Читать книгу Op die vrou af 2 - André le Roux - Страница 7

Moet nóú eet!

Оглавление

Dis nou wel nie ’n erkende mediese term nie, maar die toestand is eg. Hulle noem dit die Ek-moet-nóú-eet-sindroom.

Nie netnou nie, nie later nie: NOU! Dit slaan enige tyd, enige plek toe, al is dit kort voor ete. Uit die bloute, jy wou nog iets sê, toe sê sy wag, ek moet nou eers iets eet. Jy was nog besig om met haar te praat, in die middel van ’n sin, toe staan sy met die yskas se deur in haar hand.

En sy weet presies wat sy wil hê. As dit maaskaas is, los sy die jogurt net so daar op die eerste rakkie. As dit ’n piesang is, kan jy haar nie omkoop met ’n appel of ’n ei nie.

Dan sal sy na haar aandete kyk en vir die ertjies op haar bord sê: Ai, julle, die kos lyk so lekker en nou’s ek nie meer honger nie. (Die ertjies beland in ’n leë margarienbakkie in die vrieskas asof dit hulle skuld is.) Jy kan vir haar sê dis dalk oor die twee bakkies maaskaas wat sy skaars sewe minute gelede geëet het, en toe nog ’n piesang daarna.

“Maar ek was tóé honger!” verdedig sy nog voordat jy iets kan sê.

Teen skemer kondig sy aan sy gaan gou kafee toe, die melk is min. As ’n vrou teen skemer aankondig sy gaan kafee toe, die melk is min, kan jy maar weet sy soek iets om te eet. Dis die enigste keer dat sy jou nie stuur nie, want jy’s te stadig. Sy’s lus vir Paasbolletjies.

NOU!

’n Rukkie later is sy terug met ’n leë bruinpapiersak in haar hand.

“Waar’s die Paasbolletjies?” vra jy. (Miskien gee sy vir jou ook een.)

“Óp,” sê sy en frommel die kardoes tot in die drommetjie links van die yskas.

“Hoe bedoel jy óp?”

“Opgeëet,” sê sy. “Dit was net ’n halfdosyn.”

Tussen die kafee en die huis, twaalf minute se ry, het sy ses Paasbolletjies opgeëet. Dis een elke twee minute, jy kan maar self uitwerk.

“Jy verstaan nie, ek móés dit net eet.”

Die telefoon lui.

Een van die irriterendste dinge vir ’n man: As hy die telefoon optel en iemand kou of sluk aan die ander kant. Dis soos beskuit eet in die bed, práát nie van die krummels wat altyd jou kant toe rol nie. Dit krttts-krttts-ghloep-ghloep deur jou ore, deur jou are tot in jou murg.

Vir ’n vrou klink dit soos musiek.

“Hallo?” sê sy. “Nee, wat, ek gee glad nie om dat jy in my ore kou nie. Trouens, dit maak my honger. Wat eet jy? Is daar rosyntjies by? Ja, ek hou ook die meeste van peanuts mét rosyne. Maar ek hou ook daarvan sónder rosyne, dan moet dit salted wees.”

Só word noodsaaklike inligting oorgedra in keurige Afrikaans, want dis al wat ’n vrou in die lewe nodig het: Iets soets of iets souts (dit het geklink of sy sê “iets stouts”). Die iets soets staan vir sjokolade, en blykbaar, as ’n vrou skielik móét eet, is dit meestal sjokolade. (Vir mans is dit glo pizza.)

Of sy peusel aan ’n Provita, want dit maak nie vet nie – met Camembert-kaas of Brie daarop.

“Partykeer kan ek twéé pakkies peanuts gelyk opeet,” erken sy. “Daar moet net nie doppe om wees nie. Dit maak my dors.”

Voedingkundiges sê juis skielike, drastiese hongerpyne beteken eintlik maar jy’s dors. Drink water. En pasop vir suiker. Dit het geen voedingswaarde nie, dit laat jou net honger voel en maak die aptyt-beheersentrum in jou brein deurmekaar.

“Dan styg jou bloedsuikervlak abnormaal vinnig. As dit weer val, dink jou brein jou liggaam het kos nodig. Dis wanneer jy NOU moet eet,” verduidelik jy toe sy klaar “oukei-baai” gesê het. “Boonop stuur die pankreas insulien-mannetjies om daardie ekstra suiker om te sit in … VET!”

Sy kyk jou aan of jy skielik ’n selfaangestelde dieetkenner geword het (hoekom nie?) en gaan maak ’n laai oop. Sy vra of jy al ooit daaraan gedink het dis nie noodwendig omdat sy nou MOET eet nie, maar omdat sy nou WIL eet. Dan hoor jy hoe sy vir haarself sê ek kon sweer daar was nog ’n pakkie peanuts in hierdie laai.

Sy loop terug telefoon toe.

“Hallo, dis weer ek. Ek’t vergeet om te vra: Hoekom het jy nou eintlik gebel?”

April 2004

Op die vrou af 2

Подняться наверх