Читать книгу Skepsel - Willem Anker - Страница 6

SLIMHUIS 1

Оглавление

Laatmiddag neem Rebecca Maas die verkyker, koplamp en pepersproei wat bo-op die rak met die veertien regterkunsbene lê en stap in die rigting van haar pa se huis.

Sy lê op die duin en loer deur die verkyker, maak seker sy gewaar niemand nie. Sy jaag die Jack Russell terug huis toe. Dit is nog nie skemer nie, maar sy is versigtig. Die afgelope week is daar nuwe mense in die rondte. Sy kom maak elke tweede of derde dag ’n draai: Die proses gaan vinniger as wat haar pa gesê het. Oor ’n maand of wat sal alles verby wees. Toe sy oom Petrus ’n week gelede vertel het dat sy mense by die huis sien rondsnuffel, het hy aangedring om saam te kom, maar sy het geweier. Ek moet alleen gaan, het sy gesê. Al weet hy nie wat sy daar doen nie, het dit gelyk of hy verstaan.

Sy hou tussen die lae bosse wat ’n bietjie beskutting bied en stap al hoe stadiger hoe nader sy kom, bang dat sy iets of iemand gemis het. Toe sy by die huis kom, loop sy met harde treë om haarself aan te kondig; sy wil niemand laat skrik nie. ’n Vaalmuishond hardloop verby haar by die deurlose ingang uit. Sy klim stadig by ’n groot stukkende ruit in om nie die huis wakker te maak nie. Vanmiddag is sy nie versigtig genoeg nie.

“Goeiemiddag,” sê die huis oorverdowend. “Is dit jy, Rebecca?”

“Pris! Sjt, jy raas.”

“Jammer, Rebecca, ek het nie meer beheer oor my volume nie. Sal ek die koffiemasjien aktiveer?”

“Pris, nee. Bly net stil.”

“Ek maak so, Rebecca.”

Sy stap vinnig met die gang af. Enigiemand in die rondte sou nou hoor hier is iemand in die huis. Sy gaan nie lank welkom wees nie. Sy maak die deur oop, sit die koplamp aan, en stap met die trap af. By die deur aan die onderkant van die steil trap gaan staan sy om die sleutel te soek. Dit verbaas haar elke keer dat die deur nog nie afgebreek is nie. Miskien is dit die ryp reuk, reeds sterk aan hierdie kant van die deur, wat hulle weghou.

Terug by oom Petrus, gaan sit sy op haar matras onder die rak met die vier-en-vyftig snow globes. Wanneer sy weer haarself is, maak hulle saam kos. Haar pa is byna drie weke dood en sy bly al twee weke by oom Petrus in sy wrakmuseum.

Sy prop haar foon by die charger uit. In China is 1 500 mense al dood aan die virus, 66 500 geïnfekteer.

Oom Petrus skraap die rooiboontjies uit die pan. Sy skep die rys op terwyl sy hom vertel van die duikers langs die lagoon. Hy vra nooit uit oor haar besoeke aan die huis nie.

* * *

Haar pa sou vir Rebecca Maas vertel dat sy twee maande voor die lansering van Voyager 2 gebore is. Later sou die ensiklopedie en die internet haar vertel dat die Pioneer 10 en 11, die Voyager 1 en 2 en die New Horizons klein onbemande ruimtetuie is wat Homo sapiens uitgestuur het om hul sonnestelsel te verken. Hulle sal ligjare ver van die son reis, elkeen op ’n verskillende ontsnappingsbaan. Indien hulle in niks vasvlieg nie, sal hulle deur kosmiese bestraling en botsings met reuse- molekulêre wolke op atomiese vlak verswak word tot hulle oor vyfmiljard jaar, meer as ’n miljard jaar ná die son uitgebrand het, volkome sal disintegreer. Die laaste oorblywende artefakte van die menslike spesie sal vyf dooie robotte wees wat deur die interstellêre ruimte dryf.

Op Vrydag 29 November 2019 eet Rebecca haar middagete van gevulde pannekoek, heritage tamaties en broccolini in die kafeteria van die NCA, die Nederlandse Comitee voor Armoedebestrijding, se hoofkantoor in Den Haag.

Sy is pas klaar met ’n multimedia-aanbieding oor hoe Eerstewêreldse kapitaal inwoners van Suid-Afrikaanse informele nedersettings kan help om van hulle ekskresie ontslae te raak. Die gehoor is beeldmateriaal gewys van ’n vrou in ’n plakkerskamp se besoek aan ’n puttoilet, meer as tweehonderd meter van haar eenvertrek-sinkplaathuis. ’n Belegger in die tweede ry het opgespring en na die naaste hipermoderne spoeltoilet gehardloop.

Soos al die ander alleeneters in die kafeteria, fokus sy op haar foonskerm om enige oogkontak met mense by ander tafels te vermy. Sy sien sy het vier oproepe van ’n Suid-Afrikaanse nommer gemis. Ná ’n paar minute op die internet bel sy terug. ’n Vrou met ’n Shona-aksent, gekrui met Kardashian-infleksies, antwoord. Sy sê haar naam is Ariel.

“Like in The Little Mermaid?”

“Like in the Ariel School in Zim where the aliens landed in ninety-four.”

Die TV gemonteer in die verste hoek wys ’n helikopterskoot van ’n gestrande olietenker waarvan die vrag op ’n strand uitspoel. Die plastiekvurk breek af in een van die drie broccolini-stamme. Rebecca besef nie sy het hardop gevloek nie, maar die alien meermin is skielik angstig.

“Please, don’t hang up.”

“It’s not you, it’s my fork. Oh, ja, I remember. The children saw the little aliens at breaktime? Who are you?”

Terwyl sy met een hand die plastiekvurktande probeer trek uit die organies gekweekte langsteelhibried van broccoli en Chinese kale wat, volgens haar Wikipedia-soektog minute vantevore, in die 1990’s deur die Japannese Sakata-saadmaatskappy in Salinas, Kalifornië, ontwikkel is, sê Ariel: “Please. Never mind the aliens.” Sy bel oor Henk Maas. Sy het Rebecca se nommer op meneer Maas se foon gekry en sy het aangeneem die familie moes weet dat hy in die hospitaal opgeneem is. Net vir observasie. Net vir die nag.

“You know, just FYI, with the cancer and all …”

“Ariel. What cancer and all?”

“Oh, my god. Sorry. I didn’t mean to interfere.”

“No, please,” sê sy vir die vrou wat vernoem is na ’n UFO sighting. “By all means.”

Toe sy vyftien was, het Rebecca gelees dat, van die verkenningstuie wat die interstellêre ruimte sou bereik, die twee Voyager-tuie die bekendste was. Hulle het die mense se verbeelding aangegryp met die manier waarop die tuie uitgereik het na lewe op ander planete. Op albei Voyagers is ’n sogenaamde Goue Plaat gemonteer: ’n metaallangspeelplaat in ’n goudkleurige aluminiumhouer. Die houers is gegraveer met grafika wat wys hoe om ’n LP uit die 1970’s te speel, asook aanwysings na Homo sapiens se sonnestelsel vanuit die posisies van verskeie pulsars. Op die plaat is 27 musiekstukke, 55 menslike boodskappe, 21 opnames van niemenslike klanke, en 115 foto’s en sketse van lewe op aarde.

Toe sy dronkverdrietig by die huis kom ná haar twee-en-dertigste verjaardagpartytjie, het sy die plaat van ’n torrent site afgelaai. Haar gunstelinge is die opnames van Bach, Blind Willie Johnson se “Dark was the Night”, die inisiasielied van die Kongolese pigmeemeisies en die boggelrugwalvisse se paringslied.

Op die vroeëre Pioneer-tuie, gelanseer in 1972 en 1973, is 152 x 229 mm goud-geanodiseerde aluminiumplate aangebring met buitelynillustrasies van ’n man en ’n vrou, tesame met verskeie grafiese uitbeeldings wat die oorsprong van die tuig aan geïnteresseerde ruimtewesens verduidelik.

New Horizons, wat in 2006 gelanseer is, sou sy later met ’n glimlag uitvind, dra geen boodskappe aan ander wêrelde nie.

Rebecca tref reëlings by die werk, fiets huis toe, pak ’n naweektas, gaan haal vir Mandla by die crèche, pak weer uit en pak ’n tas vir twee weke. Terwyl sy wag dat Lindiwe van die kantoor af kom, lees sy op haar newsfeed dat Walmart al ’n hele paar jaar gelede outonome robotbye gepatenteer het.

Sy praat met Lindi, bespreek ’n vliegkaartjie, speel Lego met Mandla en verduidelik aan hom dat sy oupa siek is. Sy probeer huil. Op die agtergrond wys die smart TV stom beelde van mense wat olie op ’n strand opruim. Elke nou en dan kyk sy op haar bespreking of sy die tyd reg het, of die bestemming steeds Kaapstad is. Sy maak haar tas oop en pak alles uit om seker te maak sy het niks vergeet nie.

Ariel Mutsvairo, “actually into interiors, and, like, not a caregiver at all”, bel terug ná Rebecca twaalf keer geweier het om ná die biep boodskappe op Ariel en Henk se selfone te los. Rebecca verneem dat haar pa al ses maande maagkanker het. Ariel sê sy het nie opgesign hiervoor nie. Rebecca sê sy ook nie.

Haar vingers en voete voel dood, soos altyd net voor die paniekaanvalle. Sy drink die pille wat moet help, doen die voorgeskrewe asemhalingsoefeninge. Sy sê vir Mandla sy kan nie nou speel nie. Sy weet sy moet huil. Lindi kom by die woonstel aan en druk haar vas. Sy probeer weer huil.

Op die televisie is die olieramp nou vervang met ’n orkaan wat op pad is na Florida. Iets oor metaangas wat uit die smeltende ysgrond ontsnap. Lindi sit die TV af en gryp haar foon by haar.

“Niks meer nuus vir jou nie, Madam.”

Rebecca borsel haar tande, neem haar medikasie en klim kwart voor twaalf in die bed. Sy wil seks hê voor sy weggaan. Al doen sy en Lindiwe Mkhize wát aan mekaar, is haar kop by kanker en die visse op Facebook met stukke plastiek in hulle pense. Hulle gee op en Lindi hou haar vas. Toe sy die sagte gesnork in haar nek hoor, skuif sy Lindi se kop versigtig van haar bors af en staan op.

“Woman’s Tongue Gets Inseminated By Squid After Eating Undercooked Seafood” lees sy om halfdrie op iflscience.com. Sy vergeet dat sy nie haar hande kan voel nie. Sy laat val die koppie waarin sy wou tee maak. Uit die kamer vra Lindi of sy okay is. Mandla sal deur ’n kernoorlog slaap. Dit is koud op die balkon. Sy gaan sit op een van die grys aluminiumstoele van IKEA se Tunholmen-patiostel. Die mis laat die straathoeke hul buitelyne verloor.

Die volgende oggend drink sy ’n dubbel espresso, rook twee Marlboro Reds, groet haar mense, ry nege-en-dertig minute met die trein na Schiphol en om vyf oor tien styg sy op in ’n Boeing 787-9.

Miskien was dit die gerugte oor die Goue Plaat wat die wêreldwye belangstelling in die Voyager-lansering veroorsaak het. Die wetenskaplikes moes glo die dag van die lansering inderhaas ’n perskonferensie reël. Die konferensie het om tweeuur in die saal van Frank Wolfe’s Beachside Motel plaasgevind. Die wetenskaplikes was verbaas toe hulle met hul aankoms besef dat hulle die saal sou deel met ’n Poolse huweliksonthaal. In opnames van die onderhoud met Carl Sagan kon Rebecca die klanke van die koza, trekklavier en gaste duidelik hoor.

Die Voyager 2 is later daardie dag, Saterdag 20 Augustus 1977 – presies twee maande ná Rebecca se geboorte – met buitediensgestelde interkontinentale missiele gelanseer, en die Voyager 1 op 5 September, maar op ’n vinniger trajek, sodat hy spoedig by die Voyager 2 verbygeskiet het.

Wanneer sy haar voorkop styf teen die klein kajuitvenstertjie druk, kan sy een of ander oneindige woestyn sien. Sy is nie lus vir enigiets wat die klein touch screen aanbied nie. Sy is nie lus om met die jong Kanadees met die gevlegte hennep-sandale langs haar te praat nie. Sy wil net haar kop teen die koelte van die plastiekruit druk.

Die Kanadees blaai deur die rederytydskrif en probeer met haar praat oor hoe die advertensies vir luukse jagplase en reservate die natuur eksotiseer. Sy weet nie of sy genoegsaam knik nie. Toe sy vegetariese maaltyd voor die vleisgeregte voorgesit word, besef sy dat sy nog niks geëet het sedert die pannekoek en gemuteerde broccoli vol plastiekskerwe nie.

Ariel het gesê sy doen die PR vir ’n nuwe ontwikkeling. Haar pa was baie geheimsinnig oor sy projek toe hy laas kom kuier het – ’n stopover van drie dae tussen Kaapstad en Oslo, byna twee jaar gelede. Sedertdien is dit geselsies maak op video. Wanneer sy uitgevra het oor werk, was hy ontwykend, en het sy nie genoeg belanggestel om hom te pols nie. As jy een gated community gesien het, het jy almal gesien. Sy lees die jaar oue artikel waarop sy afgekom het toe sy Henk Maas op die lughawe gegoogle het.

Hulle noem hom The Lord of the Fences. Hulle sê hy is seker die grootste eiendomsontwikkelaar in die land, een van die bekendste Suid-Afrikaners waarvan jy nog nooit gehoor het nie. Hy sê hy voel nie sewentig nie. Hulle sê hy praat sag, maar duidelik. Hy sê argitektuur is sielkunde as ruimte. Hy sê, om eerlik te wees het iemand anders dit gesê. Hulle vra hoeveel ontwikkelings sy firmas al gedoen het. Hy sê hy weet nie, maar hy is baie ryk. Hulle dink hy het ’n sin vir humor. Hulle vra waaraan hy tans werk. Hy sê dit is iets wat niemand al ooit tevore gesien het nie.

Selfs met haar oorfone op – Nick Cave, die song “Push the Sky Away” op repeat – hou die man aan babbel oor renosterhorings, bygelowige, impotente Japannese miljoenêrs en die koolstofvoetspoor wat hierdie vlug in die blou hemel agterlaat. “The world is ending all over the place.”

Kry mens iets soos premature rou?

Sy drink twee kalmeerpille en drie van die klein botteltjies whisky. Sy voel haar ledemate verdoof, haar vel vol fyn, genietlike prikkelings voor dit stelselmatig afskakel. Die sitplek met die ag sentimeter ekstra beenspasie, waarvoor sy die prys van ’n goeie gram suiwer, uncut horing betaal het, begin vir haar soos ’n dubbelbed voel.

Haar ma het begin spook lank voor sy dood is.

Die skuimplastiekbekertjie met die Delftse blou KLM-windmeulens op die afslaanskinkbord word ’n Vermeer-stillewe. ’n Mens kan net sien dat die vliegtuigie op die skerm enigsins beweeg as jy ’n tyd lank nie daarna kyk nie.

Haar pa is lankal begrawe maar begin nou eers doodgaan.

Sy moes al lankal oor hulle albei gerou het.

Terwyl sy kyk, staan die vliegtuigie stil.

Die Kanadees vertel iets van ’n maand lange Reiki en energy healing mindfulness retreat in Houtbaai. Sy is hoog soos ’n vlieër, te veel benzo’s en te min suurstof – KLM-enlightenment – en hy kan nie sy bek hou oor alles wat woke is, of nie is nie. #Verstik-aan-jou-lentils.

Toe hy opstaan om badkamer toe te gaan, roer sy oorgenoeg Xanax’e in sy koffie en toe sy oë begin toeval, fluister sy in sy oor: “My dad has stomach cancer and we’re all going to choke on plastic forks.”

Hy lig sy kop in haar rigting, kyk verward rond. “You know, the thing about the oil industry is …” Hy maak nie die sin klaar nie.

Ekonomiese klas het haar nog altyd te kloustrofobies laat voel om werklik haar bewussyn te verloor. Maar wanneer sy seker is haar buurman slaap en sy die komplimentêre slaapmasker en oorfone opsit, kan sy darem ’n bietjie huil.

Half aan die slaap en oorgemedikeer wonder sy hoe dit voel om ’n vlieënier te wees, hoe dit voel om ’n Boeing te wees.

Die vliegtuig lyk nog nuut. Sy verbeel haar dit is die Boeing 787-9 se eerste vlug. Die vlieënier en die jong vliegtuig sukkel albei om hulself in toom te hou. Met die opstyg en die landing verlustig hulle hulle in die troppe perdekrag, deel hulle die uitbundige energie, albei hiperbewus van elke prik in die meganiese senuwees. Indien sy lang loopbaan in kilometers gemeet word, dink Rebecca, het haar vlieënier reeds byna halfpad son toe gevlieg. Die vlieënier sal ook vir ’n oomblik wens hy kan voel wat ’n splinternuwe GEnx-enjin voel wanneer dit ontbrand. Wanneer die vliegtuig met sy sestigmetervlerkspan en drie-en-sestigmeterlyf op die Kaapstadse aanloopbaan tot stilstand kom, is Rebecca seker dat iets in hulle albei bewe. Dat hulle onmiddellik weer wil lostrek.

Die bagasieband hipnotiseer haar, dieselfde tasse wat weer en weer verskyn. Sy sweet in die lugverkoelde saal. Haar bors trek toe, asof haar lyf die gesirkuleerde lug weier. Haar swewende angs gryp na haar oksels vir vashouplek en die outomatiese fiksasie laat haar nog meer sweet. ’n Hond kom snuif aan haar. Sy vou haar arms om die donker kolle op haar swart T-hemp weg te steek. Die sekuriteitswag bly staan langs haar tot haar tas op die band verskyn. Sy moet dit oopmaak vir die hond.

Daar is die anonieme gedruis van die mense om haar en dan word sy bewus van ’n tweede, verder dreuning uit die dak, wat musiek moet wees. Dit voel of die gedreun met elke polsing harder word; sy voel ingeprop by die bedrading van die lughawe.

Die lughawe is oorgebou sedert sy laas hier was. Dit lyk nou meer soos alle ander lughawens. Golwende dakke op verskillende vlakke, sonder plafonne. Staal, glas en spieëls. Alles deurskynend, maar nêrens ’n venster nie. Deconstructivist as fuck. Die winkels dieselfde klone as in elke ander stad. Sy stoot die bagasietrollie tot op die roltrap na die boonste verdieping, besef dan eers die uitgang is wel onder. Toe die roltrap haar herinner dat sy haar trollie moet lig wanneer sy afklim, bedank sy die stem hardop.

Die sintetiese dennegeur in die Toyota Etios se kajuit herinner haar aan werksreise in onpersoonlike voertuie: uitruilbare masjiene met minuskule uniekhede in hul hantering en gevoel, alles van die koppelaar en wielsporing tot by die spesifieke sitplekmateriaal wat kilometers ver teen haar boude sal skuur – toestelle en oppervlakke waaraan haar lyf nooit tyd kry om gewoond te raak voor dit vervang word met dié in ’n ander motor nie.

Op die GPS-skerm lê die omgekeerde rooi druppel van haar bestemming op ’n stuk leë kaart langs die Weskus. Sy moet ver uitzoem om enige herkenbare bakens te sien, bakens wat sy nie wil herken nie. Sy ry eers ’n ompad, middestad deur, nog nie reg vir die Weskus nie, nog nie reg vir haar pa nie.

Die GPS-sagteware se nasale stem stuur haar vanaf die lughawe verby die selfrepliserende plakkerskampe wat gedeeltelik van die hoofweë versteek word agter reuse-advertensieborde.

“In six hundred metres, turn left at the exit. In two hundred metres, turn left at the exit. Turn left at the exit. Turn left. Turn left now.”

Sy word verby rankende glasgeboue aan die rand van die middestad gestuur, en deur die inploffende stadskern, die stadsgebied ’n groot amorfe ligeen wat na buite groei, terwyl die sentrum uitdroog en wegval. Sy ry deur die metastaserende voorstede en hul grasperke.

“In two kilometres, turn right.”

Onder die LED-beligting van die nasionale pad volg sy die stem, verby ’n horison van antennas en digitale skottels. Die hartkloppings skop in. Sy ry onderdeur die spreiligte van die industriële sones en, toe sy die metropool verlaat – “In seven kilometres, take exit 31 on the M19” – verby kleiner plakkerskampe, elektriese spantorings en monokulturele industriële boerderye. Koringlande is godsvervelig, selfs in die donker. Die platteland lyk nog dieselfde, die doringdraad en roadkill nou net opgegradeer na elektriese heinings en verlatenheid. Wat het geword van die diere wat doodgery kon word?

Die mis lê dik tussen die heuwels. Haar bors trek toe. Sy ry soos ’n hond in ’n advertensie, met haar kop by die ruit uit, tot sy weer kan asemhaal.

Die enigste lewe wat sy gewaar, is deurnagvragmotors met donker kajuite. Die name van die brands op die trokwaens flits verby. Soos sy hulle aflees, vorm hulle soms byna sinne. Sy onthou uile op telefoonpale toe hulle kleintyd hier gery het, maar sy sien nie een nie. Regs van die pad draai die veertig meter lange lemme van ’n windplaas.

Die enigste konstante op haar reis is die massiewe spantorings langs die pad. Sy verbeel haar hoe die drade sing. Sy verbeel haar hoe klein eenhede elektrisiteit oor die landskap tot in die motor se kajuit, tot in haar lyf lek.

Links van die pad, teen die branders van die Atlantiese Oseaan, lê die verligte koepels van die kernkragsentrale nes ’n verlate stel van ’n sci-fi-fliek uit die 1950’s. Op die reguit pad drink sy nog ’n kalmeerpil en versnel.

“In twenty-nine kilometres, turn left.”

Toe die laning bloekombome op die regterskouer van die pad opdoem, ry sy stadiger, haar oë op die bome. Sy trek af en loop oor die pad. Sy stap langs die bome af, tik teen elkeen se bas, tel hulle af, buk dan by een. Sy ondersoek die stam met haar vingers, vee met haar hand oor die bas. Sy soek na ’n letsel wat onder die bloekomvel toegegroei het.

Oor die laaste ses kilometer na haar bestemming ignoreer sy die spoedgrens. Sy moet vinnig rem om nie die afdraai te mis nie.

“In two hundred metres, turn left. Turn left.”

Hier by die natuurreservaat waar sy en haar pa kom kampeer het toe sy klein was, hier moet sy indraai.

“Turn left now,” sê die geïrriteerde en verkoue GPS-vrou.

Sy draai links.

“In four hundred metres, turn right.”

Sy stuur vir Lindiwe ’n voice note: “Sawubona, Lovey. Ek’t veilig aangekom. This must be the place: Pappa wag my in met ’n fokken drone!”

Die Voyager-tweeling, sê die internet, het die aarde verlaat om die vier gasreuse te gaan verken en nie weer terug te kom nie, maar ook nooit hul huis uit sig te verloor nie. Elke 225 miljoen jaar sal hulle hul wentelbaan binne die Melkweg voltooi.

Vandat sy op die grondpad afgedraai het, agtervolg die drone haar. Die rooi agterligte van die Etios weerkaats in die kameralens in haar truspieël. Sy probeer vir die drone wegjaag, al langs die geëlektrifiseerde heining af. Toe sy die mis binnery, trap sy rem. Die GPS stel byna huiwerig voor dat sy regs draai by die hek wat vanuit nêrens opdoem. Sy hou stil by die hekwaghuis. Checkpoint Charlie, dink sy, ontwerp deur ’n Japannese postmodernis. Sy sien hoe die drone wegsak in die dak van die platdakgebou.

Die sekuriteitswag – gewapen met ’n pistool en ’n koeëlvaste baadjie oor sy uniform – kom by die outomatiese skuifdeur uit. Vir ’n oomblik verdwyn hy in die swaar mis, vreemd vir hierdie tyd van die jaar, en verskyn dan weer in die koepelvormige membraan van die spreilig om die motor.

“Mademoiselle Maas,” sê die wag in ’n sterk Franse aksent. “Welcome to Barbara’s Cove. We’ve been expecting you.”

“Rebecca, please, monsieur.”

“Ovide.”

Hy vra of hy die drone moet stuur om haar na die huis te begelei.

“Non merci, ça va, Ovide. It’s creepy enough already.”

Hy bied aan om self voor haar uit te ry. Hy beduie na die jeep voor die stoep.

“No, thanks, I’ve got this bitch in a box that tells me where to go.”

Hy beduie haar in die rigting van die see, sê sy moet links draai as die pad teen die rotse doodloop: “You can’t miss it. Il n’y a qu’une maison. Only house.”

“Only house?”

“No houses. Just your father’s house.”

“I guess that’s how gated communities work. First the gates. Then the communities.”

Hy gryns: “Oui. Just your papa and his gate.”

“Merci, Ovide. I’ll see you around – à bientôt, n’est-ce pas?”

“Bien sûr! Tu parles bien le français.”

“Only the basics. Où sont les toilettes?” sê sy in ’n plat Afrikaanse aksent.

“Tes toilettes, c’est le monde,” sê hy en beduie die mis in. Hy hurk by haar venster: “I’m sorry, Rebecca. Your father. He’s a beautiful man, and sad.”

Iemand êrens het gesê dat die Voyagers skepsels is wat spesifiek ontwerp is om lomp en gestremd te wees op hulle eie planeet, maar grasieuse dansers in die ruimte. Hulle is meestal gemaak uit silikon en aluminium en elkeen weeg min of meer 800 kg. Hulle het tienkantige lywe, 3.65 m breë antennas, drie arms en ’n paar pote waaraan die vuurpyl gekonnekteer was vir die verspring die ruimte in. Een arm hou die magnetiese veldsensor vas. Aan die punt van die tweede arm is al die sintuie, die groot oë en lang ore, die kameras en mikrofone en voelers. Die derde arm dra die plutoniumkragtoevoer wat die masjien van energie voorsien, ver genoeg uitgestrek sodat die lyf vry bly van radiasie.

Toe sy deur die onbeboude, beboste erwe die misbank binnery, is die motor se wiele onhoorbaar op die nuutgeteerde pad. Henk het die straatligte en die wit-op-groen padtekens skynbaar so laag as moontlik laat bou, die padtekens skaars hoër as die ruie fynbos, die straatligte slegs drie meter hoog en voorsien van bewegingsensors wat die ligte slegs aktiveer wanneer ’n voertuig naby is. Gekamoefleerde beskawing.

Die hoofligte slaan ’n paar meter voor haar teen die mis vas. Sy is seker sy kan voel hoe haar lyf ’n resonansiekamer vir die diep, bas polsslae van die onsigbare see word. Die nagemaakte dennegeur is ryp in die kajuit. Die mis klou aan die motor se bakwerk, laat druppels agter op die verwarmde metaal en ruite. Dit besluit wat die motor en sy insittende Homo sapiens mag sien. Dit wys vir haar ’n rots vol mos. Die mis vou oop vir die parasitiese stingels van voëlent in ’n boom, wat vir ’n oomblik gefokus in die hoofligte opdoem en dan weer saam met die res van die wêreld uitgevee word. Sy verbeel haar hoe die ligene en sampioene die magtige mis opslurp waar sy pens te laag uitsak.

Rebecca draai links waar die pad doodloop teen die rotse.

“Turn left. Turn left now.”

Die GPS sê sy het haar bestemming bereik, hier waar die wêreld eindig in wit, eteriese soliditeit. Die straatlig trek klam gedaantes uit die mis wat om die lig kolk. Sy gewaar die sekuriteitskamera onder die lig. Sy is seker dit neem die spookbeelde op, die audio sal vol eggo’s wees. Rebecca klim uit die motor. Druppels seesproei slaan vas teen haar vel en bly kleef. In die kajuit praat die GPS skielik, net vir ’n paar oomblikke, baie ontsteld, met haarself.

Skuins oorkant die pad verskyn die ligte van ’n breë leefvertrek en patio in die bosse. ’n Figuur kom by die huis uit met ’n flits.

Ariel het ’n los trui en noupassende jeans aan, die Afro soos ’n swart halo om daardie mond en oë. Sy druk Rebecca vas en Rebecca druk terug. Ariel sê sorry, sy moes op die couch aan die slaap geraak het.

“The home dims all the lights if you don’t move for thirty minutes.”

Rebecca vra of haar pa okay is, of hy hier is.

Hy is hier, hy is okay. Hy drink baie pille. Hy slaap.

Sy parkeer die motor in die oprit en Ariel neem haar tas by haar.

“Anyhoo. Welcome home.”

Die beweging op die oprit het blykbaar vir die huis se sensors gesê om die buiteligte aan te sit. Sy kyk op na die fasade wat uit die steilte peul, die strak lyne en kurwes, die klip en glas en hout en staal, soomloos inmekaargevou. Sy hoor net die einde van Ariel se relaas – iets van ’n clusterfuck. Sy knik terwyl sy die huis staan en gadeslaan. Teen die linkerkant versmelt die uitgestulpte vertrek met ’n verdiepinghoë rots. In plaas van ’n dak is die woning grotendeels diep in die bult onder ’n daktuin ingegrawe. Aan die regterkant loop die tuin ver oor die voormuur, die aarde met ’n laag beton en ’n enkele pilaar bo gehou, waaronder hulle nou die huis binnekom. Sy volg Ariel deur die doolhof van drie of vier losstaande, haakse mure tot hulle uiteindelik by iets soos ’n voordeur uitkom.

“So is this the stoep or the hallway?”

“He’s your dad. Maybe you can figure out the insides and outsides.”

“Huis, paleis, slakdop.”

“I don’t really speak Afrikaans. But the house does. Pris, sê groete vir Rebecca.” Klink of Ariel met Google Translate Afrikaans geleer het.

“Pris? Soos in Blade Runner?”

“How did you know?”

“Daryl Hannah made me realise I’m gay. When I saw Splash, I was confused. When I saw Blade Runner, I knew.”

“You’re LGBTQ+? Cool.”

“Just L.”

“Baie welkom, Rebecca,” sê die huis. “My naam is Pris.”

“Hallo, Pris. Nice om jou in die oog te kyk,” sê sy en kyk na die koepelvormige swart lens in die hoek van die vertrek.

’n Naels-teen-swartbord-gekekkel klink op in surround sound.

“Liewe Jesus! Wat was dit?”

“She laughs when she registers puns or jokes.”

“Pris, moet asseblief nooit weer lag nie.”

“Jammer, Rebecca. Slegs die primêre gebruiker kan hierdie opdrag vir my gee.”

“Is ‘Pris’ ’n brand name?”

“No. It’s a concept model. Only one of her kind. Thank god.”

“Rebecca, moet ek die koffiemasjien aktiveer?”

“As my pa slaap, net pille en ’n bed vir my ook, dankie.”

Sy kyk rond in die massiewe leefvertrek.

“The whole interior was done by VanderMeer&Merwe. Afro-Scandi minimalism.”

Nog aliens, dink Rebecca. Aliens se idee van Homo sapiens se idee van tuisvoel. Amper reg, en daarom so verkeerd. Die sitkamer is een moerse uncanny valley.

“En hier het ons die Collodi&C-ontwerpersrusbank,” sê Ariel in een van haar aangeleerde PR-Afrikaanse sinne.

Die menslikste deel van die leefvertrek is die robothuis se beligting, wat verander toe hulle die vertrek binnestap.

“Nice ligte.”

“You should thank Pris. Say her name first, then she knows you are addressing her.”

“Pris, die ligte is mooi.”

“Dankie, Rebecca. Ek het die staanlampe op ’n spesifieke warm, gedempte sterkte gestel binne ’n radius van ligfrekwensies wat die meeste mense ’n onbewuste gevoel van geborgenheid gee weens millennia oue neurale assosiasies met vuur.”

“Wel, my neurale assosiasies like hierdie frekwensie baie.”

Ariel sê niks oor die rots wat ’n groot gedeelte van die verste muur uitmaak, of die dik boomstam wat in die middel van die vertrek deur die plafon na die tweede verdieping strek nie. ’n Mens raak dit seker maar gewoond.

“Nice rock and tree too,” probeer Rebecca verder wegstuur van die meubels, elkeen met ’n groter inferiority complex as die ander.

“Nice, hey? Milkwood. Don’t know what brand of rock it is.”

Ariel noem die volledige fabrikaatnaam en -nommer van die TV.

Dit is ’n skouhuis, verduidelik Ariel. Sy lei die voornemende kopers gewoonlik rond. Die meeste van die toebehore en meubels is geborg en word hier uitgestal. Selfs al wil iemand nie in eiendom belê nie, kan hulle wel besluit dat hulle nie sonder daardie ontwerpers-toaster op die rak kan lewe nie. Ariel sê sy ken elke uitgestalde produk se bar code. Rebecca glo haar.

Hulle kyk albei na die gevriesde beeld op die skerm: ’n Zombie ontplof van die binnekant met ’n hoeveelheid bloed en derms wat onmoontlik in enige menslike torso sou pas.

“Wel, iemand het pret gehad.”

“Sorry about that. After this week I needed to, you know, fuck some shit up.”

“You keep fucking shit up. Just show me to my room.”

Ariel loop met Rebecca se tas voor haar uit in die steil stygende gang – “Recycled driftwood,” sê sy – tot op wat waarskynlik die tweede verdieping is, maar dis nie te sê nie. Rebecca maak haar hande oop en toe om gevoel in hulle te pomp. Die plek se geometrie is onverskillig teenoor enige menslike perspektief, die lyne lê nie reg nie, die hoeke maak nie sin nie. Sy kyk om haar rond, loop amper in die steierwerk in die smal gang vas. Oop elektriese drade hang uit die betonmuur om die volgende draai. Haar voete is onseker in die onklaar huis.

Ariel wys na ’n deur aan die einde van die gang, wat weer horisontaal loop. “Pris, gangligte. Gastekamerligte,” sê Ariel in haar Google-Afrikaans. Toe sy Rebecca sien glimlag: “Henk taught me the basics so I can speak to the house.”

Die gastekamer is stylvol leeg, soos die res van die huis. Seker wat gebeur as jy aangewese is op product placement en daar nie genoeg products is om te place nie. Die eierdopkleurige mure ruik nog na verf, die bamboesvloer is vars uit die een of ander sustainable plantasie. Die bedkassie is van die massavervaardigde, handgemaakte, herwinde tipe. Sy dink aan die meme van die houtpallet gemaak uit ’n herwinde koffietafel. Die opgerolde handdoeke op die bed, die vereiste organiese scented sepie op die kussing. Ariel vertel dat die kleivaas op die bedkassie gemaak is deur ’n plaaslike inwoner wat uit Ghana geëmigreer het. Binne-in drie klipsterretjies – “Pauridia longituba,” sê toergids Ariel – uit die tuin bo haar kop. In die hoek staan twee stoele deur die plaaslike ontwerper Jan-Frederick. Net Jan-Frederick. Met ’n C.

“Rebecca, moet ek die ruite verdonker vir die nag?”

Rebecca kyk na Ariel. “Electrochromic glass,” sê sy.

Die mis gee af teen die ruit. Buite is dit meer as donker. Daar is niks. “Los maar,” sê Rebecca.

Die mis is minder as die som van die miljoene druppels. Dit is een enkele ding met onmoontlike buitelyne, ’n soliede lyf wat alles deurlaat en alles verorber. Vir ’n oomblik is sy iewers anderkant die ruit, diep in die voue van die mis, hou iets klams haar dop. “Actually, Pris, maak maar donker.”

“Spooky, nè?” sê Ariel.

“Reg so, Rebecca,” sê die huis.

Daar is iets fout met Pris se stem. Rebecca vra of die bedrading nie lekker is nie. “Klink soos een van my mix tapes op skool.”

“No, this is exactly what Henk wants her to sound like, apparently.”

“Don’t let the zombies bite.”

Pris vra of haar kamer se temperatuur na wense is en hoeveel grade Celsius sy haar stortwater verkies. Sy sê ja, en sy weet nie.

In die badkamer drink sy ’n mood stabiliser en ’n kalmeerpil. Sy skud ’n slaappil uit ’n botteltjie, kyk daarna en gooi dit terug. Haar tandeborsel se battery is pap. Sy vryf die tandepasta met ’n dooie vinger oor haar tande. Die waterlose toilet laat haar hardop lag. Pris lag saam en weer skrik Rebecca tot in haar beendere. Pris vra om verskoning, sê sy kan nie anders nie. Menslike gelag is letterlik aansteeklik.

Rebecca sit, en vee haar af met die harde, herwinde toiletpapier. Toe sy nog long drops in squatter camps gebou het, was dit nie cool om in ’n gat te kak nie. Die estates wat haar pa gebou het, was toegerus met toilette wat jou boude verwarm en jou poephol droogblaas. Maar wanneer sy nou uiteindelik in een van sy skeppings beland en in die en suite van die gastekamer haar ding gedoen het, moet sy buk oor hierdie epitoom van groen-tegnologie om ’n grafie mulch op haar drol doer onder te gooi.

Sy stuur vir Lindi ’n boodskap: “Veilig @ Pa. Saam met #sexy-zombiekiller-nurse en HAL9000 in weird Escher-huis. #Tardis. #Bigger-on-the-inside. Drukkies vir M.”

Die antwoord kom onmiddellik: “#Home-is-where-the-zombies-are. Lala kahle, Vroulief.”

Sy sit die lig af en die alarmsensor se rooi flitsende LED skyn soos ’n vuurtoring in die donker. Sy klim uit die bed, kou ’n stuk kougom terwyl sy twee slaappille sluk, en druk die kougom op die LED. Toe sy die bedlig weer afskakel, sê die huis vir haar goeienag.

“Pris. Lekker slaap.”

“Ek slaap nie, Rebecca. Ek is ’n algoritme.”

“Pris, so jy droom nie eens van elektriese skape nie?”

“Jammer, Rebecca. Ek verstaan nie die opdrag nie.”

Voyager 1 se kamera-oë is afgeskakel op Valentynsdag 1990. Rebecca was twaalf jaar oud. Ben van oorkant die pad het vir haar ’n kaartjie met ’n rooi hart, deurboor met ’n pyl, in die posbus gelos.

Sy sit die lig aan. Pris gee haar aanwysings na die hoofslaapkamer. Sy sluip op haar sokkies in die gang af en maak die deur versigtig oop. Henk lê in die lig van haar seekat-nightlight van toe sy so oud soos Mandla was. Sy het aangeneem die ding is al dekades gelede weggegooi. Voor die bed lê ’n Jack Russell in ’n rottangmandjie. Langs die mandjie staan ’n bonsai-boompie in ’n wit plastiekpot.

Toe sy hom laas gesien het, was Henk se vel nie byna deurskynend, met are wat blou en vlak onder die oppervlak loop nie. Sy wangbene, ore en neus was minder prominent, die hande sonder vlekke en die vingerbene nie sigbaar nie. Sy staan en luister na sy vlak asem. Die hond lig sy kop en laat dit weer sak. Die hond se oë is toegewerk. Sy neem die hand wat onder die duvet uitsteek versigtig in hare en vou die arm terug onder die duvet. Haar hand rus rakelings op die grys mus. Vir ’n oomblik is sy doodseker dat net die gebreide wol die skedel in plek hou.

In 2013, toe net vyf van Voyager 1 se elf sintuie nog aangeskakel was – meetinstrumente vir goed soos magnetiese velde, ultravioletstrale en plasmagolwe – het hy die interstellêre ruimte ingegaan, uiteindelik vry van vader Sol se swaartekrag.

Rebecca pak twee kussings teen haar aan, ’n arm om die boonste kussing, ’n been oor die onderste een. Sy lê en luister na die see, wat presies soos witruis op ’n ou TV klink.

Net ná vyf kom maak Ariel vir Rebecca wakker. Haar pa het sy bed natgemaak. “Shame, those tranquillisers make him sleep through anything. He buzzed me, but you’re here now.”

Henk is weer aan die slaap toe Rebecca in sy kamer kom. Sy maak hom wakker en trek hom op.

“Hallo, Pa.”

“Hallo, Geitjie.” Sy antwoord is outomaties terwyl hy staan en wieg, aan die slaap op sy voete. Hy het haar laas Geitjie genoem toe haar ma nog gelewe het.

Sy vind skoon lakens in die kas en vervang die beddegoed.

Elke Voyager het minder as 70 KB geheue, sy herinneringe gestoor op agbaan-bandopnemers, teruggestuur na sy tuisplaneet met behulp van ’n versender skaars sterker as ’n gloeilamp, sy geheue byna ’n kwartmiljoen keer minder as dié van Rebecca se foon. Wanneer hy kan, kommunikeer hy met sy planeet. Sy mense is altyd bly om van hom te hoor. Rondom 2025 sal sy batterye afloop en sal hy in stilte voortdryf, min of meer onsterflik, solank hy nie huis toe kom nie.

Rebecca kon nie die boom vind waarteen haar ma vasgery het nie. Sy was so seker dit was daardie bloekom, op daardie plek langs die pad. Dáárdie pad. Die boom was nie waar dit moes wees nie. Miskien is dit jare gelede al uitgekap. Miskien is dit nog daar, net êrens verder af met die pad. Dit was nie waar dit moes wees nie.

Mamma, iemand skuif bloekoms rond in die nag.

Skepsel

Подняться наверх