Читать книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste - Страница 10
7
ОглавлениеDie volgende oggend begin Clio tuis voel op die plaas. Die koolstoof brand en vanuit die kombuis kom die geur van gebraaide spek en varsgemaakte koffie.
Betta se oë rek groot toe sy instap. “Dingetjie? Ek ken jou amper nie. Jou sproete en bokstertjies is weg!”
Clio gryp die groot ou lyf teen haar vas. “Ek sou jou uit ’n miljoen ander geken het, daar’s net een Betta. Maar jy’t grys geword!”
“Party grys het jý daar gesit, outyd al,” herinner Betta haar. Haar eelterige hande knyp aan Clio se boarm. “Jy’s maer en wit, soos ’n skaap wat geskeer is.”
Talien het altyd gesê sy en Betta het so lank saam dieselfde wa getrek, hulle het twee eenderse karperde geword. Vol raas en lawaai. Maar Clio weet: vryf die stekelrige dorings af en jy kry ’n blink diamant daaronder. Vol omgee en liefde. Sy voel al hoe meer tuis, besef nou eers hoeveel sy werklik terugverlang het.
’n Skaap wat pas geskeer is? “Dankie, Betta, jy sê altyd sulke mooi goed,” spot sy.
Haar sarkasme val op dowe ore. Betta wys met haar vinger na die geelhouttafel. “Lyk my daar in annerland is nie kos nie. Kom sit, dingetjie, laat ek inskep, dat ons vleis en kleur in daardie hol wangetjies kan sit.”
Betta het al Clio se gunstelinge onthou: gebraaide sampioene, spek, wors en roereier met baie pietersielie uit die kruietuin.
Terwyl sy eet, gesels Betta een stryk deur: oor Arnold en Zeus, die baie reën en haar kleinkinders – Lizzie wat al in die huis help, Betsie wat rumatiekkoors gehad het, en Kleinkoos wat so goed vaar op skool.
“Die stouterd het mos laas jaar gaan staan en druip. Toe praat Jurg hom aan, kwaai. Want hy’s ’n slim kind en dit was sommer luigeit. En toe hy klaar geraas het, toe praat Jurg mooi. Belowe vir Kleinkoos ’n fiets as hy hierdie jaar goed deurkom.”
Clio kou waarderend aan die laaste happie boerewors. As die ysige weer in Kanada nie die ding doen nie, sal dié spekwors van die slaghuis op Bela-Bela haar pa omkoop en laat huis toe kom – waar hulle hoort.
“En Kleinkoos kom toe deur?” raai sy.
“Staan eerste in sy klas!” spog sy ouma trots.
“Het hy toe sy fiets gekry?”
“Dag ná die skool gesluit het. Opgeklim en self leer ry, sonder dat iemand hom eers moes stoot. Ry die wêreld vol.”
“Hy gaan volgende jaar weer druip,” voorspel Clio.
Betta druk haar palms teenmekaar en maak ’n torinkie, asof sy bid. “Jinnetjie, dingetjie, moenie spooksels opjaag nie! Ek dog die kind het sy les geleer.”
“Hy het. En hierdie keer wil hy ’n selfoon hê. Volgende keer ’n TV,” spot Clio.
Betta lag so lekker dat haar hele lyf dril. “Sy pa sal sy nerwe aftrek as hy arme Jurg bankrot maak.”
“Jurg het baie geld om te mors, op karre en meisies. Waar is hy? Het hy al kom eet?”
“Vroegtyd al, saam met die hoenders. ’n Melkboer kan nie slaap tot die son wie weet waar skyn nie.”
“Het hy dan nie meer ’n bestuurder nie?”
“Ja, oom Lorrietjie is nog hier. En Johannes en Pietman en die ander voormanne. Maar dis die baas se oog wat die room in die melk sit.”
Betta was altyd vol gesegdes en wyshede, wat Clio geniet het. Anders as op Goederust, waar daar min mense en min dinge was. Alles klinies elektronies en gemeganiseer.
“Gaan julle later weer hospitaal toe?” vra Betta.
“Ja. Vandag gaan Arnold wakker word. Ek weet dit. Dis hoekom ek blomme gekoop het en ’n pienk rok aangetrek het. Pienk was nog altyd my gelukkige kleur.”
Clio help afdek, dan stap sy buitetoe. Loop ’n draai deur die kruietuin, verby die vrugteboord tot by die leidam met sy knoetsige wilgers, eende en herinneringe. Die dam is vol. Seker van die baie reën.
By die swembad kniel sy om haar hand in die water te steek. Dis louwarm. Sy wens daar was tyd vir ’n vinnige dip.
Die rifrug het agterna gedrentel, saam met ’n steekbaard wat vaagweg bekend lyk. “Waar’s julle baas?” vra sy.
Hulle plof in ’n skadukol neer. Die rifrug punt sy neus melkery se kant toe voor hy hom uitstrek, sug en aan die slaap raak.
Sy kyk en sien Jurg aankom. Hy het ’n denim en ’n wit T-hemp aan en hy stap met lang, gemaklike treë en die natuurlike grasie van ’n atleet. ’n Vlam skroei deur haar en haar hele lyf voel aan die brand.
Sy is seker dis sonde dat ’n stuk mansvleis so mooi is. Dit lei jou in die versoeking en laat jou emosies ’n pad loop wat hulle nie moet nie. Sy kyk weg, probeer om nie te sien hoe sy denim om sy bobene span toe hy langs haar kom hurk nie.
“Môre!” groet hy en strek sy hand uit na die geel-en-swart tor wat hulpeloos met sy pote rondkarring in ’n poging om ’n plek te kry waar hy uit die water kan klim. Jurg red die drenkeling en sit hom op die plaveisel neer.
“Talien gaan jou nie bedank nie – dis ’n rooskewer,” onthou Clio.
“Toe ek klein was, het ek ’n keer in die leidam geval. Aan die diep kant. Ek weet hoe paniekbevange dié ou gevoel het.” Hy vee sy nat hand aan sy broek se sitvlak droog.
’n Glimlag laat sy mondhoeke boontoe wip. “Aitsa, Pienkes. Jy lyk soos ’n perskebloeisel, heeltemal te aanloklik vir ’n man se gesondheid.”
Clio se koors het nog nie gesak nie. Sy gril vir insekte, maar staal haarself om aan die ding te raak waar hy op sy rug lê en skop. Sy rol hom om op sy pootjies en punt sy voorkant in die teenoorgestelde rigting, sodat hy nie netnou weer inval as hy begin voortwaggel nie. Dit gee haar ’n verskoning om haar bloesende gesig weg te steek. “Dapper meisie!” prys Jurg haar. “Was jy nie bang hy byt nie?”
’n Bietjie van haar ou vuur kom terug. “Ek is nie die histeriese soort wat gil as ’n onskadelike ou tor naby my kom nie.”
“Veral ’n gomtor,” beaam hy sedig. “Dié steek jy sommer met ’n vurk disnis.”
Clio maak of sy die sinspeling nie snap nie. Sy wens hy wil loop. Hy gooi haar van koers af en laat haar net so hulpeloos rondkarring soos daardie gogga. Sy ignoreer hom en hou haar besig met ’n hopie blare wat op die oppervlak dryf waar die Kreepy nie kan bykom nie.
Jurg hou haar onderlangs dop. Die pienk rok is kort en van ’n syerige materiaal. Toe sy rek om die verste paar blare by te kom, skuif die romp op tot bokant haar knie. Sy het fyn enkels en lang, slanke bene. Die kuiltjie aan die buitekant van haar knie wat hom altyd so gefassineer het, is nog daar.
Hy wonder wat sy sal maak as hy oorleun en met sy mond daaroor streel, soos hy nog altyd wou doen. Hy is naby genoeg, hy sal kan bykom. Hy sal waarskynlik ’n stywe oorveeg kry, maar dit sal die moeite werd wees.
Jurg kry lag vir sy adolessente gedagtes. Asof hy nog op hoërskool is … Hy kyk nog ’n oomblik, voor hy sy blik wegskeur.
“Is jy skaam vir my, Cleopatra?” vra hy reguit.
Sy hoor die terg in sy stem, maar toe sy vlugtig deur haar wimpers loer, is sy oë sag.
“Of bang vir my?”
“Nee.”
Nie vir hom nie, vir die gewaarwordinge wat hy in haar wakker maak. Geen wonder die meisies tou agter hom aan nie. Hy toor met ’n vrou se hormone. Sy moenie kop verloor net omdat hy ’n paar jeans netjies volmaak nie. Sy is lief vir die ánder Van Deventer-broer; hierdie is die een wat sy nooit kon verdra nie … Arnold is eg, eerbaar en opreg, terwyl Jurg speletjies speel, sommer vir die lekker, om te sien of die meisies daarvoor swig.
Hy kyk lank na haar, en toe hy praat, is die terg weg. “Ek vind jou onweerstaanbaar, Clio. Jy het seker self agtergekom ek is aangetrokke tot jou – meer as wat ek behoort te wees. Van ek jou die eerste keer weer gesien het, die aand by die Bremers se huis, wou ek jou in my arms neem en daardie snipmond stil soen.”
Haar soen? Clio kan nie glo dis wat Jurg gesê het nie. Ewe ernstig, asof hy dit bedoel. Haar hart klop só wild, sy is bang hy sien. Ansie se woorde weerklink meteens in haar ore: Jurg het altyd die hots vir jou gehad. Hy en Arnold albei. Almal het dit geweet.
Bog! maak sy dit ’n tweede keer af. Jurg is nie ernstig nie. Hy hou daarvan om met meisies te flankeer, dis sy geaardheid.
“Toe ek aan jou hand geraak het, was die versoeking weer daar. Sterker. En nou nog steeds … Maar ek het genoeg selfbeheersing om dit te weerstaan. Jy is my ouboet se meisie, en ek sal niks doen om jou of hom te na te kom nie.”
Hy bedoel die keer op die parkeerterrein. Hy weet van die elektriese vonk tussen hulle, besef sy. Hy het dit ook agtergekom …
Op daardie tydstip was sy weerloos en ontvanklik. Wat sou sy gemaak het as hy haar toe nadergetrek en gesoen het? Hom weggestoot of teruggesoen het? Sy weet nie, en sy wil ook nie te diep delf nie.
“Ontspan,” sê hy saggies. “Ek is nie so ’n gewetenlose skurk soos jy dink nie.”
“Nee …”
Hy is nie seker of sy stry of saamstem nie. “Nie so ’n boef soos jy dink nie,” las hy by.
“Nee, darem ’n bietjie beter,” bevestig sy.
“Komende van jou is dit ’n reusekompliment.” Hy blaas sy asem verlig uit, kom regop en hou sy hand uit om haar op te help.
Sy kyk na die groot, bruingebrande hand en onthou die verwoestende uitwerking van laas. Sy wil haarself nie weer daaraan blootstel nie. Daarom druk sy teen die plaveisel en kom orent op eie stoom. Maar met die omdraai haak haar sandaal agter ’n uitstaande steen. Sy struikel en verloor haar balans.
Met ’n blitsige beweging reik Jurg uit en gryp haar. Hy kry haar aan die skouer beet en vang haar, op die nippertjie, anders het sy in die swembad beland. Sy eindig in ’n bondel in die kromming van sy arm, in ’n stewige greep vasgepen teen sy bors.
Clio het geskrik en ’n oomblik staan sy verstar, met ’n lamheid wat in haar knieë opkruip. Deur die materiaal voel sy die hitte van sy vel deurslaan en raak bewus van sy klipharde manslyf teen hare – die volle lengte van sy bobeen wat teen hare aangedruk is, sy heup asof vasgegom teen haar maag en haar kop wat teen sy bors rus.
Albei sy arms is om haar, om haar rug en haar nek, sy hand agterom haar kop en sy vingers verstrengel in haar hare. Teen haar wang voel Clio sy hartklop, net so onstuimig soos haar eie. Dis asof die klank haar skroei en haar pols aanjaag.
Jurg het instinktief gereageer en was nie voorbereid op die resultaat van sy tweede reddingsdaad van die oggend nie. Ook hý is momenteel van stryk in die situasie waarin hy hom bevind. Dis een ding om te bewonder en te begeer en snags oopoë te lê en fantaseer. Te belowe hy het genoeg selfbeheersing … Dis heeltemal iets anders om hom plotseling in die realistiese werklikheid van sy begeertes te bevind. Hy is te bang om te roer, te bang hy doen die verkeerde ding.
Bokant hulle vlieg ’n raserige hadeda verby en die steekbaard blaf vir hom. Maar die klanke stol in Clio se ore en dit voel asof sy haar in ’n klankdigte kokon vol stilte bevind. Selfs die paddakoor is net ’n veraf suising in die riete.
Al wat tot haar deurdring, is Jurg se hartklop en sy asem wat rukkerig opstoot. Hy het gesê hy vind haar onweerstaanbaar, hy wil haar in sy arms neem en soen. Is dit wat hy gaan doen? Want hy het gesê die versoeking is steeds daar …
Netnou het sy nie geweet hoe sy sou reageer nie. En sy weet nog steeds nie. Sy weet dis verkeerd, sy moet hom wegstoot. Maar sy is nie in staat nie. In haar brein flikker waarskuwingsliggies, maar haar hart wil dit nie herken nie en haar lyf wil nie reageer nie.
Sy sien sy mond. Voor dit gebeur, weet sy wat gaan kom …
Maar Jurg soen haar nie. Ook in sý agterkop galm ’n sirene wat hom waarsku hy mag nie. Hy het nie die reg nie. Sy arm agterom haar rug verslap. Dan die een om haar nek, totdat hy Clio stadig laat gaan, stukkie vir stukkie. Hy tree terug om ’n veilige afstand tussen hulle te plaas.
Sy is dankbaar dat die besluit nie by haar berus het nie. Jurg het die eerbare ding gedoen, voor hulle kop verloor en iets doen waaroor albei môre spyt gaan wees. Tog voel sy afgehaal, bewus van ’n vreemde gevoel van teleurstelling.
Hy bly ’n halfmeter van haar af staan, naby genoeg dat sy die deining van sy bors kan sien. Sy oë verdonker sodat die silwer randjie om die iris verdwyn. Sy arm lig aarselend en vir ’n wilde, waansinnige oomblik verwag Clio dis om haar weer nader te trek. Maar hy raak net liggies met sy vingerpunt aan haar; trek vlindersag ’n strepie oor haar wang, in ’n teer en weemoedige gebaar.
“Ek het belowe jy kan my vertrou,” fluister hy, sy stem hees van ingehoue emosie.
Die kokon breek en die lewe vloei stadig terug in Clio se ledemate. Sy voel koud, asof sy terug is in Kanada se sneeu. Haar stem klink vreemd veraf, asof dit van anderkant die leidam kom. “Ek moet gaan. Hospitaal toe …”
Jurg se mond is in ’n strak lyn gespan. Hy moet eers sluk voor hy kan praat. “Ek sal jou neem.”
“Nee.” Sy skud heftig haar kop, sodat haar hare in haar oë waai. “Nee, ek wil liewer alleen gaan.”
Hy verstaan. Dieselfde weemoed is nou ook in sy oë. In sy stem en in sy woorde. “Ja, Cleopatra, dis beter as jy vandag alleen gaan.”
En môre en oormôre ook … Maar nie een van hulle sê dit hardop nie.
“Ek sal Arnold se bakkie gebruik.”
Jurg haal motorsleutels uit sy broeksak en hou dit op sy handpalm na haar uit.
Sy is dankbaar om te merk haar hand is bestendig. Sy neem die sleutels, versigtig om nêrens aan hom te raak nie. Dit sal soos ’n vlam in ’n kruitvat wees. Volgende keer is dit dalk moeiliker en gee sy toe aan die begeerte wat steeds haar lyf vol lê, wat sy weet haar vannag in ’n opgekrulde bondeltjie onder die laken gaan laat wakker lê.
“Jy hoef nie brandstof in te gooi nie, die tenk is vol.” Clio kom stadig terug van die omswerwinge waar haar hart gaan draai het. Dit klink of Jurg sy asemhaling en emosies onder beheer het.
“Dankie.” Haar stem klink ook meer in beheer.
“Dis die wit Toyota, in die duskantste motorhuis.”
“Dankie.”
“Arnold kan dalk vandag wakker word …”
Arnold … Die naam skrei deur haar. Sy wens sy het nog dieselfde sekerheid gehad dat hy vandag sy oë gaan oopmaak. Sy verdien nie goeie nuus nie. Verdien hóm nie.
Al was dit net ’n oomblik en al het niks tussen haar en Jurg gebeur nie, voel Clio asof sy Arnold verraai het. Dit was te naby …
So iets mag nooit weer gebeur nie. Sy en Jurg moet van mekaar wegbly, anders gaan haar weerstand verkrummel. Sy sal haarself verag. En vir Jurg ook. Arnold sal dit op haar gesig kan lees. Dat sy hom in die rug gesteek het …
Sy kyk nie na Jurg toe sy omdraai en wegstap nie.
In haar kamer hang sy die silwer kysringetjie aan ’n toutjie om haar nek. Dit lyk vreemd onbekend. Sy het dit agter in ’n laai gebêre en op die ingewing van die oomblik saamgebring. Om watter rede weet sy nie eintlik nie.
Mense aanvaar sy en Arnold het toekomsplanne net omdat sy kom kuier het. Maar soos sy op die vliegtuig aan Aloma verduidelik het, is hy nie in die ware sin haar kêrel nie. ’n Mens kan nie iemand aan ’n belofte hou wat elf jaar gelede gemaak is nie, as ’n impulsiewe en sentimentele tiener. Hulle is net vriende. Baie goeie vriende. Sy glo dis hoe Arnold dit ook insien. Of nie …?
Jurg is nêrens in sig toe sy met haar handsak by die kombuis instap nie.
“Dis weer die waterpomp,” kla Betta. “Hy lol hoeka al weer, dan sit die melkery sonder water.”
Clio haal die irisse uit die beker water en draai handdoekpapier om die stingels. “Hoekom maak Jurg die pomp nie reg nie?”
Betta laat kletter die kastrolle teen mekaar in die opwasbak. “Dingetjie, moenie ’n skoen aantrek wat nie pas nie. Die kind werk van sonop tot sononder sy hande deur.”
Clio rol haar oë. “Kind” is nie juis ’n gepaste beskrywing vir groot Jurg van Deventer nie, maar sy waag nie ’n antwoord nie. Betta is so ’n vurige dissipel van hom, sy klits iemand wat van haar verskil sommer met een van daardie kastrolle oor die kop.
“Ja, Betta,” sê sy vroom, “hy werk hom morsdood. Maar dis goed, dit hou hom uit die kwaad.”
“Jy’s lelik, Clio,” raas Betta. “Jurg het jou niks gemaak nie, maar jy soek net altyd skoor.”
As Betta haar “Clio” noem, is dit ernstige sake.
Op pad uit steek sy in die agterdeur vas. “Niks gemaak nie? Jy moenie vandag brood bak nie, Betta, want jou geheue is vreeslik kort. Jy vergeet dalk om suurdeeg in te knie.”
Betta swaai om, hande in die sye. “Wat is dít veronderstel om te beteken?”
“Koning Jurg is besig om julle almal om sy pinkie te draai, en julle laat dit toe. Julle dink hy is te wonderlik. Maar het jy van Lallie vergeet? Van hoe hy met ’n windbuks die muisvoëls geskiet het?”
“Al die plaasseuns doen dit,” verdedig Betta hom. “Dis hoe seunskinders is.”
“Arnold het nooit voëls geskiet nie.”
“Die muisvoëls het die vye opgevreet.”
“Dit sal ’n treurige dag wees as die Van Deventers voëls vermoor omdat hulle te arm is om by ’n winkel ’n sakkie vye te koop.”
“Jy’s ’n meisiekind, en jy’t daar oorkant stadskind geword,” beskuldig Betta haar. “Hoe sal jy ooit eendag boervrou kan word?”
“Dit sal dalk nooit nodig wees nie.”
Voor Betta kan vra wat dít beteken, kies Clio koers deur die kruietuin, motorhuis toe.
Betta is so partydig vir Jurg, Clio het begin dink dat sy Arnold vergeet het toe die ou vrou skuddend agter haar aandraf. “Jy’t die bak vergeet … Hierso!”
“Watse bak?”
Betta druk ’n Tupperbak in Clio se hand. “Hy staan al van gister af reg … Arnold se gunsteling: klapperkoekies. Hy’s dalk honger as hy wakker word.”
Clio se oë is mistig. “Dankie, Betta.”
Arnold is nie ’n ou wat hom aan voorkoms steur nie, maar Clio is aangenaam verras. Die bakkie is die jongste model, blinkskoon, en dit vuur die eerste keer toe sy die sleutel in die aansitter draai. Dit gee haar selfvertroue vir die onbekende ratte, hobbelrige sinkplaat en die linkshouery op ’n pad wat sy al half vergeet het.