Читать книгу Ko lat ons sing - Adam Small - Страница 17
2. In die begin het dit niemand opgeval nie
Оглавление2.
In die begin het dit niemand opgeval nie, alhoewel it moontlik is dat die beeld reeds toe al in die park gestaan het vir almal om te sien.
Op ’n dag, egter, het iemand uit pure leedvermaak aan ’n koerant geskryf: Is daar of is daar nie ’n beeld in die park nie? As daar een is, waarom neem niemand daarvan notisie nie? En as daar nie een is nie, vanwaar my illusie dat daar wel een is?
Iemand anders, wyser, het geantwoord: Laat ons versigtig wees.
Die kreet van die eerste skrywer is egter opgeneem, sodat dit nie lank was voordat die beeld stewig in die park gestaan het nie, of liewer voordat almal vas geglo het dat dit van die vroegste begin af daar was en dat hulle nooit aan die feit getwyfel het nie.
Toe die kinders met verbaasde uitroepe voor die nuwigheid kom staan het: Haai! Wat is dit? Waar kom dit vandaan? het die grootmense hulle meerderwaardig betig: Onoplettende kinders!
Die beeld het ’n groot skaduwee gegooi. Dít veral was besonder aangenaam.
In die pouses tussen hulle werkure het die mense gestroom om in die skaduwee te kom. Waarom het ons ons so lank deur die son laat verbrand? Waarom het ons nie vroeër hier kom sit nie, het hulle, tussen die genot van die koelte deur, gewonder.
En as die fluite geblaas het, wat die teken vir hulle was om weer in te val, het hulle traag uit die koelte gekom. Selfs van die drumpels van hulle werksplekke af het hulle teruggekyk na die skaduwee rondom die beeld.
*
Toe het hulle een oggend opgestaan en die katastrofe in die park gesien. Dit het gelyk asof die beeld langs sy voetstuk lê soos ’n gevelde boom.
Die boodskap het rondgegaan: Ons beeld is geskend. God! Die skade moet herstel word voordat die son opkom.
Toe het hulle die groot man in die park gewaar. Hulle het verstom teruggedeins voor die swyende gestalte.
Met kloppende harte vol wrewel en vrees het hulle om sy bene gestaan.
Die son het opgekom en stadig begin styg.
Hulle het begin fluister: Dis hy wat dit gedoen het.
Uiteindelik het ’n paar met meer vermetelheid as die ander die swyende figuur probeer storm. ’n Groot lawaai het losgebars soos almal waansinnig gevolg het. Selfs die kinders het om sy bene begin maal soos op ’n nuwe mallemeule.
Geeneen van hulle het gesien hoe hy buk en die beeld optel nie. Hy het die afgod hoog bokant hulle koppe opgelig, te hoog vir hulle om te sien wat gebeur, selfs al sou hulle opkyk. Toe laat hy dit oor hulle los . . .