Читать книгу Op die vrou af 2 - André le Roux - Страница 14
Home Alone
ОглавлениеSy gaan die hele naweek weg om ’n bietjie vir haar ma te loop kuier. (Liewer só om as andersom, ’n hele naweek kan lank raak …)
“Is jy seker jy wil nie saamgaan nie?” nooi sy weer. Jy sê jy sou baie graag wou, maar jy’t ongelukkig ander verpligtinge.
Salig! Die hele naweek net vir jouself!
Dan kom die instruksies: Onthou om die kat kos te gee, twee skeppies met ’n bietjie melk oor (áfgeroomde melk, sy hou nie van volroom nie), en moenie vergeet om saans die veiligheidshek te sluit nie, sorg dat die drommetjie in die kombuis nie oorloop voordat jy dit leegmaak nie en sit die groot vullisdrom se deksel terug as jy klaar is, en o, ja, maak seker die badkamervenster staan nie oop as die wind opkom nie. Moet ek ’n lysie maak?
Sy dring ook daarop aan om vir jou drié borde kos, klaar voorberei, in die vrieskas te sit. Sy beduie deur die Glad Wrap wat’s op elke bord – met groente.
“Dis totaal onnodig,” sê jy. “Ek kan mos na myself kyk, ek’s nie hulpeloos nie!”
Presies, sê sy, en jy weet nie mooi presies wat sy met presies bedoel nie. Soen-soen koebaai.
Sy bel om te sê sy’s veilig daar, is alles nog reg by die huis, onthou van die kat en die hek, groete van haar ma en lekker slaap (het jy al geëet?).
Jy en die kat eet pizza voor die TV, drink bier en melk onderskeidelik en kyk ’n laataand-fliek.
Jy kan nie aan die slaap raak nie. Jy weet nie of jy aan jou kant van die bed moet lê of in die middel nie en skielik het jy te veel duvet tot jou beskikking. Die een bord kos in die vrieskas eet jy teen vyfuur die oggend vir ontbyt en nog een vir aandete die volgende dag net ná die rugby (met pizza). Die derde bord kan jy altyd hou vir wanneer sy terug is, dan hoef sy nie weer soveel kos te maak nie. Daar’s ook nog pizza oor.
SMS: Op hoeveel moet ek die mikrogolf sit as ek pizza wil opwarm? Jy besluit om liewer te braai.
SMS: Ek braai vanmiddag. Vra bietjie jou ma hoe maak sy nou weer daardie lekker aartappelslaai van haar. Met mayonnaise? (Waar hou ons die mayonnaise? En ek dink die chutney is ook op.)
SMS terug: Mrs Ball’s in die kas links van die stoof, bo regs. Tamatiesous in die yskas, voeg sy by al het jy nie gevra nie.
Die weervoorspelling sê mooiweer en wind …
SMS: Die kat wil nie eet nie. (“Wat’s verkeerd met die kos wat ek jou gee, hè?”)
SMS terug: Het jy van die melk onthou?
O, ja, áfgeroom. Dat ’n kat nou so vol nonsens kan wees. “Hoekom gaan vang jy nie liewer vlooie buite nie?” vra jy.
Jy betrap jouself dat jy al hoe meer met die kat begin praat: “Watse fliek sal ons vanaand kyk? 101 Dalmatians is op M-Net. Of is jy lus om na Worsie Visser te luister?”
“Presiés!” miaau die kat en loop weg.
SMS: Waar’s my Worsie Visser-CD? Dis nie onder W nie.
SMS terug: Kyk onder V.
Jy luister na die wind, en vergeet van die oop badkamervenster tot jy goed hoor val. Dis nogals ’n taai maar welriekende gemors as badoliebotteltjies en sjampoe op die vloer beland. Jy wonder of jy conditioner moet bysit, vee alles mooi netjies met die handdoek op, sit die handdoek netjies in die bad en soek ’n skoon een.
SMS: Daar’s géén handdoeke in die linnekas nie!
SMS terug: Dis nie in die linnekas nie, dis in die handdoekkas.
Waar’s dié? Jy’t nie eens geweet julle het ’n handdoekkas nie, daar’s dan nooit genoeg pakplek in hierdie huis nie.
Een of ander tyd sal jy seker ook die twee borde, die twee messe en vurke moet was. Jy sit dit in die skottelgoedwasser, in wat vir jou na die toepaslike kompartemente lyk. Jy soek die On-knoppie, maar daar’s net hiërogliewe. Jy draai ’n knop. Wag, wat van die water?
SMS: Waar tap ’n mens water in die skottelgoedwasser ?
SMS terug: Dit tap self water in. (“O, nogals slim.”)
SMS: Waar gooi ’n mens die Sunlight Liquid in ? (Jy’s seker ’n mens gebruik nie Handy Andy nie.)
SMS terug: Los liewer, netnou breek jy die ding. En ongevraagd vra sy: Is die kombuis deurmekaar ?
Jy stuur ’n laaste SMS’ie: Kan jy nie vroeër huis toe kom nie? Die kat verlang vreeslik en mis jou …
November 2004