Читать книгу Skepsel - Willem Anker - Страница 9
SLIMHUIS 2
ОглавлениеVir ’n week ná haar pa se dood slaap sy in die stoorkamer wat agter die skuifboekrak weggesteek is. Hier is nie ’n Pris-oog nie. Hier hoor sy nie die geluide in die huis nie. Hier spook dit nie. Sy het ’n matras ingedra en vir haar ’n nes gemaak tussen die skoonmaakmiddels en besems. Bedags dwaal sy in die huis rond.
Sy mis sigarette, haar voorskrif is amper op, maar sy het besluit om nie weer dorp toe te ry voor haar pligte volbring is nie. Dit is ’n ritueel wat sy moet uitspeel.
Sy het lang gesprekke met Pris. Die Jack Russell snuif aanhoudend aan die kelderdeur.
Die oggend van die agste dag staan oom Petrus voor die leefvertrek se groot venster. Hy klop en beduie vir haar om uit te kom.
“Het Mevrou ’n matras?” vra hy. “’n Enkelbed een. My huis is mos nie groot nie, maar daar is plek vir jou.”
Sy probeer stry, maar tien minute later is sy en oom Petrus besig om haar matras by die gang af te dra. Die hond spring teen hulle op, vreeslik opgewonde oor die avontuur, oor enige beweging van sy mensekameraad. Hulle dra die matras op hulle koppe sodat die bosse dit nie skraap nie. Hulle sukkel oor ’n duin.
Oom Petrus het plek gemaak in sy huis. Hy het die twee stoele buitentoe gedra wat voor die rakke gestaan het met die veertien regterkunsbene, die vier-en-vyftig snow globes en die drie-en-twintig plastiekborde met Batman op.
“Dit reën mos nie hierdie tyd van die jaar nie, hulle sal fine wees.”
Hulle sit die matras neer en sy gaan haal beddegoed in die huis. Sy maak die vensters toe en groet vir Pris. Die slimhuis klink bekommerd dat dit ’n finale afskeid is. Sy belowe sy sal kom kuier. Sy moet na haar pa omsien. Rebecca sluit die voordeur en gaan trek by oom Petrus in.
* * *
Rebecca neem ’n paar oomblikke om die geluid van die see te herken. Dit is nie ’n TV nie, nie die motors op die deurpad nie. Die slimhuis registreer dat sy wakker word. Sy en die huis groet mekaar.
Die vlotter dryf oor haar oogbal. Sy vryf oor haar oogkas en ooglid. Daar hang ’n draderige skaduwee oor haar wêreld. Elke keer wanneer sy daarop probeer fokus, glip dit weg onder haar ooglid, na die donker kant van haar oog, waar dit lê en wag dat sy dit kom soek.
Sy haal haar foon uit. Die internet sê dat in middeljarige liggame, soos dié van Rebecca, die jelkomponent wat menslike oë hul ronde vorm gee, vinniger begin krimp. Die mikroskopiese vesels bondel dikwels saam tot oogvlotters, die vlekkies verderf wat tergend die gesigsveld binnedryf.
Die huis deaktiveer die elektrochromiese ruite se verdonkering, maar hulle bly ondeursigtig. Die mis wat die ruite bedek, is presies dieselfde kleur as die slaapkamer se muurverf. (Craven & Rosé Palimpsest Eggshell, sal Ariel later vir haar sê, wanneer sy vra watter kleur die mis is.)
Sy bly onder die duvet lê, in haar vensterlose kokon. Haar oë beweeg vinnig heen en weer. Sy speel met die wurmpie in haar oog.
Die grond bak warm en ontbind die mis stuk vir stuk.
Ariel wys haar hoe Henk se oggendmedikasie lyk sodat sy dit self vir hom kan gee wanneer hy wakker word. Vandag dra sy ’n besonder kort denimbroekie. Sy is besig om Rebecca ’n blitskursus te gee voor sy haar hier gaan los. Pris vra of sy die koffiemasjien moet aktiveer.
“O ja, Pris, aktiveer die hel uit die ding uit.”
“Jammer, Rebecca. Ek vind geen hel in die masjien nie.”
Sy staan saam met Ariel buite op iets soos ’n patio sodat sy kan rook saam met haar koffie. Hulle kyk oor die steil baai daar onder, die branders wat lusteloos breek.
Ariel vertel Henk was besig om ’n huistoer te gee toe hy inmekaargesak het. Gewoonlik het Ariel die huistoere alleen behartig, maar Henk het aangedring om hierdie spesifieke miljardêr deur die huis te neem. Die vier-en-dertigste rykste man in Suid-Afrika was besig om sy sake stelselmatig uit Suid-Afrika na China toe te verskuif voor hy self na België sou emigreer, maar hy sou steeds soms in sy heimat wou kom visvang. ’n Gryskop-Afrikaner wat sou verkies om met ’n ander gryskop-Afrikaner te onderhandel. Henk het skaars vertel van die druksensors onder die bamboesvloer wat jou voetstappe waarneem en die vooraf bepaalde privaat kliniek kontak sodra jy die grond tref, toe sy eie lyf meegee.
Sy skiet die stompie oor die oprit van duisende skulpskerwe.
“Jy hoef nie te gekom het nie,” sê Henk vir haar terwyl sy hom by die skuins gang afhelp, die Jack Russell en potplant agterna.
Rebecca wonder hoe dit moet voel om ’n blinde Jack Russell te wees. Die hond volg die twee pratende Sapiens se voetstappe en die selfaangedrewe plant op wiele. Hy spits sy ore vir enige woorde wat sy baas hom geleer het. Die hond verstaan meer van die Sapiens se taal as die Sapiens van syne. Die hond kan ruik sy baas is besig om dood te gaan.
“In die huis van ’n lopende lyk, ’n potplant op wiele en ’n blinde brak is trappe net ’n wrede grap,” sê haar pa in ’n verslete rooi paisley-japon wat sy onthou uit haar jeug, sy chemo-haarklossies in alle rigtings.
Hy wil haar onmiddellik sy skepping wys. Sy probeer uitvra oor sy toestand; hy vertel haar van die optimale hoek waarteen die gang gebou is.
“Goeiemôre, Henk,” sê die huis. “Sal ek die koffiemasjien aktiveer?”
“Pris, asseblief.” Hy begin vir Rebecca vertel van die kompossisteem in die kombuis.
“Henk, wat is geel en sit by die hek en blaf?” vra Pris.
“Pris. Wagter, die wagkaas,” sê Rebecca onmiddellik.
“Korrek, Rebecca.”
“Elke oggend ’n grappie saam met my koffie,” sê Henk.
“Daai een was altyd ’n hit. Een van Ma se favourites.”
Henk kyk na Rebecca, maar sê niks.
Sy oorreed haar pa om voor die toer eers by die kombuistafel te gaan sit. Die potplant en die Jack Russell roteer om Henk se voete soos twee opwenspeelgoed.
“En dié twee?” Rebecca vind ’n pak Froot Loops in die inloopkas en gaan sit by hom. Terwyl hy haar van sy metgeselle vertel, eet sy hande vol van die ontbytpap uit die boks.
“Die plantbak noem hulle ’n BuddhAI. Die plant is ’n Stertblaarvy. Ficus religiosa. Soos die een waaronder Boeddha loop sit het om enlightened te raak. Nes die een wat ons mos in Aliceburg gehad het.”
“Okay.”
“Jy het elke dag in daardie boom geklouter.”
“As Pa so sê.” Sy buk af en bekyk die plant van nader. ’n Sensor flikker op die wit pot.
“Don’t forget to love yourself. At least, that is what Kierkegaard said,” kom ’n stem uit die pot.
“Liewe Jesus.”
Henk se lag maak hom uitasem. Hy klou aan haar skouer tot hy weer sy balans terugkry.
Die huis vra na sy welstand.
Hy vertel dat ’n vennoot vir hom die BuddhAI by ’n skou in Yokohama gekoop het. “Mense dink mos altyd as jy siek is, is die beste medisyne nóg ’n hulpelose ding.”
“Praat van siekte. Pa …”
Die beleggers wat die konsephuis besoek, sou die BuddhAI as deel van die geïntegreerde slim-omgewing sien. Hy vertel van die luidspreker wat in ’n Amerikaanse aksent die inwoner opbeur, ’n ingeboude kamera, die as-sensor wat die bewegings beheer, sensors wat bepaal wanneer die plant dors is en waar die naaste waterbron is, sensors wat die plant na sonlig lei. Flikkerende LED’s, rooi en groen seine van die plant se genot wanneer UV-strale gevind word.
“Jy sal beter weet van die megafters, jy is die ingenieur.”
“Ek is nie ’n ingenieur nie, Pa.”
“Jy weet wat ek bedoel.”
“Ek weet presies, ja.”
“Becca.” Hy is ’n oomblik lank stil. “Seker ’n oulike dingetjie, net jammer oor al die kakpraat.”
“Jy het dieselfde gesê oor jou girlfriends.”
Hy maak of hy nie hoor nie en stel voor dat hulle die toer buite begin.
“En jou blinde bloedjie?” Sy vryf die hond se kop. Hy woel onder haar tot sy verstaan om hom tussen die skouers te krap.
“Sy naam is Frank.”
“Lloyd Wright of Gehry?”
“Twee vlieë.”
Selfs die hond is deel van die geïntegreerde slim-omgewing, met die PetTracker-skyf tussen sy blaaie om hom op te spoor, sou hy wegloop.
“Obviously pla die ding hom.”
“Hy’t vier jaar gelede eendag by die huis in Johannesburg opgedaag. Nog klein gewees, nie ses maande oud nie. Die veearts het gesê hy het seker ’n siekte gehad. Vir haar gelyk of die oë al kleintyd verwyder is.”
Sy druk nog ’n hand vol Froot Loops in haar mond. Sy hoor iets taais in Henk se bors prut.
“Water me, please,” sê BuddhAI op aandrang van sy grondsensors.
Rebecca se fokus is vir ’n oomblik by die plant. As jy jou kan indink hoe dit moet wees om ’n blinde hond te wees, kan jy jou indink hoe dit moet voel om ’n bonsaiboom in ’n pratende plantbak te wees? BuddhAI registreer die kombuiskraan as die naaste waterbron en rol in die opwasbak se rigting.
Henk trek hom aan sy kruk op en gee vir Frank en die plant water. Rebecca eet Froot Loops terwyl sy wag dat hy haar vra om te help.
Sy sien dat BuddhAI nie sy kliënt verder as die stoep kan volg nie. Die sensors lees die stoepoppervlak as die einde van die wêreld. Die plantbak vind die plek op die stoep met die meeste UV-bestraling en parkeer die dwergvyeboom.
Frank draf agter die twee Sapiens by die huis uit tot op die gruis, ondersoek sy urinemerkers tussen die vetplante en gee versterkings waar hulle begin verflou. By die vullisdrom in die oprit talm hy en snuffel dringend. Rebecca snuif diep, maar sy ruik niks behalwe die see nie. Ruik hy ’n ander gedierte? Haar pa sê hier is ’n bakoorjakkals wat snags kom sukkel by die drom.
Sy gooi die styrofoambekertjie wat langs die drom lê terug in die drom. Sy sien Pris se kameras in die tuin en wonder of Henk se monoloog oor die plaaslik ontginde verbryselde skulpe op die oprit – die ligte kleur wat minder hitte absorbeer – êrens gestoor word. Hy sê die groentetuin word besproei uit die watertenks langs die huis. Hy sê die woning is om die landskap gebou. Die reusemelkhout is nie uitgekap nie, maar het eerder deel van die huisplan geword, die stam wat deur die middel van die leefvertrek strek met die sambreeltakke as skadudekking vir die patio op die tweede verdieping.
“Jou ma se planne het voorsiening gemaak vir juis sulke improvisasies met die landskap.”
“Ma se planne?”
“Dis jou ma se huis. Die laaste een waaraan sy gewerk het.”
Hy praat haar dood, herhaal duidelik die bewoording van die huistoerformule wanneer hy vertel hoe die rots nie uitgegrawe is nie, “maar eerder in gesprek tree met die lyne in die leefarea”.
Sy is seker die videomateriaal wys haar frustrasie: “En wat sê die klip vir die lyne?”
Groot dele van die huis is letterlik in die landskap ingegrawe. Hy vertel van die betonfondamente, die dik lae grond wat die huis natuurlik insuleer. Sy japon swaai om hom heen soos hy verduidelik dat die huis eintlik ’n paar huise is, verskillende strukture op verskillende vlakke, met mekaar verbind deur dakoorhange, stoepgange, terrasse en tonnels. Hy wys na waar die dakvensters uit die grond loer.
Hy sit ’n hand op haar skouer wanneer hulle na die kant van die huis loop. Teen die helling druk sy haar arm onder sy oksel in en lig hom byna van die grond af. Sy dra sy gewig sonder moeite. Sy druk haar neus in sy nek. Hy ruik nie meer dieselfde nie.
Sy gewaar iets in die struike. Frank staan met ’n geligte voorpoot. Hy sou die haas geruik het voor hy dit in die bosse gehoor het. Die haas vlug, maar die hond bly staan, laat sak dan sy poot.
Henk wys haar die gemeubileerde en bedakte patio wat in die duin doodloop. Hy wys haar die rye sonpanele wat hulself na die son toe draai soos sonneblomme. Hy praat oor tenklose waterverhitters en geometriese hittepompe.
Frank maak ’n grensmerk teen ’n aardroos.
Hy neem haar na die daktuin. Sy kyk na waar die donker, golwende dakplate begin, spesifiek ontwerp om ’n organiese effek te hê, ’n hibried van skulp en skub en harde huid.
“Die grootste deel van die huis is hier onder ons, onder die tuin.” Henk stamp met sy voet op die grond. Hy noem die groente en kruie op die naam, begin om die konsepte van permakultuur en ekologiese volhoubaarheid te verduidelik.
“Pa weet dis actually my werk, hierdie goed, nè? Ek ken die buzzwords. Hoe om tuin te maak met jou eie stront. Hoe om volhoubaar te kak. Daar’s twee groepe mense wat groen lewe – dié wat dit kan bekostig, en dié wat niks anders kan bekostig nie.”
Sy laat hom begaan terwyl hy vertel van die geoutomatiseerde besproeiingstelsel. Die kameras in die tuin sal sekerlik wys hoe die beweging in haar neusvleuels verraai dat sy en Frank albei op die olfaktoriese eerder as die ouditiewe toevoer fokus. Sy asem die oorweldigende kruiegeur in. Sy sien hoe Frank sy aandag fokus op die meer subtiele afskeidings van die sprinkaan ’n paar treë voor hom. Hy spits sy linkeroor en sak onsuksesvol op die insek toe.
“Dis nice, Pa. Kom verkoop nou die binnekant aan my.”
Henk weier dat sy hom by die skuinste afhelp. Hy val teen haar en gryp na haar T-hemp. Hy buk om sy kruk op te tel. Sy gryp hom vas.
“Genoeg nou met jou. Kom. Klim op.” Sy plant haar bene wyd, buk, hou haar arms na agter. “Kom, Pa. Jy weet jy gaan jou des moers val hier af. Oppitie.”
“Moenie simpel wees nie, Becca. Ek is net effe duiselig.”
“Henk! Fokken oppitie!”
Ná ’n talming van ag tellings sal die video-opname wys hoe Henk sy kruk los en op haar rug klim.
BuddhAI volg sy kliënte die huis in. “A two-year-old is kind of like having a blender, but you don’t have a top for it. At least, that is what Jerry Seinfeld said.”
“Shut up, Plant,” sê Henk.
Ariel wil weet hoekom Henk so moeg lyk, waar die kruk is. Dit lê op die dak, sê hy, in die koolbedding. Sal sy dit asseblief gaan haal? Hy wil vir Rebecca die huis wys. Ariel sit sy hawermoutpap in die mikrogolf, mompel iets en loop uit.
Terwyl hy sy pap eet, wys hy met wye handbewegings na die twaalf meter panoramiese venstermuur, “die ononderbroke vooraansig”.
“Come on, Pa. Vertel vir my.”
Hy neem groot happe, asof hy konstant sy mond vol kos wil hê. “Hulle het my ses maande gelede gediagnoseer.”
Hy vertel hoe hy drie jaar gelede van sy beleggings losgemaak het en die stuk grond gekoop het waar hy en sy dogter, en soms sy vrou, gaan kampeer het. Hy het die eiendom, aangrensend aan die nasionale park, as privaat natuurreservaat laat registreer en die regte mense oorreed om die heinings te lig.
Sy plan was ’n eiesoortige aftreeoord: vyftig erwe, eko-slimhuise in ’n volkome selfonderhoudende kompleks, met sy eie son- en windaangedrewe elektrisiteit, sy eie water. Die kompleks se sekuriteit en oorhoofse funksionering sou deur ’n sentrale rekenaarsisteem beheer word, met vertakkings in elke wooneenheid, waar die sentrale rekenaar as geïndividueerde virtuele assistent sou optree. Elke eienaar sou sy of haar virtuele assistent en huis kon aanpas volgens eie smaak, maar die basiese bouplan sou die ontwerp wees waaraan Barbara voor haar dood gewerk het. Die heinings is gespan, die erwe is uitgelê, die paaie is geteer en die huis en Pris-sisteem was nie ver van klaar nie, toe die dokters vir hom sê hy moet begin opskud.
Henk het die elektrisiën en loodgieter bedank vir hulle dienste. Die oop drade en pype het net so bly staan. Die eko- en slimtegnologie-eksperts is laat gaan. Hy het vir Ariel, ’n nagraadse student in binnenshuise ontwerp, gevra om in die huis aan te bly om die reklame en huistoere te behartig. Die skouhuis was nie klaar nie, maar hy wou in sy laaste maande woon in dit wat wel daar was. In Barbara se huis. Rebecca moet dit klaarmaak, as sy wil. Dit is hare.
“Ieder geval, Rebecca, oor die venstermuur: Low-E-driedubbelglasvensters filtreer die UV en ander dinge, maar laat rooi lig in, wat die huisplante toelaat om te fotosinteer. Bamboesvloere regdeur die huis, behalwe, soos jy kan sien, hier in die kombuis. Alles plaaslik verskaf.”
Sy volg nie wat hy sê oor die smart-verf teen die mure en die Gaudí-invloed in die leefarea nie.
“Liewe Jesus, Pa.”
Hy stop. “Okay. Okay. Jy wil weet. Van die siekte.”
“Why not? Die modernistiese olifant in die sitkamer?”
“Ek het geweet daar’s fout toe ek nie meer twee tjops op ’n slag kon eet nie. Verlede jaar iewers. ’n Klein bordjie kos en dit het gevoel of ek ’n Krismis-ete in het. Sooibrand uit die hel uit. Gaudí is Katalaans-modernisties. Toe kom die krampe.”
Die huis se kameras, sien sy in die dooie swart oë in die hoeke van die vertrek, hou die siek man dop, raam vir raam, sy bewegings, sy oogkontak en die afwesigheid daarvan.
Hy is hande-viervoet op die plaaslik verboude bamboesvloer van die leefvertrek om vir Rebecca die openinge van die sentrale stofsuigsisteem se pypwerk te wys. Die huis se sensors dink hy kry ’n aanval en hy moet vinnig vir Pris gerusstel. Rebecca help hom op en sit haar hande op sy skouers.
“Die krampe, Pa.”
“Maagkrampe wat nie wou weggaan nie. Ek kon nie eet of drink nie, kon nie slaap nie. Heeltyd karsiek. Die een dag diarree, dan weer ’n week lank hardlywig. Ontwerpers stal hulle stoele en tafels en smart-goeters hier uit sodat die voornemende kopers sommer die hele pakket kan koop. Alles, behalwe die meubels in my slaapkamer, my studeerkamer en natuurlik die kombuis. Kyk, Becca. Onthou jy dit glad nie?”
“Nee, Pa, ek onthou nie jou nuwe kombuis nie.”
“Kyk weer.”
“Moet sê, dit lyk bietjie soos ’n movie set uit die seventies. Linoleum tussen al die bamboes. Die laminated tafel steek bietjie af teen die res.”
“Ons kombuis in Aliceburg. Jy het onder daardie tafel sit en speel. ’n Tafel net soos daardie een.”
“Liewe Jesus. Jy lewe in ’n fokken pophuis van jou eie verlede.”
“Ons verlede. Ons huis.” BuddhAI het in ’n hoek vasgehaak en probeer tevergeefs omdraai. Henk vertel vir haar dat elke standaardhuisplan voorsiening maak daarvoor dat twee of drie van die meer persoonlike ruimtes, soos die hoofslaapkamer en kombuis, replikas kan wees van vorige wonings waarmee die kopers ’n spesiale affiniteit het – “’n konkretisering van herinneringe”, noem hy dit. Rebecca kyk rond in die kombuis, probeer van die objekte herken. Sy loop na die kombuisvenster en probeer dit oopmaak. Sy ruk aan die agterdeur tot sy sien daar is geen skarnier of slot nie.
“Dit maak nie oop nie. Ons is onder die grond. Die deur is in die muur ingebou. Die venster is net ’n ligboks.”
“Dit lyk soos daai fake vensters in soapies.”
“Maar jy kom dit nou eers agter.”
“Touché.”
Henk vertel haar van Barbara se resepteboeke wat in Pris se geheue gelaai is, hoe sy outomaties basiese inkopies aanlyn doen deur die inhoud van die yskas – ’n aangepaste replika uit die 1970’s – te lees.
“Ek kan nie onthou dat Ma ooit eens ’n eier gekook het nie.”
“Sy het gekook. Vroeër. Die slimhuis is ’n sensor-ingebedde ekosisteem, alle toestelle en datanetwerke is verbind in Pris, alles van die toaster tot die termostaat, die deurslotte. Ons sorg nie meer vir ons huise nie, ons huise sorg nou vir ons. Pris het selfs gesigherkenningsagteware. Sy herken jou. En jy sal haar ook herken. Pris, kyk vir Rebecca.”
“Ek sien jou, Rebecca.”
“Jy is creepy, Pris. Maak soos Ma en verbrand gou ’n sny toast.”
“Jammer, Rebecca. Ek verstaan nie die –”
“Pris, stop dit. Jy ook, Becca.” Henk kyk by die nagemaakte venster uit. “Ná ’n maand of so is ek dokter toe. Bietjie winderig en slegte spysvertering, sê die eerste dokter. Eet jogurt. IBS, sê die derde dokter. Pille vir die IBS, pille vir die pyn.” Hy gaan sit by die tafel uit sy gerepliseerde verlede. “Êrens in Junie, dink ek. Ek lê en skree soos ’n maer vark in die bed. Toe ek die bloed in die toiletbak sien, bel ek ’n taxi. Naaste hospitaal, asseblief. Ja, Meneer, hier’s groot fout, sê hulle. Boek my in en toe begin die toetse. IBS, my gat. ’Scuse the pun.”
“Drop by drop is the water pot filled. At least, that is what the Buddha said,” sê BuddhAI.
Henk staan op. “Pris, hou MacPlant in die kombuis, anders gaan ek hom by die fake ruit uitsmyt.”
“Enige tyd, Henk. Henk, jy is arm en lelik, maar ten minste is jy snaaks.”
“Nog een van Ma se grappies.”
“Jy onthou regtig nie, nè?”
“Die fake kombuis is pragtig, Pa. En toe? Jy was by die toetse?”
Henk kyk na Ariel wat op die Collodi&C-ontwerpersrusbank lê met ’n Wallpaper-tydskrif op haar tablet. “Kom, ek wys jou die res.”
Hy lei Rebecca deur die gange wat met hellings na bo en onder loop, hier en daar is daar steierwerk en afrondingswerk wat nog gedoen moet word. Sy gaan staan om op te kyk na die skagte en dakvensters, wat natuurlike lig na die ondergrondse verdiepings bring. Die haakse skagte herinner haar in hoe ’n mate die huis na ’n grot voel, sonder enige reguit lyne, maar daar is ook geen kurwes te vind wanneer sy daarna begin soek nie. Sy is seker sy gaan haar om die volgende hoek vasloop in Dr. Caligari.
Henk wys vir haar die skuifboekrak wat lei na ’n versteekte stoorkamer, die meubels en lampe uit skroot en optelgoed gemaak, die lang tak wat in Ariel se kamer die dakligte dra. Hy stel nie belang in die geborgde meubels en toebehore nie. Hy neem haar na sy slaapkamer, ’n replika van sy en sy vrou se kamer in haar eerste ouerhuis. Niks behalwe die nightlight is vir haar herkenbaar nie, maar die aaklige volvloermat maak nou meer sin. Die bed is ’n replika van sy eerste huweliksbed, aangepas sodat dit kan kantel en van slimtegnologie voorsien wat, onder meer, sy slaapritmes meet.
Hy vertel van die endoskoop wat die groeisel in die vorm van ’n paddastoel opgemerk het.
“Toe’s dit die biopsies. En daarna die PET en CAT scans en die laparoskopie.”
“Watse goed?”
“Hulle sny ’n gat in jou sy en druk ’n videokamera in.”
In een van die gastekamers wys hy haar die waterlose toilet. Net die hoofslaapkamer het ’n spoeltoilet vir sy behoeftes.
“Long drops, spesiaal vir my.”
“Gedog jy sou trots wees op my.”
“Die mense vir wie ek puttoilette gebou het, voel ’n veer vir eko-dit of -dat. Hulle wil net nie meer in ’n emmer kak nie.”
“Sorry, kind. Ek het dit nie so bedoel nie.”
“Hoe lank, Pa? Hoe lank het ons?”
“’n Paar maande, skat ek. Selfs al het ek aangehou met die chemo, was die prognose minder as ’n jaar.”
“Jy het ophou gaan?”
“Dit is te laat. Die goed sal my net sieker maak. Ek wou eerder my huis kom klaarbou as om ge-Hirosjima te word. Ons huis. Jou ma se huis.”
“Jy het my niks gesê nie, Pa. Jy het niks gesê nie. ‘Hi, sorry om te pla, Becca, maar ek gaan bietjie doodgaan.’ Net fokkol.”
“Ek sou laat weet het. Wou eers die huis klaarmaak. Sodat jy kon verstaan. Dan sou jy verstaan.”
“Sure, nou maak alles heeltemal sin. Een moerse smart, eco-friendly, solar-powered selfmoordmasjien.”
Hy roep agter haar aan. Toe sy wegstap, word haar asem vlak, die angs-adrenalien suig die bloed uit haar vingers en voete, alles op pad hart toe. Sy stap op verdoofde voete, druk met dom hande teen die muur. ’n Dooie hand sukkel om die pille uit haar broeksak te haal. Dit voel of die mure skuif wanneer sy nie kyk nie. Wie sal nie verdwaal in ’n huis wat haar ma ontwerp en haar pa gebou het nie? Hulle het gelewe van die een misverstand na die ander. Sy voel hoe die huis se kameras haar volg waar sy in gange loop wat sy hoop na die oppervlak toe lei. Agter haar hoor sy die plant se wieletjies.
In ’n slaapkamer is daar ’n dun, breë venster parallel met die plafon. Sy sleep ’n stoel nader en wurm by die venster uit. Onder die venster loop BuddhAI teen die muur vas.
“Hey, there. Why don’t you take a break and have a light snack?”
Sy loop die bosse in, breek takke voor haar af. Sy trap een van die huis se sensors plat. Toe sy by die straat uitkom, loop sy verder padlangs tot by die houtsparre van die wandelweg wat die bedreigde duin beskerm. Op die duin sien sy Henk se verlate privaat strand onder haar lê. Dit lyk of die branders te stadig breek.
Sy sit en hou vir Frank dop. In ’n wêreld met ander merkers en tydlyne as dié van hare, is Frank besig om sy rondtes te doen. Sy gekussingde pote onderskei die fynste teksture van die grond, sy snorbaarde is antennas wat seine van oraloor kry. Sy ore is oop, sy neus digby die grond, sy konstante gesnuif vinnig en lig, om beter te ruik. Selfs toe hy kon sien, weet sy dat sy oë nie sy sintuie sou regeer het nie. Sy kop is vorentoe uitgesteek, die wêreld in. Hy ruik die vrot bamboes op die strand. Met elke asemteug reis hy deur tyd. Hy ruik aan die gefrommelde Fanta Orange-blik op die duin: die roesreuk van suurstof wat in die nat lug met die metaal verbind, daaragter die sweem van iets soets en, verder in die verlede, iets van die Sapiens wat dit maande gelede daar laat val het. Lê daar reukspore van die jakkals op die duin? Sal Frank aan die pis en mis kan ruik hoe die dier onlangs meer gereeld geaas het, eerder as om self insekte en rotte te jag? Frank sal Rebecca van ver af ruik. Hy kom nadergedraf, maak eers seker daar is nie iets interessanter in die rondte nie, voor hy by haar kom sit vir ’n krap tussen sy blaaie, waar die PetTracker hom irriteer. Hy skrik toe Rebecca hom teen haar vasdruk en haar kop teen syne druk. Hy woel hom los, maar ná ’n paar minute kom hy terug.
Toe hulle met die inrit opstap, vind Frank en Rebecca vir BuddhAI waar hy van die stoep afgerol het. Hy lê op sy sy en sê: “At least, that is what Paulo Coelho said. At least, that is what Paulo Coelho said …”
Sy gaan sit langs Henk op die bank. “Pa. Dis erg. Jy en Ma. Dis ’n mooi huis.”
Henk het die middag omgeslaap en eers teen seweuur wakker geword. Rebecca het oor middagete vir Lindiwe gebel.
Ná byna ’n uur was Lindiwe laat vir ’n vergadering: “Skattebol, I’m just an intercontinental flight away. Sê net, en ek’s daar.”
Sy dwaal die middag deur die huis, vat aan die meubels, staan lank in die nou skagte en opkyk na die hoë dakvensters. Sy drink ’n pil en gaan lê op haar bed. Sy lees nuus op haar foon. Toe sy nie aan die slaap kan raak nie, gaan sy af na die leefvertrek. Sy vind ’n splinternuwe eksemplaar van Moby Dick, uitgestal om die splinternuwe boekrak ingeleef te laat lyk. Sy lê en lees die eerste vier bladsye op die Collodi&C-ontwerpersrusbank, gee dan bes toe die pil inskop en kyk eerder hoe Ariel lede van ’n gemilitariseerde kultus doodskiet. Ariel spring skielik op en hardloop na die ingang. Sy skree iets in Shona en stamp op die vloer. Sy kom sit weer doodluiters op die vloer en tel die kontrole op. “Frog,” sê sy. “Every evening the thing tries to get in.”
Rebecca verlang na Nederland, maar sy kook vir haar pa en nie vir haarself nie. Sy maak gehaktballen met jus. Haar pa sal nie eens agterkom die frikkadelle smaak volksvreemd nie, net effens mosterdrig. Iets normaals vir almal om aan te kou.
Ariel vertel van haar minnaar wat werk in die ministerie van landelike ontwikkeling en grondhervorming. Sammy is byna sestig en getroud, maar besig om te skei ná sy vrou hom verlaat het vir ’n Dubaise sakeman.
“I am Sammy’s only blessee, so when the divorce goes through, I move in.”
Sammy het haar belowe dat die skeisaak binne die volgende maande afgehandel sal wees. Sy en Sammy sal dan saam intrek, en Sammy sal die minister oortuig om vir hulle befondsing te gee vir die realiteitsprogram waaroor sy en Sammy al maande lank droom.
“Feng Shack Shui. That’s the name. Sammy came up with it. He’s a genius, nè? One part of the programme will be a showcase of the best interior-designed shacks in South Africa.”
Rebecca hou op eet en kyk na Ariel.
“Each episode will also have an insert where my team and I give a shack a free makeover. Sammy says class can’t be bought, but it can be taught. We’ll give some tips on how to make the most of minimal living spaces, how to create budget-wise interiors and even how to make tasteful furniture and fittings from found objects. Like those people selling stuff at the traffic lights, only classier.”
“A quaint, rustic pot to piss in. So you don’t get raped on your way to the toilet?”
“What? No. I mean, sure, whatever. Anyway, like I told Henk, people are so negative about blessers. But Sammy, him and me, we’re a team. He gets me.”
“Bet he does. Pa weet hiervan?”
“Ja, Ariel told me all about it. Kan nie wag om die vent te ontmoet nie.”
“Sammy says there’s millions just lying around. Everyone’s underspending their budgets, you know? He’s sure the minister will have a few bucks to spare.”
“Hoekom bou julle nie huise met die geld nie, Ariel?”
“Because watching people build houses is boring. It’s like watching paint dry. Like, literally.”
“Can’t argue with that logic. Daar’s nie poeding nie, sorry.” Sy staan op. “Ek moet rook.”
“Ek kom saam,” sê Henk.
Sy steek haar pa se Stuyvesant aan. “Ariel sê Pa rook weer lekker.”
“Dis nie asof ek kan kanker kry nie. Ek moet jou nog gaan wys wat in die kelder aangaan. Jy sal jou oë nie glo nie.”
“Feng Shack Shui,” sê sy. Henk verstik aan die rook.
Rebecca merk dat alles nie so rustig is in Frank se wêreld nie. Hy bly om sy Sapiens se voete terwyl hulle rook. Waai die reuk van die bakoorjakkals sterk aan vanaf die vullisdrom? Sy ore spits, hy is nuuskierig, maar ook versigtig vir die wilde familielid. Toe sy mense ingaan, hardloop hy voor hulle in, na die veilige holte van sy trop se ondervloersverhitte nes.
Op haar newsfeed lees Rebecca dat ’n area so groot soos Londen elke maand in die Amasone uitgekap word. Sy sê nag vir Lindiwe en Mandla op die skerm. Mandla wil ’n storie hoor. Sy sê sy is baie moeg, MamLindi moet maar vanaand storie vertel, sy belowe sy sal môre.
“Één verhaaltje, Mam.” Die Nederlands van die crèche. “Slaaptydstorie, Mam!” Die Afrikaans van een van sy ma’s.
Pris registreer die geprogrammeerde opdragwoord en begin ’n gestoorde storie vertel. Rebecca maak die rekenaar toe terwyl haar gesin nog besig is om met haar te praat. Sy staar na die luidspreker op die bedkassie.
“Hoofstuk Een: Hoe dit gekom het dat Baas Kers, die timmerman, die stuk hout gevind het wat kon lag en huil soos ’n kind. Lank, lank gelede …”
Die bruin boekie, Die avonture van Pinokkio, wat kleintyd voor haar bed gelê het, waaruit haar ma op goeie aande vir haar voorgelees het. Ander aande het sy weer die storie geluister op die bandspeler met haar ma se opgeneemde stem: Pris se stem.