Читать книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse - Страница 5

Hoofstuk 2

Оглавление

Die eerste wat Ben opval toe hy Saterdagoggend die hospitaalkamer binnestap, is die kleur van die hare op die wit kussingsloop. Dit lyk soos ragfyn draadjies rooi- en geelkoper wat sorgvuldig opgevryf is. Sy blik gaan oor haar gesig en hy is, soos die eerste keer toe hy haar gesien het, verbaas oor die soel gelaatskleur en die afwesigheid van sproete. Met so ’n haarkleur verwag ’n mens sproete, maar daar is net ’n ligte strooisel bruin vlekkies oor haar reguit neus sigbaar. Haar wimpers is verbasend donker en haar mond is wyd en vol. Sy is een van daardie meisies waarna mans omkyk, sonder dat hulle weet waarom. Asof ’n mens seker wil maak jou oë bedrieg jou nie. Hy sal weet, want die paar keer dat hy haar by Willem-hulle gesien het, het hy homself ook ’n tweede kyk veroorloof.

Hy kyk weer na die naam op die lêer in sy hand. Hy het dit nie herken nie, want as hy reg onthou, noem hulle haar nie Kristina nie, maar iets korters. Willem het van ’n pasiënt gepraat, maar sy ontwykende blik moes hom gewaarsku het dat dit nie sommer net ’n pasiënt is nie.

“Juffrou Lazarus . . . Kristina . . .”

Sy maak haar oë oop en hy onthou dat Lisa eendag gesê het die natuur was in ’n speelse bui toe sy gemaak is. Dis moeilik om te besluit of haar oë groen met bruin vlekkies is, of bruin met groen liggies. Die natuur wyk soms op interessante maniere van die gewone patroon af.

“Ek is Ben Krige, ’n psigiater. Willem het my gevra om by jou in te loer.”

Sy knik ligweg, maar hy sien die herkenning in haar oë.

“Hoe voel jy vandag?”

“Moeg.” Haar blik dwaal na die venster agter hom.

“Ek het Willem se verslag gelees, maar kan jy my vertel wat gebeur het?”

Sy bly staar deur die venster en Ben laat haar begaan.

“Ek het gaan draf en ek het moeg geword.”

“So moeg dat jy nie weer kon terugkom nie?”

Sy trek haar skouers op en hy wonder opnuut wie eerste besluit het dat dit nodig is om in ’n ander mens se siel rond te krap. Sy ongeduldige geaardheid hou nie van hierdie eerste verkenningsdans nie en hy hou nie van lywe wat hulle geheime wil beskerm nie. Dit beteken ure, dae, soms maande se raaiwerk.

“Het jy al vantevore daardie pad gedraf?”

Sy knik sonder om na hom te kyk.

“Is jy redelik fiks op die oomblik?”

“Seker.”

“Wat swot jy?” Hy weet dis ’n lang kursus, maar op die oomblik kan hy nie onthou wat dit is nie.

“LLB.”

“Hoeveelste jaar?”

“Finale jaar.”

“Geniet jy jou kursus?”

Sy kyk net vir ’n oomblik na hom voor sy haar skouers optrek. “Ek het dit gekies.”

“Het die werk nie te veel geword nie? Is dit nie dalk waarom jy so moeg is nie?”

“Almal werk hard.”

“Hoe is jou verhouding met jou ouers?”

Weer is daar ’n ligte roering in haar skouers. “Ons het nie probleme nie.”

“Is jy in ’n verhouding betrokke?”

Sy skud haar kop.

“Het dit al vantevore gebeur dat jy so moeg geword het?”

Sy skud weer haar kop en vee ’n haarsliert uit haar oë.

“Die toetse het niks opgelewer nie, so dis baie moeilik om jou te behandel. Daar is op die oog af niks fisiek verkeerd nie en tog voel jy nie jouself nie.” Hy laat die woorde soos ’n vraag tussen hulle hang, maar sy reageer nie.

“As jy nou terugdink, dink jy die moegheid het geleidelik gekom of was jy die eerste keer daarvan bewus toe jy nou die dag gaan draf het?”

“Ek weet nie.” Haar hand stryk-stryk oor die wit-en-ligblou gestreepte duvet-oortreksel.

“Het daar dalk iets gebeur wat jou so moeg kon laat voel het?”

“Nee.”

“Jou vriende? Jy het nie dalk ’n uitval met iemand gehad nie? Probleme in ’n goeie vriendskap kan ’n mens nogal baie negatief beïnvloed.”

“Ek het met niemand ’n probleem nie.”

“Gebruik jy nie dalk medikasie wat jy vergeet het om vir Willem te noem nie?”

“Is dit ’n mooi manier om te vra of ek dwelms gebruik?” Vir ’n oomblik flits haar blik ergerlik oor sy gesig en hierdie keer kyk sy nie weg nie.

“Nee, ek sou nog daarby gekom het, maar terwyl jy dit nou opgehaal het, gebruik jy enige gewoontevormende middels?”

“Pynmedikasie kan ook gewoontevormend wees.”

“Gebruik jy chroniese pynmedikasie?”

“Nee.”

Ben voel of hy vir ’n breukdeel van ’n sekonde sy ewewig verloor het. Hy het nie antagonisme verwag nie. Hy is nie eens seker of dit die regte woord is nie, en dalk is dit ook glad nie teen hom gemik nie. Dit het hom net onkant betrap omdat die meeste pasiënte baie dankbaar is vir enige hulp teen die tyd dat hulle by hom uitkom.

“Gebruik jy alkohol?”

“Ja.”

“Elke dag of per geleentheid?”

“Ek het nog nooit die vraag verstaan nie.”

Toe Ben haar nie antwoord nie, maar net na haar bly kyk, trek sy haar skouers op. Haar stem is effens minder skerp toe sy weer praat. “Ek is seker jy ken die antwoorde op al hierdie vrae en ek is seker jy het ’n verslag of ’n lêer of iets gelees. Waarom moet ons weer deur dit alles gaan? Ek is nie ’n gewoontedrinker nie, alhoewel ek van ’n glas wyn of twee of soms drie op die regte tyd hou. Ek rook nie en ek gebruik nie ander vreemde middels nie. Ek het al ’n paar trekke aan ’n joint gevat en daarna opgegooi. As ek hoofpyn het, drink ek ’n Panado of iets, maar dis sover my verbintenis met narkotikums en pynstillers gaan. Wat wil jy nog weet?”

“Wat onthou jy van die nag teen die berg?”

“Niks. Ek kan onthou dat ek my drafskoene aangetrek het, en die volgende waarvan ek weer bewus geword het, was toe die polisie my onder die bos gekry het. Ek het dit ook vir Willem gesê.”

Ben maak sy mond oop om iets te sê, maar die deur agter hom gaan oop en hy draai om.

Twee meisies loer huiwerig om die kosyn. Die voorste een glimlag effens skamerig toe sy hom gewaar.

“Jammer, ons het nie geweet jy is hier nie.”

“Hallo, Helen, kom binne. Ek is eintlik klaar.” Hy staan op toe die twee meisies nader kom om te groet. Albei soen Kristina op die wang.

“Hi, hoe voel jy? Ons het vir jou eetgoed en tydskrifte gebring en Marcus stuur groete en hierdie blomme. Hy sal dalk later ’n draai kom maak.”

Kristina kyk vlugtig na die blomme, maar lewer nie kommentaar nie en die blonde meisie draai na Ben.

“Hallo, ek weet nie of jy my onthou nie, maar ons het al by Willem-hulle ontmoet. Ek is Cato.”

“Ek onthou. Hoe gaan dit?”

Sy kyk glimlaggend na Kristina. “Nie so goed soos met Kris wat heerlik hier kan lê en ontspan terwyl ons ander ons vrek moet werk nie.” Die kommer in haar oë weerspreek egter die vrolikheid in haar stem. Ben lewer nie kommentaar nie. Hy wonder of Willem al met hulle gepraat het.

“Ek sal vir Willem sê ek het kom inloer,” begin hy Kristina groet. “Ek hoop jy voel gou beter.” Die ander twee glimlag toe hy hulle ook groet.

“Ek het altyd gewonder wat ’n mens moet oorkom om hom langs jou bed te kry,” laat Cato met ’n sug hoor toe die deur toegaan.

“Sjuut, Cato, hy kan jou hoor.” Helen kyk deur toe.

“Ek is seker hy weet hy is hot. Mans soos hy maak my lus vir prokreasie.” Sy maak ’n klapgeluid met haar lippe. “Ek het mos nog altyd gesê ’n man se looks lê in sy oë, sy mond en sy hande, en hy het al drie. En ek was nog altyd ’n sucker vir ’n donker man, selfs al is die gesig al effens weathered.” Sy gaan sit op die bed langs Kristina en neem haar een hand.

“Ai, Kris, wat het met jou gebeur? Dit freak my heeltemal uit om jou so te sien.”

“Ek is dalk sommer net moeg en al die histerie is waar­skynlik ’n groot mors van tyd en geld.”

“Is daar nie iets wat ons vir jou kan doen nie?”

Kristina skud stadig haar kop.

“Almal wil weet of hulle kan kom kuier, maar ek het gesê ek weet nie of jy lus is vir mense nie,” laat Helen hoor terwyl sy die lakens probeer regtrek.

“Ek is nie nou lus vir nog vrae en fronse nie. Daarvan kry ek genoeg.”

Twee verpleegsters kom die kamer binne en Cato en Helen staan op. Cato lig haar hand asof sy weet wat hulle wil sê.

“Ons is op pad, ons moes net gou haar blomme kom aflewer.”

In die gang kyk die twee vriendinne na mekaar en Cato ril liggies. “Shit, dis scary stuff hierdie. Hoe gebeur dit dat ’n mens oornag so moeg word dat jou hele persoonlikheid verander?”

Helen antwoord nie. Sy kou net haar onderlip.

Die son streep geel oor die houtvloer en oor die drie paar bene wat lank uitgestrek is. Op die koffietafel weerkaats dit rooi in die drie glase rooiwyn.

“Ons is bevoorreg dat jy ’n slag vir ons kom kuier. Ek het nie gedink ’n mens sal jou op ’n Saterdag in die dorp kry nie.”

“Ek het kom kyk of jy nie hierdie nikswerd man van jou wil los en by my kom bly nie. Ons sal baie meer pret hê.”

Lisa lag guitig en kyk na Willem wat oorkant haar sit-lê. “Sal jy my mis as ek jou vir ’n sexy bachelor los? Ek kry dalk nooit weer so ’n uitnodiging nie.”

“Gmf . . . jy sal terug wees voor ek jou kan mis. Moenie dat hy jou met sy mooipraatjies verlei nie. Hy is useless; hy kan nie eens ’n vrou kry nie.”

“Wie sê hy soek ’n vrou?” wil Lisa laggend weet.

“Alle mans soek ’n vrou, almal is net nie mans genoeg om dit te erken nie.”

Ben lag hardop. “So praat ’n man wat geval het. Hy laat dink my aan ’n ou roker wat eendag ophou en dan vir almal wil preek oor die nadele van rook. Daar is niks so hoogheilig soos ’n ou roker of drinker nie.”

“Het Sanet jou gisteraand gekry?” verander Lisa steeds laggend die onderwerp. “Sy het hierheen gebel om te hoor of ek weet waar jy is.”

“Sy was by die huis toe ek daar kom.”

“Ek dog jy wou gisteraand TV kyk.” Willem skink hulle glase vol.

“Ek wou.”

“Ek hoop julle is versigtig. Ek wil my nie oor jou bekommer nie.”

“Ja, Pa, dankie, Pa, ek sal versigtig wees, Pa.” Ben kyk spottend na Willem, wat brommend sy kop skud.

“Ek het vanoggend ’n draai by jou pasiënt gaan maak. Waarom het jy my nie gesê dis Helen se vriendin nie?”

Willem stoot effens verleë sy hand deur sy hare. “Ek weet mos hoe jy oor studente voel.”

“Maar tog het dit jou nie gekeer om haar lêer vir my te gee nie, en jy het geweet as ek dit eers gelees het, sal ek gaan kyk.”

“Ek het gehoop jy stel my nie teleur nie.”

Ben rek homself lui uit. “Ek weet nie wat om vir jou te sê nie. Daar kan ’n duisend redes wees waarom sy so ’n episode gehad het. Dis presies waarom ek nie met studente wil werk nie, veral nie die meisies nie. Hulle is so vol hormone en drama.”

“Ek gaan maak of ek dit nie gehoor het nie,” laat Lisa verontwaardig hoor. “Dis ’n gruwelike veralgemening en ek sal graag wil weet waarom jy dink dis op haar van toepassing. Het sy jou al ooit die idee gegee dat sy die histeriese, hormonale soort is?”

“Ek ken haar nie so goed nie, maar as ek terugdink aan geleenthede waar ek haar saam met Helen-hulle beleef het, kan hulle ook maar erg dramaties raak.”

“Jy verwar nou histeries met dramaties. Die meeste vroue is geneig om meer dramaties as mans te wees, maar dit beteken nie ons het almal histeriese persoonlikhede nie. En daai klomp is eintlik maar net vol selfvertroue, hulle weet wat hulle wil hê en natuurlik is hulle nie bang om hulle mening te lug nie. So, as jy my vra, moet julle maar verder soek. Ek glo daar was ’n trigger, hetsy fisiek of emosioneel, wat haar so laat reageer het.”

“Sielkunde 101,” spot Ben toe Lisa stilbly.

Sy glimlag soetweg. “Jy skaats op dun ys. As jy my wil hê, sal jy baie nicer moet wees.”

“Ek het weer daaroor gedink en ek is nie seker dat ek ’n sielkundige wat my kop kan lees vir ’n vrou wil hê nie.”

“ ’n Witrot kan jóú kop lees, maar los nou eers jou praatjies en sê vir my wat gaan ek vir haar ouers sê,” onderbreek Willem hulle.

“As sy ’n kêrel gehad het, sou ek gesê het hulle het dalk probleme. Sy sal nie die eerste meisie wees wat ineenstort as ’n verhouding nie uitwerk nie. Die dorp is vol van hulle.” Ben proe stadig aan sy wyn en laat dit vir ’n oomblik op sy tong lê.

Willem knik en kyk na Lisa. “Sy was vir twee jaar in ’n redelik stormagtige verhouding betrokke, maar sy het vroeër vanjaar met die ou uitgemaak. Ons het hom al ’n keer of wat ontmoet en ek is verbaas dat sy so lank uitgehou het. Verwaande klein bliksem. Hy is saam met haar in die klas en briljant, maar een van daai wat net te slim is vir hulle eie gesondheid.”

“Daar het jy dalk jou antwoord. Stormagtige verhoudings het die geneigdheid om nie sommer net op ’n dag tot ’n einde te kom nie. Dis soos om ’n tenkskip tot stilstand te bring, dit gebeur nie sommer skielik nie. As jy sê sy het vroeër vanjaar die verhouding beëindig, is dit waar­skynlik die remmerke waarmee jy nou sit.”

“Dis darem ’n vreeslik simplistiese diagnose,” maak Lisa kopskuddend beswaar.

“Wat sê ek Maandag vir meneer en mevrou Lazarus? Dis die remmerke van ’n verhouding wat skeefgeloop het?”

“Sê vir hulle net wat jy weet. Wys hulle al die verslae en uitslae en sê dis soms moeilik om ’n diagnose te maak. Jy sal nie die eerste dokter wees wat nie weet wat met ’n pasiënt aangaan nie,” laat Ben skouerophalend hoor. “As ek haar ouers is, sal ek haar laat opneem vir observasie as sy nie binne die volgende week of twee beter word nie.”

“Of jy kan haar by jou opneem vir waarneming . . .” Willem kyk hoopvol na sy vriend en Ben begin stadig glimlag.

“Of jy kan haar vir Karel stuur. Hy hou daarvan om met studentemeisies te werk.”

“Julle stuur haar nie na Karel toe nie. Daai man het die morele waardes van ’n vlakhaas – en dan beledig ek waar­skynlik die haas.” Lisa kyk ergerlik van die een na die ander.

Ben hou sy hand op. “Weet jy of sy en die kêrel ’n seksuele verhouding gehad het? As dit die geval is, is ek nog meer oortuig van my diagnose. Sy voel dalk nou skuldig omdat sy saam met hom geslaap het en nie met hom gaan trou nie. Sommige meisies se koppe werk so.”

“Hoe kan jy sommer net ’n diagnose uit jou duim sit en suig? Vroue is wragtig meer gekompliseerd as dit, en die lewe begin en eindig nie noodwendig vir ons by ’n man nie, al wil julle dit graag glo. Sy mag ’n plaaskind wees, maar sy is nie naïef nie en sy het nie ’n slagoffermentaliteit nie. Sy is eintlik een van daai mense wat high on life is.”

“Hoe lyk ’n mens wat high on life is?” Ben kyk spottend na Lisa.

“Dis die verskil tussen iemand wat ’n dop of ’n joint nodig het om ’n party te geniet en mense wat stone sober die lewe van ’n party kan wees. Hulle láát dinge gebeur. Sy is gedurig met een of ander projek besig. Sy dien op die juridiese vereniging, sy was lid van haar koshuis se HK en sy is in haar derde jaar as studenteraadslid verkies. Dis nie iemand wie se wiele afval as ’n verhouding nie uitwerk nie. En verder kom sy van die Karoo af. Daai mense het sterk ruggrate.”

Ben hou sy glas vir Willem om weer vol te skink. “Is dit nou ’n geval van virtue lies in the eye of the beholder?” Hy lag en hou dan sy hand op toe Lisa se mond weer oopgaan. “Ek is nie besig om haar karakter aan te val nie en ek sê ook nie dit is die oorsaak van haar probleem nie, maar niemand van ons kan sê hoe iemand onder sekere omstandighede sal optree nie. Sterk mense is nie onfeilbaar nie en sy is op ’n ouderdom waar vroue nog by tye baie emosioneel kan wees, veral as hulle studente is, want die fokus is nog grootliks op hulleself en enige rimpeling in die teekoppie kan as ’n volskaalse storm ervaar word.”

“Los nou maar die gemiddelde student,” maak Willem hulle stil. “Ek moet haar die voordeel van die twyfel gee en seker maak ons het nie hier met ’n groter probleem te doen as ’n kêrel nie.”

“Maak net seker van haar seksuele geskiedenis. Ek is ernstig as ek sê dit kan soms tot erge emosionele probleme aanleiding gee.”

“Jy klink nou soos een van Freud se dissipels. Wat is volgende? ’n Elektra-kompleks?”

Ben skud laggend sy kop vir Lisa. “Moenie sommer vir Sigmund afskryf nie. Hy het ook geglo dat ’n vrou se inherente afguns haar daarvan weerhou om ’n regverdige oordeel te hê. Ek vermoed hy gaan nog eendag tot profeet verklaar word.”

Toe Willem begin lag, kyk Lisa met nougetrekte oë na hom. “As ek jy is, sal ek versigtiger wees waarvoor ek lag.”

“Kan jy nie dink voor jy praat nie?” kla hy in Ben se rigting. “Here I was, peacefully minding my own business.”

“Moenie al die skuld op hom pak nie. Jy het nie nodig gehad om saam met hom en sy vriend Freud te stem nie.”

“Kan ons asseblief terugkom na die onderwerp onder bespreking? Wat sê ek Maandag vir Kristina se ouers?”

Ben staan stadig op en strek sy arms bo sy kop. “Verwys haar vir psigiatriese evaluering as dit jou sal gerusstel.”

“Jy kan dit vir my doen.”

“Ek het nie tyd nie, en die kliniek is buitendien vol.”

“Jy lieg; Riëtte het gister nog gesê julle het plek.”

Ben soen Lisa op die wang en begin voordeur toe stap.

Willem staan ook op en stap agter Ben aan. “Fok, maar jy’s eiesinnig. Ek vra jou mooi.”

“Ek sal daaroor dink.” Ben lig sy hand in ’n groet voor hy met die stoeptrappies afstap en in sy motor klim.

Kristina staar lank na die deur waar die verpleegster so pas uit is. Soveel vrae. Almal het soveel vrae. Die dokters, verpleegsters, haar familie en vriende. En sy het vir niemand antwoorde nie. Hulle druk koorspenne in haar mond, trek buise vol bloed, kyk in haar oë en neem bloeddruklesings, maar tog het hulle ook nie antwoorde nie. Waarom dink hulle sy moet weet?

Sy draai op haar sy, trek die duvet oor haar skouer en wonder hoe lank hulle haar nog hier gaan hou. Haar gedagtes is soos papiere wat op ’n winderige dag heen en weer gewaai word. Daar is geen ritme of patroon nie; net ’n sinnelose heen en weer van skynbaar gewiglose gedagtes. Dis asof iemand haar gedagtes met ’n besem deurmekaar gevee het. Begrippe wat logies langs mekaar gelê het, is nou onherkenbare woordflenters. Al wat oorgebly het, is sinne wat nie sin maak nie en begrippe wat sy nie meer begryp nie.

En tog vra almal elke oggend: “Hoe gaan dit?” met die sigbare verwagting dat vandag dié dag gaan wees. Dat daar oornag ’n wonderwerk plaasgevind het en almal kan uitroep: “Halleluja, prys die Heer, Kristina is weer haarself! Sy het uit die dood opgestaan en is selfs ’n bietjie honger.” Almal wag onbewustelik op die wonderwerk. Sy wag dan self daarop. Op die halleluja en prys die Heer! Terwyl daar voor haar ’n ligtonnel is wat vinnig besig is om al nouer te word. Haar instinkte waarsku haar dat sy deur die tonnel moet kom voor die donkerte toemaak, maar iets sê ook vir haar sy is reeds te laat en dat dit beter is om hier vir die donker te wag. Hier in die oopte. Binne-in die tonnel is daar rotse waarteen sy haar gaan stukkend stamp. Soos toe die landrowers van ouds die skepe met vals ligbakens op die rotse laat loop het.

Met ander woorde

Подняться наверх