Читать книгу Ko lat ons sing - Adam Small - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Voorwoord

Hierdie keur uit die gedigte van Adam Small gee ’n beeld van sy onmiskenbare rol in die verruiming van die Afrikaanse letterkunde. Die meerderheid van die gedigte kom uit die bundels Kitaar my kruis en Sê Sjibbolet. Dit toon Small se meelewende kyk in die lotgevalle van die bruin Kaapse werkersklasmense en hul stryd teen rasse-diskriminasie en verontregting onder apartheid. Dit registreer die hartseer van gedwonge verskuiwing onder die Groepsgebiedewet, die vernedering onder die Wet op Aparte Geriewe en die aanslag op die mees persoonlike verhoudings onder die Ontugwet. Hierin resoneer ook sy boodskap van hoop dat sy mense soos die Israeliete uit slawerny bevry sal word. Die keur toon dan ook Small se vernuftige omdigting van die Bybelse gegewe: vanaf die profete en volke in die Ou Testament tot die wederkoms van Christus in die treffende “Second Coming i” en “Second Coming ii”.

Sy knap beheersing van humor, ironie en satire om gesagsfigure te hekel word in die keur uitgebeeld: soos onder meer die godsdiensleiers se grootheidswaan en verwatering van Christelike waardes en die politieke leiers se immorele en opportunistiese gedrag. Deurgaans skaar die spreker hom aan die kant van die “eenvoudiges wat dink en ook mag praat”, die ware “poets, djulle wat innie straat in loep ennie gladde bek verkoep”, groentesmouse en arbeiders.

Die gedigte toon Small se kreatiewe ontginning van alledaagse spraakvorme, rympies, liedjies, orale uitdrukkings en veral sy aan-wending van Kaaps waaroor hy in ’n woord vooraf by die heruitgawe van Kitaar my kruis in 1973 gesê het: “Kaaps [is] nie wat sekere Engelse mense Capey . . . noem nie, en ook nie wat sekere Afrikaanse mense Gamat-taal noem nie. Kaaps is ’n taal . . . ’n taal . . . [waarin mense] hul eerste skreeu in die lewe skreeu . . . en hul doodsroggel roggel.”

Enkele gedigte uit sy ander bundels is opgeneem. Die gedigte uit sy vroeër bundels gee ’n beeld van Small se empatie met sy mede-burgers, die Afrikaners, sy versoeningsgees en die hoë premie wat hy plaas op die liefde en mensliewendheid. Die laaste gedigte in die keur toon die neerslag van die Swart Bewussyn-beweging in sy werk.

PROFESSOR STEWARD VAN WYK

Departement Afrikaans en Nederlands

Universiteit van Wes-Kaapland

Mei 2011

Ko lat ons sing

Подняться наверх