Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 11
2.3.3 MATTEUS 20:24
ОглавлениеMaar wat dan van die uitspraak van Jesus in die profetiese rede dat sy volgelinge moet bid dat hulle nie in die winter of op die Sabbat sal moet vlug nie? (Matt 24:20). Beteken dit Hy het verwag sy volgelinge sal die Sabbat hou?
Wat het Jesus met hierdie uitspraak bedoel?
Dis deel van sy profetiese rede. Dit gaan oor sy wederkoms en die vervolgings wat sy volgelinge sal beleef. In die voorafgaande verse sê Jesus dat dit baie swaar sal gaan wanneer hulle moet vlug. Dit sal ’n tyd vol ontberings wees en hulle sal baie haastig moet vlug (24:16-17; ook Mark 13:15-16 en Luk 21:21). Hy vervolg dan dat dié wat bykomende laste dra, buitengewoon swaar sal kry (vers 19). En dan sê Hy: “Bid dat julle nie in die winter of op die Sabbatdag hoef te vlug nie.”
Waarom nie in die winter nie? Dit sal die vlug nog swaarder maak, want in die winter is daar in Palestina reën, koue, stormagtige weer en deurweekte paaie.
In dieselfde asem sê Jesus dat hulle moet bid dat hulle vlug nie op die Sabbat moet plaasvind nie. Waarom? Seker om dieselfde rede: dit sal hulle vlug bemoeilik.
Hoe? ’n Mens kan twee antwoorde oorweeg. Omdat die Christene nog die Sabbat sou hou, sal hulle uit eerbied vir die Sabbat nie op dié dag mag vlug nie. Hulle sou in gehoorsaamheid aan die vierde gebod moes rus, en dan sou die vyand hulle natuurlik oorrompel.
Maar daar is ’n ander moontlikheid. Jesus bedoel dat die Jode dit vir sy volgelinge op die Sabbat baie moeilik sou maak. Hulle sou byvoorbeeld nie voedsel kon koop nie, en voor allerlei ander beperkings staan. Fanatieke Jode sou dit as hulle plig beskou om hulle vlug te kortwiek.
Watter een van hierdie twee betekenisse is die waarskynlikste? Sit daar nie ’n vreemde beeld van Jesus agter die eerste een nie? Sou Jesus regtig gemeen het sy volgelinge moet op die Sabbat rus al is hulle lewe in gevaar? Is dít die Jesus van die Evangelies, die Jesus wat sy dissipels verdedig as hulle op die Sabbat koringare pluk oor hulle honger is, en siekes op die Sabbat genees? Is Hy nie die Een wat gesê het die mens is nie vir die Sabbat gemaak nie, maar die Sabbat vir die mens (Mark 2:27)?
Dis dus sinvoller om die tweede rede te aanvaar: Dat die Sabbat dieselfde probleme as die winter sou oplewer. Dit sou omstandighede meebring wat hulle vlug sou bemoeilik. Dit beteken dat ons nie uit hierdie woorde van Jesus kan aflei dat Hy bedoel het dat sy volgelinge na sy opwekking nog die Sabbat moes hou nie.
Jesaja 66:22-23 sal in hoofstuk 3 behandel word.
Maar intussen is dit in elk geval duidelik dat Jesus self die Sabbat gehou het net soos Hy getrou was aan die ander aspekte van die Ou-Testamentiese kultus: die besnydenis, die tempel, die feeste, die priesterdiens en die offers.