Читать книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws - Страница 8

5

Оглавление

“Aangenaam om met u kennis te maak.” Mevrou Hugo steek ’n skraal hand na Xante uit.

“Ook aangenaam,” prewel Xante, en hoop die ou dame kom nie agter hoe erg haar hand bewe nie.

“My seun, wat tans die agentskap se kantoorbestuurder is,” knik die dame in die rigting van die man wat langs haar sit, en vervolg dan onmiddellik met ’n uitnodiging: “Sit gerus.”

“Gay,” gebied sy haar seun die oomblik dat Xante sit, “bestel asseblief die gewone.”

Xante kyk verbaas na die man wat hopelik ná hierdie onderhoud haar baas gaan word. Gay?

“Gabriel,” spreek hy sy naam op Engels uit. “My ma is die enigste mens wat my ooit so noem. Ek was glo so ’n vrolike ou knapie toe ek jonk was …” Hy haal sy skouers op. “Maar ek verkies deesdae Riël – om hopelik verstaanbare redes!”

Xante hou haar gesig sedig. “Natuurlik. Dis heeltemal … wel, natuurlik. Reg so.”

Riël Hugo is nie onaardig om na te kyk nie. Van ’n sekere hoek af sou jy hom selfs as aantreklik kon beskryf – as jy van ’n asketiese man met ’n porseleinwit vel en ’n pikswart toupee hou. Dis net … hierdie Kaapse mense is so ánders as wat sy gewoond is.

“Toe nou, Gay, bestel vir ons. Ek moet halfagt in Kampsbaai wees.” Mevrou Hugo draai na Xante. “Ek het jou CV gelees en jou fotoportefeulje bekyk. Jy besef natuurlik die pos is vir ’n administratiewe assistent. Jy is oorgekwalifiseer.”

“Ek het verstaan dis net ’n jaarkontrak vir ’n halfdagpos. Ek het ’n langtermynooreenkoms as vryskutfotograaf met Tripod, maar dis seisoenale werk en ek sou graag …”

“ ’n Vaste inkomste wou hê. Ja, ek weet. Is dit nie waarna almal verlang nie?”

Mevrou Hugo is nie onvriendelik nie, maar Xante weet nie mooi hoe om haar stemtoon te interpreteer nie. Is sy sarkasties of wat?

“Mevrou, ek –”

“Ek bedoel dit as ’n kompliment, juffrou …” Sy kyk af na Xante se CV wat voor haar op die tafel lê: “… Knobel.” Sy kyk op en glimlag. “Ons stel jou graag aan. Ek is net verbaas dat iemand met jou kwalifikasies en ervaring so ’n pos wil hê. Maar as dit is om ’n voet in die deur te kry in die Kaapse modewêreld, dan verstaan ek dit. Ek het ook heel onder begin. Geluk.”

Xante voel lus om haar kop ’n paar maal te skud. Die ou dame het haar nou heeltemal ontkant gevang. Hulle het nog nie eens geëet nie, en die saak is sommer kant en klaar afgehandel!

“Ek … Dankie, ek waardeer die … kompliment. Ek sal u nie teleurstel nie.”

“A! Hier is die sjampanje – kom ons klink ’n glasie,” sê Riël joviaal. “Welkom in ons span, Xante.”

Xante verkyk haar aan die verskeidenheid soesji, maki en reënboogrolletjies wat die kelner voor hulle neersit. Dit lyk sowaar te mooi om te eet, maar sy het vroegoggend laas ’n stukkie beskuit saam met koffie gehad en is nou rasend honger.

Terwyl Xante wasabi in die sojasous inroer, voel sy mevrou Hugo se blik op haar.

“Vergewe my dat ek so reguit is, maar ek werk my lewe lank met modelle – jy is lank, jy is skraal en jy het ’n interessante gesig, so hoekom wil jy – met jou voorkoms – ágter die kamera wees en nie daarvoor nie?”

Xante se eerste reaksie is eerlikheid: Omdat ek dit nie kan vat dat mense – enigiemand – na my kyk nie! Maar sy weet dit sal belaglik klink. Sy kyk immers die hele dag lank na mense deur haar kamera se lens.

Sy lag gemaak lighartig. “Ek voor ’n kamera? Nee, goeiste, mevrou! Dis net nie ek nie. Ek neem al foto’s vandat ek kan onthou en dis my enigste groot passie. Vóór ’n kamera kry jy my nooit. Ek bedoel,” probeer sy verskoning maak, “nie ‘jy’ soos mevrou self nie, maar ‘ ’n mens’ – enigeen …”

Mevrou Hugo waai haar met ’n hand stil. “Ek het dit reg verstaan. Toe dan, eet gerus.”

Xante kyk na die silwerskinkbord en kan haar oë skaars glo. Riël het in stilte feitlik die helfte van die soesji verorber!

“Skuus,” maak hy halfhartig verskoning, “ek was honger.”

“Umfaan, wat kyk jy so na daardie mense?”

“Hoe nou?” vra Faan verward en kyk na Katrien.

“Die kind probeer seker nou al goed drie minute om jou aandag te kry.” Meneer Viljoen senior se stem is rustig, geamuseerd. “Dis ’n mooi meisiekind daai, maar darem nie mooier as onse klein Katrien nie!”

Faan bring sy aandag terug na sy eie tafel. Hy glimlag sameswerend met sy pa en draai dan na Katrien. “Ek ken die ou tannie van iewers af, maar ek kan haar net nie geplaas kry nie. Wil jy sorbet vir nagereg hê?”

“Mag ek?”

“Vanaand mag jy.”

“Terloops, Faan,” sê sy ma en leun oor na hom, “dis een van die dae Katrien se verjaarsdag. Het jy lus om dit saam met ons te vier?”

Faan weet hy bly net te lank stil, maar hy weet nie hoe om te reageer nie. Katrien word tien. Hy weet dit. Dis ’n belangrike verjaarsdag … hoewel, elke verjaarsdag is sekerlik belangrik.

“Ma … Wat beplan julle?”

“Katrien wil graag ‘iets avontuurliks’ doen.” Sy ma kyk met soveel liefde na Katrien dat hy skielik verskriklik skuldig voel.

“Wat skinder julle?” vis Katrien onbeskaamd.

“Ons praat oor jou verjaarsdag, liefie. Ek vertel vir Umfaan dat jy lus het vir avontuur.”

“O, ja! Umfaan, al die ander meisies wat ek wil nooi, is soos ek. Hulle hou nog van klim en hardloop en speel en als. Niemand anders hou sulke soort partytjies nie, en ek wil!”

“Het julle idees?” vra Faan geamuseerd.

“Ouma sê met dié dat mens nie in die Kaap weet of dit mooiweer gaan wees in Augustus nie, moet ons kyk na ’n binnenshuise plek.”

“Ek het so ’n bietjie rondgevra,” voeg meneer Viljoen by, “en daar’s ’n binnenshuise rotsklimplek.”

“Die een in Obs?” vra Faan. Sy blik dwaal weer na die vrou met die rooiblonde hare. Iets aan haar fassineer hom, maar hy kan nie besluit wat dit is nie.

“Einste. Hulle doen kinderpartytjies – groepe van tien.”

“En toe’t ons gedink, Umfaan,” val Katrien weer in en sit haar handjie op sy arm, “toe’t ons gedink dan nooi ek nege maatjies en saam met my is dit tien. Tien kinders vir my tiende verjaarsdag!”

Faan bring sy blik met moeite terug na die kind voor hom. “Dit klink uitstekend, Katrien. Gaan jy my ook nooi?”

“Sal jy kom, Umfaan? Sal jy rêrig kom?”

“Ek sal, as jy my nooi.”

“Ek sal jou kaartjie vir jou moet e-pos, want dis al vólgende Vrydag – nie hierdie Vrydag wat kom nie, die volgende ene. Belowe jy sal kom?”

“Ek belowe.”

Xante voel hoe die druk in haar opbou. Sy wéét iemand kyk vir haar. Sy voel dit. Haar hart begin in haar borskas skop-skop. Sy wil kortasem word.

Sy sit haar eetstokkies skuins oor haar bordjie neer. Sy trek haar asem deur haar neus in.

“Ek wonder oor jou,” sê mevrou Hugo. “Sal jy tevrede bly?”

“Mevrou …?” Xante probeer haar stem so gelykmatig as moontlik hou.

“Ek wonder maar net. ’n Fotograaf het gewoonlik ’n kunstenaarstemperament. Sal jy dan nou anders wees?”

“Ek is vreeslik doodgewoon, mevrou …” Sy druk haar vuiste teen haar borsbeen; leun teen die tafel.

“Dink jý dalk!” Mevrou Hugo draai skuins in haar stoel. “Kyk ’n bietjie na die mense in hierdie restaurant. Sien jy enigeen wat dalk as model sou kon kwalifiseer?”

“Mevrou?” Xante gee ’n kuggie. Partykeer help dit om te hoes. Dis asof dit haar hart tot kalmte ruk.

“Ag, jinne tog, Xante, gun my ma haar geite. Sy wil weet of jy ’n oog het,” sê Riël.

Xante bekyk die mense in die restaurant. Haar blik word dié van ’n fotograaf en haar hartklop bedaar.

Daar is nie baie mense nie. Hulle is te vroeg vir die gewone toeloop saans.

Sy sien ’n groepie van vyf vrouens. Hulle lyk soos kantoorwerkers wat ’n oomblik lank van hul huistake – kinders met huiswerk en mans met aandete-eise – ontsnap het. Hulle sit in die rokersarea en kuier ’n hond uit ’n bos uit … Swart-en-wit, dink sy, met flertse neonpers, skitterpienk en glansoranje ingesit met Photoshop.

Sy kyk na die tafel naaste aan hulle. ’n Ouerige egpaar sit by ’n klein tafeltjie en hou handjies vas. Hulle lyk so sielsgelukkig dat Xante se hart ineenkrimp … Sepiatint, besluit sy. Hul ergste plooie met Photoshop verwyder, maar die glans in hul oë is helder genoeg; sy sal dit nie hoef te verhoog nie.

Langs hulle is ’n gesin: pa en ma en twee meisiekinders. Die meisies lyk hoogs verveeld, terwyl die ma en pa lyk asof hulle regtig ’n aandjie uit nodig het … Uitgewaste kleure; ge-Photoshop om te lyk asof die oorspronklike foto plek-plek (die ma en pa se kop en skouers) oorbelig is.

In die verste hoek sit ’n paartjie – dit lyk vir Xante asof hulle vir die eerste keer ’n afspraak het. Die meisie se lyftaal is ongemaklik; sy sit effens skuins gedraai. Die man leun te ver oor die tafel; dis asof hy die meisie se ruimte probeer binnedring … Geen ekstra beligting nie, behalwe miskien ’n verskuilde agterlig. Groot, diep skaduwees, met ekstra fokus op die tafel tussen die twee en hul hande – syne uitreikend, hare ineengestrengel.

Twee tafels weg van die paartjie is ’n familietafel wat pas beset is: ma en pa, twee tienerseuns en wat lyk na ’n ouma. Xante wonder of die ouma by hulle woon, en of sy uitgeneem word vir ’n spesiale ete vir haar verjaarsdag of iets … ’n Aksiefoto op stadige spoed sodat die figure gesmeer lyk, met skel, helder, vrolike kleure – effens aangehelp in Photoshop.

Xante sien hoe die twee meisiekinders wat vroeër so verveeld gelyk het, nou met belangstelling na die twee seuns kyk.

So drie tafels van hulle af sit vier mense. Dit lyk soos ’n dogtertjie saam met haar ouers. In die diep skaduwee aan die agterkant van die tafel is daar nog ’n persoon. Die dogtertjie is ’n blondekop. Nogal oulik. Effens mollig, maar pragtig. Die ma is fyn versorg, ’n mooi vrou. Die pa is ’n ewe aantreklike ouer man. Sy hare is staalgrys en agteroor gekam, sy gesig bruingebrand asof hy baie tyd buite deurbring.

Die figuur in die skadu lyk soos ’n man, maar sy kan hom nie mooi sien nie.

Vir hulle? Natuurlike beligting, skerp kontraste, met die dogtertjie se blonde kop die fokuspunt.

“Daardie dogtertjie – sy het ’n soort persoonlikheid aan haar …” sê Xante vir mevrou Hugo en knik met haar kop in die rigting van die oorkantste tafel.

“Hmmm, hoe kan jy seker wees?”

“Dis tog iets wat ’n mens weet?”

“Dalk het jy ’n oog … Ek wonder, sal ek gaan gesels?” sê sy en staan summier op.

Xante probeer haar aandag by Riël se geselsies bepaal, maar haar oë draai telkens na waar mevrou Hugo by die blonde dogtertjie se tafel staan en gesels.

Xante kan sien hoe die ma vooroor leun asof sy geïnteresseerd is.

“… so teen negeuur?” raak sy weer bewus van Riël se stem.

“Ekskuus …” Dit kos Xante vinnig dink, maar dan dring dit tot haar deur wat Riël gesê het. “Ek meen, natuurlik sal ek op die laatste teen negeuur op kantoor wees. By my vorige werk moes ek gewoonlik net na agt inklok, en by Tripod begin ons baie keer douvoordag!”

“Ek hou van rustige oggende, en die meeste van ons modelle is nie voor twaalfuur presenteerbaar nie, so ek is – soos ek gesê het – teen die heel vroegste so net na nege op kantoor. Maar as negeuur vir jou reg is … wonderlik! Dit sal seker ’n meer professionele indruk skep as daar iemand is om die foon te beantwoord en so.”

Hy eet die heel laaste stukkie maki op die skinkbord. “O, en jy hoef jou nie te bekommer oor parkering nie – ons huur twee plekke in ’n parkeerarea reg oorkant die straat. Al kom my ma nie meer gereeld in kantoor toe nie, het ons albei plekke behou – net vir ingeval. Ek parkeer gewoonlik op nommer nege, so jy kan nommer agt kry.”

Hy grawe in sy beursie en haal ’n kaart uit. “Jou toegangskaart tot die parkeerterrein. Dis myne, maar jy kan dit gebruik – ek sal sorg dat ek my ma s’n kry.”

Faan kyk mevrou Hugo met ’n frons agterna.

Daar het hy dit nou. Die oomblik toe sy haar voorstel, het sy kop in rat gespring en is sy vae vermoede bevestig. Dis ’n goeie klompie jare sedert hy haar laas gesien het en sy lyk inderdaad ouer, maar sy is steeds so formidabel soos sy daardie tyd was.

Hy het haar reeds twee keer tevore ontmoet, maar dit lyk vir hom sy onthou hom glad nie. Die eerste keer was deur Katrien se ma – by een van die agentskap se modelpartytjies, toe hy nog gestudeer het. Die tweede keer was vyf jaar gelede, toe hy in Breestraat begin werk het. Mevrou Hugo se agentskap is reg oorkant sy ateljee en sy het op sy advertensie gereageer en twee parkeerplekke by hom gehuur.

Hy moet sê, hy het haar seker goed vier jaar laas gesien. Hy neem aan sy het afgetree en laat nou die bestuur van die agentskap aan haar seun oor. Hy het dié ook al ontmoet – lank voor hy in Breestraat begin werk het. Dit was juis die glibberige Gabriël wat Katrien se ma as model gewerf het …

“Kom,” onderbreek sy pa sy gedagtes, “laat ons die rekening kry. Dis tyd vir jonge dames om in die bed te kom.”

“Vanaand is op my rekening, Pa,” herinner Faan. “Ek het julle genooi.”

Terwyl hy wag op die rekening, kyk hy onwillekeurig weer na die jong vrou wat by mevrou Hugo se tafel sit. Hy moes geweet het die vroumens met haar rooiblonde hare en spierwit vel is ’n model – die soort vrou van wie hy deesdae myle ver wegbly.

Liefde in fokus

Подняться наверх