Читать книгу Annelize Morgan Omnibus 4 - Annelize Morgan - Страница 10

7

Оглавление

Leia glip weg tussen die donker skaduwees na haar huisie. Sy wil hierdie ontdekking met niemand deel nie. In die stilte van haar kamertjie wil sy gaan sit en dink. Sy wil probeer om iets te onthou uit daardie tyd voordat sy by die inboorlinge beland het. As sy net aan iets kan dink wat haar op die regte spoor van haar herkoms kan plaas …

Silo sien haar by die huisie ingaan. “Leia!” roep hy na haar.

Sy druk die dolk onder haar matras in en kom staan in die deur. “Wat is dit?”

“Ek is lus vir musiek vanaand,” sê hy en glimlag breed. “Ndima het gesê dat sy my vrou sal word, en nou is ek lus vir musiek. Kom sing ’n bietjie vir ons.”

Leia glimlag. Ndima se baba het mooi en sterk gebly. Die jong vrou kan haarself gelukkig ag dat sy nie die res van die reis na wie weet waar meegemaak het nie.

Sy stap stadig na die vuur, nie baie lus vir sing nie. Ndima se swart gesig straal, en dis vir Leia amper asof sy geluk in die donker oë kan merk. Ek sal ’n wiegeliedjie sing, dink Leia, die een wat Tembisa altyd gesing het. Dis ’n mooi liedjie.

Silo lag oor haar keuse. “Vroue is almal dieselfde,” sê hy en tokkel ’n paar note op sy instrument. “As die kinders eers kom, is niks anders meer belangrik nie.”

Die mollige swart kind lê vas aan die slaap langs Ndima op ’n kombers. Leia buk by die baba en glimlag. Sy rustige, tevrede gesiggie roer iets in haar. Hy weet nie van beter nie. Nou is hy nog gelukkig, maar eendag sal hy weet waaroor alles gaan.

Sy sing Tembisa se liedjie sag terwyl sy liggies oor die kind se vet lyfie streel. Ndima se oë blink. Tussen al die hartseer is daar tog nog gelukkige oomblikke.

Toe Leia klaar gesing het, sit sy diep in gedagtes versonke.

’n Diep frons plooi skielik haar voorkop. Frases uit ’n vreemde taal kom skielik by haar op, en sy herhaal dit onseker. Dan is dit asof ’n vreemde melodie wil-wil na haar terugkeer, maar sy kan dit nie behoorlik snap nie.

Silo sit stil en kyk na Leia. Hy luister na die woorde en die onsekere frases van die melodie. Dan speel hy ’n paar akkoorde en Leia kyk vinnig na hom.

“Ken jy dit?” wil sy weet.

Hy skud sy kop. “Nee, maar om die regte akkoorde te kry, is nie moeilik nie. Probeer dit sing terwyl ek kyk of ek dit kan speel.”

“Ek ken nie die lied nie.”

“Dit sal terugkom,” sê hy en begin tokkel.

Bako sit nuuskierig en luister. Hy ken nie die taal nie, maar al wat hy weet, is dat dit die taal van die blanke mense is. Hy het dit nog nie tevore gehoor nie, en tog is dit nie moeilik om ten minste te weet dat dit van ’n ver land kom nie.

Doedoe, baba, doedoe,

Maak jou kleine ogies toe,

In die …

Leia frons en probeer die woorde onthou, maar dit ontglip haar. Silo tokkel voort en dan kom daar weer ’n paar woorde by haar op.

Slaap maar, kindjie klein …

Leia skud haar kop. “Dit help nie. Ek kan dit nie onthou nie.”

Bako kyk na haar. “Dis al ’n begin. Jy sal dit eendag onthou. Miskien as jy weer probeer …?”

Silo begin weer speel, en Leia konsentreer hard daarop om die vergete woorde in haar herinnering terug te roep.

In die herehuis luister die graaf en Mendoza fronsend. Hulle kyk half verbaas na mekaar, maar verbreek nie die swye voordat die onsekere frases van die lied eindelik wegsterf nie.

Die graaf draai na die ouer man. “En wat dink u daarvan?”

Mendoza haal sy skouers op. “Dit maak die raaisel net meer ingewikkeld.”

Etienne de Ville, wat ook stil geluister het, lyk opgewonde. “Jacques! Jy kan nie die meisie as slavin behou nie! Dis tog duidelik dat sy nie as een gebore is, óf by die ander hoort nie!”

De la Fontaine glimlag ietwat sinies. “Is jy nie ’n bietjie oorhaastig nie, my liewe Etienne? Ek dink jou verbeelding is besig om met jou weg te hardloop.”

Etienne lyk gebelg.

“Ek is nie meer ’n kind nie, Jacques, en Leia is ook nie ’n gewone slavin nie. Ek dink jy oordryf alles ’n bietjie.”

Mendoza lag.

“Dis die gevoel wat ek ook kry. Waarom laat jy haar nie vry nie? Dan sal sy gouer by die beskawing aanpas.”

Jacques draai na die ou man. “Sy wil nie haar vryheid hê nie, monsieur. Sy wil nie van La Liberté af weggaan nie.”

Mendoza vermy die graaf se blik. Hy onthou die ontdekking wat hy die dag by die rivier gemaak het. Hy weet waarom Leia nie hier wil weggaan nie, maar hy sal dit nooit aan die graaf kan sê nie.

“Jy moet aan ’n oplossing probeer dink, Jacques. Soos ek die saak sien, sal dit die beste vir haar wees as sy met iemand kan trou en as ’n gewone burger van die nedersetting haar lewe kan begin. Jy is ten minste dit aan haar verskuldig.”

De la Fontaine sug. Sy gesig weerspieël niks van wat in sy gedagtes omgaan nie.

“As ek die geskikte man vir haar kry, sal ek dit oorweeg.”

Mendoza lig sy een wenkbrou. “Ek sou sê senor De Ville is meer as geskik.”

De la Fontaine se gesig is uitdrukkingloos toe hy antwoord: “Ek sal daaroor nadink.”

Etienne grinnik. “Ek hoop dit bly nie net ’n belofte nie. Intussen sal ek probeer om die meisie beter te leer ken. Dit kan tog geen skade doen nie. As jy instem dat ek met haar mag trou, moet ek ten minste weet waarvoor ek my inlaat.”

Jacques kyk koel na die jonger man. “Sy sal natuurlik ook ’n sê in die saak hê, Etienne.”

Die jong man lyk ietwat uit die veld geslaan. “Dis tog nie die gebruik nie!”

“Nee, maar hierdie is ook buitengewone omstandighede.”

Etienne knik net terwyl Mendoza die graaf deur half versluierde oë betrag. Leia se teenwoordigheid was eers net ’n interessante situasie, maar die ou man kry die gevoel dat die atmosfeer ongemerk verander het. Die pragtige, blonde Leia het die lewe op La Liberté roekeloos deurmekaargekrap. Sy het die delikate balans op die landgoed onherroeplik versteur.

Etienne laat ook nie gras onder sy voete groei nie. Die volgende oggend kom soek hy Leia op waar sy in die wingerd werk.

Bako kyk onbegrypend na dié nuwe verwikkeling. So uit die hoek van sy oog hou hy die twee mense dop waar hulle aan die punt van die ry staan en praat, en skud sy kop.

Leia is op haar hoede. Sy weet nie wat die doel van hierdie onverwagte besoek is nie en sy is versigtig.

Etienne grinnik om sy eie ongemak te verberg. Hy is skielik oorbewus van Bako se gesteelde kykies, en die ander se nuuskierige blikke.

“Ek wou net met jou gepraat het,” sê hy dan vinnig, “maar hier staar almal ons aan. Ek sal maar op ’n ander geleentheid moet wag.”

’n Glimlag raak aan Leia se mondhoeke. Hierdie jong man, voel sy aan, is een van die min wat nie haar bestaan bedreig nie. Hy is jonk, met ’n seunsagtige gesig en ’n koddige, skewe glimlaggie. Sy kan nie dink dat hý enige kwade bedoelings het nie.

“Hulle luister nie … hulle kyk net,” antwoord sy kalm.

Etienne kyk vinnig om hom rond. “Nou maar goed. Ek … het met die graaf gesels en hy het gesê dat, as jy dit sal toelaat, ek jou hier mag wegneem.”

Die agterdog kruip terug in haar oë. “Wegneem? Gaan jy my dan koop?”

Etienne bloos liggies. “Nee, hy sal jou aan my gee as jy bereid is om met my te trou.” Hy maak ’n ongemaklike gebaar met sy hande. “Dit klink so koelbloedig! Ek wou jou net gevra het of jy bereid is om met my te trou, en nou klink dit na ’n saketransaksie.”

“Ek wil nie trou nie,” sê sy eenvoudig.

Hy knip sy oë. “En hoekom nie?”

Leia kyk weg. “Omdat die man met wie ek trou, ’n uitgeworpene soos ek sal word.”

“Ek kom uit ’n arm huis!” roep hy uit. “My ouers was knegte, en ook hul ouers! Vir my is jy net ’n meisie … ’n besonderse een. Ek kan jou gelukkig maak, Leia.”

“Miskien … maar dit sal gevaarlik wees om te probeer. Dit sal vir jou gevaarlik wees.”

“Die graaf sal by ons staan.”

“Monsieur De la Fontaine het sy eie probleme,” sê sy en draai weg. “Jy kan niks van hom verwag nie.”

Nou maar goed, dink Etienne, ons sal sien. So maklik sal ek nie tou opgooi nie. Ek sal wel aan ’n uitkoms dink.

Toe Leia na haar werk terugstap, is daar ’n diep frons tussen haar oë. Hier is ’n uitkoms, dink sy, maar hoekom huiwer ek om dit met albei hande aan te gryp? Dis nie armoede wat my afskrik nie, want ek het nog nooit iets anders geken nie. Miskien sal ek selfs gelukkig kan wees, en tog … Sy skud haar kop en dwing haar gedagtes uit haar kop. Om net daaroor te wonder, gaan niks aan die saak verander nie. Sy het net nog ’n bietjie tyd nodig om aan die nuwe gedagte gewoond te raak.

Die vuurtjie is nog net ’n paar gloeiende kole, en steeds bly Leia sit. Die ander het lankal gaan slaap, en dis slegs Bako wat af en toe kom kyk of daar iets verkeerd is. Hy kan Leia se stilswye vanaand nie verstaan nie.

Leia sit diep en nadink oor Etienne de Ville. Hy is maar net ’n paar jaar ouer as sy en hy het nog nie baie van sy jeugdigheid verloor nie. Sy seunsagtige glimlag is vriendelik en sonder enige bedreiging. Hy sal ’n gawe maat kan wees.

Sy hoor weer voetstappe agter haar, maar kyk nie om nie. Die goeie Bako kan soms lastig wees. Sy wil liewer alleen wees met haar gedagtes, en nou kom steur hy haar elke paar minute.

’n Skok ruk deur haar toe ’n hand skielik oor haar mond sluit.

“Bly doodstil, liefie,” sê ’n stem wat sy nie ken nie.

Leia spartel om uit die man se greep los te kom, maar hy is te sterk vir haar. Sy kan ook nie sy vingers raak gebyt kry nie. Al haar geskop en geworstel help haar niks. Sonder om iets daaraan te kan doen, word sy na die donker bosse gesleep.

By die huisies is dit stil. Nêrens brand daar meer ’n kers nie. Almal het dus al gaan slaap. Bako loer by sy deur uit, en toe hy Leia nie by die vuurtjie sien sit nie, glimlag hy tevrede. Hy het begin vrees dat sy die hele nag daar gaan bly sit. Dan maak hy die deur toe en gaan kruip onder die komberse in.

Baie ver van die huisies af kom Leia en haar ontvoerder tot stilstand. Die oomblik toe hy sy hand van haar mond wegneem, gil sy hard en skerp, maar dan word ’n vuil lap in haar mond geprop, en hy bind dit agter haar kop vas.

’n Tweede man kom te voorskyn en hou die spartelende Leia vas sodat die ander een ook haar hande agter haar rug kan vasbind. Dan staan haar ontvoerder agteruit.

“So ja, nou kan ons ry.”

“Ons sal moet gou maak as ons nog die nedersetting wil haal, Henri,” sê die ander een. “Ons het reeds ’n dag te lank gewag.”

Gréville snork vies. “Daardie dikke sal maar net moet verstaan. ’n Man kan nie meer doen as wat moontlik is nie.”

Hulle help die meisie op ’n perd en klim dan op hul eie rydiere.

Leia gluur hulle met blitsende oë aan. Sy weet nie wat hulle beplan nie, maar sy het haar ontvoerder herken as een van die mans wat La Liberté voorheen besoek het. Hy was net een keer daar en het baie kwaad vertrek. Is dit nou sy wraak? En hoekom is sý daarby betrokke?

Sy laat haar blik sak. Daar is nie vir haar enige hoop nie. Niemand sal kom om haar van hierdie mans te red nie. Die graaf sal dalk maar te bly wees dat sy nou weg is en hy hom nie langer oor haar hoef te bekommer nie.

“Drieduisend dukate!” roep Gréville se helper opgewek uit. “Die dikketjie is mal om soveel vir dié vroumens te betaal!”

“Noudat ons haar het, kan ons die skroef ’n bietjie vaster draai, Philippe! Dink jy ek gaan hierdie voëltjie vir so min verkoop?” Hy snuif hard en hervat: “Sy is minstens veertigduisend op die oop mark werd, en dit is wat die duiwel vir haar gaan kry.”

Philippe se oë blink. “Dis nes jy sê, Henri, ons kan die skroef ’n bietjie vaster draai.”

Leia byt op haar tande. Ek gaan weer verkoop word … hulle gaan my soos ’n dier aan die volgende eienaar verkoop en niemand kan daar iets aan doen nie! Sy sug. Die noodlot het haar ’n wrede streep getrek. Sy het net begin om haar lot op La Liberté te aanvaar, en nou begin die hele proses van voor af.

Terwyl hulle ry, dink sy aan Jacques de la Fontaine. Ver­skil hy werklik van hierdie soort mense? Hy sal haar ook maar aan die hoogste bieder verkoop as hy geld nodig het. Hoeveel keer sal ek nog van eienaar verwissel voordat ek te oud word om ’n goeie prys te haal?

Diep in die nanag ruil hulle perde en dan sit hulle hul reis na die nedersetting voort.

As ek hul bose planne wil fnuik, moet ek my voorkoms skend, dink Leia koelbloedig. Dis al manier waarop ek dalk kan loskom. Met kloppende hart beskou sy die omgewing. Sy kan van die perd afval en haarself seermaak. Sy kan haar gesig deur ’n skerp tak laat krap. Dan sien sy die klipperige terrein voor hulle in die flou maanlig en sy neem ’n besluit. Dis nou of nooit. Daar voor is die nedersetting, en dan sal dit te laat wees om nog iets te probeer doen.

Toe hulle tussen die klippe inry, staal Leia haarself teen die onvermydelike pyn wat gaan kom. Sy kies die oomblik versigtig en toe dit daar is, skop sy haar voete uit die stiebeuels en val sywaarts met haar kop eerste.

Gréville roep verskrik uit toe hy sien wat gebeur. Hy is te laat om die meisie te keer en sien met afgryse hoe sy met haar gesig teen ’n ruwe klip val. Dan hou hy sy perd in en wip uit die saal. Hy vloek soos hy lank laas gevloek het.

Leia lê doodstil tussen die klippe. Die skerp kant van die klip het ’n diep sny oor haar voorkop gelaat, en die donker bloed sypel stadig daaruit.

Philippe staar geskok na die meisie. Hulle moes haar ongedeerd aan die dik mannetjie afgegee het. Die duiwel gaan los wees oor daardie lelike sny.

“En wat de duiwel gaan ons nou maak?” brul Gréville. “Daardie wond gaan ’n letsel laat!”

“Ons kan haar hare half oor haar gesig laat hang,” doen Philippe ontsteld aan die hand.

“Dit sal te opvallend wees. Ons kan maar tot siens sê vir die drieduisend dukate, ou maat! Ons sal gelukkig wees as ons nie afgeslag gaan word hiervoor nie!”

Philippe lyk ongelukkig. “Ons kan nie omdraai nie. Miskien moet ons haar hier laat en spore maak.”

Gréville byt op sy tande. “Ons sal gejag word totdat iemand ons nekke vir ons breek.” Hy kyk af na die meisie aan sy voete wat nou weer tekens van lewe begin toon. “Al ons sorgvuldige planne is in die war gestuur deur een koppige vroumens. Ek wed jou dat sy dit moedswillig gedoen het.”

Philippe sidder. “Dis darem nie moontlik nie.”

Gréville gluur hom aan. “Met hierdie een is alles moont­lik! Het jy dan vergeet dat sy soos ’n barbaar grootgeword het? So ’n letsel beteken vir haar niks!”

Leia sit regop en kyk om haar rond. Sy glimlag effens toe sy die taai bloed oor haar voorkop voel loop.

Gréville ruk die doek van haar mond af. “Toe, praat! Wat het gebeur?”

Sy staan stram op. “Niks. Ek het van die perd afgeval, dis al.”

Hy maak haar hande los en gluur haar woedend aan toe sy sonder meer weer op die perd klim. Hy help haar nie, al sien hy dat dié handeling haar skynbaar pyn besorg.

“Toe maar, jy sal jou verdiende loon kry!” sis hy en stap na sy perd.

In stilte ry hulle verder. Die twee ontvoerders se opgewektheid het soos mis voor die son verdwyn.

Bako is die eerste een wat besef dat Leia nie in haar huisie is nie. Hy soek oral rond na haar totdat die kommer hom naderhand na die graaf dryf.

Dis nog baie vroeg toe hy aan die agterdeur klop, maar De la Fontaine is geruime tyd reeds op en kom dadelik na Bako toe.

Die slaaf se ontstelde gesig vertel hom dat iets groots verkeerd is.

“Leia is weg, meester,” sê hy uitasem.

De la Fontaine frons. “Weg?”

“Ja, meester. Sy was gisteraand laat nog by die vuur en vanoggend is sy skoonveld. Sy het nie in haar bed geslaap nie.”

De la Fontaine byt op sy tande. Dan het dit nou uiteindelik gebeur, dink hy omgekrap. Leia het weggeloop. ’n Koue woede neem van hom besit. Hy het haar genoeg kanse gegee en hierdie keer gaan hy haar swaar straf. Dis meer as wat ’n geduldige mens kan verduur. Hierdie volgehoue uittarting moet eens en vir altyd end kry.

“Bako, jy en Silo moet te perd na die naaste bure ry en gaan uitvind of hulle Leia iewers gesien het. Dit maak nie saak hóé julle dit doen nie. Bring haar net terug hierheen.”

Bako knik en draf weg. Sy hart voel swaar in sy binneste. Hy weet dat Leia hierdie keer geen genade van die meester kan verwag nie.

De la Fontaine gaan omgekrap die huis binne. Sy moeder wag hom in die voorkamer in.

“Iets verkeerd, Jacques?”

Hy haal ’n keer diep asem om sy emosies onder beheer te kry.

“Dis weer Leia. Sy het laas nag weggeloop.”

Die gravin sug diep. “Jy moes haar maar liewer verkoop het.”

Hy byt op sy tande en sy aantreklike gesig is hard en on­genaakbaar.

“Hierdie keer gaan sy haar vasloop. Sy waardeer skynbaar nie goeie behandeling nie.”

“Gaan jy haar dan nog behou?” wil die gravin weet.

“Miskien.”

Nicole skud haar kop stadig. “Jy leer net so moeilik soos Leia. Lantini is nog in die baai, en as ek jou enige raad verskuldig is, dan verkoop jy haar vandag nog aan die man. Laat hy maar met die probleme sit.”

De la Fontaine kyk vinnig na sy moeder. “Lantini? Is hy dan nog hier?”

“Besig om sy slawe vet te voer, soos ek verstaan. Hy het ’n klomp langs die kus af aan ’n ander skip verkoop en teruggekeer met ’n paar wat hy hier van die hand wil sit voordat hy weer op een van sy strooptogte onder die inboorlinge gaan.”

De la Fontaine vloek hard en dit skok die gravin. Sulke taal besig hy nooit voor haar nie.

“Jacques!” roep sy uit.

Hy hoor haar skaars. “Ek vertrek onmiddellik, Moeder. Ek sal dalk nie voor môre terug wees nie.”

“Waar gaan jy heen?” roep sy hom agterna toe hy na sy suite stap.

“Na die nedersetting!”

Die gravin skud haar kop onbegrypend. Leia verdwyn soos ’n groot speld, en hier kry hy koers na die nedersetting. Sy kan nie begryp wat in sy kop aangaan nie. Is hy dan nou die kluts kwyt?

Teen etenstyd die middag keer Bako en Silo met leë hande na die landgoed terug. Hulle is skrikkerig om hul meester te vertel dat hulle niks kon vind nie, maar ’n konfrontasie is onvermydelik. Dis met openlike dankbaarheid dat hulle verneem dat hy onverwags na die nedersetting vertrek het. Nou kan hulle die middag verder soek en dalk nog met die meisie te voorskyn kom voordat die graaf terug is.

Nêrens in die omgewing het iemand Leia gesien nie. Sy kon ook nie so ver gedurende die nag te voet gevorder het nie. Iewers moes sy tog ook kos gekry het.

Silo en Bako is verslae. Leia het spoorloos verdwyn.

Intussen het Leia en haar ontvoerders reeds die nedersetting bereik. Sy is na ’n vuil kamertjie gebring en daar alleen gelaat. Die deur is swaar gegrendel van die buitekant af, en die venster het dik houtbalke voor. Van wegkom is daar geen sprake nie, en sy gaan met ’n ligte skouerophaling op die vloer sit.

Sy sal eenvoudig haar kans moet afwag. Iewers sal daar wel ’n geleentheid vir haar opduik om te kan ontsnap. As dit nie kom nie, sal sy aan wie weet wie verkoop word, en dan sal haar lewe dalk nie so maklik wees as wat dit op La Liberté was nie.

Sy dink terug aan die laaste paar maande op die stil, rustige landgoed, en nou lyk dit vir haar byna soos ’n tuiste. Sy verlang egter nie net na die klein vryhede daar nie, maar ook na die groot, ruwe graaf De la Fontaine. Hy het haar moed ingepraat en haar beskerm. Hy het sy hand oor haar gehou en haar belange tog op die hart gedra, al wou sy dit nie altyd so insien nie. Nou is dit te laat vir trane.

Ek is ’n klein, nietige, onbelangrike wese in hierdie groot wêreld, dink sy gelate. My lewe word deur ander bepaal, en daar is niks wat ek kan doen om dit te verander nie. As die graaf verlig is om van my ontslae te wees, dan is dit net my eie skuld. As ek net my dankbaarheid gewys het, sou hy nou na my gesoek het, maar ek het hom teëgegaan en hom laat weet dat ek hom wou vermoor.

Sy laat haar kop op haar knieë sak. Ek het my eie lot verseël.

Die deur word skielik oopgemaak en Gréville en sy trawant kom in. “Ons sal jou ’n bietjie moet opkikker,” sê Gréville en gooi ’n hoop klere op die vloer neer. “Iewers sal ons moet vergoed vir daardie sny aan jou kop.”

“Jy kan na die duiwel gaan!” snou Leia hom toe.

“Jy gaan die wêreld vir jouself baie moeilik maak as jy jou gaan teësit,” sê Philippe ergerlik. “Jy is nie meer so perfek as wat jy was nie, en dit kan sake dalk teen jou laat draai.”

Leia gluur hom aan. In haar helderblou oë smeul die haat.

“As jy iets probeer, sal die graaf De la Fontaine op jou nek wees.” Gréville lag opgewek. “Jy kan ons nie meer dreig nie, liefie. Ons weet alles van hoe goed jy en die graaf oor die weg gekom het. As ek moet raai, sou ek sê dat hy maar te bly is om van jou ontslae te wees. Toe, trek hierdie klere aan.”

Sy skud haar kop heftig. “Ek weier.”

Philippe staan nader. “Moet ék dit dalk vir jou doen?”

Sy byt op haar tande toe sy opstaan. “Julle kan my nie dreig nie,” sê sy stadig. “Ek het niks om te verloor nie … of het julle dit al vergeet?”

Gréville grynslag. “Wat jy kan verloor, is nie nou belangrik nie. Dis wat op jou wag. Jy het jou eie toekoms verongeluk toe jy van die perd afgeval het. Nou moet ons maar die beste van ’n slegte saak maak, of hoe?”

Leia swyg. Sy weet dat hy gelyk het, maar dit grief haar dat sy nie seggenskap oor haar eie lewe het nie. Sy het nie ’n keuse nie, sy moet doen wat van haar verwag word.

“Ek gaan soos ek is,” sê sy koppig. “Wat verder met my gebeur, kan my nie meer skeel nie.”

“Jy sal nog jammer wees,” sis Gréville. “Ek sal sorg dat jy jammer is.”

Leia kyk na hom. “Jy kan my nie meer bang maak nie. Die ergste is al agter die rug, en dit wat kom, kan net ’n herhaling wees.”

Gréville gluur haar ’n paar sekondes lank swyend aan. Dan byt hy op sy tande.

“Nou maar goed, dan vat ons jou net so, en jy sal die gevolge moet dra.”

Sy laat willoos toe dat hulle haar weer by die kamer uitlei.

Buite skyn die son mildelik oor die hawe. Dit skitter op die kalm water en die spierwit seile van die groot skip wat voor anker lê. Die angs kom lê vlak in Leia se hart. Netnou was sy baie braaf, maar net die aanskoue van die groot skip laat haar keel toetrek en die ou vrees na haar terugkeer. Sy onthou Teka en die haglike omstandighede in die stink ruim van die skip. Sal sy ’n herhaling daarvan kan verwerk?

Hulle neem haar na ’n lae geboutjie ’n hele ent van waar sy opgesluit was. Sy kan nie ontsnap nie omdat daar ’n tou om haar middel geknoop is. Philippe het die ander punt stewig om sy pols gedraai. Soos ’n dier word sy in die straat af gelei, verby nuuskieriges wat haar openlik aanstaar.

Tussen alles deur probeer sy nog haar kop trots omhoog hou, maar innerlik krimp sy ineen. Hierdie vernedering sal sy hulle nooit vergewe nie. Eendag sal sy wraak neem.

Gréville grinnik. Haal maar jou strekies uit, my duifie, dink hy plesierig. Dié keer sal hulle jou mak maak. Daardie verbrande graaf het teen hierdie tyd al van my vergeet omdat ek sommer net ’n onbelangrike man is, maar hy het hom deeglik misgis. Tienduisend dukate is wat ek vir jou gaan kry, en nie eens Philippe weet dit nie. Hierdie keer slaan ek ’n goeie slag.

Philippe ruk die tou styf toe hulle die deur van die lae geboutjie bereik. Dit pluk Leia byna van balans af, en sy steier agteruit om nie haar ewewig te verloor nie.

Philippe lag. “Die reflekse is nie meer so watwonders nie, Henri. Dink jy die ou dikketjie sal ons prys daaroor verminder?”

“Dis die sny wat my bekommer. Geen merrie met so ’n wond haal ’n goeie prys nie. Laat ons maar hoop dat hy die res van haar waardeer. Daar skort niks.”

Gréville stoot die deur oop en stap binne. Na ’n paar minute keer hy terug.

“Bring haar in.” Hy grynslag tevrede. “Die geld lê reg. Dis net vir oorhandig en vat en dan kan ons in die naaste kantien gaan jolig raak.”

Philippe stoot Leia voor hom uit. Met tande opmekaar geklem, volg sy Gréville omdat daar vir haar geen ander keuse is nie. Sy onderdruk die opstuwende gevoel van woede met moeite. As sy kalm bly, sal sy wel aan ’n manier kan dink om te ontsnap. Sy moet net nie histeries raak nie. Tot elke prys moet sy haar verstand helder hou en haar waaksaamheid nie verslap nie.

Leia glimlag effens. Dis iets wat sy nog in die koel woude van Oos-Afrika geleer het. Die gevaar het elke dag saam met haar geloop, en sy het die instink van ’n dier aangeleer. Eers hier in die beskawing het sy geleer dat ’n mens jou verstand gebruik om sekere situasies te hanteer. Daar in die oerwoud was dit nie nodig nie. Daar moes jy nie dink om jouself uit die verknorsing te kry nie. Jy moes blitssnel op jou instink handel, en tyd om ’n situasie koelbloedig uit te redeneer, was daar nie.

Die vertrek is skemerdonker en leeg. Onder die klein venstertjie staan ’n kaal tafel waarop daar drie sakkies lê. Verder is daar geen meubels nie … nie eens ’n stoel nie.

Leia ril net liggies en swyg. Agter ’n gordyn wat voor ’n deuropening hang, hoor sy iemand hardop nies. Hulle is dus nie heeltemal alleen nie.

Philippe leun oor na Gréville. “En nou?”

“Ons moet net wag.”

“Ons moet liewer die geld vat en loop.”

“Dan sal ons albei so goed as dood wees.”

Die gordyn word skielik weggestoot en ’n kort, vet mannetjie maak sy verskyning. Hy kyk na die drie mense wat hom swyend betrag en grinnik.

Leia word yskoud. Dis met moeite dat sy haarself beheer. Sy besef nou eers dat sy liewer die vorige nag moes probeer ontsnap het. Toe het sy nog ’n kans gehad, al was sy vasgebind. Nou het alle hoop verdwyn.

Die mannetjie kom reg voor haar staan. “Dan sien ons mekaar weer, duifie? Valdi Lantini vergeet ’n mooi gesiggie nie maklik nie.”

Sy kyk vol afkeer na Lantini. “Jy sal nie hiermee wegkom nie.”

Hy lag plesierig. “En dan praat sy so mooi Frans ook! ’n Driedubbele vonds! Jy gaan ’n man baie gelukkig maak, liefie. Môre vertrek my skip uit die baai, en jy gaan saam.” Die glimlag verdwyn van sy gesig. “En hierdie keer sal jy nie weer teen ’n aalmoes deur my vingers glip nie.”

Annelize Morgan Omnibus 4

Подняться наверх