Читать книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste - Страница 7

4

Оглавление

“Besoekers word nie in die waakeenheid toegelaat nie. Is u familie van die pasiënt, juffrou Gericke?” vra die nagsuster en loer afkeurend oor haar bril.

Clio se moed sak. Die vrou lyk nie beïndruk nie, en sy kan haar nie verkwalik nie. Sy maak seker nie ’n gunstige indruk in haar gekreukelde sweetpak en tekkies nie.

“E …” begin sy dit ontken, maar Jurg tree vir haar in die bres.

“Binnekort, ja. Sy is my broer se aanstaande,” verduidelik hy. “Hulle staan op trou.”

Die suster lyk minder krities, maar steeds streng toe sy op haar lapelhorlosie kyk. “Dis laat. Die pasiënt het rus nodig; hy is onder swaar verdowing.”

“Ons sal hom nie steur nie. Juffrou Gericke het pas gearriveer ná sy al die pad uit Kanada gevlieg het om by Arnold te wees. Dit sal haar hart breek om nou te moet omdraai. Ek belowe ons sal suutjies ingaan en net vyf minute bly.” Jurg leun teen die diensstasie se toonbank en glimlag hartbrekend mooi. “Asseblief, suster Els, as ’n spesiale guns? Ek sal môre vir jou biltong bring van die plaas af.”

Haar rug word styf. “Omkopery is teen die hospitaalreëls, meneer Van Deventer.”

Hy knipoog. “Maar nie ’n geskenkie nie. Daar’s niks verkeerd met ’n blyk van waardering aan ’n hospitaalpersoneellid vir die toegewyde versorging van my broer nie.”

Clio sien hoe die ouer vrou vermurwe. Die frons verdwyn en in die plek daarvan vorm fyn plooitjies om die dun, bloedlose lippe. Wraggies ook die suggestie van ’n glimlag … Clio is nie verbaas nie, want sy ken Jurg se reputasie. Sy onthou daardie berugte sjarme van hom wat hy soos ’n kraan kan oopdraai wanneer dit hom pas. Sy self het ook netnou deurgeloop – weerloos gewees onder die impak van daardie betowering.

“Net vyf minute,” beveel die suster. “Baie suutjies. En moenie die pasiënt wakker maak nie.”

Clio volg Jurg gangaf, maar huiwer toe hy die intensiewesorgeenheid se swaaideure vir haar oophou. Dis ’n emosionele oomblik vir haar. Elf jaar lank het sy geweet hierdie ontmoeting sal kom en het sy met gemengde gevoelens daarna uitgesien. Selfs opgesien. Onseker wat om te verwag. Sal sy en Arnold die drade gemaklik optel en aangaan waar hulle destyds opgehou het, of gaan hulle vreemdelinge vir mekaar wees?

Sy het die ontmoeting op die lughawe gevisualiseer: vrolik en opgewonde ná afloop van die vlug en met baie mense om hulle. Genoeg dinge om te doen as hulle stram in mekaar se geselskap is: die bagasietrollie hanteer, in die kafeteria gaan koffie drink, of wat ook al om die ys te breek …

Hierdie is nie die weersiens wat sy gevisualiseer het nie. Sy voel soos ’n zombie, dom en deur die slaap. Haar reaksies is vertraag en haar emosies in ’n warboel – ’n maalkolk wat haar saamsleep en waaroor sy nie beheer het nie. Sy wens dit was liewer Aloma wat haar gebring het. Wens dat die ontmoeting met Jurg nie plaasgevind het om haar van koers te gooi nie …

Wat was dit netnou daar buite op die parkeerterrein – daardie bewuswording wat soos ’n elektriese stroom tussen haar en Jurg geflits het? Was dit net sy, of was hy ook van die vonk tussen hulle bewus? Sy onthou hy het vreemd na haar gekyk, en dit het geklink of sy stem van ver af kom toe hy vra of iets verkeerd is. Hy móés iets agtergekom het.

Clio sluk teen die droogheid in haar keel en druk haar palms weerskante teen haar gesig. Nee, sy moenie, sy mag nie … Arnold lê daar binne, in ’n koma en ernstig beseer. Dis dislojaal teenoor hom. Hy is haar getroue vriend; hy het vir haar gewag en hy is lief vir haar.

Deur die swaaideure kan sy drie beddens sien, die voorste twee leeg en Arnold se bed in die verste hoek. Hy lê op sy rug onder ’n ligblou deken. Roerloos, met ’n nekstut aan, ’n drup en monitors langs sy bed. Sy kan nie sy gesig uitmaak nie, net die swartpers kneusings aan die regterkant van sy kop. Sy is skielik bewoë en proe die sout smaak van trane in haar mond.

Waar hy langs haar staan, merk Jurg die natblink strepe oor haar wange. Hy maak ’n beweging asof hy na haar uitreik en sy arm om haar skouers wil sit. Maar Clio beweeg weg. Sy wil nie hê hy moet aan haar raak nie. Wil nie langs Arnold se bed staan met haar kop vol van sy broer nie.

Jurg kyk die skraal figuurtjie in die liggeel sweetpak agterna toe sy stadig nadergaan. Hy hou terug en gee haar kans om ’n rukkie alleen by Arnold te wees. Sy en Arnold was van kleins af baie na aan mekaar, sodat hý altyd uitgesluit gevoel het. Derdemannetjie gespeel het …

Arnold was mal oor haar, en dit was soos dood toe die Gerickes geëmigreer het. Hy weet die twee het knaend gekorrespondeer. Arnold het gedurig van haar gepraat, gekla hy verlang en wens sy was hier. Dis hoekom hy haar genooi het om vir hom te kom kuier. En dis duidelik dat sy vir hom ook omgee, anders sou sy nie gekom het nie. Dis omdat sy Arnold ook mis en by hom wou wees. Dalk besluit het sy wil die res van haar léwe aan Arnold se sy wees …

Clio gaan langs die bed staan. Arnold is wasbleek, met donker kringe onder sy oë. Maar hy is rustig, wat daarop dui dat hy nie pyn het nie. Of is die koma so diep dat hy nie daarvan bewus is nie?

Sy wil hom graag ’n soen gee, sy hand vashou of aan hom raak, maar sy is bang sy maak hom seer. In die plek daarvan gaan haar blik stadig oor hom, stukkie vir stukkie, op soek na die gerusstelling van ’n stukkie bekendheid. Maar sy gesig is effens geswel, en sonder die bril vreemd en weerloos. Net die hande is sý hande … Sterk hande en lang, slanke vingers. Soos Jurg s’n.

Sy stoot die gedagte met geweld weg en kyk om waar hy is. Jurg staan voor die venster na buite en tuur, sy rug na haar en Arnold gekeer. Sy probeer om nie die breë skouers en die bultende spiere onder die dun materiaal van sy hemp op te let nie. Kyk hy weg uit bedagsaamheid om haar en Arnold ’n bietjie privaatheid te gee? wonder sy. Of is dit kommer oor die toestand van sy ouboet?

Al is hulle uiteenlopend van geaardheid, was die twee nog altyd blindweg lojaal teenoor mekaar. Vreemd genoeg met Jurg die beskermende een, al is hy die kleinboet. Dalk omdat hy die sterker een is, die leier en die ekstrovert wat maklik deur die lewe gekom het: victor ludorum en rugbykaptein. Later hoofseun en ses onderskeidings in matriek. Akademiese presteerder op universiteit, en in sy honneursjaar studenteraadvoorsitter.

Alles is vir Jurg van Deventer op ’n skinkbord gegee, dink sy. Terwyl Arnold moes worstel om êrens te kom. Op ’n vreemde manier hoop sy dat Jurg nie skilder nie. Dat hy nie eens ’n stokmannetjie kan teken nie. Dan is dit darem iéts wat Arnold het, wat hom bo sy broer laat uitstaan.

Jurg bly by die venster staan tot Clio gereed is om te gaan, en hou die swaaideur stilswyend vir haar oop toe hulle uitstap.

Sy wag by die toonbank van die diensstasie, tot die saalsuster haar pen neersit en opkyk na die twee ontydige besoekers. “Suster, is daar darem al vordering? Ná vanoggend toe hy … nadat hy ingebring is?” stamel sy.

Suster Els knyp haar neusbrug tussen haar duim en wysvinger vas. Sy lyk tam, asof dit aan die einde van ’n lang werkskof is.

“Dokter Strachan kan geen prognose verskaf nie – nie voor die swelsel gesak het nie. Ek is jammer, juffrou. Hopelik as julle môre weer kom, het ons beter nuus.”

Clio is te hartseer, en dis Jurg wat antwoord: “Dankie, suster. Ek weet julle doen alles wat julle kan. Ons sal môre weer inloer.” ’n Onderstebo glimlaggie pluk aan sy mondhoek. “Ek sal nie die biltong vergeet nie.”

Hulle loop in stilte oor die verlate parkeerterrein. “Dankie dat jy my gebring het,” sê Clio toe hulle die motor bereik. “Dit was nodig dat ek ’n prentjie van hom kry. En dalk … wie weet, dalk het hy in sy onderbewussyn geweet ek is langs sy bed.”

Jurg stry nie. “Oppas vir jou vingers,” maan hy toe hy Clio in die motor help en die deur toedruk.

“Waar is Talien?”

“Huis toe. Sy was heeldag by die hospitaal. Sy is nie meer vandag se kind nie en het ook rus nodig.”

Clio is afgetrokke terwyl hulle deur die slapende dorp ry en met die pad uit plaas toe. Die pad wat sy so dikwels gery het, wat steeds so bekend en vol bakens is. Die garage op die hoek het uitgebrei, met ’n vertoonlokaal vir gebruikte motors, merk sy. Oom Hykie boer vooruit …

Die bloekombome op die oorkantste erf het plek gemaak vir ’n tuisnywerheid, en die Hoekkafee is ’n ander kleur geverf – terracotta. Verder aan is ’n nuwe verkeerslig, pleks van die vierrigtingstopstraat waar niemand in elk geval ooit gestop het nie. Seker ’n noodlottige ongeluk daar gewees wat die munisipaliteit toe laat wakker skrik het.

“Hoe lyk Arnold vir jou?” wil sy weet.

Jurg trek sy skouers op.

“Ek bedoel: dink jy hy is steeds in ’n diep koma?”

Hy draai sy kop. “Hoekom vra jy?”

Sy is versigtig om nie hoop te gee waar daar nie hoop is nie. “Ek kan verstaan dat die suster die prognose aan sy dokter oorlaat. Dat sy nie uit haar beurt wil praat nie. Maar hoekom het sy gesê ons moet suutjies ingaan, ons moenie hom wakker maak nie? As iemand in ’n diep koma is, kan jy klappers langs sy bed skiet, hy sal nie wakker word nie.”

Jurg lyk nadenkend. “Jy’s reg.”

“Is sy asemhaling dieper of vlakker as vanoggend?”

“Dis moeilik om te sê. Dalk tóg effens vlakker. Maar dit kan enigiets beteken. Dis dalk net toevallig.”

“Hoe lank skat jy sal dit duur voor die swelsel sak? ’n Week?”

“’n Paar dae behoort ’n verandering te bring. Ons kan môre weer ’n draai maak, maar wees realisties: moenie te veel te gou verwag nie.”

“Moet ook nie te gou moed opgee nie. Arnold is jonk en fiks.”

“Dis ’n troos, ja.”

Jurg lig sy voet op die brandstofpedaal toe hulle van die nasionale teerpad op die plaaspad afdraai. Laeprofielsportmotors is nie vir grondpaaie gebou nie en die Porsche sukkel in eerste rat deur die knikke en sinkplaat.

“Hoekom laat jy nie die pad skraap nie?” vra sy met ’n tikkie van die óú Clio Gericke wat hom destyds teen die mure uitgejaag het. Soms so gefrustreer het dat hy haar in ’n hoek wou vasdruk en daardie snipperige, parmantige mond van haar wou soen om haar stil te kry. Gelukkig het hy hom altyd bedwing, sy hande in sy sakke gedruk en padgegee, wetend dat so ’n aksie ’n taai klap sal uitlok.

Het Arnold haar ooit gesoen? wonder hy. Of het dit net by drukkies en handjies vashou gebly? Sekerlik nie. Sy ouboet is skaam, maar nie siek nie. En Clio was tóé al ’n verleidelike meisiekind met haar lang, bruingebrande bene en wipstappie, prikkelende rondings onder haar T-hemp, en die manier wat sy gehad het om so half skuins van onder haar wimpers na ’n ou te kyk.

’n Tienerseun se testosteroon pomp oortyd, soos hy self ervaar het. Sy en Arnold was gekys, natuurlik sou hy haar gesoen het. Seker gereeld, en soms dalk iets meer …

Jurg is verbaas oor die skielike opstuwing van jaloesie in sy binneste. Genade, wat maak dit saak? Dit was eeue gelede. Arnold het alle reg gehad, Clio was sy meisie. Is dit nog steeds … Hy kan haar soen en met haar doen wat hy wil.

“Jou arme kar stamp sy as af as jy so rof ry,” raas Clio. “Kry jy hom nie jammer nie? Sê nou hy breek?”

“Dan maak ek hom reg,” brom hy.

Sy hou liewer haar mond. Mans is snaakse goed. Vat aan sy kar, en jy vat aan hom.

“Ek het die pad drie weke gelede laat skraap,” lig hy haar in. “Dis nie my skuld dat die reën gekom en alles weer verspoel het nie.”

Jurg was tot dusver heel vriendelik, dink sy. Hy het probeer vrede maak, haar selfs ’n kompliment toegevoeg. Maar nou het iets hom blykbaar omgekrap en is hy weer bot en stuurs soos sy hom onthou. Kommer en stres oor sy broer? Oor die plaas?

“Is die waterpomp nou weer reg?” vra sy uit. “Het jou diere water?”

“Tydelik. As daar kans is, sal ek môre weer die ding uitmekaar haal en die vlotterklep vervang.”

“As jy te veel werk het, kan ek op my eie by die hospitaal kom. Ek het ’n internasionale rybewys, en hier is seker ’n voertuig wat ek kan gebruik. Het Arnold nie ’n bakkie of iets nie? Hy sal nie omgee as ek dit leen nie.”

Jurg ry dwarsdeur ’n slaggat sonder om rem te trap. “Ek weet hy sal nie omgee nie. Arnold sal vir jou sy bakkie géé. Sy laaste sent gee. Die son en die maan en die sterre gee, as jy vra.”

Clio frons. Vanwaar dié skielike uitbarsting? Dink hy sy maak misbruik van sy broer se goedhartigheid, sy is ’n fortuinsoeker en net agter sy geld aan? Of agter Arnold se skilderye aan?

Destyds sou Clio kliphard terugbaklei het en Jurg vertel het presies wat sy van sulke kleinsieligheid dink. Maar hulle is saam in hierdie krisis gedompel en moet om Arnold se ontwil probeer om oor die weg te kom. Gelukkig is Talien darem daar. Sy het ondervinding daarvan om olie op troebel waters te gooi.

“Arnold het aangebied om vir my vliegkaartjie te betaal, maar ek het nee gesê en my eie kaartjie gekoop,” stel sy hom in kennis. “En ek het genoeg sakgeld saamgebring. Ek het ’n goeie betrekking in Calgary en verdien ’n skaflike salaris. As Arnold vir my die sterrestelsel wil gee, sal ek selfs dáárvoor ook betaal.”

Jurg verstaan nie waarom Clio haar finansiële situasie aan hom uitstippel nie, of wat haar geldsake met hom te doen het nie. Hy weet sy klim gou op haar perdjie; iewers het hy seker weer die verkeerde ding kwytgeraak.

Clio het nog ’n laaste stukkie gewete wat sy duidelik wil maak en ’n moontlike misverstand om op te klaar. “Ek gee om vir Arnold. Nie net destyds nie, nou nog steeds. Ek sal hom nie misbruik of seermaak nie.”

Dis mos vanselfsprekend. Hoekom dit invryf? wonder Jurg. Tensy sy ’n skuldige gewete het. Was sy dalk ook bewus van daardie … daardie vreemde elektriese stroom tussen hulle?

“Ek erken ek wil ’n klompie skilderye uit hom wriemel vir ’n uitstalling by my galery in Calgary. Maar dis nie die hoofdoel waarom ek na Suid-Afrika gekom het nie. Daar is onafgehandelde sake tussen my en jou broer. Ek het kom kuier om uit te vind waar ons met mekaar staan.”

Clio was altyd reguit en op die man af, dink Jurg. Sy kon net sowel gesê het: om uit te vind of sy ’n trourok moet koop. Dis waarom sy dit sonder teëspraak aanvaar het toe hy by die hospitaal na haar verwys het as sy broer se aanstaande.

Hy krap die sportmotor se ratte toe hulle by Vuurfontein se hekke indraai en verwens sy onhandigheid. Wat is so danig aan Clio Gericke dat hy haar toelaat om hom te ontwrig? Sy is niks spesiaals nie. Die wêreld is vol blouoog-blondines, party selfs mooier – en beslis aangenamer.

In die motorligte herken Clio die kronkelende pad tussen die laning magnolias deur. Pragtige bome, met leeragtige blare en roomwit blomme so groot soos teekoppies, wat haar ma altyd vir rangskikkings gepluk het.

Sy sug verlig. “Ek was bang julle het dié ou monumente uitgekap.”

“Nee. Dit sou heiligskennis gewees het.” Hy hou voor die sandsteenopstal stil, wat in die maanlig soos ’n Middeleeuse kasteel lyk, omring deur grasperke en vrugteboorde. “Welkom terug, Cleopatra.”

Alles lyk so bekend … Sy het amper meer tyd op Vuurfontein deurgebring as op Goederust. Clio kyk om haar rond oor die werf. Na Talien se roosbeddings, die swembad wat soos ’n smarag in die maanlig glinster, die leidam met die donker silhoeëtte van die knoetsige ou wilgers waar Arnold daardie Sondagmiddag vir haar die silwer kysringetjie gegee het. Die ring was te groot en sy het dit aan haar middelvinger gedra; nou pas dit nie eens meer aan haar pinkie nie.

“Of moet ek eerder sê: Welkom tuis?” vra Jurg met ’n vreemde nuanse in sy stem.

’n Dubbelsinnige insinuasie? Terug in haar geboorteland en by haar toekomstige tuiste? Daar is ’n onverwagte hol gevoel op haar maag, soos wanneer jy moet eksamen skryf en nie weet of jy genoeg geleer het nie.

Sy swaai haar knieë dwars in haar sitplek, druk die deur oop en gebruik die dakraam om haar met albei arms op haar voete te hys. Nie elegant nie, maar beter as om weer Jurg se hand te neem en toe te laat dat hy haar help. Dis sommer net vanaand, omdat sy hartseer en vol nostalgie is, dat sy teenwoordigheid so ’n uitwerking op haar het, besluit sy. Môreoggend in helder daglig, wanneer sy uitgerus en nugter is, sal sy besef hoe onsinnig dit was om hartkloppings te kry oor die aaklige Jurg van Deventer wat sy nog al die jare verpes. Sy beter sorg dat Arnold dit nooit uitvind nie, sy skaam haar morsdood.

Haar ingewande trek op ’n knop. Arnold gaan gesond word, gaan hy nie? Hulle moet net aanhou glo en positief bly. Maar wat ook al gebeur, sy sal hom nie in die steek laat nie. Hy is haar getroue vriend, haar jeugliefde, haar eerste kêrel. Sy is hier vir hom, en sy sal bly so lank as wat hy haar nodig het en hier wil hê.

Jurg dra haar bagasie in en skakel ligte aan so ver hy gaan. Sy help met ’n arm vol los goed en stap agter hom aan – deur die statige ou huis vol atmosfeer en die geskiedenis van vier geslagte Van Deventers. Die oregon-houtvloere glim soos altyd, met los Persiese matte daarop, en teen die mure tapisserieë en kosbare skilderye van Suid-Afrikaanse meesters.

Hier en daar herken sy ’n olieverf van Arnold: veraf berge wat aan ’n W.H. Coetzer herinner, ’n springende koedoe in ’n studie van grasie en beweging, sonneblomme in ’n koperpot, en onverwags ’n houtskoolskets van háár, in ’n kortbroek en geruite hemp, met ’n visstok by die leidam. Haar hare hang los en sy loer speels onderdeur haar wimpers en die kuif oor haar voorkop. ’n Mooi skets, wat haar vlei. Sy kan dit nie onthou nie. Arnold moes dit na geheue gemaak het nadat sy weg is.

Jurg kom haar soek, vind haar waar sy peinsend in die sitkamer bly staan het. Hy sien die skets waarna sy kyk en dit lyk of hy kommentaar wil lewer, maar dan verander hy blykbaar van plan.

“Ek het jou bagasie in jou ou kamer gesit – die een oorkant Arnold s’n. Is jy lus vir koffie of iets om te eet voor jy gaan inkruip?”

Sy kan hom nie voorstel in die kombuis nie, besig om kos te maak. ’n Voorskoot om sy lyf en daardie breë hande wat met ’n lepel roer of opskep …

“Waar’s Talien?” vra sy. “Slaap sy al?”

“Talien is nie hier nie.”

Clio verstyf. “Ek dag jy het gesê sy is huis toe?”

“Ek het bedoel na haar niggie se huis toe. Tant Ria Verryne, wat op die dorp bly. Jy onthou haar seker? Sy werk by die koöperasie.”

“Ek onthou haar. Maar ek het aanvaar Talien sal hier wees, op die plaas.”

Jurg skud sy kop. “Sy wil naby die hospitaal wees, by Arnold wanneer hy bykom. Jy weet hoe beskermend sy altyd oor hom was. Kloek-kloek soos ’n moederhen … Daar is anysbeskuit en ’n pastei waarvoor sy ’n gemeste hoender geslag het, spesiaal vir jou koms. Ek kan dit opwarm as jy honger is. Is jy?”

“Nee,” antwoord sy bot. Sy haal diep asem en maak haar skouers vierkantig. “Ek kan nie vannag alleen hier slaap saam met jou nie.”

“Die huis is groot. Hier is ses slaapkamers, sewe as jy Talien se vleuel byreken. Ons hoef nie ’n kamer te deel as jy nie wil nie.”

Sy gee hom ’n vernietigende kyk. “Beslis nie!”

“Dan is daar mos nie ’n probleem nie. Die saak is opgelos.”

Clio staan haar man. “Nee, dit is nie. Ek wil ook nie die húis met jou deel nie.”

Hy frons onbegrypend. “Hoekom nie?”

“Dis teen my beginsels om ’n huis met ’n vreemde man te deel.”

Die frons tussen sy wenkbroue keep dieper. “Maar ek is nie ’n vreemde ou nie. Genade, jy ken my mos al jare. Meer as twintig jaar!”

“Presies,” bevestig sy. “Dis hoekom ek nie ’n nag onder een dak saam met jou wil deurbring nie.”

Sy oë vernou. “Wat bedoel jy?”

“Ek dink jy weet, sonder dat ek dit uitspel.”

Jurg bly kalm. “Ons is te oud om soos kinders te staan en stry. Ek het gedink ons het die verlede begrawe.”

“Miskien die verlede, maar nie die hede nie. Ek ken jou reputasie, Jurg. En jy ken mý … Ek is nie een van jou bewonderaars wat begin ritssluiters en knope losmaak as jy die heuningkwas smeer nie.”

“Ek verwag dit ook nie van jou nie.”

“Dankie tog, wat ’n verligting!” Sy kan die versoeking nie weerstaan om by te voeg nie: “Hoekom nie? Omdat ek te vet is?”

“Jy ploeg nou waar dit nie gereën het nie … Jy weet dis nie wat ek bedoel het nie. Jy is goed soos jy is.”

Goed soos sy is. Is dit die beste beskrywing wat hy kon bedink?

“Mollig? Gesellig gebou? Of gerond soos ’n pannekoek?” vis sy uit.

Jurg laat hom nie weer woorde in die mond lê nie. “Wulps,” hou hy vol. “En dis ’n kompliment.”

Sy kyk hom wantrouig aan. “Wie sê so?”

“Ek en al die ander manne met ’n oog vir ’n vroumens. Om wulps te wees is ’n goeie eienskap. Dit prikkel mans en lok hulle tot toenadering uit.”

Clio kan nie glo wat sy hoor nie. Haar stem is kouer as ys. “En jy reken dis al wat ’n vrou in die lewe begeer: om mans te prikkel en uit te lok?”

Hy kam met sy hand deur sy hare, sodat sy kuif regop staan. “Ek weet nie hoe ons by hierdie gesprek uitgekom het nie. Maar kom ons los dit en gaan slaap.”

“Ons kan nie – nie as Talien nie hier is nie,” herhaal sy ferm.

Jurg was tegemoetkomend en verdraagsaam. Geduldiger as wat Clio verwag het. Maar sy kan sien hy begin krapperig raak.

“Met watse soort mense het jy oorsee te doen gehad dat jy alle mans wantrou?”

“Nie álle mans nie.”

“Net vir my? Omdat ek nie etiese norme het nie? ’n Boef sonder beginsels, wat myself op ’n vrou sal afdwing? Dankie, nou weet ek waar ons met mekaar staan. Jou kamerdeur het ’n slot en ’n sleutel. Of is dit nie voldoende beskerming teen ’n seksmaniak nie? Sal ek vir jou ’n haelgeweer bring?”

Agter in sy grys oë is ’n gevaarlike flikkering en sy mond trek in ’n strak lyn. Hy wag ’n oomblik en toe sy nie antwoord nie, draai hy kortom en stap weg.

Oor sy skouer voeg hy by: “Ek sal buite in die skuur gaan slaap. Dan is ons nie onder een dak nie.”

“Jurg, wag! Dis nie nodig nie!” roep Clio agterna, maar sy praat met haarself. Sy voetstappe op die houtvloer verdof en sy hoor die voordeur agter hom toeklap.

Dit hét sy nou van haar gekerm en getorring … Hoekom kon sy nie een maal in haar lewe weet wanneer om haar mond te hou nie? Hy was die hele aand gaaf en ordentlik. Het sy nou regtig gedink hy gaan die situasie uitbuit en hom aan haar opdring? Geen wonder hy het hom vererg vir haar simpelgeit nie! Aarde, mens sou sê sy het in ’n glaskas grootgeword. Of ’n klooster.

As jy nie vir Jurg bang was nie, vir wie dan? vra sy haarself af. Vir jouself? Was dit uit selfverdediging dat jy so lelik met die arme man baklei het?

Clio is eerlik genoeg om te erken dat sy Jurg aantreklik vind. Besónder aantreklik. Sy was nie voorbereid op die impak wat sy oorweldigende manlikheid op haar gehad het nie. Die woelinge in haar lyf toe sy hand om hare gevou het, het ’n vuur in haar aangesteek en haar hart laat galop. Dis vir haar ’n nuwe ervaring, en sy weet nie hoe om dit te hanteer nie.

Maar dis nie genoeg rede om te dink haar hart sal haar gesonde verstand oorheers nie. Om te verwag sy sal kop verloor as hy dalk iets met haar probeer nie. Dis nie te sê hy het netnou flikkers vir haar gegooi nie. Dis maar sy manier. Sy geaardheid – om meisies te terg en ’n bietjie te flirt. Dit beteken nie hy het bybedoelings en wil haar bed toe sleep nie.

Geen wonder hy het beledig gevoel nie, dink sy toe sy kamer toe loop. Is daar darem ’n bed en komberse in die skuur? Sover sy kan onthou, is daar net trekkers en onderdele, ’n kragopwekker en stoorgoed. Hy het nie eens ’n kussing en pajamas nie …

Sy loer deur die venster, maar alles buite is stil en nêrens brand ’n lig nie. Sy sal Jurg om verskoning moet vra, besef sy.

Terwyl sy stort, begin sy selfs ’n paar gepaste sinne formuleer: dat sy oorreageer het en dit nie so kras bedoel het nie. Gepraat het sonder om te dink. Bereid is om te vergewe en te vergeet en nuut te begin …

Maar sy kom agter sy herhaal dieselfde ding oor en oor, net in ander woorde. Te veel het in te ’n kort tyd gebeur en haar verstand is dof. Vodde, soos Aloma sou sê. Sy borsel tande en kruip in ’n uitgeputte bondeltjie onder die duvet in. Twee vreemde beddens in een nag is te veel …

Iewers in die donker buite hoor sy die gefladder van ’n voël, ’n dikkop wat roep en ’n paddakoor onder by die leidam. So heerlik bekend … Sy vroetel haar kop dieper in die kussing in en maak haar oë toe. Sy is tuis, op Vuurfontein, in haar ou kamer. Môre gaan Arnold beter wees. Sy asemhaling is vlakker en die koma is besig om te lig. Môre gaan Jurg nie meer kwaad wees nie, en Arnold gaan bykom …

Dié wete kom lê snoesig teen haar, soos ’n warm kombersie.

Satyn Omnibus 5

Подняться наверх