Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 10

2.3.2 JESUS HET SELF DIE SABBAT GEHOU

Оглавление

Ons het alreeds daarna gekyk. Jesus het inderdaad self die Sabbat gehou. Hierdie Christene is nou oortuig dat ons moet aanvaar sy volgelinge het ná sy opwekking daarmee voortgegaan, en daarom moet ons ook.

Dit gaan hier oor twee sake: Oor Jesus, en dan oor die eerste Christene.

Jesus Daar was keer op keer ’n konfrontasie oor die Sabbat tussen Hom en die godsdiensleiers, maar dit het gegaan oor die vraag hoe die Sabbat gehou moet word. Daar is geen teken dat Jesus self met die Sabbat as ’n instelling ’n probleem gehad het nie. Jesus se aanvaarding van die Sabbat was eenvoudig deel van sy lewe as getroue Ou-Testamentiese Jood.

Moet ons Hom dan nie hierin navolg nie? Hy is tog ons voorbeeld.

As ons na die lewe van Jesus kyk, is dit gou duidelik dat Jesus ook baie ander dinge gedoen het wat ons as Christene nie meer doen nie:

•Hy is besny (Luk 2:21).

•Hy is in die tempel aan die Here gewy (Luk 2:21,22).

•Hy het gereeld die sinagoge en die tempel besoek.

•Hy het die feeste van die Ou Testament gevier.

•Hy het onreines wat Hy genees, beveel om hulle aan die priesters te gaan wys (Luk 17:14).

•Hy het aanvaar sy volgelinge neem hulle offers in die tempel na die altaar toe (Matt 5:23,24).

Daar is regtig baie min Christene wat Jesus nog in al hierdie gebruike navolg! Kies ons nou eenvoudig watter en los die ander? Kom ons kyk mooi hierna.

Jesus was nie ’n Christen nie. Hy was ’n Jood. Sy volgelinge is later eers Christene genoem (Hand 11:26). Selfs die dissipels en die eerste bekeerlinge was nog Jode. Die belangrikste verskil met die ander Jode was dat hulle geglo het die Messias het al gekom.

Jesus was, godsdienstig gesproke, ’n Ou-Testamentiese gelowige. Hy het die Ou-Testamentiese gebruike aanvaar, al het Hy baie kritiek gehad op die manier waarop die godsdiensleiers dit uitgevoer het.

Natuurlik is Jesus ons voorbeeld (1 Pet 2:21). Natuurlik moet ons Hom navolg. Maar waarin? In sy besnydenis? In sy sinagoge-besoeke? In sy Joodse kleredrag? In die feit dat Hy nie ’n vaste werk of ’n vaste adres of vaste eiendom gehad het nie?

Is dit nie ’n bietjie willekeurig om juis sy Sabbatsonderhouding uit te sonder nie? Was sy besnydenis en sy tempelbesoeke en sy raad oor offers nie net so belangrik nie?

Waarin is ons geroepe om Jesus na te volg? In sy kruisdra, in sy diens aan mense in nood, in sy nederigheid, in sy reinheid, en noem maar op. Dit beteken dat dit nie gaan oor die formele gebruike nie, maar oor die geestelike sake en die etiese waardes.

Terug na die Ou Testament

Подняться наверх