Читать книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse - Страница 6

Hoofstuk 3

Оглавление

Ben is Maandagoggend te besig om weer aan sy gesprek met Willem en Lisa te dink, en toe Riëtte net ná een kom sê Willem het gevra hy moet hom terugbel, gee hy ’n lang sug.

“Ek wil nie met hom praat nie.”

“Hy het gesê jy sal nie wil nie, maar ek moet sê dis baie dringend.”

Ben sak op sy lessenaarstoel neer en begin die bekende nommer skakel. “Hy is die naam vriend nie werd nie.”

“Kristina Lazarus se ouers wil jou kom sien,” val Willem met die deur in die huis toe hy hoor wie praat.

Ben verskuif die gehoorstuk na sy linkeroor en tel sy pen van die lessenaar af op. Hy begin sirkels op die wit bladsy van die skryfblok trek.

“Wat presies is dit wat jy nie van die woord ‘nee’ verstaan nie?”

“Ek het nie nou tyd nie. ’n Mens moet soms bereid wees om uitsonderings te maak, en nou is die tyd om dit te doen. Dit kan jou dalk sommer van ’n klomp van jou issues genees. En in elk geval, die ouers gee jou dalk een kyk en besluit hulle hou nie van jou nie.”

“I should be so lucky,” brom Ben voor hy die telefoon neersit en na die sirkels op die papier kyk. Dit vorm ’n ingewikkelde patroon wat van binne na buite uitkring en seker een of ander onderliggende betekenis moet hê, maar dis te diep vir hom.

“Meneer en mevrou Lazarus is hier,” kom sê Riëtte net na vyf die middag en Ben vra haar om koffie te maak.

Ma se haarkleur en pa se oë, is sy eerste gedagte terwyl hy sy hand na die groot, bruingebrande man uitsteek. Grys hare, donker oë en ’n groot hand wat stewig om syne sluit. Middelvyftigs, as hy moet raai.

“Ben Krige, goeiemiddag.”

“Hennie Lazarus, aangename kennis. Dit is my vrou, Louise.”

Ben verbeel hom donderweer oor die Karoo moet so klink: diep en rammelend. ’n Groot man met ’n sweepslag van ’n stem en ’n reguit blik. Hy kan verstaan waarom Willem antwoorde wil hê.

Louise Lazarus is heelwat korter as haar man en skraal gebou, met blou oë wat op die oomblik moeg lyk. Sy is ’n aantreklike vrou en goed versorg, maar nie opgesmuk nie. Sy het dieselfde tipe aardse voorkoms as haar man en dogter. Ben neem die skraal hand in syne. Sterk hande vir ’n klein vrou, maar sonder eelte. Boervroue in die Karoo het blykbaar nie meer eelte nie.

Ben beduie na die rusbank en man en vrou gaan sit langs mekaar. Hennie Lazarus kug voor hy praat.

“Baie dankie dat u bereid is om ons te sien. Dokter Uys sê u was by Kristina . . .”

Ben sien die twee paar oë wat afwagtend na hom kyk asof hulle vir ’n antwoord wag: sy bruin oë tussen sonplooie en haar see-oë wat uit donker kringe na hom staar.

Hy knik. “Maar ek het ongelukkig nie vir u ’n antwoord nie. Sulke dinge gebeur soms en dikwels herstel die pasiënt spontaan na ’n periode van rus. Dit kan ook wees dat sy net deur ’n stresvolle tyd gegaan het en beter sal voel nadat sy gerus het. As die simptome voortduur, sal ’n mens aanbeveel dat sy haar studies dalk tydelik staak en miskien vir ’n paar maande of selfs ’n jaar iets anders doen. Die werklading is op die oomblik waarskynlik baie groot. Sy lyk dalk uiterlik nie soos iemand wat maklik onder druk sal swig nie, maar niemand kan ooit honderd persent seker sê hoe ’n persoon onder sekere omstandighede sal reageer nie. Ons kan nie eens altyd sê hoe ons self sal reageer nie. Sielkundig gesproke is sy op die stadium wat ons jeug of vroeë volwassenheid noem, en dit gaan gewoonlik gepaard met eksperimentering en voorlopige keuses. Hulle ondervind soms op hierdie ouderdom ’n tweede tipe identiteitskrisis. Tot nou toe was sy ’n student en sy het waarskynlik goed gevaar in haar kursus, maar hier aan die einde van haar studie begin sy dalk aan haar eie vermoëns twyfel en wonder of sy ’n werk gaan kry en of sy dit sal kan doen. Dis nie vreemd vir jongmense om op hierdie ouderdom angstigheid te ervaar nie.”

“Dink u dis wat haar makeer?” val Hennie Lazarus Ben in die rede. “Dat sy bang is sy gaan nie volgende jaar werk kry nie?”

Ben moet die glimlag keer. “Nee, meneer Lazarus, op hierdie oomblik weet ek nie wat sy makeer nie. Ek is besig om vir u ’n paar moontlikhede te probeer skets. ’n Verdere moontlikheid is dat dit ’n reaksie is op iets wat met haar gebeur het en wat sy nie op oomblik kan of wil verwoord nie.”

“Sy sê daar het niks gebeur nie,” druis die diep stem half dwarsweg teen Ben se woorde in.

“Het een van u al sielkundige of psigiatriese behandeling ontvang?” verander Ben die loop van die gesprek.

Die grys kop skud onmiddellik. “Beslis nie.”

Dit beteken ook nie veel nie, dink Ben by homself. Daar loop baie mense rond wat sal baat by ’n sessie of twee.

“Het sy al vantevore enige simptome van angs of depressie getoon?”

Hierdie keer is dit Louise wat antwoord.

“Ek dink sy was nog altyd te besig om aan so iets te dink. Sy is ’n baie sterk mens, dokter. Dinge kry haar nie sommer onder nie.”

“Sy het blykbaar vroeër vanjaar ’n verhouding met iemand beëindig. Het u haar vriend geken?”

Hennie Lazarus se mond word ’n reguit lyn en dis Lou­ise wat antwoord: “Ons ken hom nie goed nie, maar ons het hom ’n keer of wat ontmoet. Hy was al saam met haar op die plaas. Waarom vra u?”

“ ’n Mens sal dalk op ’n stadium met hom wil gesels. Miskien het hy al vroeër tekens opgelet en nie aandag daaraan gegee nie.” Ben besluit om liewer nie oor ’n moontlike seksuele verhouding met hulle te praat nie. Hy is nie so seker hoe die groot man daarop sal reageer nie. “Dit kan dalk ’n proses wees wat al vir ’n paar maande of selfs ’n jaar of wat aan die gang is en progressief erger geword het, totdat sy nou so ’n episode beleef het. Soos ek sê, die moontlikhede is eindeloos en ek sal nie nou graag te veel wil spekuleer nie.”

“Dokter Uys sê jy het ’n privaat kliniek hier en dat jy nie net pille uitdeel nie.” Die formele “u” is weg, maar dit pla Ben nie. Wat hom wel pla, is dat Willem gesorg het dat dit nie ’n vraag is nie, maar ’n stelling.

“Dokter Uys het seker ook vir u gesê dat ek nie studente sien nie.”

Die grys kop knik. “Maar hy het ook gesê dat jy dalk ’n uitsondering sal maak. Die naaste ander kliniek is blykbaar in die stad en ons sien nie kans om haar daarheen te neem nie. Dit sal dalk beter wees om haar in ’n meer bekende omgewing te hou. En hier sal sy ook naby dokter Uys wees; sy ken hom, en al haar vriende is hier.”

Ben is bly die man het nie asseblief gesê nie, want die woord sou heel onvanpas wees by die groot gestalte. Hy weet hy gaan ja sê, en hy weet dit het min met die pa of die dogter te doen, maar alles met die vrees in die vrou voor hom se oë. “U moet verstaan dat ons eers ’n evaluasie moet doen. Ek sal vir u ’n verslag opstel en as ek bevind dat ons haar nie hier kan help nie, moet u dit asseblief aanvaar.”

Albei koppe knik, alhoewel die diep frons op Hennie Lazarus se voorkop Ben laat wonder wat die man eintlik wil sê. Hy staan egter op en beduie na die deur. “Wil u nie eers gaan kyk hoe dit lyk voor u finaal besluit nie?”

Louise Lazarus knik byna ongemerk en Ben stap voor hulle in ’n breë gang af tot in die portaal. “Hierdie is die ontvangsarea. Alle besoekers moet hier aanmeld en die pasiënte moet ook hier aanmeld voor hulle uitgaan. Dit vergemaklik net die sekuriteit en kontrole.” Hy beduie na ’n ruim vertrek regs van die portaal. “Dis ’n sitkamer met ’n televisiestel en ’n verskeidenheid bordspeletjies. Die pasiënte kan enige tyd van die dag hiervan gebruik maak. Die eetkamer is net langsaan en aan die voorkant is ’n sonstoep, wat hierdie tyd van die jaar die gewildste sitplek is.” Uit die portaal loop twee parallelle gange en Ben kies die voorste een. “Die mans en dames woon in afsonderlike gange.”

“Hoeveel pasiënte is hier?” Louise kyk by die oop deure in so ver hulle loop.

“Ons het net tien kamers. Die meeste pasiënte is buitepasiënte wat my in die spreekkamer kom sien.” Aan die onderpunt van die gang gaan staan hy en beduie na die oop deur. “Dis op die oomblik die enigste beskikbare kamer.” Hy bly staan sodat hulle kan binnestap. Dis die groen-en-wit kamer met die geblomde stoel voor die venster. Teen dié tyd weet hy watter kamer se badkamer wit teëls het en watter roomkleurig. Hy weet ook waar strepiesbeddegoed is en waar geruite patrone of blomme; watter kamers op die voortuin uitkyk en watter agtertoe. Hierdie een het ’n ou akkerboom voor die venster.

“Dit is baie mooi,” sê Louise toe sy uit die kamer kom.

“Wanneer kan ons haar bring?” Hennie staan die deuropening vol.

“U kan by Ontvangs met die suster reël. Sy sal vir u al die inligting gee.”

Ben stap saam met hulle terug voorportaal toe.

“Aan wie behoort die plek?” wil Hennie weet.

“My pa het die kliniek laat bou.”

Toe albei vraend na hom kyk, gaan hy traag voort. “Hy was ook ’n psigiater.”

“Praktiseer hy nie meer nie?”

Ben skud sy kop. “Nee, hy is oorlede.”

“Ek is jammer.” Louise lyk verleë, maar Hennie is besig om deur die groot vensters te kyk.

“Behoort die grond ook aan jou?” Die ouer man het die plattelanders se manier van uitvra. Reguit en op die man af, en dis jou probleem as jy nie daarvan hou nie.

“Ja, my pa het jare gelede die stukkie grond gekoop. Ek het iemand wat dit bewerk. In vergelyking met die grootte van die Karooplase is hierdie maar onbeduidend, maar dit hou ons aan die gang.” Die volgende vraag gaan wees of hy ’n vrou en kinders het, dink Ben stilweg, maar hulle nuuskierigheid is blykbaar vir eers bevredig, want die groot man steek sy hand uit.

“Baie dankie vir jou tyd. Ons sal met die suster en dokter Uys reël.”

Ben skud om die beurt hul hande.

“Sy is ons enigste dogter,” laat Louise stilweg hoor toe hy haar hand los en Ben het skielik ’n behoefte om haar ’n bietjie hoop te gee. Dis dikwels die familie wat die swaarste kry. Die pasiënt kry die aandag en die behandeling, maar die familie moet met die lewe aangaan, al is hulle nie altyd seker watter lewe nie, want hulle eie het skielik vreemd geword.

“Ons sal mooi na haar kyk.”

Die telefoon lui net toe hy weer sy spreekkamer binnestap. Dis Sanet wat wil weet of hy onthou dat hulle die aand saam met Willem en Lisa uitgaan.

“Moenie laat wees nie. Die plek is baie gewild en hulle gaan nie die tafel vir ons hou nie.”

Ben sê hy sal nie laat wees nie.

“Waarom klink jy so moerig?”

“Ek is nie moerig nie.”

“As jy so sê,” laat sy spottend hoor en Ben groet haastig terwyl hy na die strepe en kringe kyk wat hy al weer besig is om te trek. Sirkels sonder openinge en kringe wat nêrens heen gaan nie. Net in die rondte, al om en om in die rondte.

Kristina lê op die bed terwyl Hennie voor die venster staan en Louise haar klere in die kas uitpak.

Gemaklike klere, het hulle gesê. Slaapklere, langbroeke, hemde, truie, onderklere, haar donkergroen reënbaadjie. Stewels, skoene, hardloopskoene, pantoffels. Sy hang die wit handdoekstofkamerjas agter die badkamerdeur en pak die res van die klere op netjiese hopies in die kas. Terwyl sy vou en bêre, kyk sy kort-kort na Kristina, en wanneer sy praat, kan Kristina die kommer in haar stem hoor. Toe sy die laaste goed in die bedkassie uitpak, raak sy liggies aan Kristina se hare. ’n Gebaar wat haar weer kind laat voel.

“Ek wonder hoe hou ’n mens dit hier tussen die berge uit,” merk Hennie van die venster af op. “Dit sal my be­noud maak as ek nie verder as die volgende berg kan sien nie, maar hy hou ten minste die plek netjies. Dis meer as wat ’n mens van sy lessenaar kan sê.”

Toe niemand hom antwoord nie, gaan hy op dieselfde toon voort: “Ek sou ’n ouer dokter verkies het, want ek is nie so seker hierdie een weet wat hy doen nie. ’n Mens met soveel teorieë het gewoonlik nie ’n plan nie.” Hy rek sy nek effens. “Dis vreemd hoe normaal die mense lyk. Niemand lyk darem gevaarlik nie, of altans nie sover ek kan sien nie. Nie dat ek ook nou sal weet hoe ’n gevaarlike mens lyk nie, want die naaste wat ons mos aan so iemand kom, is ou mal Andries wat op die dorp in die koöperasie se store werk. En hy sal nie ’n vlieg skade doen nie.”

Hy gaan sit op die stoel voor die venster. “Ek het gisteraand uitgereken dat die man meer per uur vra as wat ek op die oomblik vir ’n skaap kry. Is dit nie ’n skreiende skande nie?”

“Ek dink darem nie jy kan sy kennis en tyd met ’n skaap vergelyk nie.”

“Dis die produk wat hy verkoop. As iemand ’n skaap by my koop, kan hy ten minste dadelik sien wat hy vir sy geld kry. Ons gaan hierdie man betaal sonder enige waarborg.”

“Dokter Uys het baie vertroue in hom.”

Is dit moontlik dat hulle dink ek kan hulle nie hoor nie? wonder Kristina. Of dink hulle dalk ek kan nie meer verstaan wat om my aangaan nie? Sy is bly toe ’n verpleegster hulle kom roep en sê daar is tee op die stoep.

Toe Ben sesuur die middag sy laaste pasiënt groet, dink hy vir die eerste keer weer aan Kristina.

“Riëtte, weet jy of Kristina Lazarus toe opgeneem is?”

“Ja, vanoggend al. Die ouers wou jou sien, maar jy was vol bespreek. Hulle het ’n afspraak vir later die week gemaak.”

Kristina lê in die laatmiddagskemerte opgekrul op die bed met die groen-en-wit geruite beddegoed toe Ben die kamer binnestap. Haar hare lê wanordelik om haar kop en dit lyk of sy slaap.

Ben skakel die bedlampie aan. “Kristina . . .”

Sy maak haar oë oop en lyk net vir ’n oomblik effe verward voordat sy orent kom en die hare uit haar gesig vee. Sy lek oor haar lippe asof hulle droog kan wees.

“Ek is jammer ek kom nou eers by jou uit.” Hy kyk na die foto op die bedkassie. Drie laggende meisiegesigte kyk na hom. Kristina staan tussen Helen en Cato. Haar mond is groot en oop en haar oë glinster plesierig. Dis ’n uitbundige foto, en vir ’n oomblik is dit of hy hulle kan hoor lag. Sorgvry en baldadig. “Ek hoop hulle het jou laat tuis voel en alles gewys.”

Sy kug voor sy haar kop knik. Haar bene is tot byna teen haar keel opgetrek en haar hande is asof vertroostend daarom gevou. Soos sy daar sit, lyk sy nie drie en twintig nie, dink Ben. Sy lyk soos ’n kind-vrou. ’n Jong, byna weerlose lyf, maar lewensmoeë oë. Nie meer die sorgvrye meisie van die foto nie en beslis ook nie die mens wat Lisa beskryf het nie. Miskien ’n verlangse familielid, maar dis waar die ooreenkoms ophou.

“As jy gedurende die nag iets nodig het, moet jy nie huiwer om een van die personeel te roep nie. Ek sal jou môre sien.”

“Wat sal ek nodig kry?”

Hy is vir ’n oomblik uit die veld geslaan en wonder vlugtig of sy besig is om ’n grap te maak, maar haar gesig is strak en haar blik rus stil op sy gesig.

“As jy nie kan slaap nie of as jy angstig voel en wil hê iemand moet by jou sit. Enigiets.”

“Hoe lank moet ek hier bly?” ignoreer sy sy woorde.

“Dit hang af wat ons met die evaluering vind.”

“Julle kon tot nou toe niks kry nie.”

“Willem het tot nou toe grootliks op die fisieke gefokus. Dis belangrik om eers alle moontlike fisieke probleme uit te skakel.” Ben klink vir homself soos ’n mens wat vir ’n kind iets probeer verduidelik.

Kristina bly sit met haar bene opgetrek toe hy uit is en laat sak haar voorkop op haar knieë. Op een of ander manier het sy tot by die bek van die tonnel gekom en sy weet instinktief hierdie is die laaste omdraaikans. Sy wonder of babas ook so voel as die oomblik van geboorte aanbreek. Of hulle ook soms bang is vir wat anderkant die geboortekanaal wag. Of hulle ook die lig vrees. Sy tel die foto van die bedkassie af op en staar lank daarna. Sy kan nog die dag onthou, maar nie meer waarom hulle so gelag het nie. Dis vreemd om te dink sy het iets so snaaks gevind. Die lewe is tog allermins ’n grap. Miskien het sy net té veel en té hard gelag. Miskien het haar lag opgeraak. Sy wonder of lag se klank kan wegraak, en as dit kan, waarheen dit verdwyn. Is daar êrens in die heelal ’n swart gat waarin lag kan wegraak? Dowes kan nooit hulleself hoor lag nie, maar sy wonder of hulle ook die borrels diep in hulle binnegoed kan voel; of hulle weet dat dit in ’n geluid op die lippe eindig?

Sy het êrens in haar agterkop geweet Ben Krige is ’n psigiater, maar die kere dat hulle hom by Willem en Lisa raakgeloop het was dit nooit juis ’n besprekingspunt nie. Cato kon dit nie glo toe sy dit die eerste keer gehoor het nie en het altyd allerlei opmerkings oor hom gemaak. Daar is een of ander storie aan hom verbonde, onthou sy skielik. Helen het haar lank gelede vertel nadat sy hom die eerste keer ontmoet het. As sy reg onthou, het sy pa selfmoord gepleeg toe hy nog op universiteit was. Dit was blykbaar nadat sy ma ’n paar maande vantevore verongeluk het. En asof dit nie genoeg was nie, het ’n medestudent wat op hom verlief was, een aand haar polse probeer sny omdat hy nie met haar wou uitgaan nie. Sy kan nie die detail van al die tragedies onthou nie; sy sal weer eendag vir Helen moet vra as sy genoeg belangstel om te weet. Op die oomblik stel sy egter in niemand se lewe belang nie. Haar eie het vir haar so vreemd geword dat sy haarself nie meer ken nie.

Hy gaan by haar kinderjare begin, besef sy skielik moeg. Probeer uitvind of haar pa haar nie gemolesteer het nie. Daarna gaan haar verhouding met haar ma aan die beurt kom, want blykbaar is moeder en dogter geneties geprogrammeer om vir ewig in die naelstring verstrengel te wees. Sy het nog altyd gedink hulle gesin het nie geraamtes nie. Daar is nie onoopgemaakte kaste nie. Haar ouers is goeie, godvresende mense, en sy, Calla en Pieter het waarskynlik nog nie lank genoeg gelewe om regtig geraamtes te ver­samel nie. Sy gaan staan voor die venster. Die buiteligte is aangeskakel en gloei soos paddastoele in die mislaag wat laag op die grond lê. Die akkerboom voor die venster is kaal en met die lig van onder af lyk die takke soos reusagtige vingers wat hemelwaarts wys. Sy kyk in die lug op asof sy probeer sien waarna hulle wys, maar daar is niks. Net ’n grou naghemel sonder ’n maan of sterre. ’n Godverlate, donker nag.

“Het hulle nie net ’n stuk steak nie?” Willem kyk oor die rand van die spyskaart na Sanet, wat oorkant Lisa sit, en dan na Ben langs haar. “Waarom kon ons nie net ’n lekker steak by die Dros gaan eet het nie?”

Ben trek sy skouers op, maar Sanet antwoord Willem met ’n soet glimlaggie: “Ons probeer julle ’n bietjie kultuur leer. Julle twee regresseer vinnig terug na julle grotman-dae as ’n mens nie keer nie. Die plek se kos is heerlik. Be daring. Dit sal nie doodmaak nie.”

“Ek was vanaand lus vir ordentlike vleis, nie hierdie klein ronde goedjies wat hulle vleis noem nie. Dis net genoeg om my vleislus aan te wakker.”

Lisa sit haar hand op sy been. “Moenie so baie kla nie. As jy jou kos mooi eet, kry jy dalk poeding.”

Willem kyk betekenisvol na haar. “Is dit ’n belofte?”

Lisa knik soet. “Ek sien hulle het appeltert – jou gunsteling.”

“Dis nie wat ek in gedagte gehad het nie.” Hy soen haar in haar nek en sy gee laggend pad.

“Is jy nie al te lank getroud om nog so jags te wees nie?” wil Sanet met ’n ligte frons weet.

“Is jy jaloers?”

“Miskien.” Haar blik gaan na Ben, maar hy is besig om die spyskaart aandagtig te bestudeer.

“Hoe gaan dit met my pasiënt?” verander Willem die onderwerp en Sanet se voorkop trek dadelik weer op ’n frons.

“Nee, dammit, Willem Uys! Los tog net vir een aand die siekes en lammes. Ek sukkel my gat af om die man agter daai hekke uit te kry en ek gaan nie vanaand oor pasiënte praat nie, veral nie oor syne nie. Daar moet wragtig interessanter onderwerpe wees.”

“Sal ons oor seks praat?” Willem kyk na sy vriend oorkant die tafel.

“Julle kan praat net waaroor julle wil.” Ben maak die spyskaart toe en sit effens agteroor op die stoel terwyl hy sy wynglas nader trek en ’n sluk neem.

“Ek weet nie waarom doen jy moeite om uit te gaan as jy in so ’n bedonnerde bui is nie. In die vervolg kan jy net nee sê. Ek het lank na die aand uitgesien en jy is vinnig besig om dit vir my te bederf.” Sanet skuif haar eetgerei ergerlik uit die pad asof sy nie meer lus het om te eet nie.

Ben kyk met openlike verbasing na haar. “As jy ’n scene wil maak, lig my net eers in waaroor dit gaan, want sover ek weet, het ek beslis niks verkeerd gedoen nie. Ek was betyds, ek het nie oor die plek of die kos gekla nie en ek het nie die siekes en lammes opgehaal nie. Ek is selfs bereid om oor seks te praat as dit jou gelukkig sal maak.”

“Moenie moeite doen nie. So hard up is ek nog nie.” Sanet lig haar hand om die kelner nader te roep.

“I see the bad moon arising . . .” begin Willem onderlangs sing en Lisa stamp hom met haar elmboog in die ribbes.

Met ander woorde

Подняться наверх