Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan - Страница 6

3

Оглавление

Louis de la Roque se onwelkome besoek het Celèste nog meer verwar. Die hele ding raak al hoe meer onverstaanbaar. Sy kan nie wag dat De Bordeaux moet terugkeer sodat sy die oordra van die moeilike boodskap agter die rug kan kry nie.

Toe Armand de Bordeaux uiteindelik terugkeer, is hy egter nie alleen nie. Madeleine se pa is by hom en dus kan Celèste hom nie vertel van De la Roque se boodskap nie. Sy bly ongeduldig in die omgewing van die studeerkamer ronddwaal, maar dis amper twaalfuur die nag toe Tredoux uiteindelik uit die studeerkamer kom en van sy gasheer afskeid neem.

Celèste wag haar werkgewer aan die voet van die trap in. Hy is egter nie haastig om bed toe te gaan nie en teen hierdie tyd wil Celèste al omval van moegheid. Dus besluit sy om ’n groot oortreding te begaan en aan De Bordeaux se studeerkamerdeur te gaan klop.

Hy pluk die deur ietwat ongeduldig oop en probeer nie eens sy verbasing verberg toe hy sien wie sy middernagtelike besoekster is nie.

“Mademoiselle Du Toit! U weet dis ongehoord om my hier te kom besoek!”

Celèste sluk hard. “Je sais, monsieur, maar ek het ’n belangrike boodskap van monsieur De la Roque en ek kon nie wag tot môre nie.”

Die uitdrukking op sy gesig verander merkbaar. Celèste verbeel haar dat hy selfs verbleek het, maar sy is nie baie seker daarvan nie.

Hy trek haar die studeerkamer binne en druk die deur agter hom toe.

“Wat het De la Roque gesê?” wil hy weet.

“Hy … hy het gesê dat hy … alles kom vat wat aan u behoort, u titel ook. Hy het ernstig gelyk, monsieur, maar ek hou nie van hom nie. Hy is onbeskof en sonder maniere.”

“Ek het De la Roque nie nóú al verwag nie,” sê De Bordeaux bekommerd terwyl hy rusteloos heen en weer in die vertrek loop. “Hy het te gou gekom …”

“Hy was laat vanmiddag hier, maar u was by mademoiselle Madeleine, monsieur.”

Hy draai skielik om na haar en daar is ’n glimlag om sy mond toe hy sê: “Merci, Celèste. Jy kan nou maar gaan slaap. Dis al baie laat.”

Sy maak ’n ligte kniebuiging. “Bonsoir, monsieur …”

“Goeienag …”

Sy gaan sleepvoet terug na haar kamertjie, dankbaar dat sy die boodskap kon oordra. Voordat sy in die bed klim, maak sy seker dat die leersak nog veilig is.

Maandagoggend daag Ernest, Madeleine se koetsier, op La Montagne op. Sy werkgeefster het hom in die pad gesteek en hy is baie ongelukkig daaroor.

Armand is verlig om die man te sien en neem hom dadelik in diens. Sy eie koetsier het twee weke gelede spoorloos verdwyn en dis lastig om sonder een oor die weg te kom.

Ernest is meer spraaksaam teenoor Celèste as teenoor De Bordeaux oor die rede waarom hy ontslaan is.

“Die adel is vrekkig,” is sy mening, “en monsieur Tredoux is nie eens van die adel nie. Hulle verbeel hulle maar net hulle is.”

Celèste kyk hom skuinsweg aan. “Dis sommer suur druiwe, Ernest.”

“Suur druiwe se voet! Hulle het geld om op allerhande onnodige dinge te spandeer, maar wanneer ek ’n riksdaalder wil leen om my siek ma te help, is daar mos nie geld nie.” Hy frons ongelukkig.

“Ek het gehoor hulle is in ’n finansiële verknorsing,” sê Celèste versigtig.

Ernest lag onverwags. “Dis ’n grap! Wie dit ook al gesê het, praat deur sy nek!”

Celèste swyg. Wie en wat moet sy glo? Kan Ernest soveel van die Tredouxs se geldsake af weet? Maar hoekom sal Madeleine dan vir monsieur le comte lieg?

“En hoe sal jý miskien weet?” konfronteer sy Ernest.

“Net gister nog het monsieur Tredoux vier pragperde gekoop!”

“Op Sondag?” wil Celèste ongelowig weet.

“Dink jy monsieur Tredoux steur hom aan sulke dinge! Hy het vrede met wat predikante en die kerk te sê het.”

Celèste is nog nie oortuig nie. “Monsieur Tredoux kon die perde mos op skuld gekoop het.”

“O nee! Ek het hom persoonlik die geld sien aftel. Hy het hulle met harde kontant gekoop, soos wat hy die nuwe koets vier weke gelede gekoop het. Hy is nie ’n man wat skuld maak nie … nie Jacques Tredoux nie.”

Celèste lek oor haar bolip, dink ’n oomblik diep na en vra dan: “Sê my, Ernest, hoekom is jy eintlik daar weg? Was dit oor een riksdaalder?”

“O, dit was nie die enigste riksdaalder nie. Monsieur het geen gewete nie. Hy sal sy eie ma verkul as dit vir hom kan voordeel inhou. Nee, hy het my twee maande se salaris geskuld, asook ekstra geld wat hy my belowe het vir iets wat ek vir hom moes doen. Toe ek om die geld vra, het hy my dit gegee en my toe afgedank.”

Celèste haal haar skouers op.

“ ’n Mens sal ook nooit weet hoe ryk mense se koppe werk nie. Dit lyk vir my hoe meer geld ’n mens het, hoe meer probleme het jy.”

Ernest lag. “Dis nie altemit nie! Ek bly maar liewer ’n arm man sonder al die probleme.”

Die enigste verklaring vir die feit dat Madeleine vir Armand gelieg het, is dat sy dalk nie die waarheid weet nie, besluit Celèste. Sy weet nie dat haar pa glad nie sukkel om kop bo water te hou nie. Dan skud sy haar kop stadig. Dis net so onaanvaarbaar. Madeleine móét mos weet hoe dit met haar ouers se geldsake gaan. Sy is ’n slim mens. Sy sal haar nie baie maklik om die bos laat lei nie.

Jeanne het ’n bekommernis van heeltemal ’n ander aard. Meer as twee weke gelede al is die uitnodigings vir Vrydagaand se ete en dans op La Montagne uitgestuur en amper al die gaste het al geantwoord. Nou lyk dit asof monsieur De Bordeaux nie meer in die minste in die geselligheid belangstel nie. Jeanne stuur Celèste om by hom te gaan uitvind of daar nog met die verrigtinge voortgegaan moet word of nie.

Celèste vind hom in die tuin waar hy deur ’n dokument sit en lees met ’n diep frons tussen sy blou oë.

“Je vous demande pardon, monsieur …” Sy maak ’n buiging.

Hy kyk op en klink effens ongeduldig toe hy vra: “Wat is dit?”

“Moet daar met Vrydagaand se geselligheid voortgegaan word of moet ons die gaste laat weet dat dit afgestel is?”

“Aarde! Ek het skoon vergeet van Vrydagaand! Natuurlik moet daar voortgegaan word … ek kan nie nou al boedel oorgee nie.”

Celèste maak weer ’n kniebuiging. “Ek sal dit vir Jeanne sê, monsieur.”

Sy wil omdraai en wegstap, maar hy keer haar.

“Wie behalwe jy en Jeanne weet van monsieur De la Roque se besoek?”

Sy blik rus dringend op haar, asof hy ’n antwoord uit haar wil dwing; ’n erkenning dat sy iemand anders vertel het, maar sy lyk geensins skuldig nie.

“Sover ek weet, is daar niemand anders nie, monsieur le comte, maar ek kan ook nie met sekerheid sê nie. Garcon was in die stal en wie weet wie anders het monsieur De la Roque hierheen sien kom? Hy het immers openlik gekom.”

Hy swyg ’n oomblik lank en vra dan sag: “As alles skeefloop, sal jy nog bereid wees om my te help?”

Daar is amper iets pleitends in sy oë en dit laat haar haar blik vinnig neerslaan.

“Mais oui, monsieur, u weet tog dat ek sal …”

“Selfs al lyk dit asof ek skuldig is aan die verskriklike dade waarvan mense sal praat?”

Hierdie keer kyk sy vinnig, onseker, op na hom. “Niemand kan u tog van iets beskuldig nie, monsieur … U is ’n goeie werkgewer en niemand van ons kan kla nie.”

Hy vee met sy hand deur sy raafswart hare. “Dis nie só eenvoudig nie.” Hy kyk skielik op na haar waar sy nog steeds voor hom staan en die uitdrukking in sy blou oë laat haar hart ’n slag mis.

“Jy kan jou nie eintlik meer losmaak nie, Celèste. Jy is nou wat die wet noem ’n medepligtige.”

’n Verskriklike voorgevoel kruip in haar op. Sy het nog nooit in haar hele lewe selfs ’n klein wetsoortreding begaan nie. Waarvan praat die graaf dan?

“Ek … verstaan nie …”

“Ek weet alles is my skuld … ek moes die leersak nooit aan jou gegee het nie, maar dis nou te laat vir berou. Nou is dit net belangrik dat jy weet dat selfs jý nou in gevaar verkeer. Moenie onverskillig raak nie en moenie dat enigiemand van die sak uitvind nie. Dit sal die einde van my … en vir jou beteken.”

Sy sluk hard. “Monsieur … kan u die sak nie maar liewer aan iemand anders gee nie? Dis nou nie dat ek u in die steek wil laat nie … dit sal ek nooit kan doen nie … maar ek weet nie of ek die sak sal kan beskerm nie.”

’n Lang ruk kyk hy na haar pleitende gesiggie en bekommerde groen oë en uiteindelik sug hy diep.

“As jy aan iemand kan dink wat ek kan vertrou en wat die moed sal hê wat jý aan die dag gelê het, sal ek die sak met graagte van jou wegneem.”

“Wat van Garcon?” wil sy dadelik weet.

Hy skud sy kop stadig. “Garcon het muisneste. Hy dink aan niks anders as aan jou nie. ’n Mens kan nie ’n verliefde man met belangrike sake vertrou nie. Hulle word soos kinders as die koors hulle beetpak.”

Sy lag ten spyte van die ernstige situasie.

“Dit mag so wees, maar wat dan van mademoiselle Madeleine? U is vir haar die heel belangrikste persoon op die ganse aarde.”

Hy kyk vinnig, ondersoekend, na haar deur half-vernoude oë, maar ontspan toe hy nie daar vind wat hy verwag het nie. Sy beantwoord sy blik met groot, onskuldige, helder oë.

“Ek kan haar nie vra nie. Die redes kan ek nie aan jou verduidelik nie. Jeanne is te veel van ’n kletskous en Ernest het nog maar pas hier begin werk. My ander vriende … wel, ’n mens weet per slot van rekening nooit regtig of jy ’n vriend kan vertrou nie.”

Sy aarsel ’n oomblik en vra dan: “Hoekom het u dan vir mý gekies? Voorheen het u nooit eens met my gepraat nie en toe moet ek skielik die verantwoordelikheid van die leersak op my neem. Ek kan dit nie begryp nie.”

Hy staan op, steek die opgevoude dokument terug in sy sak en gaan voor haar staan. Haar blik bly vraend op hom gerig, half onseker soos dié van ’n kind wat nie weet wat om van sy ouers te verwag nie. Sy hand gaan halfpad op na haar gesig om daaraan te raak, maar dan laat hy dit weer sak.

“Vertrou my, Celèste. Ek het baie goeie redes hoekom ek jou uitgekies het. Ek hoop net dat ek jou eendag, wanneer alles verby is, vir alles sal kan vergoed. Ek sal sorg dat jy nooit weer in jou lewe ’n kamermeisie hoef te wees nie.”

Dit beantwoord nie haar vraag nie, maar sy antwoord maak haar tog gelukkig. Al besef sy dat hulle nie lank so bondgenote sal wees nie, sal sy hierdie tyd nooit kan vergeet nie. Dalk sal sy tog eendag met Garcon trou, maar Armand de Bordeaux sal altyd ’n spesiale, geheime plekkie in haar drome besit.

Dinsdagoggend baie vroeg daag daar nog ’n vreemdeling te perd op La Montagne op. Celèste hou hom deur die eetkamervenster dop en wonder hoekom daar deesdae soveel vreemde gesigte op die landgoed te sien is.

Jeanne laat die besoeker binne en kort daarna moet Celèste die diensklokkie gaan beantwoord. Sy huiwer buite die biblioteekdeur en luister half skuldig na wat binne gepraat word.

“Dit spyt my dat my vader u so ontstel het, monsieur,” hoor sy die vreemdeling praat. “Hy kan soms so op loop sit met ’n gedagte.”

“Waarom is u hier, monsieur De la Roque?”

Celèste knip haar oë. De la Roque … dit moet die ander man se seun wees.

“Ek wil u ’n aanbod maak. Ek weet waarom u hier na die Kaap die Goeie Hoop gevlug het. U sal nie baie lank kan vlug nie, maar ek is bereid om u vryheid by die kommandeur te koop en u van die galg te red. In ruil daarvoor vra ek u net om dié land onmiddellik te verlaat en nooit terug te keer nie.”

Daar is ’n lang stilte voordat Armand de Bordeaux sissend sê: “Ek dink jy het lank genoeg van my gasvryheid gebruik gemaak. Gaan terug na jou pa, Emile de la Roque! Laat hom toe om jou nog meer te bederf.”

“Jy sal nog spyt wees, De Bordeaux!” verhef die ander man sy stem. “Dit was ’n baie redelike aanbod … een wat nie deur die kommandeur herhaal sal word nie!” Hy steek ’n oomblik lank vas en sê dan: “En as jy op Etienne le Blanc se koms hoop, maak jy ’n groot fout! Hy kom nie hierheen nie! Daarvoor sal ék sorg!”

Celèste skarrel net betyds van die deur af weg voordat Emile de la Roque dit ooppluk en woedend met die gang af na die voordeur verdwyn. Sy kyk verskrik op toe sy De Bordeaux in die biblioteek se deur sien verskyn, sy gesig gryswit van woede. Só kwaad het sy hom nog nooit in haar hele lewe gesien nie.

Skielik sien hy haar raak, maar die uitdrukking op sy gesig verander nie. Die kilheid van sy blik laat haar onwillekeurig ril.

“Gaan aan met jou werk,” sê hy bars en maak die deur hard agter hom toe.

Celèste bewe liggies. Sy kry die gevoel dat daardie leersak baie, baie belangriker is as wat sy ooit gedroom het. Sedert dit in haar hande beland het, het haat na La Montagne gekom. Voorheen was dit ’n pragtige, rustige landgoed waar ’n mens gelukkig kon wees, maar nou het vrees en haat dit byna ongemerk verander. Daar is agterdog in die oë van die mense wat die landgoed besoek … agterdog, afguns en haat.

Garcon keer haar voor toe sy na buite gaan om vars lug te skep na die ontstellende gesprek wat sy afgeluister het. Sy is diep ingedagte en sien hom skaars raak.

“Ek praat met jou, Celèste!” sê hy ongeduldig.

Sy steek vas en kyk na hom. “Wat is dit nou weer, Garcon?”

“Jy het my nog nie jou antwoord gegee nie.”

’n Oomblik lank lyk sy totaal uit die veld geslaan en het geen benul waarvan hy praat nie. Dan onthou sy sy vreemde huweliksaansoek daar in die hoenderhok.

“Wil jy nóú ’n antwoord hê?” vra sy eindelik.

“Ek wag al amper ’n week dat jy my moet antwoord, maar jy kom net nie.” Hy lyk vies en voel gekul. Dis glad nie hoe hy hom dit voorgestel het nie. “Gaan jy my nou jou antwoord gee?”

Sy staar ’n lang ruk na hom, haar gedagtes ’n warboel van onsekerheid. Sy het Garcon nie lief nie en tog, watter ander uitweg is daar vir haar? Hulle sal ’n goeie lewe saam kan hê. Hy sal vir haar sorg soos ’n man dit behoort te doen en sy sal vir hulle kinders in die wêreld bring. As hulle gelukkig is, sal hulle nog baie jare lank hier op La Montagne kan woon … as man en vrou.

Sy sug liggies. Dis net sý wat nie gelukkig sal wees nie. Sy sal Armand en Madeleine elke dag sien, sien hoe hulle in mekaar se oë kyk met die wete dat hulle mekaar liefhet. Tog weet sy dat sy nie baie graag van die landgoed af wil weggaan nie.

“Goed, Garcon … ons kan trou,” sê sy uiteindelik half verlig dat dit nou ook agter die rug is.

Sy gesig helder op. “Nes die lente kom, sal ons trou. Die hele kontrei se mense sal hier wees. Ek belowe jou, meisie, jy sal nooit spyt wees nie. Ek sal goed vir jou sorg. Monsieur De Bordeaux het reeds belowe dat ek ’n groter salaris sal kry as ons trou. Dis al klaar ’n goeie vooruitsig.”

Celèste luister met ’n halwe oor. Daar is geen vreugde in haar soos daar behoort te wees nie. Daar is net ’n half dooie gevoel soos wanneer ’n mens ’n onaangename taak verrig het en jou plig gedoen het. Niks meer nie.

Celèste kry nie veel tyd om verder te dink en te wonder oor alles nie. Die graaf het ekstra hulp gehuur vir die geselligheid en daar is twee dae voor die groot aand ’n hele bedrywigheid in die groot huis. Celèste skarrel heen en weer om alles gedoen te kry. Vir Garcon sien sy net soggens wanneer hy die vars melk kombuis toe bring en dan wissel hulle net ’n paar woorde.

Teen vieruur op die dag van die geselligheid is alles gereed. Celèste is nog net besig om die laaste blomme te rangskik. Die eerste gaste word om vyfuur verwag.

Spoedig kom die rytuie die een na die ander by die groot hekke ingery, hou voor die opstal stil en ry vort na die stal nadat die deftig geklede gaste uitgeklim het.

Jeanne ontvang die gaste by die voordeur terwyl Celèste hoede, mantels en jakkies na ’n aangrensende vertrek neem. Sy loer nuuskierig na elke nuwe gas. Baie van hulle herken sy, want hulle is ou vriende van die graaf. Daar is egter ’n paar nuwe gesigte ook.

Sy verkyk haar aan die pragtige tabberds van die ryk vroue, hulle fyn perlemoen-en-sy-waaiers, hulle glinsterende juwele en sierlike kapsels, en sy sug net so effens afgunstig. Sy sal nooit sulke mooi klere besit nie. Sewe jaar lank al dra sy dieselfde donker tabberd met die wit boordjies en kraag en die wit voorskoot en kappie. Af en toe is daar vir haar geleentheid om ’n ander tabberd te dra, maar dan is dit net ’n gewone sisrok en nie hierdie pragtige tabberds van kosbare sy en Brusselse kant nie. Haar tabberds is nie versier met linte en valletjies en geborduurde blomme nie.

Haar blik dwaal na waar die graaf De Bordeaux sy gaste ontvang en welkom heet. Sy onderdruk die pyn in haar binneste toe sy sien met hoeveel sjarme hy die dames groet, hoe hulle koketterig vir hom glimlag en hom uitlok met hulle gegrimeerde oë. Sy sien hoe hy elkeen spesiaal laat voel, sy lippe op hulle hande druk wanneer hy galant voor hulle buig, en sy sien ook die verliefdheid in hulle oë wanneer hulle na hom kyk.

’n Bietjie vies onderdruk sy haar jaloesie. Dis onregverdig, dink sy ongelukkig. Hoekom is ek as ’n gewone meisie uit die laer stand gebore? Hoekom kon my pa nie ook ’n baron of ’n markies gewees het nie? Nou was hy net ’n gewone skoenmaker en my ma ’n wasvrou. Ek kan op niks beter as Garcon hoop nie.

Dis Celèste se taak om te help met die bediening in die groot danssaal. Sy en ’n ander meisie draf heen en weer om sjerrie en wyn aan te dra na die gaste. Niemand sien haar eintlik raak nie. Sy is maar deel van die huis en van geen belang nie. Die vroue kyk dwarsdeur haar asof sy nie bestaan nie en die mans sien haar ook nie eintlik raak nie. Net hier en daar is ’n stuitige een wat vir haar knipoog of ’n skelm glimlaggie na haar kant gooi.

Celèste is mooi, maar sy is nie eintlik daarvan bewus nie. Haar hare is altyd in ’n stywe bollatjie op haar kroontjie vasgesteek met die wit gestyfde kappie bo-oor. Daar is geen grimering aan haar gesig nie en haar klere is strak en styf. Tog is daar die enkele mans wat verby dié dinge kyk en hulle kan voorstel hoe sy sal lyk wanneer sy mooi aangetrek is.

Toe sy weer verby die voordeur loop op pad na die kombuis, steek sy verskrik vas.

In die oop deur staan Louis de la Roque en sy seun, Emile.

“Ek mag seker na ’n geselligheid in my eie huis kom,” sê die pa met ’n onaangename laggie.

Celèste weet nie wat om te sê nie. Sy het geen reg om hom die deur te wys nie, maar sy weet ook dat hulle teenwoordigheid die graaf baie sal omkrap.

Sy dink vinnig. Dit sal beter wees as sy hierdie man nie die harnas injaag nie. Hy kan die wêreld vir die graaf baie onaangenaam maak.

“Volg my, asseblief,” sê sy na ’n kort stilte. “Ek sal u na die comte De Bordeaux neem.”

Met die twee mans kort op haar hakke, stap sy terug na die danssaal waar die orkes pas begin speel het. Die graaf De Bordeaux en Madeleine Tredoux open die dansvloer en Celèste en die twee onwelkome besoekers is verplig om ’n paar minute te wag voordat die graaf beskikbaar is.

Sy maak haarself haastig uit die voete toe die twee mans na die graaf koers kies.

Toe sy later terugkeer met haar skinkbord vol wyn, sien sy tot haar verbasing hoe Emile de la Roque en Madeleine dans terwyl die graaf skynbaar heeltemal op sy gemak met Louis de la Roque en twee ander vriende staan en gesels.

Sy haal haar skouers liggies op. Sy sal ryk mense ook nooit regtig begryp nie.

Net voordat die gaste na die eetkamer gaan, draf Celèste na haar kamer om net weer haar hare te gaan kam en ’n skoon voorskoot aan te sit.

Daar is geen lig in die smal gangetjie nie, maar sy het ook nie lig nodig nie. Sy ken die gang so goed soos die palm van haar hand. Halfpad na die kamerdeur loop sy haar vas ’n in donker gestalte. Sy ruk haar asem skerp in en staan agteruit.

“Wat maak jy hier?” wil sy weet toe sy gedeeltelik van haar skrik herstel het.

Die persoon antwoord nie, maar skuur by haar verby en verdwyn om die draai in die gang voordat Celèste tot verhaal kan kom.

’n Oomblik lank staar sy hom onbegrypend agterna en dan onthou sy die leersak in haar kamer. Haar hart ruk in haar keel. Die geheimsinnige besoeker kon net op soek na die leersak gewees het.

Sy aarsel nie ’n oomblik langer nie, maar swaai om en hardloop na haar kamerdeur. Dan ruk sy dit oop en staar na die deurmekaarspul. Haar vermoede was reg. Daardie besoeker was op soek na die leersak. Haar blik val op die laaikassie wat ’n ent van die muur af weggetrek is en haar hart bons wild in haar binneste. Hy móés die sak gesien het, dink sy paniekerig. Sy moet al haar moed bymekaarskraap om na die laaikas te loop.

Daar is geen sak agter die laaikassie nie en haar keel trek toe. Sou die man dit ontdek het? Daar is geen ander verklaring vir die verdwyning van die leersak nie.

Fyn sweetdruppels pêrel op haar voorkop. Wat gaan sy aan die graaf De Bordeaux sê? Hy het haar met die leersak vertrou en nou het sy hom in die steek gelaat.

Sy steek haar bewende hand in die opening asof sy deur te voel dubbel seker wil maak dat die sak werklik nie meer daar is nie. Haar hart slaan ’n slag oor toe sy die gevoel van leer onder haar vingers kry. Met ’n wild kloppende hart steek sy haar hand dieper in die donker opening en spring byna op van vreugde toe sy die sak raak vat. Dit sit vas en sy kan dit nie uitkry nie. Dadelik besef sy wat moes gebeur het.

Die besoeker het eers die laai opgetrek en toe het die handvatsel van die sak vasgehaak en is dit saam met die laai uitgesleep. As hy die laai toegestoot het, sou hy die leersak ontdek het. Met ’n bietjie gesukkel haal sy die kosbare sak uit.

Sy kan dit onmoontlik weer op dieselfde plek versteek, besluit sy. Hierdie keer was sy gelukkig, maar dalk word dit ’n volgende keer ontdek. Haar kamer is klein en eenvoudig en daar is nie veel plek waar sy so ’n sak kan versteek nie.

Stelselmatig begin sy die kamer deursoek en ontdek dan ’n los plank op die vensterbank. Dis die ideale wegsteekplek! Die muur is effens hol en nadat Celèste die los klippies en sand verwyder het, pas die leersak netjies in die holte. Met die plank terug op sy plek, sal geen mens kan raai wat daaronder versteek is nie.

Teen hierdie tyd is sy al baie lank in haar kamer en is die gaste lankal in die eetkamer en wag om bedien te word. Celèste kam haar hare vinnig en sit haastig ’n skoon voorskoot aan. Dan hardloop sy terug na die kombuis waar Jeanne haar met ’n ongeduldige frons in die werk steek.

“Hoekom draai jy so wanneer daar baie werk is?” brom sy.

“Daar was iemand by ons kamers,” sê Celèste. “Ek het nie kans gehad om na joune te gaan kyk nie, maar myne was van hoek tot kant omgekeer.”

Jeanne ruk orent. “Dan is hulle vanaand dalk hier op die onthaal. Maar dan is dit mos iemand wat die graaf ken! Wie op aarde is so vermetel om reg onder sy neus in sy huis te snuffel?”

“Ons kan monsieur le comte later daarvan sê. Ons moet hom nie nou gaan staan en omkrap nie.”

Jeanne trek ’n gesig. “Dis nie nodig nie. Hy is klaar omgekrap oor daardie twee De la Roques wat ongenooid hier aangesit gekom het. Netnou nog is hy studeerkamer toe met die pa en ek sê jou, die atmosfeer was soos ys tussen hulle toe hulle daar uitkom. Garcon sê dat dié monsieur De la Roque die graaf se neef is. Hy is die volgende aanspraakmaker op die titel.”

Celèste frons. “Wel, hy tree reeds op asof die landgoed aan hom behoort … so asof ons monsieur dan nie eens ’n reg op sy erflating het nie.”

Jeanne haal haar skouers op. “Ons sal seker die een of ander tyd die hele storie hoor. Intussen wag die gaste, en monsieur De Bordeaux gaan jou afskil as jy hom in die skande steek deur die gaste te lank te laat wag. Neem solank die voorgereg in.”

Celèste tel die silwerskinkbord op en stap vinnig na die eetkamer. Daar begin sy die gaste een vir een bedien terwyl sy hulle onderlangs noukeurig bekyk. Een van hulle was netnou daar in die gang, maar dit was eenvoudig te donker om die persoon te kon eien.

Afgesien van die twee De la Roques, is ook Madeleine Tredoux en haar ouers teenwoordig. Daar is ook ’n paar bekende landhere van buurplase met hulle dogters en hier en daar ook ’n jong man. Daar is ’n hele paar gaste wat Celèste nog maar weinig gesien het en ander wat sy van geen kant af ken nie. Maar hoe sy hulle ook al beskou, die identiteit van die man in die gang bly vir haar onbekend.

Toe sy die vis begin bedien, hou die graaf haar ’n oomblik terug.

“Daar is ’n paar bottels spesiale wyn wat op my lessenaar in die studeerkamer staan. Bring dit hierheen, asseblief.”

Celèste maak ’n kniebuiging en drafstap weg om haar werkgewer se bevel te gehoorsaam. Sy neem ’n lantern saam na die studeerkamer.

Toe sy die vertrek binnestap, gaan sy botstil staan. Die man wat haar kamer omgekeer het, was beslis ook hier. Die graaf se muurkassie se deur is afgebreek, die lessenaarlaaie hang oop en die inhoud daarvan is in die vertrek rondgestrooi.

Hier is baie deeglik gesoek, dink Celèste. In haar eie kamer is daar amper net bolangs gekyk, asof die besoeker nie werklik gedink het dat hy iets daar sou vind nie.

Op die lessenaar staan die klompie bottels nog ongedeerd. Daar is nie nou tyd om te wonder oor die plunderaar nie. Dit moet tot later wag. Sy moet die bottels eers na die kombuis neem, waar sy hulle moet afstof, en dan moet sy teruggaan na die eetkamer.

Dis geen wonder niemand het die lawaai in die studeerkamer gehoor nie, dink Celèste met ’n ligte frons toe sy na die kombuis terugstap met ’n paar van die bottels wyn in haar arms. Die klomp raas en gesels daar in die eetkamer dat hoor en sien vergaan en dan speel die orkes ook nog om die lawaai af te rond.

Sy vertel Jeanne wat sy in die studeerkamer gevind het. Daar is egter nie tyd om hulle daaroor te bekommer nie. Dis al klaar tyd dat die hoofgereg bedien word. Die een of ander tyd sal hulle die graaf wel eenkant kry en aan hom kan vertel wat in die huis aangegaan het.

“Dalk het Garcon of Ernest iets gesien,” meen Celèste toe sy eindelik die hoofgereg bedien het. “Hulle is die hele aand nog by die stal. Miskien het hulle lig deur die vensters gesien of dalk iemand sien rondsluip.”

Jeanne skud haar kop. “Non, ek glo nie hulle het iets gesien nie.”

Celèste gaan uit en gaan staan in die gang in die skaduwee om na die gaste om die tafel te kyk. Daar is omtrent vyftig van hulle en een van hulle weet wat vanaand hier gebeur het. Maar wie?

Haar blik rus ’n oomblik lank op die aantreklike gelaat van Armand de Bordeaux en ’n ligte suggie ontsnap haar mooi mond. Vir hom sal sy kaalvoet deur die vuur loop as hy dit van haar verlang, maar sy sal ook niks daardeur kan wen nie. Hy is vir haar so onbereikbaar soos die sterre. Die pragtige meisies is dol op hom en hy is sjarmant teenoor hulle. Hulle is almal swierig geklee, trots op hulle afkoms en rykdom, en hier staan sy in die skaduwee met die donker, onaantreklike tabberd van ’n bediende. Dis tog immers wat sy is – net ’n bediende. Sy sal altyd net ’n toeskouer bly.

Sy byt op haar onderlip en wens dit was sý met wie Armand de Bordeaux so glimlag, na wie hy met soveel aandag luister, aan wie se hand hy liggies raak. Sy wens dit was met háár dat hy nou glasies klink daar in die helder verligte eetkamer. Sy wens sy was nie ’n bediende wat met was en skrop ’n bestaan moes maak nie.

Haar oë skiet vol trane. As die verlange net nie so in haar gebrand het nie … as sy Armand de Bordeaux net nooit ontmoet het nie. Hy is nie ’n man wat ’n mens maklik vergeet nie – nie wanneer hy so fier en trots op die rug van sy skimmel sit nie. Sy het hom al teen ’n vriend sien skerm met die swaard, en sy spoed en beweeglikheid het haar verstom. Wanneer hy lag, versnel die pas van haar hart só dat sy bevrees is dat dit by haar keel gaan uitspring. Maar dit is alles tevergeefs. Die beeldskone Madeleine Tredoux sal maar altyd aan Armand de Bordeaux se sy wees. Hulle pas bymekaar en dis hoe dit hoort.

Sy draai om en gaan teug na die kombuis. Sy sien nie die ligte frons op De Bordeaux se gesig toe hy haar uit die skaduwee sien tree nie. Sy merk nie dat die vrolikheid net ’n sekonde lank uit sy oë wyk nie.

Daar is ’n dringende klop aan die agterdeur toe Celèste by die kombuis instap. Jeanne drafstap om dit te gaan oopmaak en haar oë rek toe sy ’n verskrikte Ernest op die drumpel sien staan.

“En nou?” wil sy weet. “Wat makeer jou? Dit lyk of jy ’n spook gesien het.”

Hy leun teen die kosyn en vee met sy hand deur sy hare. Sy gesig is bleek en sy hande bewe.

“Dis Garcon … julle moet die graaf laat kom …”

“Ek kan hom nie gaan roep oor die stalkneg nie!” ontplof Jeanne ergerlik. “Hoe durf jy hom met julle nonsens kom staan en lastig val?”

Ernest kyk vinnig op na haar en daar is ’n uitdrukking van magtelose frustrasie op sy gesig.

“My magtie, vroumens! Loop roep die graaf! Hy moet dadelik na die stal toe kom!” Sy stem is hees en dan vertrek sy gesig skielik. “Garcon … Garcon is dood. Iemand het hom met ’n mes in die rug gesteek.”

Annelize Morgan Omnibus 2

Подняться наверх