Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 14
2.5 EN DIE SABBAT AS DEEL VAN DIE TIEN GEBOOIE (HEB 4:9)?
ОглавлениеMaar kan die Sabbat sommer net verdwyn? Dis tog deel van die tien gebooie. En Jesus het ’n baie sterk uitpraak oor die wet wat geldig bly (Matt 5:17-19). Dit geld dan tog elke gebod, ook die vierde gebod.
Die wet speel ’n belangrike rol in die Bergrede, veral in Matteus 5. Waarom? Herhaal Jesus maar net die wet? Almal het tog die wet goed geken. Maar onthou die godsdiensleiers het die wet geformaliseer en net letterlik geïnterpreteer. Daarom verklaar Jesus dat Hy aan die wet sy “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Hoe doen Hy dit? Jesus radikaliseer die wet, Hy gee dit ’n radikaler en dieper betekenis, dieper as dit wat die godsdiensleiers besef het. Eintlik gee Hy die wet sy oorspronklike betekenis, en verwerp daarmee die wet soos hulle dit geformaliseer het:
•Hy radikaliseer die gebod dat jy nie mag moord pleeg nie: Jy kan selfs net met jou woorde iemand vermoor (Matt 5:21-22).
•Hy radikaliseer die gebod teen egbreuk: Jy kan selfs net met jou oë en in jou hart onrein wees en egbreuk pleeg (Matt 5:27-30).
Dit beteken die letterlike betekenis van die wet word tot ’n geestelike vlak verdiep.
Paulus gaan konsekwent hiermee voort. Die gebod lui dat jy nie mag steel nie. Paulus verdiep dit tot die vlak dat jy hard moet werk om genoeg te hê om armes te help, anders steel jy nog steeds (Ef 4:28).
Ons het gesien dat die Sabbat in die Nuwe Testament skynbaar uit die lewe van die Christene verdwyn ná die opwekking van Jesus.
Het die vierde gebod dan verdwyn?
Nee, hier moet tog seker iets meer wees. Jesus het nie sommige gebooie kom afskaf nie. Hy het juis verklaar dat Hy hulle hul “volle betekenis” gaan gee (Matt 5:17). Ons het reeds hierna gekyk, en gesien Hy het eintlik die gebooie geradikaliseer, en hulle hul eintlike, dieper, geestelike betekenis gegee.
En die Sabbatsgebod? Ons het dan gesien die Sabbat het eenvoudig verdwyn uit die lewe van die vroeë Christene. Die woord “Sabbat” kom in al Paulus se Briewe net een keer voor, en dan nog in ’n negatiewe betekenis (Kol 2:16). Terwyl die ander gebooie, in hulle geradikaliseerde vorm, oor en oor op die lewe van die gelowiges toegepas word, kom die vierde gebod in sy oorspronklike vorm nooit by Paulus na vore nie. Dit kan mos net nie waar wees dat die apostel die heidene wat pas tot bekering gekom het, aan al die ander gebooie moes herinner het, maar dat hulle so absoluut getrou die Sabbat gehou het dat hy nooit eens nodig gehad het om daarna te verwys nie.
Ons kry mooi voorbeelde hoe die gebooie een-een op die lewe van die gelowiges toegepas word (oa Ef 4:25 – 5:4; Kol 3:5-17).
Agtereenvolgens is daar in Efesiërs 4 – 5 vermanings gebaseer op die volgende gebooie:
•die 9e: 4:25;
•die 8e: 4:28;
•die 3e: 4:29;
•die 6e: 4:31;
•die 7e: 5:3,5; en
•die 1e: 5:3,5.
Maar nêrens word die vierde gebod in sy oorspronklike vorm aan ’n gemeente voorgehou nie. En indien die Sabbat nog deur die gemeentes gehou was, sou juis hierdie gebod geweldige probleme veroorsaak het vir die Christene wat slawe was maar elke dag vir hulle eienaars moes werk.
Hebreërs 4:9 Maar dan kry ons iets oor die Sabbat in Hebreërs, en dan juis ook in sy geradikaliseerde vorm. Die skrywer maak eintlik ’n nuwe woord: “sabbatsrus”. “Daar wag dus nog steeds ’n sabbatsrus vir die volk van God, want elkeen wat in die rus van God ingegaan het, rus van sy werk, net soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan ...” (Heb 4:9).
Dit is duidelik ’n verwysing na die vierde gebod. Maar in ’n nuwe vorm. Dit gaan nog steeds oor die Sabbat en oor rus. Maar ons rus word nou vergelyk met God se rus. Ons moet soos God rus.
Wat beteken die vierde gebod nou?
•Tot by Jesus se opstanding was dit: Rus een dag in die week, op die Sabbatdag.
•Nou is dit: Gaan in God se rus in, rus elke dag van die week.
Van watter werk moet ons rus? In die Ou Testament was dit van gewone werk. Maar nou is dit van ons sonde, van ons ongehoorsaamheid (4:11).
In God se rus is daar nie sonde nie.
Wat beteken die Sabbatsgebod dan in sy geradikaliseerde vorm? Volle oorgawe aan die Here elke dag van ons lewe.
Hou dus asseblief aan om die vierde gebod te hou, maar net soos die ander gebooie, nou in sy nuwe vorm, in sy radikale vorm: Rus elke dag van jou sonde, dien die Here met jou hele lewe. Dít is die sabbatsrus wat ná Jesus se opwekking oorbly vir God se kinders.