Читать книгу Liefde in fokus - Zoë Gouws - Страница 7

~ 4 ~

Оглавление

Faan druk sy selfoon met ’n glimlag dood. Hy het die opdrag!

Hy tel die landlyntelefoon op en skakel ’n nommer.

“Liselle, hallo!” groet hy toe die foon beantwoord word. “Ek weet dis ’n Dinsdag en nog nie naastenby lente nie, maar ek het wonderlike nuus gekry en ek is lus om dit iewers op ’n hotel se stoep te gaan vier – met bubbly en lekker seekos! Kom vier dit saam met my, toe?”

Hy luister. Hy stap om sy lessenaar en staan by die venster en uitkyk oor Breestraat. Sy glimlag krimp. “Dit klink erg!”

Hy luister weer. Hy begin patroontjies op die papier voor hom trek. “Ek is jammer om te hoor jou baas is so veeleisend. Maar vergeet nou ’n oomblik van hom en kom eet vanaand saam met my, toe? Ek het iets om te vier en wil dit graag met jou deel!”

Hy luister weer. Sy gesig verstrak. Hy gooi die pen neer. “Ek verstaan … Als reg … Natuurlik, jou werk is baie belangrik. Bel my wanneer jy minder besig is.”

Hy sit die telefoon saggies op die mikkie terug. Hy trek met duim en voorvinger aan sy onderlip. Daar het hy dit nou. Hy het hom duidelik misgis. Liselle verkies dit om nou al te begin voorberei vir ’n strafsaak wat eers oor meer as ’n maand voorkom. Dis vir haar belangriker om haar moeilike baas te beïndruk as om iets spesiaals saam met hom te gaan vier.

Dis nogal sleg. Hulle gaan nou al ’n paar maande taamlik gereeld uit en hy geniet haar. Sy is ’n vurige entjie mens. En hulle gesels altyd lekker oor hul onderskeie beroepe. Hy het gedink sy is die een mens wat saam met hom opgewonde sou wees.

Hy tik-tik met sy vingers op die lessenaar. Ag, nou ja, nou weet hy darem waar hy met haar staan.

Hy sak op sy lessenaarstoel neer. Hy trek die linkerkantste boonste laai van sy lessenaar oop, haal sy adresboek uit. Hy glip deur die bladsye. Elke nou en dan skud hy sy kop: uh-uh … nee … ook nie … nee, hy’t nie krag nie … nee, wat, dit sal te ’n laat aand word … nee, ook nie … hy sien nie kans om Vishoek toe te ry nie … nee.

Hy gooi die adresboek eenkant toe. Hoe is dit moontlik dat hy ’n hele lys vroumense het wat hy sou kon bel, maar hy het nie lus nie? Goed, ’n hele paar van hulle sal eenvoudig nie ’n benul hê van hoe groot en hoe belangrik hierdie projek vir hom is nie en sal binne drie minute totaal verveeld wees as hy daaroor sou praat. So dit sluit hulle uit, want vanaand wíl hy sy vreugde en opgewondenheid oor sy projek met iemand deel. Daar is een …

Hy wil sy adresboek weer nadertrek, maar dan onthou hy: sy het hom en Liselle al saam gesien en daarna het sy elke keer wat hy gebel het, haar selfoon doodgedruk.

Xante volg die Garmin se instruksies tot die letter. Die laaste ding wat sy wil doen, is om in Kaapstad se suidelike voorstede te verdwaal.

Sy het gister ingeval by oom Jan se ateljee in die Waterkant, en toe vanmiddag, op haar tweede dag, het die oproep gekom. ’n Mevrou Hugo het haar vir ’n werksonderhoud genooi – nie in ’n kantoor soos Xante verwag het nie, maar in ’n restaurant doer aan die ander kant van die stad.

Waar sy netnou op die grootpad gery het – De Waalpad, wat iewers tussen die stad en die Universiteit van Kaapstad skielik ’n ander naam gekry het – was als goed en wel. Maar sedert die Garmin beveel het: “Take the next exit … now!” en sy na links geswenk het en haar nou iewers tussen Trovato Estate en Kenilworth bevind, is die strate vir haar net te smal en kronkelrig.

Boomwortels het die teer plek-plek sleg gelig, sodat sy wonder of sy na dese nuwe skokbrekers sal moet laat insit. Hier is doodgewoon te veel bome na haar smaak. Dis groot, ou bome wat met hul winterse kaal arms skynbaar sonder hoop na die hemel reik. Nee, jinne, dit laat haar gril. Dis te bruin en grys en swart. Waar’s die kleur?

Haar karretjie knik en hik deur nog ’n donga in die teerpad. Sy moet uitswaai vir ’n hele ry motors wat met twee wiele op die sypaadjie en twee in die straat geparkeer staan. Sypaadjies is hier skynbaar openbare parkeerplek in plaas van veilige stapplek vir voetgangers. Nee, kyk, ’n Kapenaar gaan sy nie gou word nie.

“Turn left at the traffic light and turn right immediately …”

Hoe de hel?

Kon die Garmin nie maar net sê sy moet skuins oor die verkeerskruising ry nie? Amper gooi sy haar karretjie om!

Dan sien sy die restaurant se naambord in neonletters: Jakes. Sy het dit sowaar gekry! Nou vir parkeerplek … Daar is niks voor die restaurant nie.

Iemand toet hard agter haar terwyl sy haar vergaap aan die pienk-en-pers Victoriaanse huis oorkant die restaurant. Wag, daar is ’n parkeerarea …

Dit kos haar nog ’n keer om die blok ry voor sy uiteindelik in die parkeerarea kan indraai.

“Ten rand an hour,” eis die vrou in uniform by die hek.

Xante betaal die tien rand met gemengde gevoelens. Tot tyd en wyl sy ’n vaste inkomste het, moet sy haar sente tel. Sy wil nie aan haar kapitaal raak nie. Die ou pensioentjie wat aan haar uitbetaal is, is maar min, maar dis darem ’n neseiertjie. As sy die geld uit die vaste deposito onttrek, sal sy moet belasting betaal daarop, en dan is daar omtrent niks oor nie. Waarvan sy nou leef, is die bietjie wat oor is in haar gewone spaarrekening wat sy opgebou het oor die vyf jaar wat sy voltyds by die koerant in Johannesburg gewerk het.

Sy is nou al amper vyf weke in die Kaap en bly nog steeds by oom Jan in die gastesuite. Dis heerlik, maar hy is ’n vrygesel en gesteld op sy privaatheid, en sy wil nie te lank inbreuk maak op sy lewe nie. Dis tyd dat sy ’n plek van haar eie kry.

Met haar karretjie veilig in ’n parkeerplek, knip sy haar veiligheidsgordel los en trek haar skouers agteroor. Dis maar die tweede werksonderhoud in haar lewe, en die vorige een was hoe lank terug!

Faan staan op en gaan maak ’n nuwe pot koffie. Hy moet erken hy is steeds vies dat Liselle nie vanaand saam met hom wil gaan nie. Dis nie asof hulle twee in ’n verhouding is nie, maar hulle geniet mekaar.

En sy het genadiglik nog nie begin dink sy het ’n aanspraak op hom nie. Dis die een ding wat hom die horries gee: as ’n vrou dink net oor hy haar ’n paar maal uitgenooi het, moet die verhouding tot ’n nuwe vlak gevoer word! Hy het geen behoefte daaraan nie. Sy onafhanklikheid is vir hom oneindig baie werd.

Hy is hoegenaamd nie gereed vir ’n ernstige of langtermynverhouding nie. En met Katrien is alles eenvoudig te gekompliseerd. Nee, wat, hy hou van sterk, professionele vrouens wat hulle eie onafhanklikheid ewe hoog op prys stel, en wat net soms ’n bietjie onskuldige pret en afleiding soek. Soos hy.

Maar die vader weet, vanaand wil hy nou ook nie eintlik alleen wees nie. Miskien …

Skielik sit hy regop. Natuurlik! Wie anders sal enigsins so opgewonde kan wees? Wie anders ken hom so goed dat hulle presies sal weet wat vanmiddag se nuus vir hom beteken!

Hy skakel sy ouers se huisnommer. Dis ’n nuwe nommer en hy ken dit sowaar nog nie uit sy kop nie … Moet hy skuldig voel daaroor? Hy skud sy kop verwoed. Hy luister hoe die foon lui.

Dis nie sy ma of pa wat antwoord nie, maar Katrien. Oupa is nog nie terug van die kwekery af nie en Ouma is in die tuin, sê sy. “Maar Ouma sê ek moet net deur die venster vir haar skree, dan praat sy so met jou.”

Hy kan sy ma net sien. Seker tot by haar elmboë vol grond en nou’s sy nie lus om eers te gaan hande was en dan weer vuil te word nie. Nou ja, dan nooi hy maar via Katrien. Alleen wil hy vanaand waaragtig nie wees nie!

“Sê vir Ouma-hulle julle eet vanaand saam met my uit – by Jakes.”

Hy hou die foon ’n entjie van sy oor af toe sy uitbundig gil.

“Ja, Jakes – ek het mos belowe eendag kan ons gaan, en dis nou eendag!”

Hy luister weer na die kind se gebabbel. “Nee, sê vir Ouma sy moet wag. Ek sal by die restaurant vertel.”

Toe die dogtertjie se aandag weer by hom is, sê hy: “Ons maak dit vroeg – sesuur. Sê vir Ouma ek kry julle by die restaurant.”

Liefde in fokus

Подняться наверх