Читать книгу Skepsel - Willem Anker - Страница 7

BEENDERE 1

Оглавление

Dit is al drie dae sedert hy verdwyn het in die poolnag. Hy is weg en dit gaan eers oor twee maande lig word.

Ek en Howard het Svalbard toe gekom vir die Beendere. Hier sit ek nou op die ysgrond, halfpad tussen Noorweë en die Noordpool. Hy was gelukkig om genooi te word. Ons het gedink ons was gelukkig om hier te kon wees. Die hele wêreld praat oor hierdie rare vonds, maar net ’n paar uitverkorenes word hier toegelaat.

Ná die ontdekking is die perseel dadelik omhein en toegang streng beperk deur die Noorweegse owerhede. Volgens die Svalbard-verdrag is die argipel ’n gedemilitariseerde sone, omdat die verdrag die vestiging van militêre installasies verbied. Enige militêre aktiwiteite deur Noorweë word beperk tot die beskerming van die natuurlike omgewing, soos om seker te maak daar word nie te veel walvisse gevang nie. Omdat die Beendere tot op hede amptelik as ’n natuurverskynsel, ’n besonder seldsame natuurverskynsel, beskou word, het Noorweë hom die reg toegeëien om die area rondom die Beendere af te kamp en te bewaak. Natuurlik het die internasionale wetenskaplike gemeenskap toegang tot die objekte wat ons nog die Beendere noem.

Ons was van die eerstes wat hier opgedaag het, aan die begin van November, toe daar in die dagure soms nog glimmerings op die horison was. Wanneer die koue onderste luglae bedek word deur warmer lugmassas hoër op, sal die termoklien (die laag met abrupte temperatuursveranderings) optree as ’n tipe spieël en sal sonstrale steeds sigbaar wees, selfs al is die son in werklikheid reeds onder die horison. Nou, met ingang Desember, is dit pikdonker en die eerste skemerings sal eers weer aan die einde van Januarie gesien word. Die donkertyd, mørketiden.

Ons was besig met ’n navorsingsprojek by Geelhoutgrot naby George, waar ons oorblyfsels van die vroeë Homo sapiens se kombuisware ondersoek het, toe hy die oproep kry om onmiddellik te kom ondersoek instel. ’n Vreemde ontdekking is gemaak tien kilometer noord van Longyearbyen op die eiland Spitsbergen, die grootste nedersetting op die Svalbard-argipel. Dit is die administratiewe sentrum, hoewel dit in wese niks meer as ’n klein steenkoolmyndorpie is nie, deesdae ’n toeristebestemming, met skaars meer as tweeduisend inwoners.

Howard het my gevra om saam te kom, as sy assistent, nie net omdat ons saam gewerk het by Geelhoutgrot nie, maar omdat ons die afgelope paar maande minnaars was. Hy het gedink dit sou goed wees as ons ’n wyle onder wakende oë kon uitkom en tussen vreemdelinge kon gaan bly en sien hoe ons verhouding sou ontwikkel, indien enigsins.

Ná die nodige owerhede ons binne enkele dae van Schengen-visums voorsien het, het ons Oslo toe gevlieg via Frankfurt en, ná ’n aandete van pizza, skyr en bier en ’n nag van opgewonde seks, die volgende dag na Tromsø. In die lug het ons gesien hoe die son oor die see sak, om nie weer op te kom voor ons terugkeer nie. Op Longyearbyen se klein lughawe langs die Adventfjorden het ons ons tasse gekry op die bagasieband met die opgestopte ysbeer in die middel van die eiland uitgestal. Die bussie het ons deur die dorp geneem. Ons het by die ruit uitgekyk na die berg Hiorthfjellet. Die bestuurder het gevra of ons enigiets by die winkel wou hê. By die ingang was ’n kennisgewing dat geen gewere hier toegelaat word nie. Ons het ’n paar piesangs en lemoene teen astronomiese pryse (alle vars produkte moet vanaf Tromsø, ’n duisend kilometer suid, ingevlieg word) en vier goedkoop biere (die belasting op alkohol is hier veel laer as in Noorweë) gekoop om ons deur te sien tot aandete. Die bussie het ons voor die hotel afgelaai.

“Dit lyk soos die hotel in The Shining,” het hy gesê.

Hy het die venster in die dubbelkamer, wat uitkyk op die berg reg agter die hotel, oopgemaak sodat die sneeu kon inwaai. Die kamerlig het die sneeu ’n paar meter buite die hotel verlig, maar verder was dit nag. Ek kry maklik koud en dit was daardie middag -19 °C buite. Hy het ná ’n paar minute die venster weer toegemaak.

Laatmiddag het ons die dorp gaan verken. Ons het met die heuwel afgestap, verby die huise en woonstelle. ’n Svalbard-rendier met sy kort bene en dik pels het voor ’n huis staan en wei. Sneeumobiele het by ons verbygejaag, so vinnig soos motorfietse. In die middedorp was liggies oor die pad gespan, asof dit al Kersfees was. Daar was ’n poskantoor, algemene handelaar, restaurante, toerismewinkels met nog opgestopte diere in die vensters, en oral die kennisgewings dat geen vuurwapens binne toegelaat word nie. Ons het gehoor dat niemand die bewoonde area sonder ’n geweer mag verlaat nie, weens die gevaar van ysbere, maar dat daar groot boetes te betaal is sou jy een doodskiet, selfs uit selfverdediging. Laas jaar, sê hulle, moes hulle ’n ma en twee kleintjies in die dorp, reg by die universiteit ’n ent af in die straat, met waarskuwingskote verjaag.

Ons het tot by die modernistiese universiteitsgebou gestap en toe, weens die snerpende wind wat opgetel het en die aanvoelbare temperatuur met nog tien grade verlaag het, die naaste restaurant opgesoek. Ons het walvissteak en rendierfilet vir aandete geëet. Daar is glo een man wat ’n walvisjaglisensie het; die vleis word onder die restaurante verdeel.

Terug by die hotel, het ons die kamerligte afgeskakel, voor die ruit gaan sit en die donkerte in gestaar tot ons oë gewoond geraak het aan die donker en ons die voue in die berg daar reg by ons kon uitmaak.

Drieuur die oggend het die hotelpersoneel ons wakker gebel en gesê as ons by die voordeur uitgaan, sal ons die noorderlig sien. Voor die hotel het ’n paar ander gaste gestaan. Die paartjies het mekaar vasgehou, want hulle het blykbaar almal, soos ons, in hul haas te dun aangetrek. Die aurora borealis was nie groen soos op die poskaarte nie. Dit was wit. Die ligte het soos spoke in die lug gespeel. Dit was die eerste keer dat albei van ons die areola horribalis, soos hy dit genoem het, gesien het. Ons het foto’s geneem met ons fone, maar nie een van die foto’s het iets gewys behalwe die nag nie.

Die volgende oggend was daar gravadlax, beesfilet, rendier, croissants en kase vir ontbyt – ’n oorvloed, het ons gedink, tot ons melk gevra het. Die melkbekertjie was skaars nat, en weer moes ons hoor hoe skaars vars produkte op die eiland is.

Gepantser teen die koue het ons in die vierwielaangedrewe bakkie geklim, wat ons die sneeulandskap in geneem het sover die pad begaanbaar was. Ons het ’n poolvos oor die pad sien hardloop. Waar die pad doodloop, het twee mans op sneeumobiele ons ingewag en tot by die kamp geneem. Die spreiligte, draadheinings en ry barakke het die terrein laat lyk soos ’n konsentrasiekamp in die een of ander vergete oorlog.

Drie weke voor ons aankoms is die Beendere in die gesmolte ysgrond gevind. Die opgrawing word Die Beendere genoem, hoewel dit ver van seker is dat die objekte wat uitgegrawe is wel beendere is.

Die ysgrond op Svalbard is besig om te smelt. Aardverwarming laat die huise in Longyearbyen wegsak. Huise word gebou op houtstelte en rus op wat tot onlangs bevrore ysgrond was. Nou moet tweehonderd-en-vyftig huise afgebreek word; in ’n gemeenskap van tweeduisend mense is dit baie. Die onstabiele grond rondom die internasionale saadbank, waar meer as vyf-en-veertigduisend verskillende sade gestoor word, word kunsmatig verkoel terwyl ’n nuwe ingang gebou word weens waterskade, nog ’n gevolg van die smeltende ysgrond. Wanneer die ysgrond smelt, word metaangas vrygestel, maar so ook bedolwe gediertes.

’n Groep akademici wat Svalbard besoek het vir ’n interdissiplinêre kongres met die onderwerp “Night Inc.” was op ’n begeleide toer met hondesleë toe ’n kulturele historikus, wat daardie oggend ’n lesing aangebied het met die titel “The Private Life of the Mirror Ball”, die vreemde, puntige objek aan die voet van ’n skerp koppie oplet. Die gids het gaan ondersoek instel en teen daardie middag het die nuus op sosiale media begin vlamvat.

Die kulturele historikus kon die boonste punt van die Beendere sien, aangesien die heuweltjie ysgrond om die sogenaamde been verskuif het ná ’n onlangse sneeustorting. Enige reisiger wat voor die sneeustorting daar verbygetrek het, sou die bultjie aangesien het vir ’n pingo, ’n klein heuwel van grondbedekte ys, wat gevorm word deur die interaksie van ysgrond met ’n fontein.

Argeoloë en paleontoloë is ontbied om die Beendere, as dít is wat dit is, te begin uitgrawe. Die onderkant van die Beendere is in die twee maande sedert dit ontdek is nog nie bereik nie, maar die opgrawingsproses is tydsaam en uiters versigtig. Wat sover gesê kan word, is dat daar, indien dit wel beendere is van een of ander reusedier, behalwe die vorm, formasie en veral ouderdom van die Beendere, twee ander kommerwekkende aspekte is. Eerstens is die Beendere hoegenaamd nie vergeel, soos verwag kan word van beendere wat selfs enkele dekades begrawe was nie. Die Beendere is spierwit; ja, letterlik witter as sneeu. Tweedens kon die argeoloë geen tekens van verval oplet aan die Beendere nie. Dit is asof dit afkomstig is van ’n wese wat vanoggend gebore is.

As argeoloog wat met die oudste menslike artefakte gewerk het, is Howard ontbied om enige spore van menslike aktiwiteit na te speur. Sover kon ons niks wat menslik is naby die Beendere vind nie. Verder moet daar fout wees met die datering van die paleontoloë. Volgens wat die sonar as die onderste deel van die Beendere aandui, word bereken dat die Beendere dateer uit die Kryttydperk. Volgens alles wat ons weet, moes fossiele ál gewees het wat van sulke bene kon oorbly. Dit is onmoontlik dat die Beendere so bewaar kon gebly het.

Fossiele van plantetende dinosourusse is al op Svalbard gekry. Die argipel het eens meer gematigde temperature gehad omdat dit op ’n tektoniese plaat lê en met kontinentale drywing oor millennia noord gedryf het, sommige sê vanaf moontlik so ver suid soos die ewenaar. Satelliete merk op hoe Svalbard steeds noordoos dryf, ’n paar sentimeter per jaar. Dit alles verklaar die voorkoms van oorblyfsels van groot diere op die eiland, maar nie oorblyfsels van iets groter as vier blouwalvisse nie.

In ’n onlangse toets wat nog bevestig moet word, trek die fluisteringe deur die kamp, is bevind dat die chemiese samestelling van die Beendere onbekend is, maar definitief nie dié van beendere nie.

Ons was ’n span van ag-en-sestig wetenskaplikes, joernaliste en handearbeiders, wat ’n reusagtige en onmoontlike objek, of objekte, ondersoek; nou is ons sewe-en-sestig.

Hulle sê daar word nie ’n sneeumobiel of slee vermis nie, maar dit sê niks. Die wagte by die ingang sê hulle hou rekord van almal wat die kamp inkom of verlaat. Hulle sê dit is onwaarskynlik dat hy ongesiens by die hoofingang uitgegaan het.

Hier, ag-en-sewentig grade noorderbreedte, binne die poolsirkel, is dit koud. Hierdie Desember is dit dikwels minus twintig en kouer, maar met die wind voel dit na minus dertig of vyf-en-dertig. Die mense sê die temperatuur styg elke jaar met omtrent vier grade. Hulle sê ons Suid-Afrikaners is gelukkig die ding is nie verlede jaar uitgegrawe nie, toe was dit baie kouer. Snags in die opslaanbarakke, wanneer hy ingesluip het as almal anders slaap, het hy my styf vasgehou. Sy ligte hare het begin grys word en nou is hy weg.

“Ek is hier, is ek nie?” het hy gesê: “Net hier, aan die einde van die fokken wêreld, saam met jou.”

Dit was nege dae gelede. Aandete was rendiersop, brood en swartbessiesap. Hy hou nie van die bessiesap wat hulle elke paar dae vir ons voorsit nie. Ons het nie, soos gewoonlik, by mekaar gesit in die eetsaal nie. Ons was elkeen in gesprek met iemand anders: ek met Eric James, ’n paleontoloog van Missouri (ons het oor tennis gepraat) en hy met Mariana Ricci, ’n dokumentêre filmmaker vir BBC Earth. Ek kon nie hoor waaroor hulle praat nie, maar ek het ná sy verdwyning by haar gehoor dat die onderwerp van hulle gesprek David Lynch se Twin Peaks was.

Sy vriendskap met Ricci het my gepla. Sy is nog nie dertig nie en aantreklik. Ek was vriendelik met haar, maar ons het nooit werklik gepraat nie. Hy het ná elke snedige opmerking gesê ek moet ophou met my paranoia. Ek wou vir hom sê dis nie asof hy nie al gecheat het nie.

“Ek moet hier met meer as een mens kan praat,” het hy vir my gesê. “Anders gaan ek van my kop af raak. Ek is lief vir jou, maar ek kan nie heeldag net met jou en daardie monster gesels nie.”

Hy het nooit na die Beendere as beendere verwys nie, maar as die “monster”.

’n Paar dae later het ek weer begin karring.

“Ag, god,” het hy gesê. “Jy is te oud om jaloers te wees.”

En hy was reg, ek wás jaloers. Hoe meer ek bereid was om alles op te gee vir hom, hoe meer ek in my kop reeds begin het om my lewe saam met Peter stuk vir stuk te laat vaar, hoe jaloerser het ek geword.

Ek het geweet Howard het meer as ek om te verloor (hy het twee kinders), en ook daarop was ek jaloers. Hy sou altyd kon spog dat hy meer as ek prysgegee het vir die verhouding.

“Ek is hier, is ek nie?” het hy gesê: “Net hier, aan die einde van die fokken wêreld, saam met jou.”

Net hier, ver van Judith en die kinders en sy ander lewe, en ek, ver van Peter en my vorige lewe. Dit was net ek en hy en die groot, onmoontlike Beendere in die poolnag. Ons kon elke dag saam wees, saam werk en saam eet, soms skelm saam slaap. Elke dag ek en hy, elke dag donkerder as die vorige.

Die afgelope drie dae irriteer ek almal met vrae. Ek vra Mariana meer as een keer of hulle ooit oor enigiets anders as televisiereekse gepraat het. Ek vra die verpleegster of hy dalk by die kliniek was. Ek vra elke arbeider en wetenskaplike en hondehanteerder of hulle hom gesien het. Die soldate sê hy is seker net met ’n slee weg saam met vriende. (Van die personeel speel soms toeris om van die kamp se omheinde eentonigheid te ontsnap.)

“Ons weet ook nie waar ons spanmaats elke dag is nie,” sê ’n mede-argeoloog. “Mense loop maar rond. Baie ouens loop hou bietjie vakansie as hulle opgee om sin te probeer maak van hierdie spul. Baie van ons dink ons het klaar uitgevind wat ons kon.”

Ek kan vir niemand sê dat ons in ’n ernstige verhouding is nie, dat hy sê hy is op die punt om sy vrou en kinders te los vir my; dat ek sou weet as hy planne gehad het.

Mariana dring gisteraand daarop aan om vir my ’n bier te koop. Ek begin verstaan hoekom Howard van haar hou.

Ek kan nie vir hulle sê dat ons minnaars is nie. Hy is dalk Longyearbyen toe, sê hulle. Op soek na ’n mooi kroegmeisie, sê hulle.

Twee dae lank trek almal hulle skouers op, maar vanmiddag, op hierdie derde dag, het hulle begin luister. Ja, sê my kollegas en die soldate, dit ís vreemd. Ons moet begin soek. Ek kan vir niemand sê hoe bly ek is nie.

Ek bly kalm en sê: “Dankie, waar sal ons begin?”

My kollegas kyk in die rigting van die Beendere. Hulle kyk na my en sê niks.

Skepsel

Подняться наверх