Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 4

Оглавление

1

DIE TERUGKEER NA DIE OU TESTAMENT


Sommige Christene is vandag ernstig om weer te begin met sekere gebruike wat in die Ou Testament baie belangrik was. En soms beteken dit ’n radikale herinterpretasie en herorganisasie van hulle lewe.

Daar was altyd verskille onder Christene oor hoe ons die Ou Testament moet hanteer, watter dinge nog vir ons geld en watter nie. Is dit eenvoudig hierdie selfde dinge wat terugkom, of is dit nuwe dinge?

Kom ons kyk terug na die begin van die Christelike geloof.

•Aan die begin was een van die brandendste vrae die een of die bekeerlinge uit die heidendom besny moes word (Hand 15; Galasiërs).

•Maar die feeste en die Sabbat het ook vrae na vore gebring (Gal 4:9-11; Kol 2:16-17; Rom 14:5-6).

•Ook die vleis van onrein diere (Hand 10:9-16), ander voorskrifte oor vleis (Hand 15:20,29) en eet- en drinkvoorskrifte (Kol 2:16-17).

•Die vraag of gelowiges die vleis wat deur heidene aan afgode geoffer is, mag eet, het hier bygekom (Rom 14; 1 Kor 8 – 9).

•Maar ’n veel ingrypender vraag was die vraag wat die verhouding moes wees tussen die Joodse gelowiges en die gelowiges uit die heidene. Hieroor het Paulus en Petrus selfs in die openbaar van mekaar verskil (Gal 2:11-14).

•Maar miskien die heel belangrikste was die Joodse gelowiges wat skynbaar nie net oorweeg het om weer na sekere gebruike in die Ou Testament terug te gaan nie, maar selfs om hulle geloof in Jesus prys te gee (Hebreërs).

Baie nou hieraan verbonde was die algemene vraag oor die wet. Geld die wet nog, of nie meer nie? Wat van die wet geld nog, en wat nie meer nie (oa Rom 7 – 8). In hierdie verband het die vraag: Abraham óf Moses, die geloof óf die wet (Gal 3:1-9) baie sterk na vore gekom. Maar dit was ’n omvattender vraag wat nie net oor spesifieke sake gegaan het nie.

Die antwoorde op hierdie vrae oor die Ou Testament was van beslissende betekenis vir die voortbestaan van die Christelike geloofsgemeenskap. Die antwoorde was oorwegend negatief wat die Ou Testament betref:

•nie meer die besnydenis nie;

•nie meer die feeste nie;

•nie meer Sabbat nie;

•nie meer die wet nie; en

•nie meer die tempel, priesters, offers nie.

Al hierdie gebruike is nie oornag afgeskaf nie. ’n Mens moet onderskei tussen Jode en heidene wat Christene geword het. Die Joodse Christene het met hierdie gebruike grootgeword en aanvanklik daarmee voortgegaan. Die apostels het self aanvanklik nog die tempel besoek (Hand 3), die gelowige Jode in Jerusalem het nog lank “die wet van Moses stiptelik onderhou” en onder andere hulle seuntjies besny (Hand 21:21). Daar is skynbaar selfs een of twee voorbeelde van feeste wat hulle gevier het (Hand 20:6,16). Hulle het ook van die heiden-Christene verwag om hierby in te val. En juis dit was die krisis waaraan Paulus so hard gewerk het. Hy was oortuig dat dit nie net onnodig was vir die Christene uit die heidene nie, maar selfs verkeerd (Galasiërs, Kolossense). Hierdie gelowiges het dus afstand gedoen van hierdie gebruike.

En die omvattende prysgawe van al hierdie dinge was onontbeerlik vir die behoud en groei van die Christelike geloofsgemeenskap.

Indien hierdie proses van “ontbondeling” met die Jode nie plaasgevind het nie, sou die Christene voortbestaan het bloot as ’n vreemde groepie Jode binne die Joodse geloofsgemeenskap.

Dis immers hoe die Christelike geloofsgemeenskap begin het. Dit was ’n groepie Jode, deel van die Joodse geloofsgemeenskap, wat eintlik in beginsel net op een punt van die ander Jode verskil het: hulle het geglo dat die Messias reeds gekom het. Maar hulle het saam met die ander Jode die tempel besoek (Hand 3), die feeste gevier (Hand 20:6,16; 21:26), die wet gehou en hulle kinders besny (Hand 21:20-21). Indien hulle net só aangegaan het, indien Paulus nie na die heidene uitgereik het nie, sou die vroegste Christene niks meer bereik het nie as om ’n (kleiner of groter) skeuring in Joodse geledere te veroorsaak.

Ons het dit aan die werk van die Here deur Paulus te danke dat die Christelike geloof uit hierdie ingehokte situasie uitgebreek het en die heidenwêreld verower het. Dis Paulus wat die evangelie “verbruikersvriendelik” vir die heidene gemaak het. Die kans dat ’n massa heidene skielik Jode sou word, was gering. Ons kan moeilik ten volle die betekenis waardeer wat Paulus gehad het en nog steeds het vir die vorming én die groei van die Christendom in die wêreld. Hy was ’n gawe van God, nie net aan die kerk nie, maar aan die wêreld.

Wat het hy gedoen?

•Hy het nie die Ou Testament afgeskaf nie. Dit sou fataal gewees het.

•Hy het dit ook nie sondermeer heelhuids aanvaar nie. Dit sou ewe fataal gewees het.

•Hy het versigtig, selektief, met fyn onderskeidingsvermoë, uitgesoek wat enersyds nog geldig is en geldig sou bly, en wat andersyds deur Christus vervul en vervang is.

EN VANDAG?

In vandag se beweging terug na die Ou Testament het ons ’n hele lys van sake wat nie destyds ter sprake was nie. Die meeste daarvan lyk eintlik veel onskuldiger. Allerlei sake kom in die gedrang, soos

•Kersfees en ander Christelike feeste;

•verjaarsdae;

•die name van die dae en die maande;

•die name van God en van Jesus; en

•die ramshoring.

Terloops, is dit nie onvermydelik dat ook die jaartelling en die berekening van jare ter sprake sou moes kom nie? Die Ou Testament het immers nie net ander name vir die maande gehad en ook die dae anders genoem nie. Hulle het maanmaande gehad wat nie met ons s’n saamval nie, en hulle het ook nie ’n jaar van 365 dae geken nie.

Verder kry ’n mens ook ’n aantal sake wat skynbaar nie direk uit die Ou Testament voortvloei nie soos

•drome en droomuitleg;

•die wederkoms nou;

•die doop; en

•“huisskoonmaak”, feetjies en kaboutertjies.

Maar intussen is sommige van die ou sake ook terug op die agenda, en miskien is hulle in die huidige situasie die sake wat selfs die deurslag gee:

•die Sabbat;

•die feeste; en

•die wet.

Hoe nou?

Paulus en veral ook die Brief aan die Hebreërs was skerp in hulle veroordeling van hierdie rigting. Paulus skryf: As julle dit of dat doen of glo, “sal Christus vir julle geen betekenis hê nie,” dan het “julle julle band met Christus verbreek”, dan het julle “die genade van God verbeur” (Gal 5:2,4). Kan ’n mens regtig vandag dieselfde van hierdie beweging sê? Dis duidelik dat baie van die Christene wat hierdie rigtings inslaan, ernstig en toegewyd is. Dit gaan eerder in baie gevalle oor gelowiges wat die Here met hart en siel dien, wat die verlossing deur Christus ten volle ernstig neem.

Maar dit neem nie weg dat ons moet vra wat ons in die Bybel kry oor die dinge waarmee hulle besig is nie.

In die hoofstukke wat volg, sal ons die hoofsake van hierdie beweging probeer verstaan in die lig van die Nuwe Testament.

Terug na die Ou Testament

Подняться наверх