Читать книгу Op die vrou af 2 - André le Roux - Страница 4

Met vakansie!

Оглавление

Dis die blond, dis die blou, dis (al weer) die inpak en die uitpak. Want sy weet nooit wat om te los en wat om saam te neem nie.

“Ons vakansie gaan verby wees, dan’t jy nog nie klaar ingepak nie,” waarsku jy. Dis net dat sy nie weet wat die weer gaan maak nie. Moet sy ’n ekstra trui inpak, ’n sambreel of ’n ekstra bikini?

“Jy gaan nie daardie koffer toekry nie,” waarsku jy weer. “En hoe dink jy gaan ek die ding in die motor se kattebak kry? Ons sal ’n hyskraan moet laat kom.”

As ’n vakansie twee weke lank is, pak sy in vir twee maande. Dan sê sy dis nie omdat sy te veel goed inpak nie, dis omdat die koffer te klein is. Dit help ook nie jy bied aan om te help nie, want dan weet sy nie waar’s wat nie. Jy oorweeg dit om liewer terug te gaan werk toe. Al daardie goed moet weer uitgepak word.

“Wil jy hierdie paar skoene saamvat of hierdies?” vra sy.

“Sommer net my plakkies,” sê jy. Een kortbroek, een langbroek en ’n T-hemp of twee. Jy dink aan fynbos-wandelpaaie en die strand, sy dink aan ’n deftige restaurant met kerse in die aand waar ’n mens nie met plakkies kan ingaan nie, al het jy sokkies aan. (“’n Hamburger is ook goed, solank ek nie hoef kos te maak nie.”)

Om als in die motor te kry! Want dis nie net koffers nie, daar’s ook diverse los Shoprite-sakke met items in, en daardie sakke kos deesdae geld.

As julle net eers 5 km uit die stad is, dink jy toe als in is, want jy draai nie terug ná 5 km nie. Langnaweek of lang vakansie, dit werk dieselfde: “Ek wonder of ek die stoof afgesit het? Het jy die agterdeur gesluit? Ai, ek’s seker ek’t my wit top vergeet, die een met die driekwartmoue vir tussenin aande.”

Vyf kilometer, net vyf, dis al wat jy vra …

En die verkeer! Hoekom neuk almal altyd Durban toe of Hartenbos toe of Bosveld toe of Drakensberge toe of Kampsbaai toe of Knysna toe of Margate toe as julle ook op pad is daarheen? ’n Mens kan jou nie draai nie en daar’s boonop buitelanders in Avis-motors en hulle weet nie waar’s links van die pad of regs van die pad nie. Op Plett en Hermanus is dit net matrieks waar jy kyk en hulle dink hulle is volleerd, dan noem hulle jou oom.

“Ek kan voel ek moes eers ’n draai geloop het by die huis,” sê sy ná 6 km. Maar jy het dan, herinner jy haar.

“Maar toe drink ek weer ’n laaste koppie koffie. Kan ons op Worcester by ’n garage stilhou, asseblief?” En op Touwsrivier en op Matjiesfontein en op Laingsburg en Vleifontein. (Elke keer drink sy weer koeldrank en ’n rukkie later sê sy: “Ek kan rêrig nie langer knyp nie!”)

Jy knyp jou kakebene styf toe en hou maar stil. Ons gaan nooit voor donker daar anderkant uitkom nie, ons moes by die huis gebly het. (“Moenie so jaag nie, jy’s ver oor die 120. Laas het hulle jou net buite Heidelberg gevang, onthou jy? Jy was die hele vakansie suinig.”)

Dan wil sy tussenin by elke plaasstal stilhou. Julle het konfyte in klein potjies vir ’n jaar en ingelegde goed wat jy nie eens geweet het ’n mens kan inlê nie. En goetertjies van draad of dennebolle op pootjies, dis kamtig soos voëltjies geverf. (Nóg iets wat êrens ingepak moet word. En weer uitgepak.)

Terwyl jy op die strand wil lê met jou donkerbril op, wil sy liewer gaan kyk wat in die winkels is. Dis immers ander winkels as by die huis, hoewel Woolworths en Pep Stores oral dieselfde lyk, dan nie?

“Kom ons koop vir jou ’n broek. Ons het mos nou die tyd.”

Ná ’n paar dae van die blond en die blou sê jy waddehel, ons is met vakansie! Jy begin dit selfs geniet en koop twee broeke en ’n lawwe hemp.

En sy’s so laid-back, sy sê selfs: “Ek’s nou so ontspanne, jy sal my moet dra.”

Januarie 2004

Op die vrou af 2

Подняться наверх