Читать книгу Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste - Страница 12

9

Оглавление

Dit was wyse raad, wat Clio tot nadenke gestem en tot selfondersoek gedwing het. Sy het nie gehou van die prentjie wat Talien van haar geskets het nie, want sy het haarself te duidelik daarin herken. Sy weet sy is gou op haar agterpote. Vinnig om te veroordeel en stadig om te vergewe.

Tussen haar en Jurg is te veel slegte gevoelens, sommige onder die brug deur en sommige onder die mat ingevee. As sy eendag op Vuurfontein gaan woon, kan hulle nie aanhou verwyte slinger en ou koeie uit die sloot grawe nie. Dis tyd om die sloot toe te gooi. Sy is bereid om die mindere te wees, te luister as Jurg wil verduidelik. Sy sal probeer verstaan.

Dis goeie voornemens wat Clio graag wil deurvoer. Sy staan soggens vroeg op sodat hulle dalk saam ontbyt kan eet, loer by die melkery in, en gaan selfs na sy buitekantoor wat eens deel van die skuur was. Sy vra oom Lorrietjie na sy baas se agenda vir die dag en probeer Jurg te sien kry.

Maar alles is vergeefs. Dis duidelik: Jurg vermy haar. Hy wil haar nie sien nie. Wil nie met haar praat nie.

Is dit steeds oor sy by tannie Ria-hulle gekuier het sonder om hom te laat weet? Of is dit die insident by die swembad toe sy in sy arms beland het wat by hom spook? Sy weet Jurg was onkant betrap. Sy instinkte het oorgeneem. Hy wou haar soen en was op die punt om dit te doen. Sy kon dit aan sy mond sien, aan sy arms voel, aan sy hartklop hoor. Hulle albei was meegesleur deur hul emosies …

Maar niks het gebeur nie, stel sy haarself gerus. Hulle was van die gevaar bewus en het betyds halt geroep. En hulle is sterk genoeg om te verhoed dat so ’n situasie ooit weer ontstaan. Want dit mag nie. Nie as elkeen nog ’n stukkie selfrespek wil behou nie.

Sy het gedink dit sal genoeg wees as hulle formeel en afsydig teenoor mekaar is, maar vir Jurg is dit klaarblyklik nie genoeg nie. Hy is totaal afwesig. Hy sorg dat hulle mekaar nêrens raakloop nie. Nie eens by die hospitaal nie. Wanneer sy in die oggend by Arnold kom, hoor sy Jurg was die vorige aand daar. Of hy kom later die middag.

Ontbyt of aandete is nie ’n opsie nie. Betta bêre sy kos in die mikrogolfoond, en al wat sy sê, is dat Jurg besig is, dat hy baie werk het.

Hoe kan Clio vrede maak as hy nie beskikbaar is nie? Sy wil nie by Talien of haar ma raad vra en weer raas kry nie. Arnold vorder so goed, sy wil nie haar probleme op hom laai en hom ontstel nie. Aloma is al een wat oorbly, en is ’n beter opsie omdat sy ’n objektiewe buitestander is.

Die volgende middag toe Clio van die hospitaal af terugkom en weer eens ’n grafstil huis aantref, bel sy haar vliegtuig-buurvrou. Hulle het mekaar belowe om kontak te hou en gesels gereeld.

“Die bruid uit die koue …” spot Aloma. “Haai daar, buurvrou! Hoe gaan dit met die pasiënt?”

“Voor die wind. Hy sit al regop en eet biltong, pleks van jellie en kapokaartappels. Hy’s meer bekommerd oor wat van Zeus geword het as oor homself.”

Aloma is beïndruk. “’n Man so na my hart! Wanneer kom hy uit die hospitaal?”

“As alles goed gaan, hopelik volgende naweek.”

“Wonderlik! Kon jy hom darem al behoorlik beetkry en die verhouding weer op dreef kry?”

“Hy is nog ’n bietjie broos,” skerm Clio.

“Dan is ’n warm sessie net die ding om pit in sy pype te sit. Julle moet solank begin oefen vir die wittebrood.”

“Ons sal later … En hoe gaan dit met jóú kêrel?” praat Clio dit weg.

“Ekskêrel. Ek’s al hoe meer dankbaar ek het betyds uitgevind wat ’n lae luis hy is, sodat ek nie nog tyd op die skepsel gemors het nie. Ek hoor nou hy het my nie net met die een meisie verneuk terwyl ek weg was nie, dit was minstens drie. Die gemene slang!”

Clio gee haar kans om af te pak. Sy luister simpatiek, klik haar tong en maak al die regte geluide. Totdat Aloma leeg is. Totdat sy ná tien minute ’n laaste snuif gee.

“Nie tranerig nie,” verseker sy Clio. “Dit was ’n minagtende snuif. Stupid drip!” Sy blaas haar neus met mening om die laaste stukkie oorblyfsel van Rinus de Wet uit haar gestel te kry. “So ja, nou voel ek beter … Maar ek glo nie jy het gebel om na my treurmares te luister nie.”

“Dit ook, en om jou vir ete te nooi. Maar eintlik wil ek eers jou raad vra,” antwoord Clio.

“Oor wat? Hoe om pit in ’n man se pype te sit? Blouoog-blondines weet sulke goeters mos vanself. As ek soos jy gelyk het, het ek nie met ’n kluit soos Rinus uitgegaan nie. Daardie spul flerries kan hom kry. Ek sal hom selfs na hulle toe aanry, net om van hom ontslae te raak. So ’n …” Sy keer haarself om nog skelname uit te dink. “Oor wié soek jy raad? Oor Arnold?”

“Nee, sy broer.”

“Die sexy hunk met die kwiksilwer-oë? Wat wil jy met hom maak? Solank op kleinboet oefen vir die dag as ouboet huis toe kom?”

Dis sommer lawwe tergery, maar dit ontstel Clio. “Moenie sulke grappe maak nie! Dis nie snaaks nie.”

“Hoekom nie? Sny dit ’n bietjie na aan die been?”

“Genade, nee! Hoegenaamd nie!” ontken Clio ferm.

“Jy weet mos ek kan die broer nie verdra nie. Ons baklei soos kat en hond. Maar sy kwaai tante het beveel ons moet die lang messe en strydbyle begrawe. Ek is bereid om te probeer, ter wille van Arnold. Die probleem is: Jurg maak of ek pokke het. Hy vermy my en is nooit hier nie. Hoe kry ek gepraat met ’n moedswillige man wat nie vinnig genoeg met sy opgewarmde sportkar oor die bult kan wegjaag as ek naby kom nie?”

“Jy skryf ’n briefie.”

“Wat skryf ek daarin?”

“Jy maak ’n amptelike afspraak om hom te spreek.”

Hoekom het sy nie self daaraan gedink nie? “Dis nogal ’n plan …”

“Los dit op sy kussing, waar hy dit nie kan miskyk nie.”

“Liewer op sy lessenaar.” Clio is ingenome met die idee. Hulle gesels nog ’n rukkie oor flieks en TV, dan vra sy: “Wil jy nie Sondag, as Arnold tuis is, op Vuurfontein by ons kom eet nie?”

“Ek wil nie graag derdemannetjie speel nie.”

“Dis ’n viering, en hier gaan ander mense ook wees. Talien en dokter Wim en tannie Ria-hulle en hopelik Jurg. Jou werk gaan wees om hom besig te hou, sodat hy nie weer besluit om die pad te vat nie.”

“Hy klink nie na my tipe nie. Te veel soos Rinus.”

“As hy jou pla, gesels dan met Arnold. Hy’s gaaf. Julle twee is nogal eenders, jy sal van hom hou.”

Die diefstal van die basaarkoekies lê soos ’n turksvy op Clio se gewete. Nog dieselfde aand skryf sy ’n briefie om te vra of sy Jurg agtuur die volgende oggend aan die ontbyttafel kan spreek.

Agtuur is ’n goeie tyd, ’n neutrale tyd, besluit sy toe sy die koevert op sy rekenaar se sleutelbord neersit, waar hy dit sal sien sodra hy by sy kantoor instap. Hy kan nie agtuur al weer op pad uit wees nie, en as hy by ’n meisie was, behoort hy al terug te wees, want dis melktyd op die plaas.

Die weer is so lekker warm, sy sou graag Sondag wou braai. Maar Arnold is nog nie sterk nie en moet verkieslik binnenshuis bly. Sy sal Griekse slaai maak en ’n interessante nagereg prakseer, maar die kookkos aan Betta oorlaat. Betta is so goed daarmee, en sy wil nie op tone trap nie.

Sy wik en weeg tussen appelkoos-flambé met sjokolade-mousse, vrugte-pavlova of crêpes Suzette. Of wat van kaaskoek? Sy prakseer ’n banier met Welkom tuis! bokant die voordeur, besluit watse blomme sy vir die tafel sal rangskik en wat sy gaan aantrek.

Maar toe sy die aand in die bed klim en die lig afskakel om te slaap, is dit Jurg se gesig wat voor haar bly. Kwiksilwer-oë, het Aloma gesê. Is dit hoe sy temperament ook is? Soos vloeibare metaal, wat jy nie kan vashou nie?

Clio is lank voor agtuur die volgende oggend op en aangetrek. Sy is in die kombuis met een van Betta se groot voorskote om haar middel gebind besig om omelette te maak toe Jurg instap. Hy is skoongeskeer en ruik na sitroenseep, sy hare nat en effens krullerig ná die stort. Hy het ’n liggrys hemp aan wat by sy oë pas. Sy skouers is breed en vierkantig, sy sitvlak netjies plat in ’n styfpassende denim.

Sy het nie geweet ’n man kan soveel sensuele aantrekkingskrag uitstraal nie. Haar maag bondel op ’n knop en die sinne wat sy gisteraand so netjies agtermekaar gehad het, vlieg by die venster uit.

“Môre!”

Hy groet vriendelik, maar sy kan sien hy is op sy hoede, onseker wat om te verwag. Haar selfvertroue is skielik ook weg, saam met haar logies geformuleerde sinne. Sy sê die eerste beste ding wat in haar kop kom.

“Ek is bly jy is betyds terug.”

Sy wenkbroue lig verbaas. “Terug waarvandaan?”

“Lizaan of iemand …”

Toe die woorde uit is, kan Clio nie glo dis wat sy gesê het nie. Waar is haar brein heen?

Sy wenkbroue sak in ’n frons. “Hoekom op aarde dink jy ek sal agtuur die oggend van Lizaan Visser af terugkom?”

“Ek weet nie … Dis wat mans doen. Dis hulle natuur. Hoe hulle is …” Clio trap klei. Hoe meer sy probeer red, hoe erger klink dit. Sy weet sy kan Jurg nie kwalik neem dat hy geïrriteerd lyk nie.

“Hulle natuur? Om soos mannetjieskatte snags te kerjakker? Is dít wat jy bedoel?”

“Nee!” ontken sy, maar is te bang om uit te wy, bang sy knoop haarself verder vas.

Dis nie vir Jurg goed genoeg nie. Die geur van gebraaide spek en uie was aanloklik, maar hy is skielik nie meer honger nie. Hy stoot die stoel terug wat hy wou uittrek. “Is dit hoekom jy my douvoordag ontbied het? Om my oor my sekslewe uit te vra?”

“Nee,” herhaal sy. “Ek het jou nie ontbied nie, net gevra of agtuur geleë sal wees om met jou te praat.”

“Dit was nie geleë nie, maar ek is hier en ons het gepraat. Jy wou weet of ek ’n ding aan het met Lizaan en ek het gesê nee, ek het nie. Ook nie met enige ander meisie nie, en ek loop nie snags rond nie. Tevrede? Mag ek nou gaan melk, voor die kalwers uitsuip?”

Jurg wag nie op toestemming nie. Hy vat ’n broodrol van die tafel af en verdwyn by die agterdeur uit.

Nou eers sien Clio vir Betta by die opwasbak staan, vingers teen haar mond gedruk en haar oë soos pierings. Sy wil kommentaar lewer, maar Clio gee haar nie kans nie, gooi net haar hande radeloos in die lug en hardloop agter Jurg aan.

Sy haal hom by die groentetuin in, by die tamatiebedding. “Ek het jou oor die basaarkoekies belieg en bedrieg en ek is jammer en ook oor ek netnou sleg van jou gedink het,” borrel dit uit, alles in een sin.

Daar’s nie botter op die broodrol nie en Jurg pluk ’n tamatie om daarmee saam te eet sodat dit minder droog is. Terwyl hy kou, probeer hy die warboel inligting ontrafel. “Wát?”

Hy lyk nie op die punt om weer die pad te vat nie. Dit gee Clio kans om weer haar woorde agtermekaar te kry. “Destyds toe ek by Talien geklik het dat jy die soetkoekies vir die kerkbasaar opgeëet het, het ek gejok. Dit was ek.”

Hy kou rustig en byt nog ’n stuk brood af. “Ek weet.” Sy kyk versigtig op na hom. Daar is ’n vreemde uitdrukking op sy gesig, maar sy kan nie besluit presies wat nie. Kwaad of verwytend? Gegrief of wraaksugtig? Sy weet nie. Maar dis nie vergifnis nie.

“Wéét?” herhaal sy. “Hoe het jy geweet?”

“Dis elementêr. Dit was nie ek nie en dit was nie Arnold nie, nie Talien of Betta nie, dus moes dit jy gewees het. ’n Eenvoudige proses van eliminasie. Geen wonder jy kon nooit wiskunde doen nie.”

“Ek het elke jaar deurgekom!”

“Ook maar net omdat ek of Arnold altyd jou huiswerk vir jou gedoen het.”

Sy ruk haar op. “Jy? Ek het jou nooit vir hulp gevra nie!”

“Nee, maar wanneer Arnold ’n verfkwas beetgehad het, was sy kop nie by wiskundehuiswerk nie. Dan moes ek maar inspring om jou uit die moeilikheid te hou.”

Dis vir Clio nuus, en nie wat sy wou hoor nie. “Ek het nie ’n afspraak gemaak om oor wiskunde te praat nie, maar oor die koekies. Hoekom het jy niks gesê nie? Hoekom maar ewe gedwee by die huis gebly en die gras gesny?”

Jurg se bui het nog nie gesak nie. Dit gaan nie oor die dekselse koekies nie. Dié is vergete, in die verre verskiet. Hy is meer verontreg oor die insinuasie dat sy morele waardes maar laag is. As sy hom van ’n los en vas vryery verdink, sal hy haar genoeg rede gee …

“Wie sê ek het heeloggend gras gesny?” troef hy haar. “Wie sê ek het nie aangename geselskap gehad terwyl julle almal by die basaar was nie?”

Clio is geskok. “Het jy?” vra sy reguit.

Jurg pluk nog ’n tamatie en vryf dit skoon teen sy hemp. “Nogal smaaklik, so ’n varsgeplukte tamatie uit die tuin. Baie geuriger as ’n winkel s’n, wat gewoonlik in koelkamers ryp gemaak is,” merk hy geselserig op.

“Hét jy?” dring sy aan, haar stem skerp en beskuldigend.

Jurg is verbaas oor haar driftige reaksie. ’n Lui glimlag speel om sy mond. “’n Warm stofie oorgenooi om my geselskap te hou? Nee, ek het nie.”

Sy is lus en skud hom. “Hoekom het jy dan geskimp jy het?”

“Omdat jy nogal indrukwekkend is as jy jaloers is, as jou oë sulke giftige mambagroen vonke spoeg.”

“Jaloers? Ek?” roep sy verontwaardig uit. “In jou drome, broer!”

Jurg grinnik breed. Maar toe Clio vra wat hom so danig amuseer, wil hy nie sê nie. Hy glo in elk geval nie sy sal wil weet nie.

“Loop!” jaag sy hom weg. “Loop melk jou simpel klomp koeie voor die kalwers uitsuip!”

Jurg soek die mooiste, rooiste tamatie in die bedding en poets dit blink. Hy bol sy hand in ’n vuis en vryf die kneukels met ’n speelse gebaar oor haar wang. Dan bied hy vir haar die tamatie aan soos ’n blinkrooi appel. “Moet ek vir jou gaan sout haal?”

Clio neem dit. Sy weet nie hoekom haar keel toetrek en sy wil huil nie. Sy skud haar kop.

“Kom, loop saam,” nooi hy. “Ons het groot veranderings aangebring sedert jy laas op die plaas was. Die melkery is nou ten volle geoutomatiseer. Ek wil jou die nuwe, moderne opset wys.”

Hy wag nie op ’n antwoord nie. Sonder om om te kyk, stap hy al kouende in die pad af na ’n ry wit geboue. Clio weet nie hoekom sy Jurg van Deventer nie met die tamatie teen daardie arrogante rug van hom gooi nie, hoekom sy hom ewe gewillig volg nie. Omdat sy begin besef hy is dalk nie so sleg soos sy al die jare gedink het nie? Omdat sy selfs in ’n mate van die moedswillige mansmens begin hou?

Sy skrik vir dié onverwagte erkenning. Dis sommer net omdat sy Arnold mis dat sy in sy broer ’n plaasvervanger soek! Jurg het nie verander nie, hy is nog steeds dieselfde ou wat haar lewe versuur het. Die toegewings wat sy vir hom maak, het niks met logiese denke te doen nie. Dis ’n lyfding, ’n man-vrou-ding, omdat hy so ’n sterk fisieke magnetisme uitstraal.

Al probeer sy dit ontken, is sy teen wil en dank tot hom aangetrokke. Haar verstand kan daarteen stry, maar haar hormone laat hulle nie voorskryf nie. Jurg maak iets in haar wakker. Iets onstuimig en onverklaarbaar wat dieper strek as net vriendskap of vergifnis. Anders sou die aanraking van sy kneukels teen haar wang nie haar hart so laat sing het nie.

Sy vou haar arms om haar lyf, asof sy sodoende dié bekentenis binne-in haar koester, en loop agter hom aan in die stofpad af.

Vuurfontein Melkery is klinies antisepties, gevul met die ruisende klank van masjiene en werkers wat die vloere deurentyd met hoëdruktuinslange afspuit. Clio trek die waterstewels aan wat Jurg vir haar gee. Dan volg sy hom deur die gange vol bulkende koeie, glimmende tenks, krane en trôe gekoppel aan ’n menigte chroompype. Sy praat met die koeie en streel die swart-en-witbont lywe, gesels met oom Lorrietjie en Johannes en die ander voormanne terwyl sy haar aan die reuse-opset vergaap. ’n Kruis tussen ’n fabriek en ’n hospitaal is die naaste wat sy aan ’n akkurate beskrywing kan kom.

“Oppas vir gly, die teëls is glad hier,” waarsku Jurg met sy hand teen haar rug.

Dis glad nie romanties nie, dis net om te keer dat sy op haar sitvlak beland, betig sy haarself, maar die aanraking van sy vingers teen haar kaal nekvel stuur trillings teen haar ruggraat af. Sy wens die hele wêreld bestaan uit nat vloere, sodat hy nooit weer sy hand sal wegvat nie. As net die aanraking van sy vingerpunte hierdie erotiese woelinge in haar veroorsaak, hoe sal dit nie wees as hy …

“Is jy oukei?” onderbreek sy stem haar fantasieë. “Jy’s so stil?”

“Ek kyk na die koeie en … en al die goeters,” stamel sy verleë.

Wat as hy die hoendervleis op haar arms oplet? As hy aan haar mond kan sien sy wens hy soen haar, wens hy trek haar met daardie sterk, bruingebrande arms vas teen hom aan en kneus haar lippe met syne? Soos hy wou, daardie dag by die swembad …

Sy kyk op en bloos. “Lag jy vir my?” wil sy agterdogtig weet.

Hy plooi sy gesig sedig. “Nee, hoegenaamd nie. Dis ’n ernstige saak.”

“Watter saak?”

Hy skud sy kop. “Jy’s ’n kuise meisie, jy wil liewer nie weet nie.”

By ’n kraantjie onderaan een van die chroomtenks tap hy twee glase louwarm, romerige melk, wat hulle staan-staan by ’n skoongeskropte toonbank drink.

Clio kyk op in sy gesig. “Jurg, wat het destyds met Lallie gebeur?”

Satyn Omnibus 5

Подняться наверх