n harde stoel voor ’n harde tafel in die klein kampkantoortjie. Ek kan nie agterkom of die twee mans oorkant my soldate, polisie of wetenskaplikes is nie. Hulle dra anoraks bo-oor pakke. Hulle het sneeustewels aan en sit hulle balaklawas op die tafel tussen ons neer. Die uitrustings verwar my. Buite is ’n grootskaalse soektog aan die gang. Hulle sê nie wie hulle is nie, maar die plaaslike en Noorweegse polisie het my reeds ondervra.
“Hoe lank ken u professor Hansen al?” vra die groot een met die bril en vlesige lippe, asof hy kollageeninspuitings gekry het. Sy Engels, soos almal s’n in Skandinawië, is vlot, maar sy aksent is nie van hier nie.
“Ses maande.” Ek slaap al ’n bietjie meer as vier maande by hom.
Die man maak ’n merk op die vorm voor hom. Hulle is hier om feite te bevestig, nie om antwoorde te kry nie. Hulle weet reeds alles van Howard, en van my.
“Julle het saam gewerk in Suid-Afrika.”
“Ja, by Geelhoutgrot. Ek was nie in sy span nie, maar ons het mekaar dikwels gesien.” Regmerk by die vraag.
Die maerder een sonder ’n bril is doodstil. Hy maak meer volledige notas, maar ek is seker dit het meer met my gedrag as met my antwoorde te make.
“Wanneer laas het u professor Hansen gesien?”
“Vanaand sal dit vier dae wees.” Te spesifiek. “By aandete.” Genoeg nou.
“Het hy enigiets gesê wat u dalk ’n idee kan gee waar hy is?” Brilloos lyk vir die eerste keer geïnteresseerd. Wat het Howard vir my gesê? Is ek die volgende om die sneeu in te stap?
“Nee.” Sy laaste woorde aan my was “Ek hoop ek is verkeerd”. As hy later daardie nag by my kom inkruip het, het hy toe iets gefluister, iets wat ek nie gehoor het nie? “Niks. Ons het net oor die gewone goed gepraat.”
“Die gewone goed?”
“Wat ons die volgende dag sou doen by daardie monster.”
“Die monster?”
“Die ding hier buite. Die Beendere. Wat ook al.”
“Wat ook al?” Ek het al genoeg TV gekyk: Hulle probeer my op my senuwees maak. Wanneer ek nie antwoord nie, gaan hy voort: “Vertel ons van professor Hansen. Enigiets wat die ondersoek kan help.”
“Howard is ag-en-veertig.” Hy het ligte hare wat begin grys word en blou oë en ek lag vir hom wanneer hy oor sy Viking-bloed praat.
“Een punt nege meter.” Effe oorgewig, met ’n groot moesie in die waai van sy been. Sy vel is baie wit en hy moet altyd sonblok aansit as hy in die buitelug werk. Hy dra ’n aaklige ou cowboyhoed as hy in die son is, en sy maer kuite lyk snaaks in ’n kortbroek. Dit is vreemd om in so ’n kort tyd so lief te raak vir iemand. Ek was verlief op Peter tot lank ná ons troue, maar dit het ’n paar jaar geneem voor ek werklik lief was vir hom. Ek is steeds lief vir hom.
“Hy is die beste argeoloog in Suid-Afrika.” Howard se tweede naam is Louis, na sy ma, Louise. Hy is vernoem na sy oupa. Hy praat baie van hom, die dominee op die klein dorpie in die NoordKaap. Hy praat van sy ouma Bettie, wat hare gesny het. Hoe die gemeente nie gedink het dit is ’n gepaste werk vir ’n mevrou-dominee nie, maar hoe almal haar kom besoek het. Sy het hom kleintyd betaal om die hare uit te vee, en hy het al die dorp se skinderstories gehoor.
“Jammer, Doktor …” hy kyk op ’n vorm om te maak asof hy my van vergeet het, “maar ons soek informasie wat die spanne daarbuite kan help. Ons het reeds ’n volledige beskrywing van hom.”
Sy ma was ’n huisvrou sedert Howard en sy tweelingbroer, John, se geboorte. Sy pa was ’n elektroniese ingenieur in die lugmag, wat op Waterkloofbasis aan vegvliegtuie gewerk het. Sy pa, ook John, het van die vliegtuigverf gebruik vir die modelvliegtuie wat hy saans in die buitekamer sit en bou het. Sy pa se vriende het saans gedrink; hy het plastiekmodelle gebou. John sr. is ’n paar jaar gelede dood toe iemand nie in sy truspieël gekyk het nie. Howard is baie na aan sy familie; hy sê hy kan nie wag om my aan hulle voor te stel nie. Ek is die enigste kind. My ma is dood aan kanker. (Wie sterf deesdae nie aan kanker nie?) My pa bel my af en toe. Ek sal Howard eendag voorstel aan my ouma, wat weier om dood te gaan.
“Hy is nie juis fiks nie. Hy kla oor sy knie. Hy sou nie in die sneeu geloop het nie. Hy sou vervoer gekry het.” Hy is baie lui.
Ek begin huil. Hulle kyk op hulle vorms tot ek die trane wegvee.
“Hy ken die omgewing. Nie eerstehands nie, ons verlaat nie juis die kamp nie, maar hy het baie opgelees oor die geologie en die landskap sodat ons ons werk ordentlik kan doen. Argeologie gebeur nie in die lug nie. Elke artefak is begrawe in ’n spesifieke stuk ysgrond.”
“Bedoel u u dink hy sou weet hoe om te oorleef hier buite?” Hulle wil weet of hulle strontstorie van hom wat hier uitgeloop het die woesterny in geloofwaardig is. Wat het hulle met hom gemaak?
“Hy is nie Rambo nie, maar hy is nie stupid nie.” Laat ek saamspeel. Hy sê hy het vier A’s in Matriek gekry. Hy het geskiedenis gaan swot omdat hy gehou het van spookstories. Argeologie was ’n byvak, maar ná die eerste semester het hy reeds geweet wat hy eendag wou word.
Hulle vra my uit oor my werk in Suid-Afrika, my daaglikse lewe, wie my vriende is. Hulle vra hoe lank ek en Howard al saam is. Hulle is diskreet. Toe ek weer vra wie hulle is, staan hulle op en is dit asof hulle nooit daar was nie.
Ek vra mooi en die reddingswerkers laat my toe om saam te vlieg in die helikopter. Ek het nog net een keer (by ’n skou, toe ek elf was) in ’n helikopter gevlieg. Die lemme wat bo my begin draai en die enjins se ongoddelike geraas is sexy, maar toe die ding begin opstyg, is ek vreesbevange. Toe ons eers in die lug is, kalmeer ek en kan ek fokus op hoe ek vries met die oop deur om vir die groot soeklig plek te maak. Die soldaat wat die lig hanteer, swaai dit blykbaar lukraak rond. Die kol verligte sneeu daar onder lyk baie klein van hier bo af. Een keer vang die lig ’n span huskies wat teen ’n heuwel uit beur. Die kans dat Howard in die kolletjie sal verskyn, is baie skraal. Selfs al hoor hy die helikopter en staan hy daar onder en waai sy arms, kan die kol hom met ’n meter mis en dan is ons oor hom en weg en hy daar in die koue en weg.
Hoe meer ons oor die Beendere uitvind, hoe vreemder word hulle. Ek praat met Shannon, ’n paleontoloog van Ierland.
“Dit is soos met enige objek,” sê Shannon. “As jy lank genoeg na jou kombuisstoel kyk, word dit die vreemdste ding op aarde.”
Niemand praat ooit lank met Shannon nie. Ek hou van haar, maar sy freak die meeste mense uit.
Ek kyk af in die krater wat ons om die Beendere gegrawe het. Daar verrys hulle uit die ysgrond om hulle, sommige dikker as die oudste bome, sommige soos visgrate. Daar bars hulle uit in al die verkeerde rigtings.
Sommige mense hier sê dit is miskien twee of meer kreature wat saam begrawe is, minnaars wat saam ten gronde gegaan het. Ander meen dit was twee diere in ’n geveg. Onder die soldate hoor ek ’n grap dat dit ’n orgie van gedrogte was, wat in hulle waansin nie agtergekom het dat hulle in die slyk wegsak nie.
Van die Beendere krul weg en dan skerp terug na mekaar; aan die bopunte raak hulle amper, maar nooit heeltemal nie: amper iets soos ribbes, as ribbes heeltemal anders gelyk het.
“Ja, die grond dish vir ons vreemde goed op,” sit Shannon haar monoloog in die kroeg voort, toe die horlosie sê dis aand. “Jy moenie te veel probeer verstaan nie. Die aarde is fokken oorspronklik. Elke stofdeeltjie was betrokke by die skepping van die sterre; die anonieme materiale kom uit die donkerste hoeke. Nou maak stof ’n kombers om die aarde om goed soos hierdie Beendere weg te steek. En ons kan aanhou grawe hier, maar dan moet ons weet ons soek vir kak. Daar is niks so hol soos die aarde nie. Die aarde is vol plot holes.”
“Shannon,” sê ek. “Hou op, ek sukkel om te drink as jy so aangaan.”
“Onthou net,” sê sy toe sy opstaan, “wanneer ons so lekker grawe. As ons inval. Niemand het al ooit die aardkern gesien nie. Ons hoop maar dis daar. En wat daar onder rondkruip, dít wil jy nie weet nie.”
“Shannon,” sê ek, “jy lees te veel horror stories.”
“Ek het leer lees in die geologieklas.”
’n Helikopter vlieg oor die kamp wanneer ek bed toe stap. Ek gooi op oor die gesplete enormiteite in die groot gat, onwaarskynlik oopgespalk, soos kake wat die son wou vreet.
Ek bel vir Judith, ek probeer haar gerusstel. Almal op die eiland soek na hom. Hulle gaan hom kry. Hulle gaan hom terugbring na jou toe. Ja, natuurlik. Hy kan goed vir homself sorg. Ek is seker dis net een groot misverstand. Ons bring hom terug vir jou. Sy vra of sy moet vlieg. Nee, sê ek, bly waar jy is, dis niks om oor bekommerd te wees nie.
Die manne in die pakke en die parkas is weer terug. Hierdie keer kom haal hulle my waar ek besig is met ’n fyn stukkie Been wat nie daar moet wees nie.
“Het professor Hansen ooit terneergedruk gelyk?” Hulle plant hulle volgende saadjie.
“Jy bedoel het hy gelyk of hy wil selfmoord pleeg?” Hierdie keer speel ek nie saam nie.
“Ons het antidepressante in sy bagasie gekry.” Hulle het in sy goed gekrap. Ek weet hulle sou nooit toestemming gevra het nie, maar ek wonder of hulle vir Judith ook so blatant laat weet het dat hulle sy privaatheid geskend het.
Maer-man sê, soos die vorige keer, niks.
“Professor Hansen het geen geheim daarvan gemaak dat hy ’n depressielyer is nie.” Ek is sy enigste geheim. Hoop ek. “Maar die medikasie het gewerk. Sy gemoed was stabiel.” Hulle gaan nie sy pille blameer vir sy verdwyning nie.
“As u so sê.”
“Dis wat ek sê, ja.”
“Wat het u daar?” Die maer man wys na die Beentjie wat ek vashou.
“Ek het geen idee nie.”
Ons grawe iets soos ’n werwel uit (maar dit kan enigiets wees), so groot soos ’n woonstel in Tokio. Ons vind geen vinne of hande of pote nie. Sommige goed lyk soos walvisbene, ander soos gesmolte steierwerk. Iemand dink hy het die bokant van ’n kopbeen gevind. Hy roep almal nader, maar dan, toe hy verder grawe, staan almal terug. As dit ’n kopbeen is, weet ons minder as toe ons begin het. Ons aanvaar dit is iets anders en grawe aan. Ons neem monsters, katalogiseer, doen nog toetse, en elke dag vorder ons hoegenaamd niks.
Ek raak huiwerig vriende met Mariana. Ek vertrou nie heeltemal haar simpatie nie. Shannon en Mariana kom haal my saans en ons sit in die kroeg. Hulle hou aan nonsens praat en ek hoef aan niks te dink nie. Ek is nie gewoond aan soveel drank nie. Party aande huil ek op hulle skouers en ander aande gooi ek op in die badkamer. Ek weet hulle weet teen hierdie tyd hoekom ek so ontsteld is oor ’n verdwene kollega, maar ons het ’n verswygde kontrak om nie daaroor te praat nie.
Howard is steeds weg en dit is nou al ses dae.
Almal lees die berigte wat ons joernaliste skryf om die lesers te laat aanhou lees en ons lag almal saam, die joernaliste die hardste. Dan, soms, word iemand stil. Wat as al die stories, of net een van hulle, waar is? Waar los dit ons, in hierdie plek, in hierdie kosmos?
Howard is nog altyd weg en nou is dit amptelik te lank. As hy hier uitgestap het die sneeu in, sonder ’n tent, sonder voorrade, sonder ’n span honde wat hom na een van die verlate Russiese myndorpies kon neem, dan is hy nou dood.
Die snaaksste is die illustrasies van die Beendere wat in die poniekoerante verskyn. Net so snaaks is wat die fundamentaliste van enige aard te sê het. Volgroeide mans wat in hul ma’s se kelders sit en videospeletjies speel oorstroom die internet met teorieë uit die paperbacks wat hulle lees, terwyl hulle medemense bogrondse lewens lei: Die tyd het gekom vir alles wat daar onder is om boontoe te kom. Die goeie nuus is, hulle was reg, al hulle games en comics was reg; die slegte nuus is, die tyd vir mense is verby. Christene juig oor die eindtye wat uiteindelik hier is. Nuwe aanlynkultusse verskyn elke dag en maak miljoene. Elke dag word nuwe godsdienste gebore; elke dag eindig die wêreld op hoeveel nuwe maniere.
Hy is weg. Shannon sê ons het nie hierdie skepsel gevind nie. Dit het ons gevind.