Читать книгу Op die vrou af 2 - André le Roux - Страница 5
Terug van vakansie
ОглавлениеJulle is terug van vakansie, nóú sê sy jou!
Iemand het ’n vraelys opgestel om te verseker dat julle ’n stresvrye vakansie het. Nou wag daar ’n hele hoop koffers en Shoprite-sakke om uitgepak te word en by die werk is dit meer van dieselfde, jy koop sommer ’n ekstra Lotto-kaartjie. Die verkeer is erger as toe julle hier weg is. Jy’t ’n vakansie nodig.
Wat te laat is, is te laat, sê jy: “Toe ek op die strand wou gaan lê met my sonbril op, wou jy gaan kyk wat in die winkels is. Toe ek vir ons hamburgers wou gaan kry, met ’n milkshake vir jou, wou jy gaan uiteet in ’n restaurant. Jy wou selfs hê ek moes skoene aantrek vir die geleentheid. En weet jy hoe stresvol is dít?”
Sy’t jou ook omgepraat om twee nuwe broeke te koop toe jy nie kyk nie, toe koop jy sommer ’n hemp ook. Jy moet sonsteek gehad het.
“Is jy nou klaar gepraat?” vra sy. “’n Londense sielkundige het die vraelys opgestel en dis nogals interessant. Hy het vasgestel as ’n mens saam met vriende, familie of kollegas vakansie hou, is daar net soms probleme. Maar as ’n mens saam met jou man of vrou, vriend of vriendin van baie jare gaan, is daar altyd probleme. Toe ontwerp hy die vraelys.”
Vakansie hou saam met ’n kollega? wonder jy. Wie doen so iets? (Dit kan mos net lekker wees.)
“Luister jy nog?” vra sy, gereed met haar pen. Ja-ja-ja. Jy’s bang sy vra met watter kollega sou jy graag wou gaan vakansie hou, en dan sit jy.
“Vertel meer,” sê jy. “Dit klink vir my ook interessant.”
“Die sielkundige, ene dr. Wilson, het met mense gepraat.” (Dis wat sielkundiges veronderstel is om te doen, dink jy, die ou klink vir jou soos ’n toffie, maar jy val haar nie in die rede nie.) “Toe kom hy agter meer as die helfte van die mense het gedink hul vakansieman of -vrou is onbedagsaam, onavontuurlik, vervelig en kla te gou. Dit klink vir my bekend, maar laat ons nou nie daarop ingaan nie,” val sy haarself in die rede.
“Die Wilson’s Holiday Compatibility Test noem hulle dit. Jy kry by elke vraag ’n telling van een tot tien. Mense met vier punte moet mekaar liefs net per geleentheid sien, asof hulle toevallig op dieselfde plek vakansie hou; dié met vyf tot sewe punte moet liefs vóór die vakansie gaan sit en praat. Met tussen agt en tien punte is julle reg vir ’n romantiese vakansie saam.”
“So, hoeveel punte het ons gekry?” vra jy.
“Ons het dan nog nie die vraelys ingevul nie!” swaai sy haar pen verdedigend.
Jy’t aanvaar sy’t namens jou geantwoord. Vrae soos: Wat’s jou idee van ’n perfekte dag wanneer julle met vakansie is? 1. Heeldag op die strand. 2. Net rondlê en ontspan. 3. Rondlê die helfte van die dag en uitgaan die res van die dag. 4. Bietjie rondlê en êrens heen gaan die grootste gedeelte van die dag. 5. Heeldag uitgaan.
Of: Watse klere neem jy saam? En: Hoe belangrik is eet tydens vakansie?
“Wat sê hy van broeke koop en hamburgers?” vra jy. Jy kan haar nou al sê as mans en vroue voor ’n vakansie daardie vraelys invul, sal hulle nooit saam gaan vakansie hou nie. Hulle sal by die huis bly waar die terrein bekend is of by familie gaan afpak.
Jy dink dadelik weer aan die hoop goed wat nog uitgepak moet word – die koffers en die plastieksakke wat aangeteel het met konfytpotjies, ingelegde goed en draaddiertjies.
Jou eie uitpak is maklik: die een kortbroek, een langbroek en ’n T-hemp of twee wat jy saamgeneem het, skud jy net so in die wasgoedmandjie uit (al kry jy ’n skuins kyk oor jy “ekstra” wasgoed veroorsaak). Die twee nuwe broeke is nog skoon en die lawwe hemp, wat jy uit jou eie gekoop het. (“Ons kan dit altyd vir iemand gee wat dit nodig het.”)
Wanneer gaan jý eendag uitpak? vra jy. Die koffers staan die wêreld vol, jy’t al oor een geval.
Aaaag, sê sy, ek’s nog so laid-back. “Kom ons los dit tot Valentynsdag, dan kan jy my weer dra.”
Februarie 2004