Читать книгу Feniks - Деон Мейер - Страница 14

Tien

Оглавление

“Drie en twintig fokken kilogram, Mat. Hy’s mal in sy kop. Weet jy wat sê hy vir my? Ek het ses maande vir elke vyf kilogram. Hy is fokken mal.” Kaptein Gerbrand Vos se ronde wange is rooi van verontwaardiging. Joubert skud net sy kop in medelye. Hy wag nog vir sý fisieke gesondheidsgesprek met De Wit.

“Jissis, Mat, ek was nog altyd dik. Dis deel van my. Waar kan ’n maergat ’n poliesman wees? Kan jy dink? Buitendien, De Wit se moer. Hy kan dit nie afdwing nie.”

Joubert glimlag. “Hy kan, Vossie.”

“Se moer.”

“Polisiewet. BO moet sorg dat sy mense altyd fiks, gesond en reg vir aksie is. Dit staan daar. Jy kan maar gaan kyk.”

Vos is vir ’n oomblik stil. “Ons is Moord en Roof, Mat, nie ’n klomp konstabels by ’n afshow-eenheid nie. Hoe fiks moet ’n mens wees? Ek sal nou wel nie die Comrades kan doen nie, maar hel …”

Joubert onthou sy swemsessie van ’n paar uur gelede. Dit was nie beter as Saterdagoggend s’n nie. Die miltsteek ná vyftig meter stadige vryslag, die sigaretneerslag in sy longe wat vlam vat en brand. Ná honderd meter het hy weer snakkend na asem aan die kant vasgeklou. Hy sê niks.

“Drie en twintig fokken kilogram. Ek sal my bek moet laat toewerk.”

Hy skuifel in by die deur van Premier Bank se tak in die Heeren­gracht. Stadige, doelbewuste treë, die kierie styf vasgeklem in die linkerhand, die oë ’n meter voor sy voete gefokus in diepe konsentrasie. Sy grys hare is yl, maar netjies gekam. Die plooie om sy oë en mond lê in veelvuldige herhalings, kontoere van die ouderdom.

Hy beweeg tot by die strokietoonbank, steek sy hand in sy binnesak en haal ’n brilhuisie uit, stadig en geduldig. Sy hande bewe liggies wanneer hy die flap daarvan oopmaak en ’n swartraam-leesbril oopvou. Hy sit dit op sy neus. Die hand gaan langsaam terug na die binnesak en haal ’n vulpen uit.

Hy skroef die dop af. Hy reik versigtig uit na ’n onttrekkingstrokie en skryf met onsekere hand letters en getalle in die kolomme op die wit papier met die ligpers streep boaan.

Toe hy klaar is, word die vulpen se dop weer opgeskroef en sorgvuldig in die binnesak geplaas, die bril opgevou en in die brilkassie gedruk, die bewende hand weer in die binnesak gesteek. Die regterhand neem die strokie, die linkerhand die kierie. Hy begin sy moeisame tog na die kassier.

Die Heerengracht-tak van Premier Bank is nie dié instansie se grootste nie. Maar om mee te ding met al die ander banke se teenwoordigheid in die onmiddellike omgewing, is hierdie tak die perfekte voorbeeld van Premier se korporatiewe identiteit: ligpers matte, houtmeubels wat liggrys geverf is, wit mure met reklameplakkate daarop.

Joyce Odendaal se uniform is ook korrek – ’n ligpers baadjie en romp (’n langbroek in die winter), ’n wit bloese met valletjiekraag en ’n silwerborsspeld wat die logo voorstel – ’n sans serif pb. Joyce is twee en twintig, aantreklik en kassier van die maand.

Sy sien die ou man se rukkerige stappie, die bruin pak klere uit ’n ander era, die goue horlosieketting wat van onderbaadjiesak na broeksak strek, die das wat nie mooi deur die rumatiekhande geknoop kon word nie.

Sy sug. Sy hou nie van oues nie. Hulle is doof en hardkoppig en gaan elke transaksie na asof die bank daarop uit is om hulle te verkul. En hulle maak dikwels onnodig ’n groot ophef van die kleinste foutjie. “Môre, meneer,” sê sy nietemin vriendelik en glimlag. Daar is ’n effense gaping tussen Joyce se voortande. Sy sien die kosvlekke op die das en onderbaadjie en is dankbaar dat sy hom nie hoef te sien eet nie.

“Môre, my hartlam,” sê hy en sy dink daaraan dat die stem nog jonk klink. En die blou oë lyk ook jeugdig tussen die plooie.

“Waarmee help ons vanoggend?”

“’n Meisie soos jy kan ’n man soos ek met só baie dinge help,” sê hy in sy jeugdige stem. “Maar kom ons bepaal ons by wat op dié oomblik moontlik is.”

Joyce Odendaal se glimlag weifel nie ’n oomblik lank nie, want sy snap nie dít waarop hy sinspeel nie.

“Kry vir ons een van daardie groot banksakke en maak dit vol vyftigrandnote. Ek het ’n ou groot rewolwer hier onder my baadjie wat ek nie wil gebruik nie. Julle het so ’n mooi tak hier.”

Hy trek sy baadjie weg om die wapen vir haar te wys.

“Meneer?” sê Joyce, die glimlag sukkelend.

“Kom, my hartlam, hou jou voet weg van die alarm af en laat ons aangaan. Dié oom is haastig.” Hy glimlag. Joyce se regterhand beweeg stadig na haar gesig. Sy vryf een keer met haar wysvinger onder haar neus, haar mond nou halfoop. Dan begin haar hand bewe. Sy laat sak dit weer. Die alarmknop is vier sentimeter van haar voet af.

“Watter parfuum gebruik jy?” vra die bejaarde man kalm en toenaderend.

“You’re the Fire,” sê sy sonder om te dink en neem ’n banksak. Sy trek haar geldlaai oop en begin die note uithaal.

Joubert kom terug van die bankroof en moet hardloop om die telefoon in sy kantoor op te tel.

“Hou aan vir dokter Perold, asseblief.”

Hy hou aan.

“Kaptein?”

“Dokter?”

“Ek het nie goeie nuus nie, kaptein.”

Joubert se maagspiere trek saam. Hy wonder of die dokter nou oor sy leesbril na die telefoon staar. Joubert wag.

“Jou cholesterol, kaptein. Ek het die verslag na jou bevelvoerder deurgestuur, maar ek wil self ook met jou praat.”

“Ja.”

“Dit is hoog, kaptein. Baie hoog.”

“Is dit sleg?”

Die geneesheer maak ’n eienaardige geluid aan die ander kant. “Dit is ’n aanvaarbare beskrywing van jou posisie, kaptein. Saam met die rook, die oorgewig en die familiegeskiedenis sou ek dit as sleg beskryf, ja.”

Moet hy die dokter vertel dat hy Saterdagoggend begin swem het? “Ons moet jou op medikasie kry. En ’n dieet. Dadelik.”

Joubert sug. “Hoe moet ek maak?”

Hy koop ’n kortverhaalbundel, The 1990 Hugo Award Winners, en ’n roman van Spider Robinson wat baie sterk deur Willy aanbeveel is. Die kinders speel krieket in die straat voor sy huis. Hy moet wag tot hulle die kartonkas wat as paaltjies dien, verskuif voor hy in sy oprit kan stilhou.

Die swem van die oggend het hom honger gemaak. Daar is ’n blikkie boontjies in tamatiesous in die kas, eensaam in ’n hoek. Hy wonder of dit sleg is vir cholesterol. Môre sal die dieetkundige hom kan sê. Hy haal ’n Castle uit die yskas. Hy het iewers gelees dat bier vol gesonde vitamine en minerale is. Hy knik dit oop, haal die plastiekhouer met cholesterolpille uit sy baadjiesak, sit ’n pil op sy tong en sluk dit met die bier af. Die bier is koud en laat hom sidder. Dan stap hy sitkamer toe. Hy gaan sit en steek ’n Special Mild aan. Die sigaret bevredig hom nie. Miskien moet hy teruggaan na Winstons, net minder rook. Of het rook ook ’n invloed op cholesterol? Hy suig hard aan die sigaret, maar dit maak geen verskil nie. Hy maak die slapbandboek oop by die eerste verhaal, deur Isaac Asimov.

Daar is ’n klop aan die voordeur.

Joubert skuif die bier agter sy stoel in en staan op. Hy maak die voordeur oop.

Jerry Stoffberg staan op die stoep. En agter hom skuil Yvonne.

“Naand, Mat.” Stoffberg is nie so opgewek soos gewoonlik nie.

Joubert weet waarom Stoffberg hier is en hy voel ’n drukking op sy bors en wonder vir ’n oomblik of dit die eerste teken van ’n hartaanval is.

“Hallo, Stoffies,” sê hy en sy stem wil nie aan die gang kom nie.

“Kan ons inkom, Mat?”

“Natuurlik.” Joubert hou die deur oop. Hy sien dat die meisie hom nie in die oë wil kyk nie en hy weet wat hy vir Stoffberg moet sê. Niks het gebeur nie. Stoffberg moet besef. Niks het nog gebeur nie.

Hulle stap in stilte na die sitkamer. Joubert se sigaret staan nog en rook in die asbak.

“Sit gerus,” sê hy, maar Stoffberg sit al op die bank. Sy dogter gaan sit langs hom, asof sy ondersteuning soek. Joubert sluk. Die drukking op sy hart is groter.

“Mat, ek is jammer ons kom pla, maar daar het ’n ongelukkige ding in ons familie gebeur.”

“Daar het niks gebeur nie,” sê Joubert benoud en sluk die oormaat speeksel in sy mond swaar af.

“Ekskuus?” Stoffberg verstaan nie. Joubert sien Yvonne frons vir hom, vies.

“Wat … het gebeur, Stoffies?”

“My suster se swaer is gisteraand oorlede. In Benoni. Hartaanval. Op agt en dertig. In die fleur van sy lewe. Tragies.” Hy kyk na Joubert se sigaret in die asbak. “Hy het ook maar kwaai gerook, weet jy.”

Daar gaan ’n lig op vir Joubert. Hy snap Stoffberg se houding vir die eerste keer. Dit is die man se professionele gesig. Die begrafnisondernemer op diens. Die druk op Joubert se hart is weg.

“Ek is jammer om dit te hoor.” Yvonne se frons verdwyn.

“Hulle wil hê ek moet hom kom begrawe, Mat.” Stoffberg bly ’n oomblik stil. Joubert weet nie wat om te sê nie. “Dit is vir my ’n groot eer. Nie ’n aangename taak nie. Maar ’n eer. Die begrafnis is aanstaande Woensdag. Maar nou het ons ’n probleem. Ek het jou hulp nodig, Mat.”

“Ek help graag, Stoffies,” sê hy met gevoel.

“Jy sien, Bonnie begin Woensdag by die technikon.” Stoffberg sit sy arm om sy dogter en kyk trots na haar. Sy stem staan gewigtigheid af. “Ja, Mat, pa se baba het grootgeword. Sy gaan skakelwese studeer.” Yvonne Stoffberg druk haar kop teen haar pa se skouer soos ’n klein dogtertjie en glimlag soet vir Joubert.

Stoffberg se stem herwin sy professionalisme. “Sy kan nie saamgaan nie, Mat. En haar maats is almal nog met vakansie. Ons kan seker vra dat sy by tannie Pretorius op die hoek bly, maar daardie rooikopseun van haar …”

Stoffberg druk die palms van sy hande teen mekaar, pleitend. “Toe stel Bonnie self voor ons kom vra jou of sy hier kan bly, Mat.”

Hy besef nie dadelik wat Stoffberg sê nie, want hy dink aan die ironie van Stoffberg se vrees vir die rooikopseun. Stoffberg interpreteer sy stilte as huiwering.

“Jy is die enigste een wat ons kan vertrou, Mat. Ek meen, jy is ’n poliesman. En dit is net vir ’n week. Bonnie het gesê sy kan vir jou kosmaak en sorg. En uit jou pad uit bly. Dit is maar eintlik net die aande. In die dag sal sy by die huis wees. Ek sal dit baie waardeer, Mat.”

“Hel, Stoffies …”

“Sê vir oom Mat jy sal nie in sy pad wees nie, Bonnie.”

Sy sê niks. Sy glimlag net soet.

Joubert weet wat hy gaan antwoord. Maar hy veg vir sy integriteit. “Ek werk dikwels in die aande, Stoffies…”

Stoffberg skud sy kop, gewigtig instemmend. “Ek verstaan, Mat. Maar sy is darem al mooi groot.”

Joubert kan aan geen ander verskoning dink nie. “Wanneer ry julle, Stoffies? Ek sal vir haar ’n sleutel moet gee.”

“Môreoggend,” praat Yvonne Stoffberg vir die eerste keer, haar oë kuis afgeslaan na die mat.

Hy kyk vir ’n oomblik na haar. Hy sien sy kyk vinnig op en glimlag vir hom. Hy kyk terug na Jerry Stoffberg, maar vermy die man se oë.

Feniks

Подняться наверх