Читать книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse - Страница 7

Hoofstuk 4

Оглавление

Die volgende oggend hang die wolke laag oor die berge. Daar val sedert die vorige aand ’n fyn motreën­tjie. Ben word vroeg wakker en probeer die nag se deurmekaar drome onder die stort afspoel. Net voordat hy uitklim, draai hy die warm kraan toe en die koue kraan groot oop. Die koue water voel soos naalde op sy warm lyf en die hoendervleis slaan byna pynlik op sy vel uit. Ontslae van die wollerige newels, droog hy hom vinnig af en toe hy aangetrek is, skryf hy haastig vir Katie ’n nota om te sê sy hoef nie ontbyt te maak nie.

Hy moet die motor se reënveërs aanskakel om die fyn sproei af te vee. Weerskante van die pad staan groot ou platane, hulle kaal stamme oortrek met ’n liggroen mos. Byna soos ’n wolkombers teen die koue, dink hy.

Die kliniek se ligte gooi geel kolle in die grou oggend. Toe hy binnekom, is Wilmien Carstens in die kantoor besig met haar verslag vir die dagpersoneel. Sy kyk verras op toe Ben binnestap en sy druppende baadjie uittrek.

“En as jy so vroeg hier is? Kom kyk jy of ons ons werk doen?”

“Ek kom kyk of ek julle nie te veel betaal nie.”

“Nie maklik nie. Laas nag was weer een van daai nagte. Sue het besluit haar man is nie meer lief vir haar nie en almal sal beter af wees sonder haar. Ons het maar beurte gemaak om by haar te sit tot sy later aan die slaap geraak het.” Sy skud haar kop. “Die arme man ry homself dood om elke dag te kom kuier en die kinders te versorg. Ek weet nie waar sy dink hy nog tyd moet kry vir ’n skelm verhouding nie.”

“Jy weet mos teen hierdie tyd ’n mens se gedagtes het dikwels niks met die werklikheid te doen nie. Hy kan hier intrek ook en sy sal hom waarskynlik steeds van ’n verhouding verdink. Dis soos iemand met anorexia wat in die spieël kyk en ’n vet persoon sien.”

Wilmien sug. “Ja, ek weet. Soms voel ek net om hulle aan die skouers te skud en te sê hulle moet hulle nonsens laat staan.”

“Hoe het dit met Kristina Lazarus, die nuwe meisie, gegaan?”

“Sy het soos ’n baba geslaap. Ek het vir haar ’n slaappil geneem, maar sy het reeds geslaap en ek het maar besluit om haar nie wakker te maak nie. Ek was nou net weer by haar, maar sy het nog geslaap.”

Ben vra oor die ander pasiënte uit en nadat hy ’n verslag van elkeen ontvang het, stap hy spreekkamer toe. Hy skakel die koffiemasjien aan en terwyl hy daarvoor wag, pak hy die kaggel en steek dit aan. Die herfs is vanjaar ongekend koud.

Hy staan voor die venster en koffie drink toe Riëtte ag­ter hom praat.

“Wat gaan aan? Waarom is jy so vroeg hier?”

Ben draai stadig om. “Waarom is dit vir julle almal so snaaks? ’n Mens sal sweer ek kom gewoonlik eers teen mid­dagete hier aan. Ek was al soms voor jou hier.”

“Maar wie wil op so ’n oggend vroeg opstaan?”

“Jy vergeet ek is nie getroud nie. Daar is nie ’n warm lyf wat my in die bed kan hou nie.”

“Ag siestog,” spot sy. “Ons moet miskien maar ’n aktiewe soektog op tou sit om vir jou een te kry. Jy gaan ’n moeilike oujongkêrel wees.”

“Julle gaan ver soek, want ek weet nie of vandag se meisies goeie troumateriaal is nie.”

“Ons kry dalk nog êrens een wat desperaat is,” lag sy toe sy die beker neem en die deur agter haar toetrek.

“En nou gaan jy huis toe. Sien jy uit daarna?” Ben kyk na die skraal vrou voor hom op die rusbank. Haar hande is op haar skoot gevou en hy kan sien sy doen haar bes om hulle stil te hou. Maar ten minste is hulle nie meer so pynlik inmekaargeklem soos toe sy hier aangekom het nie.

“Ek is versigtig opgewonde. Die kuiertjie by die huis was lekker en my tuin kan doen met ’n goeie skoonmaak en ’n paar nuwe plantjies.”

“En hoe voel Fred daaroor dat jy huis toe kan gaan?”

“Hy het vir ’n paar dae verlof geneem. Hy sê ons kan dalk sommer een oggend êrens ontbyt gaan eet of iewers heen ry vir middagete.” Haar hande wil-wil weer begin vroetel, maar sy vou hulle oormekaar. “Ek hoop maar ek is reg daarvoor.”

“Waarom twyfel jy nou weer aan jouself ?”

“Ek weet nie. Ek is net bang dit raak weer te veel en dan is ek dalk ’n verleentheid vir hom. Jy weet nie hoe dikwels ons in die verlede uit restaurante moes stap voordat ons klaar geëet was nie. Dit was swaar vir hom en die kinders.”

Ben maak die lêer op sy skoot toe. “A, is ons terug by die image en wat die mense sal sê?”

“Ek is net so skaam om almal weer te sien. Ek is seker hulle lag lekker oor Fred se vrou wat die kluts kwytgeraak het.” Haar blou oë raak mistig.

“Laat hulle skinder. Dis gewoonlik net ’n manier om hulle eie vrese te besweer, want almal van hulle het ook swak plekke en niemand weet wanneer iets aan daardie plek gaan raak nie. Hulle praat nie oor jou omdat jy swakker as hulle is nie; hulle praat oor jou omdat jy hulle aan hul eie swak plekke herinner. Maar – en dis waar jy nou die voorsprong het – jy verstaan nou joune, en dit maak jou sterker as hulle.”

’n Klein glimlaggie pluk aan haar mondhoeke. “Jy laat dit so maklik klink.”

Ben skud sy kop. “Jy is net onnodig krities oor jouself. Niemand daar buite het al die antwoorde nie. Sommige mense verkies om te maak of hulle alles weet en alles kan hanteer. Jy was een van die dapperes onder ons wat erken het dat hulle probleme het en hulp daarvoor gaan soek het.”

Haar skouers trek effens agteroor. “Ek het gedink ek kan miskien nou soms in die oggend gaan fliek. Ek was so gejaag toe die kinders nog in die huis was en ek altyd my horlosie moes dophou. Nou kan ek gaan fliek en agterna nog dalk ’n koffie ook gaan drink sonder om huis of skool toe te jaag. Ek kan miskien in die agterste ry sit sodat ek niemand pla as ek moet uitgaan nie.”

“Nooi my saam en ek sal die popcorn koop.”

Lenie se versigtige glimlaggie word ’n borrellaggie. “Laat ek net eers kyk of ek die fliek kan hanteer. ’n Aantreklike jong man langs my gaan my waarskynlik in asemnood dompel.”

Ben lag. “Jy is reg om huis toe te gaan. Die twyfel wat nou nog daar is, is sommer net uit gewoonte. Ek sien jou in elk geval oor ’n maand, en dan wil ek alles hoor.”

Ben groet die derde pasiënt van die dag, maar voor hy kan omdraai, gewaar hy Kristina in die deur. Hy wonder waarom hy gedurig van haar teenwoordigheid vergeet. Pasiënte is gewoonlik die eerste paar keer senuweeagtig, maar nie sy nie. Dit lyk eerder of haar lyf ligte trillings uitstuur soos ’n resiesperd wat wag dat die hek oopswaai en die wedren agter die rug kan kom. Hy kry die gevoel dat sy ook êrens heen op pad is of met iets wil klaarmaak. Sy dra ’n redelik uitgewaste blou denim, swart plathakstewels en ’n ligblou-en-wit streeptruitjie. Haar hare is in ’n kort poniestert agter haar kop vasgebind. Sy dra geen grimering nie en sy lyk vir hom nie ’n dag ouer as sestien nie. Miskien eerder twaalf, want selfs sestienjariges lyk deesdae ouer en meer wêreldwys as dit.

“Goeiemôre, kom binne.” Hy hou die spreekkamer se deur vir haar oop en sy stap by hom verby. Toe hy na die rusbank beduie, gaan sit sy sonder om iets te sê. Sy skuif tot in die verste hoek en vou haar arms voor haar. Haar een been word onder haar ingetrek. Lyftaal, dink Ben. Met haar sal hy meer bewus van lyftaal moet wees. Die lyf lieg selde.

Ben wag totdat dit lyk of sy gemaklik sit en is bly dat hy ’n oomblik het waarin hy haar net kan dophou. Hy het lanklaas ’n pasiënt gehad wat nie met ’n klaar gediagnoseerde probleem by hom aangekom het nie. Dit maak nie saak wat dit is nie, hulle weet gewoonlik wat hulle probleem is teen die tyd dat hulle hier aankom. Sy sit soos ’n skoon bladsy voor hom. Of dalk soos ’n onbekende labirint. Hy hoop sy ken die pad, want vir hom voel dit na moeite om so ’n onbekende pad aan te durf. Haar blik dwaal vlugtig deur die vertrek en dan kyk sy stil na hom.

“Het jy goed geslaap?”

“As die vraag is of ek in die nag wakker geword het, is die antwoord nee.”

“Kristina, weet jy waarom jy hier is?”

Sy maak ’n ligte beweging met haar skouers. “As ’n laaste uitweg omdat die ander nie kan uitvind wat met my aan die gang is nie.”

“Wil jy nie weet waarom so iets gebeur het nie?”

“Dink jy ek gaan beter voel as ek weet ek is besig om kranksinnig te word?”

“Kranksinnig is ’n baie sterk woord, maar ja, ek glo dit help altyd om te weet, want dan kan ’n mens beplan. Onsekerheid kan ’n kanker word wat jou stelselmatig verteer.”

Haar mond trek asof sy wil glimlag, maar haar oë kyk sonder enige emosie na hom. “Wat ’n keuse – kanker of kranksinnigheid! En wat lê nie alles tussen daardie twee nie? Abnormaal, afhanklikheid, afwyking, aggressie, aknee, angs, anorexia. Ons het ’n groot keuse van a’s wat ons tussen die twee gewraakte k’s kan sit, en dan het ons ’n wonderlike drieletterwoord.” Sy trek haar trui se moue oor haar hande.

“Is dit hoe jy voel?”

Haar mond vertrek weer byna tot ’n grynslag. “Terwyl jy nou so reguit vra, ja, dis hoe ek voel.”

“Waarom voel jy so?”

Sy trek haar skouers op. “Sou jy nie ook as jy vyf maande voor jou eindeksamen die kluts kwytgeraak het nie? Dis nie juis iets om oor opgewonde te voel nie.”

“Waarom gebruik jy woorde soos kranksinnig en kluts kwytraak?”

“Jy het self gesê dat daar fisiek niks met my skort nie. My logika sê vir my as dit nie fisiek is nie, moet dit waar­skynlik psigies wees. Is ek reg?”

Ben draai stadig die pen tussen sy vingers in die rondte terwyl hy haar woorde oorweeg. “Nie noodwendig nie. Die mens is effens meer kompleks as dit.”

Toe sy hom nie antwoord nie, gaan hy voort: “Ek wil graag hê jy moet vir my iets oor jouself vertel.”

“Staan alles nie reeds in ’n lêer nie?”

Ben knik. “Maar dis alles hoorsêgetuienis. Ek wil hê jy moet my self vertel.”

“My naam is Kristina Louisa Lazarus, vernoem na my oupa aan moederskant. Oupa Kristiaan Louis van der Merwe. Ek het ’n pa, ’n ma en tweelingbroers wat albei saam met my pa broer. Wat wil jy meer weet?” Sy verskuif haar op die bank. “My kinderjare was ongekompliseerd, straightforward en sonder drama. My pa is onteenseglik die hoof van die huis, maar hy rand nie sy vrou of sy kinders aan nie. Daar was liefde op sy tyd en straf as ons stout was. Genoeg aandag en ondersteuning. Hulle verwag nie iets van ons wat hulle nie van hulleself ook verwag nie.”

“En wat is dit?”

“Om te alle tye jou beste te lewer.”

“Kon jy dit sover regkry?”

Sy trek haar skouers op. “Kan kinders ooit aan al ’n ouer se verwagtinge voldoen? Ons is selde carbon copies van ons voorgeslagte, maar ek dink hulle probeer ons met al ons verskillende hebbelikhede aanvaar.”

“Was dit ’n groot aanpassing om uit so ’n omgewing op Stellenbosch te beland?”

“As jy wil weet of Stellenbosch my oorweldig het, nee, want ek was in die Paarl op hoërskool.”

Hy het dit nie geweet nie en skryf dit op die skoon bladsy neer.

“Waarom het jy besluit om regte te swot?”

Haar blik dwaal weer na die venster toe. “The seeds of every crime are in each of us. Tolstoi het my dalk nuuskierig gemaak.”

“En was hy reg?”

Kristina kyk vir ’n lang oomblik stil deur die venster. Oplaas kyk sy op. “Jy behoort seker die antwoord op daardie vraag beter as ek te ken.”

“Ek weet Helen swot dieetkunde, maar wat swot julle ander huismaat – wat is haar naam nou weer?” verander hy die onderwerp.

“Cato. Sy is besig met haar meestersgraad in drama.”

“Kom julle goed oor die weg?”

“Ja, ons kom goed oor die weg.” Sy sê dit soos ’n mens ’n kind antwoord.

“Vertel my van hulle.”

Toe Kristina weer haar kop lig, herken hy iets soos moedeloosheid of dalk ergerlikheid in haar blik. “Jy ken vir Helen.”

“Maar ek wil hoor hoe jy hulle ervaar.”

“Helen is soos Lisa. Hulle is solid mense. Die tipe vir wie jy enige tyd van die dag of nag kan bel as jy nood het. Cato se ma is oorlede toe sy sestien was en ek vermoed sy het haar larger-than-life-persona ontwikkel om haar onsekerheid en hartseer weg te steek. Jy sal haar ook dag en nag kan bel, maar jy sal net effens langer moet wag omdat sy eers orde in haar kop sal moet kry voor sy jou sal kan kom help.”

“Waar het julle mekaar ontmoet?”

“Ons was vir drie jaar saam in ’n koshuis.”

Haar antwoorde wissel voortdurend tussen lang monoloë en kort staccato-klanke.

“Hoe lank het jy met . . .” hy kyk na die lêer op sy skoot, “Dawid Maree uitgegaan?”

Haar blik lig asof die vraag haar onkant betrap het. “Wat op aarde het Dawid hiermee te doen? Ons het Maartmaand al uitgemaak.”

“Hoe lank het julle uitgegaan, en was jy sedertdien in ’n verhouding betrokke?” ignoreer hy haar vraag.

Sy lek oor haar lippe. “Ons het twee jaar uitgegaan, en nee, ek het nie op die oomblik tyd vir ’n verhouding nie.”

“Wie het die verhouding verbreek en wat was die rede?”

“Ek dink regtig nie dis nodig om oor Dawid te praat nie. Of is jy ’n aanhanger van die Freudiaanse denkskool? Is dit dan nie hy wat gesê het alle probleme het ’n seksuele oorsprong nie?”

Ben moet homself keer om nie te lag nie. Hy kan hom net voorstel hoe selfvoldaan Lisa sal wees as hy haar dit vertel.

“Freud het baie waarde aan geslagsdrange geheg, maar ek is nie nou besig om jou volgens enige denkskool te evalueer nie. Ek is net besig om die agtergrond vir myself in te kleur.”

“Ek het die verhouding verbreek. Die redes is privaat en het niks met my toestand te doen nie. Ek is nie besig om onttrekkingsimptome te kry nie.”

“Waar kom hy vandaan en waar het julle ontmoet?”

“Hy het in Constantia grootgeword. Sy ouers is albei argitekte en hy is hulle enigste kind. Ons het in ons eerste jaar in die klas ontmoet.”

“Is jy nog lief vir hom?”

“Met daardie vraag veronderstel jy dat ek in die eerste plek vir hom lief was?” Sy laat die woorde soos ’n vraag tussen hulle hang.

“Waarom sou jy met hom uitgegaan het as jy nie iets vir hom gevoel het nie?”

“Hy is baie bright en terselfdertyd iets vir die oog. Baie meisies het my beny.”

“Waarom het jy dan uitgemaak?”

“Die Bybel sê daar is ’n tyd om te kom en ’n tyd om te gaan. Dit was tyd om te gaan.”

Haar blik dwaal asof nikssiende tussen die venster en die vuur. Dit reën buite en die druppels loop in lang, koue trane teen die groot ruite af, terwyl die vuur rooiwarm gloei in die kaggel. Albei elemente is daartoe in staat om die gebou waarin hulle sit, te vernietig, dink Kristina afgetrokke. Dis vreemd dat mense soveel vreugde uit albei put, solank dit beheer kan word. Solank die reën buite val en die vuur binne die afmetings van die kaggel brand. Van die twee lyk die vuur die gevaarlikste, maar tog kan die reën dit blus. Miskien is koue sterker as hitte. In haar het dit ook koud geword en sy weet nie of daar genoeg vuur in die hele wêreld is om haar weer warm te maak nie.

Sy staan op. “Dis nou ook tyd om te gaan.” En met dié woorde maak sy die deur oop en trek dit sag agter haar op knip.

Ben kyk op sy horlosie. Daar is nog ’n kwartier van die sessie oor. Hy maak die lêer op sy skoot toe en strek sy bene voor hom uit. Hy is nie regtig jammer dat sy geloop het nie, want sy het hom effe onkant gevang. Dit is sy tuisveld hierdie, maar hy het nie vandag die voordeel gehad nie en hy weet nie hoe dit gebeur het nie.

Daar is ’n ligte kloppie aan die deur en dan loer Riëtte om die deur. “Is my horlosie verkeerd?”

Ben skud sy kop. “Juffrou Lazarus het besluit sy is moeg vir my.”

“Dis ’n afwisseling. Gewoonlik kry ’n mens hulle nie hier uit nie,” sê Riëtte droog en vra of hy wil koffie drink.

Die dag bly nat en triestig en ’n paar van Ben se buite-pasiënte kom laat vir hulle afsprake omdat die strate en paaie plek-plek onder water is. Hy doen sy bes om nie te ver agter te raak nie, maar dit raak ’n dol dag en hy is bly toe hy halfsewe die laaste pasiënt groet. Hy trek sy baadjie aan en tel sy tas op. Riëtte is al huis toe en hy wil net sy spreekkamer se ligte afskakel toe hy Hennie en Louise Lazarus in die wagkamer sien sit.

Ben sit sy tas neer en nooi hulle binne.

“Ons is jammer; dis al so laat . . .” begin Louise verskoning maak.

“Jy het vandag met Kristina gepraat. Dink jy jy sal haar kan help?” val haar man haar in die rede. “Wat het sy gesê?”

Ben sug onderlangs, maar nooi hulle tog om te sit. “Ek is maar nog besig om die agtergrond te kry en dis onmoont­lik om ná een afspraak te sê of ons haar sal kan help of nie. Onthou ook asseblief dat ons gesprekke vertroulik is en dat ek dit nie mag herhaal nie; nie eens teenoor u nie. Ek sal u op die hoogte hou van my bevindings, maar ek kan ongelukkig nie vir u ’n woordelikse verslag van ons gesprekke gee nie.”

Die groot man is vir ’n oomblik stil terwyl ’n verskeidenheid van emosies oor sy gesig speel. Dan kug hy, en toe hy praat, is sy stem effens minder kras. “Dokter, jy werk tog elke dag met sulke dinge; wat dink jy het met haar gebeur?”

Ben skud sy kop. “Ek weet werklik nie. Geen twee pasiënte vertoon presies dieselfde simptome nie. Elkeen se omstandighede en persoonlikheid verskil, en ’n mens moet versigtig wees om nie premature diagnoses te maak nie.” Ben kyk na Louise.

“Wanneer laas het u haar gesien?”

“Sy was Paasnaweek op die plaas.”

“Het julle niks vreemds aan haar gedrag opgemerk nie?”

Man en vrou kyk ’n oomblik na mekaar voordat albei hul koppe skud.

“Dink jy Dawid het iets daarmee te doen?”

Ben wil weer sug toe hy na Hennie kyk. “Ek weet nie, meneer Lazarus. Ek weet eerlik nie, en ek dink dit sal onverantwoordelik wees om ’n sondebok te soek terwyl ons nie seker is nie.”

“Dink jy ons kan vir ’n week of twee teruggaan plaas toe?” ignoreer Hennie Lazarus die vermaning. “Ek het nie tyd gehad om my dinge daar te reël nie.”

“Ek dink u moet dit met Kristina bespreek. Sy word op die oomblik fisiek goed versorg, maar dit sal daarvan afhang of sy u emosioneel nodig het.”

“Sy sê ons kan gaan.” Louise se stem klink moeg en verlate en Ben wens hy het die vrou nie so jammer gekry nie. Die pasiënte verg genoeg van sy aandag, hy kan nie nog oor almal se familie ook bekommerd wees nie.

“Ons sal haar mooi oppas.” Sy eie woorde klink vir hom soos ’n hol belofte, want kan een mens eintlik ’n ander oppas? Maar as dit die wanhoop in haar effens laat bedaar, is hy bereid om dit te sê, al sou hy verkies om nie sulke beloftes te maak nie.

Hennie Lazarus staan op en Ben volg sy voorbeeld. Die groot man steek sy hand uit: “Dankie dat jy ons so laat gesien het. Ons sal haar môreoggend eers kom groet voor ons ry.”

Ben stap saam met hulle tot by die buitedeur. Dan, op die ingewing van die oomblik, stap hy in die gang af tot by Kristina se kamer. Die deur staan halfoop en hy steek vas. Sy staan met platgedrukte hande teen die ruit. Die lig van die bedlampie gooi haar weerkaatsing op die donker venster. Die aggressie van die oggend is weg en so sonder woorde lyk sy byna weerloos. Ben se hand is reeds gelig om te klop, maar in plaas daarvan tree hy terug en draai geluidloos om. Hulle twee het vandag genoeg gepraat. Stilte is soms net so nodig soos woorde.

Met ander woorde

Подняться наверх