Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 2 - Annelize Morgan - Страница 7

4

Оглавление

Jeanne en Celèste staar in ongeloof na Ernest. Dit is vir hulle net ondenkbaar dat die groot, goeie Garcon dood is.

“Wat het gebeur, Ernest?” vra Celèste eindelik sag.

“Ek weet nie. Hy moes iemand verras het, want hulle het skynbaar baklei voordat … voordat …” Hy kry weer ’n pyntrek op sy gesig. “Die hele kamer is onderstebo gekeer. Ek het niks gehoor nie, want ek was saam met die ander koetsiers agter die stal waar ons ’n bietjie partytjie gehou het. Garcon het na sy kamer gegaan om nog ’n bottel wyn te gaan haal … Hy moes hom tóé in die een vasgeloop het wat … hom doodgemaak het.”

Jeanne staan besluiteloos rond en dan kyk sy na Celèste.

“Die ete is amper verby en dan sal die gaste na die dansvloer toe teruggaan. Tien minute sal geen verskil maak nie, sal dit?”

Celèste knik en kyk na die koetsier. “Kom solank binne, Ernest. Ons wag net so ’n bietjie.”

’n Paar minute later hoor hulle die gaste uit die eetkamer kom en in pare na die dansvloer drentel waar die orkes weer stelling ingeneem het. ’n Vrolike deuntjie klink op.

Skielik irriteer die musiek Celèste. Hulle weet nie van wat daar by die stal gebeur het nie, dink sy. Garcon is dood … Garcon wat met haar wou trou en aan wie sy so teësinnig die jawoord gegee het. Nou is daar niemand meer wat haar wil hê nie.

Sy glip tussen die gaste deur na die eetkamer waar sy die graaf De Bordeaux met een van sy vriende sien gesels. Dan haal sy diep asem, gaan versigtig nader en maak ’n diep kniebuiging voor hom.

Hy kyk op en ’n ligte frons verskyn tussen sy blou oë. “Wat is dit?” vra hy en op hierdie oomblik is hy weer die streng aristokraat wat sy landgoed met ’n ysterhand regeer.

Celèste sluk hard. “Ek … ek weet nie hoe om dit te stel nie, monsieur le comte …”

“Praat nou! Ek het nie die hele dag tyd nie,” kom die antwoord ietwat bars van die graaf. In sy huishouding mag ’n bediende hom nooit op dié manier nader wanneer hy gaste onthaal nie.

“Dis Garcon, monsieur …” sê Celèste op ’n fluistertoon. “Hy is vermoor …” Sy durf nie opkyk nie, omdat sy die trane agter haar ooglede voel brand. “Iemand het hom met ’n mes in die rug gesteek, monsieur … Daar was ’n geveg, maar niemand weet wie dit gedoen het nie …”

De Bordeaux aarsel net ’n oomblik voordat hy verskoning maak by sy gaste en Celèste na die stal volg.

Op pad soontoe vertel sy hom van haar eie kamer en ook sy studeerkamer wat deursoek is.

“En die leersak?” wil hy weet toe hy skielik vassteek en dringend na haar kyk. “Waar is die sak, Celèste?”

“Dis nog veilig, monsieur.”

Hy slaak ’n sug van verligting en in die flou lig van die maan kan sy hom effens sien glimlag. Sy oë is net donker poele skaduwees en sy kan nie eens raai wat daar in sy gedagtes omgaan nie.

“Merci … Ek het geweet dat die sak nie veilig by my is nie.”

“Hulle sal terugkom …”

Hy skud sy kop stadig. “Nie gou nie. Kom, ons moet gaan kyk wat daar in die stal gebeur het.” Hy draai om en begin weer aanstap.

Celèste volg hom. Agter hulle kom Jeanne ook aan en kort op haar hakke volg monsieur Tredoux en Emile de la Roque. Op die een of ander manier moes hulle uitgevind het wat gebeur het, dink sy. Dalk het hulle by Ernest gehoor. Hy is in ’n geskokte toestand en weet nie eens met wie hy praat nie.

De Bordeaux gaan eerste die stal binne. Hy beduie aan Celèste om eers te wag. Na ’n minuut of wat keer hy terug. ’n Lang ruk staan hy swyend sy onderlip en knaag. Dan kyk hy op na die meisie.

“Ek is jammer, Celèste … ek is werklik jammer.”

Sy druk by hom verby. Hy probeer haar nog keer, maar sy is reeds verby en die stal in. Daar staan sy geskok na Garcon se liggaam in die strooi en staar. Haar hart klop swaar in haar binneste. Sy kan nie glo dat sy nooit weer met hom sal gesels nie, dat hy nooit weer na die agterdeur sal kom met die melk nie … dat hy nooit weer voor sonop nog sy eerste koppie koffie saam met haar en Jeanne sal kom drink nie.

Met oë wat swem in die trane gaan hurk sy by hom. Sy het hom nie liefgehad nie, maar wie weet hoe hy oor háár gevoel het? Hy was ’n baie goeie mens, iemand op wie sy te alle tye kon staatmaak, en nou is hy nie meer daar nie.

Sy raak aan sy lewelose hand waarin daar ’n bossie strooi vasgeklem is. ’n Traandruppel biggel oor haar wange en val op die rugkant van sy hand.

Sy spring op. Haar pad na buite word versper deur Emile de la Roque en Jacques Tredoux. Dis vir haar amper asof daar spot in Emile se oë is toe sy na hom kyk, maar sy is nie seker nie. Die uitdrukking het blitsvinnig verander en in die halfskemer lig van die lantern kan sy nie seker wees nie.

Met die rugkant van haar hand vee sy haar wange af en druk by hulle verby na buite, waar Armand de Bordeaux met nog ’n gas staan en praat.

Celèste kyk net ’n oomblik lank na hulle en vlug dan na die herehuis waarvandaan die vrolike dansmusiek steeds kom. Die gaste weet van geen sout of water nie.

In die kombuis is daar chaos. Die ekstra bediendes wat kom help het, het geen benul van waar alles gebêre word nie. Die een meisie is al heeltemal paniekerig toe Celèste by die deur instap.

“Ons moet koffie bedien!” roep die meisie uit. “Die gaste het al kom vra!”

Celèste begin die koffie werktuiglik maak. Dis nog maar twaalfuur en die dans kan nog aanhou tot dagbreek, maar miskien sal monsieur le comte die partytjie beëindig na wat by die stal gebeur het.

Sy onthou weer Tredoux en Emile de la Roque, en wens iemand wil die verwaande De la Roques op hulle plek sit. Hulle is nie eens vanaand genooi nie en hulle maak en breek asof dit hulle eiendom is.

Dit voel soos ure voordat die graaf uiteindelik terugkeer. Hy sê niks aan Celèste nie en sy wonder wat daar by die stal gepraat is. Kort op sy hakke volg die res van die nuuskieriges. Almal tou deur die kombuis terug na die dansvloer.

’n Paar minute lank nog kan sy die dansmusiek hoor, maar dan hou dit skielik op. Sy hoor hoe De Bordeaux aan die gaste verduidelik wat gebeur het en sy is hom innig dankbaar. Hy het nog genoeg respek vir sy ontslape staljong om sy groot, swierige geselligheid te beëindig.

Die gaste praat opgewonde toe hulle die dansvloer verlaat. Daar is ’n geroesemoes van stemme in die gang en voorportaal en ’n bedrywigheid buite waar die koetse nou een vir een aankom en hulle eienaars kom haal.

Dit neem die gaste meer as ’n halfuur om na hulle huise terug te keer en uiteindelik is dit nog net die graaf De Bordeaux, monsieur Tredoux en die twee De la Roques wat oor is. Hulle staan op die stoep en kyk die laaste koets agterna.

Celèste is in die voorportaal om seker te maak dat daar nie ’n hoed of mantel agtergebly het nie en sy kan hoor wat die mans op die voorstoep praat.

“U kan nou ook maar gaan, monsieur De la Roque,” sê De Bordeaux styf. “Die partytjie is verby.”

Louis de la Roque lag spottend.

“Dit klink amper asof jy van my ontslae wil raak, my liewe neef.”

De Bordeaux byt op sy tande. “Dis al laat.”

“Ek wonder,” sê De la Roque stadig, “wat gaan jy met die liggaam maak? Gaan jy dit ook begrawe en hoop niemand doen navraag nie – soos die vorige keer? Of wat praat ek alles?”

“Jy sal een keer te ver gaan, De la Roque,” sis De Bordeaux woedend. “Jy sal my net een keer te veel tart …”

“En dan?” wil De la Roque uitdagend weet. “Gaan jy mý ook uit die weg ruim?”

Sy woorde is nog skaars koud, of Armand se vuis klap teen sy kinnebak.

De la Roque steier terug en val byna van die stoep af. Daar is haat in sy oë toe hy stadig orent kom en Armand aangluur soos ’n slang wat gereed maak om te pik.

“Ek was nog altyd ’n redelike man,” sê hy stikkend van woede, “maar nie meer nie. Ek wou jou tegemoetkom, maar nou sal ek toesien dat jy nié die galg vryspring nie! Jy het Garcon vermoor en ek sal getuienis bring om dit te bewys!”

De Bordeaux kners op sy tande. “Trap van my landgoed af!” sis hy.

De la Roque skud sy vinger in Armand se gesig. “Jy sal weer van my hoor. Hierdie is nie die laaste keer nie. Dit sal ook nie meer help om te vlug nie. Daar is nie ’n plek op hierdie aarde waarheen ek jou nié sal volg nie, my liewe neef. Ek sal jou volg tot ek jou aan die galg sien swaai en dan sal ék graaf De Bordeaux wees!”

Hy swaai op sy hakke om en met Emile aan sy sy verdwyn hulle in die rigting van die stal.

Celèste staar geskok na buite. Sy het alles gehoor en ook monsieur Tredoux het alles gehoor. Ag, liewe hemel, wat gaan tog nou gebeur? Dan draai sy om en vlug haastig na die kombuis toe die twee mans na die voordeur aangestap kom.

Celèste probeer sin maak van die inligting tot haar beskikking, maar tevergeefs. Te veel is nog vir haar ’n geheim. Eendag, weet sy, sal sy die volle waarheid weet. Gaan daardie volle waarheid haar dalk só skok dat sy sal wens dat sy dit liewer nie geweet het nie?

Teen die tyd dat die eetkamer en dansvloer opgeruim is, is dit reeds na drie-uur. Die helpers gee nie juis om om so laat te werk nie, want hulle het almal die volgende dag vry en dan kan hulle verlore slaap inhaal. In normale omstandighede sou die huismense ook eers teen twaalfuur opgestaan het, maar hierdie keer is dit anders. Graaf De Bordeaux is kort na sonop reeds op. Hy moet die dood van Garcon gaan aanmeld.

Daar is ’n bekommerde uitdrukking op sy aantreklike gesig toe hy na die stal stap. Garcon is vermoor. Dit ly geen twyfel nie en dis een ding wat hy nie in hierdie stadium kan bekostig nie. De la Roque was woedend toe hy die vorige nag hier weg is en wie weet wat hy alles aan die kommandeur sal gaan vertel.

Sy blik dwaal oor die pragtige vallei voor hom. Die son se eerste strale het pas oor die laer, doubenatte dele begin vee en die wingerde en wilde gras is ’n byna onnatuurlike skakering van groen. Die berge is nog persgrys in die flou oggendlig; in die hemel is die wolkies goud en wit.

Agt jaar lank het hy gewerk om dié landgoed so te kry en nou wil sy lui, selfgenoegsame neef dit kom vat asof dit nog altyd aan hom behoort het. As Le Blanc net wil kom voordat dit te laat is. Alles hang nou van Le Blanc se koms af. Etienne le Blanc, daardie siniese pierewaaier van Versailles, is vreemd genoeg die enigste een wat Armand de Bordeaux van ’n gewisse dood aan die galg kan red.

Celèste kon nie goed slaap nie en sy is wakker toe Armand na die stal stap. Sy staan hom en dophou en sien hoe die ligte oggendbries sy diepblou mantel effens uitbol en liggies met die spierwit pluime in sy swart hoed speel. Selfs op hierdie afstand kan sy sy stewels sien blink en die swaard aan sy sy sien glinster.

Sy weet waarheen hy op pad is en dink onwillekeurig aan die gesprek wat sy die vorige aand op die stoep gehoor het. De la Roque het Armand nie net van moord beskuldig nie, maar dit het werklik geklink asof hy dink dat die graaf De Bordeaux tot iets so verskrikliks in staat is. Sy haat Louis de la Roque en sy wens dat hy nooit na die Kaap gekom het nie. Hy voorspel net moeilikheid.

Toe Armand de Bordeaux op sy perd klim en wegry, draai Celèste om en gaan kruip weer in die bed. Nou sal niemand enigeen van hulle steur nie. Die baas van La Montagne sal nie voor middagete terug wees nie.

Garcon word die Maandag begrawe, maar nie voordat daar eers ’n afvaardiging van die Kasteel af gekom het om die omstandighede van sy dood te ondersoek nie.

Dis Ernest wat sy arm om Celèste se skouers sit toe die kis in die graf afsak. Sy is bly vir sy nabyheid en ondersteuning op hierdie oomblik, maar haar gedagtes bly tog half en half by die ander wat ook om die oop graf vergader het.

Al die plaaswerkers is teenwoordig. Daar is ook Jacques Tredoux, Jeanne en die graaf De Bordeaux. Dis net Jeanne wat enige trane stort oor die ontslapene. Jacques Tredoux frons diep en skynbaar bekommerd, terwyl die graaf se uitdrukking heeltemal onpeilbaar is.

Skielik kyk hy op en vas in Celèste se oë. Die uitdrukking op sy gesig verander nie; daar is net ’n onverklaarbare flikkering in sy blou oë asof hy aan iets dink wat hy nie met iemand anders wil deel nie.

Eindelik is Garcon iemand wat tot die verlede behoort en keer die plaaswerkers terug na die wingerde. Ernest wil eers saam met Celèste huis toe loop, maar die graaf beduie dat sy van die oop rytuig gebruik moet maak. Toe sy half aarselend opklim, volg hy haar en spoedig is hulle alleen op pad terug na die herehuis.

Hulle is al ’n hele ent weg voordat De Bordeaux vra: “Het jy ’n benul wat daar by die stal gebeur het?”

“Non, monsieur …” Sy voel baie ongemaklik hier alleen saam met hom in die oop rytuig.

“Het Garcon niks aan jou gesê nie … ek bedoel, hy sou jou tog in sy vertroue geneem het, sou hy nie?”

“As hy iets vermoed het, sou hy my daarvan gesê het, monsieur,” antwoord sy eerlik, “maar hy het nie. Ek dink hy is verras.”

Hy staar weg oor die wingerde wat vinnig besig is om te verkleur. Weldra sal nog net die kaal stamme daar wees. Dan sal die werkers ’n paar weke lank vakansie kan hou voordat die volgende jaar se oes voorberei moet word.

De Bordeaux se gesig is ’n uitdrukkinglose masker. Celèste kan nie raai wat daar in sy gedagtes omgaan nie. Sy is net bewus van haar eie vreemde emosies. Sy voel half bly en half verskrik hier alleen saam met die man vir wie sy so ’n groot bewondering het. Sy is bang dat hy haar gedagtes dalk sal kan raai, maar hy kyk nie na haar nie. Dis amper asof hy van haar teenwoordigheid vergeet het.

Maar dan sê hy skielik: “Dis nou nie meer lank nie, dan sal ek ’n lang ruk weggaan. Ek hoop jy besef dat ek jou dan sal moet vertrou met die leersak. Ek sal ook die portret van Etienne le Blanc aan jou gee sodat jy seker kan wees dat jy die regte persoon herken.”

Sy sluk hard. “Monsieur … u moet my nie alleen laat met hierdie … hierdie ding nie …”

’n Glimlag raak aan sy mondhoeke en die uitdrukking in sy blou oë versag.

“Jy het niks om voor bang te wees nie. Moet net nie iets onbesonne aanvang nie, dis al. Doen presies wat ek van jou vra en jy sal niks oorkom nie.”

Sy byt haar onderlip vas en kan dit nie verhelp om te wonder hoe hy so seker kan wees dat alles so glad sal verloop nie.

“Ek sal niks onbesonne aanvang nie, monsieur,” sê sy en wonder waarom hy dan nou eintlik sal weggaan. Daar moet tog ’n goeie rede voor wees … en hoe lank sal hy weggaan? Celèste onthou Louis de la Roque se dreigemente en sidder liggies. Sal De Bordeaux van haar verwag om hier aan te bly as De la Roque dalk kom oorneem in sy afwesigheid?

Hy leun skielik effens oor na haar kant toe. “As monsieur Le Blanc nog nie gekom het voordat ek moet weggaan nie, sal jy die leersak aan hom gee … asseblief?”

Sy stemtoon is dringend en ’n ligte fronsie verskyn tussen Celèste se oë.

“Mais oui, monsieur …”

“Jy moet my nie in die steek laat nie, Celèste …” Daar is werklike kommer in sy oë te sien.

“Ek sal nie … u kan op my reken.”

Madeleine Tredoux wag hulle op die stoep van die herehuis in en aan haar sy staan Emile de la Roque. Celèste pers haar lippe opmekaar. Wat soek hy hier? Hy en sy pa is van die landgoed af weggejaag en hulle het sowaar die vermetelheid om terug te keer.

De Bordeaux se uitdrukking voorspel niks goeds nie. Sy gesig verdonker toe hy die jonge De la Roque sien. Hy groet Celèste vlugtig en stap dan na waar Madeleine en Emile op hom wag.

Celèste gaan na die agterdeur. Hierdie keer sal sy nie weet wat daar tussen die drie mense op die stoep gepraat word nie.

Jeanne stoom toe sy ’n paar minute later ook haar opwagting maak.

“Ek pak sommer my goed en trap!” sê sy ergerlik toe sy haar voorskoot ombind en ’n erdeskottel van ’n rak afhaal.

“Wie het jou nou kwaad gemaak?” wil Celèste weet.

“Hierdie monsieur De la Roque het darem sy mond vol vir ’n besoeker! Dis ver van die begraafplaas af hierheen en ek is nie meer so jonk nie. Ek wou by die voordeur inkom, omdat dit kortpad vir my is, maar nee, ek word deur die klein twak beveel om die agterdeur te gebruik aangesien ek maar net ’n bediende is!”

Celèste skud haar kop ongelowig.

“Maar wat het monsieur De Bordeaux gesê? Die graaf sou mos nie so iets toelaat nie!”

“Hy was nie daar om iets te sê nie. Dit was net monsieur De la Roque en mademoiselle Madeleine wat op die stoep was.” Sy snork minagtend deur haar neus. “En mademoiselle Madeleine is ook heeltemal te liefies met daardie laventelhaan. Ek sou my oë uit my kop skaam as en sý was! Om te dink dat sy ons goeie graaf De Bordeaux probeer vermaak met daardie nikswerd klein twak!”

“Dít suig jy uit jou duim, Jeanne,” keer Celèste.

“Ek mag al oud wees, maar ek is nog nie blind nie, gehoor! Sy staar daardie mannetjie met sulke leepogies aan en pruil haar mond dat dit ’n naarheid is. Ek sê nou vir jou, Emile de la Roque het net gekom om moeilikheid te maak! Hy en sy pa gaan nog groot probleme veroorsaak!”

“Die graaf sal mos nie toelaat dat hulle oor hom loop nie, Jeanne …” paai Celèste.

“Daardie twee sal nie vir die duiwel stuit nie. Hulle wil La Montagne en die titel hê en hulle sal nie rus voordat hulle albei het nie.”

Celèste lag sag.

“En hoe dink jy gaan hulle dit miskien regkry?” wil sy weet. “Ons graaf het die volste reg op sy titel en fortuin. Hy het mos niks om te vrees nie.”

Jeanne loer om hulle rond, maar daar is niemand in sig nie.

“Nou luister jy wat ék vir jou sê, jou goedgelowige meisietjie! Hier is ’n slang in die gras. Monsieur De Bordeaux word daarvan beskuldig dat hy sy pa vermoor het …”

“Wat!” roep Celèste verskrik uit en staar ongelowig na die ouer vrou. “Hoe kan jy so iets verskrikliks sê!”

“Wel, dis die storie wat die ronde doen en as monsieur De la Roque kan bewys dat ons graaf sy eie pa vermoor het, dan mag De la Roque die titel opeis en Armand de Bordeaux word gehang.”

Celèste soek haastig na ’n stoel. “Ek kan nie glo dat ons monsieur so iets sou gedoen het nie …” prewel sy geskok.

Jeanne haal haar skouers op. “Hoe sal ons nou weet wat die waarheid is? De la Roque beweer dat hy kan bewys dat ons monsieur die ou graaf vermoor het. As hy dit kan doen, is ons graaf se lewe, sy titel en sy fortuin kwyt.”

Celèste vee met haar hand oor haar hare. Sy weet nie wat om te antwoord nie. Jeanne is nie iemand wat haar sommer aan skinderstories steur nie. Wat sy gehoor het, moes sy van ’n baie betroubare bron verneem het.

Madeleine maak onverwags haar verskyning in die kombuisdeur. Sy staan die ander twee vroue ’n oomblik lank ietwat uit die hoogte en betrag voordat sy styf sê: “Ete sal vandag onder die bome in die tuin bedien word. Sorg dat die wyn goed koud is.”

Celèste het verskrik opgespring toe Madeleine ingekom het en nou maak sy ’n vinnige kniebuiging.

“Oui, mademoiselle …”

Daar is ’n oomblik lank vyandigheid in Madeleine se koel, grys oë te lees toe sy na Celèste kyk. Haar hele houding is afsydig en kil. In teenstelling met Celèste en Jeanne wat albei roudrag dra, is Madeleine swierig uitgevat in ’n tabberd van rooskleurige sy wat haar blonde hare en grys oë vlei. Dit is asof sy moedswillig nie vir die geleentheid van Garcon se begrafnis geklee het nie. Haar hare is in weelderige krulle gekam en met syrose versier. Vanaf haar haartooisel tot by die punte van haar skoene is sy perfek geklee en goed versorg. Sy sal pragtig pas in die rol van gravin De Bordeaux en sy besef dit terdeë.

Sy draai om en met ’n sagte geritsel van haar wye tabberd stap sy met die gang af na die voorstoep.

Celèste haal diep asem en kyk na Jeanne.

“Sy jaag my elke keer die skrik op die lyf, Jeanne. Jong, wanneer sy die dag hier op La Montagne kom woon, gee ek pad. Noudat Garcon nie meer hier is nie, sal niks my tog hier kan hou nie.”

Sy dink aan die graaf en hartseer wel in haar op. ’n Mens kan nie baklei teen dinge wat jy nie kan verander nie.

“Jy lyk nie baie treurig oor Garcon se heengaan nie,” betig Jeanne haar sag. “Ek sou dink ’n meisie sou darem gehuil het oor die man met wie sy sou trou.”

Celèste kyk op. “Jy ken tog die omstandighede, Jeanne. Ek het van Garcon gehou, maar dit was ook al.”

“Nou hoekom het jy dan vir hom gesê dat jy met hom sal trou? Was dit nou regverdig om die arme man so aan die neus te lei?”

Celèste slaan haar blik neer en frons liggies. “Sal die antwoord op daardie vraag nóú nog enige verskil maak, Jeanne? Garcon sal nie meer kan weet dat … dat ek hom nooit liefgehad het nie.”

Jeanne skud haar kop stadig. Wat sou Celèste dan hoegenaamd besiel het om Garcon se huweliksaanbod te aanvaar?

Die Vrydagmiddag pas nadat Celèste en Jeanne in die kombuis klaargemaak het, hou die rytuig van monsieur Louis de la Roque voor die deur van die herehuis stil. Sy seun is by hom, asook ’n regsgeleerde uit die Kaap.

Celèste en Jeanne kyk vinnig na mekaar toe die drie here, getooi met pruike en poeier, gestyfde krawatte en kantmansjette uit die rytuig klim. Met ’n aanstellerige wuif van die hand beduie Louis de la Roque aan sy koetsier om by die stal te gaan wag totdat hy ontbied word.

Plotseling gaan die voordeur oop en kom Armand de Bordeaux uitgestap. Sy houding is trots, uitdagend en ietwat minagtend teenoor sy belangrike besoekers.

“O, aarde, hier kom moeilikheid,” prewel Jeanne en druk haar hande voor haar mond. “As monsieur De Bordeaux só lyk, kry ek die duiwel jammer.”

Dit lyk nie asof die houding van die graaf De Bordeaux sy neef juis die skrik op die lyf jaag nie, want hy kom ongesteurd nader.

“Ons het gekom om ’n sakie af te handel,” sê hy kortaf.

“Jy het niks hier op La Montagne verloor nie,” kom Armand se antwoord bars.

De la Roque lyk effens geamuseerd. “Jy is besonder verwaand vir iemand wat deur die gereg gesoek word, my liewe neef.” Hy kyk oor sy skouer terug na die gepruikte regsgeleerde en dan weer terug na Armand. “Monsieur De Villiers is ten volle ingelig oor wat daar in Lyon gebeur het. Volgens sy mening is ek geregtig op jou vader se titel en fortuin.”

“Jy is op niks geregtig nie, De la Roque,” sê De Bordeaux kil. “Jy is en bly ’n onbenullige arbeider uit die laer stand.”

De la Roque se oë vernou. “ ’n Man wat sy eie pa vermoor het, behoort te sterf en dit sál uiteindelik jou lot wees.”

Celèste kyk met ingehoue asem na Armand de Bordeaux. Sy gesig is bleek van woede, sy hande is in vuiste gebal langs sy sye. Sonder sy baadjie lyk hy vir haar selfs groter en langer. Hy dra net ’n wit syhemp, ’n swart fluweelbroek en wit kniekouse en skoene. Selfs nou is sy swaard aan sy sy.

“Ek het nie my pa vermoor nie,” sê hy hees van woede. “Jý is die een wat dit die beste weet, want jy was ook daardie aand in ons huis.”

De la Roque se gesigsuitdrukking verander nie, maar bly ewe smalend en tartend.

“Ek was daar, ja, en ek het jou met die bebloede mes in jou hand oor jou pa sien buk. Jy is ’n vuilgoed, De Bordeaux!”

“Daar wás iemand wat die moordenaar gesien het,” sê De Bordeaux skielik. “Daar is ’n getuie van die moord.”

De la Roque kyk vinnig na die regsgeleerde en toe na sy seun. Dan draai hy terug na Armand, ’n diep frons tussen sy oë.

“Jy probeer my verniet belieg. As iemand die moordenaar gesien het, moes hy of sy jóú gesien het.”

“Oor minder as ’n maand sal ons weet wie hy gesien het, De la Roque … en ek verseker jou, daarna gaan daar nie meer ’n plek op die aarde wees waar jy veilig sal voel nie.” De Bordeaux stap tot op die rand van die stoep van waar hy uit die hoogte op sy onwelkome neef kan afkyk. “Jy het nie ’n houvas op my nie, De la Roque … nie soos jy op jou ouer broer gehad het toe jy hom in die tronk laat sterf het nie. Ook nie soos jy op jou moeder gehad het toe jy haar na die platteland verban en van haar vergeet het nie. Ek is Armand de Bordeaux, De la Roque, en moet dit nooit vergeet nie.”

De la Roque se oë gloei van woede.

“Dis alles leuens!” gil hy skielik. “My moeder was sieklik en my broer het selfmoord gepleeg! Ek was nie verantwoordelik vir hulle dood nie! Jy sal nie weer sulke beskuldigings teen my maak nie!”

Hy ruk skielik sy swaard uit. ’n Fyn glimlaggie verskyn om die graaf se mondhoeke toe dit gebeur.

Jeanne se oë rek. “Hy het dit moedswillig gedoen … Die graaf het monsieur De la Roque uitgetart sodat hy hom tot ’n swaardgeveg kan uitdaag. Monsieur De Bordeaux wil sy neef doodmaak.”

Celèste kyk vinnig na die ouer vrou.

“Jy’s gek … Die graaf sal nooit so iets doen nie.”

Jeanne lag ietwat sinies.

“Soos dit vir mý deesdae lyk, kan ’n mens enigiets van enigeen verwag. Die ou spul is glad nie meer so edel as wat hulle nog altyd voorgegee het om te wees nie. Ek was my hande nou sowaar in onskuld. Hulle moet mekaar maar na hartelus bedrieg en belieg en beroof. Dit kan my nie meer skeel nie.”

Jeanne draai om en gaan na haar kamer.

Celèste kyk Jeanne net ’n oomblik lank agterna voordat sy weer haar aandag bepaal by dit wat daar buite besig is om te gebeur.

Monsieur De Villiers probeer die dreigende geveg stopsit, maar die twee neefs gaan hulle nie so maklik van stryk laat bring nie. Ook Emile de la Roque lyk effens bekommerd. Almal weet tog hoe ’n gedugte swaardvegter De Bordeaux is. Niemand waag dit sommer om hom tot ’n tweegeveg uit te daag nie.

Armand de Bordeaux lag sag toe sy teenstander aarsel. “Begin jy dalk dink dat jy oorhaastig besluit het, my liewe neef?” wil hy spottend weet. “Dis jý wat eerste jou swaard getrek het en as jy nie gaan veg nie, gaan jy die res van jou lewe as lafaard gebrandmerk wees.”

De la Roque se oë smeul skielik weer. “Ek is nie bang vir jou nie, De Bordeaux … Jy maak ook foute.”

“En jy is te oud om nog met die swaard te veg … Dit was ’n fout van jou om my uit te daag, De la Roque.”

Louis de la Roque kyk vlugtig oor sy skouer terug na sy bekommerde seun en die stugge De Villiers.

“Swaardgevegte is onwettig, monsieur,” sê De Villiers afgemete.

“Wanneer ’n man se eer op die spel is,” antwoord De Bordeaux, “dan geld die wet nie. Kom nou, De la Roque, ons het nie die hele dag tyd nie.”

Terwyl Celèste na hulle staan en kyk, begin hulle om mekaar kring soos twee kapokhaantjies wat gereed maak om te baklei. Haar hart bons in haar keel. Die twee mans daar buite haat mekaar en niks sal hulle verhinder om te veg tot die einde nie. Hulle sal nie ophou voordat een van hulle dood is nie. Sy sidder liggies. Hulle koelbloedigheid maak haar bang. Dis nie hoe sy graaf De Bordeaux ken nie.

Die twee mans spring verwoed aan mekaar. Die geveg is vir hulle albei erns en hulle is nie van plan om die ander een ’n halwe kans te gee nie. Heen en weer trap hulle oor die grasperk, om die lae struike en oor klippe. Hulle is gedugte teenstanders en veg met ’n venyn wat Celèste laat ril. En tog is dit elke meer mis.

Sy verstom haar aan hulle vlugheid van voet en die snelheid waarmee hulle die swaarde deur die lug laat swiep. De la Roque veg met albei hande om die hef van sy swaard, terwyl De Bordeaux die wapen hanteer asof dit gewigloos is.

De Bordeaux dryf sy teenstander agteruit na ’n groepie roosbome op die rand van die grasperk. Hy bring sy houe genadeloos neer en De la Roque moet hom verdedig so al wat hy kan as hy nie summier onthoof wil word nie. Daar is ’n mengsel van paniek en woede op sy gesig te lees. Elke hou van De Bordeaux maak hom roekeloser. Dis asof hy alle versigtigheid oorboord gooi omdat hy weet dat hy die vlymskerp punt van De Bordeaux se swaard nie veel langer sal ontwyk nie.

Skielik ruk hy sy swaard terug, trap eenkant toe en bring sy wapen met al sy krag af na sy teenstander.

Celèste staar met wydgesperde oë na wat besig is om voor haar oë te gebeur. Armand de Bordeaux lyk asof hy in sy spore tot stilstand gekom het, asof hy weet dat hy hierdie een moordende, vernietigende hou van De la Roque nie sal kan afweer nie …

Die meisie knyp haar oë styf toe. Sy wil nie sien wanneer dit gebeur nie … sy wil nie sien hoe die man wat sy so bewonder met ’n swaard deurboor word nie …

Annelize Morgan Omnibus 2

Подняться наверх