Читать книгу Met ander woorde - Wilna Adriaanse - Страница 9
Hoofstuk 6
Оглавление“Ek hou nie van hom nie.” Dawid Maree stoot ergerlik sy stoel agteruit en druk vir hom ’n pad tussen die studentelywe oop. Die lang kroegtoonbank staan op hierdie Vrydagaand volgepak van moeë studente wat lafenis kom soek. Tussen die baie stemme en harde musiek moet almal omtrent skreeu om gehoor te word.
“Waaroor is hy so moerig?” Cato kyk na die mense om haar by die tafel.
“Hy het blykbaar vandag ’n afspraak met Kris se kopdokter gehad en die ou het ’n paar persoonlike vrae gehad waaroor Dawid nie te opgewonde was nie.”
“Waarom het hy nie net nee gesê nie? Niemand kan hom seker verplig om met sy eks se shrink te praat nie,” laat een van die mans hoor en Cato draai ergerlik na hom.
“Mans is sulke sissies! Julle sal nie oornag borste ontwikkel as julle ’n bietjie soul searching doen nie. Nou nie dat ek dink Dawid het juis veel om te search nie, maar die bietjie wat daar is, kan dalk help. Ek dink hy’s net moerig omdat hy vir ’n slag ’n regte man gesien het. Een met outydse spiere, nie gym-induced pecs en six-packs nie.”
“Oor wie se lyf praat ons nou?” Dawid sak met ’n vol bierglas langs die tafel neer.
“Kris se kopdokter,” laat een van die mans hoor.
“Julle is befok. Hy is te oud om iets te doen en nou kry hy kicks uit ander mense se slaapkamers. Dis siek as jy my vra.”
“Moenie simpel wees nie, Dawid. Hy is so oud soos Willem en hulle het nog omtrent tot vyf jaar gelede vir die universiteit rugby gespeel. Willem sê hy sou baie ver gekom het as hy nie destyds ná sy studie opgehou het nie,” laat Helen vermakerig hoor.
“En nou dink julle hy is ’n donnerse helikopter-pilot; spaar my asseblief die voorstedelike mentaliteit.”
“Excuse me, Davey Boy . . .” Cato se stem styg bo die musiek en stemme uit. “Ons het miskien nie almal met pappa se Porsche in die wêreld gekom nie, maar fok jou, jy het nie die handboek oor styl en class geskryf nie.”
“Opium vir die massas,” gaan Dawid voort asof hy haar nie gehoor het nie. “Rugby, sonskyn en braaivleis; en ek het gedink julle het iets geleer hier. Net weer ’n bewys dat jy die girl uit die suburbs kan haal, maar nie die suburbs uit die girl nie.”
“Dawid, moenie beledigend raak nie.” Helen se stem styg bo die geraas uit. “Ek is bly jy het gegaan en ek hoop jy het alles wat jy weet vir die dokter gesê. Het jy haar gesien?”
Die blonde kop knik. “Ja, maar net vir ’n paar minute. Sy lyk nie lekker nie.”
“Het jy haar daardie dag gesien?” wil Cato weet.
“Wil jy nou weer al die vrae vra wat ek reeds geantwoord het?” Hy skud sy kop. “Nee, ek het haar nie gesien nie, want ek was huis toe. En vir ingeval jy dalk vergeet het, ons spreekwoordelike paadjies het al ’n paar maande gelede geskei. ”
“Julle is saam in die klas en julle praat tog nog met mekaar. Sy het jou dalk iets vertel.”
“Ek is nie onnosel nie en ek sou gesê het as ek gedink het sy was besig om loony te word.”
“Moenie so ’n neerhalende term gebruik nie. Jy is nie nou besig om ’n cartoon te bespreek nie.” Cato bekyk hom ergerlik oor haar glas se rand.
Dawid gooi die laaste bier in sy keel af en trek sy baadjie aan. “Ek het beter dinge om te doen as om na ’n voorstedelike drama queen te sit en luister. Goeienag.”
“Waarheen gaan jy?” Cato kan nie help om te vra nie.
“Dis persoonlik, maar wees verseker ek gaan nie rugby kyk of vleis braai nie.”
“Dit kan dalk van jou ’n man maak!” roep Cato hom agterna en Helen stamp haar in die ribbes.
“Los hom.”
“Ja, en om te dink die helfte van die kampus se meisies raak uitasem oor hom! What a waste of looks and brain power.”
“Kom ons gaan koop vir ons ’n skyf pizza, ek is nou honger,” ignoreer Helen Cato se woorde.
Cato keer haar beursie in haar hand uit. “Waarom swot ek so hard, dis nie asof ek ooit ernstig gaan geld maak in hierdie land nie. Miskien moet ek net vir my ’n ryk man soek en sy seksslaaf word. Dit klink aansienlik makliker.”
Helen staan op. “Kom, ek sal koop. Ek het nog ’n paar rand oor van die geld wat ek verlede Saterdag met die troue gemaak het.”
“Dis darem jammer bruide soek nie iemand om passasies uit Shakespeare op te voer nie.”
“Hou moed, jy is dalk Charlize se opvolger en dan kan jy eendag vir ons almal vliegtuigkaartjies stuur om vir jou in Hollywood te gaan kuier.”
“Met my luck word ek ’n kelnerin in ’n plaaslike sepie.”
Helen haak by haar vriendin in toe hulle buite kom en hulle stap in stilte die straat af. Dis koud en hulle wikkel hulleself dieper in hulle baadjies in.
“Moet julle twee nie swot nie?”
Die stem bring hulle tot stilstand en toe hulle opkyk, staan Willem, Lisa, Ben en Sanet voor hulle by die ingang na die winkelsentrum.
“Moet julle nie mense red nie?” kap Cato terug in Willem se rigting.
“Ons het ons kwota reddingswerk vir die dag gedoen.”
“Waarheen is julle op pad?” wil Lisa by Helen weet.
“Om ’n skyf pizza te gaan koop. Ons is broke en honger.”
“Julle is ook net bankrot as julle moet kos koop.” Lisa skud haar kop, maar begin in haar handsak vroetel en haal ’n honderdrandnoot uit. “Dis om kos mee te koop, nie drank nie.”
Willem sit sy arm om Lisa se skouers. “Jy klink nou nes my ma.” Sy blik verskuif na die twee meisies. “Wil julle nie gou iets gaan drink nie? Ons het ’n paar minute voor die fliek begin.”
Helen skud haar kop voor Cato kan instem. “Ons het reeds iets gedrink. Kos sal nou meer welkom wees, want ons albei moet nog vanaand gaan werk.”
Terwyl Helen praat, kyk Cato na Ben en Sanet, wat stil die gesprek volg.
“Hallo, dokter, gaan dit nog goed?”
“Goed genoeg, dankie, en met jou?”
Sy pruil haar mond. “Met my kan dit altyd beter gaan.” Dan hou sy haar hand na Sanet uit. “Ek dink nie ons is al aan mekaar voorgestel nie; ek is Cato.”
Sanet huiwer ’n oomblik voor sy haar hand ook uitsteek. “Sanet de Klerk.”
“Wil julle nie saam met ons gaan fliek nie?” nooi Willem toe dit weer stil raak, maar Cato skud haar kop.
“Do not lead us into temptation, dis moeilik genoeg om op ’n Vrydagaand te moet swot.”
“Geniet julle fliek,” begin Helen groet en dan soen sy Lisa op die wang. “Dankie vir die geld. As ons eendag ryk is, betaal ons jou dubbel en dwars terug.”
Lisa lag net voor hulle omdraai en met die trappe begin opstap.
“Helen . . .” Albei meisies draai om en Ben gee ’n tree nader. “Ek is op soek na Marcus Brink. Hy is blykbaar ’n goeie vriend van Kristina.”
Helen knik. “Ek sal hom die boodskap gee.”
“Hoe de hel moet ek nou met so iets kompeteer?” laat Cato onderlangs hoor toe hulle wegstap.
“Met wie wil jy kompeteer?”
“Met die sexy dokter se aanhangsel.” Sy sug. “Die lewe is darem vrek unfair. Wie het besluit sy mag so lyk? En wat het sy gedoen om so te lyk?”
“Cato, hou op maak asof jy Aspoestertjie se stiefsuster is.”
“Ek weet ek is nie, maar ek lyk ook nie só nie.”
“Troos jou daaraan dat seker net tien persent van die vroue in die wêreld so lyk.”
“Maar waarom kon ek nie ook een van die tien persent gewees het nie?”
Helen skud haar kop laggend. “Ek weet nie, Cato. Dis seker maar deel van die misterie van die lewe. En ten minste het jy ’n stunning persoonlikheid.”
Cato snork deur haar neus. “Wys my die man wat vir ’n girl se persoonlikheid val.”
“A, om weer student te wees!” sug Willem toe hulle ná die fliek koffie drink by ’n eetplek wat nog oop is.
“Ék wil nie weer ’n student wees nie,” antwoord Sanet.
“Ek sal nie omgee om weer vir ’n maand of wat een te wees nie.” Ben lag in Willem se rigting. “Ons tweede jaar – ek sal nie omgee om ons tweede jaar oor te hê nie. Ek dink as daar ooit ’n perfekte jaar in ’n mens se lewe is, is dit daardie een. Twintig is so ’n lekker ouderdom. Jy is beslis nie meer ’n tiener nie, maar die grootmenswêreld lê nog ver genoeg om jou nie daaroor te bekommer nie.”
“Ek kan verstaan waarom julle twee daardie jaar wil oorhê. Julle was ’n law unto yourselves. Dis ’n wonder julle het deurgekom.”
Willem lag alwetend. “ ’n Mens moet net weet hoe. En ons hét vrek hard gewerk ook.”
Sanet kyk van Willem na Ben. “Maar julle het nog harder gespeel.”
“Ons het niemand skade aangedoen nie,” protesteer Ben terwyl hy hom lui uitstrek in sy stoel.
“Behalwe ’n streep gebroke harte agter julle.”
“Dit was nie so erg nie, en ek is seker almal het dit oorleef en die meeste is vandag gelukkig getroud met een en ’n halwe kind, ’n huis in die suburbs, ’n Volvo en ’n paar kredietkaarte in die beursie.” Willem sit ook gemaklik agteroor.
Ben knik. “Of hulle werk êrens in ’n lab met die hoop om een van die dae die voorblaaie te haal met ’n nuwe kuur vir enigiets van vigs tot ouderdom. Daar was beslis ’n paar wat nie sal gaan vir die man, een en ’n halwe kind en die Volvo nie.”
Sanet skuif haar leë koppie eenkant toe en staan op. “Ek is nie lus vir julle twee se trip down memory lane nie. Ek gaan slaap liewer.”
Die ander staan ook op en by die motors groet hulle. In die motor wil Sanet weet of Ben die nag by haar gaan bly, maar hy skud sy kop.
“Nie vanaand nie, dankie. Ek sal jou môre bel.”
Haar mond gaan oop asof sy iets wil sê, maar dan draai sy net haar kop en staar deur die venster.
Ben se selfoon lui toe hy voor sy huis stilhou. Dis Wilmien Carstens, die nagsuster, wat uitasem wil weet of hy dadelik kliniek toe kan kom.
Hy stoot terug en ry vinnig met die kronkelpaadjie teen die bult af. Dis byna middernag. Wat kan hierdie tyd van die nag verkeerd wees? Almal is veronderstel om te slaap.
Die ontvangs is stil toe hy in die portaal instap, maar dan kom een van die verpleegsters om die hoek. “Suster is by Kristina Lazarus. Sy vra dokter moet asseblief gou kom.”
Ben stap haastig in die gang af, maar ’n vreemde naarheid laat sy keel bitter voel en dit laat hom ’n oomblik in haar kamerdeur vassteek. Wilmien staan met Kristina in die badkamer. Haar slaapbroek en toppie is vol bloedkolle.
“Wat het gebeur?” Hy gee vinnig ’n paar treë nader en sien dan dat die bloed van haar hand en arm afkomstig is.
“Sy het die ruit met haar hand gebreek. Die glas het haar diep gesny.” Wilmien is besig om ’n handdoek om Kristina se arm te draai, maar Ben trek Kristina uit die badkamer en terwyl hy met haar deur toe begin loop, praat hy oor sy skouer.
“Bel vir Willem Uys en sê hy moet ons by Ongevalle kry.” Hy kyk na Kristina en sien dat sy doodsbleek is. “Kan jy stap?”
Voordat sy hom kan antwoord, tel hy haar vinnig op en stap met lang treë na waar sy motor voor die kliniek staan. Hy kan voel hoe sy hemp voor teen sy bors nat word en hy sluk swaar. Kristina is doodstil in sy arms en op pad dorp toe praat sy ook nie. Hy kyk kort-kort na haar, maar kan nie in die donkerte van die motor haar gesigsuitdrukking sien nie.
Lisa staan langs Willem toe hulle by die hospitaal se ongevalleafdeling instap. Hy help Ben om Kristina op ’n bed neer te lê.
Willem begin stil die handdoek om haar arm losdraai.
“Kris . . . kan jy my hoor?”
Kristina knik, maar maak nie haar oë oop nie. Haar lyf het liggies begin bewe en Willem vra die verpleegster om ’n kombers te bring.
“Ek gaan kyk hoe diep die snye is en of daar nie nog glasstukke in die wonde is nie. Maar ek gaan jou eers iets vir die pyn spuit.” Willem moet haastig weer die handdoek vasdruk toe bloed uit die wond loop. Een verpleegster bring ’n kombers en ’n ander een stoot ’n trollie met instrumente en ’n steriele pak nader.
Terwyl Willem met vaardige vingers begin om die ergste snye te heg, staan Ben woordeloos na die meisie op die bed en kyk. Sy het nog nie een keer haar oë oopgemaak nie en kort-kort trek daar ’n rilling deur haar lyf. Haar lippe is effens blouerig asof sy koud kry. Hy wil vir haar iets sê, maar hy weet nie wat nie. Sy woorde lê êrens agter die naarheid vasgevang. ’n Naarheid wat hom by tye wil-wil oorweldig.
Toe Willem uiteindelik orent kom, vind sy vingerpunte haar pols en sy blik gaan na die muurhorlosie.
“So ja, al die snye is skoon en die ergstes is geheg,” sê hy vertroostend vir Kristina. “Maar ek dink ons moet jou vannag in die hospitaal hou en seker maak jy slaap lekker. Dan kan hulle jou darem iets vir die pyn ook gee as dit terugkom.”
Haar oë flikker net ’n oomblik oop voordat sy hulle weer toemaak. Om een of ander rede wil sy nie vanaand sien nie.
“Wil jy hê ons moet iemand bel?” kry Ben uiteindelik iets om te sê toe Willem uit die vertrek is om met die suster te gaan reëlings tref.
Sy skud haar kop.
“Hulle is reg vir jou,” maak Willem praat-praat weer sy opwagting. “Jy kan net so bly lê. Hulle gaan jou sommer met bed en al saal toe stoot.”
“Ek sal saam met jou gaan,” laat Lisa van die deur se kant af hoor.
Kristina reageer nie en al drie staan stil en wag totdat ’n portier en ’n verpleegster haar kom haal. Ben wag net tot hulle met haar in die gang uitstap, toe stap hy stil in die rigting van die buitedeur. Willem haal hom eers by sy motor in.
“Benna . . .”
Toe Ben omswaai, is sy oë donker. Daar keep ’n diep frons tussen sy oë.
“Ek is lus en donner jou.”
Willem steek sy hand uit, maar Ben ruk sy arm weg.
“Ek soek nie sulke kak in my lewe nie. Dit is presies waarom ek nie studente wil sien nie, maar jy het mos jou eie kop gevolg en gesorg dat ek die arme familie jammer kry, en nou sit ek weer eens in my lewe met ’n bebloede hemp.” Hy kyk af na sy bloedbevlekte hemp. “Ek het genoeg daarvan gehad! Ek het sommer lus en bel haar pa en sê hulle moet haar kom haal.”
“Hierdie het niks met jou te doen nie.” Willem se stem is rustig asof hy ’n kind probeer kalmeer. “Sy is net ’n pasiënt. Dis nie persoonlik nie en jy kan jouself ook nie teen alles in die lewe probeer beskerm nie. In ons tipe jobs is dit onvermydelik dat ons hande soms sal vuil word. Ons werk met mense, nie rekenaars nie. Gaan slaap nou, jy is ontsteld. Ons praat môre verder.”
Ben reageer nie en toe hy wegtrek, kyk hy ook nie na Willem, wat met sy hande in sy broeksakke die motor agternakyk nie.
Die motor is koud, en toe hy die pad teen die berg op neem, ry hy in die mis in. Sy hemp voel klewerig teen hom en hy wonder wat dit met hom en bloed is. Hy het nog nooit vir bloed gegril nie, daarvan kan sy vele nagte in die trauma-eenheid getuig. Maar hy het intussen geleer dat ’n mens verskillende tipes bloed kry, en dit het niks met bloedgroepe te doen nie. Daar is bloed deur ongelukke veroorsaak en bloed deur ’n mens se eie hand veroorsaak, en dis laasgenoemde bloed waarvan hy nie hou nie. Ongelukslagoffers se bloed kan ’n mens afwas, maar bloed wat deur ’n mens se eie hand veroorsaak is, is taai en klewerig. Soos ’n skandvlek. Of soos daardie ink waarmee banke soms hulle geld beskerm. As ’n onregmatige persoon die sak geld oopmaak, ontplof dit in jou gesig en jy kan die vlek nie afwas nie. Dis ’n teken dat jy ’n dief is. So ’n bloedvlek is ’n teken van mislukking. ’n Aanklag van iets wat jy gedoen, of nie gedoen het nie. Hy het weke gesukkel om sy pa se bloed van hom af te was, of so het dit gevoel. En Paula se bloed was tot in sy hare. Selfs nadat hy sy hare ’n paar keer laat sny het, het sy kopvel soms nog gekriewel. En vanaand kleef daar weer bloed aan hom . . . Hy sluk aan die bitterheid wat in sy mond lê.
Kristina voel hoe die bewing in haar geleidelik begin bedaar en die koue verdryf word deur die duvet en ekstra komberse wat hulle oor haar gegooi het. Sy weet sy is in die hospitaal en sy weet haar hand en pols is oopgesny, maar sy kan nie onthou hoe dit gebeur het nie. Sy kan net onthou dat sy die venster wou oopmaak. En sy onthou dat sy ’n slag gehoor het en bloed gesien het, maar sy weet nie wat dit veroorsaak het nie. Sy kan ook nie nou baie helder dink nie, want hulle het haar ingespuit en sy begin lomerig voel. Op die oomblik verwelkom sy die skadu’s wat van die grense van haar bewussyn af nader kruip. Sy kan sien hoe die wêreld se skerp kante daarin wegraak. Maar agter die grys newels is daar iets soos ’n witwarm vlam waarvan die tonge aan haar wil-wil raak. Sy kan die hitte voel deurslaan, soos ’n sonvlek op die son se oppervlak. ’n Gastregter waarvan die effek op die aarde gevoel kan word. Magnetiese storms, noem hulle dit. Êrens in haar is daar skielik ook ’n magnetiese storm. ’n Sonvlek wat met ’n vuurtong aan haar bewussyn lek.