Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 9

2.3.1 DIE SABBAT IS ’N EWIGE INSTELLING

Оглавление

Hier word verwys na Eksodus 31:16-17 waar ons uitdruklik in die 1953-vertaling lees dat “die kinders van Israel” die Sabbat moet vier “as ’n ewige verbond”, en weer: die Sabbat moet vir hulle “vir ewig ’n teken wees”. Moet die Sabbat dan nie vir altyd gevier word nie?

Dis opvallend dat die 1983-vertaling nie meer die woord “ewig” hier gebruik nie. Daar lees ons van ’n blywende verpligting wat altyd ’n teken sal wees. Maar is dit nie in elk geval ook nog duidelik nie? “Altyd” is tog altyd.

Kom ons doen twee dinge: Ons kyk na die Hebreeuse woord wat met “ewig” of “altyd” vertaal word, en ons kyk na ander sake wat ook vir “ewig” of “altyd” moet geld.

Die Hebreeuse woord wat hier in die 1953-vertaling met “ewig” vertaal is, word nogal dikwels gebruik. Maar dis opvallend hoe selde die 1953-vertaling dit regtig met “ewig” vertaal het. Hier volg net ’n paar voorbeelde waar selfs hierdie ou vertaling nie “ewig” gebruik nie:

•“… Oorkant die Eufraat het julle vaders van oudsher gewoon …” (Jos 24:2);

•“Want van ouds af het jy jou juk verbreek …” (Jer 2:20);

•“… kyk en vra na die ou paaie …” (Jer 6:16);

•“Die profete wat ... van ouds af …” (Jer 28:8);

•“… die mense van die voortyd; …” (Eseg 26:20);

•“… ’n eeue-oue nasie is dit …” (Jer 5:15).

In al hierdie gevalle is dit dieselfde Hebreeuse woord wat in Eksodus 31:16-17 met “ewig” vertaal is. En dis duidelik dat dit sinloos sou wees om dit in hierdie gevalle ook met “ewig” te vertaal. Trouens die een ander keer wat die 1953-vertaling dit wel met “ewig” vertaal het, lui dat die tempel “ewige” deure het (Ps 24:7,9). Maar die deure was tog net baie oud, nie ewig nie.

Hierdie Hebreeuse woord word dus eerder gebruik vir ’n lang tyd.

Maar iemand sou natuurlik tog nog daarop kon aandring dat juis wanneer dit vir die Sabbat gebruik word, dit werklik “ewig” moet beteken.

Maar wat dan van die besnydenis? Net soos die Sabbat, is die besnydenis ook ’n “ewige verbond” (Gen 17:13 – 1953-vertaling). Maar ons weet dat Paulus baie sterk daarop aangedring het dat die besnydenis ná Christus nie kan voortgaan nie (Gal 5:2).

Maar kom ons kyk ook na die “tent van samekoms”, die tent wat tydens die uittog as ontmoetingsplek met die Here gedien het. Die ou mense het dit nog geken as die “tabernakel”, wat die Hebreeuse woord is wat net in ons letters oorgeskryf is, soos “halleluja”. Hierdie tent was natuurlik net ’n tydelike ontmoetingsplek solank Israel in die woestyn was tydens die uittog. Maar omtrent elke bepaling en reëling oor hoe die priesters en die volk in hierdie tent moes optree, word ’n “ewige instelling” genoem (1953-vertaling). Hier volg net ’n paar van die talle voorbeelde (Lev 6:18,22; 7:34,36; 10:9,15; 16:29,31; 17:7; 23:14,21,31,41; 24:3). Trouens in een geval het selfs hierdie vertaling nie “ewig” gebruik nie, maar “vir altyd”, eenvoudig omdat “ewig” geen sin sou maak nie (Lev 25:30).

In nie een van hierdie voorbeelde kan die Hebreeuse woord “ewig” beteken nie omdat die tent net vir ’n bepaalde tyd gebruik is. Daarom vertaal die 1983-vertaling dit met “’n vaste instelling”, wat beteken dat dit sou geld solank die tent gebruik word.

’n Mens kan dus nie sondermeer aanvaar dat die Sabbat regtig vir ewig gehou sal moet word nie. Dan sal ons ook moet voortgaan met die besnydenis en al die gebruike in die tabernakel. Maar uit die gebruik van hierdie woord vir die tent van samekoms, die besnydenis en talle ander dinge, is dit duidelik dat die woord eerder sien op ’n lang tyd.

Terug na die Ou Testament

Подняться наверх