Читать книгу Op die vrou af 2 - André le Roux - Страница 13
Binnelandse Sake
ОглавлениеSy kom uitasem by die huis aan, en kwaad.
“Ek’s nou so kwaad. Om te dink ek’s getroud!”
Jy sou so hoop, ja.
“En ek ken nie eens die man nie!”
Hoe nou? Sy ken jou al van vóór julle getroud is. Sy was persoonlik saam met jou op julle wittebrood en nou ken sy jou nie.
“Kalmeer,” sê jy. “Wat het ek nou weer gedoen dat jy my nie ken nie? Of nie wil ken nie …”
“Ek praat nie van jou nie,” verduidelik sy. “Ek’s getroud met ’n Keniaan!”
Jy sluk ’n hoop wind.
“En wat dan van my?!” vra jy. Êrens het jy iets vreesliks gemis. Het jy haar soveel afgeskeep die laaste tyd? Al waaraan jy kan dink om te sê is: “Weet jou ma hiervan? Wag tot ek haar vertel!”
Dis Binnelandse Sake, sê sy. Als net omdat sy vir ’n nuwe ID-boekie aansoek gedoen het. Toe sê hulle vir haar sy’s mev. Awori of iets, nou wôrie sy baie. Hoe meer sy vir die man agter die toonbank sê sy’s klaar getroud en kan nie eens daardie arriewarrie-naam uitspreek nie, hoe meer wys hy haar haar nuwe ID. Hy vra ewe vir haar of sy nou eerder wil aansoek doen vir ’n Keniaanse ID. Sy sê gee terug my ou ID, maar dit help nie.
Dit blyk sy’s een van ’n paar duisend vroue wat onwetend getroud is. Korrupte amptenare reik al jare vals huweliksertifikate uit – vir R500 – aan buitelanders wat ’n vaste verblyfpermit in Suid-Afrika wil hê. Dit was in die koerante.
Sy bel die tolvrye nommer wat hulle gee om uit te vind of sy werklik (weer) getroud is. Sy kom nie deur nie en gaan kyk by www.home-affairs.gov.za onder verify your marital status online.
Dit sê sy’s getroud.
“Ek’t mos gesê ek sal so hoop, ja.”
“Maar die datum is heeltemal verkeerd! Ek het daardie man by Binnelandse Sake gesê!”
Jak, sug jy. “Om te dink ons het aangetroude familie in Kenia. Miskien moet ons gaan kuier, hulle sê Kenia is so ’n mooi land, al is die paaie sleg.”
Sy ignoreer dit.
“Hoekom gebeur sulke goed altyd met my?” Jy sê jy dink dis omdat sy op daardie snaakse dieet van sop was. (En hoekom gebeur sulke goed nooit met my nie? vra jy.)
Sy ignoreer dit.
“Nou moet ek in toue gaan staan en vorms invul en beëdigde verklarings aflê en twee of drie getuies saamneem om te sê ek is wie ek sê ek is!”
Toe sy bedaar het, wonder sy hoeveel het die ou van Kenia vir haar betaal. R500 klink darem min, sê sy. (Vir jou is R500 nogals baie geld …)
“Ek wonder hoe lyk die man,” mymer sy. “Keniane is mos baie atleties gebou, so trots, regop, sterk en styf, fier en ferm.”
Hoe bedoel sy nóú? Jy wil liewer nie vra waar sy aan al daardie byvoeglike naamwoorde kom nie … jy gaan trek onkruid in die tuin uit.
“Miskien is hy nog ryk ook!” roep sy agterna.
Later sê jy so in die verbygaan jy wonder hoe’s die weer in Kenia.
Dink só daaraan, sê jy: “Jy’s getroud met ’n man wat jou nooit pla of kla nie, hy sit nooit sy voete op die koffietafel as hy bier drink voor die TV nie, hy druk nooit die tandepastabuisie van bo af uit nie, sy klere lê nooit op die vloer nie en hy kom nooit laat by die huis aan nie. Die perfekte man!”
Jy’s reg, sê sy. Een man in die huis is oorgenoeg. (Jy loop trek nog onkruid uit.)
Sy bel ’n vriendin. Jy sal dit nooit glo nie, sê sy. Hulle giggel en jy hóór hoe die vriendin vir haar sê toemaar, Keniane is mos baie atleties gebou …
Jy maak jou uit die voete.
“Hoekom is jy nou so uitasem?” vra sy.
“Ek het so ’n entjie gaan draf,” sê jy.
Oktober 2004