Читать книгу Feniks - Деон Мейер - Страница 7

Drie

Оглавление

Speurder-sersant Bennie Griessel noem die Moord-en-Roof-gebou in Kasselsvleiweg, Bellville-Suid, “Die Kremlin”.

Bennie Griessel is die een met die ironiese humor, gesmee op die smidsvuur van nege jaar se misdaadoplossing. Bennie Griessel noem die gereelde oggendparade in Die Kremlin se paradekamer “’n sirkus”.

Maar dit was ’n siniese opmerking in die tyd van die asketiese kolonel Willie Theal, die een van wie vet sersant Tony O’Grady gesê het: “There, but for the grace of God, goes God.” O’Grady het hard gelag en vir niemand gesê hy het die kwinkslag by Churchill gesteel nie. Nie een van die speurders het dit in elk geval geweet nie.

Vanoggend is anders. Theal, bevelvoerende offisier van Moord en Roof, het op 31 Desember met vervroegde pensioen afgetree en gaan nou groente kweek op ’n hoewe by Philippi.

In sy plek kom kolonel Bart de Wit. Aangestel deur die Minister van Wet en Orde. Die nuwe swart Minister van Wet en Orde. Moord en Roof is nou, vanaf 1 Januarie, ook amptelik deel van die nuwe Suid-Afrika. Want Bart de Wit is ’n voormalige lid van die ANC. Wat sy partylidmaatskap neergelê het voor hy dié bevel aanvaar het. Want ’n poliesman moet onpartydig staan.

Toe Joubert om sewe minute ná sewe op die tweede Januarie by die paradekamer instap, sit veertig speurders al op die blougrys staatsdiensstoele wat teen die vier mure in ’n groot reghoek gepak is. Die gedempte gegons bespiegel oor die nuwe man, dié Bart de Wit.

Bennie Griessel groet Mat Joubert. Kaptein Gerbrand Vos groet Mat Joubert. Die res gaan voort met hul bespiegelinge. Joubert gaan sit in die hoek.

Om presies kwart oor sewe kom die brigadier in volle uniform die paradekamer binne. Agter hom stap kolonel Bart de Wit.

Een en veertig pare oë volg hom. Die brigadier gaan staan voor, langs die televisiestel. De Wit gaan sit op een van die twee leë stoele. Die brigadier groet en wens almal ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Dan begin hy met ’n toespraak, maar die speurders luister nie met aandag nie. Hul mensekennis, hul vernuf om ander op te som, is op die bevelvoerder toegespits. Want in hom is hul professionele toekoms opgesluit.

Bart de Wit is kort en skraal. Sy swart hare is yl voor en agter, op die kroon. Sy neus is ’n snawel, met ’n vet moesie op die grens tussen orgaan en wang. Hy is nie ’n indrukwekkende figuur nie.

Die brigadier se toespraak oor ’n veranderende omgewing en ’n veranderende polisiemag staan einde se kant toe. Hy stel De Wit bekend. Die bevelvoerder staan op, maak keel skoon en vryf met ’n wysvinger oor die moesie.

“Kollegas, dit is vir my ’n groot voorreg,” sê hy en sy stem is nasaal en hoog soos ’n elektriese bandsaag. Sy hande is agter hom gevou, sy kort gestalte uitgestrek en regop, die skouers agtertoe getrek.

“Die brigadier is ’n besige man en het gevra dat ons hom asseblief moet verskoon.” Hy glimlag vir die brigadier, wat groetend na die deur stap.

Dan is hulle alleen, die nuwe bevelvoerder en sy troepe. Hulle kyk na mekaar, takserend.

“Goed, kollegas, dit is tyd dat ons kennis maak. Ek ken u al, want ek het die voorreg gehad om u dienslêers onder oë te neem, maar u ken my nie. En ek weet hoe maklik gerugte oor ’n bevelvoerder kan ontstaan. Daarom neem ek graag die vrymoedigheid om aan u ’n kort lewenskets voor te hou. Dit is waar dat ek geen plaaslike ervaring in polisiëring opgedoen het nie. Maar daarvoor moet u die apartheidsregime bedank. Ek was besig met polisiekunde deur Unisa toe my politieke oortuigings dit vir my onmoontlik gemaak het om in my moederland te bly …”

De Wit het ’n tengerige glimlag op sy lippe. Sy tande is effens geel, maar eweredig. Sy woorde is elkeen afgerond, perfek.

“In die vreemde, tussen ’n Gideonsbende van patriotte, het ek die voorreg gehad om my studie voort te sit. En sedert 1992 was ek deel van die ANC se kontingent wat die Britse aanbod van opleiding aanvaar het. Ek was meer as ’n jaar lank by Scotland Yard, menere.”

De Wit kyk oor die paradekamer heen, asof hy verwag dat iemand gaan hande klap. Die vinger vryf weer oor die moesie.

“En ek het verlede jaar by Scotland Yard navorsing vir my doktorale verhandeling gedoen. Ek is dus op die hoogte van die modernste misdaadbekampingsmetodes wat nou in die wêreld aan die ontwikkel is. En u …”

Die moesie-vinger maak ’n vierkant in die lug om al een en veertig in te sluit.

“… gaan die voordeel van daardie ervaring kan benut.”

Weer ’n geleentheid vir applous. Die stilte in die vertrek is dawerend. Gerbrand Vos kyk na Joubert. Vos se mond vorm geluidloos die woord “patriotte” en slaan sy oë op na die hemel. Joubert kyk af grond toe.

“Goed, dit dan wat my geloofwaardigheid betref. Kollegas, ons is almal bang vir verandering. U weet, Toffler sê jy kan nooit die impak van verandering op die mens se psige onderskat nie. Maar aan die einde van die dag moet ons verandering bestuur. Die eerste manifestasie daarvan is vir my om vir u te sê wat ek van u verwag. As ek u voorberei op die verandering, kan u dit makliker fasiliteer …”

Bennie Griessel stamp met die palm van sy hand teen sy kop, net bokant die slaap, asof hy die ratte binne weer aan die tik wil kry. De Wit mis die gebaar.

“Ek verwag net een ding van u, kollegas. Sukses. Die minister het my hier aangestel omdat hy sekere verwagtinge koester. En ek wil die soort insette lewer wat aan daardie verwagtinge sal voldoen.”

Hy steek sy wysvinger in die lug. “Ek sal probeer om ’n klimaat te skep waarbinne u sukses kan behaal – deur gesonder, moderne bestuursbeginsels en opleiding in die jongste misdaad­bekampingstegnieke. Maar wat verwag ek van u? Wat is u deel van die kontrak? Drie sake …”

Die wysvinger kry twee vriende wat dramaties voor De Wit gehou word.

“Die eerste is lojaliteit. Teenoor die Mag en sy doelstellings, teenoor die eenheid en u kollegas en teenoor my. Die tweede is toewyding. Ek verwag werk van gehalte. Nie negentig persent nie, maar honderd persent. Ja, kollegas, ons moet ook streef na zero defek.”

Die speurders begin ontspan. Die nuwe man praat ’n nuwe taal, maar die betekenis bly dieselfde. Hy verwag niks anders van hulle as enige van sy voorgangers nie. Meer werk teen dieselfde, onvoldoende salaris. Resultate, sodat sy agterhoede gedek is hoër op. En sy kanse op bevordering verseker is. Hulle is gewoond daaraan. Hulle kan daarmee saamleef. Al was hy lid van die ANC.

Joubert haal die rooi pakkie Winstons uit sy sak en steek een aan. ’n Paar ander volg sy voorbeeld.

“Die derde is fisieke en geestelike welstand. Kollegas, ek glo onwrikbaar daarin dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Ek weet dat ek my ongewild by u gaan maak op die kort termyn, maar ek is bereid om dié kans te waag.”

De Wit se vingers knoop agter sy rug en hy trek sy skouers weer agtertoe, asof hy ’n aanslag verwag. “Elkeen van u sal voortaan twee keer per jaar ’n mediese ondersoek moet ondergaan. Die uitslae daarvan bly vertroulik, tussen u en my. Maar as die geneesheer sekere … tekortkominge in u fisieke mondering vind, verwag ek van u om dit reg te stel.”

Die hande kom los agter die rug. Die palms draai na vore, asof hy ’n aankomende aanvaller wil afweer.

“Ek weet, ek weet. By die Yard was dit dieselfde. Ek weet hoe moeilik dit is om voortdurend fiks te wees. Ek ken u stresvlakke, u lang ure. Maar, kollegas, hoe fikser u is, hoe makliker sal u die struikelblokke kan oorkom. Ek wil nie persoonlik raak nie, maar daar is van u wat oorgewig is. Daar is van u wat rook en drink …”

Joubert staar na die sigaret in sy hand.

“Maar ons gaan dit saam aanpak. Saam u lewenstyl verander, saam u help om ontslae te raak van u swak gewoontes. Onthou, kollegas, u is die room van die Mag, u dra die beeld na binne en na buite uit, u is ambassadeurs, skakelbeamptes. Maar die heel belangrikste: u het ’n verantwoordelikheid teenoor uself om u liggaam en gees in stand te hou.”

Weer die huiwering, om geleentheid vir applous in te ruim. Joubert druk die sigaret dood. Hy sien hoe Vos sy kop na sy hande laat sak. Vossie rook nie, maar hy het ’n bierpens.

“Goed,” sê kolonel Bart de Wit, “kom ons hanteer die sake van die dag.” Hy haal ’n notaboek uit sy baadjie se sak en maak dit oop. “Kaptein Marcus Joubert … Waar is kaptein Joubert?”

Joubert steek sy hand halfmas op.

“Aaaa, ons sal netnou formeel kennis maak, kaptein. Is dit Marcus? Noem hulle jou …”

“Mat,” sê Joubert.

“Hoe?”

“Ozite,” sê iemand aan die oorkant van die vertrek en ’n paar speurders lag gedemp.

“Mense noem my Mat,” sê Joubert harder. De Wit hoor verkeerd. “Dankie, kaptein. Goed, kaptein Max Joubert is dan leier van die bystandspan vir die week wat kom. Saam met hom is luitenant Leon Petersen, adjudante Louw en Griessel. Sersant O’Grady, konstabels Turner, Maponya en Snyman. Ek sal u nog almal leer ken, kollegas. Dan het kaptein Gerbrand Vos die bystandspan oor die feestyd gelei. Kaptein Vos, is daar sake wat u wil bespreek?”

Die professionele lewe van ’n Moord-en-Roof-speurder laat nie veel ruimte vir langdurige simpatie wanneer ’n kollega die kluts kwytraak nie. Daar is begrip, want dit kan met enigiemand gebeur. Daar is dankbaarheid dat dit nie met jou gebeur het nie. En daar is simpatie wat ’n maand, dalk twee, hou – tot die gevalle kollega ’n meulsteen word in die uitvoering van jou plig.

Twee medelede van Moord en Roof het hul simpatie teenoor Mat Joubert twee jaar lank behou – elkeen om sy eie rede.

Vir Gerbrand Vos is dit nostalgie. Hy en Joubert het saam begin as speurder-sersante by Moord en Roof. Die twee blink nuwe sterre. Willie Theal het hulle laat meeding, laat wedywer om hoër en hoër louere, maar hulle is saam bevorder tot adjudant, tot luitenant. In die Mag was hulle ’n nasionale legende. Die Burger het ’n lekkerleesartikel op die middelblad oor hulle gedra met hul bevordering tot kaptein. Saam-saam. Die verslaggeefster was duidelik beïndruk deur elkeen. Kaptein Vos is die ekstrovert, die groot man met die engelgesig, die kuiltjies in die wange en die babablou oë. Kaptein Joubert is die stil een, nog groter, met skouers wat ’n deur kan vol staan en die gesig van ’n valk – bruin oë wat deur jou kan kyk, het sy melodramaties geskryf.

En toe kom Lara se dood en Vos aanvaar dat sy kollega nie meer kan wedywer nie. En hy wag dat Joubert die proses van rou moet afhandel. Gerbrand Vos wag nog steeds.

Joubert is besig met die eerste saakdossier van die oggend. Nog sewentien staan in drie hopies op sy lessenaar, geelgrys SAP3-lêers wat sy lewe reguleer. Hy hoor Vos se doelgerigte tred op die kaal grys vloerteëls, hoor dat dit nie by die kantoor langsaan ophou nie. Dan is Vos in die deur, sy stem gedemp, asof De Wit in die omtrek is.

“Hier kom groot kak,” sê hy, want Gerbrand Vos gebruik die taal soos ’n stomp voorwerp.

Joubert knik. Vos gaan sit op een van die blougrys staatsdiensstoele. “Patriotte. Patriotte. Jissis, dit laat my bloed kook. En Scotland Yard. Wat weet Scotland Yard van Afrika, Mat? En die kak van mediese ondersoeke. En die ‘u’ – waar het jy al gehoor van ’n BO wat sy mense ‘u’?”

“Hy is nuut, Vossie. Dit sal seker oorwaai.”

“Hy wil ons sien. Hy het my nou by tee voorgekeer en gesê hy wil ons elkeen alleen sien. Ek moet nou …” Vos kyk na sy horlosie. “… daar wees. En jy is volgende. Ons moet saamstaan, Mat. Ons is die twee senior offisiere. Ons moet dié fokker van meet af aan uitsorteer. Het jy gehoor wat sê hy van fiksheid? Ek sien al hoe doen ons elke oggend PT op die parkeerterrein.”

Joubert glimlag effens. Vos staan op. “Ek sal jou kom roep as ek klaar is. Onthou net: dis saamstaan, Boere. Al is ons nie fokken patriotte nie.”

“Toe maar, dis net stroop, Mat,” sê Vos vyf en dertig minute later toe hy weer instap. “Hy wag vir jou. Heel vriendelik en vol komplimente.”

Joubert sug, staan op, trek sy baadjie aan en stap in die gang af.

Kolonel Bart de Wit het Willie Theal se kantoor oorgeneem en sy eie gemaak, sien Joubert wanneer hy aanklop en ingenooi word.

Die spanfoto’s teen die muur is weg. Die vuil groen mat op die vloer is weg, die sieklike potplant in die hoek het verdwyn. Drie graadsertifikate hang nou teen die nuutgeverfde wit muur. Die vloer is met ’n polisieblou mat bedek en in die hoek is ’n koffietafel waarop ’n staandertjie aangebring is. Dit lui: EK VERKIES OM NIE TE ROOK NIE. Op die lessenaar is ’n houer met vier foto’s daarin – ’n vrou met ’n dikraambril glimlag, ’n tienerseun met sy pa se neus, ’n tienerdogter met ’n dikraambril. Die ander foto is van De Wit en die Minister van Wet en Orde.

“Sit, sit, kaptein,” sê De Wit en wys na die grysblou stoel. Hy gaan sit self. Die sweem van ’n glimlag is dadelik daar.

Dan skuif hy ’n dik bruin personeellêer voor hom reg en slaan dit oop. “Hoe het jy gesê? Hulle noem jou Max?”

“Mat.”

“Mat?”

“Dit is my voorletters, kolonel. Ek is Marcus Andreas Tobias. M. A. T.­­ My pa het my só genoem.” Joubert se stem is sag, geduldig.

“Aaaa. Jou pa. Ek sien hy was ook ’n Lid.”

“Ja, kolonel.”

“Nooit ’n offisier nie?”

“Nee, kolonel.”

“Aaaa.”

’n Oomblik van ongemaklike stilte. Dan tel De Wit die personeellêer op. “Ek draai nie doekies om nie, kaptein. Nie destyds oor my politiek nie, en nie nou oor my werk nie. Daarom gaan ek reguit en eerlik wees. Dit gaan nie goed met jou nie. Sedert jou vrou se dood.”

Die glimlag op De Wit se gesig pas nie by die erns van sy stem nie. Dit verwar Mat Joubert.

“Sy was ook ’n Lid, nè?”

Joubert knik. En wonder wat die man oorkant hom weet. Sy maagspiere trek saam en deure slaan toe in sy kop as voorsorgmaatreëls.

“Sy is dood tydens die uitvoering van haar pligte?”

Weer knik Joubert, sy hartslag versnel.

“Tragies. Maar, kaptein, met alle respek, dit gaan sedertdien sleg met jou …” Hy kyk weer in die lêer. “Een ernstige dissiplinêre waarskuwing en twee petisies deur onderoffisiere. ’n Afname in misdaadoplossings …”

Joubert kyk na die foto van De Wit en die minister. Die minister is ’n halfmeter langer. Albei glimlag breed. Dit is ’n duidelike foto. ’n Mens kan die moesie sien.

“Wil jy iets daaroor sê, kaptein?”

Die eienaardige glimlag op De Wit se gesig ontsenu Joubert. “Dit is alles in die lêer, kolonel.”

“Die dissiplinêre optrede.” De Wit lees in die dokument voor hom. “Die Wasserman-saak. Jy het destyds geweier om ’n verklaring af te lê…” Hy wag dat Joubert moet reageer. Die stilte rek.

“Dit is alles in die lêer, kolonel. Ek het nie ’n verklaring afgelê nie, want adjudant Potgieter se verklaring was korrek.”

“Jy was dus skuldig aan onbetaamlike gedrag?”

“Volgens die definisie was ek, kolonel.”

“En die twee petisies van die sewe onderoffisiere dat hulle nie meer saam met jou op bystand wil wees nie?”

“Ek kan hulle nie kwalik neem nie, kolonel.”

De Wit leun terug in sy stoel, ’n magnaat. “Ek hou van jou eerlikheid, kaptein.”

Joubert verwonder hom aan die manier waarop die man tegelykertyd kan praat en glimlag.

“Maar ek weet nie of dit genoeg gaan wees om jou te red nie. Jy sien, kaptein, dit is die nuwe Suid-Afrika dié. Ons moet almal ons kant bring. Reg of weg. Daar is mense van die agtergeblewe gemeenskappe wat opgehef moet word. Ook in die Polisie. Ons kan nie om sentimentele redes dooie hout in offisiersposte hê nie. Verstaan jy?”

Joubert knik.

“Dan is daar die kwessie van my aanstelling. Die druk is groot. Nie net op my nie – op die nuwe regering. Almal sit en wag vir die foute. Die blankes wil tog so graag hê die swart regering moet foute maak dat hulle kan sê: Ons het mos gesê.”

De Wit leun vorentoe. Die glimlag verbreed.

“Hier by my gaan daar geen foute wees nie, kaptein. Verstaan ons mekaar?”

“Ja, kolonel.”

“Jy’s reg of jy’s weg.”

“Ja, kolonel.”

“Vra jou af, kaptein: Is jy ’n wenner? Dan sal jy altyd welkom wees hier. Vra jou af.”

“Ja, kolonel.”

De Wit sug diep, glimlag en al.

“Jou eerste mediese ondersoek is môremiddag om 14:00. En dan ’n laaste dingetjie: die Mag gebruik van vanjaar af twee kliniese sielkundiges vir lede wat dit nodig het. Ek het jou lêer verwys. Hulle sal laat weet. Dalk môre al. Sterkte vir die dag, kaptein.”

Feniks

Подняться наверх