Читать книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste - Страница 9

6

Оглавление

Buite in die gang soek Talien in haar mou. Sy gee vir Clio haar sakdoek, soos toe sy ’n klein dogtertjie was. “Ken jy hom nou?”

“Ja.” Clio snuif en blaas haar neus. “Skies dat ek so ’n prima donna was.”

“Wie het gesê jy’s ’n prima donna? Jurg? Moet jou nie aan hom steur nie, jy ken hom mos van toeka af. Hy bedoel dit nie sleg nie. Die kind wys mos nooit sy gevoelens nie, steek als mos agter daardie hardekwashouding weg. Maar binne-in daardie groot lyf klop ’n klein hartjie. Jy’s vir hom die sussie wat hy nooit gehad het nie en hy is baie erg oor jou, Clio. Terg is maar sy manier om te wys hy gee om.”

Sussie? eggo Clio se gedagtes. Miskien toeka, maar nie nou meer nie.

En sý? Sien sy hóm as ’n boetie?

“Ek weet julle twee het dikwels gebots,” gaan Talien voort. “Dit was meestal Jurg se skuld, maar nie altyd nie. Soms was dit ’n misverstand. ’n Saak het altyd twee kante, en mens is soms bevooroordeeld, sodat jy net die verkeerde kant sien.”

“Dis nie Jurg wat gesê het ek is ’n prima donna nie,” erken Clio. “Dis ek wat sommer simpel was.”

“Jy was oorstelp deur wat gebeur het, soos ons almal maar. Dank die goeie Vader Arnold het bygekom.”

“Dokter Wim waarsku daar lê nog ’n lang pad voor na volkome herstel.”

“Met jou hier sal hy gemotiveerd wees, en hy sal vinniger weer op die been wees.”

Jurg wag vir hulle buite by Talien se motor en hou galant die deur oop. “Oppas, moet nou nie weer dwars bo-op die sjokolade gaan sit nie!” waarsku hy.

Talien sien die boks met die rooi lint om op die sitplek lê. Haar gesig verteder. Sy vryf liefkosend oor sy wang en lê haar kop teen sy bors.

“Jy’s ’n dierbare ding. Hierdie ou vrou sal haar wát verbeel om so ’n romantiese ridder in haar lewe te hê.” Sy strek op haar tone en gee hom ’n klapsoen. “Dankie, hartlam. Wat sal ek sonder jou doen?”

“’n Beter ridder kry,” spot hy. “Een met ’n stetoskoop om sy nek.”

“Moenie vir jou ligsinnig hou nie, Jurgens!” raas Talien, maar Clio sien die sagte trek om haar mond.

“Sal ons Sondag ’n skaapribbetjie op die kole gooi en hom oornooi?” stel hy voor.

Sy hou haar steeks en skop ’n klomp stof op, voor sy gemaak teësinnig instem. “Maar moenie jou beste wyn oopmaak nie!” waarsku sy kwaai.

“Ek sal nie, ons gee hom koeldrank in ’n blikbeker.”

“En ek gaan ook nie poeding maak nie!”

“Nee, gee hom net ’n stuk brood met jêm op.”

Clio hou die twee dop: hul gemaklike speelsheid wat van wedersydse toegeneentheid getuig. Het sy Jurg deur die jare dalk verkeerd geoordeel? Of wat het Talien bedoel met ’n saak wat altyd twee kante het?

Talien maak die boks oop en gee vir hulle elkeen ’n sjokolade – net een, en nie van dié met neute in nie, wat haar gunstelinge is. Dan skuif sy agter die stuurwiel in.

“Bel Kanada toe, Clio,” gebied sy. “Jou ma is bekommerd oor jou. En Jurgens, sorg ordentliker vir jou kuiergas! Eet daardie hoenderpastei, en laat Betta môre vir julle ordentlike kookkos maak.”

“Reg, samjoor!” belowe hy.

Toe Talien se motor om die draai verdwyn, stap hy na die Porsche toe. “Ek moet ongelukkig eers by die bank en die koöperasie aangaan. Sal jy omgee?”

“Glad nie. Ek wil graag in die dorp rondloop, al die ou bekende plekke opsoek.”

“Ons kan daarna iets gaan eet as jy wil? Of gaan koffie drink by die Hoekkafee?”

“By die Hoek drink mens melkskommels.”

“Pienkes,” beaam hy, “wat in jou piering oorloop.”

Hoe het hy geweet? Hul oë ontmoet en dis Clio wat eerste wegkyk. Dit sal heiligskennis wees om saam met Jurg na die Hoek te gaan.

“Ek is nie dors nie.”

Gek wat ek is, dink Jurg. Om te verwag sy sou inwillig …

Sy het as kind haar neus opgetrek asof hy onder ’n klip uitgekruip het. Hoekom sal dit nou anders wees? Die boodskap daar in die hospitaal was duidelik: Wat Clio Gericke betref, ly hy steeds aan ’n aansteeklike siekte. Dís waarom sy haar hand weggeruk het, om te keer dat hy aan haar raak.

Hy sê niks, klap net die motordeur hard agter hom toe en trek weg met gruis wat in alle rigtings onder die bande uitskiet.

Ek dag jy het grootgeword … wil sy spot, maar waag dit liewer nie. Jurg van Deventer is as grootmens aangenamer as wat sy verwag het. Maar sy weet dat hy nie ’n oormaat geduld het nie. Arnold kon ure lank met ’n koppige vul sukkel en paai en mooipraat, terwyl Jurg ná ’n halfuur die toom sou neersmyt.

“Daar het ’n nuwe kafee oorkant die koöperasie oopgemaak: Dino’s. Kry jou daar oor ’n uur,” sê hy kortaf.

Clio dink na. “Ek sal sien … Mits ek lus is vir koffie.” Sy weet die uitnodiging is nie omdat hy haar geselskap geniet nie. Dis uit plig. Hy het gesê noudat Arnold beseer is, voel hy verantwoordelik vir haar. Hy doen net sy broederlike plig, en dis goed dat sy nie oorgretig geklink het nie. Hy moenie die idee kry sy is verleë oor hom nie.

Clio drentel in die dorp rond. Dis minder lekker as wat sy verwag het. Elf jaar is ’n lang tyd. Die atmosfeer het verander, en ou gesigte is vervang met nuwes. Nuwe intrekkers wat haar nie ken nie en nie lus het vir gesels nie.

By die tuisnywerheid koop sy vetkoek en lasagne wat goed sal vries en later in die week sal dien as haar aandeel vir aandete. By die Waterberg Apteek koop sy lekkerruikseep en naskeer vir Arnold. Sy weet nie meer waarvan hy hou nie. Muskus of bergamot? Vir die wis en die onwis koop sy albei. Hy hou van vrugte, maar wanneer sal hy gesond genoeg wees om dit te kan eet? Sal hy ’n voorgeskrewe dieet hê? Sy weet nie.

Wie was so bloedloos om te sê mens koop nie blomme vir ’n man nie? wonder sy. Arnold is ’n blommemens. Die soort wat tuinmaak in mense se harte, wat blomme plant op ’n woestynvlakte. Vir Arnold wat so ’n hartstog vir kleur het, koop ’n mens skelgeel sonneblomme of posbusrooi vuurpyle. Nee, besluit sy. Ryk, purper irisse, soos Van Gogh s’n, op die enigste skildery wat gedurende sy leeftyd verkoop is. Wanneer Arnold sy oë oopmaak, moet die bos bloupers irisse op sy bedkassie die eerste ding wees wat hy sien.

Dit laat haar vroliker voel. Sy koop twee bosse en gooi die hand vol kleingeld in die DBV se bedelbussie wat langs die bloemiste se kasregister staan.

“Hulle is vir my kêrel wat in die hospitaal is,” verduidelik sy vir die meisie agter die toonbank wat half vraend na haar kyk.

“E … Arnold van Deventer?” vra die meisie.

“Dis reg.” Clio is verbaas. “Hoe het jy geweet?”

“Ek ken hom en ek … ken jou. Clio?”

Clio se mond hang oop.“Ansie? Ansie Cloete!” roep sy uit. “Jy’t jou hare gekleur! En dis korter … Anders het ek jou dadelik herken.”

“Jy’t ook verander,” lag Ansie. “Jy was altyd sexy, met daardie paar bene waaroor die seuns altyd geswoon het. Maar jy’t ’n boesem bygekry wat skrik vir niks.”

“Haai, het ek?” Clio gee haar rok se hals ’n selfbewuste pluk boontoe. “Moet net nie sê my boesem is wulps nie. Dis op die oomblik ’n teer saak.”

“Woon julle nog in Kanada?”

“Steeds.”

“Hoe is dit dan dat jy so goed Afrikaans praat? Ek dag jy sal sukkel of ’n aksent hê.”

“Ons praat Afrikaans by die huis en lees Afrikaanse koerante en tydskrifte op die internet.”

Clio vra uit oor Ansie en hulle ander klasmaats, ruil foonnommers en nuus uit oor wie met wie getroud is en wat van almal geword het.

Ansie bedien ’n ander klant en toe sy terugkom, is die vrolikheid van die wedersiens weg. “Ek het van Arnold se ongeluk gehoor. Is dit hoekom jy teruggekom het Suid-Afrika toe – omdat dit slegter gaan met hom?”

“Nee, inteendeel. Dit gaan beter. Hy kan enige oomblik sy oë oopmaak en dan wil ek hê hy moet heel eerste teen iets kleurvols vaskyk – dis waarom ek die irisse gekoop het. Ek sal vir hom sê ek het hulle by jou winkel gekoop.”

“Het julle al die jare die kys bygehou?” vra Ansie nuuskierig. “Hoe doen mens dit – so ’n langafstandvryery? Stuur sexy emails en smooch op ’n webkamera op die rekenaarskerm? Dit klink nie vir my na fun nie.”

Clio bars uit van die lag. “Moet sê, ek verkies ook ’n warm, régte-egte ou bo ’n plastiek-een. Maar ek en Arnold was nie vas gekys nie. Net so half en half.”

“Dis nie die indruk wat hy geskep het nie. Arnold het altyd die hots vir jou gehad. Hy en Jurg albei.”

“Ag, jy’s laf,” antwoord Clio verleë. “Waar kom jy daaraan?”

“Almal het dit geweet, gewonder wanneer hulle mekaar gaan pot, oor jou.”

“Bog!” maak Clio dit af. “Jurg kon enige meisie kry wat hy wou hê: Lizaan, Joey, Petronel … Ek kan nie almal se name onthou wat vir hom heupgeswaai het nie.”

“Almal behalwe jy. Dis hoekom hy jóú wou hê.”

“Nonsens.”

“Genuine,” hou Ansie vol. “Maar jy was altyd so wipperig en snipperig, asof jy van geen sout of water weet nie. Ons het almal gelag en gewed op wie gaan wen. Toe is julle weg, oorsee.”

“En nou is ek terug.”

“En nou gaan almal wed op wat in die volgende episode gaan gebeur: met watter een jy gaan trou. Net soos in ’n sepie.”

Die onderwerp begin Clio irriteer. “Ek moet waai. Sal een of ander tyd weer inloer.”

Sy neem die blomme en haar inkopies en stap haastig uit. Sy is vies vir haarself omdat sy toegelaat het dat Ansie se stories haar ontstel. Weddenskappe! Asof sy ’n resiesperd is. Smooch op die rekenaarskerm … Arnold sal lekker lag as sy hom van Ansie se lawwe praatjies vertel.

Skielik voel sy weer soos op die vliegtuig: die helfte van haar opgewonde by die gedagte om met hom te gesels en die ander helfte bang. Wat as hy haar herken, as hy sy bril opsit en bekend lyk – maar steeds ’n vreemdeling bly vir wie sy nie weet wat om te sê nie? Sy wens Aloma was hier met haar praktiese en nugter raad.

“Dis maklik. Vra of hy ’n rustige nag gehad het, of hy pyn het of dors is,” praat sy hardop.

En dan?

“Dan gee jy vir hom water of ’n pilletjie of die seep en die naskeer, na gelang van die situasie. Dalk vind julle mekaar dadelik en gaan net aan waar julle laas opgehou het.”

Clio bly bang. En vreemd van koers af by die gedagte dat die broers kon stry kry oor háár. Sy was ’n bogsnuiter; haar iPod, haar fiets en haar katte was belangriker as kêrels. Hulle was almal te jonk om ernstig te raak. Arnold inkluis, al was hy amper klaar met skool. In sy briewe het hy nooit iets gemeld nie, maar sy hoop hy het ander meisies uitgeneem ná sy weg is, en een of twee verhoudings op universiteit gehad. Sy wil nie hê hy moes heeltyd vir háár gewag het om terug te kom nie.

Sy kyk onseker om haar rond. Sy was ingedagte en het nie opgelet waar sy loop nie. Hoe het Jurg gesê, wat is die nuwe plek se naam waar hy haar sal kry? Gino’s of iets? Oorkant die koöperasie … Dis ’n blok laer af, verby die verkeerslig.

Dis Dino’s, sien sy toe sy daar kom. En die Italiaanse eienaar by die espresso-masjien kry ’n oorval as hy hoor Jurg het na sy skemerdonker koffiekroeg as ’n “kafee” verwys.

Clio is dors en lus vir koffie, maar hou liewer uit as om dit te erken, want sy wil Jurg nie sy sin gee nie. Daar is ’n tydelike wapenstilstand tussen hulle, maar dit beteken nie hulle vete is saam met haar kat begrawe nie.

In die skemer sien sy Jurg by een van die agterste tafeltjies sit, met iemand by hom. Eers toe sy naby kom, merk sy dis ’n meisie. ’n Swartkop. Lizaan Visser, wat saam met hom in die klas was. Wat altyd op talentaande gesing het en ’n rasieleier was met interhoëratletiek. Sy het altyd met haar styfpassende minirompie op en af gespring en arms geswaai om die toeskouers op die pawiljoen aan te vuur as Jurg die hekkies-item gewen het.

Die ander meisies kon haar nie verdra nie, en Clio ook nie. “Lizaan die likkewaan” het hulle haar gedoop. En omdat sy modelwerk gedoen het en haar heupe so gly-gly geswaai het as sy loop. “Een vir jou, een vir my …” het hulle gespot. Meestal uit jaloesie, want Lizaan was eksoties mooi. Een van die mooiste meisies in die skool.

Jurg staan op toe Clio by hul tafeltjie tot stilstand kom. “Haai! Bly om te sien jy het toegegee aan die dors.” Hy wys na sy metgesel. “Jy onthou mos vir Lizaan …”

Eerder ’n stelling as ’n vraag. Asof dié ’n selebriteit is wat ’n onuitwisbare indruk gemaak het.

Clio lyk vaag. “Suzaan?” herhaal sy terwyl sy die blomme en pakkies langs haar stoel neersit. “Die gesig is vaagweg bekend …”

Lizaan se swaargegrimeerde oë skiet dolke. “En jóúne glad nie.”

Clio kyk na haar met ’n blik kouer as die sneeupieke van die Rocky-bergreeks wat in Calgary vanuit hul sitkamervenster sigbaar is.

Jurg raak bewus van die temperatuurskommeling by die tafel, sonder dat hy weet waaroor dit gaan. Iets waarsku hom om nie dieper te delf nie.

“Lizaan Visser, Clio Gericke,” stel hy die meisies aan mekaar voor, hoewel hy seker is hulle moet mekaar ken. Hy kyk vraend na Clio. “Ons het cappuccino bestel, maar waarvoor is jy lus?”

Lus om die likkewaan se oë uit te krap, wil Clio antwoord, maar bedwing haarself en glimlag liefies. “Ná dese het ek iets sterkers nodig. ’n Dubbele espresso, asseblief.” Was dit ’n toevallige ontmoeting, of het hy Lizaan ook vir koffie genooi? Om te wys hy is nie verleë oor háár geselskap nie? Clio weet nie wat Jurg se rede was nie, maar wat ook al die motivering, dit was kleinlik en moedswillig. Hy het tog sekerlik nie gedink sy sal jaloers wees op Lizaan Visser nie. Só desperaat is sy nie.

Die geselskap om die tafel vlot nie. Jurg as gasheer bestel vir almal kaaskoek en probeer sy bes, maar hy kry geen hulp nie. Nie een van die meisies is in ’n sosiale luim nie.

“Het jy nou op Vuurfontein jou intrek geneem?” verneem Lizaan.

Asof sy sak en pak met ’n lorrievrag meubels opgedaag het, dink Clio. Sy is dankbaar toe die kelner ’n koekbordjie voor haar neersit waarmee sy haar kan besig hou. Sy verwerdig haar nie ’n antwoord nie.

“Is dit nie ongerieflik ver van die hospitaal af nie?

“Dis net vier kilometer, ek kan binne tien minute daar wees.”

“Sou dit nie beter gewees het om op die dorp tuis te gaan nie?”

“Nee.” Clio verskaf nie redes nie en neem ’n groot hap kaaskoek. Dit sit in haar keel vas en proe soos saagsels.

“Ek het vergeet … Wat is jou naam nou weer? Leo of wat?” betaal Lizaan haar in gelyke munt terug.

“Clio.”

“Ekskuus? Ek kan nie hoor as jy met koek in jou mond praat nie.”

“Clio,” val Jurg in. “Afgelei van Cleopatra.”

Hý moenie nou ook nog begin nie. Sy het net sóveel geduld … “My naam is Clio. Dis hoe ek gedoop is, en dis hoe ek verkies om genoem te word. Ek hou nie van byname nie.”

“Clío?” Lizaan rol die naam op haar tong en trek ’n gesig. “Dit klink soos die naam van ’n kar. ’n Renault Clio.”

Lizaan is baie beter met hierdie soort kattegeveg as sy, besef Clio.

“So, jy en Arnold het planne?” sê-vra Lizaan.

Clio hou haar dom. “Planne? Hoe bedoel jy?”

Lizaan skud haar lang swart hare oor haar skouer. “Trouplanne,” herhaal sy ongeduldig.

Clio merk dat Jurg haar dophou. Hoekom wil Lizaan weet? wonder sy. Omdat sy Jurg wil inpalm en haar as kompetisie beskou? Sy wens sy het nie so halsoorkop geëet nie, of dat sy nog ’n sluk espresso oorgehad het.

“Dis seker vir Arnold om te besluit,” skerm sy.

“Jy het tog seker nie al die pad na Suid-Afrika gekom vir ’n blote kuier nie? Jy en Arnold wil seker julle toekomsplanne bespreek?”

“Ek dink Arnold moet eers behoorlik bykom. En ek dink nie trou gaan die eerste ding wees waaraan hy dink wanneer hy sy oë oopmaak nie.”

Clio kyk pertinent na Jurg. Sy hét probeer om beleefd te gesels en haar beskaaf te gedra. Hul koppies is al koud genoeg. Kan hulle nie nou maar huis toe gaan nie?

Jurg snap die skimp. Hy kry die rekening en stoot sy stoel agteruit. “Dankie vir julle geselskap, dames. Dit was aangenaam.”

Vir die eerste keer in hul lewe stem die twee dames saam: Aangenaam? Beslis nie.

Clio is stil op pad plaas toe, besig met haar eie gedagtes wat deur Lizaan se lang rooi naels oopgekrap is.

Maar toe hulle by die huis instap, vaar sy uit: “As jy weer so iets doen, Jurg van Deventer, keer ek die melkbeker op jou kop om. ‘Aangename geselskap’, het jy dit genoem? Jy kort ’n gehoorapparaat, swaer!”

Sy pluk ’n kasdeur oop en haal ’n beker uit om die irisse in water te sit. “Ek het nie met ’n mond vol koek gepraat nie, ek het beter tafelmaniere as dit.”

Sy kan dit nie glo toe Jurg sy kop agteroorgooi en lag nie.

“Het jy gedink dis snaaks? Is dit hoekom jy haar ook genooi het – om vir ons te lag as ons soos twee viswywe tekere gaan? Jy het altyd ’n simpel sin vir humor gehad, en dit word al erger.”

“Ek het Lizaan nie genooi nie. Sy het toevallig by Dino’s ingestap.”

Hy lig die deksels op van Betta se kastrolle wat op die stoof staan en snuif waarderend. Terwyl hy borde uithaal, kyk hy nuuskierig om na Clio. “Het jy Lizaan regtig nie herken nie, of was dit deel van die speletjie?”

Clio begin slaai maak. “Sy het haar hare gekleur. Dit was altyd bruin, nooit so nagswart soos nou nie.”

Jurg grinnik breed, maar sy kop is weggedraai sodat sy nie sien nie. “Hoekom hou jy nie van haar nie?” vra hy en probeer klink of hy nie omgee wat sy antwoord nie.

“Dis nie net ek nie. Niemand het van haar gehou nie. Sy het altyd gedink sy is watwonders, net omdat sy ’n kursus in modelwerk gedoen het.”

Jurg sou ’n ander antwoord wou hê, maar hy wil nie sy geluk beproef nie. Betta het blomkool en ertjies by die hoenderpastei gemaak en albei is honger toe hulle by die tafel aansit.

Hulle eet klaar en hy dra die skottelgoed na die opwasbak toe. Dan sê hy asof terloops: “Talien bly nog tot die naweek op die dorp. Moet ek hoor of tannie Ria vir jou ook plek het in die huis?”

“Nee, toemaar.”

Hy wil toekomstige misverstande vermy. “Is jy seker? Sien jy kans om by my op Vuurfontein te slaap?”

Hy laat dit erger klink as wat dit is, maar sy weier om te bloos. Sy ken die wêreld, sy is nie meer die naïewe plaasmeisietjie van destyds nie.

“Of is jy bang?” terg hy.

Die Kanadese mans is nou wel nie veel werd op ’n rugbyveld nie, maar dit beteken nie hulle is net so onhandig as dit kom by meisies nie. Party van hulle sal die selfversekerde Jurg van Deventer ’n ding of twee kan leer.

Haar ken lig parmantig. “Hoekom sal ek bang wees?”

“Jy het gisteraand so ’n bohaai opgeskop.”

“Ek was bang mense skinder as dit lyk of ek by jou ingetrek het. Plattelandse mense is konserwatief.”

Sy een wenkbrou lig. “Van wanneer af gee jy om wat die mense sê?”

“Ek dink nie aan myself nie, maar aan jou. Jou goeie naam. Die Van Deventers is gesiene mense en steunpilare in die gemeenskap. Ek wil verhoed dat hulle agter jou rug praat.”

Die grootste klomp strooi wat hy in ’n lang tyd gehoor het. Jurg is nuuskierig om te weet waarop sy afstuur. “Wie is die ‘hulle’ na wie jy verwys?”

Hy maak dit nie vir haar makliker nie … Clio trap klei, maar sy het die ding begin en druk vasberade deur. “Jy het altyd stringe nooiens gehad. Ek het maar net gewonder of almal van hulle geneë sal wees met my hier, alleen saam met jou … Party meisies raak maklik besitlik.” Sy probeer lyk of dit nie baie saak maak nie, of sy dit sommerso in die algemeen bedoel.

Sy oë vonkel van die pret. “Oe, die bloed gaan vloei! Hulle gaan jou keel met ’n stomp mes afsny en jou in stukkies opkerf. Ons moet solank die koerante laat weet om die agterblad oop te hou vir al die sensasie.”

“Ek is ernstig,” sê sy gesteurd.

“Ek ook. My goeie naam gaan deur die modder gesleep word, die kerk gaan my onder sensuur plaas, en ek sal nooit burgemeester word nie!”

“Jy spot altyd met als.”

Clio druk die prop in die opwasbak en draai die krane oop. Wat sy wou uitvind, is of hy ’n vaste nooi het wat sal omgee as hy snags alleen op die plaas is saam met ’n ander meisie. Eintlik vasstel of daardie nooi Lizaan Visser is en of hulle ’n verhouding het. Maar hy is óf onskuldig óf baie slim.

Sy weet net: as Jurg háár kêrel was, sou sy dit nie toegelaat het nie. Sy sou al gisteraand hier opgedaag het om ’n oog oor haar belange te hou. As jy vir ’n man soos Jurg van Deventer lief is, hou jy hom agter slot en grendel.

“Moenie so baie skottelgoedseep ingooi nie,” keer hy. “Netnou skaats ons hier uit in al die skuim.”

Sy sit die bottel terug in die kas.

“Het jy toe verlede nag in die skuur geslaap?” vis sy uit en begin was met oordrewe sorg dieselfde bord oor en oor.

“Jip.”

“Op die koue sement, tussen die trekkers en stekelrige bale hooi?”

“En die mieliestronke en slange en giftige skerpioene.” Hy neem ’n vadoek en begin afdroog. “Jammer om jou vreugde te bederf. Ek het ’n deel van die skuur in ’n buitekantoor omskep, met ’n uittrekbank waar ek slaap as ek saans laat werk.”

Verligting spoel deur haar. Dan was hy nie by ’n meisie nie. Nie by Lizaan of Petronel of Joey of wie ook al nie.

Hy spoel ’n deksel wat nog seep aanhet onder die kraan af. “Dit help nie jy beskerm naarstiglik jou eer, maar los die voordeur oop nie. Wat as die versoeking my of ’n inbreker oorval het?”

“Daar staan een van jou ou krieketkolwe agter my kamerdeur. Ek sou ’n indringer met ’n woeste ses uitgeboul het.”

“Oor die grens geslaan het.”

“Wát?”

“Uitboul is wanneer die bal die paaltjies tref.”

Sy beduie vaag met ’n seephand. “Wat ook al … Maar hy sou goed gemoker gewees het, tot bo-op die dak.”

“Met daardie paar kanarie-armpies?” terg hy.

“’n Krieketkolf is ligter as ’n tuinvurk.” Aan die flikkering in sy silwergrys oë weet Clio hy het die verwysing gesnap. Sy het verwag dit gaan weer op ’n skermutseling uitloop, maar hy lag net. “Beteken dit ek moet vannag weer in die skuur slaap, of in die huis, om jou te beskerm?”

Sy haal haar skouers op. “Jy kan maak soos jy wil. Ek is nog vlugvoos en gaan vroeg slaap.”

Hy grinnik. “As ek maak soos ek wil, gaan jy nie veel slaap kry nie.”

Sy kan die blos nie keer wat in haar gesig opstoot nie. “Loop!” gebied sy vies. “Loop vat ’n koue stort!”

“Onthou om jou kamerdeur te sluit!” roep hy agter haar aan toe sy in die gang af verdwyn.

Dis skaars behoorlik donker, maar Clio se oë wil toeval. Sy kry nou eers kans om haar tas uit te pak. Dan bel sy haar ma en Aloma. Sy wou nog vir Talien ook sê hoe spesiaal die hoenderpastei gesmaak het, maar die vaak oorval haar.

Toe sy lomerig onder die duvet lê, dink sy aan haar huis doer ver. Sy werk uit hoe laat dit nou in Calgary is en wat haar pa en ma nou doen. Seker besig met ontbyt, dan werk toe, deur die sneeu en yswind …

Sy ril en dink aan Arnold, ook doer ver in ’n bed in die hospitaal. Maar toe die slaap haar inhaal, is die prentjie wat voor haar bly dié van Jurg se gesig met sy stoute oë en die twee kuiltjies weerskante van sy sensuele mond. In haar gedagtes hoor sy sy warm baritonstem: “As ek maak soos ek wil, gaan jy nie veel slaap kry nie.”

Yskoningin, het hy haar gespot. Min weet hy hoe kolk en kook dit diep in haar waar niemand sien nie. Sy is nie ’n pampoen nie. Sy weet wat hy bedoel het, en sy is verstom oor die warm krieweling wat hier by haar midderif begin, net agter haar naeltjie, en in prikkelende sensasies deur die res van haar lyf sprei.

Sy het vir Arnold kom kuier, hoe kan sy sulke gevoelens oor sy broer hê? Haar eertydse vyand wat sy doodgewens het … En toe dit nie gou genoeg gebeur nie, die proses met die skerp tande van die tuinvurk wou aanhelp.

Watse soort mens is sy? Eers wil sy hom vermoor, nou lê sy en kortasem raak oor sy lyf? Dis goedkoop en dislojaal van haar. Sy moet Jurg warmplek toe verban en op haar dierbare Arnold fokus.

Satyn Omnibus 5

Подняться наверх