Читать книгу Best Books Studiewerkgids: Pad na jou hart Gr 10-11 HT en EAT - Alta Engelbrecht - Страница 5
Hoofstuk 2: Intrige − vaslegging van die verhaal se verloop Inleiding
ОглавлениеIets gebeur iewers met iemand ... en iemand vertel dit.
Is hierdie stelling nie waar van enige storie of fliek wat jy nog ooit gelees, gehoor of gekyk het nie? In dié studiewerkgids gaan ons inderdaad met hierdie frase werk om die roman en die film te verstaan en te geniet.
•Iets gebeur: Wat gebeur? Hoe verloop die storie? Wat is met ander woorde die intrige of die plot van die verhaal?
•Iewers: Waar gebeur dit? Wanneer? Hoekom juis daar? Ons praat van die ruimte en tyd waarteen die verhaal afspeel.
•Iemand: Met wie gebeur dit? Wie is die karakters in die verhaal?
•Iemand vertel: Watter soort verteller het ons in die verhaal? Hoe wil die verteller hê ons moet dit interpreteer?
Die gebeure is die wat en die hoe in ’n verhaal. Alle gebeure vind plaas in tyd: in ’n bepaalde historiese tyd (byvoorbeeld die Middeleeue of in hierdie geval hedendaagse Suid-Afrika). Die leser rekonstrueer die gebeurtenisse logies in sy verbeelding en rangskik die gebeure chronologies al word die gebeure nie chronologies vertel nie. In Pad na jou is die vertelling heeltemal chronologies.