Читать книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse - Страница 8

Hoofstuk 5

Оглавление

“Het jy geweet daar bestaan so ’n plek hier op ons doorstep?” Cato kyk nuuskierig om hulle rond toe sy en Helen voor die kliniek uit die motor klim.

“Ek het al soms saam met Lisa-hulle by Ben se huis gekuier, maar ek was nog nooit by die kliniek nie.” Helen strek haar arms bo haar kop terwyl sy ook rondkyk.

“Dit moet nogal scary wees om jou blyplek met onstabieles te deel. Sê nou een raak kwaad en kom vermoor jou in jou bed?” Cato ril oordrewe.

“Jy kyk te veel flieks. Ek is seker hy sal nie gevaarlike mense hier laat bly nie. En hy bly darem nie tussen hulle nie; sy huis sit daar bo. Toe ons by die hek ingedraai het, was daar ’n paadjie na links met ’n bord wat sê privaat.”

“Op pad uit kan ons maak of ons verdwaal, dan gaan kyk ons.” Cato sluit die motor en hulle begin in die rigting van die gebou stap.

“Netnou skiet iemand op ons.”

“Ek is nie die enigste een wat te veel flieks kyk nie.”

“Gun die man sy privaatheid. Ek sal ook nie wil hê elke besoeker en pasiënt moet eers ’n draai by my huis maak nie.”

Albei meisies bly stil toe hulle die ontvangsvertrek binnestap en Riëtte sien. Sy glimlag en sê dokter Krige wag vir hulle.

Cato stoot vir Helen voor, maar toe hulle Ben se spreekkamer binnestap, laat sy hardop hoor: “Fokkit, ek swot die verkeerde kursus.” Sy kyk eers klaar voordat sy na Ben draai en effens verleë laat hoor: “Jammer, maar ek het nie gedink ’n mens kan op dié manier ’n lewe maak nie.”

“Moenie jou deur die trimmings en die uitsig laat verlei nie. Hier word ook maar net gewerk.”

“Wat moet ’n mens doen om hier opgeneem te word?” wil Cato weet toe sy sit. Haar blik dwaal van die skilderye teen die mure en die gemaklike rusbanke en stoel na die uitsig deur die vensters en die vuur in die kaggel.

Ben maak of hy haar nie gehoor het nie en ook nie die stamp sien wat Helen haar in die ribbes gee nie.

“Dankie dat julle gekom het; ek weet julle is albei besig.”

“Dis ’n plesier.” Cato kyk vir die eerste keer na hom. “Hoe gaan dit met Kris?”

“Daar is nog nie regtig ’n verandering te sien nie, maar sy is nog net drie dae hier. Ek het nie verwag dat sy oornag beter sal voel nie.”

“Kan ons by haar inloer voor ons gaan?”

“Julle is welkom, maar laat die personeel haar eers gaan vra of sy mense wil sien. Baie pasiënte wil die eerste paar dae hier niemand sien nie.”

Ben maak Kristina se lêer oop en kyk van die een na die ander. “Julle het nie intussen iets onthou nie? Enigiets, al lyk dit dalk onbenullig.”

Hierdie keer is dit Helen wat praat. “Ons het die afgelope paar dae oor min ander dinge gepraat, maar ons onthou werklik niks vreemds nie.”

“Het julle haar die middag gesien toe sy gaan draf het?”

“Ja, maar net vlugtig. Ek was feitlik die hele dag met prakties besig en Cato was by die dramadepartement, besig met ’n repetisie. Toe ek by die huis kom, was sy reeds in haar drafklere. Ons het net haastig gegroet.”

“En jy het niks vreemds opgemerk nie?”

Helen skud haar kop. “Sy was stillerig, maar ek het aanvaar sy is moeg geswot en was haastig vir ’n bietjie vars lug.”

“En vroeër die oggend?” Ben speel met die pen tussen sy vingers.

Albei koppe skud gelyk. “Sy het nog geslaap . . . of haar deur was nog toe toe ons daar uit is.” Cato kyk na Helen. “Kan jy onthou wat sy die vorige aand gedoen het?”

“Was dit die Donderdagaand? Ek dink sy het toets ge­skryf. Ek kan onthou dat sy een of ander tyd daardie week ontevrede was oor ’n onbeplande toets wat so naby die eksamen ingedruk is.”

“Het julle haar ná die toets gesien?”

“Ek kan nie onthou nie. Helen, kan jy onthou wat ons gedoen het?”

Helen byt haar onderlip vas en Cato draai een van haar blonde krulle om haar vinger.

“Ek weet nie, maar as sy vreemd opgetree het, sou ek dit sekerlik onthou het. Sy is nie die moody tipe nie en ’n mens kan maklik sien as iets haar regtig pla of ontstel. Ek sal in my dagboek gaan kyk, maar ek twyfel of ek iets ingeskryf het.”

“Vertel my van Dawid Maree. Ken julle hom?”

Cato vou een been onder haar in en glimlag breed. “A . . . die mooie Dawid. Ek dink nie sy eie pa en ma kan sê hulle ken hom nie.” Cato sug. “Uiters komplekse persoonlikheid, maar baie bright. Ek dink Kris het gereken sy sal al daardie briljante energie positief kan kanaliseer. Sy kop werk op ’n ander vlak as ons s’n en natuurlik help dit dat hy beslis een van die hotste ouens op kampus is. Bedorwe brokkie en gewoond om te kry wat hy wil hê. En hy wou haar al lankal hê.”

“As hy die dag in ’n goeie bui is, kan mens verstaan waarom sy met hom uitgegaan het,” onderbreek Helen haar vriendin. “Hy kan baie charming wees wanneer hy lus het, maar as hy die dag in een van sy swart buie is, bly ek verkieslik uit sy pad.”

“Het hy soms gewelddadig geraak?”

Cato lag met ’n oop mond. “Dawid maak nie graag sy hande vuil nie. Nee, hy slaan jou sommer met sy woorde plat. Ek dink sy ouers moet ’n prys kry vir sy ongewone woordkennis en -gebruik. Hy kan vrugte skil met sy tong.”

“Gebruik hy enige opkikkers of gewoontevormende middels?” Ben kyk van die een na die ander.

Cato gee weer ’n laggie. “Wie sal weet? Hy maak sy eie reëls.”

“En Kristina?”

Cato skud laggend haar kop. “Ken jy die mense van die Karoo? Hulle is mos sommer vanself op ’n high. Ek dink dis van al daai suurstof wat hulle as kinders inkry.”

“Som haar vir my in ’n paar woorde op.”

Die twee vriendinne kyk na mekaar en Cato knik vir Helen.

“Sy is baie bright, hardwerkend, ’n wonderlike vriendin en ’n lekker mens,” praat Helen eerste.

Cato draai met ’n frons na Helen: “Nou laat jy haar soos moeder Theresa klink.” Sy kyk na Ben: “Om Kris te verstaan, moet jy weet waar sy vandaan kom. Haar pa is soos die negehonderdste geslag wat op die plaas boer. Daai mense het nie skandes en skades nie. Haar ouers verneuk mekaar nie, drink nie te veel nie en maak nie huismoles nie, hoe vreemd dit ook al mag klink. Hulle gaan nog Sondae kerk toe en gee vir die armes. Ek het nie geweet daar bestaan nog sulke mense nie, maar blykbaar het almal nog nie uitgesterf nie. En soos goeie godsvresende Calviniste glo hulle aan harde werk. Ledigheid is die duiwel se oorkussing, en om minder as jou beste te doen, is om met jou talente te mors.”

“Cato, kom tot die punt,” val Helen haar in die rede.

“Ek dink die kombinasie van haar genepoel en die vlaktes waarop sy grootgeword het, het haar effens van ’n wild child gemaak. Nie in die normale sin van die woord nie, maar o donner, sy’s soos ’n wegholtrein en ’n mens moet hardloop om by te bly. Die dag toe sy by die universiteit aangeland het, het sy geweet wie sy is en waarheen sy op pad is. Sy glo probleme is daar om opgelos te word en ’n mens kan wondere verrig met entoesiasme. Sy is uitgesproke en maak soms vyande omdat sy nie bang is vir konfrontasie nie. Vir haar gaan dit nie oor die prestige van al die posisies wat sy beklee nie, maar die feit dat sy dan ’n stem het en ’n verskil kan maak. As ek nou heeltemal poëties kan raak: ek dink haar roots het haar die vlerke gegee, maar terselfdertyd met ’n gewete opgesaal. Sy kan stout wees, maar sy sal nooit bad kan word nie. As ek eendag ’n dogter het, sal ek nie omgee as sy soos Kris is nie, behalwe dat ek nie sal weet wat om met so ’n kind te doen nie.”

“Sy was ’n baie gewilde studenteraadslid en baie mense het gevoel sy moes die voorsitter gewees het,” neem Helen by Cato oor.

“Weet jy dat sy skilder?” wil Cato weet.

Ben se blik gaan na die lêer op sy skoot en hy skud sy kop.

Cato knik. “Sy is ongelooflik kunstig, maar sy het groter planne as om prentjies te teken.”

Ben maak die lêer op sy skoot toe en staan op.

“Nogmaals dankie dat julle gekom het. Laat my asseblief weet as julle dalk enigiets onthou.” Hy tel ’n visitekaartjie van sy lessenaar af op en hou dit na hulle uit. Cato neem dit en nadat sy dit vir ’n oomblik met aandag bekyk het, druk sy dit in haar skouersak.

“One night with him and I’ll die a very happy girl,” sug Cato toe hulle in die gang kom. “Daai oë kyk reguit in ’n mens se siel in en daai mond en hande . . . hmm.”

“As hy in jou siel kan sien, huur hy dalk op hierdie oomblik vir hom ’n lyfwag of is hy besig om die polisie te bel.”

Die glimlagte verdwyn om albei se monde toe hulle Kristina se kamer binnestap. Sy lê op die bed en dit lyk of sy slaap.

“Kris.” Helen se hand rus liggies op Kristina skouer, maar sy beweeg nie. Nadat hulle nog ’n rukkie gewag het, draai hulle stil om.

Dis eers toe hulle in Cato se motortjie sit, dat hulle weer praat. “Dink jy nie sy is swanger en sien nie kans om vir haar ma-hulle te vertel nie?” Cato kyk skuins na Helen.

“Wat bedoel jy? Dat sy Dawid se kind verwag?”

“Ek weet nie. Miskien het sy dit nou eers uitgevind. Sal dit nie ’n logiese verklaring wees vir haar toestand nie?”

“Nee, nonsens, Cato. Ons gaan nie nou sulke spoke opjaag nie.”

“Ek sê maar net . . .”

“Ek weier om daaraan te dink, want as dit so is, sal dit ’n ramp wees. Sy en Dawid is iets van die verlede.”

Cato sug. “Sy laat my dink aan ’n huis wat altyd verlig was en nou skielik is al die ligte dood. Ek verwag kort-kort daar gaan êrens weer ’n lig aangaan, maar tevergeefs. Ek is bevrees Kris has left the building.”

“Kristina Lazarus is hier,” kondig Riëtte laatmiddag aan en hou die deur oop.

Ben kyk op van waar hy agter die lessenaar sit. “Kom binne. Sit solank, ek wil net gou ’n nota maak.”

Kristina skuif haarself in die hoek van die rusbank in, vou haar arms voor haar en staar afgetrokke na die vuur in die kaggel.

Ben kyk op toe hy klaar geskryf het en bekyk haar stilweg. Sy is merkbaar bleek en hy herinner homself dat hy die personeel moet vra of sy genoeg eet. Sy lyk skraler as toe hy haar die eerste keer in die hospitaal gesien het en beslis heelwat maerder as wat hy haar kan onthou.

Hy staan op en gaan neem op sy gewone stoel plaas, maar praat nie dadelik nie. Sy kyk eers na ’n minuut of twee op, en ook net vlugtig.

“Hoe gaan dit vandag?”

Kristina kyk na hom. “Ek is steeds hier.” Toe hy haar nie antwoord nie, gaan sy met ’n waai van haar hand voort: “Ek weet nie waarom almal dit elke dag wil weet nie. Wat dink julle gaan oornag gebeur?”

“Sal jy verkies dat ek jou nie vra nie?”

“Dit sal help, ja dankie. Ek belowe jy sal die eerste een wees wat weet as daar ’n wonderwerk plaasgevind het.”

“Het jy en Dawid ’n seksuele verhouding gehad?”

Kristina verskuif haar effens op die bank en trek weer die trui se moue oor haar hande.

“Is ons nog steeds by Freud en al sy komplekse?”

Ben antwoord haar nie. Hy wag skynbaar geduldig terwyl sy nog ’n paar keer op die bank heen en weer skuif.

“Ja, ons het.”

“Het jy skuldgevoelens daaroor?”

“Behoort ek te hê?” Haar blik beweeg tussen die venster en die vuur.

“Ek kan nie die vraag namens jou beantwoord nie. Wat is jou gevoel daaroor?”

“Nee, ek het nie skuldgevoelens daaroor nie. Dit was ’n besluit wat ek op ’n stadium geneem het toe dit goed met ons gegaan het.”

“Waarom het jy uitgemaak?”

Kristina se voorkop trek op ’n diep frons. “Jy het al daardie vraag gevra en ek het al gesê dis nie belangrik nie.”

“Dit is dalk belangrik.”

“Kom ons sê dit was ’n geval van bitterbessie dagbreek, bitterbessie son, ’n spieël het gebreek tussen my en hom.”

Ben kyk onbegrypend na haar.

“Met ander woorde, dokter, hy het my verneuk.”

“Hoe weet jy dit?”

Kristina gee ’n bitter laggie. “Nou krap jy darem regtig op die bodem van die put rond. Hoeveel keer moet ek nog sê my en Dawid se verhouding het niks met my toestand te doen nie? Ek het dit afgesluit, verwerk en gebêre. Dis nou geskiedenis.”

“Hoe weet jy jy het dit verwerk?” Ben skryf nou en dan iets op die papier voor hom neer, maar die meeste van die tyd beskou hy haar aandagtig. Sy het ’n manier om denkbeeldige hare uit haar gesig te vee, of haar hande in haar moue in te trek, soos ’n skilpad wat homself in sy dop terugtrek. By tye sit sy doodstil in die hoek van die rusbank, maar heel onverwags sal sy effens verskuif en met haar hande beduie. Hy kan nog nie die patroon agterkom nie en weet ook nie watter vrae watter reaksies uitlok nie.

Sy trek haar skouers op en draai haar handpalms opwaarts, maar toe Ben nie daarop reageer nie, skud sy haar kop. “Jy maak my vreeslik moeg.”

Ben kyk na die horlosie bo die deur. “Ons is amper klaar, dan kan jy gaan rus.”

“Ek was kwaad, toe het ek gehuil, daarna getreur oor die verlies en toe op ’n dag weer ’n rooi rok aangetrek. Is dit nie min of meer die nodige stadia van rou nie? Of het ek dalk iets gemis?”

Hy besluit om haar nie te antwoord nie. Nie omdat hy niks het om te sê nie, maar omdat hy ook nou moeg is, en op die ingewing van die oomblik besluit hy om haar te laat gaan. Daarom staan hy net op en maak vir haar die deur oop. “Ek sien jou môre. Totsiens.”

Lisa het eendag gesê sy voel jammer vir sy pasiënte, want hulle het beskerming teen hom nodig. Hy was ook al soms vir ’n pasiënt jammer, want dis sy werk om te krap tot al die ou rowe waarskynlik weer bloei. Hy hou die spieël vas. Hy is die een wat sê: kyk, dis soos jy werklik lyk en dit is jou lewe, en noudat jy dit gesien het, gaan ek jou leer hoe om daardie lewe te hanteer. Wie sê hulle moet daardie lewe kan hanteer? Dis waarskynlik baie makliker om ’n pil te sluk of soggens voor tien ’n bottel oop te maak. Albei handelinge behoort net genoeg van die skerpheid uit elke dag te haal om te kan oorleef. Dit sal waarskynlik ook die rowe lekker korserig maak – en wie gee werklik om? Rowe pyn ten minste nie. Maar hy is nog nie oortuig Kristina Lazarus het beskerming teen hom nodig nie. Op die oomblik is hy nog nie eens seker sy hét rowe nie. Miskien is dit hierdie keer hy wat versigtig moet wees. Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son. Versigtig wees dat die spieël nie breek nie . . .

Met ander woorde

Подняться наверх