Читать книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws - Страница 9

~ 6 ~

Оглавление

Xante is die eerste Maandagoggend in Augustus al net ná sewe gereed om in te ry stad toe, maar oom Jan maan: “As jy nou ry, sit jy vas in die skoolverkeer. Tussen hier in Constantia en die stad is net mooi omtrent al die topskole in die land, en feitlik elke kind word per motor afgelaai voor die skoolhek. Jy sal veel vinniger en rustiger daar kom as jy so kwart oor agt se kant ry.”

“Nou ja, dan drink ek maar koffie en lees die koerant, nè?”

“Dis wat slim Kapenaars doen,” grinnik oom Jan.

Ná Xante die Kaapse koerant van voor tot agter deurgelees het, is dit nog nie eens agtuur nie, maar nou kan sy nie meer stilsit nie. Sy gaan haal haar handsak, en sleutel solank die agentskap se adres in die Garmin. Breestraat. Sy dink nie sy het al daarlangs gery nie.

Met die Garmin se duidelike instruksies vind sy die adres sonder enige moeite. Sy sien die agentskap se reklamebord en onthou dat sy net daarna links moet draai in die parkeerarea in.

Sy trek die toegangskaart uit die motor se asbakkie waar sy dit gebêre het vir vinnig in die hande kry. Sy sien dis ’n sensor wat die kaart lees en sy hou dit oor die ogie. Die valhek lig en sy ry deur na nommer agt.

Daar is net twee ander motors in die parkeerarea. Op nommer een staan ’n geel karretjie van ’n fabrikaat wat Xante nie ken nie en op nommer drie ’n donkerblou BMW. Dis ook ’n ouerige model en sy slaak ’n sug van verligting. Sy was bang haar ou karretjie sal sleg afsteek hier in die Kaap, maar in hierdie parkeerarea voel sy heeltemal tuis.

Die eerste paar oggende van haar nuwe werk word Xante goed besig gehou met oproepe. Mevrou Hugo het genoem dat sy ’n advertensie vir kindermodelle in die Kaapse tydskrif Child geplaas het, maar Xante het nie verwag dat die telefoon so onophoudelik sal lui nie. Dis ma’s wat hul kinders wil bring vir ’n fotosessie; pa’s wat meen hul dogtertjies gaan supermodelstatus bereik voor hulle skool toe gaan. Dis oumas wat meen hul kleinkinders is net te skatlik en sal te oulik op TV lyk …

Aan almal verduidelik Xante dat die kinders nie in Suid-Afrika op TV te siene sal wees nie, net in Europa, maar dit pla hulle min.

Wat Xante die meeste verbaas, is dat die mense deur die bank bereid is om hulle kinders op die daad stad toe te bring vir ’n fotosessie. Gaan kinders dan nie skool toe hier in die Kaap nie?

Goed, sy moet erken, die meeste van die voornemende modelle is tussen twee en sewe jaar oud, so hulle is seker nog nie in die regte skool nie, maar dis vir haar vreemd hoe dit vir die ouers moontlik is om in die middel van ’n oggend aandag aan so iets te kan gee. Wat van hulle werk? Of werk hulle vir hulleself?

“Werkloos, skattie,” verduidelik Riël toe hy die Donderdagoggend kort voor twaalf instap. “Veertig persent van die mense in Suid-Afrika het nie werk nie. Kan jy dink hoe aantreklik is modelwerk vir werklose mense? Dink net: al wat jou kind hoef te doen, is om oulik te lyk op ’n foto!”

“Hmmm, ek het nog nooit so daaraan gedink nie.” Xante druk die knoppie onder die lessenaar om die veiligheidshek te laat oopklik. Die twaalfuur-afspraak is twee minute vroeg.

“Middag,” groet sy die vrou met ’n baba op die heup. Twee kleintjies wat elkeen ’n hand vol van die vrou se rok vasklou, staan langs haar.

Die vrou dra ’n boerka, so Xante het geen benul hoe sy lyk nie, maar die kinders is pragtig. “Is hulle ’n tweeling?” vra sy en beduie na die twee kleintjies wat met oë so donker soos Bovril na haar kyk.

“Hulle is, ja. Gister twee geword. Dié dat ek nou gebel het. Die advertensie het gesê die kinders moet ouer as twee wees.”

“Dis reg, ja. Het u hulle geboortesertifikate gebring?”

Die vrou oorhandig die sertifikate en Xante begin om die vorm in te vul.

“Ek is weg,” kondig Riël aan. “Casting vanmiddag by Greens. Tatta!”

Faan is moeg. Hy het die hele week onderhandelings gehad met die regering oor sy behuisingsprojek. Hy is meer as moeg. Hy is kort voor gedaan.

Hy trek die Donderdagaand kort voor nege sy motor in die motorhuis in. Sy ma-hulle se deel van die huis is al donker. Hulle gaan vroeg slaap – soos hul gewoonte op die plaas was.

Net toe hy die voordeur van sy ou kliphuis in Kenilworth oopsluit, lui sy selfoon. Dis Liselle.

Hy antwoord, al het hy nie regtig lus om met haar te praat nie. Sy is die een wat nie sy goeie nuus saam met hom wou gaan vier nie …

“Liselle?” antwoord hy en sluit die voordeur agter hom.

“Faan, hoe gaan dit?”

“Als wel. Jy?” Hy kan dit nie help nie, maar hy kan nie spontaan met haar wees ná sy nie sy sukses saam met hom wou gaan vier nie.

“Oe, Faan, dis so erg. My kliënt … jy onthou ek het jou gesê ek het ’n belangrike saak om aan te werk?”

“Ek onthou. Ek onthou ook dat jy eintlik jou baas wou beïndruk. Wat van jou kliënt?”

“Hy’s … wel, hy’s nie meer my kliënt nie. Hy het verkies om ’n ander verteenwoordiger te kry. Dis vir my so ’n slag! En my baas praat van targets wat nie gehaal word nie en sulke goed …”

“Ai, ek’s jammer om dit te hoor.”

“Het jy nie lus om ’n drankie saam met my te kom drink nie? Ek het vanaand regtig behoefte aan geselskap – aan jóú geselskap.”

“Liselle …” Faan huiwer. Hy het pas by die huis gekom. Hy is moeg. Hy is moeër as moeg. “Liselle, nie vanaand nie. Ek moet slaap. Ek is kapot, jong. Besige week en als, jy weet?”

Sy antwoord kortaf en groet dadelik.

En dis seker nou die finale laaste wat ek van haar gaan hoor, dink Faan toe hy die ganglig afskakel en na sy vleuel van die huis stap. Hy en sy ouers en Katrien deel hierdie ou kasarm van ’n kliphuis in Kenilworth, maar eintlik voel hy hy bly nog op sy eie.

Toe hy die huis gekoop het – lank voor sy ouers se trauma – was sy idee om die grootste deel te verhuur en om self in die kleiner vleuel te woon. Hy kan hom nie indink dat hy ooit sal wil trou nie – daarvoor is hy te gesteld op sy onafhanklikheid. Maar alleen in ’n woonstel of meenthuis woon, was ook nie vir hom nie. Die huis se advertensie het gelui: Ideaal vir dokterspreekkamers, ’n kleinerige kliniek of selfs ’n groot prokureursfirma.

Hy het hom nie aan die advertensie gesteur nie, maar het geweet: ’n huis met dié soort afmetings sou hom heel moontlik toelaat om te doen wat hy wil. Hy het die huis kom bekyk en verlief geraak op die statige en stewige ou klipgebou. In sy verbeelding kon hy onmiddellik die voltooide produk sien: ’n woonstel aan die noordekant vir hom, en ’n groot woonhuis met drie slaapkamers, twee onthaalkamers, drie badkamers en ’n lieflike kombuis vir die huurders.

Dat sy ouers in minder as ’n jaar ná hy die huis opgeknap het sy “huurders” sou word, kon hy nooit voorsien het nie.

Maar nou is sy ouers en Katrien sy naaste bure. Hy bly in sy noordelike vleuel met die lekker groot hoofslaapkamer en badkamer, die kleiner maar steeds ruim gastesuite, die ruim onthaalarea binne, met ’n goeie vloei na die patio met braai-area en swembad buite, en dan die kombuis. Hy het nog altyd ’n sjef se kombuis begeer en het dit vir hom in hierdie huis ingerig.

Sy ouers en Katrien bly naby, maar tog heeltemal apart van hom in die westelike vleuel. ’n Ruim biblioteek met ’n kaggel en uitgeboude vensters is die enigste vertrek wat die twee vleuels verbind – dis die hart van die oorspronklike ou huis. Sy ouers se deel van die tuin is heelwat groter as syne, en meer as wat enige boer van ’n Kaapse erf kan verwag. Sy ouers kan dus hul plantliefde behoorlik uitleef in hierdie tuin.

Faan skink vir hom ’n drankie, voor hy op die balkon buite sy slaapkamer gaan sit. Dit was ’n goeie kopie dié. Al het hy dit gekoop voor hy geweet het wat op sy ouers en Katrien wag, het hy reg gekoop. Dit laat hulle nou almal toe om saam, maar tog apart te woon.

Liefde in fokus

Подняться наверх