Читать книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws - Страница 4

~ 1 ~

Оглавление

Faan Viljoen draf die twee stelle trappe op na sy ateljee. Hy groet vir Rita, sy argitekstekenaar, en druk sy kantoordeur oop.

“Blou hemp, swart jeans?” vra Rita sonder om om te kyk na hom. Sy vra dit al vir ten minste vier en ’n half van die vyf jaar dat hulle saamwerk.

“Wit hemp met blou en pers strepies,” antwoord hy.

“En swart jeans.”

“Rita!”

“Swart jeans, dus. Sê net gou weer hoeveel paar daar in jou kas is, baas?”

“My klerekas het niks met jou uit te waai nie. Skei nou uit. Het jy al koffie gemaak?”

Hy sak op die swart leerstoel agter sy lessenaar neer en skakel in op sy e-pos.

“Huh-uh,” antwoord sy. “Ek was vanoggend lus vir tee.”

“Oukei, ek sal netnou kom maak,” sê hy en kyk hoe ’n hele rits e-posse aflaai.

Die eerste een wat aflaai, is van Liselle. Sy het ’n woeste sin vir humor en stuur gewoonlik vir hom die soort grappe aan wat hy nie op sy rekenaar wil stoor nie. Hy lag ten spyte van homself. Haal sy selfoon uit en bel haar nommer.

“As jy sulke e-posse kan stuur, kan jy seker ook van aangesig tot aangesig sulke grappe vertel,” sê hy. “Hierdie winter maak my lam – het jy lus vir ’n etetjie vanaand? Dan vertel jy my nog grappe om my op te beur.”

Hy glimlag toe sy dadelik ja sê. “Reg so, sien jou vanaand so seweuur se kant by die Waterfront. Ek sal vir ons by jou gunstelingrestaurant bespreek.”

Hy druk sy selfoon in sy hemp se bosak en leun oor sy rekenaar. Nóg ’n e-pos van sy sus in Nieu-Seeland! Die afgelope drie maande stuur sy letterlik elke week vir hom ’n e-pos.

Soos die voriges het hierdie een geen boodskap nie, net ’n foto aangeheg. Ook dié foto is van Katrien. Elkeen van die foto’s die afgelope maande is van Katrien laas Desember toe sy saam met sy sus en ouers op Kleinmond vakansie gehou het.

Hierdie een is geneem op die windverwaaide strand by Kleinmond. Hy herken die plek, al was hy nie self daar nie. Hy werk in Desember. Hy doen nie Kersfees nie. Nou al vir amper elf jaar nie.

Op die foto vang die somerson Katrien se vlasblonde hare presies van bo. Dit lyk kompleet of ’n stralekrans bokant haar kop sweef.

Sy lyk al hoe meer na haar ma … Of dan, soos haar ma doerie tyd gelyk het toe hy haar laas gesien het.

Xante Knobel knip haar veiligheidsgordel vas en luister verveeld na die lugwaardin se bevele oor wat om te doen in ’n noodsituasie. Sy het al soveel keer in haar lewe van Windhoek af Suid-Afrika toe gevlieg dat dit nie eens meer na vlieg voel nie.

Sy haal die tydskrif wat sy op die lughawe gekoop het uit en begin daarin rondblaai. Al is vlieg vir haar meer bekend as bus- of treinry, beteken dit nog nie sy hou daarvan nie. Sy sorg altyd dat sy verdiep is in ’n boek of tydskrif voor hulle opstyg. Dan kan sy haar verbeel sy sit sommer in ’n bus.

Als verloop glad met die vertrek, en Xante bestel witwyn toe die lugwaardin met haar trollie verbykom. Die botteltjie wyn word saam met ’n plastiekglasie voor haar neergeplak en dan volg ’n pakkie neute en ’n papierservetjie.

Sy het pas die pakkie neute opgeëet of die vliegtuig hop deur ’n lugknik. Haar hart spring tot in haar keel. Sy haat die lugknikke. Sy neem nog ’n slukkie wyn. Nog ’n lugknik laat die vliegtuig skommel asof dit ’n bus op ’n sinkplaatpad is. Miskien moes sy liewer nie die vliegtuig met ’n bus vergelyk het nie …

Sy sluk die laaste bietjie wyn in die plastiekglasie en skroef die halfvol botteltjie toe. Sy klap die skinkbord boontoe. Dan leun sy agteroor en maak haar oë toe.

Dit help nie. Sy maak weer haar oë oop en bekyk haar naels. Vir die eerste keer in maande is hulle netjies versorg. Maar sy het lus om hulle af te kou. Een vir een. Beginnende by die linkerhand en dan oor na die regterhand. Want sy is bang.

Ja, hierdie ellendige lugknikke maak haar benoud, maar dis wat in Kaapstad op haar wag wat haar bang maak. Sy is vir die eerste keer in haar grootmenslewe op pad Kaap toe.

Haar ouers het vanoggend daarop aangedring om haar lughawe toe te neem. Toe hulle groet, het haar pa ’n pakkie in haar hand gedruk.

Eers toe sy deur doeane was, het sy dit oopgemaak. Dis ’n Garmin! In haar pa se fyn professorskriffie staan daar:

Liewe kind

Dit help om instruksies te volg, maar onthou: as jy ’n afdraai gemis het, beteken dit nog nie jy het verdwaal nie. “Recalculating” is mos die Garmin se gunstelinguitdrukking as sy vir jou ’n alternatiewe roete bepaal. Jy is nou op ’n alternatiewe roete. Dis nie goed of sleg nie; dis bloot anders as waarop jy aanvanklik ingestel was.

Enjoy the ride, my hart!

Jou ou Pa

En dis wat sy gaan doen: haar oorgee aan haar nuwe lewe in die Kaap en dit probeer geniet vir wat dit is, al is dit so radikaal anders as wat sy gemeen het haar lewe sou wees. Verlede jaar dié tyd het sy geglo sy sou nou aan die buitewyke van die Kgalagadipark besig wees met ’n fotobeeld van die nageslag van die oorspronklike San-mense. Teen Februarie vanjaar was alles gereël. Sy moes net klaarmaak met haar M-verhandeling oor plaasarbeiders in Mpumalanga, en dan sou sy en Hans en Annika met dié nuwe projek vir ’n uitgewery begin het.

Maar toe gebeur die ding met hulle drie. En nou is niks meer dieselfde nie. Níks nie.

Sy het dit wel reggekry om betyds haar portefeulje vir haar M-graad klaar te maak en haar skripsie af te rond. Hóé weet sy eintlik nie. Sy onthou amper niks van daardie tyd direk ná die gebeure nie.

Al wat verskriklik helder in haar geheue is, is haar skok daardie oggend teen die einde van April toe Annika aangekondig het: “Ek het bedank, Xante. Ek sien nie kans om alles weer in die hof te beleef nie. Ek vertrek môreaand Egipte toe. Ek het by ’n argeologiese span aangesluit. Dis ’n tweejaarkontrak.”

Xante se mond het letterlik oopgehang. Sy kon nie glo wat sy hoor nie. Sy het amper nie die krag gehad om te praat nie. “Maar Annika …?”

“Alles het verander, Xante. Niks is meer dieselfde nie. Ek is nie meer dieselfde nie. Ek kan nie hier aanbly en maak asof niks gebeur het nie.”

Sy het ’n oomblik afgekyk op haar hande en toe skuldig opgekyk. “Ek het klaar gereël dat my meubels môreoggend gehaal word. Ek gaan dit laat stoor tot tyd en wyl …”

“Tot tyd en wyl wat?” Xante het haar stem gelykmatig probeer hou, maar het klaaglik misluk.

“Tot tyd en wyl ek weer myself voel.”

Xante is ’n halfuur later weg koerant toe. Sy weet nie wat Annika die res van die dag gedoen het nie. Sý het gedoen wat sy moes by die koerant. Toe sy weer sien, was dit al ná sewe in die aand, en sy het teruggejaag na die woonstel wat sy en Annika gedeel het.

Annika se lig was af en toe Xante inloer, het sy gehoor hoe Annika liggies snork. Xante het nie kans gesien om haar wakker te maak nie.

Sy het Annika die volgende middag lughawe toe gevat, al wou dié eerder ’n huurmotor bel. “Laat my toe om net hierdie een ding vir jou te doen!” het Xante amper kwaad gesê.

“Maar Xante, die hele tyd al doen jy omtrent alles vir my!” het Annika uitgeroep. “Jy’s die een wat my staande gehou het. Ek sweer, as dit nie vir jou was nie, was ek al in groendakkies, of wat hulle ook al deesdae ’n gestig noem. Vriendin, ek voel ek het my lewe aan jou te danke!”

Toe het Annika vir die eerste keer in amper ses weke gehuil. En Xante saam met haar. Deur hulle trane het hulle later gegiggel oor hoe dit sal lyk as iemand verby die motor moet stap en sien hoe twee meisiekinders hulle oë sit en uithuil in die lughawe se parkeergarage.

Annika was vasbeslote dat Xante nie saam met haar moes ingaan nie. “Ou lam, as jy nou ry, hoef jy nie eens parkeergeld te betaal nie. Ek is bang ek verander van plan en klim nie op die vliegtuig nie as jy saamgaan. Asseblief, ry nou.”

As Xante nou terugdink aan daardie aand, wonder sy hoe sy veilig by die woonstel gekom het. Sy het só gehuil dat sy meestal nie ’n ding voor haar kon sien nie.

Tuisgekom, het sy nie eens die ligte aangeskakel nie. Sy het die voordeur agter haar gesluit, die veiligheidsketting ingehaak en net op haar bed neergeval en geslaap.

Maar toe sy die volgende oggend dikoog wakker word en kombuis toe strompel om die ketel aan te skakel, het die leegheid van die woonstel haar soos ’n meslem tussen die ribbes getref. Annika se ou lendelam leunstoel was weg. Annika se antieke lessenaar voor die noordevenster was weg. Annika se borde en koppies en Afrika-ornamentjies en Oosterse beeldjies was almal net weg.

En dis toe dat Xante geweet het: sy moet ook weg. Daar is niks meer vir haar in Johannesburg nie.

Sy het daardie oggend haar bedanking by die koerant ingedien.

“Agge nee, Xante, vat ’n paar dae,” het die redakteur geprotesteer. “Ons weet mos jy’s deur ’n rowwe tydjie. Vat ’n paar dae, gaan see toe, en dan praat ons weer.”

Maar sy het geweet die “paar dae” was ’n maksimum van twee weke, want dis al siekteverlof wat sy tot haar beskikking gehad het. En met ’n soort oerinstink het sy geweet sy is nou soos ’n gewonde dier; sy moet iewers onder ’n bossie gaan inkruip en hoop as sy haar van alles en almal afsonder, sal sy dalk oorleef …

Ná ’n week waarin haar ma-hulle niks van haar gehoor het nie, het hulle Johannesburg toe gevlieg en haar in haar woonstel aangetref: dodelik siek aan iets wat soos griep gelyk het. Maar dit was meer as net griep. Dit was totale ontreddering en moedeloosheid.

Hulle het haar Windhoek toe geneem en haar terstond by die hospitaal ingeboek. Haar geheue skop eers weer in werking aan die begin van Junie, wat beteken sy was byna die hele Meimaand totaal buite aksie.

En nou, twee maande later, is dit einde Julie en is sy op pad Kaap toe – nie Kgalagadi toe nie. Die feit dat Hans en Annika nie meer deel van die projek was nie, het die uitgewers oorreed om Xante ook van haar kontraktuele verpligtinge te verlos. Hans was nie meer daar nie. Annika was in Egipte. En sy wat Xante is, het gevoel sy is ewe ver weg van alles wat bekend was. Sy kon net sowel ook in Egipte gesit het, of Ghandrung in die Himalaja-gebergte, of Umea in Swede, of watter godverlate plekkies daar ook al op die wêreldkaart is.

Iewers in die tyd ná sy uit die hospitaal gekom het, het haar ma se boetie, Jan, by hulle aangekom op pad na sy jaarlikse jagnaweek in Namibië. Hy het twee aande by haar ouers oornag op pad noorde toe, en toe weer twee aande op pad terug na Suid-Afrika. Die laaste aand van sy verblyf het hy haar ’n vryskutpos as fotograaf by sy ateljee in Kaapstad aangebied.

Die oomblik toe hy dit voorgestel het, het sy geweet: hierdie geleentheid moet sy aangryp. Want een ding het sy ná die twee maande in Windhoek geweet: terug Johannesburg toe kan sy nie. Dit is hoegenaamd nie ’n opsie nie.

Die tyd by haar ma-hulle in Windhoek was goed vir haar. Sy weet dis wat sy nodig gehad het: totale afstand van die geografiese plek waar die ding met haar gebeur het – en jy kan kwalik ’n groter afstand hier in die suidelike deel van Afrika kry as dié tussen Mpumalanga en Namibië.

Maar dis tyd dat sy weer haar eie mens word. Dis tyd dat sy weer op haar eie twee voete staan. Sy is sesen-twintig jaar oud. Dis tyd.

Xante onderdruk met moeite die knop wat in haar keel spring. Sy verlang al klaar na haar ma-hulle. Sy weet sy gaan hulle ontsettend mis, maar nou moet sy weer ’n nuwe volwasse lewe vir haarself probeer skep. ’n Lewe sonder Annika en Hans; sonder haar joernalis-kollegas in Johannesburg; sonder haar gim-vriendinne; sonder almal vir wie sy in die amper ses jaar in Johannesburg lief geword het.

Wat gebeur het, het gebeur. Dis klaar. En verby.

Liefde in fokus

Подняться наверх