Читать книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste - Страница 8
5
ОглавлениеDie voëls voor haar kamervenster maak haar wakker. ’n Kwêvoël se vermakerige “wê!” en patryse wat skree asof die wêreld vergaan. Clio lê lomerig en luister. In die verte blaf ’n hond – ’n klank wat sy jare laas gehoor het.
Calgary se gemiddelde wintertemperatuur is minus 19 grade, te koud om honde aan te hou. Min inwoners het troeteldiere. Miskien ’n kanarie in ’n koutjie of ’n kat met ’n sandboks, want buite is alles toegesneeu en die grond kliphard gevries. Selfs nie eens die mees geharde Sint Bernard sal dit in sulke Arktiese toestande buite waag nie.
Toe hulle weg is uit Suid-Afrika, het sy die son gemis, Smarties en Marmite en Spur se slaptjips. Maar waarna sy die meeste terugverlang het – amper soveel as na Arnold en haar maats – was die plaas en die diere. Dis wonderlik om weer ’n geblaf te hoor. En verder weg by die stalle ’n perd wat runnik. Seker een van Arnold s’n. Sy strek haar uit en geniet die luukse van ’n warm bed, voor sy op haar horlosie kyk.
Sy het geskat dis skuins voor agt, haar gewone opstaantyd. Maar dis halftwaalf. Amper middag! Sy vlieg vervaard regop. Hulle sou vanoggend hospitaal toe gegaan het. Sy moes haar ma gebel het, en vir Talien en Aloma. Sy het hopeloos verslaap …
Het Jurg sonder haar gery? Hy was gisteraand so omgesukkel, hy sal waarskynlik vanoggend nie eens met haar praat nie. En sy het dit verdien … Dit sal haar leer as hy vir haar weggery het. As hy háár vannag uitskop en sý in die skuur moet slaap.
Sy trek in rekordtyd aan, darem iets beters as ’n sweetpak. Borsel haar hare tot dit blink en bind dit in ’n vrolike poniestert. Haar tekkies bly lê en sy trek sandale aan met ’n effense hak. Toe sy lipstiffie aansit, beskou sy haar beeld in die spieël. Vir wie is die optof en splinternuwe rok wat sy vir ’n spesiale geleentheid gekoop het? Bedoel om haar befoeterde toekomstige swaer mee sag te maak?
Clio trek vir haarself skewemond. Sy gooi die lipstiffie neer en los die botteltjie parfuum in haar handsak. Vir Júrg? wonder sy vies. Hy sal nie eens oplet as sy ’n goiingsak aanhet nie – net sê sy lyk “goed” en tel hoeveel wulpse rolle ónder die sak weggesteek is.
Haar goeie voornemens van gisteraand is vergete. Dis hý wat verskoning moet vra, nie sy nie. Hý wat vergeet het om haar op die lughawe te kry, en haar onder die indruk gebring het dat Talien plaas toe is. Hý wat haar kat verdrink en haar verjaarsdagpartytjie verongeluk het.
“Dis vir Arnold wat ek mooi wil lyk,” sê sy hardop. “Hy gaan vandag sy oë oopmaak.”
Dit laat haar beter voel, en sy stap met meer selfvertroue die gang af.
Die kombuis was altyd die hartklop van Vuurfontein: vol bedrywigheid, geselskap en geure. Maar toe Clio daar instap, is dit verlate. Die koolstoof is koud, die wasbak klinies skoon en nie ’n bord of koppie in sig nie.
Sy stap by die agterdeur uit. Al teken van lewe is ’n heuningkleurige rifrug wat haar stertswaaiend verwelkom.
“Is jy die eienaar van daardie mooi blafstem?” vra sy en vryf sy ore. “Waar’s jou baas, ou grote?”
Hy weet nie.
Sy pluk ’n pietersielietakkie in die kruietuin en gaan soek of Jurg in die skuur is. Die skuur lyk kleiner as die prentjie in haar gedagtes, asof ’n stuk daarvan weg is. Jurg is nie daar nie, en daar’s ook geen teken dat hy in die skuur geslaap het nie. Seker by een van sy ritse nooiens gaan inkruip vir die nag, dink sy sinies.
“Ghroeff!” waarsku die rifrug en wys met sy neus na die pad se kant toe.
Sy hoor ook ’n voertuig se dreuning en sien ’n wit bakkie aankom. “Is dit jou baas?”
Sy stert swaai instemmend heen en weer.
“Dis ’n mooi tyd om hier aan te kom,” brom sy. “Het hy nie koeie en ’n melkery om na om te sien nie? Of kon hy hom nie uit sy geliefde se arms losskeur nie?”
Jurg trek onder ’n boom in, klim uit en knik kortaf in Clio se rigting. “Naand.”
Sy bedwing haarself. “Ek het verslaap.”
“Ek sien so. Voel jy nou beter?”
Wat bedoel hy met “beter”?
“Ek het gisteraand niks makeer nie, ek was net moeg.”
Hy koers in die rigting van die agterdeur. In die verbygaan haal hy ’n selfoon uit sy sak en oorhandig dit aan haar. “Arnold s’n. Ek het dit opgetel, ’n entjie weg van die plek waar ons hom gekry het. Gedink jy sal dit miskien wil bêre.”
Clio sluk aan die knop in haar keel. Omdat dit ’n stukkie van Arnold is? Of omdat Jurg die moeite gedoen het om die foon te gaan soek? Sy rek haar treë agter hom aan.
“Dankie.”
“Plesier.”
In die kombuis haal hy bekers uit ’n kas en skakel die ketel aan. “Wil jy koffie hê?”
“Asseblief. Kan ek help?”
Hy lig sy wenkbroue. “Waarmee?”
“Om te … Met die koffie,” stamel sy.
“Dankie, ek is heeltemal in staat om sonder hulp twee koppies koffie te maak.”
Heel duidelik nog befoeterd oor gisteraand … Moet sy verskoning vra, of gaan dit lyk of sy toenadering soek? Sy het ook haar trots … Dis beter om die saak daar te laat, voor dit weer op ’n argument uitloop.
Hy sit haar beker op die skoongeskropte geelhouttafel neer, saam met suiker, melk en ’n blik beskuit. “Ek het die hospitaal gebel en met die dagsuster gepraat. Arnold het ’n rustige nag gehad.”
Haar hart gaan in ’n teleurgestelde bondeltjie lê. “Net dit?”
“En sy bloeddruk en hartklop is stabiel.”
“Niks verder nie?”
Jurg raak vasgevang in die twee viooltjie-oë wat pleitend in syne staar. Hy kyk anderpad en sy stem is onverwags grof. “Dis nog te gou. Gee hom tyd. Hy sal bykom.”
Clio knik, bang as sy praat, begin sy weer huil. Sy weet nie wat dit met haar is nie, sy is nugter en prakties – nie die tranerige soort nie. Is dit oor Arnold en al die kleintyd-herinneringe, of omdat sy nog vlugvoos is? Sy neem ’n groot sluk koffie.
“Jou ma en Aloma het gebel,” lig hy haar in. “Om te hoor hoe dit met Arnold gaan. Ek het gesê jy sal meer weet ná ons by die hospitaal was. As jy reg is, kan ons ry.”
Nie heeltemal so aaklig soos sy gedink het nie …
“Ek sal eers gou die bekers uitspoel,” bied sy aan, as boetedoening.
“Los, Betta kom later in.”
Sy gaan haal haar handsak in die kamer en volg hom buitetoe.
Sy het gehoop hulle ry met die bakkie, siende dat dit buite staan. Maar hy verkies die Porsche. Seker nog ’n nuwe speelding …
Karretjies en lorrietjies toe hy klein was, was nie vir Jurg genoeg nie. Hy wou die ware Jakob hê. Talien vertel hy kon skaars loop, toe klouter hy al op ’n trekker en ’n dorsmasjien. Hy wou nooit agter sit wanneer hulle met die motor ry nie, maar op sy pa se skoot, by die stuurwiel, want hy wou help “dlyf ”. En dié kon hy doen, nog voor hy behoorlik ’n “r” kon sê. Op laerskool reeds, al kon sy voete skaars die pedale bykom, was hy ’n beter bestuurder as sy ouboet.
Clio het altyd gedink Jurg is windmakerig om met Talien se motor of een van die plaasvoertuie rond te ry. En altyd te vinnig – die bande laat tol met die wegtrek, om die meisies te beïndruk. Maar hy verras haar. Of dalk is sy nie die moeite werd om te beïndruk nie … By ’n verkeerslig in die buitewyke van Bela-Bela hou ’n opgewarmde BMW met twee brekers in langs hulle stil. Hulle laat die enjin ’n paar keer brul, terwyl rookwolke by die dubbele uitlaatpyp uitstoot. Die boodskap is duidelik: hulle daag die Porsche uit.
Jurg kyk nie na hulle nie. Sy hande is rustig op die stuurwiel, net sy vingers trommel ritmies terwyl hy wag dat die lig groen word. Clio wag gespanne, voorbereid om teen die rugleuning gegooi te word wanneer die sportmotor uit sy spore wegspring en rubber brand.
Maar Jurg verstom haar. Hy laat toe dat die Bee-Em vir hom ’n agterbuffer wys. Dan trek hy ewe bedaard weg, asof dit ’n Sondagoggend is op pad kerk toe. Toe hy sy kop draai en na haar kyk, sien sy die vonkeling in sy oë. Sy het altyd gedink hulle is liggrys, soos Arnold s’n. Maar in die son wat deur die voorruit skyn, blink sy oë silwer.
’n Blink silwer, vol tergduiweltjies.
“Ek het ook grootgeword,” sê hy met ’n grinnik.
En mooi grootgeword, wil Clio dit beaam. Jurg van Deventer is ’n beeld van ’n mansmens. Sondig en onbybels mooi.
“Jou ma sê dit sneeu in Calgary,” merk hy op. Die weer is ’n veilige en neutrale onderwerp …
“Dis nou winter in Kanada. Ysig. Dis nie koue soos julle in Suid-Afrika dit ken nie. Dit trek in jou gebeente in, in jou murg en ingewande in, waar truie en jasse jou nie kan warm maak nie. Jou bloed vries as jy dit buite waag, en jy verander in ’n gletser.”
“Geen wonder julle kan nie rugby speel nie,” spot hy.
Sy ruk haar op. “Net die mans. Ons vrouespan het in die afgelope Wêreldbekertoernooi Suid-Afrika se vrouespan geklop. Ongelukkig het hulle in die volgende ronde uitgeval en nie die finaal gehaal nie.”
“Ek het hoeka gedink die Kanadese mans is koudbloedig,” skimp Jurg en bekyk haar waarderend op en af. “In teenstelling met Kanadese vroumense. Dié is tops. A-span.”
“Ek speel nie rugby nie,” antwoord sy snipperig.
“Vir wie het jy geskree toe die Springbokke teen Kanada gespeel het?” toets hy haar.
Clio wens hy het nie gevra nie. Haar hart wou breek toe die groen-en-goud op die TV-skerm verskyn het. Hulle was ’n groep ekspats wat by ’n sportkroeg byeengekom het om die toets te kyk en gees te vang. Maar dit was te hartseer. Die vroue het openlik gehuil en selfs ’n paar van die mans het met rooi oë gesit. Hulle het ’n Suid-Afrikaanse vlag rondgeswaai, “Shosholoza” gesing en biltong geëet. Dit was nie ’n kwessie vir wie hulle geskree het nie.
Jurg lees die weemoed op haar gesig. “Sal jy ooit permanent terugkom Suid-Afrika toe?”
“Dit hang af …” skerm sy.
Waarvan? wil hy vra. Of my broer jou vra om te trou? Dis waarvoor jy gekom het, dan nie?
Jurg vra nie verder uit nie. Hulle sit met hul eie gedagtes totdat hy by die hospitaalterrein indraai.
Sy skarrel uit voor hy kan kom help. “Het jy die biltong onthou?”
Hy knik. “En sjokolade vir Talien. Sy gaan deur ’n stresvolle tyd.”
’n Ander saalsuster is aan diens, een wat Jurg blykbaar ken. Sy glimlag vriendelik. “Dokter Strachan is op die oomblik by jou broer, maar hy sal nie lank wees nie. Julle kan intussen in die wagkamer wag, saam met jou tante.”
Die wagkamer is oorkant intensiewesorg. Deur ’n gleuf tussen die swaaideure kan Clio skramsweg Arnold se bed uitmaak. Hy lê steeds op sy rug, roerloos en gekoppel aan ’n drup. Maar sy kan sien sy gesig het meer kleur.
Dis al waarvoor daar kans is. Dan is Talien by om Clio in haar arms toe te vou en teen haar ruim boesem vas te hou.
“My kind, my kind …” sukkel sy dit uit. “Dit moes so anders gewees het. Arnold het so uitgesien na jou koms, hy het die dae getel. En nou die ongeluk …”
Talien was altyd ’n inspirasie, ’n toring van krag vir almal. Clio hou haar styf vas en sê met vaste oortuiging: “Hy sal gesond word, Talien. Arnold is ’n vegter. Hy gaan bykom, gaan weer perdry en skilder.”
Talien ruk haar reg. “Natuurlik! Hy lyk klaar beter as gister hierdie tyd. Toe het ek gedink ons gaan hom verloor …”
Sy hou Clio ’n armlengte weg en kyk speurend af in haar gesig. “Maar hoe lyk jy so ’n verlepte ou dermpie, kinta? Is jy nie lekker nie?”
“Ek makeer niks nie, tante.”
Talien swaai beskuldigend om na Jurg. “Het jy weer met die kind geskoor?”
“Wie, ék?” vra Jurg vroom.
“Dis jý wat altyd moeilikheid maak, Jurgens. Het jy haar darem ordentlik welkom geheet?”
“Bedoel tante of ek haar darem ordentlik gesoen het? Ek wou, maar sý wou nie.”
Talien klik haar tong verontwaardig. “Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie! Ek bedoel welkom laat vóél?”
“Ek het vir haar kos en water en slaapplek gegee. Dis mos genoeg.”
“Sy’s nie ’n merrie wat jy op ’n veiling gekoop het nie! Watse kos?”
“Beskuit.”
Talien slaan haar oë op na die dak. “Sy vlieg halfpad om die aardbol om te kom kuier en al wat jy haar gee, is beskuit? Skaam jou!”
“Hy was bang ek word vet, tante,” sê Clio.
Talien ontplof byna. “Vet? Hierdie dermpie? Waar is jou verstand, seun?”
“Haai, het hy so iets?” vra Clio vroom.
“Ek wonder partykeer self!” blaas Talien.
Dokter Strachan wat die wagkamer binnekom, maak ’n einde aan die skermutseling. Hy is middeljarig en vaderlik. Blykbaar ’n ou kennis van die Van Deventers, lei Clio af. Sy wag gespanne op sy bevinding.
Hy glimlag bemoedigend. “Dis meer as vier-en-twintig uur, en soos ons gehoop het, begin die swelsel sak. Die X-strale wys steeds ’n mate van bloeding, maar ’n skandering toon die drukking op die linkerbreinlob het afgeneem. Dis goeie nuus.”
Dankie, dankie, prewel Clio onhoorbaar. Ek het geweet … Vanoggend toe ek opgestaan het, het ek geweet die dag gaan goeie nuus bring. Sy is skaam omdat sy tussenin pessimisties was. Skaam omdat sy katterig teenoor Jurg was.
“Julle kan ingaan na hom toe,” sê dokter Strachan. “Maar net vir ’n rukkie. Moenie hom steur nie. Sy liggaam het rus nodig.”
Talien druk sy arm. “Dankie, Wim, ons waardeer alles wat jy vir hom doen.”
“Dis die minste … Ek weet waardeur julle gaan. Ons gaan hom deurhaal, Annalien. Moenie bekommerd wees nie.”
Toe Jurg en Talien na die waaksaal stap, bly Clio agter en keer dokter Strachan voor. “Dokter, mag ek u iets vra?”
Hy kyk oor sy bril na die tingerige meisietjie met die inkblou oë. Lyk amper soos sy oorlede vrou gelyk het toe hy haar as derdejaar- mediese student ontmoet het. Dieselfde fyn bou en blonde hare.
“Dis goed jy het gekom,” gesels hy. “Daar lê vir Arnold ’n opdraande pad voor, en hy gaan jou ondersteuning nodig hê, nooi. Wat wil jy vra?”
Dokter Wim Strachan wek die indruk dat hy simpatiek en meelewend is. Clio hou van hom, en dit gee haar die vrymoedigheid om antwoorde te soek op die vrae wat haar pla.
“As Arnold in ’n koma is, sal hy mos nie so maklik wakker word nie – nie sommer net van stemme wat langs sy bed praat nie?”
Hy knik bevestigend.
“Want as hy bewusteloos is, kan hy mos nie hoor nie?”
Waaierplooitjies vorm langs sy oë toe hy stadig glimlag. “Wie sê hy is bewusteloos, nooi?”
“Maar ek dag dan …?”
“Die swelling het normale breinfunksies gestrem. Noudat die drukking afneem, kan die brein weer sy normale werk doen.”
“Bedoel u –”
“Ja,” praat hy haar vrese dood. “Die natuur het vir die liggaam verdedigingsmeganismes gegee om skade te herstel. Een daarvan is slaap.”
Sy kyk hom stomgeslaan aan.
“Arnold slaap. Baie diep en baie vas. En as hy wakker word, sal hy jou ken.”
Die koma is besig om te lig … Sy wil tegelyk lag en huil.
Dokter Strachan du haar saggies in die rigting van die swaaideure. “Gaan na Arnold toe. Moenie eise aan hom stel nie, wees net geduldig. Wees net daar vir hom as hy jou nodig het.”
“Ek sal, dis hoekom ek hier is.”
Jurg trek vir Clio ’n stoel reg, maar sy loop verby na die koppenent van die bed, waar sy nader aan Arnold voel. Gisteraand was sy in ’n toestand van skok, en ontwrig deur Jurg se teenwoordigheid. Nou egter is sy kalmer, objektief en meer oplettend.
Sy kyk lank en aandagtig na Arnold se gesig, verby die suurstofpypie voor sy neus en die beserings aan sy kop, met hier en daar nog die oorblyfsels van droë bloed. Sy was reg netnou: daar is ’n gesonder tint in sy wange.
Maar haar oë bly dwaal oor die res van sy gesig, op soek na bekende gelaatstrekke. Sy neus, sy ken en sy mond … selfs sy wenkbroue en voorkop en haarlyn. Trekke wat bekend lyk, soos sy dit onthou het. Maar hy bly vreemd. Anders en onnatuurlik. Nie soos hý nie … Nie soos die prentjie wat sy in haar gedagtes gehad het nie. As hy haar op die lughawe kom ontmoet het, sou sy hom nie dadelik herken het nie.
Jurg raai wat haar hinder. Dis nie net die beserings en die bloedmerkies nie. Sy kyk nie daarna nie, net na Arnold se gesig, en hy kan sien hoe die spanning in haar oplaai. Sonder om iets te sê, leun hy oor en trek die laai van die bedkassie oop. Hy haal sy broer se swartraambril uit en gee dit vir haar aan.
Oplaas iets wat bekend is … Clio staar daarna soos na ’n kosbare kleinood. Sy steek haar hand uit om die bril te neem, maar ruk onwillekeurig weg toe haar hand per ongeluk aan Jurg s’n raak. Haar reaksie is onverwags, maar Jurg se reflekse is vinnig en hy gryp na die bril – net betyds om dit te vang voor dit op die vloer val en dalk breek.
Van ontsteltenis druk Clio albei hande teen haar mond. Die blonde poniestert swaai heen en weer soos sy heftig haar kop skud.
“My fout,” sê Jurg gerusstellend.
Wat het haar makeer? Is sy onnosel? Haar oë is groot bokant haar wydgespreide vingers. “Dit was ek. Ek is jammer …”
“Toemaar, alles reg. Daar was nie skade nie.”
Clio antwoord nie, laat net haar kop sak terwyl hy die bril bêre en die laai toestoot. Sy moet haar regruk – op Arnold fokus, nie op sy broer nie. Arnold is haar eerste prioriteit, en die dokter het gesê hy gaan haar nodig hê. Sy kan nie elke keer as Jurg naby kom of per ongeluk aan haar raak so onsinnig reageer nie. Tot dusver kon sy die woelinge in haar binneste verberg, maar as sy só aangaan, sal hy agterkom watter uitwerking hy op haar het.
En nie net hy nie, Arnold sal ook agterkom. Dit mag nie! Dit sal Arnold breek as hy moet uitvind.
Jurg kon altyd net sy vingers klap, dan staan die meisies tou om saam met hom gesien te word. Al een wat nie soos ’n ryp pruim in sy skoot geval het nie, was die buurmeisie op Goederust. Dié was nie verblind deur sy voorkoms en gewildheid nie. Sy was immuun teen hom. Meer as dit: sy het ’n diepgewortelde weersin in hom gehad.
Arnold het nooit openlik erken dat daar wedywering tussen hom en Jurg was nie, nooit gewys dat hy afgunstig op Jurg was nie. Maar sy kon dit onbewustelik aanvoel, en sy het hom jammer gekry.
Sy was dankbaar dat sy iets aan Arnold kon bied om vir die seerkry te vergoed. Al was dit net die lojaliteit en vriendskap van die bure se snipperige dogter, was dit iets wat eksklusief sýne was, wat sy broer nie van hom kon wegneem nie. Hoe kan sy ooit toelaat dat hy uitvind sy was nié immuun nie? Dat daar ’n kraak in haar mondering is en dat sy ook geswig het?
Nóóit! Nie in ’n duisend jaar nie. Nie in tienduisend jaar kan sy Arnold so diep seermaak en in die rug steek nie. Sy sal nie met haarself kan saamleef nie.
Talien hou Clio met ’n bekommerde frons dop. Sy ken die kind van kleins af – sy was op Vuurfontein soos ’n dogter in die huis. Dis duidelik dat iets met Clio skort, iets wat met meer as Arnold se ongeluk te maak het. Eerder met Jurg? wonder sy onrustig.
Die twee was altyd soos kruit en vuurhoutjies by mekaar – reg om enige oomblik te ontplof. Dit was destyds, as kinders. Nou is hulle groot. Hulle moes die haretrekkery al ontgroei het. Maar dis steeds daar, sluimerend onder die oppervlak. Nou egter is dit iets dieper en groter, iets wat sy nie herken nie. Wat haar angstig maak omdat sy nie weet hoe om dié onding te hanteer nie.
Die onderonsie netnou was nie Jurg se skuld nie. Hy het dit goed bedoel. Clio moes nie weggeruk het nie. Hoekom het sy nie die bril geneem en dit voor Arnold se gesig gehou nie? Hy is erg bysiende, en sy ken hom nie sonder die bril nie. Dís wat haar ontstel het: omdat hy daarsonder vir haar soos ’n vreemdeling lyk. Jurg wou help, en sy kan nie verstaan waarom Clio so oorhoeks gereageer het nie.
Clio vermy Talien se ondersoekende blik. Sy reik uit en raak aan Arnold se hare. Dit voel skoon en sag, soos sy dit onthou. Sy vee oor sy kuif wat op sy voorkop lê. Dit ís hy, die ou Arnold wat sy so goed geken het, vertel sy haarself oor en oor.
Haar binneste is ’n maalkolk van stuwende emosies. Sy stry teen die begeerte om weg te vlug; dwing haarself om sy hand wat op die ligblou deken lê in hare toe te vou. Eers dan het sy die moed om haar kop op te lig en Talien in die oë te kyk. Haar mond trek in ’n bewerige glimlag. Dit was nie so moeilik nie, was dit? Sy sal dit weer regkry …
Talien se glimlag is bemoedigend. Miskien was dit net haar verbeelding. Niks het verander nie. Clio is lief vir Arnold en sal hom nie seermaak nie. Sy het net ’n bietjie ontuis gevoel, dis al.
Talien glo daaraan om geen molshoop toe te laat om ’n Kilimandjaro te word nie. “Hou die bril oor Arnold se gesig,” por sy Clio aan.
Clio kyk na Jurg, maar sy gesig is uitdrukkingloos. Hy wend geen poging aan om die laai weer oop te trek nie.
“Gee dit vir haar, Jurgens,” beveel Talien. Jurg skud sy kop, draai om en stap uit.
Talien kyk hom fronsend agterna, kyk dan vraend na Clio. Maar dié weet ook nie wat met hom aangaan nie en haal haar skouers op.
“Tjik! Julle jongmense darem!” klik Talien ergerlik met haar tong, leun oor en haal Arnold se bril uit die bedkassie se laai.
Hierdie keer het Clio nie ’n probleem daarmee nie. Sy los Arnold se hand en vou die bril oop. Dan hou sy die bril voor Arnold se gesig en draai haar kop skeef om die effek te bekyk.
Jurg was reg: dit maak die wêreld se verskil. Arnold se gesig is skielik nie meer kaal en sonder wangbene nie, en deur die dik lense is sy oë weer groot en rond, met lang wimpers, soos Clio hulle geken het. Arnold is skielik weer Árnold. Haar maat en haar ouboet, haar vriend en geesgenoot … Die trane biggel oor Clio se wange, drup op die laken en maak donkerblou kolletjies op die deken.
Die dagsuster loer verskonend om die kosyn. “Die pasiënt moet rus. Julle kan môre weer ’n rukkie inloer.”