Читать книгу Terug na die Ou Testament - Adrio König - Страница 6
2.1 DIE OU TESTAMENT
ОглавлениеDie Sabbat is ’n belangrike saak in die verhouding van die Here met Israel. Dit word in die eerste skeppingsverhaal vermeld (Gen 2:2-3) en kom dan tydens die uittog na vore as een van die tien gebooie. Interessant genoeg is daar geen teken dat dit vroeër deur die aartsvaders onderhou is nie. Eers tydens die uittog uit Egipte (Eksodus en Levitikus) kom die Sabbat na vore.
Ons kry die eerste verwysing na die Sabbat tydens die uittog, toe die Here vir die volk manna gegee het. Hulle is verbied om dit op die Sabbat op te tel. Hulle moes rus en só die dag aan die Here wy (Eks 16:22-30). Daarna kom die tien gebooie. Ook hier is daar net die verpligting om op die Sabbat te rus (Eks 20:8-10). Dit word dan ook ’n “rusdag” genoem. Die laaste deel van die opdragte van die Here op die berg aan Moses handel ook oor die Sabbat, en lê nog eens net die verpligting op om te rus en só die dag aan die Here te wy (Eks 31:12-17). In hierdie deel word dit selfs ’n teken tussen die Here en die Israeliete genoem.
Later kom daar dan ’n paar bepalings by van dit wat gedoen mag word, en dit wat nie gedoen mag word nie:
•geen vuur maak (Eks 35:3);
•’n gewyde byeenkoms hou (Lev 23:3);
•priesters moes elke Sabbat nuwe brood “in die heiligdom” voor die Here neersit (Lev 24:8); en
•elke Sabbat moes daar ekstra offers aan die Here gebring word (Num 28:9-10).
Die eerste oortreding op die Sabbat wat vermeld word, waar iemand hout bymekaar gemaak het, is met die dood gestraf (Num 15:32-36).
In die historiese boeke (Josua tot Kronieke) is daar min verwysings na die Sabbat, eintlik net ’n paar in 2 Konings en in Kronieke.
Ook in die profete het ons min verwysings na die Sabbat.
Jesaja In Jesaja is daar drie verwysings.
•Eers is daar ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat hou, en dan spesifiek oor alle ontmandes en mense uit ander volke wat hulle bekeer en die Sabbat getrou hou (Jes 56:2-7).
•Dan is daar nog ’n seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou (Jes 58:13-14). Soos later in Nehemia word veral verwys na die sonde van handeldryf op die Sabbat.
•En in Jesaja 66:23 sê die Here dat alle mense op die nuwe aarde elke nuwemaansfees en elke Sabbat in aanbidding voor Hom sal buig.
Jeremia In Jeremia is daar net een verwysing na die Sabbat. Dis ’n baie sterk seënspreuk oor almal wat die Sabbat getrou hou deur geen werk te doen nie, en ook ’n erge vloek oor almal wat nie die Sabbat hou nie (Jer 17:19-27).
Esegiël Ook in Esegiël is daar net een verwysing. Wanneer die toekomstige tempel na die ballingskap herbou is, moet die Oos-poort net op die Sabbat en op die nuwemaansfeeste oop wees. Verder word die offer voorgeskryf wat “die regeerder” op die Sabbat vir die Here moet aanbied, en voorskrifte word gegee vir vrywillige offers wat hy moet bring soos dié wat hy op die Sabbat bring (Eseg 46:2,4,12).
Amos Onder die klein profete is daar net in Amos 8:5 ’n verwysing na die Sabbat wat skynbaar net uit dwang gehou is.
Eers ná die terugtog uit die ballingskap kom die Sabbat weer onder Nehemia sterker na vore. Tydens ’n dag van berou deur die hele volk verwys die Leviete na die Sabbat wat die Here deur Moses aan hulle gegee het (Neh 9:14). Nehemia verbied kort daarna alle handel in Jerusalem op die Sabbat, en neem sterk maatreëls om die verbod af te dwing (Neh 13:15-22).
Dis wat ons oor die Sabbat in die Ou Testament kry. Wat beteken dit?
Volgens die Ou Testament is die Sabbat dus ‘n dag:
•van rus;
•wat aan die Here gewy moet word;
•waarop bepaalde offers gebring moet word;
•waarop ’n gewyde byeenkoms gehou moet word; en
•waarop die priesters sekere verantwoordelikhede het.
In die geheel is daar dus opvallend min verwysings na die Sabbat in die Ou Testament, maar dié wat daar wel is, beklemtoon die feit dat dit ’n baie belangrike saak was.