Читать книгу Skepsel - Willem Anker - Страница 8

KRAKEN 2

Оглавление

Jy, Sulla Čapek, die cyborg, staan op die boeg van die Kraken en kyk na die drone wat oor die Rooi See aangevlieg kom. Vyftig meter verder hurk jou kameraman, Gunnar Arnarson, agter ’n trapleer, VR headset op en remote in die hand. Die drone hang ’n paar meter voor jou in die lug. Dit raam jou tussen die staalwerk en hyskrane, die helipad en pyplyne, terwyl jy oor die see kyk met gerepeteerde melankolie.

In die onderhoude ná die troue sê jy jy soek nie na enige menslike eienskappe in die olietenkskip nie. Jy is lief vir jou olietenker omdat dit ’n olietenker is, nie omdat dit vir jou sóós ’n olietenker is nie. In die onderhoude sê jy dat net mense volgens die sosiale kontrak met mekaar mag trou. Dit gaan hier oor niemenslike regte. Dinge is ook persone. Persone is ook dinge.

“Kraken is ’n wese, soos elkeen van ons. Ek is vlees en bloed, Kraken is olie en staal. Baie mense raak verlief op objekte wanneer hulle hulle as lewend begin sien. Dit werk soms ook andersom. Wetenskaplikes word al hoe onsekerder oor wanneer iets as lewend gesien kan word.”

Soos jy, verander olietenkskepe ook gereeld van naam. Jou naam, sê jy, was nie altyd Sulla Čapek nie, en sal ook nie meer lank dit bly nie. Die VLCC Kraken se vorige eienaars het haar VLCC Pescecane gedoop. VLCC is die akroniem vir ’n spesifieke klas olietenkskip. Dit staan vir Very Large Crude Carrier. Heel in pas met die gemiddelde mates van ’n VLCC, is die Kraken 330 m lank, 56 m breed en 28 m hoog. Vanuit ’n meer verteerbare perspektief beteken dit jou eggenoot is drie sokkervelde lank, meer as ’n halwe veld wyd en ag en ’n half verdiepings hoog.

Om getroud te wees, sê jy, beteken nie dat julle mekaar besit nie. Maar dis nie te sê julle is nie besittings nie. In die wêreld waaruit jy geen uitkoms sien nie, is jy die besitting van ’n neoliberale kapitalistiese bestel wat elkeen van jou bewegings en oorwegings rig. Die Kraken behoort aan AL Shipping, die baie oorspronklike naam van ’n maatskappy van die Argento Ligotti-groep. Volgens hul webtuiste is die Argento- en Ligotti-families reeds sedert die 1800’s in die skeepsbedryf, met hul hoofkwartiere in Rome en Palermo. Aanvanklik het hul vloot vragte slawe vervoer. Deesdae, sê jy, is dit sweatshop-klere en olie.

Die drone styg op, trek verder terug om die Kraken in skoot te kry. Dan nog hoër, verder weg, die lens so oop as moontlik, om plek te maak vir die agtergrond. Jy en Gunnar het gisteraand die skoot fyn beplan: ’n satellietskottel van die tenker uit fokus in die voorgrond, die fokus op die reusehawe van Jeddah, daaragter die Saudi-duine, die kuddes nodding donkeys, en uiteindelik, op die horison, Mekka wat swem in die son.

Jou minnaar se kapasiteit is 319 000 DWT of dooie tonnemaat, vertel jy die pers. Dit sluit die vrag, die bemanning, voorrade en die skip se eie brandstof in.

Die Kraken kan tweemiljoen vate ruolie vervoer. Een vat bevat 159 liter olie. Maak die somme.

In jou vorige verhoudings het jy altyd ’n mate van beheer gehad. Op jou huweliksnag met VLCC Kraken was jy weer ’n maagd, wat nie geweet het waar om te vat nie. Elke tasting het jou vel gebrand. Die volgende oggend was jy moeg, sê jy vir hulle, vol merke, en baie tevrede.

Nou wentel die drone stadig om die breedte van die skip, kom nader en trek terug om ’n geheelindruk van jou skip te gee. Die bordeaux onderkant van die romp, die blinkswart bokant. Die dek roesbruin en die brug soos ’n wit panoptikon-kantoorblok. Die massiewe pypmatriks wat oor die lengte van die glibberige dek strek, die falliese hyskrane, die skottels en erekte antennas.

Wat jy nie vir hulle sê nie, wat absoluut net jou eie bly, is dat jou eerste liefde ’n Mustang was. ’n 1970 Ford Mustang Boss 429. 7 liter, V8. 400 kw. 270 km/h op die oop pad. 3 400 rpm. Meer as 600 perdekrag. Seks op wiele, het jy gedink. Google Images dit. Grabber Blue. Swart-en-wit binnekant. Die swart hood scoop. Die voorkant soos die snoet van ’n witdoodshaai. Daar is net 499 van die 1970-model gemaak. Elkeen nou ten minste ’n halfmiljoen dollar werd.

Vier ratte. Manual. Geen lugverkoeling nie, glo as gevolg van die grootte van die enjin.

Jy vertel nie ’n fok vir hulle hoe jy op twaalf onder die motor lê en masturbeer het terwyl die enjin bo jou luier nie.

Die meeste chatrooms sou sê dit was dalk die tekort aan suurstof met al die uitlaatgasse in jou gesig, die amperse versmoring, wat jou aangedraai het. Seker dit ook, maar dit was die dringende gedreun hier reg bo jou wat sexy was.

Julle het in ’n grys woonstel gebly op die agste verdieping van ’n grys betonblok op die rand van die industriële area; loopgange en oranje relings aan die buitekant, eenderse voordeure, vier vensters, twee aan die voorkant, twee aan die agterkant, en net een deur.

Die man met die leerjas en die haarstyl het ’n gang of twee se woonstelle besit. Hy en die diknek-man het elke maand die huur kom insamel. Jy wou nie dan in die rondte wees nie; jou pa het gewoonlik nie die geld gehad nie. Die man met die leerjas en die haarstyl het onder in die Mustang sit en wag. Sy diknek-man het aan die deur geklop. Jou ma moes altyd oopmaak.

Onder in die systraat het die man met die leerjas se magtige Mustang gestaan. Jy weet nie hoe daardie gangster sy klam handjies op so ’n motor gekry het nie. Hy kon nie so ’n big shot gewees het as hy self sy huur moes kom insamel nie. Miskien was sy besigheidsmodel om persoonlik betrokke te wees by elke transaksie, elke breek van ’n knie. Hy moes die motor in ’n poker game gewen het of die eienaar laat verdwyn het. In jou geboorteland was daar nie Mustangs nie. Daar was nie eens Toyotas nie. Die man met die leerjas het teen die Mustang geleun en gerook. Hy het op en af in die straat gekyk.

Die steeg het geruik na petrol en sigaretrook. Jy het jou longe volgetrek. Die man het vir jou geglimlag.

“Wil jy inklim?”

Jy het geweet jy moenie, maar jy kon jouself nie keer nie. Hy het die bestuurderskant se deur oopgemaak. Jy het agter die stuurwiel gaan sit. Hy het die deur toegemaak en op sy arms by die ruit ingeleun. Hy het oorgehel en die sleutel gedraai. Hy het gelag: iets in jou uitdrukking of iets in jou lyf. Ná ’n paar sekondes het hy sy hand weer ingesteek en die enjin afgeskakel. Hy het die deur oopgemaak.

“Uit.”

Jy het langs hom gaan staan.

“Moet jy nie in die skool wees nie?”

“Ja.”

“Waar bly jy?”

Jy het beduie na julle woonstel.

“Eendag sal ek jou vir ’n spin vat.”

Jy was oud genoeg om hom te haat toe hy vir jou knipoog met sy leerjas en haarstyl en geknipte naels. Hy was die magtigste man op aarde.

Een dag ’n maand later was hy meer ontspanne. Die Mustang was aan, sidderend in neutral. Hy het in die motor gesit, sy sigaret wat in ’n slap hand by die venster uithang, sy kop agteroor teen die sitplek, sy kuif glad, gesus deur die luierende enjin onder hom. Hy het nie gesien toe jy onder die purrende motor inrol nie. Dit was die eerste keer wat jy suksesvol gemasturbeer het. Die vuurwarm uitlaatpyp was sentimeters bo jou gesig. Jy het geskrik toe jy kom. Jy het skaars agtergekom toe die motor bo jou wegtrek.

Teen maandeinde het jou pa op en af begin stap, jou ma het die laaste dae in die kamer sit en om wag. Jy kon nie wag vir die eerste van die volgende maand nie, wanneer jou 1970 Grabber Blue Ford Mustang Boss 429 jou weer brullend sou verlei, ag vloere ondertoe en onder die bakwerk in.

Die sterk wind wat die seesproei aanwaai, laat jou ooglid vinniger as gewoonlik oor jou mikrolens knip. Terwyl die drone die skip afneem, neem jy die drone af met jou oogkamera. Jy is nuuskierig om vanaand die footage saam met Gunnar deur te gaan. Geen kamera is onskuldig nie, ’n mens moet hulle dophou.

Die internet noem jou mecha-seksueel. Jy is seksueel aangetrokke tot masjiene. Jy sal altyd ’n spesiale plek vir daardie gangster se Mustang hê, maar hy was jou eerste, nie jou enigste nie. Daar was die CC800-1 Mammoet-hyskraan, die Hitachi EH5000AC-3-mynlorrie, ’n Ducati 1200-motorfiets (om net die geles te noem).

En nou neem jy die geroeste vel van jou olietenker af.

Jy is nie aangetrokke tot mense nie. Mans en vroue het al met jou seks gehad. Jy het nooit verkrag gevoel nie, net verveeld.

Jy het ’n beurs gekry om kuns te gaan studeer. Een aand by ’n partytjie tydens jou eerste jaar het jy vir ’n vriendin gesê wanneer jy eendag beroemd is, gaan jy ’n Mustang Boss koop en dit op live TV teen ’n muur vasjaag. Jou vriendin het gesê jy moet Ballard lees. Behalwe Modern Military Aircraft Anatomy: Technical Drawings of 118 Aircraft 1945 to the Present Day, was Crash die enigste boek wat jou al tot klimaks gedryf het.

Jou verfhale beïndruk nie die dosente nie. Jy skuif oor na dans. Jou dosent sê jy het ’n vreemde beheer, iets wat hy nog nie tevore gesien het nie. Hy kan nog nie sê of dit talent is nie. Saans oefen jy voor die spieël en voor jy gaan slaap loer jy die verlate sementmenger oorkant die pad af. Jy glo jou lyf gaan jou in die steek laat. Jy weet jy gaan nie jou graad voltooi nie. Vir jou finalejaarprojek haal jy ’n trekker uitmekaar. Vir die eerste keer voel dit of jy dans.

Jy word saam met die demokratisering van die internet gebore en dít is waar jy gaan soek na ander soos jy. “A love affair could begin with a banged up fuel gauge.” Jy Like Comment. Jy lees oor die Marsh-spektrum van Menslike/Objek-Intimiteit wat die kontinuum van hierdie interaksies beskryf, vanaf die sporadiese gebruik van seksspeelgoed en fetisjisme, tot by objektum-seksualiteit (’n volledige emosionele, seksuele en spirituele verbintenis met ’n objek).

Jy lees van die Amsterdamse kunstenaar Yvonne Dröge Wendel, wat in 1992 met ’n Wendel-kabinet getrou het en sy naam aangeneem het. In 1994 gaan sy met haar Renault 16 op toer na die Vatikaan sodat die Pous die motor kan seën. Haar dokumentêr oor die reis, La Benedizione della Macchina, wen die Prix de Rome.

Jy neem jouself af waar jou bioniese linkerhand om die reling van die VLCC Kraken vou. Wanneer jou regterhand ook aan die reling vat, stuur die ingeplante magnete in jou vingerpunte ligte vibrasies van die enjin regdeur jou senuweestelsel. Die lens bewe. Die hele liewe skip is lewendig.

Performance art het nog nooit sale volgemaak nie. Dit is meestal onkykbaar. Jy sien ’n vrou met ’n brandblusser in ’n galery rondhardloop en gemeenplase skree in Pools en jy weet dat jy met moord kan wegkom, maar dat jy eerder iets lewends wil maak. Kuns sonder libido is net iets werd omdat dit duur is. (Jy wil nie name noem nie, maar Jeff Koons.)

Jy wil uitvind hoe ’n mens dans met ’n stoomtrein.

Jy sal moet slim wees. Jou seksuele oriëntasie maak jou nie uniek nie. Dit is so oud soos Quasimodo en Pygmalion. In 2009 het ’n Nigeriese man met sy kussing getrou en in 2011 trou ’n ander ou met ’n Nintendo-karakter. Baie webblaaie vertel van die huwelike van Erika Eiffel met die toring, Eija-Riitta Eklöf-Berliner-Mauer met die Berlynse muur en Linda Ducharme met die kermiswiel genaamd Bruce. Die vrou wat trou met die heining. Die man en sy verhoudings met ’n Hammond-orrel en later ’n stoomlokomotief. Mense en hul klankborde, motors, knope. Hoe sommige mense seks het met hulle objekte of in hulle teenwoordigheid masturbeer, maar die meeste eerder sekslose, maar intieme emosionele verhoudings met hulle objekte het. Die verband tussen animisme en objektum-seksualiteit, die siel in elke objek. Sommige fokken sielkundiges wat verbande sien met Asperger’s, seksuele trauma en gender-disforie. Sapiens se geleidelike beweging na aseksualiteit. Die vrou wat verlief is op geskrewe woorde. Die trauma as ’n mens se geliefde – die Muur in Berlyn, die Torings in New York – voor jou oë op TV sterf.

Gunnar neem jou af waar jy sprints doen op die dek van jou minnaar. Jy hardloop jou moeg op die lyf van staal, lê dan op die warm dek, jou wang teen die metaal.

In die onderhoude ná die troue, vra jy vir hulle om ’n bietjie op te let hoe hulle oor hulle Apple Macs streel. Jy vertel hulle Andy Warhol het gewens hy kon in ’n motorfiets verander.

Vir die film sny jy ’n opname van ’n onderhoud met ’n uitgeweke landgenoot op en behou net jou antwoorde:

“Wel, dit ís ’n olietenkskip.”

Sny.

“Is jy nie ook bang vir jou minnaar nie?”

Sny.

“Ons senuweestelsels.”

Sny.

“Die seks? Jy bedoel watter onderdeel gaan waar? Ek kan jou dieselfde vra en jy sal ook nie antwoord nie.”

In een van jou gunstelingskote sit jy op die dek van jou tenker, Sheep on Drugs T-shirt aan, wind wat onsuksesvol ruk aan jou styfgejelde hare, die uitsig soos ’n Windows screensaver, jou skinny jeans wyd oor een van die dunner pype van ’n dienspyplyn, en jy kan nie gelukkiger lyk nie.

Skepsel

Подняться наверх