Читать книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws - Страница 5
~ 2 ~
ОглавлениеOom Jan staan Xante op die lughawe en inwag. “Hallo, niggie-lief! Welkom in die Kaap.”
Hy vou haar in ’n warm omhelsing toe en sy voel hoe die trane in haar oë spring. Dit maak haar totaal week as mense gaaf is met haar.
Sy onttrek haar uit sy omhelsing en vryf met die agterkant van haar hand oor haar oë. “Ai, oom Jan, dis lekker om jou te sien.”
“Is jy moeg?” vra hy toe hulle begin aanstap na ’n hyser.
“Eintlik glad nie. Hoekom?” Sy draai na hom toe hulle uit die hyser klim.
“Wel, dan vat ek die lang pad huis toe sodat jy darem ’n bietjie van die Kaap te siene kan kry.” Hy sluit sy motor se alarm af en maak die kattebak oop; laai haar bagasie in.
Xante verkyk haar so ver as wat hulle ry – van die parkeerterrein van die lughawe af, wat al klaar vir haar so luuks is, tot by die uitgang, en dan oor ’n stuk pad wat heel gewoon lyk. Hoe verder hulle van die lughawe af wegry, hoe meer gewoon, en selfs armoedig, lyk als.
Dis so ánders as enige van die plekke waar sy al gewoon het. Die kontras tussen mooi en lelik is hier groter as wat sy nog ooit beleef het. Toe hulle by die lughawe uitry, het sy uitgeroep: “Maar oom Jan, ek dog Tafelberg is plat!”
“Hy is, ou kinta, hy is, maar nie van hierdie hoek af nie. Jy sien hom nou so oor Duiwelspiek se skouer, met Leeukop daar agter na regs.”
“Ek kan my dit nie voorstel nie. Van watter hoek af is hy dan plat? Ek sweer al die foto’s wat ek nog ooit gesien het, wys dis so gelyk soos ’n regte tafel!”
Oom Jan sit die motor se flikkerlig aan. “Dis omtrent net van hierdie hoek af wat hy nie plat lyk nie, en natuurlik van sy agterkant af.”
Hy kyk vinnig na haar. “As jy regtig nie moeg is nie, dan ry ons die ander pad, sodat jy kan sien hoe plat Tafelberg is.”
’n Kort entjie verder sluit hulle by die snelweg aan. So ver as wat hulle ry, is daar plakkershutte aan die linkerkant van die snelweg. “Jinne, oom, dis haglik hier.”
“Wat jy hier sien, is eintlik nog heel oukei. Daar is veel hagliker areas. Maar kom ek wys jou nou vandag eers die mooi dele van die Kaap, ja?”
“Asseblief, ja!”
Hoe nader hulle aan die berg kom, hoe groter word dit. Dit voel later vir Xante Duiwelspiek gaan omkantel bo-op die motor.
“Hier voor ons lê Hospitaaldraai. Kyk net hoe mooi is hierdie pad gemaak! Jy weet, ’n jaar gelede was dit ’n totale nagmerrie om hierlangs te ry,” vertel oom Jan.
“En dié reusegebou?” vra Xante.
“Groote Schuur, die hospitaal waar die eerste hart oorgeplant is.” Oom Jan kyk skuins na haar. “Ek kan my amper nie indink dat jy glad nie die Kaap ken nie. Jy’s dan hier gebore!”
“Maar ons is weg toe ek skaars twee was, oom Jan, en ek was nog nooit weer terug nie.”
“Hou nou nog net so ’n oomblik uit en …” Oom Jan volg die pad wat slap na links draai. “Kyk nou net! Daar is die platste van plat tafels van ’n berg, Xante!”
Xante kyk en kyk en sy kan nie ophou kyk nie. “Ry stadiger, toe, oom Jan!”
“Ek’s op ’n snelweg, bokkie, ek kan nie té stadig ry nie,” lag hy vir haar kinderlike opgewondenheid.
Xante het nie woorde om te beskryf wat sy ervaar nie. Die pad ry letterlik óór die voet van die berg, voel dit vir haar. Sy moet haar kop effens laat sak om die hele berg deur die syvenster te kan sien, so naby is dit. En soveel groter as wat dit nog op enige foto vir haar gelyk het.
“Ek dink ons ry sommer Kampsbaai om huis toe,” sê oom Jan toe hulle skerp links draai en ’n entjie verder by ’n verkeerslig stilhou. “Kan jy nog uithou?”
“Wat bedoel oom met uithou! Ek is so totaal oorweldig, ek wil nie hê dit moet ophou nie!”
Hy neem ’n smal paadjie na links en dan teen ’n steiltetjie op. Daar is ’n blommemark by die stopstraat en Xante verkyk haar aan die proteas en suikerkanne en heide wat te koop aangebied word.
Oom Jan draai links op teen die berg, dan regs verby ’n park, en ná ’n ent kom hulle by ’n verkeerslig net onderkant ’n skool.
“Jan van Riebeeck,” beduie oom Jan na die ou gebou. “Ek was hier in matriek.”
Dan draai hy links en hulle beur teen ’n steil opdraand uit, wat hoe verder hulle tussen die winkeltjies en re-staurante deurry, net nog steiler word. Xante voel later sy moet aan iets vashou om nie agteruit te skuif nie. Sy kan nie glo die motor kan teen hierdie steilte uit nie.
Oom Jan vleg behendig deur die smal straatjies. Trek weg teen ’n opdraand soos Xante weet sy nie sal kan nie. Hy swaai skerp na regs en dan links in ’n grootpad in.
“Jimmel, ons is al halfpad teen Tafelberg uit!” besef Xante.
“Wel, darem nog nie halfpad nie. Seker so amper ’n derde. Tafelberg is ’n goeie myl hoog, hoor!”
“Hoe hoog is ’n myl, oom Jan? Myle is voor my tyd.”
Hy lag. “Ag, jong, seker so iets oor die twee kilometer? So iets.”
“Dis hoog!”
“Kyk, ons is nou hier op die nek. Doer onder lê Kampsbaai en agter ons is die stadskom. En kyk net hoe hoog troon die berg nog bokant ons uit. Leeukop lyk skoon soos ’n popspeelbergie.”
“Ag, oom Jan, dankie dat jy my genooi het!” sê Xante met gevoel. “Ek was eintlik so bang om te kom, maar noudat ek hier is … Dis te mooi vir woorde!”
“Ek is bly jy het gekom, Xante. Jou lewe lê oop voor jou. Jy moet dit net self weer glo.”
Hulle ry ’n hele ent in stilte. Toe sê oom Jan: “Die Twaalf Apostels, na links.”
Eers snap Xante nie, maar dan kyk sy na links en sien dis ’n reeks bergpunte wat kompleet soos gemantelde figure lyk. Sy tel, en so wrintie, daar is twaalf van hulle!
“Bakoven,” sê oom Jan nog ’n ent verder, en dan: “Houtbaai.”
Xante verkyk haar aan die groen van bome in die diep kloof, die berghange aan weerskante van die dorpie en die bloue, bloue see doer onder.
“Ek gaan jou nie vandag oor Chapmanspiek vat nie, dis ’n rit vir ’n ander dag. As ons hier by Houtbaai afdraai en met die bergpad opry, is ons sommer nou-nou in Constantia waar ek woon.”
Die dorpie Houtbaai is nie so mooi van naby as van ver nie. Daar is skielik te veel motors rondom hulle. Dis stowwerig. Papiere en plastieksakke dwarrel in die sanderige wind, raap hulle op en gaan hang aan die lemmetjiesdraadheinings om die eksklusiewe woonkomplekse neffens die dorpie.
“Amper by die huis,” sê oom Jan toe Xante skielik moeg agteroor leun. “Net hier anderkant die nek draai ons regs, en dan is dit nog so vyf minute.”
Hy haak sy selfoon se oorstuk om sy oor en Xante hoor hom sê: “Witness? Hello. We’ll be home in five. Will you have something ready for us? I think Xante is in need of something special – she looks all wan and wasted.”
Sy sit regop. “Ek’s nie ‘wan and wasted’ nie! Net ’n bietjie oorweldig deur hierdie plek waar jy woon! Goeiste, maak die kontraste julle nie doodmoeg nie?”
“Soms, ja. Soms tog wel.”
“Wie’s Witness?” vra sy toe hy by ’n oprit intrek.
“ ’n Vriend uit Zimbabwe. Hy’s ’n sjef – opgelei in ’n Michelin-restaurant in Londen. Hy was tot onlangs ’n uitvoerende sjef by ’n tophotel in Harare, maar … Wel, daar was ’n groot familietragedie en toe het hy uitgewyk na Suid-Afrika. Sy aansoek om ’n werkspermit sloer nou al amper agt maande, so hy kuier solank by my.”
Xante verkyk haar aan die kleurryke blombeddings weerskante van die oprit.
“Hier is ons,” kondig oom Jan aan toe die motorhuisdeur geluidloos agter hulle toeskuif. “Welkom by my huis, Xante. Ek hoop jy gaan jou tydjie by ons geniet.”